Vierde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die vierde Sondag van advent se tema is tradisioneel “liefde”.

In die sleutelteks vir die week uit Romeine stel Paulus homself voor as apostel van Christus, maar hy getuig grotendeels van wie Christus is om die genade van sy apostelskap weer te gee. Die Psalmteks is ‘n hulpkreet na hierdie genade van God om die digter by te staan in sy moeilike tyd.

Met die Matteusteks begin ons nou nader beweeg aan Kersfees met die verhaal van Jesus se geboorte. Die Jesajateks is ook ‘n profesie oor Immanuel (die naam wat ook Matteus vir Jesus gebruik) wat gebore sal word.

Ander tekste 

Jesaja 7:10-16
10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.
12Maar Agas het geantwoord:
“Ek sal niks vra nie,
ek sal die Here nie tart nie.”
13Toe sê Jesaja:
“Luister, geslag van Dawid!
Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel  noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

Psalm 80:1-7, 17-19
Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.
’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.
8Almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak,
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see,
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom,
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God,
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het,
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!
17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Matteus 1:18-25
18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.
Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word en
’n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Fokusteks

Romeine 1:1-7
1 Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.
2Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. 5Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.
7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 328 of Psalm 80 vers 1 of VONKK 110 [bekend]

Votum

Adventkrans: Lied 526

Seëngroet: Romeine 1:5-7

Lofsang: Lied 334 of  Flam 144 of VONKK 41

Wet

Skuldbelydenis

Genadeverkondiging/Toe-eiening: Lied 329 of Flam 46

HOOR

Gebed

Skriflesing: Romeine 1:1-7

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 332 of Flam 52 of VONKK 256 [selfde melodie as “Herders op die ope velde”]

Seën 

Respons: Lied 328 Refrein of Vonkk 256 refrein [Herders op die ope velde melodie]

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 328 “Die Heer, die Koning, kom hierheen” of
Psalm 80 vers 1 “As herder hou U wag oor ons…” of
VONKK 110 [bekend] Saam Wil Ons Die Here  (kanon)

Votum
Voorganger: God wat Liefde is, U het vir die profeet Jesaja gesê om vir koning Agas te sê hy moet vra vir ’n teken, maar hy wou nie. U het toe self die teken gegee.
Gemeente: God, wees ons liefde.

Voorganger: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie Agas bang was, verwoes lê.
Gemeente: Christus, wees ons liefde.

Voorganger: Lees Jesaja 7:17.
Gemeente: Heilige Gees, wees ons liefde.

Voorganger: God wat Liefde is, mag ons leer om op u beloftes te vertrou. Mag ons kanale wees van u liefde sodat ons ook ander kan help om goeie tye wat hulle verstand te bowe gaan, in hulle lewe te beleef omdat U hulle ook liefhet (uit Jes 7:10-17).
(Uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)

Adventkrans
Steek die derde blou kers van die Adventskrans aan terwyl die gemeente sing:
Lied 526 “Waar daar liefde is”

Seëngroet: Romeine 1:5-7
Genade en vrede vir julle van God ons Vader wat dit moontlik maak vir ons elkeen om dissipels te wees, en die Here Jesus Christus wat ons geroep het om aan Hom te behoort. Amen.

Lofsang
Lied 334 “God is liefde!” juig ons harte of
Flam 144 God Is Liefde of
VONKK 41 God Is Liefde! Laat Ons Lofsing

Wet
V: Wat is ons alles aan mekaar verskuldig?
G: Net om mekaar lief te hê.

V: Watter deel van God se wet voer ons uit wanneer ons mekaar liefhet?
G: Die hele wet van God, want al die gebooie word daarin saamgevat.

