Vierde Sondag in Advent – Sondag van Liefde

Sections

Oorsig

Die vierde Sondag van Advent word soms met die tema van God se liefde verbind. Die teksgedeeltes getuig van God se rewolusionêre ingrype in die gang van sake as deel van sy reddingsplan. Mense word ingesluit. Die liturgie bring die gemeente dus in die greep van God wat (uit liefde) ’n omwenteling te weeg wil bring. Omdat die sleutelteks in hierdie liturgiese verhaal ’n deurslag­gewende bydrae sal lewer, moet ander handelinge die skerp kontras tussen vrede en onvrede, frustrasie en verwagting, persoonlike en korporatiewe ervarings van God probeer vashou.

Ander tekste

Miga 5:2-5
5 Maar jy, Betlehem-Efrata,
jy is klein onder die families in Juda,
maar uit jou sal daar iemand kom
wat aan My behoort
en hy sal in Israel regeer.
Sy begin lê ver terug,
in die gryse verlede!

2Hy sal sy mense ’n kort rukkie prysgee,
so lank as dit ’n vrou neem
om ’n kind in die wêreld te bring.
Dan sal dié uit sy familie
wat die ramp oorleef het,
terugkom na die Israeliete toe.
3Hy sal na vore kom en sy volk lei
deur die krag wat die Here hom gee,
deur die sterkte van die Naam
van die Here sy God.
Hulle sal woon tot in die uithoeke
van die aarde,
want hulle leier sal sterk wees.
4Hy sal vrede bring.
Wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan,
sal ons baie leiers,
genoeg generaals, teen hom uitstuur.
5Hulle sal Assirië platloop
met die swaard,
die land van Nimrod met swaarde
wat reg is om te steek.
Die regeerder uit Betlehem sal ons red
uit die mag van Assirië
wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy ons gebied binnekom.

Hebreërs 10:5-10
Die offers van die ou verbond
10 Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.

5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:
“Dit is nie diereoffer en graanoffer
wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U
My gegee het.
6Brandoffers en sondeoffers
het U nie behaag nie!
7Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God,
om u wil te doen.
In die boekrol is dit
van My geskrywe.”

8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Fokusteks

Lukas 1:39-45, (46-55)
Maria besoek Elisabet
39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ’n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:

“Geseënd is jy onder die vroue
en geseënd is die vrug
van jou moederskoot!
43Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my
van vreugde beweeg.
45Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”
Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Vierde Sondag van Advent

Aanvangslied: Lied 320:1 en 5: “O kom, o kom, Immanuel”

Voorganger (V): Vandag is die vierde Sondag van Advent, die Sondag van Liefde.
Gemeente (G): Jesus wys vir ons hoe God se liefde lyk.
Hy self is die volmaakte liefde van God in die gestalte van ’n mens.
Elkeen wat in Hom glo en in Hom lewe, leef in liefde.
Liefde verander alle dinge en vergaan nooit nie.

V: Ons steek vandag die vierde kers aan om ons daaraan te herinner dat God liefde is.
Ons dank God vir die hoop wat ons van Hom ontvang, vir die vrede wat Hy skenk,
vir die vreugde wat Hy ons harte uitstort en vir die liefde waarmee Hy ons verlos.
G: U is Immanuel, God met ons. U is die God van liefde.

(Die vierde kers word aangesteek.)
V: O God van liefde, Immanuel, God met ons, ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons
hart sal laat skyn. Help ons om gereed te wees vir die dag wanneer Christus finaal verskyn.
Gee dat ons so in Christus sal bly dat sy liefde ons hele lewe sal vul.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Vernuwe ons deur die krag van u Gees, sodat ons aanbidding, ons feesviering en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig.
G: Amen.
(Uit Handleiding vir die Erediens. Wellington: Bybel-Media 2012: 202)

Lied 354:1, 2, 3 en 4:“O Christus, ons verlange”

Aanvangswoord
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,

Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer. (Uit Lukas 1)

Seëngroet
Genade vir julle en hoop, vrede, vreugde en liefde van God ons Vader en van Jesus Christus, wat gekom het, hier is en weer kom, en van die Heilige Gees.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, Basisliturgie vir Avent)

Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Wet/ Verootmoediging/ Vryspraak
Gebruik die raakvat gedig van Lina Spies wat die fokus op die eintlike betekenis van Kersfees- die betekenis wat Maria gesnap het en wat aanleiding gegee het tot haar gebed.

