Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

1 Samuel 17: 1a, 4-11,19-23
Goliat verkleineer Saul se leër
17 Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep.
Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. 2Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. 3Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met ’n smal vallei tussen hulle.

4Toe kom daar ’n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. 5Daar was ’n bronshelm op sy kop, en hy het ’n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. 6Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar ’n bronsswaard. 7Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

8Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie ’n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. 9As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”

10Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”

11Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

12Dawid was die seun van ’n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. 13Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. 14Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, 15maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.

16Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. 18Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en ’n bewys daarvan saambring.

19Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”

20Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. 21Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. 22Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, 23en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor.

24Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

25’n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan—die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?”

30Dawid het van hom af weggedraai na ’n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

Psalm 9:9-20
8Die Here is altyd op sy troon;
op sy regterstoel is Hy steeds
gereed vir die regspraak.
9Hy lewer ’n regverdige uitspraak
oor alle mense,
Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies.
10Vir die mens wat in gevaar verkeer,
is die Here ’n toevlug,
’n skuilplek in tye van nood.
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.
12Sing tot eer van die Here
wat op Sion woon,
vertel die volke van sy dade!
13Hy dink aan die onskuldiges
en wreek hulle dood,
Hy verontagsaam nie die geroep
van dié wat in nood verkeer nie.
14Wees my genadig, Here,
aanskou die ellende wat my haters
my aangedoen het,
U wat my terugruk
uit die poorte van die dood.
15Dan kan ek van al u roemryke dade
vertel,
in die poorte van Sion kan ek juig
oor die uitkoms wat U gegee het.
16Die nasies het in die gat geval
wat hulle gegrawe het,
hulle voete is vasgevang in die net
wat hulle gespan het.
17So het die Here Hom bekend gemaak,
Hy het reg laat geskied,
en die skuldige is deur sy eie handewerk
gevang. Higgajon
18Die doderyk is die bestemming
van die skuldiges,
van al die nasies wat aan God
nie dink nie.
19Waarlik, die behoeftiges
word nie vir altyd vergeet nie,
nie vir ewig sal die verwagting
van dié wat in nood is,
vrugteloos wees nie.
20Gryp tog in, Here,
sodat die mens hom nie verhef nie.
Laat die nasies voor U teregstaan.
21Vervul hulle so met vrees, Here,
dat hulle erken dat hulle net mense is.

2 Korintiërs 6:1-13
6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.
3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.
8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers,
en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes,
en tog is ons goed bekend;
as sterwendes
en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf,
maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes,
en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes,
maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie,
en tog besit ons alles.

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Fokusteks

Markus 4:35-41
Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. Skielik het daar ‘n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Ekstra stof

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13]. Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader). Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding. Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek. Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit. Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God. Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie?
Die eerste twee perikope vandag is baie bekend. 1) Die mosterdsaadjie is spreekwoordelik die kleinste groentesaad, maar word ‘n boom wat tot 3 meter hoog groei (vgl Eseg 31:6 wat ‘n soortgelyke beeld gebruik vir die koninkryk van die Assiriërs). Só is die koninkryk van God – dit begin klein, maar word ‘n groot gemeenskap wat baie mense insluit. 2) Die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse maak die punt dat persoonlike onderrig noodsaaklik was vir ware begrip. Daarom dat Jesus soveel tyd alleen met die dissipels spandeer het.

Die volgende perikoop is die eerste van vier wonderverhale van Jesus: die stilmaak van die storm, die genesing van die besetene, die genesing van die vrou, en die genesing van Jaïrus se dogtertjie.

Wat my aanspreek in die verhaal van die storm op die see, is die vraag van Jesus aan die dissipels, wanneer Hy die storm stilmaak: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” (vers 40). Dit wil voorkom asof die dissipels, ten spyte van al die wonderwerke wat Jesus al gedoen het, nog steeds vir Jesus onderskat het, en nie rekening gehou het met Wie Hy is, en wat Hy kan doen nie. Hoe ironies! Hy is immers die God waarvan die Psalms sê, dat Hy die golwe van die see kan laat bedaar (Ps 65:8; 89:10).