V: Die samevatting van die wet van God is:
G: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

V: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
G: Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n Blom na die Son Draai”, op grond van Romeine 13)

Skuldbelydenis
Liturg: Here, ons bely dat ons dag na dag misluk om mens te wees soos u bedoel het ons dit moet wees.
Here, ons bely dat ons dikwels nie liefhet nie, omdat ons nie verstaan wat liefde is nie en omdat ons nie bereid is om onsself te offer nie.
Here, ons sny onsself af van mekaar en ons bou mure van haat en jaloesie.
Here, ons bely dat ons selfsugtig lewe en soms nie eers ander mense se nood raaksien nie.
Here, ons bely dat ons al stilgebly het waar ons geweet het mense word onregverdig behandel.
Ons het niks om vir u aan te bied as versoening vir ons sondes nie. Maar ons vlug in hierdie oomblikke na u toe, Jesus, wat in ons plek kom sterf het.
Almal: Here, wees ons genadig! Amen
(Aangepas uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Genadeverkondiging/Toe-eiening
Lied 329 “Want so lief het God die wêreld gehad” of
Flam 46 Ek Weet, Ek Weet Verseker

Liedere

VONKK 110 “Saam Wil Ons Die Here  (kanon)”
Teks: AP van der Colf 1984 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: TSJEGGIË – Tsjeggiese volksmelodie
Ostinati: Colin Campbell 2010 (Pro Deo) © Teks en ostinati: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Lofprysing

(1) Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde.
Almal loof sy grote Naam!

(2) Hy is goed vir elk van ons;
dank Hom uit een mond tesaam.

(3) Een in Jesus, onse Heer;
wie Hom liefhet, gee Hom eer.

(4) In die Gees is ons tesaam.
God is liefde, roem sy Naam.

F144. “God Is Liefde” 
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof) Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”
Teks: God is love – Timothy Rees 1874-1939; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008
© Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942 © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: ABBOT’S LEIGH by CV Taylor (1907-1991) © Oxford University Press.  Reproduced by permission. All rights reserved.
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar,
sal vir ewig by ons bly.

F46. “Ek Weet, Ek Weet Verseker”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Rick Moser © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op 25 Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere) (Rom 8:33, 38)

Ek weet, ek weet verseker,
daar is niks in hierdie lewe,
geen bose magte, geen dood of eng’le
wat my kan skei van die liefde van die Heer.
As God dan vir my is, wie sal my kan teëstaan,
om nog beskuldigings teen my in te bring?
En as die Vader my in Christus vrygespreek het,
wie sal Hom kan keer as Hy besluit om my te seën?

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: Flam – Diens / Getuienis)Teks en musiek: Deon Roberts © 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ’n God is wat van alles weet,
wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou.
En soms vergeet ons weer
dat ons ’n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”
Teks: Jacques Louw 2012 © Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Diskant: Jacques Louw 2012 © © Teks, orrelbegeleiding en diskant: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:   Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Vol van vreugde wil ons jubel
en oor God se goedheid sing.
God se liefde vir die mensdom
het sy Seun na ons gebring.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

2. Jesus Christus, die Verlosser,
kom in ons gebrokenheid.
Hy bevry ons uit genade
van ons skuld en sondigheid.

Refrein:
3. Jesus is ons Lig en Lewe –
wat ’n vaste sekerheid!
By Hom is daar ware vrede,
lewe tot in ewigheid!

Refrein:

4. Saam met eng’le uit die hemel
wil ons ook ons hulde bring.
“Alle eer aan God, die Here!”,
juig ons in verwondering.

Refrein:

LW: Instrumentale verwerkings van hierdie melodie vir onder andere fluit, viole, simbale en klokkies, is beskikbaar by die musikale verryking van VONKK 84.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing:Romeine 1:1-7

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Begin deur jouself voor te stel aan ‘n paar van die kinders.  Steek jou hand uit, sê iets soos: “Aangename kennis.  Ek is [naam]” en sê dan iets oor jouself, in die lyn van Romeine 1:1.  Dit sal goed wees as jy jou eie woorde gebruik, veral woorde wat kleiner kinders maklik kan verstaan.  Vra ‘n paar kinders om dieselfde te doen.

