Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Genesis 24:34-38, 42-49, 58-67
34Toe sê die man: “Ek is ’n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom ’n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. 37My eienaar het my ’n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met ’n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. 38Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun ’n vrou gaan haal.’

39Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’40en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy ’n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. 41Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. 43Hier staan ek by die fontein waar ’n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my ’n bietjie water uit haar kruik te laat drink, 44en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met ’n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog ’n bietjie water!’46Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. 47Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. 51Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”
52Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig. 53Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma. 54Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”
55Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog ’n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”
56Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”
57Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”
Sy het geantwoord: “Ja!”

59Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan. 60Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:
“Ons suster, mag jou nageslag
tienduisende word,
mag hulle die stede
van hulle vyande verower!”

61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon. 63Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. 64Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring 65en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”
Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en 67Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

Psalm 45:11-18
11Luister, dogter, luister goed:
neem afskeid van u volk
en u familie,
12want u skoonheid bekoor die koning.
U behoort aan hom,
u moet hom eer.
13Dogter van Tirus,
die rykes van die volk
sal u guns soek met geskenke.
14In louter prag staan die koningin daar
in haar kleed van goudbrokaat;
15in haar veelkleurige rok
word sy na die koning toe gelei;
sy en haar gevolg van jong meisies,
haar vriendinne,
word na u toe gebring.
16Onder uitbundige vreugde
word hulle ingelei,
betree hulle die paleis
van die koning!
17Mag u seuns hê
om u geslag voort te sit
dat u hulle kan aanstel as regeerders
in die hele land!
18Mag deur my lied
die roem van u naam
oor geslagte strek,
sodat volke u vir altyd sal prys.

Romeine 7:15-25a
Die wet en die sonde
7Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” s8Maar deur hierdie gebod het die sonde ’n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood. 9Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, 10en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. 11Die sonde wat deur die gebod ’n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak.

12Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.
13Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is.

14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos ’n slaaf aan die sonde verkoop.

15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

Fokusteks

Matteus 11:16-19, 25-30
Ons gee die volle konteks van hoofstuk 11 om die konteks vir die twee perikope te verskaf.
11 Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

Jesus en die vraag van Johannes die Doper
(Luk 7:18–35)
2Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ’n boodskap aan Hom gestuur om te vra: 3“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

4Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: 5Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. 6En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ’n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 8Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ’n mens in koninklike paleise. 9Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ’n profeet. 10Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’

11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy. 12Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. 13Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, 14en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. 15Wie ore het, moet luister.

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’

18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Die onboetvaardige dorpe
(Luk 10:13–15)
20Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. 22Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 23En jy, Kapernaum, dink jy
‘jy sal tot die hemel toe verhoog word?
Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’

As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. 24Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Die uitnodiging van Jesus
(Luk 10:21–22)
25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Ekstra stof

Hier is ’n ekstra bydrae oor hoofstuk Matteus 11. Dit plaas die perikope vir dié Sondag in die konteks van gemengde ontvangs van die koninkryk. Dit is te midde van die aanstoot van die Joodse volk aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars sowel as die feit dat die stede nie tot bekering gekom het nie, al het Jesus kragtige dade daar gedoen, wat Hy sy Vader loof vir dié wat ontvanklik is vir God se boodskap en vir wie Hy rus beloof.

Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
Matteus fokus in hoofstuk 11-13 op die gemengde ontvangs van die koninkryk. Hoofstuk 11 fokus op die teenstand van die Joodse volk wat manifesteer in die aanstoot wat hulle neem aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars (11:2-19), sowel as in die feit dat die stede nie tot bekering kom nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24).

In skerp kontras met hulle kan die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat God ontvanklik vir die boodskap van die koninkryk gemaak het. Vir almal bied Jesus in elk geval rus vir hulle gemoed aan in ’n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).

’n Soortgelyke patroon word in hoofstuk 12 gevind, waar die teenstand meer met die Fariseërs verbind word. Die reeks van drie hoofstukke eindig met die volgende rede van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede, in hoofstuk 13. Dit bestaan uit ’n reeks van sewe/agt gelykenisse, ingelei deur die gelykenis van die Saaier/saad. Die gelykenisse beklemtoon almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk.

Die eerste vers van hoofstuk 11 verwys eintlik na die afhandeling van die vorige hoofstuk se verhaal van die sending van die twaalf en vorm dus streng gesproke nie deel van die volgende hoofdeel van Matteus se evangelie nie.

