Vierde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die leesroostertekste vir die vierde Sondag in Advent fokus onderskeidelik op die beloofde regeerder van Betlehem (Miga 5), Maria die geseënde deur wie die geseënde kind in die wêreld sou kom (Luk 1) en die soenoffer van Christus se liggaam waardeur ons geheilig is (Hebreërs 10). Die gees van afwagting wat deur al drie hierdie leesroostertekste geadem word sypel ook deur in die sleutelteks, waarin Maria die mondstuk word vir onderdruktes, verworpenes, uitgestotenes, noodlydendes en veronregtes se noodroepe na God die Verlosser. In die Magnificat word Maria se belydenis van wie God is, teëgekom.

Ander tekste

Miga 5:2-5a
5 Maar jy, Betlehem-Efrata,
jy is klein onder die families in Juda,
maar uit jou sal daar iemand kom
wat aan My behoort
en hy sal in Israel regeer.
Sy begin lê ver terug,
in die gryse verlede!
2Hy sal sy mense ’n kort rukkie prysgee,
so lank as dit ’n vrou neem
om ’n kind in die wêreld te bring.
Dan sal dié uit sy familie
wat die ramp oorleef het,
terugkom na die Israeliete toe.
3Hy sal na vore kom en sy volk lei
deur die krag wat die Here hom gee,
deur die sterkte van die Naam
van die Here sy God.
Hulle sal woon tot in die uithoeke
van die aarde,
want hulle leier sal sterk wees.
4Hy sal vrede bring.
Wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan,
sal ons baie leiers,
genoeg generaals, teen hom uitstuur.
5Hulle sal Assirië platloop
met die swaard,
die land van Nimrod met swaarde
wat reg is om te steek.
Die regeerder uit Betlehem sal ons red
uit die mag van Assirië
wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy ons gebied binnekom.

Lukas 1:39-45
Maria besoek Elisabet
39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ’n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue
en geseënd is die vrug
van jou moederskoot!
43Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my
van vreugde beweeg.
45Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”

Hebreërs 10:5-10
5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:
“Dit is nie diereoffer en graanoffer
wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U
My gegee het.
6Brandoffers en sondeoffers
het U nie behaag nie!
7Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God,
om u wil te doen.
In die boekrol is dit
van My geskrywe.”

8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Fokusteks

Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Liturgie

Sondag van Liefde

RUS

Aanvangslied: Lied 526 of Flam 170 

Votum: (n.a.v. Vonkk 95) 

Seëngroet

Lofsang Lied 333 EN VONKK 95 OF Flam 367

Wet: Lied 250

Geloofsbelydenis: Terwyl vierde Adventskers aangesteek word:

Respons: VONKK 184

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 1:47-55

Familie-oomblik

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 334

Seën

Respons: Lied 333

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Sondag van Liefde
In die liturgie word oa weer gebruik gemaak van Bybelmedia se Woord en Fees 2013/14.

Plaas die “Stomp van Isai” as simbool op ’n prominente plek in die bedieningsruimte. Die ingangsruimte van die ontmoetingsplek kan besonder sinvol wees. Die droë stomp met die enkele rooi lint van hoop moet so geplaas word dat lidmate dit sal opmerk.

Aanvangslied
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
Flam 170 Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)

Votum
(n.a.v. Vonkk 95)
Daar is niemand soos U, Here God:
U, die enigste lewende God.
U, die ware Drie-enige God.
Daarom buig ons voor U en ons kniel voor u neer.
U is waardig ons lof en aanbidding en eer.
O Heer, daar is niemand soos U.

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het, wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.

Lofsang 
Lied 333 Groot is die Heer” en
VONKK 95 Daar Is Niemand Soos U, Here God of
Flam 367 Hoor Jy Die Eng’le (Sing Halleluja)

Wet
Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”

Geloofsbelydenis
Terwyl vierde Adventskers aangesteek word:
Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat
omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat Homself in besonder openbaar as die God van liefde.
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van liefdeloosheid en haat.
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.
Liefde is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees. Amen.

