Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In vandeesweek se teksgedeeltes is die fokus voortdurend op vertroue. In hierdie liturgiese voorstel word beklemtoon dat, aangesien ons weet dat dit God is wat ons roep en na die wêreld toe stuur, ons ons lewe, in absolute vertroue, in sy hande kan plaas. Ons kan weet dat God, op die geleë tyd, sal voorsien wat nodig is, of dit nou, soos in die Matteus-teks, ‘n koue beker water, of, soos in die Genesis-teks, ‘n offerlam is.

Ander tekste 

Genesis 22:1-14
’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3Vroeg die volgende môre het Abraham ’n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ’n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”
Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ’n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:
“Abraham, Abraham!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

Psalm 13
Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Hoe lank gaan U my nog
bly vergeet, Here?
Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog
van my af weg kyk?
3Hoe lank moet ek nog
my eie planne maak
en my dae met kommer deurbring?
Hoe lank sal die vyand my nog
oorheers?
4Luister tog en antwoord my,
Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag.
Ek wil nie sterwe nie,
5anders sê my vyand hy het my oorwin
en juig my verdrukkers
oor my ondergang.
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee,
juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.

Romeine 6:12-23
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

In diens van wat God wil
15Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. 17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.

19Weens julle beperkte begrip gebruik ek ’n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. 21Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, toé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Fokusteks

Matteus 10:40-42
Beloning
(Mark 9:41)
40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal ‘n profeet se beloning ontvang; en wie ‘n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ‘n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ‘n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

11 Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 36 of VONKK 191 of Lied 454  of Lied 302 “Ons is genooide gaste’

Votum: (Psalm 13 uit die Liedboek van die Kerk)

Seëngroet

Lofsang: Lied 219 of Flam 137

Verootmoediging: Romeine 6:12-23

Toewyding: VONKK 360 of Lied 245

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 10:40-42b

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 284

Seën

Respons: Lied 284 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 36 “Ek Kom Na U Toe’ of
VONKK 191 Neem my in beskerming of
Lied 454 “Vader, ons eer U” of
Lied 302 “Ons is genooide gaste”

Votum
Wek my weer op en sien my, God, weer raak.
Wil my opnuut weer lewenskragtig maak.
U, wat die God van liefde is en trou,
ek weet U sal my bly onthou.
(Psalm 13 uit die Liedboek van die Kerk)

Seëngroet

Lofsang
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser” of
Flam 137 U Is En Bly (nav Gen. 22:14)

Verootmoediging: Romeine 6:12-23
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

In diens van wat God wil
15Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. 17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.

19Weens julle beperkte begrip gebruik ek ’n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. 21Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, toé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Toewyding
VONKK 360 Saam is ons byeen of
Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”

Geloofsbelydenis

Liedere

F36. “Ek Kom Na U Toe”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verootmoediging / Toewyding / Votum) Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kom na U toe, Heer.
Wees by my,
neem weg my onrus;
laat u stilte bly.
Ek’s aan U voete, Heer.
Ontvang my weer,
sien my hart en weet
dat ek begeer:

Refrein:
Om weer naby U te wees!
Wys weer u liefde deur u Gees.
Maak my meer van U bewus.
Vul my met verwondering, Heer.
Wys my wie U is.

2. Ek kom na U toe, Heer.
Maak my stil,
kom en doen in my
net wat U wil.
Ek wil myself vergeet,
op U bly wag.
Maak my leeg en vul
my met u krag.

Refrein:

F137. “U Is En Bly”
(RUBRIEK: Flam – Lof, Geloof en vertroue) Teks en musiek: Derek de Bruin © MAR Gospel Music Publishers
(Ps 23 en Gen 22:14)  Jahwe Jireh beteken “God voorsien”. (Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletapark)

In tye van donker,
in tye van nood
staan ons vas op u Woord.
In tye van donker
in tye van nood
staan ons vas
staan ons op u Woord.

Refrein:
U is en bly Jahwe Jireh,
God wat voorsien
ons God wat vooruitsien.
U is en bly Jahwe Jireh
U is ons God en U sal voorsien.

In elke behoefte klein of groot,
meer as wat ons bid of dink.
In groen weivelde laat U ons rus
U bring ons by waters
waar vrede is
waar vrede is.

