Vierde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Romeine 16 is die slot tot die Romeinebrief, ‘n lofgedig van Paulus wat Jesus Christus as die boodskap van goeie nuus besing. Lukas 1 is ook ‘n lofgedig, hierdie keer van Maria, nadat die engel aan haar verskyn het en sy ingestem het om die ma van die Verlosser te wees.
2 Samuel 7 vertel die verhaal van God wat aan Dawid belowe dat daar altyd ‘n koning uit die huis van Dawid op die troon sal sit, ‘n belofte wat in vervulling gaan met Jesus se geboorte. Psalm 89 is ‘n lofgedig wat God se liefdesdade en trou besing.

Ander tekste

2 Samuel 7:1-11, 16
Dawid wil vir die Here ’n huis bou
(Vgl 1 Kron 17:1–27)
7 Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ’n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ’n tent.”

3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”

4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ’n huis wat met sederhout versier is nie?’

8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ’n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ’n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. 15Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie. 16Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Psalm 89:1-4, 19-26
Die hemel loof u wondermag
89 ’n Gedig van Etan die Esragiet.
2Ek sal altyd sing
van die Here se liefdesdade,
sy trou verkondig
aan komende geslagte.
3Ek sê: “U liefde en u trou
wankel nooit,
dit hou vir altyd stand
in hemel en op aarde.”
4U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit
met my uitverkorene,
Ek het ’n eed gesweer
vir my dienaar Dawid:
5Ek sal vir jou ’n nageslag verseker
vir altyd
en jou troon in elke geslag
laat standhou.”

6Die hemel loof u wondermag, Here,
die hemelinge loof u trou.
7Wie in die hemel kan
met die Here vergelyk word?
Wie onder die hemelwesens
is soos die Here?
8Hy is God, vir Hom
het die hemelse vergadering
’n heilige ontsag.
Hy is magtig, gevrees onder almal
rondom Hom.
9Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
10U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan,
laat U hulle bedaar.
11U het die monster Rahab verbrysel,
hy is verslaan.
Deur u groot mag het U u vyande
uitmekaargejaag.
12Aan U behoort die hemel,
aan U behoort ook die aarde,
die wêreld en alles daarin.
U het alles gemaak.
13Die noorde en die suide,
U het dit geskep;
Tabor en Hermonberg roem u Naam.
14U het ’n magtige arm,
sterk is u hand,
kragtig u regterhand.
15U troon is gebou
op geregtigheid en reg,
liefde en trou staan in u diens.
16Dit gaan goed met die volk
wat kan jubel tot u eer,
wat in u lig lewe, Here.
17Hulle besing u Naam die hele dag,
hulle prys u reddingsdade;
18U is die krag waarin hulle roem.
Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet.

19Ons koning behoort aan die Here,
ja, ons beskermer behoort
aan die Heilige van Israel.
20U het ’n openbaring gegee,
oor u troue dienaar het U gesê:
“Ek het aan ’n held my bystand geskenk,
aan ’n dapper jong man uit die volk
’n ereplek gegee.
21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,
hom met my heilige olie
tot koning gesalf.
22My mag sal hom ondersteun,
my krag sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,
gewetenlose mense
sal hom nie verdruk nie.
24Ek sal sy teëstanders
voor hom verpletter
en dié wat hom haat, verslaan.
25My trou en liefde sal by hom wees:
deur My sal hy oorwin.
26Ek sal sy heerskappy uitbrei
tot oor die see,
sy gesag tot oorkant die riviere.

Lukas 1:26-38
Die geboorte van Jesus word aangekondig
26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ’n maagd in Nasaret, ’n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”

35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”

38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Toe het die engel van haar af weggegaan.

Fokusteks

Romeine 16:25-27
16 Ek beveel ons suster Febe wat dienaar is in die gemeente in Kenchreë, by julle aan. 2Ontvang haar soos dit mense wat in die Here glo, betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle hulp nodig kry, want sy was vir baie, en ook vir my, tot steun.

3Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus 4wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. 5Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.