Respons
VONKK 184 Ek Groet Jou, Begenadigde

Liedere

F170. “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Retief Burger
Kopiereg: © 2008 Urial Publishing (Opgeneem op Oorgegee)

1. Here, open ons harte, open ons oë,
Here wys ons die ewigheid, dat ons kan glo.
Daar is meer, daar’s soveel meer
om ons lewens voor te gee.

2. Here, leer my van liefde, dat liefde altyd wen.
Here, leer my gehoorsaamheid dat ek kan sien.
Daar is meer, daar’s soveel meer
as ek my lewe weg sal gee.

Pre-refrein:
Here, hier is ek, ek gee myself.
Alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Refrein:
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook op die aarde, in elke tree wat ek stap.
Laat u wil geskied, in ’n hart wat brand vir U.
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook in my lewe, in elke keuse wat ek maak.
Laat u Koninkryk kom, in ’n hart wat brand vir U,
alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Brug:
Doen met my lewe, net wat U wil.
Want U is my Here, doen wat U wil.
Alles wat ek het gee ek vir U.

F367. “Hoor Jy Die Eng’le (Sing Halleluja)”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees) Musiek: Francé Ludik Teks: Annalise Wiid
Kopiereg: ©2005 Annie’s Song (Geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers)

Hoor jy die eng’le,
hoor jy vir Josef,
hoor jy Maria,
sing tot sy eer?
Sien jy die herders,
sien jy die wyses,
sien jy ons almal, buig voor Hom neer?

Refrein:
Sing halleluja, sing halleluja, sing halleluja,
God kom na ons toe!
Sing halleluja, sing halleluja, sing halleluja,
Jesus is hier!

God the Almighty
loved us so deeply
wanted to help us
and set us free.
Laid down his glory
came as a baby
entered our weakness,
entered our need.

Refrein:
Sing alleluia, sing alleluia, sing alleluia
God is among us!
Sing alleluia, sing alleluia, sing alleluia
Jesus is here!

God van die eeue, God van die heelal
lê in ’n stal – babatjieklein.

God of the heavens, God of the angels
entered our sorrow, entered our pain.
Sing alleluia, sing alleluias, sing alleluia
God is among us!

Sing halleluja, sing halleluja, sing halleluja
Jesus is hier! (x2)

VONKK 95 “Daar Is Niemand Soos U, Here God”
Teks: Pieter Malherbe 2009 © Melodie: MAGNIFICAT – Pieter Malherbe 2009 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping

Daar is niemand soos U, Here God:
U, die enigste lewende God.
U is waardig ons lof en aanbidding en eer.
O Heer, daar is niemand soos U.

Daar is niemand soos U, Here God:
U, die ware Drie-enige God.
Daarom buig ons voor U en ons kniel voor u neer.
O Heer, daar is niemand soos U.

Daar is niemand soos U, Here God:
U, die enigste lewende God.
U is waardig ons lof en aanbidding en eer.
O Heer, daar is niemand soos U.
O Heer, daar is niemand soos U.
O Heer, daar is niemand soos U.

VONKK 184 “Ek Groet Jou, Begenadigde”
Nav Lukas 1 : 28-32 Teks: Bogoroditse Dievo 1 – Russies ortodoks; Afrikaans weergawe: Gerrit Jordaan 2011
Musiek: Russies ortodoks – openbare besit © 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Advent

Ek groet jou, begenadigde.
Onder die vroue is jy geseënd.
Moenie bang wees nie, want jy het by God genade gevind
en jy sal swanger word met ’n seun.
Jy moet Hom Jesus noem, Seun van die Allerhoogste God.
Aan sy koninkryk sal daar geen einde, geen einde wees.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 1:47-55