Die Joodse volk neem aanstoot aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars – 11:2-19
Interessant genoeg word die naam Christus die eerste keer weer hier gebruik vir Jesus, ná Herodes met die sterrekenners se besoek navraag gedoen het na die geboorte van die Christus. En dit is gepas dat dit Johannes die Doper is wat vra of Jesus die Christus is, die Een wat sou kom en of hulle iemand anders moet verwag. Hy het immers as Voorbereider opgetree en het die doop van Jesus gefasiliteer.

Johannes die Doper sit egter in die tronk en sou kort hierna onthoof word (die storie word in Matt. 14 vertel). Sy vraag was dus waarskynlik gebore uit die benarde situasie waarin hy sit. Jesus se antwoord aan hom is egter om presies wat Johannes in elk geval gehoor het, te herhaal – dat blindes weer sien, dat verlamdes weer loop, dat melaatses gereinig word, dat dowes hoor, dat dooies opgewek word en dat armes die boodskap van die evangelie hoor – maar in taal wat uit die OT kom (Jes. 26:19; 29:18; 35:5-6; 42:7,18; 61:1). Hy verbind dus die wonders aan die Woord wat Johannes goed ken. Dié ses wonders wat genoem word, korrespondeer ook met die meeste van die wonders wat die afgelope paar hoofstukke in hfst. 8-9 vertel is.

Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lewe gee vir Jesus in die navolging van hulle roeping, word nie die lyding wat daarmee gepaard gaan, gespaar nie.

Met die vertrek van Johannes die Doper se dissipels, brei Jesus dan uit oor die besondere profeet en boodskapper wat Johannes was, in ’n sekere sin die grootste van alle mense tot op daardie tyd, die Elia wat sou kom (Mal. 4:5), om die pad vir die koninkryk voor te berei en reg te maak. Die tragedie is dat nie Johannes die Doper of die Seun van die Mens, die Voorbereider en die Verlosser, vir die Joodse volk aanvaarbaar was nie. Die een was te heilig en die ander nie heilig genoeg nie. Hulle dade sal egter op die langtermyn hulle boodskap bevestig, sê Jesus.

Jesus verwyt die stede wat nie tot bekering kom ten spyte van die kragtige dade van Jesus – 11:20-24
Jesus se frustrasie met die wispelturige weerstand van die Joodse volk teen sy boodskap spoel oor in ’n volskaalse verwyt dat die stede waarin Jesus die meeste van sy kragtige dade gedoen het nie tot bekering gekom het nie. Gorasin, Betsaida en Kapernaum – almal stede in Galilea – ontgeld dit spesifiek. Ons lees nie in die evangelies van wonderverhale in Gorasin nie, maar wel in Betsaida (Mark. 8:22; Luk. 9:10) en Kapernaum. Dit was immers sy hoofkwartiere.

Die heidense stede Tirus, Sidon en Sodom, sê Jesus, sou lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het, as hulle die dinge gesien het wat Jesus in Israel gedoen het. Maar verniet! Vir die onbekeerde stede wag daarom net oordeel, ’n oordeel wat erger sal wees as wat die heidense stede te beurt sal val.

Jesus bied rus vir diegene wat ontvanklik vir God se boodskap is – 11:25-30
Jesus erken egter in dié gedeelte die misterie van God se werking in mense se harte. Let op dat Hy God se aktiwiteit in die aksie om dié dinge vir slim en geleerde mense te verberg en die bekendmaking of openbaring aan “kindertjies” (Matt. 18:1-4: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie …”), uitlig. God werk sy doelwitte met mense uit IN die reaksies wat hulle teenoor Jesus het. Daarvoor loof Jesus sy Vader. Dat Hy verwerp word, benadeel ook nie die verhouding wat Hy met sy Vader het nie.

Die uitnodiging om rus by Hom te vind, bly egter van krag. Dit word steeds aan “almal” gerig. Die dieptepunt van dié uitnodiging is egter dat die rus nie net gevind word in die nougesette volg van Jesus, in dissipelskap, nie. Jesus gebruik hier nie die woorde van Matt. 4:19: “Kom saam met My” wat Hy aan die dissipels met hulle roeping gerig het nie. Hy sê hier – en dit is die enigste keer in die evangelies sowel as die res van die NT wat dié woorde gebruik word – “Kom na My toe”! Hy bied persoonlike gemeenskap aan almal aan wat dié boodskap hoor en Hom daarvoor vertrou.