Dit laat my wonder oor myself – of ek nie baie keer aan dieselfde onderskattingsindroom ly nie! In Jesus is ek immers in die teenwoordigheid van God self! Dit is die basis waarop my gebede moet berus. En dit is die basis vanwaar ek my roeping moet uitvoer. God is aan die werk in die lewe, selfs in die wind en die weer.

Let op hoe die dissipels se vrees (in Grieks deilos) vir die storm verander in ‘n vrees (in Grieks phobeô – ontsag) vir Jesus, Hy vir wie selfs die wind en die see moet luister. Daarmee roep Jesus ons almal op om (paradoksaal) vreesloos op Hom te vertrou, vanuit ons ontsag vir Hom.

Ekstra inligting: Die See van Galilea is 18 x 9 km groot, en omdat dit 210 m laer as seevlak lê, en daar heelwat berge en klowe daar rondom is, bekend vir sy winde wat skielik opsteek en sterk kan waai.

Ekstra leeswerk: Lees Jona 1 en vergelyk Jona se slapery (1:5) met Jesus s’n. Wat is die ooreenkomste en wat die verskille? Jesus slaap in vertroue en sekerheid en Jona in ontvlugting en vertwyfeling. Jesus word ook verwyt soos Jona vir hulle slapery, maar waar Jona gevra word om te bid, bestraf Jesus egter self die wind en die see (in dieselfde taal as wat hy met die duiwels gehandel het – bv. 1:25). Die parallel wys dat Jesus groter is as Jona (vgl Matt 12:41), dat Hy God self is.

Ander evangelies
Matteus en Lukas verkort Markus se weergawe van die gelykenis van die mosterdsaadjie, maar voeg daaraan toe die gelykenis van die suurdeeg. Lukas laat die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse weg, terwyl Matteus interessant genoeg Psalm 78:2 van Asaf (hy noem hom ‘n profeet) aanhaal om die punt van die mededeling nog verder te onderstreep, dat God gelykenisse gebruik as Hy praat, en dat Hy geheime op die manier bekend maak.

Beide Matteus en Lukas gee die verhaal van die storm wat stilgemaak word in hulle eie woorde weer. Die dissipels se vrees word bv. nie as verwyte vertel, soos Markus se weergawe nie, maar die breë lyne van die verhaal bly dieselfde: die vaart op die see, die storm, Jesus wat slaap, hulle vrees, Jesus wat wakker gemaak word en die storm stilmaak, sy vraag na hulle geloof en hulle verbasing en verwondering oor Wie Hy is.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 519 of VONKK 123 of Flam 182

Votum: Psalm 8:9-11

Seëngroet

Lofsang: Psalm 29 of VONKK 271 of Flam 34

Wet (gebed)

Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Geloofsbelydenis: Lied 501 of Flam 147

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 4:35-41

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 578 of VONKK 219

Seën

Respons: Flam 182 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 519 “Wees stil en weet: Ek is die Heer” of
VONKK 123 “Wees Stil En Weet” of
Flam 182 “Herder Heer” (Herder Jesus)

Votum
Psalm 8:9-11
8Die Here is altyd op sy troon;
op sy regterstoel is Hy steeds
gereed vir die regspraak.
9Hy lewer ’n regverdige uitspraak
oor alle mense,
Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies.
10Vir die mens wat in gevaar verkeer,
is die Here ’n toevlug,
’n skuilplek in tye van nood.
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.
Seëngroet

Lofsang
Psalm 29 of
VONKK 271 “U’t die storm beveel” of
Flam 34 “Daarom”

