Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 7:36-8:3
Ander tekste: 1 Konings 21:1-10 (11-14), 15-21a; Psalm 5:1-8; Galasiërs 2:15-21

Inleiding

In hierdie liturgiese voorstel val die klem op die vrye genade van die Here (ten aanskoue van hooghartiges). Jesus skenk sy vergifnis vrylik aan die vrou wat sy voete kom salf. Hy maak ook vroue deel van sy volgelinge, sonder om hulle op grond van hulle geslag as onwaardig te beskou soos in die kultuur van sy dag gereeld gebeur het.

In 1 Konings word Agab veroordeel, maar God betoon dan genade. Psalm 5 besing die feit dat Hy mense innooi in sy teenwoordigheid, ten aanskoue van hooghartiges. Galasiërs beklemtoon vryspraak op grond van geloof.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Lees Psalm 5:4-8 voor die aanvangswoorde in die basisliturgie.

Verootmoediging
Galasiërs 2:15-21
By die hantering van die geloofsbelydenis word vergifnis van sonde uitgelig en omskryf.

Diens van die Woord

Doopherinnering
Die Lukasverhaal is besonders omdat dit wel vroulike karakters bevat en hulle positief behandel. By die doopherinnering kan spesifiek vermeld word dat die doop anders is as die besnydenis. Die besnydenis was net vir seuns, maar die doop sluit almal in.

Diens van die tafel

Lê klem op die feit dat die nagmaal ’n maaltyd is waarna almal uitgenooi word en almal, sonder dat hulle dit verdien, ingesluit is.

Uitsending

Voor die seën
God stuur ons om te gaan leef uit sy vergifnis. Ons wat dood is vir die sonde, maar lewe vir God!

Musiek en sang

Lofsange: Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”; NSG 33; Flam 8
Verootmoediging: Lied 514 “Ek weet vir seker”; NSG 288; Flam 5
As geloofsbelydenis: Lied 261 “Ek glo in God die Vader”; NSG 348; Flam 134;
Voor die woordbediening: Lied 258 “Vreugdevolle tyding”; NSG 337
Uitsending: Lied 493 Jesus neem die sondaars aan”; NSG 221; Lied 492 “In U is vreugde”; NSG 73; Flam 34

Preekstudie: Lukas 7:36-8:3

Teks 

Lukas 7:36-8:3 bevat drie vertellings wat met mekaar saamhang. Lukas vertel dat een van die Fariseërs Jesus genooi het om by hom te kom eet. Jesus het na die Fariseër se huis gegaan en aan tafel plek ingeneem. Terwyl Jesus-hulle daar saam was, het ’n vrou daar aangekom. Sy het, nadat sy gehuil het en van haar trane op sy voete gedrup het, Jesus se voete “met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf” (38).

Die Fariseër wat Jesus genooi het, het dit gesien en was ongemaklik daarmee. In aansluiting by die Fariseër se ontsteltenis, vertel Jesus van twee mense wat in die skuld by ’n geldskieter was (40-43). Ná die vertelling pas Jesus sy vertelling toe op dit wat vroeër rondom die tafel gebeur het (44-47). Dié wat saam aan tafel was het die gebeure bespreek en ’n vraag oor Jesus daaroor geopper: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” (49). In aansluiting by hulle vraag het Jesus vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede” (50).

Die derde vertelling gaan oor Jesus wat in die tyd daarna die land van die een stad en dorp na die ander deurkruis het. Jesus het oral gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig. Die twaalf en ’n aantal vroue was saam met Jesus (Luk 8:1-3). Die teks illustreer dat die voorafgaande stelling in vers 35 waar is: “. . . God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.” Die nuwe direkte vertaling (2014) vertaal die Grieks met: “. . . wysheid word deur al haar kinders reg bewys.”