Dit sluit in dat sy juk (dit is sy lering – die wet is baie keer as ’n juk verduidelik, vgl. Gal 5:1) opgeneem word en sy las gedra word, maar dit begin by die persoonlike ontmoeting en persoonlike gemeenskap.

Eugene Peterson parafraseer dié laaste drie verse só pragtig in The Message, met veral die frase “Learn the unforced rhythms of gracewat mens tref:

Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 551 of Flam 412

Votum: Vonkk 116 “Laat Jou Lewe Aan Die Here Oor (Psalm 37)”

Lofsang: Lied 514 of Flam 373

Wet: Romeine 7:15-25

Genadeverkondiging: Romeine 7:24-25a

Toe-eiening: Lied 244 of Vonkk 14 of Flam 5

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 11:16-19, 25-30

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 577 of Vonkk 43

Seën

Respons: Lied 577 vers 5 twee laaste strofes of Vonkk 58 of Flam 361

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede 
Lied 551 “Jesus nooi die kindertjies”of
Flam 412 “Kinders Klap, Klap, Klap Julle Hande”

Votum
Vonkk 116 “Laat Jou Lewe Aan Die Here Oor (Psalm 37)”

Lofsang
Lied 514 “Ek weet vir seker” of
Flam 373 “Elke Knie Sal Buig”

Wet: Romeine 7:15-25

Genadeverkondiging: Romeine 7:24-25a

Toe-eiening
Lied 244 “Alles, alles is genade” of
Vonkk 14 “Hy Het Self Ons Sondes”

Geloofsbelydenis

Liedere

F412. “Kinders Klap, Klap, Klap Julle Hande” 
(RUBRIEK: Flammikidz – lof) Teks en musiek: Iné Stander © Brettian Productions

Kinders klap, klap, klap julle hande
draai dan om en stamp julle voete.
Dans en draai, sing en spring
sing ’n liedjie vir die Heer.

VONKK 116 “Laat Jou Lewe Aan Die Here Oor (Psalm 37)”
Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo) Musiek: JACUS – Jacus Krige 2009
Kantoryverwerking (keervers): Albert Troskie 2010 (Pro Deo) en Gerrit Jordaan 2010
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

Keervers
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

Voorleser:
Vertrou op die Here en / doen wat goed is, dan / woon en werk jy / in ware vrede./ Wees / bly in die Here, Hy / gee jou sy gawes. / Jou / diepste wense sal / Hy vervul.
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.
Wees stil in die Here; wag / rustig op Hom, want / dié wat Hom dien, sal / alles besit. /
Bly af-/-hanklik van God, ver-/-trou net op Hom – / dan sal jy sy vrede en / voorspoed ervaar.
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

As jy / min besit en die / Here dien, is jy / ryker as skelms met / sakke vol geld. Die / Here versorg; Hy be-/-skerm sy kinders; Hy / gee hul ‘n land waar hul / altyd kan woon.
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.
Die / Here beplan die / koers van sy kinders en / Hy sal ook sorg dat dit / goed gaan met hul.
Ja, / selfs as hul struikel, sal sy / hand hul vashou, dan / sal hul nie val of bly / lê in hul nood.
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.
Ek het / nog nie gesien dat / dié wat God dien
op / straathoeke staan om te / bedel vir kos,
want die / Here red dié wat / Hom / soek in hul swaarkry – / Hy help almal wat / by Hom / skuil.

Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou

F373. “Elke Knie Sal Buig” T240
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloofsbelydenis; Toekomsverwagting) Teks en musiek: Cor Uys © Brettian Productions
(Opgeneem op Oom Karoolus en Lente sing 80 bekende Jesus-kinderliedjies)

Elke knie sal buig elke tong sal sê
Jesus, U is Heer.
Elke knie sal buig elke tong sal sê
Jesus, U is Heer.
En die kinders sê (2x)
Jesus U is Heer.
En die ouers sê (2x)
Jesus U is Heer.
En ons almal sê (2x)
Jesus U is Heer.