Wet (gebed)
O God, in u oneindige wese lê al die skatte van wysheid en waarheid en heiligheid opgesluit. Laat die deugde van ’n Christelike karakter in my vorm aanneem deur my voortdurende gemeenskap met U:
Die gawe van ’n dankbare en tevrede hart;
die gawe om geduldig op u vrede te wag en u onmiddellik te gehoorsaam as u my roep;
die gawe om moedig deur lyding of gevaar te gaan;
die gawe om swaarkry te verduur omdat ons vir Christus lewe;
die gawe om onbevrees op te staan vir wat reg is;
die gawe van selfdissipline;
die gawe van eerlikheid teen elke prys;
die gawe om ander te behandel soos ek behandel wil word;
die gawe van sagmoedigheid, sodat ek ander nie te gou sal oordeel nie;
die gawe van beheerstheid, sodat ek nie te gou sal praat nie;
die gawe van vergifnis teenoor almal wat my veronreg het;
die gawe van begrip vir hulle wat swakker is;
die gawe van verlange dat u hierdie gebed sál hoor.
Amen
(deur John Baillie – 1886-1960 – uit Gebedboek met Liturgiese Voorstelle)

Skuldbelydenis en genadeverkondiging
V: As ons ons sondes bely,
God is getrou en regverdig,
Hy vergewe ons ons sondes
en reinig ons van alle ongeregtigheid.
G: Here, ek is ’n sondaar, wees my genadig.

V: Kom ons doen saam ’n gebed van skuldbelydenis.
A: Genadige God,
ons bely dat ons teen U gesondig het,
deur gedagte, woord en daad,
deur wat ons gedoen het,
en deur wat ons nie gedoen het nie.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad
en ons naaste soos onsself nie.
In u groot genade, Here, vergewe ons,
help ons op die regte pad,
sodat ons u wil sal soek
en op u paaie sal stap,
tot eer van u Naam.

V: Daar is nou vrede tussen jou en God deur ons Here Jesus Christus.
(uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

Geloofsbelydenis
Lied 501 “Ek het, toe wilde storms gewoed hetof
Flam 147 “Wie Is Die Eerste” (Dit Is U) 

Liedere

F147. “Wie Is Die Eerste (Dit Is U) T137”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Retief Burger © 2008 Urial Publishing (Opgeneem op Oorgegee)

1. Wie is die eerste, hoog bo elke naam?
Wie is die laaste, wat aan die einde nog sal staan?
Wie meet die hemel met die breedte van sy hand?
Wie het die Skepping en alles aan sy kant?

2. Wie roep die sterre elkeen by die naam?
Wie gee die lewe aan alles wat bestaan?
Wie laat die dou se druppel in die nag verskyn?
Wie ken al my vrae, my hartseer en my pyn?
Wie is dit?

Refrein:
Dit is U, U alleen
U wat was, U wat is en vir ewig sal wees.
Dit is U, U alleen
U, Hemelvader, wat in majesteit regeer!

3. Wie maak die storm in die mensehart weer stil?
Wie gee die vrede, waar die dood verwoesting bring?
Wie hou my lewe in die holte van sy hand?
Wie is in Christus volkome aan my kant?
Wie is dit?

F34. “Daarom”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Toewyding) Teks en musiek: Elizabeth Fourie © 2002 EF Musiek (Opgeneem op haar CD Voetspore en FLAM, vol 1

Here, U is my lewe,
ek ken U veilige bewaring elke dag.
Here, U is my vrede,
as die storms om my woed met brute krag.
En as ek val, is U by my.
U het betaal en ek is vry!

Refrein:
Daarom sing ek,
daarom gee ek U my stem.
Daarom juig ek saam met snaar en instrumente!
Daarom bring ek U my dank,
sing ek heeldag lank,
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!

2. Here, uit U hande
kom net wat mooi is en wat heilig is vir my.
Here, U genade
het my deur alles heen tot hierdie dag gelei.
En as ek val, is U by my.
U het betaal en ek is vry!