In vandag se teks is Paulus besig om homself voor te stel aan die Romeine.  Paulus dink die heel belangrikste ding oor homself, is dat hy geroep is om die evangelie aan ongelowiges te verkondig.  Die Nuwe Testament vir Kinders vertaal vers 1:  “God het vir my, Paulus, ’n werk gegee. Hy wil hê ek moet met al die mense oor Jesus gesels.”  Brei ‘n bietjie uit oor wie Paulus was – vertel hoe hy die kerk vervolg het, tot bekering gekom het… Vandat hy Jesus ontmoet het, is die heel belangrikste ding omtrent homself, dat hy Jesus se kind is wat vir ander van Jesus vertel.

Die meeste van ons sal nie so ‘n ervaring soos Paulus hê nie, maar elke enkele een van ons is geroep om ‘n spesiale ding te doen – dalk ‘n paar goed!  Gesels saam oor waarvoor julle dink God julle geroep het.

Gee kans dat die hele gemeente hulleself aan mekaar voorstel, met die ontdekking van wat die belangrikste ding oor hulle is en wat hulle dink hul roeping is.

‘n Lekker storie om hiermee saam te vertel, is “Carl and the meaning of life” deur Deborah Freedman. Carl is ‘n erdwurm wat in die grond grawe en harde grond in sagte grond verander.  ‘n Veldmuis wonder eendag hoekom Carl doen wat hy doen en Carl begin vir verskillende diere vra wat sy doel is.  Hulle weet nie, maar hulle vertel vir hom hoekom hulle doen wat hulle doen.  Dan hoor Carl ‘n kewer roep.  Die kewer het niks om te eet nie, want hy kan nie in die harde grond grawe nie. Carl besef sy doel is om die grond sag te maak en hy begin weer werk.

Die boek is op kindle beskikbaar.  Hier is ‘n video van die storie.

Uit “Woord en Fees”:
Gebruik harte as simbole van liefde vir die versiering van die Adventsboom. Maak dit weer vooraf of laat die kinders tydens die diens die harte teken of versier en dan aan die boom hang.

Preekriglyn

Die naam van joernalis Max du Preez is omstrede in Suid-Afrika. Baie bewonder hom, terwyl ander sy politieke filosofie as kortsigtig sien.

Net so roep die naam Adriaan Vlok ook kontroversie op. Vir sommige is hy ‘n gewraakte oud-minister uit die apartheidstyd wat menseregteskendings gepleeg het. Vir ander is sy inisiatief om mense deesdae om vergifnis te vra en hul voete te was omstrede. Waarvoor om verskoning vra?, wil hulle weet.

Onlangs het die dag aangebreek dat Adriaan vir Max om verskoning gevra het vir die opdraend wat hy hom in die ou bedeling gegee het. Adriaan Vlok is op besoek aan Du Preez vergesel van eerw. Trevor Nthlola, ‘n predikant van Soweto met wie hy deesdae saamwerk. Aan die einde van die gesprek is Max se voete gewas.

‘n Duidelik oorblufte Du Preez vertel van Vlok se besoek. Hy vertel hoe Vlok begin:

Kan jy dit in jou hart vind om my te vergewe, ou Max? Dit sal ‘n baie spesiale dag in my lewe wees as jy kan. Ek het verskriklike goed gedoen en ek moet dit nou regmaak. Ek lewe nou vir Christus en vir my medemens, nie vir myself nie.

Daar sit ek, half met ‘n mond vol tande. Baie goed gaan deur my kop, en nie juis my eie swarigheid nie.

Du Preez roep in herinnering hoe ‘n geharde minister Vlok was. Hy vervolg daarna:

Ek het ook geweet, en Trevor (die eerwaarde uit Soweto) het my verder daaroor ingelig, dat Adriaan deesdae al sy tyd, energie en bronne daaraan bestee om kinders in die plakkerskampe te voed, dat hy net in twee kamers van sy huis woon omdat die res ‘n klomp behoeftige mense huisves.

