Vierde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die vierde Sondag in Advent fokus op die ouers van Jesus wat hulle gereedmaak vir die geboorte van hulle kindjie. Hy is verwek deur die Heilige Gees en as Verlosser van die wêreld gebore. Op hierdie manier gaan God se beloftes in vervulling (Matt 1:18-25).

Die geboorte van ‘n kind word reeds deur Jesaja voorspel. Dit bemoedig Agas dat die God vir sy volk sal sorg (Jes 7:10-16).

Die volk maak staat op die Here se goedheid. Hulle bid en herinner die Here aan sy goedheid en vra dat Hy sy goedheid aan hulle sal bevestig (Ps 80:1-8, 17-19).

Jesus Christus is die Seun van God wat alles kom doen het sodat die volk gered kan word. Dit moet wêreldwyd vertel word (Rom 1:1-7).

Ander tekste

Jesaja 7:10-16
10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.
12Maar Agas het geantwoord:
“Ek sal niks vra nie,
ek sal die Here nie tart nie.”
13Toe sê Jesaja:
“Luister, geslag van Dawid!
Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel b noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

17“Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal ’n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

Psalm 80:1-7, 17-19
Verskyn tog tot ons redding
80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.

’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God, 
laat dit weer met ons goed gaan, 
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak, 
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek, 
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see, 
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom, 
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God, 
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok, 
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het, 
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Romeine1:1-7
1 Van Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.

2Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. 5Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.

7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Fokusteks

Matteus 1:18-25
Die geboorte van Jesus Christus
(Luk 2:1–7)
18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word en
‘n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
ie naam beteken God by ons.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Ekstra stof

‘n Mens kan die evangelie volgens Matteus indeel op grond van wyse waarop die verhale oor Jesus verweef is aan sy leringe sowel as in terme van die oorhoofse verkondiging van die koms van die koninkryk van die hemel/God (Matt. 4:17):

Inleiding – Jesus se geboorte en die voorbereiding vir sy publieke bediening – hfst. 1-4
1. Die goeie nuus van die koninkryk – hfst. 5-7
2. Die krag en missie van die koninkryk – hfst. 8-10
3. Die gemengde ontvangs van die koninkryk – hfst. 11-13
4. Die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18
5. Die impak en koms van die koninkryk – hfst. 19-25
Slot – Die verhoor, kruisdood, opstanding en Groot Opdrag van Jesus – hfst. 26-28

Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte
Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17 – en sy geboorte waarin gefokus word op beide die rol van Josef, sy aardse pa en die vervulling van die profesieë en beloftes van die OT – Matt. 1:18-25.  Dit gee ons antwoorde op die wat en die hoe vrae oor Jesus se historisiteit en uiteraard die teologiese betekenis daarvan, soos hfst. 2 ons antwoorde gaan gee op die verdere waar en hoekom vrae (Hagner) as voorbereidende begronding van Jesus se bediening waaroor hfst. 3-4 gaan handel.

Die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17
Soos altyd die geval is, geslagsregisters in die Bybel het baie meer om die lyf as wat ons as Westerlinge verwag.  Veral die naam van Jojagin en die vier vroue wat Matteus op verrassende wyse insluit val op.

Jojagin
Matteus werk met die geslagsregister in drie groepe van 14 geslagte elk van Abraham tot by Dawid, van Dawid tot by Jojagin en van Jojagin tot by Jesus.  In plaas van Jojagin lees sommige kommentare hier in die tweede groep eerder sy pa Jojakim – soos sommige Griekse manuskripte dit het – omdat Jojakim die direkte seun van Josia en Jojagin dus Josia se kleinseun was (vgl. 2 Kon. 23:36) en dit dan beteken dat die derde groep ook 14 name het.

Dit oortuig my egter nie.  Matteus laat ‘n hele aantal ander lede van die geslagsregisters in Kronieke uit, onder andere in vers agt vir Ahasia, Joas en Amasia wat via die goddelose Atalia aan die koningshuis van Agab van die noordelike koninkryk verbind was en gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here.  Lees hier meer oor hulle by bybelskool.com en soek vir: 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie; 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here; 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie.  En Jojakim word op baie negatiewe wyse beoordeel in die OT.  Dit verklaar waarskynlik sy weglating.  Lees hier meer daaroor: 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer.

Dit lyk vir my dat Matteus eintlik met die prominensie wat hy aan Jojagin gee, juis die geskiedenis van die jong koning positief wil waardeer, soos dit inderdaad deur die Kronis ná die Ballingskap neergepen is.  Lees hier ook meer daaroor: 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer.

