Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 119:105-112; Romeine 8: 1-11, 16-23; Matteus 13:1-9, 18-23.

Fokusteks

Genesis 25: 19-34
19 Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham: Abraham was Isak se pa,
20 en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, ‘n Arameër uit Paddan-Aram, en ‘n suster van Laban die Arameër.
21 Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword.
22 Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe die Here gaan raadpleeg,
23 en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.”
24 Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies.
25 Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos ‘n veljas, en hy is Esau genoem.
26 Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is.
27 Die seuns het grootgeword. Esau was ‘n ervare jagter, ‘n man van die veld; Jakob was ‘n rustige mens, hy het tuis gebly.
28 Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek.
29 Op ‘n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan
30 en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!” Daarom is hy Edom genoem.
31 Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.”
32 Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?”
33 Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met ‘n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.” Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop.
34 Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

My geloof, die lamp wat U aangesteek het
om my voete in die donker te lei,
praat in my hart en vra:
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?
Vertrou op God! Sy woord is die lamp wat my die weg wys.
(uit Ps 119 – Augustinus Belydenisse, Lux Verbi, 2007, bl 422).

Liedere

Lof: Liedboek 98: 1-3

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging
Here – as ons tog maar net op ’n vaste koers kan bly
en ons aan u voorskrifte kan hou!
As ons al u gebooie in ag neem,
sal ons nooit raadop wees nie.
U bepalings is regverdig.
Doen goed aan u diensknegte,
dan sal ons lewe
en u woord gehoorsaam.
Maak ons oë oop
sodat ons die kragtige werking van u wet ervaar.
Hier op aarde is ons net op u beskerming aangewese:
Laat ons tog nie sonder u gebooie wees nie.
Ons hou vas aan u verordeninge, Here,
moet tog nie dat ons lewe ’n teleurstelling word nie.
Onthou tog u woord aan ons,
die woord waarop U ons laat hoop het.
Dit is die troos in ons ellende:
dat u belofte ons in die lewe hou.
U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.
U trou is van geslag tot geslag;
U het die aarde gemaak, en dit staan vas.
Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas,
alles is aan U onderworpe.
U woord is die lamp wat ons die weg wys,
die lig op ons pad.
Laat ons lewe dat ons U kan loof. Amen.
(Uit Ps 119. Dirkie Smit: Stukkies van die hemel, Lux Verbi, 2005, bl 216)

Gesang: Liedboek 284

Familie-oomblik

God is getrou om sy beloftes na te kom
Hou ‘n trouring in die lug. “Kan een van die kinders dalk vir my sê watter tipe ring dit is?”
Dis ‘n eenvoudige, goue ring, maar dit is baie spesiaal. Vir die een wat dit dra, herinner dit aan die belofte wat hy of sy as man of vrou afgelê het die dag met hulle troue Toe het hulle belowe om vir altyd en altyd vir mekaar lief te wees en aan mekaar getrou te bly. Die Engelse mense sê dit altyd so mooi: “For better, for worse, for richer and for poorer, in sickness and in health, for as long as we live”. Die trouring aan die man en vrou is vir elkeen ‘n herinnering daaraan dat hulle hierdie belofte aan mekaar gemaak het. Toe die dominee vir hulle vra: “Maak julle die belofte om vir mekaar lief te wees en vir mekaar te sorg?” het hulle altwee gesê: “Ja, dominee!”

Ons almal maak beloftes. Jy belowe aan mamma dat jy jou kamer aan die kant sal maak vóór jy gaan speel. Of jy belowe om ‘n geheim van ‘n spesiale vriend te hou. Of jy belowe om iets terug te gee wat jy geleen het.

Ongelukkig verbreek ons mense baie keer ons beloftes. Ongelukkig gebeur dit soms dat pappas en mammas met trouringe hulle beloftes teenoor mekaar verbreek en ophou om vir mekaar lief te wees en getrou aan mekaar.

Het jy al ‘n belofte verbreek? Of het iemand al ‘n belofte teenoor jou verbreek? Hoe het dit jou laat voel? Jy was seker baie teleurgesteld! Jy het seker iets gesê soos: “Maar jy het dan belowe!”