Protes teen Kersfees
Ek gaan my koes hou
hierdie Kersfees:
horende doof vir “Stille nag”
in supermarkte,
siende blind vir wattesneeu
teen vensterrame.
die sluipende ou heer met sy rooi mantel
en wit baard gaan ek vermy.

Ek gaan na ons nagtelike somerhemel kyk
en my voorstel hoe het die ster
bokant die stal gelyk.
Ek gaan my ore toestop
vir die geklingel van sleeklokkies
om te kan luister hoe die engele sing.

Ek wil my vasklem aan die krip
omdat ek so kan vasgryp aan die kruis:
koningshulde – wierook, mirre, goud –
uiteindelike geselslae, doringkroon, vloekhout.
(Uit: Die skaduwee van die son, deur Lina Spies)

Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F323. “Goeie Nuus”
(RUBRIEK: Flammikidz / Flam – Kersfees)
Teks en musiek: Marcel en Lydia Zimmer
Oorspronklike titel: Goed Nieuws
Afrikaanse vertaling: JP Bruwer, Marcel en Lydia Zimmer
© 1999 Celmar Music
(Nav Jes 9:5)

Refrein:
Goeie nuus, goeie nuus
sing saam met eng’le kore!
Goeie nuus, goeie nuus
Jesus is gebore, Jesus is gebore.

“Wonderbare Raadsman”
1. Hy wil jou altyd bystaan
in alles, dag en nag.
Ja, in jou hele lewe
gee Hy jou raad en krag.

“Sterke God”
Hy is die allerbeste,
geen ander is soos Hy.
Die magtigste en sterkste
sal Hy vir altyd bly.

Refrein:

“Ewige Vader”
2. En Hy is soos ’n Vader
so baie lief vir jou.
Hy dra jou in Sy arms
jy kan op Hom vertrou.

“Vredevors”

Hy gee jou ware vrede
vir nou en vir altyd.
En dié wat in Hom glo
sal leef in ewigheid.

Refrein:

“Immanuel”
3. Hy is ook altyd by jou
en altyd om jou heen.
En waar jy ook al rondgaan
laat Hy jou nooit alleen.

Refrein:

F368. “O Heer, My God (Dit Maak My Bly)”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees)
Musiek: Publieke Domein
Teks: Annalise Wiid
Kopiereg: © 2005 Annie’s Song (geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers)

1. O Heer, my God, U’t baie lank gelede
in mensetaal iets mooi vir ons kom sê:
In Betlehem, as onbeholpe baba,
So weerloos méns, in ’n stal kom lê.

Refrein:
Dit maak my bly, en dit laat my huil,
U liefde is oneindig groot.
Dit laat my huil, en dit maak my bly
dit is só groot – te groot vir my!

2. In die begin het U geskep met woorde
en als wat is, het uit u mond ontstaan.
Toe Jesus mens word, skep U weer, genadig,
vir dié wat glo, ’n nuwe soort bestaan.

Refrein:

3. O Heer, my God, U praat soos lank gelede,
ook nou met ons oor skoon en nuut begin.
En skep in ons iets van die eerste Kersfees
se grootse vrede en verwondering.

Refrein 2:
Dit maak my bly, en dit laat my huil
U liefde is oneindig groot.
Dit laat my huil, en dit maak my bly
dit is só groot – oneindig groot!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.
Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
Leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word,
sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.