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybelmedia se Woord en Fees stel voor dat jy die ‘n lied uit die fliek The Hunchback of Notre Dame, met die titel “God help the Outcasts”, gebruik. Die Gypsy-vrou Esmeralda sing ‘n lied aan Maria, waarin sy vra wie na haar mense – die Gypies, of Roma, wat tot vandag toe nog in Europa as misdadigers en moeilikheidmakers geëtiketteer word – sal omsien. Esmeralda se belydenis oor wie God is, in Esmeralda se lied aan Maria, eggo Maria se belydenis oor wie God is, in Maria se loflied aan God. Afhangend van watter fasiliteite beskikbaar is sou dit sinvol wees om die gedeelte in die fliek waar die lied speel, op ‘n dataprojektor in die kerk te vertoon. Die lied is beskikbaar op YouTube.
OF
Gesels oor die feit dat God nie gesê het “Maria is maar net ’n jong meisie” nie.  Hy het haar ernstig opgeneem, haar vertrou en vir haar ’n opdrag gegee.

Ook kinders is in staat daartoe om, soos Maria, wonderlike dinge vir God te doen.  Vertel stories van ander dapper, uitgesproke jongmense.  Malala Yousafzai is die jongste mens ooit wat die Nobelprys vir vrede gewen het.  Sy het ’n blog begin waarin sy gepraat het vir skoolopleiding vir alle kinders – veral meisies – in haar land, Pakistan.  Mans het haar probeer vermoor, maar sy het nie opgehou nie.

Mariah Smith van Hampton, Virginia in die VSA, was 17 toe sy ’n bibberende hawelose man in ’n parkeerarea ontmoet het.   Sy het vir hom kos en ’n kombers gegee en was vasbeslote om meer te doen.  Vandag, 4 jaar later, het sy al meer as 80 000 komberse uitgegee en gee vir mense kos deur haar organisasie, Blankets for the Homeless.  As kind was Mariah self afhanklik van die goedheid van vreemdelinge.  Op Kersaand is sy as pasgebore babatjie deur haar ouers verlaat en was twee jaar lank in pleegsorg voordat sy aangeneem is.  Besoek haar organisasie.

14-jaar oue Aziza Rahimzada is skaam en stillerig, maar sy het ’n kragtige stem geword vir die kinders in Afghanistan se vlugtelingkampe.  Vir vier jaar het sy opgestaan teen die slegte omstandighede waarin kinders elke dag moes leef.  In September vanjaar is sy genomineer as een van drie finaliste in die Internasionale Kinder Vredeprys.  Aziza het egter gesê dis belangrik dat die prys nie die lig op haar laat skyn nie, maar op die kinders in vlugtelingkampe:  “My work is only for kids,” sê sy, “I will continue to work for them because in Afghanistan children’s rights are violated in all levels.”  Minder as 60% van kinders was in die laerskool, minder as 35% maak dit tot by die hoërskool.  Baie het min toegang tot skoon water, kos en skuiling.  Aziza, wat self uit ’n vlugtelingfamilie kom.  Sy het gehelp dat 25 000 vlugtelingkinders kan skoolgaan.  Lees meer oor Aziza se werk by NBC News.

Hierdie (en baie soortgelyke stories) kom is hier beskikbaar.

Preekriglyn

Die rolprent Maria Full of Grace vertel die aangrypende verhaal van ‘n sewentienjarige Colombiaanse meisie wat doelgerig en vasberade probeer ontsnap van ‘n land waar die gemiddelde inkomste R20 000 per jaar is. Sy, Maria, is haar naam, gryp na die geleentheid om $5 000 te verdien deur onwettige dwelmmiddels wat in kapsules verpak is, in te sluk en na New York te vervoer. Dit het natuurlik geweldige risiko vir haarself en vir haar ongebore kind.

Regisseur Joshua Marston slaag daarin om verby goedkoop clichés en ‘n moralistiese swart-wit benadering te beweeg. Catalina Sandino Morene speel die rol van Maria met onderskeiding. Wanneer die film begin verdien Maria ‘n klein inkomste deur rose van hul dorings te stroop. Daarmee onderhou sy haar ouma, ma, suster en ‘n nefie. Sy raak swanger, maar weier om met die pa te trou. Na ‘n uitval met haar baas sit sy sonder werk.