Refrein:
Refrein weer na modulasie:
Daarom sing ek,
daarom gee ek U my stem.
Daarom juig ek saam met snaar en instrumente!
Daarom bring ek U my dank,
sing ek heeldag lank,
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!
Daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Rock of Ages Teks: Augustus M Toplady Musiek: Thomas Hastings
Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe © Broken Records

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:
3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.
Refrein: (x2)

VONKK 271 “U’t die storm beveel”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 © Musiek: KLEINBRAK – Anton Esterhuyse 2014© Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2014 ©
© 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Verwondering

1. U’t die storm beveel en die wind het gaan lê.
U het stilte gebring net deur dit wat U sê.
U’t die siekes genees, Heer, en menigtes gevoed.
U het lewe gebring waar hopeloosheid woed.

Refrein:
Halleluja, Halleluja!
Ons prys u Naam, o Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja!
Ons prys u Naam. Halleluja!

2. U’t die beker gedrink, so u liefde gewys.
U’t die onreg verduur en gesterf aan die kruis.
U’t ons sondes gedra, Heer, en so is ons vergeef.
Graf en dood is oorwin, want U, ons Here, leef.

Refrein:
Halleluja, Halleluja!
Ons prys u Naam, o Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja!
Ons prys u Naam. Halleluja!

VONKK 123 “Wees Stil En Weet”
Teks: Stille, mein Wille! – Katharina von Schlegel (gebore 1697); Be still my soul – Jane Borthwich 1814-1897; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: FINLANDIA – Jean Sibelius 1899 (1865 -1957) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lyding en Nood / Sterwe en Begrafnis

1. Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Kom bring na Hom jou hartseer en jou pyn.
God sal voorsien; in donker tyd van seer
sal sy genade helder oor jou skyn.
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Net Hy genees ons hart se diepste seer.

2. Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
In smart en eensaamheid is Hý by jou.
Sy Heil’ge Gees sal jou getrou bewaar
en met sy troos en liefde jou omvou.
Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.

Hy sorg vir jou in hartseer* en gevaar.
3. Wees stil en weet: As storms om jou woed,
is Hy die rots waarop jy vas kan bou.
Vertrou op Hom; in voor- en teëspoed
kan jy jou lewe aan Hom toevertrou.
Wees stil en weet: Die Here is jou krag.

Hy gee jou moed en hoop vir elke dag.
4. Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks sal jou ooit kan ruk uit God se hand.
Geen siekte, swaarkry wat jy mag ontbeer,
sal jou kan skei van God se liefdesband.
Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks kan sy liefde vir sy kinders keer.

* kan met siekte/lyding/swaarkry vervang word

VONKK 219 “Wat die toekoms ook mag inhou”
Teks: Wat de toekomst brengen moge – Jacqueline E van der Waals (1868-1922); Is die toekoms blink of duister – Attie van der Colf 1989; nuwe teks: Jacques Louw 2012 © Melodie: BEECHER – John Zundel 1870
Orrelbegeleiding en kantoryverwerking: Albert Troskie 1987 (Pro Deo)
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Hoop en Voleinding

1. Wat die toekoms ook mag inhou,
wat daar alles wag op my,
kan ek aan U, Here, vashou,
want U sal my altyd lei.
Leer my, Vader, sonder vrae
U te volg as onweer woed.
Leer my, Here, sonder klae
U te loof, want U is goed.

2. Ek wil sing van al u liefde,
liefde ver bo my verstand.
Dankie, Vader, vir genade,
al die goedheid uit u hand.
Lyk die toekoms dikwels duister,
vra ek soms ook: “Waarom, Heer”? –
weet ek, ek sal fyn moet luister
wat U, Heer, vir my wil leer.