In kort: Jojagin word op die jonge ouderdom van 18 jaar koning in Juda.  Eintlik staan daar in die grondteks van Kronieke dat hy 8 jaar oud was (2 Kron. 36)!  Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C.  Die boek Konings skets vir ons ook ‘n positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).  Hoewel Jeremia aanvanklik baie skerp is in die oordele wat hy oor Jojagin uitspreek (Jer. 22) het hy uiteindelik ook sagter woorde oor hom (Jer. 24).  Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge (waaronder Jojagin) as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye.  Die boek Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ‘n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ‘n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.   ‘n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie. Jojagin word dus uiteindelik positief bejeën in die OT.  Matteus volg dus waarskynlik dié interpretasie lyn in sy eie beoordeling en insluiting van Jojagin in sy geslagsregister.

Dit kan ook wees dat Matteus iets met die getalle van sy onderskeie groepe in die geslagsregister wil sê, hoewel geleerdes baie verskil oor wat dit sou kon wees.  Sommige dink dat Matteus eintlik ses groepe van sewe elk in die oog het, sodat Jesus die sewende groep kan inlei, in navolging van Daniël se sewe weke.  Dit is egter baie moeilik om by hierdie oorspronklike bedoeling uit te kom.  Nie een van die verklarings deur die eeue bevredig my werklik nie.

Die betekenis van die drie-deling van die veertien geslagte elk is duideliker, omdat Matteus daarmee die waarde van Abraham as die vader van die verbond met die Jode, Dawid se familie as uitverkore koningshuis van die Jode en die paradigmatiese betekenis van die  Ballingskap as getuienis van God se verlossende oordeel, uitlig.

Matteus se geslagsregister word ook heeltemal anders weergegee as Lukas s’n (Luk. 3:23-38).  Lukas s’n word in omgekeerde volgorde gegee en loop terug tot by Adam, die “seun van God”, nie net tot by Abraham nie.  Die grootste verskil lê egter in die feit dat Lukas die afstamming via Dawid se seun Natan (een van Dawid se 11 kinders wat in Jerusalem gebore is, net ouer as Salomo – 2 Sam. 5:14) weergee en Matteus via Dawid se seun Salomo (dié een wat hom as koning opgevolg het).  Dit lyk dus asof Lukas met biologiese afstamming werk (die direkte lyn via Natan) en Matteus met die wettige koninklike afstamming.  Daar is ook heelwat geleerdes (op voetspoor van Luther) wat gedink het dat die een geslagsregister eintlik Maria se geslagsregister weergee (gewoonlik word aan Lukas s’n gedink) en die ander Josef s’n.  Dit is egter onwaarskynlik omdat Lukas self die geslagsregister aankondig as dat Jesus Josef se seun is (Luk. 3:23).  Hy werk dus nie met die afstamming via Maria nie (Hagner).

Vier vroue – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija
Wat verder merkwaardig is van Matteus se weergawe van die geslagsregister is dat hy vier vroue daarin opneem – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem.  Soos in Kronieke vermy Matteus Batseba, die vrou van Urija, se naam, waarskynlik om ook aan Urija prominensie te verleen en sy beginselvastheid te beklemtoon, eerder as om noodwendig negatief oor haar te wees.  Die Kronis noem haar Bat-Sua, dieselfde naam as een van Juda se vroue, d.w.s. ‘n stammoeder, wat ook positief interpreteer kan word (1 Kron. 3:3).

Al vier dié vroue het ‘n interessante geskiedenis waarin 1) hulle afkoms van ander volkere, 2) hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as 3) God se genade om hulle te seën, uitstaan:

  • Tamar, waarskynlik ‘n Kanaänitiese vrou, verlei haar skoonpa Juda deur haar te vermom as ‘n prostituut, en hou hom dan op baie slim wyse aan sy beloftes ten spyte van die gevaar vir haarself (Gen. 38);
  • Ragab, die prostituut en ‘n vrou van Kanaän, red die twee verspieders in Jerigo met groot teenwoordigheid van gees ten spyte van die gevaar vir haar eie lewe (Jos. 2);
  • Rut, die Moabiet, nader Boas as Losser ten spyte van die moontlikheid dat sy verwerp kan word (die boek Rut);
  • Batseba, moontlik ‘n Hetitiese vrou (Urija was van Hetitiese afkoms), die een met wie Dawid owerspel gepleeg het, sorg dat Salomo die koningskap verkry wat Dawid belowe het, ten spyte van die moontlikheid dat dit kan boemerang op hulle; ons het geen ander getuienis as haar eie dat hy dit belowe het nie (2 Sam. 12 en 1 Kon. 1-2)!

Die geboorte van Jesus Christus – Matt. 1:18-25
Jesus se geboorte word nou beskrywe in terme van die verhouding tussen Josef en Maria, soos die geslagsregister dit aangedui het, sowel as in terme van die werking tussen God en hulle.

