Vierde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In hierdie liturgiese voorstel val die klem op die vrye genade van die Here (ten aanskoue van hooghartiges). Jesus skenk sy vergifnis vrylik aan die vrou wat sy voete kom salf. Hy maak ook vroue deel van sy volgelinge, sonder om hulle op grond van hulle geslag as onwaardig te beskou soos in die kultuur van sy dag gereeld gebeur het.

In 1 Konings word Agab veroordeel, maar God betoon dan genade. Psalm 5 besing die feit dat Hy mense innooi in sy teenwoordigheid, ten aanskoue van hooghartiges. Galasiërs beklemtoon vryspraak op grond van geloof.

Ander tekste

1 Konings 21:1-10 (11-14), 15-21a
Nabot en sy wingerd
21 Hierna het die volgende gebeur: Nabot die Jisreëliet het in Jisreël ’n wingerd gehad langs die paleis van koning Agab van Samaria.

2Agab het met Nabot gaan praat en vir hom gesê: “Gee jou wingerd vir my vir ’n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou ’n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.”

3Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

4Hierop het Agab bedruk en kwaad huis toe gegaan omdat Nabot die Jisreëliet vir hom gesê het: “Ek sal nooit die erfgrond van my familie aan u afstaan nie.” Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en hy wou niks eet nie.

5Toe kom sy vrou Isebel na hom toe en vra vir hom: “Wat is jy so bedruk dat jy niks wil eet nie?”

6Hy vertel haar toe: “Ek het met Nabot die Jisreëliet gepraat en vir hom gesê: ‘Verkoop jou wingerd aan my, of as jy wil, sal ek jou ’n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: Ek sal nooit my wingerd aan jou afstaan nie.”

7Toe sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is mos die een wat oor Israel regeer! Gaan eet nou en moet jou nie bekommer nie. Ék sal die wingerd van Nabot die Jisreëliet vir jou gee.”

8Sy skryf toe briewe in die naam van Agab en sit sy seëlafdruk daarop, en sy stuur die briewe aan die leiers en die ampsdraers van Nabot se stad.

9Sy het geskryf:
“Kondig ’n vasdag aan en laat Nabot heel voor in die vergadering sit. 10Laat twee gewetelose manne teenoor hom sit en laat hulle teen hom getuig: ‘Jy het ’n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.’ Vat hom dan uit en gooi hom met klippe dood.”

11Die leiers en die ampsdraers in Nabot se stad het toe gedoen soos Isebel hulle beveel het in die briewe wat sy aan hulle gestuur het. 12Hulle het ’n vasdag aangekondig en vir Nabot heel voor in die vergadering laat sit. 13Toe kom sit daar twee gewetelose manne teenoor hom en hulle getuig teen Nabot in die vergadering en sê: “Nabot het ’n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.”

Daarop vat hulle vir Nabot uit die stad uit en gooi hom met klippe dood.

14Hierna het hulle vir Isebel laat weet: “Nabot is met klippe doodgegooi.”

15Toe Isebel hoor Nabot is doodgegooi, sê sy vir Agab: “Gaan vat nou die wingerd van Nabot die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie. Nabot leef nie meer nie, hy is dood.”

16Toe Agab hoor Nabot is dood, het hy klaargemaak om Nabot die Jisreëliet se wingerd vir hom te vat.

Elia kondig vir Agab aan dat hy sal sterf
17Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê: 18“Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het. 19Jy moet vir Agab sê: ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”

20Toe Agab dit hoor, vra hy vir Elia: “Het jy my gekry, my vyand?”

Elia het geantwoord: “Ek het jou gekry. Die Here sê vir jou: ‘Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë, 21gaan Ek ’n ramp oor jou bring en jou vernietig.

Psalm 5:1-8
Help my om u wil te doen
5 Vir die koorleier: met fluitspel.
’n Psalm van Dawid.
2Luister tog na my woorde, Here,
hoor hoe ek sug.
3Gee tog aandag aan my hulpgeroep,
my Koning en my God,
want tot U bid ek.
4U luister na my stem in die môre, Here,
in die môre terwyl ek voor U verskyn
en op U wag.
5U is nie ’n God wat onreg verdra nie,
die kwaad het by U geen plek nie.
6Hooghartiges durf nie
voor U kom nie.
U haat almal wat onreg doen,
7U roei alle leuenaars uit.
Die Here verafsku moordenaars
en bedrieërs.
8Maar ek, ek mag deur u groot liefde
in u huis ingaan
en in u heilige tempel buig
met die eerbied wat aan U
verskuldig is.