Skriflesing: Lukas 1:39-55

Prediking

Familie-oomblik

As jy dit nie verlede jaar gedoen het nie, kan jy die verhaal vertel van die Kameeltjie wat Kersfees Gevind Het – kry dit by http://www.gemeentes.co.za/Powerpoint/Matteus2_1-12.doc

Die 2006 Seisoen van Luister preekstudie (oor Lukas 1:46-49) het voorgestel dat die fliek “Horton Hears a Who” gebruik word:

In die lied van Maria is die eerste rede hoekom sy God se lof besing “omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.”

Neem gerus die fliek uit en wys snitte uit die fliek vir die kinders.  Daar is wonderlike oomblikke in die fliek en jy kan self besluit watter snitte vir jou die punt die beste illustreer.

Die plot van die fliek is oor ’n Olifant (Horton) wat iets hoor wat hy nie kan sien nie.  Later sal hy agterkom hy hoor die geluide wat van ’n klein saadjie af kom.  Wat hy hoor, is dan ’n hele nuwe wêreld van kreatuurtjies wat “Who’s” genoem word.  Hy begin dan met die Who’s kommunikeer en in die proses beskerm hy die saadjie.  Die diere in die bos dink hy is mal en wil hom dan op die einde doodmaak daaroor.  Die uiteinde is dat die hele kolonie van Who’s gered word, omdat Horton fyn geluister het.

God red die mens omdat Hy omsien na geringe mense!   “A person’s a person, no matter how small.”

Grappie:
Knock, knock
Who’s there?
Definitely! Just listen very good!

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek is ‘n geredigeerde weergawe van preekstof wat in Adventstyd 2006 in die Luisterseisoenreeks op die web gepubliseer is.]

Al Lindgren, ‘n professor by die Garrett Evangeliese Teologiese Seminarium, vertel hoe hy en sy laerskool seun gaan visvang het.  Die vis wou die dag net nie byt nie!  Toe het hulle baie tyd gehad om te gesels.  Skielik, tussen al die geselsery deur, vra sy seun: “Pa, wat is die moeilikste ding wat God ooit probeer doen het?”

Lindgren vertel hoe onkant die vraag hom gevang het.  Hy het nie geweet wat om te antwoord nie.  Maar getrou aan sy beroep, beantwoord hy die vraag met ’n weervraag:  “Wat dink jy is die moeilikste ding wat God ooit probeer doen het?”

Die seun het geantwoord:  ” Wel, in die wetenskapklas het ek gedink die moeilikste dinge wat God moes doen, was om die hele wêreld te skep.  In die Sondagskool gesels ons toe oor wonderwerke.  Ek dink toe die moeilikste ding ooit was om Jesus uit die dood te laat opstaan.  Toe dink ek verder, en kom agter min van ons ken God regtig baie goed.  Nou dink ek die moeilikste ding wat God het om te doen, is om ons te laat verstaan wie Hy is en hoe lief Hy ons het.”

Sjoe!  Lindgren het eenvoudig hierop geantwoord: “Jy is reg seun.  En dit het God se Seun geneem om dit te doen.”

Nie ‘n suikerlekker nie

Die Kersverhaal kan vir ons so oorbekend wees dat ons die diepte daarvan mis.  Dit kan afgesaag, en ou nuus wees.  Dieselfde storie oor en oor.

Ons teks is radikaal anders.  Die eerste Kersverhaal is nie altyd so vol romantiek en vrede soos wat ons dit altyd uitbeeld nie.  Dit is harde nuus!  Sentraal in die Kersverhaal is twee swanger vroue: een skandelik oud en die ander ’n ongehude tiener meisie.  Hulle lewens word radikaal omgekeer.  En hulle sing van ‘n Messias wat die wêreld omkeer.  Niks sou ooit weer dieselfde wees nie.  Nie in hulle lewens nie, en ook nie in die wêreld nie.