Dan kry sy die geleentheid om groot geld te verdien deur 100 kapsules heroïen te sluk en daarmee na die VSA te vlieg. ‘n Seker dood wag op haar as enige van die kapsules breek. Sy word byna in hegtenis geneem deur doane-beamptes in die VSA, waarna dinge erger begin gaan. Maria en haar vriendin, Bianca, oorleef bloot deur vasberade en byna koelbloedig op te tree. Sy toon die vasberadenheid van mense wat hul haglike omstandighede probeer ontsnap. Maria huiwer nie om te doen wat nodig is om te oorleef nie.

Maria is ook ‘n slagoffer. Sy is die slagoffer van welvarende Amerikaanse verslaafdes wat niks sal ontsien om hul dwelmmiddels in die hande te kry nie. Sy word ingetrek in ekonomiese sisteme wat die armes uitbuit vir die plesier van rykes. Sy is ook bereid om te doen wat gevra word. Sy sluk, sy jok by die doane, sy buig die reëls om te oorleef.

Maria is ‘n goeie voorbeeld van jongmense wat struikel oor hul eie swak keuses en onvermoë om te die uitkomste van hul besluite te voorsien. Die film beeld haar multidimensioneel uit. Daarom is dit nie ‘n verrassing dat dit vir ‘n Oscar genomineer is en ook ‘n toekenning op die Berlynse filmfees verkry het nie. Dit het ‘n lys toekennings verwerf.

Waarom is hierdie Maria full of grace? Dalk is dit omdat sy ‘n geleentheid gekry, dit aangegryp en in beter omstandighede beland het? Dalk omdat sy bewaar is van die dwaasheid van haar eie keuses? Dalk omdat sy op kritieke punte deur ander raakgesien en geholpe geraak het? Dalk omdat sy op belangrike momente kies om die regte ding te doen. Dalk is Maria full of grace omdat dit nie net individuele keuse is wat boosheid veroorsaak nie, maar ook bose sisteme. Die genade is dat sy vry kom van ‘n onderdrukkende sisteem.

Waar is God in Maria, die arm Colombiaanse meisie se lewe? Is God die outeur van nuwe moontlikhede? Tel God mense uit hulle ellende op en skep vir hulle nuwe geleenthede? As hulle dwelmsmokkel aangryp, is dit God wat die dwelmmiddels uiteindelik in die wasbak wegspoel? Kan mens God beperk in die geleenthede wat God gebruik om vir mense nuwe geleenthede te gee? Hoe ook al, God is nie net in indiwidue se lewe nie, maar ook in die groot sosiale sisteme van die wêreld.

Mens sien dit ook in die Bybel.

God werk in Maria se lewe

Maar kom ons vestig die aandag op die Bybelse Maria, die moeder van Christus.

Maria self speel ‘n relatiewe klein rol in die Nuwe Testament, maar die rol wat sy wel speel, beide in die Nuwe Testament asook in die lewe van gelowiges oor die wêreld en oor die eeue heen, is onvervangbaar. Haar loflied kan ook nie vervang word nie, maar dien as belangrike bron waardeur God onthul, openbaar, en ervaar word.

Soms word Maria se lied gevaarlik genoem. Dis gevaarlik vir mense wat tevrede en knus in gemaksones leef. Mense wat dink alles in hul verhouding met God is reg. Dis gevaarlik vir mense wat baie het en nie omgee vir hul medemens nie.

Maria se gevaarlike lied en haar omstrede figuur, kan ons sê, bring vyf gevaarlike gedagtes oor God mee. Hierdie gevaarlike gedagtes is verrassende gedagtes. Verrassend, omdat Lukas God beskryf as die God wat soveel anders kyk na mense, soveel anders oordeel oor mense, mense uit hulle ellende optel en versorg, en vir mense genoeg gee om van te lewe.

