Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Vrygemaak van eiebelang om in die Gees te lewe 

Rus

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord 
Voorganger: Kom ons loof die Here want Hy bring ons tot die regte insig. Hy is altyd by ons en daarom sal ons altyd vastigheid hê (Ps 16 NAV en Lewende Bybel).
Gemeente: Ons is bly en juig en voel veilig by U Here. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is (Ps 16:9-11).

Voorganger: Neem my in beskerming, o God  ek soek skuiling by U.
Gemeente: Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U (Ps 16:2).

Seëngroet
Voorganger: Ek groet u in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Gemeente: Here U is ons lewe, U sorg vir ons, wat ons van U ontvang is mooi (Ps 16:5 en 6 NAV). Amen.

Lied

Loflied
Lied 196, 197 of 199; NSG 34;
Flam 3 “Aan u voete, Heer”

Aansluiting by fokusteks
Lied 436 “Herskep, o Gees, laat leef, o Gees”; Lied 309;  NSG 267 “My lewe bly aan U gewy”

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1991  Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

Familie-oomblik

Die “Statue of Liberty” in die VSA (eintlik is haar regte naam “Liberty Enlightening the World”) is in 1886 deur Frankryk aan die VSA geskenk.  Vir die mense van die VSA simboliseer sy vryheid, ‘n waarde wat vir hul land baie belangrik is.  [Foto (c) smackbangkaboom by www.deviantart.com]

Baie van die burgers van die VSA se voorouers was immigrante.  Soos wat hulle die land per boot genader het, was die standbeeld die eerste ding wat hulle gesien het.  Dit was asof sy hulle verwelkom het met haar arm in die lug:  “Hier is jy welkom.  Hier sal jy vry wees.”

Skole in die VSA hou gereeld opvoerings met hierdie standbeeld as sentrale punt, om kinders te herinner wat hulle graag ‘n land wil wees waar almal welkom is, waar mense vry kan wees.

Oor die jare het hulle egter ook geleer dat vryheid met verantwoordelikheid saamgaan.  Dikwels, wanneer vryheid bedreig word, het mense die standbeeld gebruik om hul mede-burgers te herinner dat vryheid en verantwoordelikheid bymekaar hoort.

Die prente wys hoe die standbeeld gebruik word om vir mense te wys dat vryheid misbruik word en om mense bewus te maak van ander wie se vryheid ontneem word:  swart mense [foto van ‘n siviele regte betoging by die standbeeld – www.life.com], vrouens [foto van die Jackson Biblioteek, Universiteit van Noord-Carolina by Greensboro] en immigrante.  Met hierdie beelde herinner die kunstenaars mense daaraan dat vryheid ook met verantwoordelikheid gepaard gaan.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Die Galasiërbrief laat mens dink aan die bekende Statue of Liberty aan die Amerikaanse Ooskus, in New York.  Christene is immers vry van verslawing. Paulus sê: Ons is tot vryheid geroep (5:13).

Min woorde is so gewild soos die woord vryheid.  Vryheid was een van die sentrale temas van die kerkhervorming.  Een van Martin Luther se bekendste boeke heet “Die vryheid van ’n Christen.” Flip Theron sê: “Volgens een van ons volksdigters is vryheid dié woord van alle woorde wat die mens se hart beroer. Dit eggo deur die ou Transvaalse volkslied: ‘Dat vrije, dat vrije, dat vrije volk zijn wij!’ Ons het selfs ’n dorp met die naam Vryheid . . . ’n Moderne Franse filosoof definieer die mens trouens as vryheid. Die mens is vryheid, pure vryheid, vertel hy ons. Ook die Franse Revolusie het die woord vryheid op sy banier geskryf.”

Vir Paulus is die vryheid waartoe Christene geroep is, kosbaar.  Ons is vrygemaak sodat ons God kan verheerlik deur die vrug van die Gees te dra.  Daarom waarsku hy in ons teks dat daar voortdurend twee staatsgrepe is wat ons vryheid bedreig en dit van ons wil wegneem.