Vyf rolspelers is betrokke:

  • die Heilige Gees uit wie Maria swanger geraak het (vers 18,20);
  • Maria, die moeder van Jesus en verloofde van Josef, wat deur God gekies word om aan Jesus geboorte te gee en beskerm word teen egskeiding en verwerping;
  • Josef, Maria se man, wat beide regverdig (hy wil die wet gehoorsaam) as barmhartig was (hy wil haar nie in die openbaar verneder nie, maar in die geheim skei), word gekies en oortuig om Jesus se aardse pa en Maria se beskermer en lewensmaat te wees;
  • die Engel van die Here wat in ‘n droom aan Josef verskyn en hom intrek in God se plan met Jesus en duidelik die band met die vervulling van die OT beloftes (Jes. 7:14) lê, sowel as aan Josef opdragte gee aan die hand van die openbaring oor nie net die afkoms van Jesus nie (“uit die Heilige Gees“), maar ook sy toekoms (“Hy sal sy volk van hulle sondes verlos“);
  • Jesus, die seun waaroor dit ten diepste in dié gedeelte gaan en as Verlosser (die naam Jesus beteken Verlosser) en Immanuel (God-met-ons – vgl. Jes. 8:8,10) gebore word.

Let op hoe dit baie duidelik gestel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, sowel as nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (vers 18, 25).  Dit word ook geïmpliseer met die aanhaling uit Jes. 7:14 dat die “maagd sal swanger word“.  Die goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee geaksentueer (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie) sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ‘n engel of een of ander ander geestelike of goddelike wese nie).  Dié getuienis het tot die belydenis van die “maagdelike geboorte” gelei, hoewel dit duidelik ook ‘n “goddelike geboorte” is, iets wat vir my nog meer gewig dra en die wonder van die gebeure verhoog.

Dit is ook wonderlik hoe sentraal die idee van ‘n familie in hierdie gedeelte staan, die konteks wat God kies om die grootste transformasie van die menslike geskiedenis in werking te stel.  Dit is dan ook Josef wat Jesus sy naam gee binne die familie-konteks.  Hy gee daarmee aan Jesus ‘n menslike tuiste.

Kan jy oor Jesus praat net uit die OT?

Stel jou voor dat jy net die Ou Testament byderhand het.  Iemand vra jou uit oor Jesus.  Sou jy die OT kon gebruik om Jesus aan iemand bekend te stel?

Dis wat Jesus gedoen het op die pad na Emmaus.  Dit is wat Petrus gedoen het op Pinksterdag. Dit is wat Filippus gedoen het op die pad na Gasa.  Dit is wat Paulus gedoen het regdeur die bekende wêreld van sy tyd. Dit is wat alle Christene van die eerste eeu kon doen, want dié OT was al Bybel wat hulle gehad en geken het.

Dit is ook wat sommige van die vroeg Christelike Apologete in die tweede eeu n.C. gedoen het, al was al die NT boeke al geskryf en die meeste in gemeentes in gebruik. Ons het daarom regtig ‘n herwaardering nodig van die krag van die OT as die Woord van God in ons dag!  Die OT is net soseer die Woord van God as die NT, soos dit inderdaad vir die eerste Christene was.

Michael Reeves, Theologians you should know, vertel hoe die Apologeet Justinus, die martelaar (100-165 n.C.), in sy belangrikste boek, Dialogue with Trypho, gemik op die anti-Christelike aansprake van die Judaïsme, sy argumente NÉT uit die OT voer, omdat dit genoegsaam die evangelie van Jesus Christus verduidelik, selfs sonder die getuienis van die NT wat teen daardie tyd al voltooi en in gebruik was.

Hy skryf as volg:
If you knew, Trypho . . . who He is that is called at one time the Angel of great counsel, and a Man by Ezekiel, and like the Son of man by Daniel, and a Child by Isaiah, and Christ and God to be worshipped by David, and Christ and a Stone by many, and Wisdom by Solomon, and Joseph and Judah and a Star by Moses, and the East by Zechariah, and the Suffering One and Jacob and Israel by Isaiah again, and a Rod, and Flower, and Corner-Stone, and Son of God, you would not have blasphemed Him who has now come, and been born, and suffered, and ascended to heaven; who shall also come again, and then your twelve tribes shall mourn. For if you had understood what has been written by the prophets, you would not have denied that He was God, Son of the only, unbegotten, unutterable God.

Pragtig!  Laat my dink aan Frank Viola en Leonard Sweet se boek, Jesus. A Theography, wat waarskynlik die moderne ekwivalent is van Justinus se werk.  Hulle werk net so kwistig met die OT as Justinus, miskien met ‘n bietjie beter eksegetiese finesse, maar steeds met verstommende insigte oor die verband tussen Jesus van die NT en Jahwe van die OT.