Galasiërs 2:15-21
Geregtigheid uit die geloof
15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ’n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Fokusteks

Lukas 7:36 – 8:3
Jesus en die vraag van Johannes die Doper
(Matt 11:2–19)
18Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep 19en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

20Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”

21Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. 22Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. 23En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

24Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ’n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 25Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry ’n mens in koninklike paleise. 26Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ’n profeet. 27Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’
28Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.”

29Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop. 30Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie.

31Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? 32Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep:
Ons het vir julle op die fluit
gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!
33Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’34Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’35Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Jesus by Simon, die Fariseër
36Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

37’n Sekere vrou in die dorp, wat ’n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy ’n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”

40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”

“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41Jesus sê toe. “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45’n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Vroue wat vir Jesus gesorg het
8 In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.

Die twaalf was saam met Hom 2en daarby ’n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het, 3en Johanna die vrou van Gusa, ’n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.

Ekstra stof

Lukas 4:15-9:50 fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief
Dit is ’n baie belangrike gedeelte hierdie. Aan die een kant laat die groot geloof van die offisier Jesus verwonderd. Aan die ander kant, vermoed ‘n mens, laat die twyfel van Johannes die Doper, die grootste aardse mens tot op daardie stadium (7:28), ons verwonderd. Maar, natuurlik, nie vir Jesus nie. Want Hy toon deernis met Johannes se twyfel, en kom op ’n ongelooflike kragtige manier vir hom op. Soos Johannes vir Jesus ’n Voorloper was, so raak Jesus vir Johannes die Verlosser, die Een wat instaan en help en omgee.

Dít is wat ‘n mens van Jesus so fassineer – Hy laat Hom net deur niks afsit nie, nie eers deur die twyfel van een van die “groot seuns” van Sy tyd nie. En dit laat ‘n mens net weer besef, dít is die Een wat ons aanbid; dít is die Een wat vir ons intree (Hebr 9:24); dít is die Een wat alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28); dít is die Een wat die Begin en Voleinder is van ons geloof (Hebr 12:2).

Let ook op hoe die erns van die siektes van die mense wat Jesus gesond maak toeneem – die slaaf lê op sterwe. Met die weduwee van Nain wek Jesus dan ook die eerste keer iemand uit die dood uit op. Wat vir ons sê: Jesus word nie van stryk gebring deur uitdagings nie – Hy is God.

’n Paar kort opmerkings oor die perikope:
7:1-10
Die geloof van die offisier tref ‘n mens. Hy was waarskynlik een van die godvresende heidene wat hulle met die Joodse geloof geassosieer het. Jesus se genesing van ‘n afstand af, wys dat Hy inderdaad God is, wat nie aan plek of tyd gebonde is om sy werk te doen nie, soos trouens die opwekking uit die dood ook wys.

7:11-17
Die opwekking van die weduwee se seun, behalwe dat hy dus as broodwinner vir haar sou kon sorg, sou die ingeligte Jode waarskynlik ook kon laat terugdink het aan Elisa wat daar naby – by Sunem (2 Kon. 4:18) – ’n vrou se kind uit die dood opgewek het.

7:18-35
Die twyfel van Johannes tref ‘n mens besonderlik. Dit is juis ná die opwekking van die jong seun dat hy sy kommer uitspreek of Jesus regtig die Een is wat moes kom. ‘n Mens hoor daarin dat hy eintlik vra of sy eie bediening – as Voorloper van die Verlosser – aan die verwagtinge voldoen het.

7:36-50
Die verhaal van die sondige vrou wat in Simon, die Fariseër, se huis haar liefde vir Jesus demonstreer, wys nie net die kontrasterende reaksies op Jesus nie, maar ook Sy Goddelike vermoë om sondes te vergewe.

Lukas 8:1-56 – Toegewy aan God in voor- en teëspoed
Hoofstuk 8 begin met ’n kernagtige opsomming van Jesus se bediening. Hy het oral gegaan, die land deurkruis van een stad en dorp na die ander, en oral gepreek en die koninkryk van God verkondig. Die 12 dissipels was ook daar, saam met ‘n hele paar vroue, wat ‘n groot rol gespeel het in die volhoubaarheid van die bediening.