Maria se loflied staan ook as die Magnificat bekend. Die Magnificat konfronteer lesers met:

  • (1) God wat mense raaksien;
  • (2) God wat mense nie alleen in hulle nood laat nie;
  • (3) God wat getrou bly aan Homself, en daarom;
  • (4) bevryding bring vir almal wat in afhanklikheid van God en in gebrek leef, en;
  • (5) God wat durf ingryp in publieke, politieke kwessies.
God sien alle mense raak

Hierdie verrassende God, wat dikwels soveel anders as mense optree en oordeel, handel deur God se Seun, Jesus Christus. Lukas, soos die ander evangeliste, vertel aan lesers die verhaal van Jesus se verlossingswerk: Jesus se lewe, dood en opstanding.

Elkeen van die evangelies beeld Jesus op ‘n eie, spesifieke wyse uit. Die Lukasevangelie is egter ánders as die ander drie evangelies, omdat dit hierdie selfde verhaal dikwels op ander, verrassende maniere vertel. Een manier waarop Lukas se vertelling verrassend is, is die belangrike plek van vrouens in die storie. Maria is ook die enigste vrou aan wie Lukas ‘n volle verkondigingstoespraak toestaan. Dit beteken dat Maria buitestanders verteenwoordig, mense wat nie in tel  is nie, maar deur God ingesluit word in God se werk deur Jesus Christus.

Lukas skets Jesus uitdruklik as die vriend van buitestanders en uitgeworpenes; die Verlosser wat gestuur is om diegene op te soek en te verlos. Die Magnificat bevat ‘n spesifieke belydenis aangaande God wat in lyn is met Lukas se beskrywing van Jesus, naamlik dat God Hom ontferm oor diegene wat arm, eenvoudig, nietig, verdruk is. Dit is hierdie insluiting van vroue en ander onbelangrike mense binne die samelewing van sy dag wat die omvang van die verlossing in die Lukas-evangelie beklemtoon.

Maria se lofsang bely in die eerste plek God as God wat mense raaksien.

God laat mense nie alleen nie

Tweedens hoor ons in dié lofsang van God wat mense nie alleen laat in hulle nood nie. Die meisie wat die Magnificat sing is onbelangrik, arm, en as ‘n swanger maar ongetroude jong vrou ‘n randfiguur in haar samelewing. Maria se lofsang bely, teen haar omstandighede in, dat God “verlosser”, “saligmaker” is; dat die God wat heilig en magtig is terselfdertyd besorgd is oor mense en hulle nood.

God los mense nie alleen nie – nie vir Maria in haar eie moeilike omstandighede nie, en ook nie vir Israel wanneer hulle God die nodigste sou hê nie. Bowenal is Maria se loflied ‘n geloofsbelydenis, wat getuig van God se betrokkenheid in die wêreld en in strukture en in mense se lewe. In Maria se loflied vind ons die troos van ‘n jong, arm vrou, ‘n “nobody”, wat bely God skaar Homself by die weerloses. Die troos van Maria se geloofsbelydenis lê daarin dat God juis met ons identifiseer, by ons staan, ons bemagtig en ons bemoedig, wanneer ons niks het om te bied nie en wanneer ons verdruk en verneder en verraai word. God kies ons wanneer ons die minste is.

God bly aan Homself getrou

Derdens, lees ons van God wat getrou bly aan Homself, wat niks minder doen as wat Hy reeds in die geskiedenis van Israel gedoen het nie. Dirkie Smit skryf dat God “altyd, deur die eeue, in elke geslag, vir elke nuwe mens, onder elke nuwe omstandigheid . . .” daar is as “die Barmhartige, wat mense in hulle nood aansien, Hom oor hulle ontferm, sy hand uitsteek en magtige dade aan hulle doen”.

Die herinnering aan Israel se bevryding uit Egipte, en die teruggryp na elke oomblik waarin God Israel uit nood sou verlos, word in Maria se loflied telkens veronderstel. God staan Israel by en dink aan sy ontferming oor hulle (54), wat God ook belowe het aan die aartsvaders – Abraham, Isak, Jakob (55). God is getrou omdat God Homself onthou. God vergeet nie sy beloftes aan die aartsvaders en God se uitverkiesing van Israel as verbondsvolk nie.