My groete verder ook aan my liewe vriend Epenetus, die eerste bekeerling vir Christus in die provinsie Asië, 6en aan Maria, wat baie moeite vir julle gedoen het. 7Gee my groete ook aan Andronikus en Junias, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was; hulle is hoog aangeskrewe by die apostels en het voor my al Christene geword.

8En dan stuur ek ook groete vir Ampliatus, my liewe vriend in die Here, 9vir Urbanus, my medewerker in Christus, en vir my liewe vriend Stagis; 10ook vir Appelles—hy het gewys wat in hom steek as gelowige—en die huis van Aristobulus; 11vir Herodion, my volksgenoot, en vir dié uit die huis van Narsissus wat tot die geloof gekom het.

12Groete verder ook aan Trifena en Trifosa, ywerige werksters vir die Here, en aan my liewe Persis, wat al baie vir die Here gedoen het. 13Dra ook my groete oor aan Rufus, die voortreflike werker in diens van die Here, en aan sy moeder, wat ook vir my altyd ‘n ma was.

14En dan ook nog groete aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die broers daar by hulle; 15ook aan Filologus en Julias, Nereus en sy suster en Olimpas en al die ander gelowiges daar by hulle.

16Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

Laaste opdragte
17Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. 18Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.

19Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. 20God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!

21My medewerker Timoteus stuur vir julle groete, en so ook Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote. 22Ek, Tertius, wat die brief neergeskryf het, stuur as ‘n medegelowige ook my groete. 23Gaius, my gasheer en ook gasheer van die hele gemeente hier, stuur ook groete. En dan ook nog groete van Erastus die stadstesourier, en van broer Kwartus. h

h Sommige manuskripte voeg by: 16:24 Die genade van ons Here Jesus Christus is by julle almal. Amen. vgl. 16:20; II Tess. 3:18

Lofprysing
25God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, 26maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees. 27Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.

Ekstra stof

Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het
Let op hoe Paulus hierdie praktiese deel nou koppel aan die voorbeeld van Christus (15:1-6), wie se evangelie ‘n impak op alle nasies het (15:7-13), waarvoor Paulus sy lewe gegee het (15:14-21) en wat hy wil afrond deur hulle te besoek (15:22-33).

15:1-6: Soos Christus nie aan Homself gedink het nie, moet dié wat sterk is in geloof die swakhede verdra (grondteks sê dra) van dié wat nie sterk is nie.  Soos Christus Hom ingestel het op wat ons kan bou in die geloof, só moet ons dit ook vir medegelowiges doen.  Dít doen Hy, en dít moet ons doen, sodat daar eensgesindheid onder die gelowiges kan wees.

15:7-13: Die belangrikste ding wat ons vir mekaar kan doen, is om mekaar te aanvaar, weereens soos Christus dit gedoen het.  Soos Hy persoonlik gekom het om die Jode te dien, so het Hy bedoel dat alle nasies die boodskap kon hoor, onder andere deur die bediening van Paulus.  Let op hoe Paulus uit vier OT gedeeltes aanhaal: Ps 18:50; Deut 32:43; Ps 117:1; Jes 11:10 en dit universeel interpreteer.

15:14-21: Let op hoe beskeie Paulus is teenoor die Romeinse gelowiges en half verskoning vra vir sy uitgesprokenheid (anders as met die Korintiërs!), maar tog trots is op die bediening wat God aan hom toe vertrou het.  Alle lof kom in elk geval God toe wat wonderlike dinge deur sy bediening gedoen het.

15:22-33: Hy hoop heel moontlik om Rome te besoek om as ‘n soort tuisbasis vir hom te dien op sy droom om ook in Spanje die evangelie te gaan verkondig.  Hy vra dat hulle vir hom bid dat dit goed sal gaan in Jerusalem met sy voorgenome besoek daar, hoewel ons uit die verhaal van Handelinge kan agterkom dat dinge nie regtig so maklik vir hom uitgewerk het nie.  Hy is uiteindelik in boeie na Rome en het 2 jaar in die tronk daar gespandeer.  Die tradisie wil dit hê dat hy uiteindelik wel in Spanje uitgekom het, maar dit kan nie met sekerheid bewys word nie.