En dit is juis dan wat Jesus die gelykenis van die saaier vertel, waarmee Lukas nie net iets sê oor die koms van die koninkryk nie, maar ook oor die wyse waarop Jesus dit uitgevoer het, want die wêreld was Jesus se saailand.

Die wyse waarop Jesus uitspel hoe ’n mens (100 voudige) vrug dra, tref ‘n mens besonderlik. Wat dié gedeelte sê, is dat vrug gedra word deur 1) bewaring van Sy woorde en 2) volharding in die gehoorsaamheid daaraan. Die geheim van ’n ryk en vol Christelike lewe lê in bewaring of koestering van God se woorde en die volharding daarin.

In kontras met dié wie se vrug verstik word, lyk dit asof vrug-dra beteken om:

  • aan die een kant nee te sê vir die verleiding van die rykdom en die genietinge van die wêreld, sowel as vir die verleiding van sorge oor allerlei – beide voorspoed as teëspoed kan ons in ons toewyding laat verslap! – en
  • aan die ander kant voluit ja te sê vir God se wil deur die woord van God te bewaar, daarin te volhard, en so vrug te dra.

Soos Jesus dit in die Bergrede – volgens Matteus – gestel het: “beywer julle allereers vir die koninkryk en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (6:33).

En dit alles begin by hoe ons luister.
Let op hoe Jesus in die res van die hoofstuk sy eie gehoorsaamheid illustreer deur die goed te hanteer wat God oor Sy pad gebring het: die stilmaak van die storm, die genesing van Legio, die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die opwekking van Jaïrus se dogter.

Let weer op die progressie, soos in die vorige hoofstuk, die wonders neem toe in intensiteit, met die opwekking van die dogtertjie uit die dood, die klimaks. Vir ’n tweede keer suggereer Lukas dus dat die opwekking uit die dood ’n hoogtepunt van Jesus se bediening verteenwoordig … waarvan Sy eie opwekking die finale klimaks sal wees.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 526 of F22.

Votum: (nav Klaagliedere 3:22-26, uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai)

Seëngroet

Lofsang: Lied 453 of VONKK 41

Wet: Galasiërs 2:15-21

Geloofsbelydenis

Genadeverkondiging / Toe-eiening: Lied 245 of F46.

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 7:36-8:3

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 332 of Flam 60

Seën

Respons: Lied 221

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
F22. Ek Soek U, O God

Votum
V: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie.
G: Dit is elke môre nuut.

V: U trou is groot, Here.
G: Dit is elke môre nuut.

V: Dit is goed om geduldig op die hulp van die Here te wag.
G: Dit is elke môre nuut.
(nav Klaagliedere 3:22-26, uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai)

Seëngroet
V: Genade en vrede vir julle van God die Vader
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: en van God die Seun
G: Ons skuld het hy gedra.

V: En van God die Heilige Gees
G: Hy maak ons nuut!
V: Amen

Lofsang
Lied 453 “Aan die Vader, dank en ere” of
VONKK 41 God Is Liefde! Laat Ons Lofsing

Wet: Galasiërs 2:15-21

Geloofsbelydenis
V: Glo jy in God die Vader?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?
G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.
V: Amen.
(uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai)

Genadeverkondiging / Toe-eiening
Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
F46. Ek Weet, Ek Weet Verseker

Liedere

F60. “U Liefdeslied Vir My
(RUBRIEK: Flam – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee.
U glorie sprei in vlerke van ’n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra.
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.
Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
en wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

F46. “Ek Weet, Ek Weet Verseker
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op 25 Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere)
(Rom 8:33, 38)

Ek weet, ek weet verseker,
daar is niks in hierdie lewe,
geen bose magte, geen dood of eng’le
wat my kan skei van die liefde van die Heer.
As God dan vir my is, wie sal my kan teëstaan,
om nog beskuldigings teen my in te bring?
En as die Vader my in Christus vrygespreek het,
wie sal Hom kan keer as Hy besluit om my te seën?

F22. “Ek Soek U, O God
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)
(Ps 63)

1. Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ’n land sonder water,
wil ek tot U nader
om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing
Teks: God is love – Timothy Rees 1874-1939; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008
© Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: ABBOT’S LEIGH by CV Taylor (1907-1991) © Oxford University Press. Reproduced by permission. All rights reserved.
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar,
sal vir ewig by ons bly.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 7:36-8:3

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Laat die Skriflesing twv die kinders deur drie persone doen – een vir elkeen van die karakters in die teks.