3. Wat die toekoms ook mag inhou,
hoe onseker alles is –
ek sal altyd aan U vashou,
omdat U my Vader is.
Lei my soos ’n kind wat soekend
in die donkerte moet loop.
Hoor my, Vader, as ek roepend
in my nood op U bly hoop.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing (video): Markus 4:35-41

Familie-oomblik

Fokus vandag gewoon op die dramatiese vertelling van die Bybelverhaal:
Wys hierdie oulike video as Skriflesing (of sit die video se klank af, oefen jou tydsberekening vooraf en wys die video terwyl jy self die Skriflesing doen):

As jy nie die video kan wys nie, kan jy jou eie hulpmiddels maak om die Skriflesing dramaties te doen (of dalk ken jy ’n kreatiewe mens of twee):

Hier kry jy baie eenvoudige instruksies om ’n prent te maak van ’n bootjie op die see met stormwolke. Die bokant vou oor met geen storms. So wissel die prent dus tussen stormsee en rustige see.

’n Bietjie meer kompleks – maar heelwat meer dramaties! – hier is die instruksies. Jy maak ’n bootjie wat jy op ’n stokkie plak. Die stormsee is verskillende blou kartonne. Die bootjie kan dan met die stokkie tussen die kartonne dobber.

Jy kan ook vir die mense blou “streamers” gee om te swaai tydens die storm-gedeelte van die Skriflesing.

Preekriglyn

Dit was so hittete of Aberra Wata is tereggestel. Dit het gebeur terwyl hy jeugwerk in Suid-Etiopië gedoen het terwyl die kommuniste aan bewind was (1974-1991). Hy het sy verhaal aan John Cumbers, ‘n medesendeling van SIM vertel:

‘n Verslag oor Aberra se jeugwerk het onder kommunistiese bevelhebbers se aandag gekom. Hulle het besluit Aberra is ‘n verraaier van die kommunistiese saak en moet tereggestel word.

Een van die kommandante het hom aangeraai om sy geloof in Jesus te verloën en só sy lewe te red. Aberra wou egter nie. “As ek tereggestel word, is ek onmiddellik by die Here,” het hy gesê.

Aberra vertel later hoe die Here hom liedere gegee het om in die tronk te sing. Hy en sy medegevangenes het vreugde daaruit geput om lofliedere tot Jesus te sing. Die wagte wou hulle met dreigemente stil maak. Dit het niks gehelp nie. Hoe maak jy mense bang wat weet hulle gaan in elk geval sterf? Aberra vertel hoe ander gevangenes tot geloof in die Here gekom het deur hulle getuienis en sang.

Veral een van die wagte het genot geput uit die maak van dreigemente. Hy het koggelend smerige woorde in die lirieke gesit wat die gevangenes gesing het. Een aand het hy op sy rewolwer geklop en belowe: “More-oggend is julle nie langer in die land van die lewendes nie!”

Net na middernag het daar ‘n geweldige storm losgebreek. Groot haelstene het geval wat verskeie dakke verwoes het, ook die dak van die kamer waar die spottende wag geslaap het. Dié het totaal verskrik geraak, sy rewolwer uitgepluk en blindelingse skote in die donker afgevuur totdat al sy koeëls op was.

Die storm het ook die kommandant se huis se dak afgeruk, asook die kantore van die hoofmagistraat en ander staatsgeboue. Van die selle se dakke is ook beskadig, maar Aberra Wata se sel het niks oorgekom nie.

Teen 09:00 die volgende dag is die onbeskofte wag ook in die sel gegooi. Die kommandant het hom met sy leergordel geslaan. Op die agtergrond het mense geskreeu: “Ons het hom gesê om die gelowiges uit te los, maar hy wou nie. Nou het God hierdie verskriklike straf op die dorp en die tronk gestuur. Hierdie man verdien van sy eie medisyne.”

Nadat die wag uiteindelik weer vrygelaat is, het hy gesê: “Ek weet die Here was met julle. Ek het julle sleg behandel, vergewe my asseblief.” Aberra Wata sê hulle het hom vergewe, en nog heelwat mense het tot geloof in die Here gekom.