Die konteks van die vertelling word in vers 36 aangedui. Volgens Lukas was Jesus dikwels iemand se gas by ’n ete (10:38-42; 11:37; 14:1, 7-14; 22:11). Van die vier evangeliste is dit net Lukas wat vertel dat Jesus op uitnodiging by ’n Fariseër aan huis gegaan en daar geëet het (sien Luk 11:37 en 14:1). Fariseërs is as aan die bokant van die sosiale leer beskou. Deur die uitnodiging te rig wys die Fariseër dat hy Jesus aanvanklik beskou as iemand wat sosiaal op gelyke voet met hom in die gemeenskap is. In die volgende deel van die vertelling word die Fariseër se beoordeling egter ernstig bevraagteken.

In vers 37-38 lees ons dat daar ’n vrou by die ete opgedaag het. Die Griekse uitdrukking kai idou aan die begin van vers 37, is ’n sterk aandagtrekker. Die vrou was nie ’n genooide gas nie. Met die beskrywing as ’n vrou “wat in die openbaar ’n sondaar was” (37) stel Lukas dat sy aan die onderkant van die sosiale leer was. In die eerste-eeuse Palestina was ’n vrou se los hare ’n teken van skande of rou. By ’n tradisionele luukse ete, soos dié waarheen gaste genooi word, het slawe tydens die breuk tussen die twee fases daarvan, die gaste se hande en voete gewas en hulle met geparfumeerde olies gesalf om liggaamreuke te verwyder. Toe die vrou doen wat die Fariseër as gasheer veronderstel was om te doen, het sy met eer opgetree.

Aanraking deur ’n onrein vrou word in Levitikus 15:19-32 bespreek. Deur openbare kontak tussen die vrou en Homself toe te laat, word Jesus in die oë van sy gasheer onrein. Dit strek die Fariseër tot skande, maar hy bly egter respektabel en tree eerbaar op. Dít blyk uit die dialoog (39-40) wat volg, asook sy reaksie op Jesus se vertelling (43). Omdat Jesus oënskynlik nie geweet het met watter tipe vrou Hy te doen gehad het nie, het die Fariseër gewonder of Jesus regtig ’n profeet was. Dié twyfel word gou-gou deur Jesus aangespreek.

Jesus vertel Simon dan van twee persone wat by ’n geldskieter in die skuld was (41-42). Die een was diep in die skuld en die ander een nóg dieper. Die geld betrokke is ’n fortuin: meer as ’n jaar se vergoeding. Jesus vertel dat die geldskieter albei se skuld afgeskryf het en vra hom toe: “Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” (42). Nadat Simon hom geantwoord het met: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het”, het Jesus dié vertelling op dit wat by Simon aan huis gebeur het toegepas (44-47).

Ná sy gesprek met Simon het Jesus vir die vrou gesê: “Jou sondes is vergewe” (48). Toe dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” het Jesus vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede” (49-50).

Hierna (in die derde deel van ons teks) vertel Lukas dat Jesus die land deurkruis het van die een stad en dorp na die ander. “Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Luk 8:1). Lukas vertel dat die twaalf vir wie Jesus vroeër geroep het saam met Hom was, asook ’n aantal vroue “wat van bose geeste en siektes genees was” (1-2). Van die vroue se name word vermeld: Maria, bekend as Magdalena, Johanna die vrou van Gusa (’n hoë amptenaar van Herodes) en Susanna. Lukas beklemtoon dat dié vroue uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg het (2-3).

Konteks  

Hierdie gedeelte is deel van die vierde groter eenheid in die Lukasevangelie (4:14-9:50). In dié eenheid is Jesus in Galilea. Dit handel oor Jesus as profeet, asook sy groep en die groep se funksie. Direk ná die uitspraak dat Johannes die Doper gekom het en nie “brood geëet of wyn gedrink” het nie, en die daaropvolgende “Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink,” (Luk 7:33-34) en mense se oordele daaroor, word vertel dat een van die Fariseërs Jesus genooi het om by hom te kom eet (36). Die gedeelte is dus ’n direkte reaksie op die uitsprake dat Johannes van die duiwel besete was (33) en dat Jesus “’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars” (34) was.