Refrein:

VONKK 191 “Neem my in beskerming”
Nav Psalm 16 Teks: Hannes van der Merwe 2013 ©  Melodie:  CARLA – Cecilia van Tonder 2013 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2013 (Pro Deo) © 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêr – God se sorg / Gebede / Geloof en Vertroue

1. Neem my in beskerming, Here my God.
By U soek ek skuiling, Herder en Heer.
Ek behoort aan U – net U kan my seën.

2. Heer, U is my lewe, U sorg vir my.
Dit wat ek ontvang het, dit kom van U.
Dit wat U my gee, is so mooi vir my.

3. U wat insig gee, Heer, U sal ek loof.
Ek oordink u woorde deur elke nag.
Leer my om te leef en wees hier by my.

4. By U voel ek veilig; U maak my bly.
U verlos u kinders – selfs van die dood.
Uit u hand kom als wat goed is vir my.

VONKK 360 “Saam is ons byeen”
Teks: Eet die brood met my – Jacques Louw 2017 © Melodie: OUPA PAUL BREMER – Jacques Louw 2017 ©
Orrelbegeleiding: Jacques Louw 2017 © Kantoryverwerking: Jacques Louw 2017 ©
© 2017 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aaanroeping / Nagmaal

1. Saam is ons byeen, in Jesus is ons een.
Hy bind ons deur sy Gees saam in liefde
om ons, sy kerk, te seën.

2. Jesus maak ons vry, vir ons het Hy kom ly.
Kom en ontvang die vryspraak deur Christus
en weet jy’s waarlik vry.

3. Eet die brood met my en drink die wyn met my.
Kom en ontvang verlossing in Jesus
en deel die fees met my.

4. Wees in Christus bly en laat sy Gees jou lei.
Christus kom gee die lewe in oorvloed
vir dié wat in Hom bly.

5. Gee jouself aan Hom;  jy is sy eiendom.
Hy is jou troos in lewe en sterwe.
Vertrou alleen op Hom.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 10:40-42b

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

John Stevens van Dollar Store Children’s Sermons gee ‘n wonderlike idee met ‘n vel rubberige “papier”.  Jy sny ‘n deur in die papier in, skryf “binne” aan die een kant en “buite” aan die anderkant.  Terwyl kinders die deur vashou, draai jy die raam om, sodat binne buite is of buite binne.  Terwyl julle dit doen, kan jy gesels hoe God ons verwelkom het, hoe ons almal verwelkom.  Jy kan ook praat oor hoe ons bang is om uit te gaan, maar hoe God ons bemagtig om uit te gaan.  Gaan kyk die instruksies op John se video – dis regtig ‘n baie oulike idee!  Jy sal dit vooraf moet oefen.

Preekriglyn

Ons teks is die slotgedeelte van Jesus se groot sendingpreek in die Evangelie volgens Matteus.

Jesus gee in sy sendingpreek instruksies oor hoe ons gestuur word om nuwe gemeenskap tot stand te bring deur die vrede van Jesus na ander uit te dra. Jesus doen dit self en nooi sy kerk om deel te word van hierdie werk wat Hy doen.

Nie vrees nie

Ons het ook gehoor dat deelname aan Jesus se beweging na die wêreld ons in konflik bring met die wolwe en die vervolgers wat geen ooghare vir God se vrede het nie. Daarom gaan ‘n groot deel van Jesus se preek oor vrees en die oorwinning daarvan.

Die mense wat ons nie moet vrees nie, raak die hele spektrum. Daar is die verskriklike despote wat jou doodmaak as jy van Jesus getuig. Dan is daar ook, sê Jesus, die gelowiges se familie wat Jesus se volgelinge verwerp – omdat hulle nie glo nie. Verskriklik genoeg kan mens ook jou familie vrees. Verder is daar openbare verwerping wat nie gevrees moet word nie. Jesus vra dat ons vrymoediglik getuig.

Die verwerping, uitsluiting en vervolging wat ons van alle kante in die sending te wagte kan wees, kan in die openbaar voor die massas plaasvind, asook in private en uiters-persoonlike ruimtes. Nóg die magte se haat en wrewel, nóg ons naasbestaandes se liefde of afkeur van ons dissipelskap, behoort die rigting, inhoud en vorm van ons lewe te bepaal.

Ons is verbind aan Jesus. Hy bepaal ons lewe.

Om ontvang te word

Verstommend genoeg eindig Jesus sy preek oor gestuurdheid met verskeie verwysing na “om ontvang te word”.

Teen die agtergrond van ons kwesbaarheid, broosheid en gevoel van uitgelewer wees, kom die einde van hierdie preek betekenisvol en vertroostend na ons toe. Nou hoor ons waarom Jesus kon sê: “Hulle wat hul lewe ter wille van My verloor, sal dit vind” (10:39).