Hoofstuk 16: Paulus sluit die brief aan die Romeine in hoofstuk 16 af deur ‘n hele klomp persoonlike groeteboodskappe aan ‘n verskeidenheid mense, waarvan sommige verwysings waarskynlik na die (meer as 5) huiskerke verwys (5, 10, 11, 14, 15). Let op dat Priscilla eerste genoem word (4 keer uit die 6 keer wat hulle genoem word in die NT, is dit die geval) wat waarskynlik aandui dat sy die leier was.  Hulle was vermoënd en het in ‘n hele paar gemeentes hul huise tot die gemeente se beskikking geplaas.  Rufus was moontlik die seun van Simon van Sirene (Mark 15:21).

Waarskynlik het Febe die brief gaan aflewer, sy was immers ‘n leraar in die gemeente van Korinte waarvandaan Paulus die brief skrywe.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 332 of VONKK 241

Votum

Lied terwyl vierde kers aangesteek word: Lied 526

Gebed
Seëngroet

Lofsang: Lied 365 of VONKK 256 [bekend] of Flam 368 [bekend]

Wet, skuldbelydenis en genadeverkondiging: Romeine 16:25

Toe-eiening: Lied 334 of Flam 144 of VONKK 41

Hoor

Gebed

Skriflesing: Romeine 16:25-27

Familie-oomblik
Preek

Leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 353 “Die Heiland is gebore”

Seën

Respons: Lied 365 vers 3 laaste twee reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede
Lied 332 “God se liefde, so oneindig” of
VONKK 241 “Ons wil met Kersfees vrolik sing” 

As julle Adventkerse gebruik, kan julle Bybel-media se Woord en Fees voorstel hier gebruik – of die kers kan met onderstaande votum aangesteek word:

Votum
Vandag is die vierde Sondag in Advent, die Sondag van liefde.  Jesus wys vir ons hoe God se liefde lyk.  Hy self is die volmaakte liefde van God in die gestalte van ’n mens. Elkeen wat in hom glo en in hom lewe, leef in liefde. Ons steek vandag die vierde kers aan om ons daaraan te herinner dat God liefde is.

Lied terwyl vierde kers aangesteek word: Lied 526 “Waar daar liefde is”

Gebed
O God van liefde, Immanuel, God met ons.
Ons bid dat u u lig in hierdie dae in ons hart sal laat skyn.
Gee dat ons so in Christus sal bly dat sy liefde ons hele lewe sal vul.
Leef in ons en help ons om in u te lewe.
Amen

Seëngroet

Lofsang: Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied” of
VONKK 256 Vol van vreugde wil ons jubel [selfde melodie as “Herders op die ope velde”] of
Flam 368 O Heer, My God (Dit Maak My Bly [melodie van “O Heer my God”]

Wet, skuldbelydenis en genadeverkondiging
Dink aan die week wat verby is.  Waar het jy God se liefde gesien of beleef?  Waar was God liefde hierdie week sigbaar in en deur jou eie lewe?  Waar was God se liefde nie sigbaar in jou lewe nie?

Tyd vir stil refleksie.
Romeine 16:25
God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig…

Toe-eiening
Lied 334  “God is liefde!” juig ons harte of
Flam 144 God Is Liefde of
VONKK 41 God Is Liefde! Laat Ons Lofsing

Liedere

VONKK 241 “Ons wil met Kersfees vrolik sing”
Teks: Come, let us gather now to sing – tradisioneel; Afrikaans: Jacques Louw 2012 ©
Melodie: COME, LET US GATHER – tradisioneel Ostinaat: Albert Troskie 2013 (Pro Deo)
Musikale verryking: Jacques Louw 2013 © © Melodie: Openbare besit
© Teks, ostinaat en musikale verryking: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:   Kontemporêr – Kersfees en Epifanie

(Kanon)
(1) Ons wil met Kersfees vrolik sing.

(2) Aan daardie Kindjie hulde bring.