God maak ook beloftes aan ons. Hy vertel ons dat Hy ons altyd sal liefhê. Hy vertel ons dat Hy al ons verkeerde dinge van ons af sal wegneem. Dit is die wonderlike van God: Hy verbreek nooit sy beloftes nie. Selfs al is ons stout en ongehoorsaam aan Hom, hou Hy nie op om vir ons lief te wees nie. Hy bly altyd getrou en kom sy beloftes na, al is ons hoe ontrou.

Die Bybel sê in 2 Korinthiërs 1 so mooi vir ons dat Jesus nie met sy mond “ja” sê, maar in sy hart “nee” dink nie, soos wat baie mense wel maak. Jesus sê nie gelyk “ja” en “nee” nie. Jesus is ons beste bewys dat God sy beloftes altyd hou. Jesus het as Verlosser na die wêreld toe gekom om vir die mense lief te wees, selfs in hulle plek gestraf te word, toe die mense eintlik niks met Hom te doen wou hê nie.

2 Korinthiërs 1: 18 tot 20 (uit: Die Bybel vir Almal) sê die Here se apostel Paulus: “Julle weet dat God doen wat Hy belowe. So doen ons ook wat ons belowe. Wanneer ons ‘ja’ sê, dan is dit ‘ja,’ en wanneer ons ‘nee’ sê, dan is dit ‘nee.’ … En julle weet dat Jesus nie ‘ja’ én ‘nee’ is nie. Jesus is God se ‘ja.’ Want alles wat God belowe het, het waar geword toe Christus gekom het.”

Preekriglyn

‘n Mens kan nie oor die betrokke perikoop preek, sonder om dit binne die geheelverband van die verhaal van die aartsvaders van Genesis te sien nie. Veral die belofte in Genesis 12 aan Abraham om ‘n groot nasie te wees waardeur die volke van die aarde geseën sal wees, vorm die goue draad wat dié epiese verhaal van die aartsvaders aanmekaar hou. Sonder dié goue lyn van die geskiedenis, kan ‘n mens Genesis 25 nie reg verstaan nie.

Wat die verhale van Abraham, Isak en Jakob in hulle heel oorspronklike vorm was, is moeilik om te sê. Soos wat dit vandag in Genesis opgeteken staan, is die aartsvaderverhale die resultaat van ‘n verwerking van tradisies oor ‘n lang periode.

Daar is gegewens wat geleerdes laat dink dat Abraham ‘n tipiese godsdienstige leier van sy tyd was wat met die heiligdom naby Haran verbind kan word. Isak weer word verbind met die heiligdom van Berseba, en Jakob met Bet-El (“Huis van God”). Elkeen van hierdie plekke was oorspronklik Kanaänitiese heiligdomme wat die Israeliete oorgeneem het. Rondom elkeen van hierdie plekke het reeds ou godsdienstige tradisies bestaan. Wat die skrywer van die Genesis-verhaal later gedoen het, was om dié tradisies oor te neem en hulle te verwerk. Hy het hulle binne die raamwerk geplaas van die ervaringsgeskiedenis wat die Israeliete gehad het met die God wat hulle “Jahwê” genoem het. Jahwê was die Een wat vir hulle die lewende God was, die Skepper van die hemel en die aarde, die God van die eksodus uit Egipte, ja, die God van Abraham, Isak en Jakob.

Die belangrike punt wat ‘n mens moet verstaan, is dat al die verhale van die aartsvaders glad nie as gewone biografieë gesien moet word op die manier wat ons vandag oor ‘n biografie dink nie, naamlik as ‘n stuk lewensgeskiedenis van ‘n individu nie. In die besonder geld dit die lewensgeskiedenisse wat ons in hoofstuk 25 aantref. Vers 23 is vir ons die duidelikste leidraad hiervoor:

“… en Hy het vir haar gesê: ‘Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.'”

In hierdie hoofstuk is Jakob en Esau eerder twee persoonlikhede wat die lotgevalle van twee nasies reflekteer, naamlik Israel en Edom. In Genesis 25 gaan dit om veel méér as die optekening van twee individue se lewensverhale. Dit gaan om die geskiedenis en die lotgevalle van twee volksgroepe.