Doodloopstraat

Die Nuwe Testament vertel dikwels van hoe dienaars van die Here in doodloopstrate beland het, met hulle rug teen die muur. Dan het die Here ‘n nuwe pad vir hulle oopgebreek. Aberra Wata se verhaal herinner mens aan Paulus en Silas wat lofsange in die tronk sing nadat hulle geslaan en vasgebind is omdat hulle die Here verkondig het (Handelinge 16). Dan swaai die tronkdeure oop en hulle bewaarder en sy gesin word volgelinge van die Here. Ons dink ook aan Petrus vir wie die tronkdeure oopgegaan het (Handelinge 12).

Dit kan baie gevaarlik wees om die Here te dien. Tog is God nie weg nie, en God slaap nie. Menige doodloopstraat op die pad van roepingsvervulling is al oopgebreek deur die nuwe moontlikhede wat God gee. Alles is moontlik. Daar is ‘n geskiedenis van wonderwerke wat sê genesing, redding, verlossing, herstel, tweede kanse en ‘n nuwe begin gebeur inderdaad. Wonderwerke bied troos, juis omdat die moontlikheid van wonderwerke, hoop skep en gee.

Natuurlik is daar ook volgelinge van die Here wat God se werk getrou doen, en uiteindelik in die tronk sterf. Johannes die Doper is ‘n voorbeeld. Stefanus is gestenig (Hand. 7), Jakobus die broer van Johannes is deur Herodes doodgemaak (Hand 12), en Paulus self het die evangelie in die tronk verkondig (vgl. Hand 28) maar is uiteindelik volgens oorlewering tereggestel. In die meer onlangse verlede dink mens aan iemand soos teoloog Dietrich Bonhoeffer wat op 39-jarige ouderdom deur die Nazi’s tereggestel is omdat hy in verset teen Hitler was.

Mense wat getrou die pad met Jesus stap beland dikwels in krisisse, lewensgevaar of doodloopstrate. Tog ontdek hulle ook dat Jesus by hulle is. Tussen vrees en dikwels pyn deur, word hulle vervul met hoop en vrede, wetende dat Jesus die laaste woord sê, en oor alles in hemel en op aarde regeer.

Baie, soos Aberra Wata, beleef dat God ‘n wonderbaarlike pad oopbreek in hierdie wêreld, aangesien God besig is om God se koninkryk te bring.

Na die oorkant toe

Ons teksgebeure speel af wanneer Jesus en sy dissipels “oorkant toe” vaar. “Oorkant” verwys na die gebied aan die ander kant van die See van Galilea, die landstreek van die Dekapolis (“tien stede”) en spesifiek die landstreek van die Geraseners. Gerasa was een van die tien heidense stede aan die oorkant, ‘n grootliks nie-Joodse kulturele en godsdienstige gebied met ‘n ander lewensingesteldheid. Dit verklaar waarom daar ‘n groot trop varke gewei het toe Jesus na sy aankoms aan die oorkant die duiwels uit Legio dryf (5:1-20).

Jesus is dus besig om van die bekende na die onbekende te beweeg. Hy neem die genade van God na nie-Jode, aan die oorkant. Hy gaan ook daar God se krag aan mense in nood en ellende bring.

Vir Markus is hierdie ‘n belangrike kenmerk van Jesus se bediening. In Markus 7 en 8 kom Jesus weer in die gebied van die Dekapolis (7:31) waar Jesus ‘n doofstom man genees, en waar Jesus vir die menigtes in hierdie gebied brood vermeerder (die tweede vermeerdering van die brood waarvan Markus vertel).

Wat in ons teks gebeur, gebeur op pad na die “oorkant” toe waar die regering van God ook gaan deurbreek vir mense wat baie ver van God se genade is.

Jesus en sy dissipels is op ‘n missionale reis na mense wat nie tans deel is van die geloofsgemeenskap nie.

Storm op die see

Op see, op Jesus se missie, beland Jesus se dissipels in ‘n massiewe krisis. Die See van Galilea, ‘n binnelandse meer in die noordelike provinsie van Israel, is baie laer as seevlak. Dit is in die selfde skeurvallei as die Dooie See, en word deur berge omring. Dit is bekend vir sy vinnige weersverandering en gevaarlike storms. Die komvormige area wat met berge omring is, stel dit bloot aan tornado-tipe winde. Daarom breek hewige storms dikwels en skielik uit.