(3)  God se liefde uit laat kring.

VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”
Teks: Jacques Louw 2012 © Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Diskant: Jacques Louw 2012 © © Teks, orrelbegeleiding en diskant: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit  RUBRIEK:   Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Vol van vreugde wil ons jubel
en oor God se goedheid sing.
God se liefde vir die mensdom
het sy Seun na ons gebring.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

2. Jesus Christus, die Verlosser,
kom in ons gebrokenheid.
Hy bevry ons uit genade
van ons skuld en sondigheid.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

3. Jesus is ons Lig en Lewe –
wat ’n vaste sekerheid!
By Hom is daar ware vrede,Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

4. Saam met eng’le uit die hemel
wil ons ook ons hulde bring.
“Alle eer aan God, die Here!”,
juig ons in verwondering.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

LW: Instrumentale verwerkings van hierdie melodie vir onder andere fluit, viole, simbale en klokkies, is beskikbaar by die musikale verryking van VONKK 84.

F144. ” God Is Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof) Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”
Teks: God is love – Timothy Rees 1874-1939; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008
© Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942  © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: ABBOT’S LEIGH by CV Taylor (1907-1991) © Oxford University Press.  Reproduced by permission. All rights reserved.
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar,
sal vir ewig by ons bly.

F368. “O Heer, My God (Dit Maak My Bly)”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees)  Musiek: Publieke Domein  Teks: Annalise Wiid
Kopiereg: © 2005 Annie’s Song (geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers)

1. O Heer, my God, U’t baie lank gelede
in mensetaal iets mooi vir ons kom sê:
In Betlehem, as onbeholpe baba,
So weerloos méns, in ’n stal kom lê.

Refrein:
Dit maak my bly, en dit laat my huil,
U liefde is oneindig groot.
Dit laat my huil, en dit maak my bly
dit is só groot – te groot vir my!

2. In die begin het U geskep met woorde
en als wat is, het uit u mond ontstaan.
Toe Jesus mens word, skep U weer, genadig,
vir dié wat glo, ’n nuwe soort bestaan.

Refrein:

3. O Heer, my God, U praat soos lank gelede,
ook nou met ons oor skoon en nuut begin.
En skep in ons iets van die eerste Kersfees
se grootse vrede en verwondering.

Refrein 2:
Dit maak my bly, en dit laat my huil
U liefde is oneindig groot.
Dit laat my huil, en dit maak my bly
dit is só groot – oneindig groot!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Romeine 16:25-27

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybel-Media se Woord en Fees stel die volgende voor:

Die vierde Sondag van Advent is die Sondag van Maria. Staan in die kindertyd stil by Maria se storie.

Carolyn C Brown lig ‘n hele paar punte uit in die verhaal waaroor daar met kinders gepraat kan word. Klik hier daarvoor

Vier van hierdie punte is:
Maria was ‘n profeet. Maria word dikwels uitgebeeld in kerskaartjies en kinderbybels as hierdie sagte, naïewe, stil, besadigde vrou wat alles maar gedweë aanvaar het. Die verhaal in die Bybel, sowel as haar loflied, wys egter dat Maria sterk, braaf, dinamies en aktief is en baie bewus is van die realiteite van haar wêreld. ‘n Mooi verhaal om hierdie te illustreer, is “The best Christmas pageant ever” deur Barbara Robinson en vertel die verhaal van ‘n dogtertjie wat nie gereeld in die kerk kom nie en nie weet hoe Maria gewoonlik uitgebeeld word nie en dan ‘n baie stellige (assertive) en “bossy” Maria uitbeeld wat Josef en die wyse manne op hulle plek sit.

Maria kon ‘n verskeidenheid van verskonings gebruik het toe die engel haar vra om die ma van Jesus te wees, maar sy het nie. Dink saam met die kinders aan moontlike verskonings.

Maria was egter ook ‘n “nobody”, sy kom van ‘n klein plattelandse dorpie af, is jonk en kom uit ‘n arm gesin. Baie mense het haar oor die hoof gesien, maar nie God nie. God kies juis vir Maria.