Ses keer in die Grieks hoor ons in hierdie paar verse (10:40-41 die Griekse woordjie dechomai – om te ontvang of te verwelkom). Waar die grootste gedeelte van Jesus se preek handel oor die vervolging en lyding wat deelname aan Jesus se werk vir gelowiges inhou, hoor ons teen die einde van ontvangs, van tuiskom, van beloning.

‘n Nuwe gemeenskap kom in Jesus se Naam tot stand. Jesus se sending skep ‘n nuwe familie: die familie van gelowiges van gestuurdes, nuwe broers en susters wat die ou, dikwels vyandige familiebande vervang. Nuwe geliefdes (“familie,” “broers en susters”) maak hulle deure en huise vir mekaar oop.

Nie alleen nie

Wat Jesus hier aan hulle probeer stel, is dat hulle in die vrees van God – die prioritisering van navolging aan Jesus bó enige ander menslike verhouding – allermins moet dink daar word net van die begin tot die einde met menslike verhoudings en bande gebreek. Veel eerder is dit die geval dat hulle in die proses van verlies ook (en soveel te méér) nuwe familie, vriende, bande, verhoudings en gemeenskap sal ontvang.

Jesus troos die dissipels hier teen die einde met die wete dat die voorafgaande brose en kwesbare weg agter Hom aan, hulle allermins wees en alleen in die wêreld sal laat. Daar is mense wat hulle op hulle pad sal ontvang, verwelkom, huisves en ondersteun.

Gasvryheid

In die gestuurde gemeenskap, die kerk, die gemeente wat Jesus skep voer gasvryheid die botoon. Gelowiges is oop vir mekaar en ontvang mekaar. Dit gaan dus oor meer as net ‘n algemene gasvryheid. Hier gaan dit om gasvryheid teenoor mekaar, ‘n openheid wat deur die geloof nuwe familiebande skep.

Natuurlik weerspreek dit nie met die beoefening van gasvryheid in die algemeen teenoor enige persoon nie — inteendeel. Trouens, Jesus stuur sy dissipels juis oor grense na ander om nuwe gemeenskap tot stand te bring. Hierdie interne verstaan en beoefening daarvan wil ons en ander stimuleer en skool in die beoefening van gasvryheid in die algemeen.

Die gasvryheid van geloof is allermins eenmalig, toevallig, ad hoc of geïsoleerd. Inteendeel, gasvryheid teenoor mekaar in die gemeenskap is ‘n wesenlike deel Jesus se sending.

Nie individualisties nie

Gasvryheid is nooit in die Nuwe Testament individualisties nie. Hulle wat ‘n persoon ontvang, ontvang in die proses ook die hele gemeenskap en familie waarmee hulle assosieer. Dit beteken:

  • Wie een gelowige ontvang, ontvang die hele geloofsgemeenskap, en is oop daarvoor
  • Wie een gelowige ontvang, ontvang ook in die proses Jesus Christus en sy Vader wat Hom gestuur het.

Om tot Jesus se gemeente te behoort, beteken: “Wie mekaar ontvang, ontvang Christus; en wie Christus ontvang, ontvang mekaar.” Die uitspreek en aanvaarding van die een begrip sluit per definisie die uitspreek en aanvaarding van die ander in. Wie sê Christus, sê ook mekaar.

Die teendeel word nie hier gesê nie, maar is net so waar, naamlik om mekaar nié te ontvang nie, is om Christus nie te ontvang nie, en omgekeerd.

Profeet, goeie mens en geringste

Jesus praat in ons teks van die ontvangs van ‘n profeet, ‘n goeie mens en die geringste. Wat bedoel Hy daarmee?

Die beste uitleg is dat dit wisselterme is vir die gelowiges. Dit is maar net drie maniere van baie waarop lede van die geloofsgemeenskap beskryf kan word: profete, goeie mense, geringes.

Hierdie drie terme kan ‘n triade genoem word (tri beteken drie). In die Bybel kry mens telkens dat waar triades gebruik word die klem op die laaste van die drie betitelings val. Die gemeente en sy lede word as “geringstes” beskryf – nie mense wat in die oë van die wêreld groot is nie. Dit is soos Jesus wat op ‘n donkie gery het en nie op ‘n strydros nie. Al drie hierdie terme van “profeet”, “goeie mens” en “geringste” is nóg ‘n manier om iets verder van die kwesbare en brose posisie van die Jesusgemeenskap in hierdie wêreld te openbaar.