Laat die kinders dink graag sou wou doen, maar waarvoor hulle weet hulle in GROOT moeilikheid sal kom – iets wat hul ouers sal kwaad maak en waarvoor hulle beslis gestraf sal word. Iets wat hulle wéét hulle nie mag doen nie. Of laat hulle dink aan goed wat hulle moet doen, maar nie wil doen nie: tande borsel, huiswerk, takies by die huis, ens. Laat hulle hulle verbeel dat hulle die vreeslik verkeerde ding doen. Hulle ouers vang hulle uit… en in stede daarvan om te raas, sê hulle: “Ek kan sien jy voel baie sleg. Jy is vergewe. Ek gaan jou nie straf nie.” Sê dan almal saam: “PHEEEW! Dankie tog!” Verduidelik dan die begrip “dankbaarheid”.

Sluit aan by die teks en vertel dat Jesus ons almal vergewe. Laat hulle in die doopwater staan as herinnering van die afwas van sonde.
Hier is ‘n pragtige inkleurprent.

Preekriglyn

Max Lucado vertel die verhaal van Rogers Cadenhead, iemand wat homself as ‘n ongerehabiliteerde “domeinversamelaar” beskryf. Daarmee bedoel hy die registrasie van allerlei internet-domeine, oor allerlei denkbare temas. Toe Pous Johannes Paulus II oorlede is, het Rogers die domeinnaam geregistreer nog voordat die nuwe pous se ampsnaam aangekondig is. Hy het al die domein gehad voordat die Vatikaan geweet het hulle gaan dit nodig hê.

Die regte domeinnaam kan nogal ‘n goeie belegging wees. Iemand anders het PousBenediktusXVI geregistreer en dit vir 16,000 Amerikaanse dollar op eBay verkoop. Rogers wou egter nie geld vir sy domeinnaam gehad het nie. Hy is self Katoliek en was maar te bly om die besitreg aan die Vatikaan oor te dra. “Ek gaan nie 1.1 biljoen Katolieke de josie in vir my maak nie, en ook nie my ouma nie”, het hy gelag.

Rogers het egter nie die domein heeltemal gratis prysgegee nie. Daar was tog ‘n paar goed wat hy wou gehad het:

  • Een van die pous se hoede;
  • Gratis verblyf in die Vatikaan se hotel; en
  • Absolute, volledige vergifnis – sonder dat enige vrae gevra word – “vir die gebeure van die derde week in Maart, 1987”.

Mens wonder nogal wat in die derde week van Maart 1987 gebeur het? Dalk het jy ook so ‘n week, maand of jaar in jou lewe. Een waarvoor absolute vergifnis nodig is, sonder dat iemand enige vrae vra.

Ons ontmoet so ‘n vrou in ons teks. Iemand wat radikaal vergifnis nodig gehad het. No questions asked.

‘n Verhaal op drie vlakke

Ons gaan na die verhaal op drie vlakke of maniere kyk:

  • Eerstens die feite – wat gebeur hier?
  • Tweedens gesels ons oor die dieper betekenis van die verhaal – wat gebeur op ‘n dieper vlak agter die feite?
  • Derdens hoe ons God in hierdie verhaal kan raaksien en God kan navolg?
Die gewone feite van die verhaal

Jesus is by ‘n ete. Simon die Fariseër het hom genooi om by hom te kom eet. Fariseërs was aan die bopunt van die sosiale leer. Ons sien daarmee dat Jesus vir ‘n tyd lank in tel was by die elite, hoewel Hy hulle egter ook telkens in die skande gesteek het, moet ‘n mens bysê, en dié houding teenoor Hom verhard het.

Onmiddellik vertel Lukas vir ons van ‘n anonieme vrou – wat bekend was in die dorp vir haar sondige lewe, moontlik ‘n prostituut – wat hoor dat Hy daar is, en ‘n albaste flessie met reukolie bring vir Jesus.

‘n Hele aantal kommentare lei af uit die manier waarop die vrou na Jesus toe kom, en die verloop van Jesus se gesprek met haar, dat hulle al voorheen ontmoet het, en dat sy alreeds vergifnis ontvang het. Haar optrede is dus een van erkenning en dankbaarheid wat nogal belangrik is vir die verstaan van die verhaal.