Die koms van die Messias veroorsaak nie nostalgie of romantiek nie, maar eerder ’n revolusie.  In die destydse wêreld was die geboorte van die Messias-Koning ‘n geweldige bedreiging vir die maghebbers van daardie tyd.  Dis vandag nog so.  Moet nooit vergeet dat die geboorte van ’n nuwe koning vir die bestaande “konings” van ons lewe ’n bedreiging is nie.  En die revolusie strek van die strate van die gesofistikeerde New York tot die stofpaaie van honger Afrika.  Kom kyk of jy mans genoeg is vir Jesus, maar wees gewaarsku: die revolusie laat jou nie onaangeraak nie!”

Dorothy Sayers, ’n Britse skrywer van speurverhale, het gesê:  “You as church have the greatest good news on earth — the incarnation of God in human life — and you treat it as an insignificant news item fit for page 14 of the chronicle of daily events!”

Laat ons die revolusionêre betekenis van Jesus se geboorte vandag hoor.  Laat dit ons lewens omkeer.  Die goeie nuus van Kersfees is nooit vervelig nie.  Dis ook nie ‘n suikerlekker nie.  Ons mag dit nie so hoor, of so oorvertel nie.

Ooievaarspartytjie

Die verhaal van Jesus begin vir Lukas met ’n ooievaarspartytjie.  By die aanhoor van die engel se boodskap, doen Maria naamlik die onverwagte – sy reis as jong vrou alleen en swanger meer as 100km na die bergstreek van Judea om vir haar familie te gaan kuier.  Anders as Maria is Elisabet, haar bloedfamilie, veel ouer en getroud.  Maria sou waarskynlik tussen 13 en 16 jaar gewees het as sy die Joodse huweliksgebruike gevolg het.  Elisabet is teen die tyd al ses maande swanger (vgl. die feit dat Maria by haar bly tot drie maande voor die geboorte van Johannes – vers 56).

Maria se lied

Maria se lied is die sg. “Magnificat” na aanleiding van megalynei “verheerlik” in vers 46.  Sy sing in die lied in die verlossingskoor van Moses (Eks 15:1-18), Miriam (Eks 15:19-2), Debora (Rig 5:1-31), Asaf (1 Kron. 16:8-36) en Hannah (1 Sam 2:1-10) wat almal in die verlede die Here geloof het vir sy karakter en reddingsdade.  Dis byna onmoontlik om al die Ou-Testamentiese verwysings in die Ou-Testamentiese medley na te speur.

Eers loof sy vir God oor wat Hy aan haar persoonlik gedoen het (vers 47-50) en dan vir wat Hy vir Israel as geheel gedoen het (vers 51-55).  Sy balanseer in haar lied God se genade en sy mag op ’n besondere manier.  Vir haar kom Jesus terselfdertyd soos ’n kryger wat hoogmoediges uitmekaar jaag en maghebbers onttroon, én as ’n barmhartige verlosser wat Hom ontferm oor die nederiges.  Laasgenoemde is in die lig van die kontras tussen nederiges en hoogmoediges te verstaan as diegene wat deur die magtiges onderdruk is.  Vir hulle het Jesus gekom om hulle te red.

In die eerste deel van haar lied, besing Maria eers die lof van God oor wat Hy vir haar persoonlik gedoen het (vers 47-50).  Hy het haar in haar geringheid raakgesien.  Laasgenoemde is letterlik ’n verwysing na haar as onvrugbaar (tapeinosin).  Iets wat vir vroue die grootste vernedering denkbaar was.  Figuurlik gesproke was sy dus soos die geringstes onder vroue: die sonder kinders (vers 48).  Aan haar as die geringste, het Hy nuwe eer gegee. ’n Vrou se status is in die antieke wêreld gekoppel aan die mans in haar lewe (pa dan man en seun).  As haar seun dus groot dinge sou doen, was dit tot haar eer.  En haar seun sou die hele wêreld kom omkeer (vgl. vers 52).

In die tweede deel sing Maria oor die revolusie (omkeer) wat deur Jesus vir alle Godvresendes sou kom (vers 50).  Maghebbers sou deur God van hulle trone afgeruk word en die armes gaan verhoog word (vers 51-53).  Rykes gaan weer gestroop word (vers 53) en die armes gaan versorg word.  Kortom: God se Seun sou die hele sosiale orde omkeer.