Justinus het vir sy verdediging van die evangelie geboet met sy lewe.  Hy is onthoof. Mag ons net so getrou aan dieselfde Jesus vashou – en die Ou Testament wat alreeds van Hom vertel – al kos dit ons ook ‘n prys.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 80)

Seëngroet: (Romeine 1)

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Aansteek van Adventskerse as verootmoediging / lament

Wet : (Jesaja 7 en Matteus 1)

Skuldbelydenis

Vryspraak:(Handelinge 1)

Loflied 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Epiklese: (Uit Lied 255)

Skriflesing: Matteus 1:18-25

Familie-oomblik
Prediking

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Daar is in die liturgie oa gebruik gemaak van die materiaal uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Advent is die tyd in die kerklike jaar wat ons gereed maak vir die koms van die Here en die aanbreek van sy koninkryk. Dit is ʼn tyd van afwagting waarin ons bewus word God se dade, in die verlede, die hede en die toekoms.

Die versugting van die kerk in Openbaring 22 word met hernude ywer uitgespreek: “Kom Here Jesus.” Die kerk leef in gespanne afwagting dat die Here sal kom en word opgeroep om aktief mee te werk aan die voorbereiding van die wêreld vir sy koms. Hierdie verwagting gaan oor in bruisende vreugde op Kersdag. “Die Koning het gekom en sal weer kom.”

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 80)
Voorganger: 2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
Gemeente: 3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
Voorganger: 4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God…
(Uit Bybelmedia se Preekstudies en Liturgiese Voorstelle, 2001-2002)

Seëngroet  (Romeine 1)
Aan almal in …………………………………… vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
of
Genade en vrede vir julle van God ons Vader
en sy Seun Jesus Christus wat gekom het, hier is en weer gaan kom
en die Heilige Gees wat ook in Adventstyd God se hoop, vrede, vreugde en liefde in ons harte wil laat leef.

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Aansteek van Adventskerse as verootmoediging / lament:  
Hierdie vierde Adventsondag, “Sondag van liefde”, bevestig God se liefde aan ons, want ons beleef die werklikheid dat ʼn maagd swanger geword het en die Verlosser van die wêreld verwag. Ons word geroep om hierdie liefde te gaan leef te midde van ’n harde en liefdelose wêreld.

Vir hierdie “Donker Advent” kan julle ‘n leë Adventkrans, sonder die normale versierings, gebruik. Dalk selfs ’n Adventkrans wat van droë wingerdstokke gemaak is en soos ’n doringkroon lyk.

Gebruik die aansteek van die Adventkers elke week as ’n geleentheid vir voorbidding of klag.  Advent 4 = liefde so fokus op die sonde van rassisme wat steeds ‘n werklikheid is in die samelewing van Suid-Afrika.

Wet: (Jesaja 7 en Matteus 1)
Lees die teks as “oproep om gereed te maak vir die koms van die koning.”
10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

12Maar Agas het geantwoord:
“Ek sal niks vra nie,
ek sal die Here nie tart nie.”
13Toe sê Jesaja:
“Luister, geslag van Dawid!

Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel b noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word en
‘n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.

Skuldbelydenis
Vergewe ons Here waar die wederkoms van Jesus nie vir ons ‘n werklikheid is nie,
waar U beloftes vir ons net vae herinnerings is,
waar ons ongeloof sterk ooreenkom met die verslae dissipels wat eers later verstaan het.
Ons glo dat Jesus as die Seun van God sowat 2000 jaar gelede vir Maria en Josef gebore is
en ons glo dat hierdie Jesus, wat gekruisig is, opgewek is en na die hemel opgevaar het,
weer gaan terugkom soos die engele belowe het. Amen

Vryspraak: (Handelinge 1)
Herinner die gemeente elke week, na die wet as oproep om gereed te maak vir die belofte waarna ons met verwagting uitsien.
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Loflied 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Liedere

F32. “U Is My Krag En My Beskerming”  
(RUBRIEK:  Kruisfuur /FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Mariëtte Labuschagne
© 1995  MAR Gospel Music Publishers
(Psalm 28:7)

U is my krag en my beskerming.
By U kan ek skuil in my nood.
U dra my, U versterk my.
U troos my, U omhels my.
U liefde is groot.
Dankie, my Heer.

F319. “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK:  Flam Gemeentesang / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ‘n kind is vir ons gebore
God het Sy Seun aan ons gegee
Die heerskappy rus op Sy skouers
En Sy Naam sal wees

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God
Ewige Vader, die Vredevors
Immanuel,
God met ons
Immanuel,
God met ons
Immanuel

2. Want so lief het God die wêreld
Hy het Sy Seun aan ons gegee
Sodat die wat nou in Hom glo
Leef tot in ewigheid

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Uit Lied 255)
Woord van God, Woord van die lewe,
Woord vir ewig vas en waar,
Woord onfeilbaar en verhewe
waarin God Hom openbaar!
Woord betroubaar, vas en waar
deur miskenning, deur gevaar
wat sou ons dan ooit laat bewe?
In dié Woord het ons die lewe!