Dit is insiggewend met hoeveel gelatenheid Jesus haar laat begaan. Sy staan eers agter Jesus by sy voete en huil – daardie tyd het ‘n mens gelê en eet, met jou voete weggedraai van die tafel – sy staan dus by sy rugkant. Soos sy huil, drup haar trane op sy voete, soveel só dat sy besef dat sy sy voete moet afdroog. Dit doen sy toe met haar hare. ‘n Baie intieme moment volg, waar sy sy voete soen, en met die reukolie in die albaste flessie salf.

Vir die Fariseërs is dit egter totaal onvanpas, ‘n skandaal.

En op ‘n manier is hulle reg. Die liefde van Jesus is telkens ‘n skandaal, want Hy het nie mense lief oor wat hulle vir Hom kan beteken nie, maar vir wat Hy vir hulle kan beteken. Dít is immers wat liefde is. Dit is om jouself te gee om iemand anders te seën.

En dié liefde lok ‘n wederliefde uit wat nie ingeperk kan word tot die gewone nie, wat baie keer in buitengewone maniere na vore kom, en soms doodgewoon ‘n oorvloed van vrygewigheid beteken, soos dié vrou hier doen.

‘n Gelykenis

Soos Jesus dit dikwels gedoen het, reageer hy op die besware van die Simon die Fariseër met ‘n gelykenis. Let op die kleinerige verskil tussen die twee bedrae – R500 vs. R50 in ons geld – ‘n tienvoudige verskil. Die ooreenkoms tussen die skuldenaars is egter van meer belang. Dit is duidelik dat nie een van die twee kan betaal nie. Dit is ook duidelik dat albei totale kwytskelding ontvang.

Die punt van die gelykenis laat Jesus vir Simon self uitpluis, en dit is, dat dié mens vir wie baie sondes vergewe is, het ook baie lief. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.

Wat gebeur dus hier? Jesus vra in wese vir Simon of hy dan nie in die vrou se optrede iets raaksien van iemand wat vergewe is nie, en dat sy daarom in liefde reageer teenoor dié Een wat haar vergewe het nie?

Die intrige verdiep, want nou eers, en dit is belangrik, sit Jesus regop en draai na die vrou wat by sy voete staan, en begin met haar oor haar liefdesdaad gesels. Hy kyk na haar, maar hy praat nog eers met Simon daaroor, want Hy wil Simon tot insig lei. “Sien jy hierdie vrou?“ Eintlik ‘n retoriese vraag, maar vir die effek daarvan.

Simon kom tweede

Jesus gaan self voort en kontrasteer Simon se optrede teenoor Jesus met dié van die vrou. En Simon kom ernstig tweede. Nie dat hy soseer verkeerd opgetree het nie, maar in vergelyking met die vrou het hy amper niks gedoen nie:

  • Dit was nie nodig om water te gee vir Jesus se voete nie – dit sou ‘n vriendelike gebaar gewees het, maar dit was nie absoluut noodsaaklik nie. Die vrou het haar trane oor sy voete uitgestort.
  • Dit was nie nodig om Jesus met ‘n soen te groet nie – dit sou verwelkomend en gasvry gewees het, maar dit was nie absoluut noodsaaklik nie. Die vrou het Jesus se voete gesoen.
  • Dit was definitief nie nodig om Jesus se kop met olie te gesalf het nie – dit sou eintlik ‘n bietjie “over-the-top” gewees het. Die vrou het egter ‘n hele albaste flessie met reukolie oor sy voete uitgegooi.

Simon het dus nie ‘n voet verkeerd gesit nie, maar daarmee het hy sy traagheid om meer as die normale te doen, openbaar. Hy het net-net genoeg gedoen, die minimum, maar nie homself regtig gegee vir dié ontmoeting met Jesus nie. In sy innooi van Jesus na sy huis, het hy dit reggekry om Jesus eintlik van sy lyf af te hou, om Hom op ‘n afstand te hou, al was Jesus binne in sy huis.

Daarenteen, en dit is die punt, wys dié vrou wat dit beteken om Jesus se vergifnis te ken, en hoe sy Hom daarom uit haar hart uit lief het, sonder enige terughouding, oorvloedig, vrygewig. Sy steek dus die grens oor na Jesus, identifiseer volledig met Hom, baie publiek, baie ontblotend, omdat Hy die grens na haar toe oorgesteek het en haar deel van sy lewe gemaak het. En sy raak eintlik die gasvrou in haar bewys van liefde met haar trane, hare en reukolie – die sondaarvrou troef die Fariseër in gasvryheid en oorvloedige vrygewigheid. Kan jy nou meer!