Hierdie uitsprake het alles met Jesus se toegerekende status in die gemeenskap te doen. Die mense was dit nie almal eens oor waar presies Jesus ingepas het nie. Alhoewel Hy in hulle oë die seun van ’n timmerman was, het Hy soos ’n rabbi of ’n profeet opgetree en gepreek. Die uitsprake oor Jesus is gemaak om Jesus tot skande te maak. Lukas se vertellings toon egter aan dat Jesus eerbaar opgetree het en dat sy status bevestig is. Hy is dus wie Lukas vertel Hy is: God se beloofde Messias.

Die teks is waarskynlik tydens die vroeg-Christelike geloofsgemeenskap se vieringe op die Groot Versoendag (in die maand Tishri) of die Sondag net daarna – bekend as Versoeningsondag – gelees. Daarom kan dit as ’n eenheid beskou word. Die kern van die viering het met die versoening van Israel se sonde en die skande wat in die openbare lewe daarmee gepaard gegaan het te doen gehad. Lukas gebruik hierdie tekseenheid om verlossing van sonde prakties toe te pas.

Vir die hoorders van die teks sou albei die bedrae wat deur die mense aan die geldskieter verskuldig was, onbetaalbaar hoog gewees het. Aangesien Lukas se lesers merendeels loonarbeiders was wat self niks of baie min besit het, sou hulle daarmee kon identifiseer. Of die skuld baie was en of dit baie meer was, dit was onbetaalbaar. Albei die mense het aan dieselfde persoon geld geskuld. Dit is baie duidelik dat Jesus daarop gesinspeel het dat God die Een was aan wie daar iets verskuldig was. Terwyl God in Matteus (18:21-35) se ekwivalente vertelling die handelende Een is, lê Lukas hier klem op die mens se reaksie. Dat God vergewe ís só. Dit bly egter nie net ’n koue feit nie. Dit ontlok reaksie. Dit lei tot daaruit voortvloeiende optrede.

Jesus neem die fokus weg van sonde af na liefde toe. In vers 42 vra Jesus: “Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” Hy volg dit in vers 47 op met: “omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde”, en voeg Hy by: “Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” ’n Baie eenvoudige patroon kom hieruit na vore: God vergewe sonde en mense wat dit besef bewys liefde. Groot liefdesdade volg op vergifnis.

Lukas sê nie vir Simon dat hy nagelaat het om die gasvryheidsgebruike van sy dag na te kom nie. Hy berispe hom nie en sê ook nie vir hom wat hy moes doen of moet doen nie. Jesus vertel bloot die vertelling en skuif dit dan as ’t ware as ’n sjabloon oor dit wat gebeur het, sodat Simon self tot insig kan kom dat God anders as mense werk. God se koninkryk ken nie rein en onrein, sonde en skande, en pligte en oordele nie.

Lukas hou die teks se einde oop en sê nie hoe Simon hierop gereageer het nie. Dit laat die hoorder van die teks ook by ’n oop einde. Daar word nie gesê wat hulle hierna moet gaan doen of nie moet doen nie. Die implikasie is wel duidelik in die res van die teks. In vers 48-50 sê Jesus drie dinge vir die vrou: “Jou sondes is vergewe”; “Jou geloof het jou gered”, en; “Gaan in vrede”. In hoofstuk 8:1 word daar dan op weg gegaan. Jesus bedien dus die verlossing van sonde aan beide Simon die Fariseër én die vrou wat Jesus se voete gewas het. Dit is hierdie verlossing wat nou regdeur die land, “van die een dorp na die ander”, verkondig en bedien word.

Preekstudie  

Die prediker se soort persoonlikheid sal bepaal watter aanslag vir haar of hom die beste sal werk. Die teks kan homileties deur ’n explicatio en applicatio met ’n praedicatio aan die bod kom, of dit kan in die narratief gedoen word.