Hierdie storm was besonder erg. Die golwe slaan oor die rand van die skuit, sodat dit vol water begin word het. Dalk was dit meer as ‘n gewone storm. Vir Jode was die see ‘n gevaarlike, bedreigende plek en ook die woonplek van bose magte. Talle Ou Testamentiese psalms beskryf daarom God se mag as mag oor die see (Ps 42:7-8; 65:7-8; 89:8-9; 107:23-32). Dalk was hierdie ‘n bose protes teen Jesus se missie om geloof na die Dekapolis te bring.

Rustige slaap

Terwyl die storm woed, slaap Jesus rustig in die skip se agterstewe. Rustige slaap herinner ons aan Jesus se lering ‘n paar verse vroeër oor die boer wat kommervry slaap na die saai van die saad (4:27). Dit wys heen na die wonder van groei en oes in God se koninkryk. Die rustige slaap is ook ‘n teken van vertroue in die krag en beskerming van God (Spr 3:32-34; Ps 3:5; 4:8; Job 11:18-19). Die kontras tussen die diep en rustige slaap van Jesus, die stormagtige see en die bevreesde dissipels, dek die tafel om aanstons die krag van die woord van God te beklemtoon.

In hulle krisis besluit die dissipels om Jesus wakker te maak: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

Bestraffing

Wanneer Jesus opstaan, bestraf Hy die wind en die see: “Hou op! Bedaar!” (39). Hierdie woorde van bestraffing en stil maak, is gewoonlik gebruik teenoor demone (1:25; 3:12; 9:25; 10:48). Dit is egter hier gepas vanweë die Joodse geloof dat die see die huis van duiwels en demoniese monsters kan wees.

Die bedreigende wind gaan lê en daar kom ‘n groot stilte, in kontras met die groot storm. Hiermee bereik Jesus wat in die Ou Testament slegs deur God vermag kon word, naamlik oorwinning oor die chaotiese magte van die kwaad (Gen 8:1; Ps 74:13-14; 104:4-9; 107:25-30).

Ons leer Jesus hierin ken as die Een deur Wie God se regering en God se mag uitgeoefen word. Jesus is die Een deur Wie God se koningskap gevestig word.

Vermaning

Jesus praat nie net met die wind en die storm nie, maar ook met sy dissipels. Hy vermaan hulle met twee vrae: “Waarom is julle bang?” en “Het julle dan nie geloof nie?” Die vraag, “Waarom is julle bang?” verwys nie net na vrees nie, maar ook na die gebrek aan moed. Die vraag, “Het julle dan nie geloof nie?,” onderstreep die feit dat vir Markus geloof nie net iets van ‘n intellektuele aard is nie. Dit behels ook elemente van vertroue in God en dapper aksies (5:34, 36; 9:23-24; 10:52; 13:21).

Jesus se vrae impliseer dat dit vir hulle onnodig was om bang te wees. Hulle geloof moes hulle verseker het dat hulle veilig is.

Groot ontsag

Vers 41 beskryf die dissipels se reaksie: “Hulle is met groot ontsag vervul.” Merkwaardig is dit nie hulle eie redding en al die emosies wat daarmee gepaard gaan, wat vir die dissipels op die voorgrond is nie. Hulle aandag word getrek deur die storm wat meteens, op ‘n blote woord van Jesus, bedaar het.

Die vraag voorop in hul gemoed is: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Die gebeure help die dissipels besef daar is meer aan Jesus as wat hulle tot op daardie stadium gedink het.

Dissipelskap

Hierdie gebeure het alles met dissipelskap te doen. Jesus roep sy volgelinge en beoefen sy bediening saam met hulle. Hy leer hulle saam met die skares, maar veral ook wanneer hulle alleen bymekaar is.