T’rug tot in die grys verlede
bou Gods woord vir ons ‘n brug;
oor die troebel van die hede
open dit ‘n toekomsvlug.
Spreek die Here, word die tyd
oomblikke van ewigheid.
Deur sy Gees laat God, verhewe,
ook in ons sy woorde lewe.

As die skepping selfs verander,
bly Gods woord onwrikbaar staan!
Bo die ruimte, bo die tyd
heers die Heer in ewigheid.
Ons geloof bly vas geanker
in Gods woord wat nimmer wankel!

Skriflesing: Matteus 1:18-25

Familie-oomblik
Prediking

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)
Ek glo in Jesus Christus,
afstammeling van Abraham, met wie God ‘n verbond gesluit het,
en van Dawid, die groot koning van Israel.
Jakob was die pa van Josef, die man van Maria, die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het.
Ek glo in Jesus Christus,
vooruit aangekondig deur God se engel Gabriël,
ontvang van die Heilige Gees,
met die naam Jesus, om sy volk van hulle sondes te verlos;
met die naam Immanuel, om God by ons te wees.
Ek glo in Jesus Christus,
deur God beskik vir geboorte in Bethlehem,
sonder Augustus en Sirenius se beterwete.
Saam met Maria juig ek oor God my redder,
want Hy het ook groot dinge aan my gedoen.
Saam met die sterrekeykers wat goud en wierook en mirre aanbied,
kom bied ek myself aan,
uit dankbaarheid vir God wat onder ons mens geword het.
Saam met die skaapwagters verstom ek my
oor die engelekoor in die hemelruim.
En saam met die engele juig ek:
die goeie nuus is vir die hele volk bedoel-
die Redder is in die stad van Dawid gebore!
Dit is die Messias wat mense van hulle sonde sal vrymaak,
die kind in die houtkrip
wat sy roeping sou vervul aan ‘n houtkruis.

Familie-oomblik

Die versoeking is dikwels om vir kinders “lessies” uit die Bybel te haal.  Wanneer ons egter te veel fokus op die “lessies”, vergeet ons soms om die Bybelverhale self vir die kinders te leer.  Op die ou end ken hulle ‘n klomp morele beginsels, maar nie die Woord wat die basis daarvan is nie.  Daarom stel ons voor dat jy gewoon die verhaal van Josef vir die kinders vertel.

Vir u gerief word die weergawe van  Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999 aangeheg.

Jesus word Gebore
18–19 Nou kom ons by die storie van Jesus se geboorte. Dit het so gebeur:

Maria was verloof aan Josef. Voordat hulle getroud is, het Josef op ’n dag agtergekom Maria gaan ’n baba hê. Hy was baie omgekrap hieroor. Die Heilige Gees* het gesorg dat Maria ’n kindjie verwag. Maar Josef het dit nie geweet nie. Omdat hy die Bybel goed geken het, het hy geweet Maria is in groot moeilikheid omdat sy ’n kind verwag voor sy nog getroud is. Hy het besluit om stilletjies sy goed te vat en pad te gee. Hy wou nie voor almal die verlowing breek nie.

20–21 Terwyl Josef planne gemaak het om Maria te los, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel* wat van die Here af kom, het met hom kom praat. Hy het vir hom gesê: “Josef, jy mag maar met Maria trou. Moenie bekommerd wees nie. Dis die Heilige Gees* wat gesorg het dat sy verwag. Een van die dae gaan sy ’n Seuntjie hê. Noem Hom Jesus. Weet jy, Hy gaan ’n wonderlike ding doen. Hy gaan mense se sondes* wegvat.

22–23 Die engel* het die woorde wat Jesaja in die Bybel geskryf het, daardie nag laat waar word. Jesaja het gesê:

“’n Jong meisie sal ’n seun verwag. As Hy gebore word, sal almal sê Hy is God wat by ons kom bly het.”

24–25 Na die droom het Josef wakker geword. Hy het alles gaan doen wat die Here se engel* vir hom gesê het. Josef het kort hierna met Maria getrou. Maar hy het nie by haar geslaap totdat haar seuntjie gebore is nie. Toe die Seun gebore is, het Josef Hom Jesus genoem.

Maak vingerpoppies om te gebruik wanneer jy die storie vertel.

  • Hier is ‘n patroon vir ‘n mooi, eenvoudige engel van pypskoonmakers.
  • Of gebruik die prentjies hier. (Clip Art deur Phillip Martin.  Jy kan al sy prente gratis gebruik as jy dit nie vir wins doen nie.)  Druk die prentjies op karton, knip dit uit, plak die wit stroke aan mekaar vas en haak dit oor jou vinger.
  • Of maak wasgoedpen-mannetjies volgens die patroon.  Patroon uit “Kom herwaarts, getroues – Skeppende aktiwiteite vir gebruik saam met Bybelverhale” deur Monica Stuart en Gill Soper, Tafelberg Uitgewers.