Jesus bevestig dan sy vergifnis, die nuwe lewe wat Hy vir haar gee, soveel so, dat die res van dié aan die tafel oor Jesus begin vrae vra: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?

Jesus word egter nie vasgevang in dié gesprek nie. Hy herhaal sy vredesaanbod. Haar geloof in Hom het haar gered vir sy koninkryk.

So ver die feite van die verhaal, met so ‘n bietjie interpretasie.

Die betekenis van die verhaal

Ons beweeg nou na die tweede, dieper vlak. Daar is meer aan die verhaal.

Onvermoë om dieper te kyk

Wat ons eerstens moet raaksien, en wat ons dieper in die betekenis van die verhaal inlei, is dat Simon niks in dié vrou raaksien, ten minste niks wat goed is nie. Van begin tot einde. Hy beoordeel haar op grond van die status van haar sondige lewe tot dusver en skryf haar daarmee af. Sy is in sy oë verlore en nie die moeite werd om enige aandag te verdien nie. Trouens, mense wat hulle met haar assosieer, het nie goeie insig nie, soos hy Jesus van beskuldig. En daarmee hou hy vol, selfs al probeer Jesus hom inlei in ‘n beter waardering van wat regtig in dié vrou se lewe gebeur het, hoe ‘n mens deur liefde tot ‘n ander lewenskeuse kan kom, van die lewensverandering wat reeds in haar lewe gekom het.

Wat meer is, dieselfde tipe veroordeling van die vrou vind ‘n mens in sy beoordeling van Jesus. Omdat Jesus nie sien soos hy sien nie – dat dié vrou nie enigiets beteken nie – beteken dat Jesus eintlik ook van min waarde is, dat sy status as profeet in gedrang is. Jesus wys eintlik met sy optrede dat Hy nie ernstig geneem kan word nie, dink Simon in sy stiksienigheid.

Omdat Simon die vrou lig skat, beïnvloed dit sy beoordeling van Jesus, sien hy Jesus deur die bril van sy veroordeling van die vrou, en skryf hy basies vir Jesus af, al is Hy ‘n Wonderwerker sonder weerga. Hoe jammer! Hy kan nie verby die vrou die lewe in Jesus raaksien nie!

Maar, daar is nog meer.

Veroordeling maak blind

Dit is tweedens nie om dowe neute dat Lukas hierdie verhaal van Jesus aan tafel by Simon plaas direk langs die vorige gesprek wat Jesus met die dissipels van Johannes die Doper gehad het nie (Luk. 7:18-35). Johannes se dissipels was onseker of hulle met Jesus kan assosieer, omdat Hy nie soos hulle asketies gelewe het nie – d.w.s hulle het baie eenvoudig gelewe met geen luukshede hoegenaamd nie, selfs nie brood en wyn nie, net dinge soos gebraaide sprinkane en heuning. Jesus het egter gereeld saam met verskillende mense geëet en gedrink. Hoe het dit gerym, was hulle vraag.

Jesus kon hulle wel oortuig dat Hy die dinge doen wat met die Messias geassosieer word. Mense is genees van siektes en kwale en bose geeste, blindes het gesien, lammes het geloop, melaatses is gereinig, dowes het gehoor, dooies is opgewek en aan armes is die evangelie verkondig. Só het Hy hulle uitgenooi om die evangelie raak te sien in sy manier van bedien.

Maar die ander mense was nie oortuig nie. Hulle het steeds oor Jesus getwyfel, want al kon hulle sien dat Hy ‘n besondere mens was, en dat Hy wonderwerke gedoen het, het hulle gesien dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes steeds apart gestaan het en hulle mening was vir gewone mense van waarde. Dit was duidelik dat die Fariseërs en die skrifgeleerdes aan die een kant nie met Johannes die Doper se asketiese lewenstyl saamgestem het nie, en daarom hulle nie laat doop het nie. Dit was egter ook duidelik dat hulle aan die ander kant ook nie met Jesus se meelewende lewenstyl saamgestem het nie, en Hom beskou het as ‘n vraat en ‘n wynsuiper, wat boonop ‘n vriend van tollenaars en sondaars is.