Dis ’n gevaarlike lied vir ʼn tienermeisie om te sing.  Let op Maria sing nie omdat Jesus mense se siele hemel toe gaan stuur nie.  Sy sing omdat Hy die konkrete wêreld gaan kom omkeer en weer in lyn met God se geregtigheid bring.  Laasgenoemde moet egter ook in ag geneem word – sy sing ook nie net oor sosiale transformasie nie, maar oor God wat Sy verbondsliefde sou laat geld vir Sy volk soos belowe aan Abraham in Gen. 22:16-18 (vers 55).  Dit gaan dus nie net oor ’n geestelike saak of ’n sosiale een nie (evangelicals vs social gospel), maar oor God wat Sy wil laat geld ter wille van Sy dienskneg (vers 54).

“Never in public”

In sy kommentaar op hierdie gedeelte vertel Bruce Larson “William Temple, Archbishop of Canterbury, warned his missionaries to India never to read the Magnificat in public. Christians were already suspect in that country and they were cautioned against reading verses so inflammatory.”

Mens kan jou indink wat sal gebeur as jy hierdie teks voorlees tydens die onlangse Marikana-staking, of in die wynlande van die Boland terwyl stakers die pad vol klippe gooi en werkgewers en swaargewapende polisiemanne bontstaan om die situasie te hanteer.

Die Messias raak nie net die swanger tienermeisie se lewe ingrypend nie.  Nie net ‘n stokou vrou wat onverwags moeder word, is diep geraak nie.  Die Messias plaas ons almal se lewe op losse skroewe.  Die vraag is nie wie ons is of wat ons bereik is nie.  Die vraag is wie die Messias is.  En hoe ons lewens kan belyn aan wie Hy is.

En tog is hierdie teks goeie nuus.  Dis nie stroperige, nostalgiese, romantiese goeie nuus nie.  Dit is goeie nuus vir ‘n harde wêreld, ‘n wêreld soos ons s’n.

Wat is die goeie nuus in die Kersevangelie?

Uit ons teks sou mens ‘n paar koerantopskrifte kon skryf.

Opskrif 1: God kies ’n Nasaret Nobody
Die Boodskap parafraseer hierdie teks as volg: “46Ek maak die Naam van die Here groot. 47Ek juig oor God. Hy is my Redder. 48Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is.” (1:46-48, Die Boodskap)

Dit is werklik verrassend en nuuswaardig dat God juis ’n arm tienermeisie uit Galilea kies om die ma van Jesus te word en die belangrikste vrou in die Bybel!

Kerk historikus Jaroslav Pelikan sê:  “Mary is the inspiration for the great abbesses (ordes) of medieval times — the most powerful women in an age of powerful men — and today as the driving force behind people engaged in struggles for social justice around the world.”.

Nie sleg vir ’n “nobody” van Nasaret nie. God se keuse van haar gee vir enige een van ons wat vasgevang voel in klein rolle of klein werke of klein dorpe of net klein voel, hoop.

Die groot waarheid van Maria se storie is dat God die klein, onbelangrike gebruik om die grotes te lei, die swakkes om die sterkes te leer en die gewone om die buitengewone te dra.

Iemand het dit goed gestel: “Remember that it is availability and not ability that is key, and to say, along with Mary, “Here am I, the servant of the Lord; let it be with me according to your word” (1:38).

Opskrif 2:  God stamp groot menere af, tel die klein mense op
“Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi.  Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak.”  (Die Boodskap, Lukas 1:51, 52)

Die sakewêreld word deur kompetisie en die strewe na groei en groter produktiwiteit gekenmerk. Besigheid sluit ook graag samewerkingsooreenkomste of “merge.”  Die rede? Sodat ons die grootste en die sterkste kan wees. Wat is verkeerd hiermee?