So was dit eintlik ook met Abraham. In die hele Genesis-verhaal, reeds vandat die Here vir Abraham uit Ur van die Chaldeërs geroep en met hom ‘n verbond aangaan het dat Hy hom die vader van ‘n groot nasie sal maak wat vir ander nasies tot ‘n seën sal wees, was hy ook méér as bloot ‘n individu. Sedert die Here se verbondsluiting met Abraham, word Abraham die verteenwoordiging en die uitbeelding van die volk vir wie die Here geroep en deur ‘n verbond aan Homself gebind het.

Teen die tyd dat die verhaal van die aartsvaders soos ons dit vandag as ‘n eenheid in die Bybelse Genesis-verhaal ken, opgeteken is, was die verskeidenheid tradisies van die verskillende heiligdomme en aanbiddingsplekke in Kanaän reeds verwerk, aanmekaar gevleg en geharmoniseer tot één verhaal – die verhaal van een familie wat aanmekaar gebind word deur die verhouding van ‘n vader tot ‘n seun: Abraham tot Isak, Isak tot Jakob.

Ons kan so iets nogal goed verstaan. Nie naastenby al die Afrikaners in Suid-Afrika se voorsate was deel van die Voortrekkers wat uit die Kaap weggetrek en die binneland beset of Bloedrivier beleef het nie. Nogtans het dié stuk geskiedenis deel geword van die volksgeskiedenis van die hele Afrikaner-bevolking. Met die konsep van ‘n verenigde Verenigde State van Amerika werk dit ook so. “Uncle Sam” is dikwels die verpersoonliking van die groot groep uiteenlopende mense en volkere wat in die VSA gaan bly het, maar wat hulle nou terugskouend almal met die geskiedenis van die ontstaan van die Amerikaanse nasie vereenselwig.

In die voorafgaande hoofstuk, hoofstuk 24, sorg die Genesis-skrywer vir ‘n verhaal met ‘n dramatiese spanningslyn. Isak was al 40 jaar oud. Steeds het hy as Abraham se erfgenaam, as die een deur wie die Here sy belofte van ‘n groot nasie aan Abraham moes waar maak, nie ‘n vrou nie. Boonop sou dit ‘n skending van die tipiese Joodse verstaan van egte, suiwer godsdiens wees as Isak met ‘n dogter van die Kanaäniete tussen wie Abraham nou gewoon het, nadat hy die Here gehoorsaam en sy eie mense verlaat het, sou trou. Daarom moes Abraham se slaaf teruggaan na die land Haran van die voorvaders toe, met duidelike instruksies om Isak se voornemende vrou na die Beloofde Land toe te bring.

Sou die slaaf die regte vrou vind? Sou sy gewillig wees om saam te kom na Isak se land toe? Die verhaal laat geen onduidelikheid daaroor nie: Die Here het die slaaf se reis begelei, ten spyte van die twyfel in die slaaf se eie gemoed. Die skrywer maak dit duidelik: Die Here God is in beheer van die geskiedenis. Hy is getrou, Hy maak self sy beloftes waar.

Nou, hier in Genesis 25, herhaal die drama van ‘n bedreigde belofte homself weer, dié keer met Jakob in die kalklig. Rebekka, soos haar skoonma, Sara voor haar, was onvrugbaar en kinderloos (vers 21). As dit nie vir die ingryping van die Here self was nie, sou sy nooit vir Isak ‘n seun kon gee nie. Weer eens word dit duidelik: Die Here God is getrou. Hy maak self sy beloftes waar.

Maar ‘n nuwe komplikasie ontstaan, wat weer byna die Here se verbondsbelofte vernietig. Rebekka kry twee seuns: Esau, die vader van die Edomiete, en Jakob, die stamvader van die Israeliete. Reeds in die baarmoeder veg hulle met mekaar, soos wat dié nasies in die werklike lewe ook sou doen.