Die staatsgreep van wettisisme en moralisme

Wettisisme en moralisme bedreig die vryheid wat ons in Christus het. So dikwels word lidmate ernstig belas met ekstra “voorwaardes” waaraan hulle moet voldoen om vir God aanvaarbaar te wees. So dikwels verloor die prediker uit die oog dat ons op ’n baie vroom en godsdienstige manier op ons sondige natuur bou en nie op Christus nie. Ons dink dat ons mense bevry wanneer ons ’n bevryding in Christus met nuwe wette en bepalings verkondig. Dit maak mense egter net weer slawe.

Van hierdie slawerny hoor ons in Galasiërs 4: “Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs” (4:9-11).

Die eise word sonder goeie nuus oorgedra. Sondag na Sondag kreun mense onder die swaar laste van nuwe reëls en regulasies en hoor nooit dat ons reeds bevry is nie, dat ons dit nie hoef te bewerk nie, dat die genade gratis is. Die eis sonder die evangelie maak mense nougesette, slaafse Christene, met min vreugde en harde harte vir hulle wat anders dink. Geen wonder dat die wêreld ons as ’n klomp bekrompe vreugdelose mense sien nie. Martin Luther het opgemerk dat dit vir ander lekker moet wees om in Christene se teenwoordigheid te wees.

Johan Cilliers noem wettisisme en moralisme die uitwissing van God en van God se genade.  Wettisisme laai die harde juk op ons dat ons deur ons eie gehoorsaamheid God se genade moet verdien.  Wettisisme verskaf, náás Christus, ander kwalifikasies om die seëninge wat aan Abraham toegesê is, te deel (5:2-12).

Die staatsgreep van bandeloosheid

Bandeloosheid verstaan vryheid só dat ons vry van alle verantwoordelikheid is.  Ons kan doen net wat ons wil.  Vryheid as bandeloosheid is ook slawerny.  Dan word ons die slawe van ons sondige begeertes.

Bandeloosheid verwoes mens se lewe omdat dit geen grense van verantwoordelikheid ken nie.  Dit is soos ’n verwoestende vuur wat brand totdat net as oor is.  Soos Paulus sê:

19 Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

Bandeloosheid misbruik vryheid as ’n verskoning om sonde te doen (5:13).  Paulus verbind bandeloosheid aan vervreemding van mekaar.  In plaas van om die ander te dien, verskeur, verslind en gebruik bandelose mense mekaar.  Dit is die beeld van wilde diere wat nie rus voordat die ander een heeltemal verslind is nie.

Ware vryheid

Paulus kwalifiseer vryheid in ons teks op drie maniere:

  • Vryheid is om mekaar in liefde te dien (5:13);
  • Vryheid is om jou steeds deur die Gees van God te laat beheers (5:16);
  • Vryheid is om die vrug van die Gees te dra (5:22).

Victor Frankl het gesê dat ons vryheid ons inderdaad aan die Statue of Liberty aan die Amerikaanse Ooskus moet laat dink, met dien verstande dat daar ook ’n Statue of Responsibility aan die Weskus opgerig moet word.

Christelike vryheid is nie vryheid ván alles nie (bandeloosheid), of verslawing aan wette nie, maar vryheid tót liefdesdiens (5:13), tót beheersing deur die Gees (5:16), en tót die dra van die vrug van die Gees (5:22).

Vryheid as liefdesdiens

Volgens vers 14 is die betekenis van die wet dat ons mekaar moet liefhê.  Wie liefhet, en in liefde dien (5:13), is nie ’n slaaf van wettiese reëls wat gewoonlik hardvogtig is nie, maar staan in die regte verhouding tot God se wet.  Die wet spoor ons aan tot liefde, tot diens.

Ons is vrygemaak van die verslawing aan reëls en bandeloosheid om te kan dien.  Wie meen dat hulle die eer van God red en die wet gehoorsaam deur ander aan te val en te verskeur, of reëls bo diens aan mense stel, ontkrag die eintlike betekenis van die wet.

Vryheid as beheersing deur die Gees

Ons kan die wet slegs as liefdesdiens toepas wanneer ons ons deur die Gees van God laat lei (5:16).