“God is concerned more about the common good than about corporate greed. Can anybody seriously suggest that bigger, more powerful, and more profitable corporations will help to protect the interests of workers, consumers, the environment, local communities, and the forgotten poor? Is it fair that the people who do the firing get a raise, while the people fired can only fear for the future of their families?”  (Jim Wallis in Sojourners magazine March-April 1999, 9).

Opskrif 3: Armes sit aan God se feestafel
“Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap.”  (Die Boodskap, Lukas 1:53)

In Lukas 14:12-14 bring die nuwe gastelys van Jesus se koninkryksmaal Sy ma se woorde tot vervulling: “Hy het ook vir die gasheer gesê: ‘As jy in die middag of in die aand ’n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.  Nee, as jy ’n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.  Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.'”

Wanneer ons in hierdie Adventstyd dink aan daardie eerste Kersdag, moet ons onthou God het ’n seën deur ’n jong ma en pap baba in ’n klein dorpie gebring.  Hierdie seën kom bring vreugde aan almal wat “altyd uitgelaat word”…  Wie ken nie daardie gevoel nie?   Weet jy, God kies ons ongeag wat die wêreld van ons dink…

Eugene Peterson was die kleinste kind in sy buurt en is altyd laaste gekies. Een dag het die twee kapteins van die buurt se spanne gestry oor wie hom gaan kies, want nie een wou hom hê nie!

“In one moment I changed from a zero to a minus!,” vertel Peterson.

Kyk, voor God is jy nooit ’n zero of ’n minus nie, jy word nie uitgelaat nie – jy sit aan Sy feestafel!

Opskrif 4: 2000-Jaar oue belofte gehou.
“God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het – aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.” (Lukas 1:54, 55)

God is ’n Promise-keeper, maak nie saak hoe tough dinge is nie! Die grootste teken daarvan is Jesus!

Aan Hom kan jy vashou, dit bly die beste nuus van alle tye. As ek so luister na Maria se hoofopskrifte, dan besef ’n mens hoe groot en hoe goed God is!

“Ek gaan self”

Dit laat dink my ten slotte aan die engel wat by God pleitend aankom:  “O, Here, moenie asb. my weer terugstuur na die aarde toe nie. Dis aaklig!  Wat kan ek doen vir sulke mense? Asseblief, moet my nie ooit weer laat teruggaan nie, asseblief…  Wat? Ek hoef nie meer te gaan nie! U bedoel dit? Ek hoef nie te gaan nie? O dankie, Here, dankie! Wat?  Wat? U bedoel – U gaan self?!”

Dis hoe Goed Hy is!  Hy verdien ook ons lofliedere nes Maria gemaak het…

God stuur ons om te leef

Gebed
“Ons dink Kerstyd aan U liefde”

Heilige God en hemelse Vader,
ons dank U vir die groot gawe van lewe
wat vir ons moontlik geword het
deur die geboorte van Jesus Christus.
Dankie vir al die mooi dinge van die Kersgety:
vir familiebyeenkomste;
vir die vernuwing en verstewiging
van vriendskapsbande.
Dankie dat Kerstyd ons by uitstek
aan U liefde herinner;
‘n liefde wat ons nie hoef te verdien nie.
Mag dit ons besiel tot suiwere liefdesbetoning
aan almal wat dit so nodig het:
alleenmense, bedroefdes, eensames,
armes, verslaafdes en misdadigers.
Mag die wonder, die liefde
en die welwillendheid van Kersfees in ons hart woon.
Mag dit in ons huis agterbly
en deur ons gemeenskap versprei
en mag die invloed van dei Christuskind
ons lewe ten goede beïnvloed.
Laat dit mense optel uit hul wanhoop;
mag dit ons sielehonger versadig
en ons hart in harmonie met U herstel.
Here Jesus, maak dit waarlik Christusfees
in ons hart, lewe, huis, gemeenskap en wêreld.
Ons bid dit in die naam
van die Kindjie van Betlehem.
Amen
(Uit: Gebede vir jou lewenspad van Solly Ozrovech, 2009:302)

Offergawes

Wegsending: Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Seën
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur hartseer tye.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, Basisliturgie vir Avent)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.