Esau wen die eerste rondte, want hy is die eersgebore, die een met ‘n reg op sy pa se erfenis. Sy oorwinning is egter van korte duur. Jakob verkul hom op ‘n sluwe manier uit sy eersgeboortereg, en daarmee uit die finale seën van hulle pa Isak. Om die betekenis van ‘n seëning in daardie tyd na waarde te skat, moet ‘n mens onthou dat ooreenkomstig die antieke geloof die woorde van enige seën of vloek wat uitgespreek is, nie ongedaan gemaak kon word nie en altyd in vervulling gegaan het. ‘n Seëning of vervloeking was nie iets waarmee jy ligtelik omgegaan het nie; jy het dit nie sommer ydellik uitgespreek nie, want dit het altyd waar geword.

Maar ten spyte van Jakob se oorwinning oor Esau, het alles hopeloos verlore gelyk. Watter nut het die seëning vir hom gehad as hy net daarna vanweë Esau se vyandigheid na Haran toe moes vlug en dáár soos ‘n banneling gaan leef, ver weg van die land waarin die belofte van Here vervul moes word? Ons lees daarvan aan die einde van hoofstuk 27, net ná Jakob met sy ma se hulp sy pa se seën verkry het.

Vir die skrywer van Genesis was die aartsvaders reisigers op pad na die vervulling van ‘n doel wat die Here voor hulle geplaas het. Hulle geskiedenis was die nomadiese beweging van belofte tot vervulling, en nie net ‘n doellose geswerf om weiveld vir hulle skape te kry nie. En tog was dit nie vir hulle altyd maklik om volgens die belofte te lewe nie. Keer op keer het hulle hulle in situasies bevind waarin die belofte totaal ongeloofbaar en onmoontlik gelyk het. Telkens word hulle geloof tot die uiterste toe beproef en bevind hulle hulleself op die rand van wanhoop. Episode ná episode bou die verhale ‘n dramatiese spanning op, wat eers ontlont word wanneer die Here op die kritieke oomblik ingryp. Net wanneer alles verlore lyk, hernuwe God telkens sy belofte.

So was dit ook met Jakob, ná sy konflik met Esau. Aan die een kant kon die slegte omstandighede voor sy eie deur gelê word. Dit was te wyte aan sy eie slinkse en agterbakse optredes dat Esau hom so gehaat het dat hy hom wou doodmaak. Maar aan die ander kant was baie van die slegte verhoudings ook die gevolg van die historiese omstandighede waarin hy gebore was. Hy was immers die kleinboetie. Hy het eers ná Esau die lig buite sy ma se baarmoeder aanskou, so met sy hand aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy het baie meer van die kombuis as van die veld gehou. Mammie het hom voorgetrek. Esau was die regte boerseun – Pa se oogappel.

Maar toe is daar die ontmoeting by Bet-El, met die droom van die engele wat die leer klim. Dié Skrifgedeelte kom eers volgende week aan die orde. Dit is egter onmoontlik om Genesis 25 sonder dié gebeurtenis wat in Genesis 28 beskryf word te verstaan.

In sy moedeloosheid met homself en sy omstandighede, ontmoet die Here vir Jakob. Hy verskyn in ‘n droom aan hom en hernuwe die drievoudige belofte wat Hy reeds aan sy oupa Abraham gemaak het: Ja, Jakob en Israel sal grond kry. Ja, Jakob en Israel sal ‘n groot nasie wees. En ja, Jakob en Israel sal vir al die nasies van die aarde tot ‘n seën wees.

Só bemoedig en verseker was Jakob nou dat hy uit sy moedeloosheid kon opstaan en die reis na sy landgenote in Haran aanpak. Dáár kon hy, aangevuur deur die vaste geloof dat die Here getrou is en sáám met hom sal wees, kom wat wil, weer met kragdadigheid gaan lewe. Deur die beskikking van die Here (en verder so ‘n paar twyfelagtige transaksies van sy kant af), word Jakob die eienaar van groot rykdom, twee vroue, baie byvroue, seuns en diensknegte.