Preekriglyn

In die Adventstyd / Kerstyd vier ons die feit dat God in Jesus Christus die wêreld aangeraak het. Niks is meer dieselfde nie, want God het in die gestalte van ‘n mens op aarde aangekom. So het God alles verander. Ons ontvang vergifnis van sonde en God gee ons hoop.

Ons teks beklemtoon dit is hierdie wêreld, wat jy met jou sintuie waarneem, wat God kom verander. Ons glo nie in ‘n sprokie of ‘n mite, ‘n mooi verhaaltjie van eendag lank-lank gelede nie. Nee, wat God gedoen het, was om hierdie wêreld aan te raak. Dit doen Hy op ‘n dramatiese manier waarin God en mens met mekaar in verhouding tree. Gewone mense word in hierdie drama betrek. ‘n Gewone maagd raak swanger, ‘n ewe gewone man hoor die blye boodskap en ontferm hom oor Maria en haar seun, wat deur God verwek is. Dit gebeur deur die tussenkoms van die Heilige Gees, wat die nuwe lewe in Maria wek.

Deur Maria, maar ook deur Josef wat die God-mens Jesus tot sy kind aanneem, kom God op die aarde aan. Dit is die vervulling en hoogtepunt van God se werke met sy volk oor eeue heen.

God en mens

Die dinamiese betekenis van ons teks trek verskeie rolspelers bymekaar:

  • die Heilige Gees uit wie Maria swanger geraak het (vers 18,20) – dit is God wat die inisiatief neem om die wonderlike verlossingswerk in en deur Jesus op dreef te bring;
  • Maria, die moeder van Jesus en verloofde van Josef, ‘n geringe meisie uit ‘n geringe dorpie, wat deur God gekies word om aan Jesus geboorte te gee en beskerm word teen egskeiding en verwerping;
  • Josef, Maria se man, wat beide regverdig (hy wil die wet gehoorsaam) as barmhartig was (hy wil haar nie in die openbaar verneder nie, maar in die geheim skei), word gekies en oortuig om Jesus se aardse pa en Maria se beskermer en lewensmaat te wees;
  • die Engel van die Here wat in ‘n droom aan Josef verskyn en hom intrek in God se plan met Jesus en duidelik die band met die vervulling van die Ou Testamentiese beloftes (Jes. 7:14) lê, sowel as aan Josef opdragte gee aan die hand van die openbaring oor nie net die afkoms van Jesus nie (“uit die Heilige Gees“), maar ook sy toekoms (“Hy sal sy volk van hulle sondes verlos“);
  • Jesus, die seun waaroor dit ten diepste in dié gedeelte gaan en as Verlosser (die naam Jesus beteken Verlosser) en Immanuel (God-met-ons – vgl. Jes. 8:8,10) gebore word.
  • Uit die voorafgaande paragraaf (die geslagsregister van Jesus) blyk dat die volk van God, die pad wat God oor eeue vanaf Abraham met sy volk geloop het, ook ‘n belangrike deelnemer is. Vandaar die geslagsregister. Dit beteken dat God oor eeue by mense en wêreld betrokke is, mense leer hoe om Hom te volg, en in Jesu volmaakte voorsiening maak vir sy volk se sonde, want dit is Jesus wat “sy volk van hulle sondes sal verlos” (21).

God en mens, goddelike inisiatief en menslike gehoorsaamheid, oor eeue heen, trek in ons teks bymekaar om die wonderlike hoogtepunt van God se genade te onderstreep: God word mens, sodat God by mense sal wees en daar vir mense verlossing, hoop en ‘n toekoms kan wees.

God kies om nie sonder mense te wees nie. Daarom is ons so bly en dankbaar in die Kerstyd.

Josef

Waar die Lukas-evangelie op Maria fokus, vertel Matteus die Kersverhaal vanuit Josef se perspektief. Net soos Maria besoek van ‘n engel ontvang het, en gekies het om God te gehoorsaam, gebeur dit hier in Matteus se oorvertelling met Josef. Terwyl Lukas se Kersverhaal soos ‘n wonderlike musiekblyspel lees, is Matteus meer sensitief vir die spanning en die intrige wat die wonderlike Kersgebeure by mense skep.

Waar die aankondiging van Jesus se geboorte in Lukas met uitbundige blydskap en vreugde ontvang word, word die nuus met kommer en swye deur Josef ontvang. In Matteus is Josef immers ‘n man met ‘n probleem. ‘n Groot een. Sy verloofde, Maria, was swanger en Josef het geweet dis nie sy kind nie.