F5. “Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration (Opgeneem op FLAM, vol 1) (Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” 
1 Petrus 2:24 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 43 “My Hart Roep Uit”
Teks: Tell out my soul (Luke 1) – Timothy Dudley-Smith 1961; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 ©
Musiek: WOODLANDS – Walter Greatorex 1916 (1877-1949) Kantoryverwerking: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
© Teks: 1962 Oxford University Press. All rights reserved. Used with permission (Afrikaans text).
© Musiek: Openbare besit. © Kantoryverwerking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek — Lofprysing

1. My hart roep uit: Die Heer is groot en goed!
Sy oorvloed seën laat my juig en sing;
sy troue sorg bring rus in my gemoed.
Aan Hom, my Redder, wil ek hulde bring!

2. My hart roep uit: Maak groot die Heer se Naam!
Verkondig wyd en syd sy heerlikheid:
Hy is die Heer, kom sing nou almal saam;
kniel voor Hom neer, buig voor sy heiligheid.

3. My hart roep uit: Hoe groot is God se krag!
Voor Hom moet heersers van die aarde buig
en wêreldnasies stil word voor sy mag.
Oor al sy wonderdade wil ek juig!

4. My hart roep uit, in vreugde oor sy Woord!
Dit gee my vastigheid en sekerheid:
dat uit genade, ek aan Hom behoort.
Aan Hom my lof en dank in ewigheid!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 11:16-19, 25-30

Familie-oomblik

Jy kan die wet in die familie-oomblik inkorporeer. Verduidelik Romeine 7 met behulp van ’n yo-yo. Partykeer voel ons ook of ons so op en afgetrek word. Ons sien goed wat ons moet doen en doen dit nie (vra voorbeelde, soos bv. kamer skoonmaak). Of goed wat ons nie moet doen nie, wat ons tog doen (vra weer vir voorbeelde – soos kleinboet afknou). Onthou, terwyl ons so op en afgetrek voel, is God steeds lief vir ons. God se liefde is nie gebaseer op of ons iets doen of nie.
OF
Sing en dans! Gebruik ’n lied soos Flam 412 (bo by toetrede) met bewegings. Laat die kinders dit eers sing met bewegings – en kyk of julle die grootmense kan kry om saam te sing en dans!
OF
Sermons4kids gebruik die beeld van ’n gewigopteller en ’n “spotter”. Wanneer iemand gewigte optel, is daar altyd iemand by die gewigopteller se kop wat help om die gewig vas te hou en te lig. Dit is hoe Jesus met ons maak. http://www.sermons4kids.com/come_to_me.htm

As jy ’n juk in die hande kan kry, kan jy die simboliek daarvan verduidelik. (Toe ek ’n kind was, het my pa ’n miniatuur een gemaak, waarmee die kinders kon speel en duidelik sien hoe dit werk.)

Preekriglyn

‘n Fotograaf is besig om skoolfoto’s van die Graad Eentjies te neem by die plaaslike laerskool. Hy knoop allerhande geselsies met die kinders aan om hulle op hulle gemak te stel.
“Wat gaan jy wees as jy groot is?” vra hy ‘n dogtertjie.
“Moeg,” kom die eerlike voorspelling.

Kindertjies op die markplein

Jesus vertel ‘n mini-gelykenis in ons teks (verse 16-17). Die mense van sy tyd is soos kinders. Hulle is soos kindertjies wat op die dorp se markplein ronddrentel. Die grootmense is hard besig om te werk. Hulle koop en verkoop. (Hulle is sekerlik moeg!)

Die kinders, aan die ander kant, is verveeld. Hulle wonder hoe hulle die tyd gaan omkry. Sommige van die kinders begin musiek maak en nooi die ander om saam met hulle te begin dans. Maar die ander kindertjies wil nie saam fluit en dans nie. Hulle is nie lus nie.

Goed, sê nog ‘n groepie kinders, ons is duidelik nie lus is vir dans en sing nie. (Seker omdat die kinders die oggend baie huiswerk gekry het en reeds moeg is as hulle dink aan wat hulle alles vir more moet doen.) Kom ons treur dan liewer. Kom ons sing ‘n treurige liedjie.

Weer wil die kinders nie meedoen nie. Hulle is nie lus vir vrolike musiek nie, en ook nie vir hartseer klanke nie.
Hulle is moeg. Hulle is vir niks lus nie.