Adriaan kyk vir my en wag vir my antwoord. Nee, dis reg, Adriaan, as ek iets het om jou oor te vergewe dan vergewe ek jou, en dankie vir die gebaar, sê ek.

Trevor praat nou saam. Oom Vlok se optrede en getuienis maak ‘n baie groot impak in die swart gemeenskappe wat hulle besoek. Sy eerlikheid en nederigheid tref die mense en laat hulle anders dink, sê hy. Mense is verstom dat ‘n ou Afrikanerman en boonop nog ‘n apartheidbaas so kon verander en so oortuigend met hulle kan kommunikeer. Hulle glo hom en hulle is lief vir hom, veral die arm en sukkelende gemeenskappe. Hy ráák aan mense se harte.

Max weet nie lekker wat om daarvan te maak as Vlok sê Christus het die skille van sy oë laat afval nie. In die politiek, waaroor hy graag kommentaar lewer, is dit nie woorde wat gereeld opklink nie. In sy eie woorde:
Ek verstaan nie mooi wat dit alles beteken nie. Maar ek het geen twyfel nie dat Adriaan Vlok opreg en outentiek is. Wat hy doen en hoe hy nou lewe, is buitengewoon. Was daar maar meer Christene wat hul geloof met soveel oorgawe uitgelewe het.

Goeie nuus

Baie mense weet nie lekker, soos Max du Preez, wat om met oud-minister Vlok se optrede te maak nie. Dit pas nie lekker by baie mense se politieke raamwerk in nie. Selfs Max du Preez kry hom nie klein nie.

Die punt is dat Vlok goeie nuus wil wees – vir sy medemens, en goeie nuus aan ou vyande wil bring, deur vergifnis te vra. Van daar Du Preez se woorde: ” Wat hy doen en hoe hy nou lewe, is buitengewoon. Was daar maar meer Christene wat hul geloof met soveel oorgawe uitgelewe het.”

Die apostel Paulus is een van die eerste mense wat deur die goeie nuus van Jesus Christus aangegryp is. Paulus het ‘n paar groot foute in sy ywer begaan, soos om die gelowiges te vervolg en die moord op Stefanus goed tekeur. Hy was gevrees.

Tot Jesus Christus hom aangeraak het. Toe het hy ‘n drae van die goeie nuus van die evangelie geword.

Dit is van hierdie goeie nuus dat ons teks getuig. Wat is hierdie goeie nuus?

Hiervan vertel Paulus ons in Romeine 1:1-7.

Swaarkry

Die gelowiges in Rome kry swaar.
Enersyds leef hulle onder die wreedheid van Keiser Nero. As hy nie van jou hou nie, maak hy jou dood. Daarom kom mense van heinde en verre om hom te aanbid. Hy het die politieke mag gehad om dinge te laat gebeur. Sy mag het gegeld oor die ekonomie, op sosiale terreine en op intellektuele gebied. Hy het ook mag gehad oor die godsdienstige lewe van daardie tyd, soveel so dat afgodery en seksuele losbandigheid hooggety gevier het.

Sy aanhangers, diegene wat in die dampkring van sy mag geleef het, se wreedheid teenoor medelandsburgers en veral teenoor die gelowiges in Rome, het geen grense geken nie. Hulle het die lidmate se lewe louter hel op aarde gemaak.

Tweedens was daar ook faksiegevegte binne die gemeente.

Diegene afkomstig uit die Jodedom het die gelowiges uit die heidendom as minderwaardig beskou, alhoewel laasgenoemde groep die meerderheid was. Ten spyte hiervan het die Joodssprekende gelowiges hulle beledig, hulle geloof in twyfel getrek en op hulle as tweede klas gelowiges neergesien. Hulle is minderwaardig geag, soveel so dat hulle nie werklik deel was van die gemeente in Rome nie. Hulle moes eenkant sit, aanbid en dien.