Só manmoedig en voortvarend het Jakob in sy geloofsvertroue geword dat die Here hom ongelukkig nóg ‘n keer van aangesig tot aangesig moes ontmoet, dié keer daar by die Jabboksrivier waar Jakob die hele nag met ‘n man gestoei het (vergelyk hoofstuk 32). Net voordat hy in ‘n tipiese welvaartsteologie kon verval dat dit altyd voorspoedig gaan met die Here se kinders, moes Jakob eers weer ‘n hou op sy heup kry. Dit was ‘n hou wat hom kruppel gelaat het, sodat hy konkreet daaraan herinner kon word dat hy maar eintlik mank deur die lewe gaan, was dit nie vir God se genade wat hom uitgekies het om die Here se guns en trou te geniet nie. Wat ‘n mens sommer herinner aan Romeine 9: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm” (vers 15). “Dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van God wat ons roep, nie van ons wil of ons strewe nie, maar van God wat barmhartig is”, sê Paulus baie jare later. Toe het Jakob begryp: Geen menslike hoedanighede of karaktertrekke of dade kon veroorsaak het dat God van hom (óf sy pa Isak óf sy oupa Abraham) die voorgetrekte witbroodjies gemaak het wat hulle was nie, was dit nie vir die genade en liefde van God self nie. Eers nadat Jakob dít verstaan het, was hy gereed om sy broer, Esau, te gaan ontmoet en met hom vrede te maak – daardie herenigingsontmoeting waarvan hoofstuk 33 ons so dramaties vertel.

Soos Abraham vóór Isak en Isak vóór Jakob, so moes Jakob ook eers leer om afstand te doen van sy eie pogings om God se beloftes op sý manier te probeer waar maak. Hy moes eers leer om aan sy eie vroom en goeie pogings te sterf vóórdat hy by die koms van God se koninkryk betrokke kon wees. Die krisis al die pad lank met die aartsvaders was dus nie God nie, maar Abraham, Jakob en Esau self. Die tergende vraag die heeltyd was: Sou hulle van swerwers in beloftedraers kon verander?

Dit is die goue draad wat die aartsvaders se verhale aan mekaar bind: Elkeen van hulle moes eers leer wat dit beteken om méér as doellose swerwers bloot op soek na kos vir hulleself en hulle diere te wees. Overgeset synde: Hulle moes dit staak om eindelose soekers na sin en betekenis vir hulle lewe te wees – in die woorde van die Afrikaanse sanger “soekers wat nooit vind” nie. Hulle moes leer dat hulle mense is wat rééds ‘n doel het, ‘n doel wat God self vir hulle gegee het. Dit is ‘n doel waarvan God self sal toesien dat dit vervul word, te midde van die baie donker dieptes van moedeloosheid en radeloosheid waardeur hulle onderweg moes gaan. In die geval van Israel, was hulle doel om vir al die nasies tot ‘n seën te wees.

In die plek van Jakob en Israel het die kerk van Jesus Christus gekom. Toe dit op die Vrydag van die kruisiging gelyk het of alles ook daarmee heen was, het God getrou gebly. Op die opstandingsmôre het Hy die Vrydag se donker gebeure in ‘n Goeie Vrydag omvorm. Van dié God is ons sy volk – die volk wat vir die nasies tot ‘n seën moet wees.

Daarvoor om te gebeur, sal die refrein van Vonkk-lied 71 inderdaad ook eers ons lewensmantra moet word:
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

Vanuit dié verstomming dat ons só bevoorreg is, dat ons Vader ons só seën, kry ons lewe sin en doel – by uitstek die doel om vir ander tot ‘n seën te wees.

Ja, God het verseker met sy belofte op risiko gegaan toe Hy dit aan ons toevertrou het, en nie aan engele of ander hemelse wesens nie. Verseker het God dit groot gewaag om van swerwers soos ons te verwag om doelgerigte draers van die Godsbelofte te wees.

Want wat verstaan ons nou eintlik van roeping? Wat verstaan ons nou eintlik daarvan dat ons mense met ‘n Goddelike doel is? Wat verstaan ons regtig daarvan dat God sê dat ons mense is wat sy goeie nuus aan die wêreld moet illustreer? Hoe sal swernote soos ons wat makliker dwaalligte vir sterre aansien nou eintlik die verskil tussen seën en vloek herken? Daarom strompel ons meesal van die een krisis tot die volgende, van die een komplikasie tot die volgende, van die een situasie tot die ander waarin die Godsbeloftes totaal ongeloofbaar en onmoontlik lyk.