Net soos Maria kan ons ook fantastiese dinge vir God doen. Vertel ‘n paar verhale van kinders en jongmense wat nou ‘n verskil maak waar hulle bly en selfs verder.

Jy sou ook kon aansluit by die verhaal wat in Bybel-media se Saamkleurpret vir Kersfees vertel word:  Nadat Eva uit die paradys verban is, so vertel ’n ou legende, het sy so bitterlik gehuil dat haar trane op die grond geval het. Waar haar trane geval het, het geel traanvormige lelies opgekom.

Baie, baie jare later het Maria so ’n geel traanvormige lelie gepluk. Toe Maria aan die geel lelie raak, het dit wonderbaarlik wit geword.

Dit herinner ons dat die onskuld wat die mensdom in die paradys verloor het deur Jesus herstel is. Die goue meeldrade van die lelie is soos ’n kroon of ’n stralekrans.

In die ou skilderye van die engel se besoek aan Maria het die kunstenaars altyd ’n spierwit lelie geskilder. In die meeste van hierdie skilderye sal jy dus iewers ’n lelie sien – meestal drie lelies aan een stingel. Aanvanklik is die lelie geskilder in ’n pot wat tussen Gabriël en Maria gestaan het. Tydens die Renaissance het kunstenaars egter begin om die lelie in Gabriël se hand te skilder.

Die lelie is gevolglik ’n simbool van onskuld en reinheid. Eers later het kunstenaars dit in skilderye van Jesus se kruisiging en nog later in skilderye van sy opstanding begin gebruik.

Wys voorbeelde van skilderye waar mense die lelies kan sien.
Hier is ‘n inkleurprent van ‘n lelie, wat kinders (en grootmense!) tydens die preek kan inkleur.  As julle dapper is, vou origami lelies.

Preekriglyn

Baie van ons sal waarskynlik nog goed die opgewondenheid as kinders kan onthou rondom die geskenke by die Kersboom. By ons gesin was dit dikwels so dat ons gou snuf in die neus gekry het as die geskenke reeds aangekoop is en êrens in die huis versteek is. Die volgende paar dae voor Kersfees is dan dikwels gewy aan ‘n soort speurtog wat Jessica Fletcher sou nederig maak. En as ‘n mens dan eindelik sukses met die soektog het, is die volgende uitdaging om die pakkie so oop te maak dat niemand kan sien dat iemand reeds daar ingeloer het nie.

Die enigste probleem met hierdie soort nuuskierigheid is dat Kersdag self dan maar ‘n soort anti-klimaks is. Die pakkie onder die boom met jou naam op het dan sy bekoring verloor. Dis dan soos om ‘n geheim te hoor wat almal reeds ken. Maar natuurlik is die teleurstelling veral groot as jy iets soos ‘n fiets verwag het en die pakkie met jou naam is sag en lyk verdag baie soos twee onderbroeke en twee sakdoeke.

As ons as die kerk vir ‘n groot deel eerlik moet wees, is hierdie oorbekendheid en die teleurstelling dikwels min of meer die gevoel oor die openbaring van God se geheimenis. Die Kersevangelie is vir ons dikwels soos ‘n bekende Kersgeskenk wat lankal nie meer ‘n geheim is nie, waarvoor ons na baie vierings nog min opgewondenheid kan monster. Wat vanweë sy bekendheid ook sy bekoring verloor het.

Mense wat swaar het

Rudolf Bohren, ‘n bekende Duitse teoloog en prediker begin ‘n preek enkele dae voor Kersfees oor hierdie gedeelte in Romeine 16 soos volg:

Ek praat vandag met mense wat dit tydens Kersfees swaar het. Vir mense wat op die fees van die lig die donker van die wêreld ervaar, veral die donkerheid in hulleself. (….) God het mens geword; maar jy bly stom. God het jou alles gegee, maar jy kan nie reageer nie. God het mens geword maar jy bly alleen. Die son het opgegaan; maar die aarde lê in duisternis. God het Homself verander en ‘n Kind geword; maar die wêreld het nie verander nie, want steeds is baie kinders dakloos, word hulle mishandel en selfs vermoor.  Die swaarmoedigheid wat ‘n mens met Kersfees omvou, het baie met die wêreld te doen, wat nog steeds ‘n swaar, donker en verkeerde wêreld is.