Omdat God onthou, kan Maria haar op God se trou, op God se onvermoë om Godself te vergeet, beroep. Omdat God aan die kant van die verdrukte volk Israel was, die mense in nood, diegene sonder beskerming of hoop om bevryding uit verdrukking én omdat God nie vergeet nie, kan Maria haar op God se ingryping, beide in haar eie persoonlike lewe (46-49) en in die geskiedenis van Israel (50-55), beroep.

God staan armes en verdruktes by

Vierdens lees ons van God wat aan die kant van armes en verdruktes is. Hierdie is dikwels vir mense wat baie het, wat vrees om baie te verloor, of wat ongewoond is daaraan om die lewe deur mense wat minder het se oë te bekyk dalk die vreemdste en mees gevaarlike karaktertrek van Maria se lied.

Maria se lofsang is ‘n bevrydingslied wat bestaan uit ‘n klomp temas en idees uit verskeie Ou-Testamentiese tekste. Lukas plaas Maria in die tradisie van Hebreeuse profete en sangers. Dit word veral duidelik wanneer Hanna as Ou-Testamentiese parallel vir Maria, in 1 Samuel 2 in ag geneem word.

Hanna se lofsang, waarin ons van ‘n selfs méér radikale belydenis van God se reddingsdade lees, is gesetel in die verhaal van ‘n vrou wat nie kinders in die lewe kon bring nie. Hanna se penarie is egter ‘n bekende een vir die Ou Testament en sy bevind haar in die geselskap van elkeen van die aartsmoeders van Israel – Sara, Rebekka, Ragel – en selfs ook enkele ander, soos Simson se ma, wat slegs deur God se ingryping seuns in die wêreld kon bring.

Maria bevind haarself, soos hierdie vroue, in ‘n situasie waarin sy blootgestel is aan die magte en kragte van die dag. Ánders as Hanna is Maria se probleem nie haar onvermoë om ‘n kind in die lewe te bring nie. Maar sóós Hanna is Maria in ‘n verleentheid, in ‘n ongemaklik posisie, omdat haar omstandighede nie strook met die sosiale konvensies van die dag nie. Tog bely beide vrouens God as God van mense wat verstoot en verwerp word. Elisabet vereer wel Maria, maar Maria vereer God, en in Maria se lofsang, déúr Maria, kry ons God te sien wat Hom skaar by dié wat ly, die “have nots”, die “underdogs”. God, lees ons hier, soos wat ons telkens in die Ou Testament ook lees, ontferm Hom oor diegene wat arm en eenvoudig en verdruk is.

God is polities aktief

Vyfdens lees ons in Maria se lofsang van God wat ingryp in publieke kwessies. In die politiek. In die ekonomie. God se werk is nie beperk tot dit wat die kerk (kan) doen nie. Juis daarom is ons teks vandag ‘n gevaarlike teks.

Dit is gevaarlik omdat dit ‘n baie publieke opinie opper oor publieke kwessies wat vandag nog ons samelewings raak; oor die verdeling tussen ryk en arm, magtiges en weerloses, belangrikes en onbelangrikes.

Dit is gevaarlik omdat dit onverskonend partydig is en aan die kant van nederiges, hongeres, en armes staan. Dit is gevaarlik omdat dit weier om stil te bly en ook binne die Lukasevangelie nie gesnoer kan word deur die boodskap daarvan te vergeestelik nie.

Die oorhoofse tema van Maria se lofsang is dié van sosiale omkeer en bevryding van sistemiese ongeregtigheid: van onderdrukking deur politieke leiers en deur dié wat arrogant en ryk is. Tog  gaan dit hier om meer as ‘n blote klassestryd, skryf Dirkie Smit: “Die diepe geheimenis van Gods neerbuigende liefde vir die armes van hierdie wêreld, val nie saam met die eenvoudige skematiseringe van ‘n klassestryd nie.” Dit gaan liewer daaroor dat Jesus die vriend is van onbelangrike, vertrapte mense; dat God Godself ontferm oor diegene waaroor niemand anders hulle ontferm nie, en; dat die kerk God en Jesus hierin behoort na te volg.