Paulus teken die Heilige Gees hier as ’n afrigter wat ons leer hoe om die Here te gehoorsaam.  Dit is die Gees wat ons loswikkel uit die staatsgrepe wat beheer van ons lewe wil oorneem, wat ons wil verkneg aan ons sondige begeertes of aan wettiese reëls wat God uit die prentjie laat verdwyn.  Die Gees maak ons vry tot diens.

Ons kan net vry leef as ons oorgegee is aan die Gees van God, en die Gees toelaat om ons te beheers.  Dit is ’n doelbewuste keuse.  Vryheid in Christus is ’n wilsbesluit om ’n bepaalde gedragslyn te volg.  Die Gees oefen hierdie patrone in ons lewens in sodat dit ons gedrag, gevoelens en gewoontes toenemend stempel.

Vryheid as die dra van die vrug van die Gees

Die vrug van die Gees is die karakter en beeld van Christus.  Wie die Gees navolg, en die Gees toelaat ons om deur die Woord te lei, beleef dat die Gees die karakter van Christus in ons lewens inweef.  Dan kry ons deel aan die Here se liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

John Stott skryf tereg dat die vrug van die Gees in ons hele lewenstyl gesien word, die ontspanning wat ons beoefen, die manier waarop ons werk, die boeke wat ons lees en die vriende wat ons maak. Dit sal gesien word in die gebruik wat ons maak van die genade, die dissipline wat ons beoefen deur te bid en die Bybel te bestudeer, die gemeenskap wat ons met ander gelowiges beoefen wat ons tot liefde en goeie dade lei, deur die dag van die Here as sy dag te vier, deur gereeld saam te kom as gelowiges en in nagmaal.

Vers 25 neem die saak verder:  “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ons gedrag bepaal”.  John Stott merk op dat dit ’n passiewe en aktiewe aspek van ons lewe deur die Gees aandui: “It is the Spirit who does the leading, but we who do the walking.” Ons moet duidelik ook toelaat dat die Gees ons gedrag bepaal: “We are ourselves to ‘walk’, actively and purposefully, in the right way. And the Holy Spirit is the path we walk in, as well as the guide who shows us the way”. Vers 24 en 25 gebruik hierdie aktiewe en passiewe aspekte van die lewe deur die Gees naas mekaar. Die een kan nie sonder die ander nie. Indikatief en imperatief kan nie geskei word nie.

Indikatief (gawe) en imperatief (opdrag)

Ons ontvang ons vryheid van wettisisme en bandeloosheid as ’n geskenk van God (indikatief).  Daarom kan ons God gehoorsaam (imperatief).

Dirkie Smit beskryf hierdie verhouding as volg: “Hier vind ’n mens dieselfde logika wat oral in die Nuwe Testament aangetref word: gelowiges is gered, dáárom moet hulle … Geleerdes sê: die indikatief, die genade, dit wat aan ons geskenk word, kom eerste. Dit is die begin. En dit is vas en seker. Maar daarop volg dan die imperatief, die gebod, of opgawe . . . Die evangelie sê nie eers die gebod en dan die genade nie. Die evangelie sê nie doen dit, en dan sal jy gered word nie. Nee, die evangelie sê die omgekeerde: éérs die genade, maar dan óók die gebod. Eers die gawe, maar dan ook die opdrag. Eers die nuwe lewe, maar dan moet dit ook sigbaar word in die alledaagse lewe.”

As vry mense, neem ons verantwoordelikheid om oor grense lief te hê, met integriteit te lewe en so anders te wees as die wêreld.  Ons is vry én verantwoordelik.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Gee voldoende geleentheid vir stilgebed en selfrefleksie voor die Here:

  • Vra dat lidmate nadink oor bandeloosheid en halsstarrige ongehoorsaamheid waarmee hulle moet breek deur die Here se genade.  Waar moet die Gees ons bevry van magte wat ons lewe in ’n staatsgreep bind?
  • Wat moet bely word?  Skuldbelydenis is die eerste stap in die vrykom van  staatsgrepe.
  • ’n Alternatiewe vraag: Watter greep het wettisisme en rigiditeit op ons lewens?
  • Waar moet ons leer om met die oë van Christus, gelei deur die Gees, na situasies te kyk?

Uitsending

Lied 524; NSG 202 “God roep ons om met woord en daad”;
Flam 71 “U Is Vir My Genoeg”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.