Christus se gemeente word geken aan die hantering van die geringstes in eie geledere en in die wêreld. Die aangee van ‘n beker koue water word die grootste daad denkbaar.

Reuse rol

So het die kerk deur die eeue funksioneer. Die bydrae van eindelose getalle geringstes het die verskil gemaak. Dink maar die reuse rol wat talle van hierdie anonieme en geringe persone deur die eeue sou vervul in die voortgang en uitleef van die Christelike storie. Dit is reeds so in die Nuwe Testament. Dink byvoorbeeld aan die vlugtige verwysing na Simon die leerlooier en Kornelius in Hand 10, Lidia in Hand 16 of Akwila en Priscilla in Hand 18 — die integrale en meestal-onbewuste rol wat hulle in die weef en leef van Christus se sending in hierdie wêreld vervul het.

Tot vandag is daar miljoene kleine, eenvoudige gelowiges wat reg en geregtigheid liefhet, wat mekaar en ander liefhet, wat uitreik deur omgee en diens. Dit is hierdie tienduisende dade van goedheid en gasvryheid wat die koninkryk van God met krag laat kom.

Beloning

In die voorafgaande deel van sy boodskap verduidelik Jesus watter prys dissipelskap inhou. Daarom is dit so vertroostend om in die slotgedeelte te hoor van die beloning wat dissipelskap inhou. Hierdie loon dui op die verwelkoming in die gemeente as liefdesgemeenskap, maar dit het ook ‘n toekomstige dimensie.

Wie Jesus volg en God se wil doen, word by die ewige feesmaal van die Lam verwelkom en sal vir altyd tuis wees in die ewige woning van die Heer.

‘n Huis is vir verwelkoming

Dit beteken dat ons lewens en ons huise, soos ons huis van aanbidding, plekke is waar ander gelowiges – ook hulle wat baie van ons verskil – verwelkom word. In ‘n konteks waar die ander gevrees en as bedreiging gesien word, kan dit maklik gebeur dat die gedagte van “‘n veilige huis” in ‘n fort en tronk ontaard wat ontoeganklik en uitsluitend funksioneer.

Hoe ons oor ons “veilige huis” dink, kan baie maklik ook in Suid-Afrika op ons huise van aanbidding as laaste veilige laers en uitsluitende ruimtes geprojekteer word waar ons in hierdie sogenaamde gevaarlike en bedreigende konteks beskerm word.

Teoloog Robert Vosloo skryf: “Die verbanning van alle gasvryheid uit jou huis is die verbanning van die transendente – só word die self in hom- of haarself toegesluit”.

Wie weier om te ontvang, ontvang ook nie vir God of Christus nie.

‘n Huis is nie vir skuil of kluisenaar-speel nie – ‘n huis is vir verwelkoming.

Nagmaaltafel

Talle Skrifuitleggers verbind die ontvangs van medegelowiges aan die nagmaaltafel. Om mekaar in liefde te ontvang, gebeur by uitstek aan die tafel van die Here.

By die nagmaaltafel beleef ons hoedat ons brose kleintjies in die koninkryk mekaar se hande vat in afhanklikheid van ons Here en Meester.

Die derde punt van die nagmaalsformulier in die Handleiding vir die Erediens (2010:98) lui:

Die nagmaal is die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Nie alleen word ons in die nagmaal met Jesus se dood verbind nie, maar ook met sy lewe en is die opgestane Christus deur die Heilige Gees self by ons teenwoordig. Hierin lê die diepste geheim en die grootse vreugde van die nagmaal. Dit sluit ook die gemeenskap met mekaar as lidmate van die een liggaam van Christus in, aangesien dieselfde Gees wat ons oë vir Christus oopmaak, ook ons oë vir mekaar oopmaak en ons in liefde aan mekaar bind. … Wie die brood en die wyn van die nagmaal eet en drink, word ook geroep om die voete van die ander te was (Joh. 13:12-15). Wie eenmaal saam met die Here geëet en gedrink het, kan nie meer in onvrede met mekaar leef nie (Ef. 2:14-15).

Hierdie teks, en ons deelname aan die werk van Jesus Christus in die wêreld, word dus ten beste gevier wanneer ons saam nagmaal vier. Hoe meer ons mekaar by die nagmaaltafel omhels, hoe meer gee ons uitdrukking aan Jesus se sendingpreek.

Hierdie sending begin en eindig met die ontvangs en verwelkoming van Hom, en mekaar, saam aan tafel.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei’

Seën

Respons
Lied 284 refrein

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.