Simon, die Fariseër, het Jesus dus saam met die ander veroordeel vir sy onbevooroordeelde vriendskap met mense soos hierdie anonieme vrou. Hy kon nie insien wat Jesus in haar gesien het nie. Hy kon dit nie kleinkry dat sy enigsins op enige manier vir Jesus van belang sou kon wees nie.

Verpas die liefde van Jesus

En daarom, derdens, mis Simon die kans van sy lewe – dat hy ingetrek word in die meelewing, in die liefde wat Jesus vir alle mense bewys, sondaars inkluis. Hy sien Jesus nie regtig raak nie! Hierdie vrou het op Jesus se liefde gereageer en op die enigste manier wat sy geken het – met ‘n albaste fles reukolie – haar liefde vir Hom bewys. ‘n Oorvloedige vrygewige gawe.

Want, dít is waaroor dit in die koninkryk van God gaan. Oor sy liefde vir ons. En ons liefde vir Hom. Oorvloed en oordaad, kan ‘n mens amper sê. En waar ons sy liefde ervaar, sy genesing, sy vergifnis, daar word ons nuut, en kan ons in liefde reageer, nie net teenoor Hom nie, maar ook teenoor ons naaste.

Simon kry dit egter nie reg nie. Hy kyk vas teen die sonde van die vrou, en kan die vergifnis en nuwe moontlikhede wat Jesus vir haar gee, nie raaksien, en nie waardeer nie. Hy is soos die ouer broer in die gelykenis van die Verlore Seun wat nie die wonder van ‘n opstanding uit die dood kan waardeer nie, trouens sy broer wat verlore was nie die genade van ‘n tweede kans gun nie.

Ons eie liefdeloosheid?

En laat ons eerlik wees. Ons kan ook so na mense kyk, soos Simon, en ons liefdeloosheid kan op soortgelyke wyse ontbloot word, veral as ons op die spot gesit word, wanneer Jesus ons konfronteer in die sondige mense, soos dié anonieme vrou, wat ons pad kruis.

Probeer ons hulle van ons lyf af hou, kies ons die rol van Simon in dié verhaal. Dan raak ons die Fariseër wat alles op ‘n afstand wil hou, netjies op sy plek, ook die sondaarmense elkeen in sy eie klein hoekie. En ontsê ons onsself die liefde van die Here. Sien ons Jesus ook nie raak nie.

Jesus kyk egter anders en nooi ons uit om anders te kyk. Hy sien waarde in almal, selfs in Simon, hoewel Simon dit nie wil aanvaar en die uitnodiging om Jesus ook in sy lewe te omarm, aanvaar nie. Jesus sien waarde in dié vrou, teen die konvensies van sy tyd, en aanvaar haar liefde vir hom met grasie en genade. En haar lewe word daardeur verander.

Om God raak te sien in die verhaal

Die diepste punt van dié verhaal is waar God ons aanraak en met die storie as ‘n ryk bron van verbeelding vir ons eie situasie, Hom toelaat om ons deel te maak van sy liefde vir hierdie wêreld.

1. In die eerste plek is dit nodig dat ons besef dat ons uiteindelik ook is soos die vrou, en dat ons nodig het om sóós sy nie net vergifnis van ons sonde te ontvang nie, maar op dieselfde wyse ons hele lewe as ‘n flessie reukolie aan die Here te gee. “Omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde.

In ons oorvloedige vrygewigheid van ons goed, ons geld, ons tyd, ons gawes, lê ons verbintenis, en die gehalte van daardie verbintenis opgesluit. Hierdie anonieme vrou was Oorvloedig Vrygewig.

2. Maar, in die tweede plek, God soek mense wat ook sóós Jesus sal wees, wat uitreik na die anonieme vrou wat van haar sondige lewe verlos moet word, en wat uitreik na die Fariseër Simon, wat homself toesluit van God se genade. Ons moet die grense na mense wat van ons verskil oorsteek – aan die onderkant en die bokant van die sosiale leer – en deur kruis-groep-verhoudings nie net ons vooroordele teenoor mekaar verminder nie, ‘n mikpunt van die Seisoen van Menswaardigheid, maar hulle wen vir die koninkryk van God, die uiteindelike doel van alles wat ons doen.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 332 “God se liefde, so oneindig “of
F60. U Liefdeslied Vir My

Seën

Respons: Lied 221 “Loof die Heer omdat hy goed is”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.