En tog – tog gee God nie met ons op nie. Tog verstom Hy ons elke keer weer met sy liefde en trou as ons sy genade sien ontvou in die wyse waarop sy hand ons in nood en in lyding versorg – as ons tog maar net oë sou hê wat kon sien!

“Ai,” sou jy wou sê, “ek wens ek kon God sien! Jakob het darem Betel en die Jabbok gehad. Ons het net Vodacom en DSTV.”

O ja? En wat daarvan dat jy gedoop is? Dat voordat jy kon dink of verstaan of soek (behalwe miskien na jou ma se bors), God jou al gesoek en gevind het, kom sê het: “Kind, jy is nou myne. Jy hoef nie soos ‘n boemelaar te swerf nie. Ek het jou by jou naam geroep, jy is myne. Niemand sal jou uit my hand ruk nie”?

En as die doop nie genoeg waarborg van God se teenwoordige getrouheid vir jou is nie, wat dan van die Heilige Gees? God belowe nie net getrouheid nie – Pinkstertyd het Hy die Heilige Gees as die waarborg gegee, die pand, die bewys dat God Homself aan jou verbind het en voortaan in jou wil woon.

Is daar nóg ‘n rede waarom jy, swerwer, nie nou maar kan ophou soek na jou eie geluk en sin en seëning nie, en ‘n slag dit vir ander begin doen nie? Daarvoor is jy immers geroep! Daartoe stuur God jou om te leef!

God stuur ons om te leef

Gesang
Vonkk 71 “Groot Is U Trou, O Heer”

Teks: Great is Thy faihfulness – Thomas O Chisholm 1923; Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: FAITHFULNESS – William Marion Runyan 1923
© Teks en Musiek: © 1923, hernu. 1951 en in hierdie vertaling © 2009 Hope Publishing Company, Carol Stream, IL 60188, USA (admin CopyCare South Africa). Alle regte voorbehou. Met toestemming gebruik.
VONKK is ‘n projek van Bybel-Media.

1. Groot is u trou, o Heer, my God en Vader:
rotsvas u woorde en blywend u Gees.
U trou wyk nooit en u goedheid duur ewig –
U wat vir altyd dieselfde sal wees.

Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

2. Somer en winter, en lente en oestyd,
son, maan en sterre in stralende baan,
sing juigend saam oor die Skepper se grootheid,
loof God se trou waardeur alles bestaan.

Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

3. Sondevergifnis en blywende vrede,
u liefdestrou wat vertroos en my lei,
krag vir vandag en ‘n hoopvolle môre:
Duisende seëninge gee U vir my.

Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

Reël van dankbaarheid – Deuteronomium 6 en 11.

Voorganger: Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul.
Gemeente: Ons bind dit vas aan ons hande.

Voorganger: Dit moet ’n merk op julle voorkoppe wees.
Gemeente: Ons leer dit vir ons kinders.

Voorganger: Skryf dit op julle deurkosyne.
Gemeente: Ons skryf dit op die stadspoorte.

Voorganger: Dan sal julle geseënd wees.
Gemeente: Amen
(Woordwyser, 2003, bl 297).

Gesang: Liedboek 511: 1-2

Verbintenis
Here, U het u kerk lief.
U het al die mense wat u kerk op aarde vorm,
baie, baie lief.
Ons prys U daarvoor.
Dankie dat die kerk aan U behoort;
dat U dit self bou en in stand sal hou.
Daarom wil ons nou met gerustheid
opnuut die kerk
met al ons foute en swakhede én mooi ideale
aan U opdra.
Maak met ons wat U dink goed en reg is vir nou.
En laat u Gees ons dryf, Here,
om te kom waar U ons wil hê.
Begenadig ons om ons oop te stel
vir u onverwagte, nuwe, vars leiding
deur die kragtige werking van u Heilige Gees. Amen.
(Piet Naudé: Geesgedrewe Gelowiges, Lux Verbi, 2005, bl 56).

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.