Die maagdelikheid van ‘n bruid is, in die antieke wêreld, as ononderhandelbaar gesien vir enige eerbare huwelik. Meisies het tipies rondom hulle twaalfde verjaarsdag verloof geraak waarna hulle onder die gesag van hul toekomstige man geplaas is, al het hulle nog nie hulle ouerhuis verlaat nie. Laasgenoemde het eers gebeur nadat die bruidegom al sy verpligtinge teenoor die bruid se vader nagekom het. Die verlowing het gewoonlik twaalf maande geduur (totdat die meisie puberteit kon bereik) waarna die formele huwelikseremonie sou plaasvind en die bruidegom sy bruid na sy huis sou neem.

Die Ou-Testamentiese wet (Deut 22:23-27) het die verlowing die wetlike status van ‘n huwelik gegee. In lyn met dié gebruik, kan Maria as ‘n jong meisie gesien word wat reeds onder die gesag van Josef was (daarom dat hy moes besluit of die huwelik voortgaan en of hy die verlowing moes breek), maar wat nog nie haar ouerhuis verlaat het nie. Hulle huwelik was met ander woorde nog nie fisiek voltrek nie (25).

Mens verstaan dus Josef se bekommernis. Maria sê blykbaar vooraf ook niks vir hom oor die Goddelike oorsprong van die kind nie. Moontlik was sy bang dat sy van Godslastering beskuldig kon word. Die aanspraak dat die Gees van God ‘n kind by jou verwek het, was sekerlik ‘n gevaarlike een om te maak! Josef het geweet dat as hy Maria sou beskuldig van owerspel, sy, soos die Wet vereis het, gestenig sou word (Deut 22:23-24). Hy wou haar ook nie in die openbaar oneer deur op ‘n verhoor aan te dring om vas te stel waarom sy swanger was nie (was dit as gevolg van verkragting of owerspel?).

Sy enigste ander opsie was om hulle verlowing stilweg te verbreek. Dit sou egter onmoontlik gewees het in ‘n klein dorpie soos Nasaret en in ‘n kultuur waarin verlowings en huwelike familie- aangeleenthede was. Hy sou immers ‘n skeibrief van ‘n rabbi voor getuies moes kry om die verlowing te verbreek.

Daarom is die besoek van die engel aan Josef so belangrik. Dit gebeur in sy slaap. Josef hoor dat die kind in Maria deur die Heilige Gees verwek is. Die Engel vertel wie die Seun is, met verwysing na sy twee name – Jesus (Verlosser) en Immanuel (God by ons). Op hierdie manier trek die engel Josef in by God se plan met die wêreld.

Dit verander alles. Josef kies om God te gehoorsaam. Die Kersboodskap word vir hom ook goeie nuus. Die gedeelte beeld Josef deurgaans op ‘n besondere positiewe wyse uit. Hy is ‘n regverdige man wat, sonder om te aarsel, in volkome gehoorsaamheid aan God se opdragte geleef het en wat sy jong bruid nie oneer wou aandoen nie.

Seun van God én Dawid

Die sentrale tema van ons teks is die name wat Jesus ontvang. Dit beeld sy identiteit en roeping uit. Jesus se name sluit aan by die feit dat Hy waarlik die egte Seun van God is. Oor die herkoms van Jesus gaan dit egter nie vir Matteus oor God wat die seun van Josef aanneem nie, maar eerder oor Josef wat die Seun van God aangeneem het! Sodoende het Hy ‘n Seun van Dawid geword.

Laasgenoemde is vir Matteus belangrik omdat dit vir hom ‘n teken is dat God sy Ou-Testamentiese beloftes aan Dawid gestand sou doen. Hy sou nie alleen sy volk van hulle sondes verlos nie, maar ook by hulle teenwoordig wees. Anders gestel: God se vergifnis sou oorgaan in versoening met sy volk.

Die koms van Jesus is dus deel van die genade wat God oor eeue heen uitgestort het oor sy volk, Israel. Jesus is egter ook goeie nuus vir ons, wat nie Jode is nie. Dit blyk ook al reeds baie duidelik uit Matteus se evangelie:

  • In Jesus se geslagsregister kom die name van vier nie-Joodse vroue reeds voor – God red en sluit wyer as net die Joodse volk in (Matt 1);
  • Terwyl koning Herodes Jesus probeer doodmaak, kom aanbid heidense wyse manne Jesus (Matt 2);
  • Matteus noem op verskeie plekke dat Jesus die lig vir die heidene sal wees (4:15-16 en 12:18-21);
  • die voorbeeld van heidene wat met geloof reageer op Jesus (8:10-11; 15:28);
  • Jesus se belofte dat die evangelie aan alle nasies verkondig sal word (24:14); en
  • Jesus se opdrag aan die einde dat daar van al die nasies dissipels gemaak moet word (28:18-20).

Dit is dus vandag nog vir ons, nie-Jode, oorspronklik uit ‘n heidense agtergrond, goeie nuus dat Jesus die Seun van God én Dawid was. Josef se aanneming van Jesus het groot vrug gedra: dit was die voorspel tot ons aanneming tot kinders deur God.