Die kwessies van (1) skuld, (2) gasvryheid en (3) menswaardigheid kan deur die prediking aangespreek word. Skuld tussen mense is ’n algemene probleem aangesien die oorgrote meerderheid van ons mense vir blote oorlewing van lenings en skuld afhanklik is. Wat sê die teks vir ons in ’n wêreld waar banke eintlik net geld leen aan persone en instansies wat in staat is om dit terug te betaal? Hoe kan ons as God se kinders en mekaar se broers en susters mekaar help om van finansiële skuld vry te kom. Let daarop dat die skuld met geldskuld aan ’n geldskieter (41) verband hou.

Kwytskelding van skuld en vergifnis van sonde (of te wel ’n herstel van iemand se status in ’n gemeenskap as eerbaar) lei tot liefde. Liefde is die “gom” wat ’n gemeenskap aanmekaargebind hou. Die afskryf van skuld – soos die opklaar van probleme in verhoudinge – lei tot verdieping in die band tussen mense. Hoe funksioneer óns as liefdesgemeenskap? Is “ons liefde vir mekaar” en “ons liefde vir God” ons uitstaande kenmerke? Of haak ons vas by sonde, skuld en pligte? Wat weerhou ons daarvan om mekaar waarlik lief te hê en gasvry teenoor mekaar op te tree? Hoe kan ons dít verander?

Die gasheer het dadelik op die ongenooide gas neergesien. Hy was meer as net teleurgesteld oor Jesus se houding en onbehoorlike optrede teenoor die vrou. In die gesprek wat uit Simon se onuitgesproke frustrasie voortspruit, laat Jesus duidelik blyk dat (in húlle wêreld se funksionering) “die sondaar” doen wat “die regverdige” veronderstel was om te doen. Kom ons vertaal dit só na ons wêreld toe: die een met die etiket “Christen” doen nie wat die eise van die konteks vra nie, maar die een met die etiket “nie-Christen”, dóén “soos Christus” sou wou gehad het. In God se oë en koninkryk, én vir Jesus, is altwee egter op gelyke voet: albei se skuld word afgeskryf. Albei word deur Jesus in ’n eerbare status geplaas. Is alle mense vir ons op gelyke voet of is ’n klompie van ons dalk op ’n hoër of laer trappie? Hoe kan ons mense help om te besef dat hulle by God en by ons menswaardig is?

Watter beter nuus kan ons vir enigeen bring as om te verkondig: Jy het geen skuld voor God nie. God beskou die verhouding tussen Hom en jou as heel. Jy het vir God groot waarde. Watter meer eerbare roeping kan ons op onsself neem as om onsself te beywer vir ’n skuldvrye wêreld, om gasvry te wees teenoor alle mense en om mense werklike waardigheid te help beleef?

Kom ons leef in gemeenskap met Jesus, mekaar en ander wat saam met ons op weg is. En kom ons bestuur ons middele só dat Jesus se bediening kan grondvat en ’n verskil maak in ons land en regdeur elke stad en dorp.

Bibliografie

Goulder, M  D 1989. Luke. A New Paradigm. Volume I. Journal for the Study of the New Testament. Supplement Series 20.  Sheffield: Sheffield Academic Press; Jarvis, C A & Johnson, E E (eds.) 2014. Feasting on the Gospels – Luke, Volume 1: A Feasting on the Word Commentary. Westminster: John Knox Press. [Kindle Edition]; König, A 2014. Die Groot Geloofskommentaar. Vereeniging: CUM Boeke; Malina, B J & Rohrbauch, R L 1992. Social-Science Commentary on the Synoptic Gospels. Minneapolis: Fortress Press; Pilch, J J 1997. The Cultural World of Jesus, Sunday by Sunday, Cycle C. Collegeville, Minnesota: The Liturgical Press.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.