Ons moet hiervan kennis neem. Geen mens wat baie het, en die nood van sy/haar medemens miskyk, kan anders wees as ons hierdie lied oordink het nie. Ons word genooi om soos God te wees. Geen president, of kabinet, of koning wat inpalm en ten koste van ander versamel, kan hierdie lied lees en rustig slaap nie. Die kwaliteit van ons liefde en lewe word gekenmerk deur die kwaliteit van ons hulp aan ander.

Juis in hierdie bekende verhaal – ‘n gunsteling in Advents- en Kerstyd – lê ‘n onthulling van God opgesluit; ‘n belydenis oor God wat die jong meisie Maria raaksien en haar in haar nood, in haar weerloosheid, nie los nie. In Maria se belydenis van wie God is, kry ons God te sien wat by weerloses en gemarginaliseerdes staan.

Maria se loflied bied daarom beide troos én uitdaging. Maria se Magnificat wys heen na wie God is en wat God doen in die lewe van mense, veral weerlose mense, magtelose mense, mense in nood. In Maria se belydenis oor wie God is – háár geloofsbelydenis – vind ons nie nét die troos van God se nabyheid nie, maar ook die uitdaging van God se regverdigheid; nie nét die radikale eis wat op ons lewe geplaas word om te staan waar God staan nie, maar ook die bemoediging dat God die Een is wat deur die eeue heen Homself sou ontferm oor die armes, noodlydendes, nederiges, swakkes, weerloses.

Belydenis oor God

Maria se loflied is niks minder nie as ‘n eie dog tradisionele belydenis aangaande God. Wanneer Jesus jare later sy eerste preek lewer, verkondig hy presies dieselfde boodskap as wat Maria se loflied vroeër sou verkondig. Trouens, eggo’s van Maria se Magnificat slaan in Jesus se preek in die sinagoge in Nasaret (Luk 4:18–19) deur.

In die Magnificat bely Maria God as Verlosser (47) vir almal wat verlossing benodig – armes, onderdruktes, hongeres. Vir Jesus gaan verlossing oor juis dít: troos vir die armes, genesing vir dié met seer, vrylating vir die gevangenes, sig vir die blindes, vryheid vir almal wat gebroke is. In Lukas 4 gaan Jesus se eerste preek oor niks minder nie as die goeie nuus van God se ontferming oor die eenvoudiges, die siekes, die armes, die verdruktes. Trouens, alles wat Jesus in die Evangelie van Lukas doen, bring verlossing vir diegene wat dit benodig. In Jesus word God die Verlosser geopenbaar.

Maria as medegelowige, as dissipel

Maria as medegelowige wys heen na God, en help ons op die geloofsweg om self deel te neem aan die bediening van haar Seun. Maria is ons suster in Christus, ‘n medegelowige en mede-dissipel wat saam met ons op reis is om God te leer ken en dien. Daarom kan ons Maria, én haar loflied, ernstig opneem, nie net vir die rol wat sy speel as moeder van Jesus nie, maar ook vir haar eie teologiese bydrae tot die Bybel se uitbeelding van wie God is en wat God doen, aan die hand van haar geloofsbelydenis-lied.

Die Magnificat dring daarop aan dat alle mense die lewe in volheid, die goeie lewe, moet hê – wat moontlik gemaak word deur God se bevrydende liefde en krag. Vir Maria – as vrou, gelowige en dogter van ‘n volk – is die verlossende God die bron van haar geluk. Op die vierde Sondag van Advent, die vooraand van Kersfees, is dit God se verlossing vir die ganse wêreld wat vir gelowiges, soos Maria, ‘n bron van vreugde en diepte en volheid en geluk tot seën is. Dit is hierdie verlossing vir álle mense, ván alle mense wat ook vir ons as gelowiges, lesers en predikers tot troos en uitdaging kan wees in hierdie Adventstyd.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 334 “God is liefde! Juig ons harte

Seën
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.
Amen.

Respons: Lied 333 “Groot is die Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.