Johannes en Jesus

Jesus vertel hierdie mini-gelykenis as deel van ‘n gesprek oor die bediening van Johannes die Doper, asook Sy eie bediening. Op hierdie stadium is Johannes die Doper reeds in die tronk. Hy hoor berigte oor wat Jesus doen, en wil dan weet of Jesus die Messias is wat sou kom, en of hulle ‘n ander Een moet verwag (11:2-3).

Waarskynlik het Johannes onseker oor Jesus se bediening begin voel. Doen Jesus die regte goed wat van die Messias verwag kon word? Om mee te begin sit Johannes onregverdiglik in die tronk, en Jesus kom bevry hom nie. Verder lyk dit nie of Jesus die korrupte Joodse koningshuis aanvat, of die Romeine uitsorteer nie.

Jesus antwoord Johannes dat blindes sien, lammes loop, melaatses gereinig word, dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die evangelie. Hierdie is alles die tekens van die bediening van die ware Messias wat reeds in die Ou Testament aangekondig is. Johannes moenie in Jesus twyfel nie (11:4-6).

Daarmee beklemtoon Jesus dat Hy besig is om die werk van God te doen. Hy, Jesus, is inderdaad die Gestuurde van die Vader. Deur Jesus se bediening is God inderdaad besig om na die hart van sy volk te gryp. Jesus is inderdaad die Een wat die geestelik en polities verflenterde Israel weer kom optel en help om Israel se Godgegewe roeping uit te voer.

Na sy antwoord aan Johannes, praat Jesus verder met die mense oor Johannes. Johannes was ‘n profeet, maar ook meer: hy was die een wat voor die Messias uitgaan om die pad vir Hom reg te maak. Johannes is die Elia – vir baie Jode die grootste profeet – wat voor die Messias uitgaan.

Jesus sê daarmee dat God deur Johannes werksaam is. As voorganger van die Messias is Johannes se bediening ook deel van God se gryp na die hart van sy volk. Beide Johannes en Jesus is God se uitnodiging aan sy volk om aan te sluit by God se werk. Om God se roeping en God se geopenbaarde bedoeling met Israel te begin uitvoer.

Reaksie gevra

Ja, God roep in Johannes en Jesus na sy volk. God reik in liefde uit na die hart van sy volk. God nooi hulle tot vergifnis, genesing en roepingsherstel. Tog reageer hulle nie.

Om die waarheid te sê, die volk kritiseer eerder vir Jesus en Johannes:

  • Johannes het ‘n asketiese lewenswyse in die woestyn gevolg – hy het nie geëet of gedrink nie, en die volk sê hy is van die duiwel besete (11:18).
  • Jesus, die Seun van die Mens kom, eet en drink, en die mense sê Hy is ‘n vraat en ‘n wynsuiper, die vriend van tollenaars en sondaars (11:19).

Die volk is duidelik nie lus om mee te doen aan God se aktiwiteit nie. Hulle skryf God se aksie krities toe aan onoordeelkundige optrede deur Johannes en Jesus.

Waarmee sal mens Johannes en Jesus se tydgenote vergelyk? Hoe lyk die geslag Jode in Jesus se tyd? Jesus is duidelik daaroor. Hulle is soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep: “Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het ‘n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie.” (11:17).

Waarom geen reaksie?

Waarom reageer die volk nie op God se liefde soos beliggaam deur die bediening van Johannes en Jesus nie? Verskeie moontlikhede word deur Skrifuitleggers genoem:

  • ‘n Toeskouermentaliteit? Dalk wil die volk bloot vir Johannes en Jesus kommandeer om hulle voorkeure uit te voer, of hulle kritiseer. Self wil hulle nie inval en speel nie. Ten spyte van aanmoediging en uitnodiging bly die kinders sit as toeskouers. Hoewel hier ‘n element van waarheid mag wees, moet ons nog dieper delf. (Hierdie moontlikheid is natuurlik baie verleidelik vir predikers en kerkrade, want dan kan onbetrokke lidmate aangevuur word om ‘n slag betrokke te raak by wat ook al die prediker of ringkoppe belangrik ag.)
  • Onvermoë om die erns van die oomblik te peil? Die sg. toeskouermentaliteit moet ‘n dieper oorsaak hê. Sommige Skrifuitleggers sê die volk het nie die vermoë om die erns van die oomblik te peil nie. Die volk is in ‘n krisis, God praat met beslissende erns deur Johannes en Jesus, maar hulle baklei soos kinderagtig oor allerlei bysake en beuselagtighede. Die volk hanteer beslissende lewensvrae asof dit kleinighede is. Israel speel terwyl hulle ernstig moet wees oor diep sake. Hierdie klink na ‘n belangrike motief by die volk, maar die eintlike probleem lê selfs nog dieper.
  • Die onwil om God se aansprake in Johannes en Jesus te herken! Dit is die hart van die saak. Die wysheid van God (11:19) tree in Johannes en Jesus op, maar die volk herken dit nie, en – as hulle dit herken – wil hulle nie meedoen nie. God se oproep tot belydenis van sonde, bekering en lewensvernuwing, word geweier. Prof Dirkie Smit skryf:

Die kragtige dade wat onder hulle plaasvind, roer hulle nie. Hulle regverdig God nie. Hulle gee Hom nie gelyk nie. Hulle het hulle eie idees en godsbeelde. Hulle weet – beter as Hy! – hoe Hy eintlik behoort te wees en hoe sy boodskappers behoort te lyk en op te tree! In terme van dié idees is Johannes en Jesus vals, dwaalleraars, erger nog: duiwels! …. Daarmee ontmasker hulle uiteraard hulleself. Hulle is nie kinders van die wysheid, familie van God nie. Hulle verstaan nie sy hartklop nie, dink nie oor mense soos Hy nie. Maar dit stel hulle skuldig: Ten diepste weier hulle om hulle te bekeer, hulle klee hulle nie in sak en as nie. Daardeur word die oordeelsdag vir hulle ‘n bedreiging. (Uit: Woord teen die lig, II/2, bl. 31)

Waar pas ons in die prentjie?

Mens begin onmiddellik oor jouself en jou gemeente na te dink by die hoor van hierdie woorde. Kan dit wees dat ons die Here se boodskappers misken? Verskyn God op maniere aan ons wat ons miskyk en waarteen ons ons verset? Weier ons om saam te speel?

Die teks roep ons tot ernstige selfondersoek, tot selfkritiek, berou en bekering. Dit is nie eerstens ander wat aangespreek word nie. Dis ons, dis ek. Dis die balk in my eie oog wat ek moet raaksien.

Die belangrike vraag is natuurlik hóé en waarin God vandag aan ons verskyn? Watter uitnodigings is daar wat ons nie raaksien nie? Waarteen ons ons verset, sonder selfs om te besef wat ons doen?

Ons eie insigte is veels te beperk om hierdie vrae op ons eie te beantwoord. Dit is nodig om met ander Christene, spesifiek van buite ons eie kring, oor hierdie groot vrae te gesels. Ons kan mekaar geweldig help met verskillende vrae en perspektiewe. Gebed speel natuurlik ook ‘n geweldige belangrike rol. Die biddende, selfondersoekende en selfverloënende soeke na die wil van God is onvervangbaar.

Verder het die teks natuurlik ook troos. Christene beleef dikwels verwerping en minagting. Ander kyk op ons neer oor ons waardes en keuses. Ons word dikwels belaglik gemaak. Die teks troos ons, want as dit met Jesus en Johannes gebeur het, waarom sal ons gespaar word?

Geroep om te speel?

Ons moet versigtig wees om Jesus se woorde nie as ‘n veroordeling van spel en speelsheid te lees nie. Dis nie asof Jesus spel veroordeel nie. Dit is nie asof die Christelike geloof, en die doen van God se wil, erns idealiseer en spel afwys nie.

Miskien moet ons eerder meer speel in die navolging van Christus. Spel is iets wat kinders so uitstekend doen. In ‘n speletjie word ‘n stukkie hout die swaard waarmee die ridder die heldin red. ‘n Besemstok word ‘n perd waarop ‘n ruiter jaag. ‘n Houtblokkie op ‘n bord word ‘n kasteel, koning, koningin, biskop of pion wat ure se vermaak optower.