In ons teks gaan Hy met hulle na die “oorkant” toe, buite die bekende geloofsgrense, om daar God se genade en heling uit te stort. Op pad soontoe beland hulle in ‘n diep, lewensbedreigende krisis. Onderweg op Jesus se missie beland sy volgelinge in ‘n geweldige krisis. Maar hulle ontdek ook wat die teenwoordigheid van die Seun van God beteken. Selfs die wind en die see gehoorsaam Hom.

Mense lê hierdie teks dikwels simbolies uit. Die see en wind word die bedreiginge vir die kerk, en die bootjie is die Here se mense wat worstel om oorlewing. Dalk is hierdie oorvereenvoudigde en vergeestelikte uitleg egter nie so ver van die waarheid af nie.

Dissipels, volgelinge, beleef dikwels dat die wêreld vol wolwe is (soos Jesus dit in Lukas 10 stel). Daar is bedreiginge vir mense wat die Here dien en volg. Bose magte en bose mense neem nie genoeë met ‘n missie om God se genesing en herstel, geloof en toewyding aan die Here, uit te brei nie. Daar is opstand wanneer die kerk uit sy groewe kom en die evangelie na buite neem.

Vra vir Aberra Wata, vir Johannes die Doper, Paulus en Stefanus, oor hierdie soort opstand. Vra vir Dietrich Bonhoeffer. Vra sommer vir baie mense in jou omgewing wat al iets vir die Here wou doen. Vra enigeen wat al uit die groewe waarin so baie geloofsgemeenskappe vasval, wou kom. Vra mense wat dink eenheid, versoening en geregtigheid is belangrike temas vir die kerk in Suid-Afrika vandag. Probeer die evangelie doen, en die vonke spat.

Die troos is dat die Here naby is, en dat Hy die laaste woord oor alle magte en bedreiginge spreek.

Oproep tot geloof

Die gebeure is natuurlik veel meer as troos. Dit is veral ‘n oproep tot geloof aan Jesus se dissipels. Die feit dat Jesus self sy dissipels kies (Markus 3:7-12), aan hulle die geheime van die koninkryk van God gee (4:10-12), en hulle die bevoorregte gehoor van Jesus is (4:34), beteken nie dat hulle geloof en vertroue outomaties gaan regkry nie.

Daarom word hulle hier vermaan en aangespreek oor hul vrees en gebrek aan geloof. In die breër konteks van Markus se evangelie dien die vermaning ‘n groter doel. Dit wys dat hulle steeds op reis na ware geloof is. Dit wys dat hulle nou verbintenis met Jesus hulle nie vrywaar daarvan om dieper te moet delf in die misterie en paradoks van God se heerskappy nie. Hulle finale vervulling van ontsag, getuig van hulle eerbied en agting in die teenwoordigheid van God se krag.

Dieselfde gebeur ook met ons op die geloofsreis met Jesus. Dit is telkens weer nodig om herinner te word aan geloof en vertroue. Ons is op geen manier outomaties daarvan oortuig dat Jesus se roeping, gehoorsaamheid aan sy leer en vertroue op sy werk die regte weg is om in te slaan nie. Ons moet voortdurend herinner word, en veral wanneer ons misluk of kleingelowig raak, weer en weer hoor dat Jesus die Here is.

Oop deure

Ons teks is ‘n belofte. Die belofte is dat Jesus altyd deure vir dissipels oopmaak op God se sending. Dit het in die storm op die see gebeur, ook in die kruis, wat toe nie die einde was van dissipelskap nie, maar die begin. Selfs wanneer God se roeping vir sy kinders in die dood eindig, word die bloed van die martelare die saad van die kerk.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang
Lied 578 “Jesus wat my lief het, Heer”
VONKK 219 “Wat die toekoms ook mag inhou”

Seën

Respons
Flam 182 “Herder Heer (Herder Jesus)” Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.