Die rede? Hulle het nie grootgeword volgens die wet (Tora) nie. Hulle is nie op die agtste dag besny nie. Hulle het ook nie die Sabbatdag onderhou of die voedselwette nagekom nie. So het die Jode op hulle vingers afgetel wat hulle nie kon doen nie. Op grond daarvan het hulle gesê: “Julle is nie welkom in die gemeente nie.”

God is lief vir almal

Aan almal in Rome wat aan Hom behoort, moet Paulus vertel dat God vir hulle lief is. Op hierdie manier moet hy hulle in hulle geloof versterk, maar ook mense vir die Here wen. Dit doen hy met oortuiging, want alhoewel hy nie een van die twaalf dissipels was nie, was hy oortuig dat die Here self hom as apostel geroep het om die nuus aan veral die heidennasies te vertel.

Omdat Paulus hiervan oortuig was, roem hy hom nie op die feit dat hy ‘n Hebreër is nie. Ook nie daarop dat hy uit die stam van Benjamin kom nie, dat hy ‘n Jood en ‘n Fariseërs is nie. Ook nie dat hy in die Naam van die Here mense (Stefanus) laat doodmaak het nie, of wat hy ook al bereik het nie. Dit is vir hom alles waardeloos. Al wat vir hom saak maak, is om God se nuus aan ander te versprei.

Wat is die goeie nuus?

Wat was die inhoud van die nuus wat Paulus moes versprei?

God se mag is anders as dié van mense. Ook van keiser Nero en al die ander aardse regeerders — mag wat vrees en bewing inboesem, maar wat tydelik van aard is, want dit is beperk. Dit bestaan net vir ‘n bepaalde tyd. God se mag is almagtig. Dit is nie afhanklik van mense se steun nie. Dit word ook nie gebruik om mense soos pionne rond te stoot nie. Nóg minder om hulle uit te buit, bang te maak of dood te maak.

God se mag spel liefde, liefde wat sigbaar word met die geboorte van ‘n randfiguur, ‘n baba wat in ‘n krip tussen plaasdiere in Betlehem gebore is.

‘n Baba in ‘n krip

Hierdie baba se geboorte kondig Paulus aan op ‘n manier wat almal sal verstaan. Hy sê dat die geboorteverhaal nie maar net ‘n mooi storie is nie. Jesus is as die Seun van God (1:3a) gebore. Hy is ‘n koninklike nasaat uit die geslag van Dawid (1:3b). Sy geboorte was só spesiaal dat die profete in die Ou Testament daarvan gepraat het (1:2). Sy opstanding uit die dood is die hoogtepunt hiervan, toe die Heilige Gees Hom as Seun van God aangewys en met mag beklee het (1:4).

So word God se liefde vir die ganse mensdom ‘n werklikheid!

Die nuus is vir almal

Nou verseker Paulus vir al die gelowiges, veral hulle wat heidene van geboorte was, dat God die grootste geskenk ooit aan almal gegee het sodat elkeen wat dit glo, nie verlore sal gaan nie, maar die lewe in al sy volheid sal hê (Joh 3:16). Dit kan niemand verdien of verwerf nie. Dit is uit genade gegee. As God se kinders, het hulle die versekering dat niks hulle ooit uit sy hand sal ruk nie.

Die resultaat van hierdie nuus is dat elkeen wat dit glo, dit aan ander moet vertel, nie vanuit die hoogte as magshebbers nie, maar wel as slawe volgens Jesus se voorbeeld. Dit moet aan ander, ongeag wie hulle is, wat hulle doen of waar hulle bly, vertel word. God se liefde vir mense, geanker in Jesus se geboorte, is die nuus wat aan ander, tydig en ontydig, vertel moet word.

Geleerdes verseker ons dat as ons die nuus aan twee ander mense meedeel, en elkeen van hulle gee dit weer deur aan twee ander mense en dit hou so aan, sal meer as ‘n miljoen mense binne 20 dae die nuus ontvang. Binne 30 dae sal meer as ‘n miljard mense hiervan weet. Wat meer is, binne 32 dae sal die hele wêreld weet van God se onvoorwaardelike liefde vir mense.