‘n Mens se ruimtes word vergroot wanneer jy speel. Jy kan die onsienlike beter sien, veral die onsienlike God. Al die verskonings waarom jy die Here nie kan dien nie, word opgehef as die verbeelding wat spel oproep weer lewendig in jou gemoed word en jy nuwe moontlikhede van gehoorsaamheid kan begin raaksien.

Mens kan God se uitnodiging verwerp omdat jy so vasgeval is in die sogenaamde onoorkomelike realiteite van die lewe. Jesus is die Een wat ons voortdurend nooi om te droom, nuut te dink, te hoop, te reken met Hom as die Een wat die onmoontlike kan vermag.

Dans saam

In ons teks is die verwyt dat God mense oproep om saam te dans, en hulle wou nie. God gee ‘n ritme aan, God dans, en nooi ons om dié ritme ons eie te maak en in harmonie met God te dans in die spel van gehoorsaamheid.

Só sien Sydney Carter dit. Hy skryf in 1963 die woorde van die deesdae bekende “Lord of the dance.” Dit word veral bekendgemaak deur die Ierse produksie van Michael Flatley wat beide die titel en die woorde van die lied benut.

In hierdie lied word Jesus voorgestel as die Een wat dans, op verskillende tye en plekke, ook op aarde. Jesus is in die lied aan die woord. Hy hou die dans lewend deur siekes te genees, die dood te verduur, en dit te oorwin deur dansend hoog op te spring. Nie almal wil saam dans nie. Die eerste dissipels het egter wel die uitnodiging aanvaar, en so gaan die dans deur die eeue voort.

Jesus lei ons steeds in die dans, Hy nooi ons om saam te dans, Hy maak ons nuut deur die lewensdans:

Lord of the dance
I danced in the morning when the world was begun,
And I danced in the moon and the stars and the sun,
And I came down from heaven and I danced on the earth:
At Bethlehem I had my birth.

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

I danced for the scribe and the Pharisee,
But they would not dance and they wouldn’t follow me;
I danced for the fishermen, for James and John;
They came with me and the dance went on:

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

I danced on the Sabbath and I cured the lame:
The holy people said it was a shame.
They whipped and they stripped and they hung me on high,
And they left me there on a cross to die:

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

I danced on a Friday when the sky turned black;
It’s hard to dance with the devil on your back.
They buried my body and they thought I’d gone;
But I am the dance, and I still go on:

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

They cut me down and I leapt up high;
I am the life that’ll never, never die.
I’ll live in you if you’ll live in me:
I am the Lord of the dance, said he.

Dance, then, wherever you may be,
I am the Lord of the dance, said he,
And I’ll lead you all, wherever you may be,
And I’ll lead you all in the dance, said he.

Die dans saam met Christus is die dans van mense wat deur God se ritme aan die hart gegryp is, en hul lewe daarvoor gee. Soms is dit gedug om die ritme vol te hou, veral met die bose op jou rug (Dirkie Smit). Dis soms uitdagend om te reageer op die fluitspel van die lewende God. Dis asof ander agendas wil oorneem. Mens raak uitgeput en moeg.

Baie mense word inderdaad moeg soos hulle grootword. Die dogtertjie het reg vir die fotograaf gesê. Die Here van die dans het egter ook hiervoor raad.

Kom na My toe

Die krag om op te staan en te dans is nie iets wat onsself hoef te skep nie. Jesus se wonderlike uitnodiging, nadat Hy oor die passiwiteit en onbekeerlikheid van baie gepraat het, is immers:

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig (11:28-30).

Eugene Peterson gee hierdie woorde as volg in The Message weer:
Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.

Die Here van die dans vat ons laste weg, en gee ons die krag om ten volle vir Hom, en saam met Hom, te lewe.

Mens hoef nie moeg te wees as jy groot is nie.

 

 

 

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 577 “Die Heer, my herder, sorg vir my” of
Vonkk 43 “My hart roep uit”

Seën

Respons
Lied 577 vers 5 twee laaste strofes: “by U’s ek tuis en in u huis sal ek vir ewig bly of
Vonkk 58Ons Vind Ons Krag In Die Here
Nav Jeremia 17:7 Teks en melodie: Neelsie van Zyl © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr — Geloof en Vertroue, Uitsending

Ons vind ons krag in die Here —
op Hom sal ons vertrou,
op Hom sal ons vertrou
Ons vind ons krag in die Here —
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra,
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra.

F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.