Die naam Jesus

Die engel sê dat Josef die tans ongebore kind Jesus moet noem, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (21).

Die naam “Jesus” is die Griekse vorm van die Hebreeuse Yēshūa wat “God is verlossing” beteken. Dit was ‘n algemene Joodse naam, wat in Matteus ‘n unieke betekenis kry omdat dit enersyds deur God self aan Jesus gegee is, en vanweë die engel se openbaring dat Jesus sy volk van hulle sondes sal verlos.

Daarmee gee die engel ‘n eerste aanduiding van Jesus se sending. Hierdie naam kom verder in Matteus nog 150 keer voor.  Elke keer herinner die naam ons dat Jesus sy volk van hulle sonde sou red.

Dit beteken dat ons verlede sy mag oor ons verloor. Sonde word vergewe en vergeet. Dit beteken ook dat ons sonde nie langer die pad tussen ons en God, of tussen ons en mekaar toemaak nie. Vergifnis bring bevryding, versoening, nuwe lewensmoontlikhede – tussen God en mens, en mens en mens. Vyande en vervreemdes kan vriende word.

Immanuel

Die engel haal die beloftes uit Jesaja 7:14 aan en sê dat Jesus ook Immanuel, God by ons, genoem sal word.

Jesaja 7:14 is ‘n besondere belofte. In die oorspronklike konteks van Jesaja 7 is dit ‘n belofte van God aan koning Agas om op God te vertrou. As bevestiging van die belofte hoor Agas dat ‘n kindjie gebore sal word. Dit verwys in die eerste plek na die geboorte van Hiskia – in Agas se tyd – in die jaar 734 v.C. uit ‘n jong vrou, Abi, die dogter van Sagaria. Hierdie geboorte is vir Agas ‘n belofte dat hy in gespanne tye nie sy hoop op ‘n militêre verdrag met Assirië moet plaas nie, maar dat hy die Here moet vertrou.

Die engel wys nou uit dat hierdie belofte in die oortreffende trap in die geboorte van Jesus van Nasaret, uit Maria, in vervulling gaan. God gee nie net tekens aan konings in ‘n sekere tyd nie. In sy Seun, Jesus, gee God ‘n teken van hoop aan al die nasies van alle tye. Matteus wysig daarom ook die teks van Jesaja 7:14 wanneer hy dit aanhaal. In Jesaja sal “sy”, die seun se moeder, hom Immanuel noem. In Matteus se aanhaling word dit ‘n jubeling: “hulle”, die nasies, sal in Jesus God se teenwoordigheid herken en “hulle” sal Hom Immanuel noem.

Ja, tot vandag toe, noem ons – saam met die engel – vir Jesus “Immanuel”.  In Hom erken en beleef ons God se teenwoordigheid by ons.

Die oorspronklike teken was in ‘n uitsiglose, hooplose tyd in Israel se geskiedenis gegee. Die engel beklemtoon op ‘n besondere wyse hoe God voorsien in uitsiglose tye. Die verwysing na Jesaja 7:14 beklemtoon immers dat God telkens in die geskiedenis, maar dan op ‘n besondere wyse in die geboorte van Jesus, ingryp om ‘n hoopvolle toekoms vir sy volk te bewerk. Jesus se geboorte is dié deurslaggewende werking van die Gees in die heilsgeskiedenis.

Vir Matteus is God die Verlosser wat in die geskiedenis handel. So gebeur dit dat “terwyl” Josef planne beraam, die engel van die Here na hom gestuur word (20) om aan hom ‘n nuwe roeping te gee. So slaap, droom en doen Josef sonder om ooit ‘n enkele woord te spreek. Dit is eerder God wat praat en handel en inisiatief neem.

Die klem in die gedeelte val dus op die missio Dei waarby gelowiges soos Josef betrek word. Só sou God meermale deur middel van drome ingryp in Josef se lewe (2:13-14, 19-21, 22). Hy sou hom waarsku om met sy gesin na Egipte te vlug, met hulle terug te keer na Israel en spesifiek in Galilea gaan vestig.

In die wroeg-tye van ons lewe – die “terwyl-tye” – wanneer ons self wil planne maak, is dit die beloftes verwoord in die name van Jesus (God red/help, en Immanuel (God is met ons) wat ons vertroos en dra.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gee elke week hier – of tydens die dankoffer – kans dat mense hul gebede / lament op klein kaartjies kan skryf en aan die leë Kersboom kom hang.

Offergawes

Wegsending: Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Seën
God se hoop sal vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
God se vrede sal oor jou hart en verstand die wag hou.
God se vreugde sal jou dra ook deur hartseer tye.
God se liefde sal so ’n werklikheid vir jou wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.