Glo dit self

Hiertoe word ons geroep, maar dan moet ons dit eers self glo. Dan kan ons dit versprei, nie omdat ons die mag het om dit te doen nie. Ook nie omdat ons een of ander wonderlike posisie in die kerk of in die samelewing beklee nie. Ons doen dit as diensknegte van die Here, as gelowiges wat bereid is om te dien met dieselfde gesindheid as Jesus s’n (Fil 2). Ons doen dit soos ‘n slaaf, gefokus op sy Heer en Meester!

In 1979 sing Bob Dylan hiervan in “Gotta Serve Somebody” as hy sê:
You may be an ambassador to England or France, you may like to gamble, you might like to dance, you may be the heavyweight champion of the world, you may be a socialite with a long string of pearls, but you’re gonna have to serve somebody. Yes, indeed, you’re gonna have to serve somebody. Well, it may be the devil or it may be the Lord, but you’re gonna have to serve somebody.

Hoe?

Om te dien soos die Here vra, kan op ‘n paar maniere gebeur. Lees gerus daarvan in Matteus 25. Of lees van die barmhartige Samaritaan. Ongeag hoe ons dit doen en met watter gawes die Here ons hiervoor toegerus het, doen moet ons dit doen.

In ‘n tyd waar mense deur magshebbers soos pionne in ‘n skaakspel rondgeskuif word, moet ons ‘n alternatiewe leefstyl sigbaar maak. In ‘n tyd waarin die persepsie heers dat die sterkste die wenner is en waar mense net al méér en méér wil hê, moet ons die nuus van God se liefde in Jesus vertel. Dit is ‘n liefde wat nie wil hê nie, maar bereid is om onvoorwaardelik te gee, sonder aansien van die persoon — opofferend soos ‘n baba in ‘n krip, om later as ‘n veroordeelde aan ‘n kruis te hang.

Miskien is dit hierdie soort gesindheid wat Adriaan Vlok se optrede so besonders maak.

‘n Ryk man was op ‘n besigtigingstoer in ‘n hospitaal in Nepal toe hy ‘n non sien besig om ‘n Vigs-pasiënt se braaksel op te vee. Die toneel het hom gewalg. Hy kyk toe af na haar en sê: “Ek sal dit nie vir ‘n miljoen dollar doen nie!” Die non, sonder om te aarsel en terwyl sy voortgaan om dit te doen, antwoord hom: “Ek ook nie!” Haar naam was Moeder Teresa ….

God self help ons

Paulus se opdrag om God se nuus te vertel, was hiermee nog nie klaar nie. Nie vir die gelowiges in Rome nie, ook nie vir ons nie. Hy verseker ons dat God nie net vra dat ons die nuus van sy liefde sal versprei nie. Hy wil ons ook help daarmee. Hy wil ons verseker dat Hy Immanuel is — God by ons, sáám met ons en in ons. Daarom groet Paulus die gelowiges met die woorde: genade en vrede.

Tipiese Romeinse woorde wat die inwoners van Rome verseker het van die keiser se mag. Paulus trek egter ‘n streep deur die feit dat die keiser mag het. Inteendeel, hy verklaar dat ware genade en werklike vrede (sjaloom) van God alleen kom.

Nadat Luther jare later tot hierdie besef gekom het, breek hy met die Roomse Kerk en begin die reformasie. Hiermee bevestig hy dat God se liefde op grond van sy genade vir almal bedoel is. Elkeen wat dit glo, het daarom die sekerheid dat al braak die hel se woede, niks ons ooit uit God se hand sal ruk nie!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 332 “God se liefde, so oneindig” of
Flam 52 Laat Almal Weet of
VONKK 256 [selfde melodie as “Herders op die ope velde”] Vol van vreugde wil ons jubel

Seën

Respons
Lied 328 Refrein “Ons loof u Naam, o Heer” of
Vonkk 256 refrein [Herders op die ope velde melodie]

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.