Daar is waarskynlik baie van ons wat vanoggend in die kerk hierdie woorde van Bohren sou kon beaam. ‘n Mens sien oral die liggies, jy sien die Kersfeesversierings, jy sien al die tekens van die fees. Maar nie alleen die wêreld nie, maar ook ons eie lewens vertoon so min van die fees.

Die hemelse geheimenis is vir ons ‘n publieke geheim. Ons weet wat die geskenk is wat ons in die kerke van hoor. Ons weet daar gaan niks verander nie. Ons weet die liggies gaan aan, skyn vir ‘n paar weke en gaan weer af sonder dat die wêreld ‘n ligter plek geword het of sonder dat die las wat op ons lewens lê, ligter geword het. Sonder dat die swaar gevoel weggegaan het.

Daarom is die Kersboodskap vir baie mense soos ‘n “cracker”. Dit maak ‘n indrukwekkende lawaai as jy dit trek, en aan die einde onthou jy veel meer van die klap as van die geskenk.

Geheimenis

Paulus praat hier van die openbaring van die geheimenis; die geheimenis wat lank verborge was en met die koms van Jesus bekend geraak het. Dis op hierdie punt wat ons dink of dalk hardop sê: ‘maar dis tog al tweeduisend jaar bekend. Die geheim is uit, maar dit het geen verskil aan die wêreld gemaak nie.’

In hierdie dag en tyd vier en herdenk ons die bekendmaking van die geheimenis. Ons doen al die dinge wat van ‘n mens verwag kan word, ons vertel aan ons kinders die verhaal, ons herleef dit weer deur die Kersmusiek, ons kom op Kersdag byeen, ons stuur aan mekaar goeie wense en Kerskaartjies, ons dra by tot Kersfondse en ons dink weer aan die dag toe God die wêreld in Bethlehem binnegetree het.

Maar die liedere en die wense en die herleef van die verhaal verdryf nie die swaarheid van die lewe nie, die lig verdryf nie die duisternis waarin die wêreld versmoor nie.

H-twee-O

Die Nederlandse digter-dominee, Okke Jager, gebruik ‘n pragtige en verhelderende beeld. Hy sê ons weet dat water gelyk is aan H2O. Maar as jy dors is en iemand bied vir jou ‘n papiertjie aan waarop daar H2O geskryf is, gaan dit nie veel beteken om jou dors te les nie. ‘n Beroemde skrywer het by geleentheid die opmerking gemaak dat in al die toesprake wat hy gehoor het en in al die boeke wat hy gelees het, hy geen water aangebied is nie, maar dat daar alleen vir hom die lied van H2O gesing is.

Daarmee bedoel hy dat sy dors nooit geles is nie, alles wat die mense of die boeke beloof het, het mooi formules gebly, mooi woorde, pragtige strukture of wat ook al. Maar na alles, mooi maar leë woorde.

So kan ons ook dink oor dit wat ons hier lees. En met Kersfees en al sy vierings en dinge wat daaromheen gebeur, is die gevaar inderdaad baie groot dat ons die fout maak om die formules, met ander woorde, al die gebruike rondom Kersfees, met die ware inhoud van die geheimenis te verwar.

In kort: Nie alleen in die wêreld nie, maar ook in die kerk, vergaan mense te midde van ‘n oorvloed H2O, en ‘n tekort aan water.

Teenslae en terugslae

In sy brief aan die gemeente in Rome probeer Paulus om aan die gelowiges te toon dat ‘n lewe van wetsonderhouding, sonder die lewendmakende teenwoordigheid van God nie die weg tot verlossing is nie. Die geheim van die Evangelie, van die Goeie Nuus is dat God die gelowiges vryspreek op grond van dit wat Jesus Christus gedoen het. In die tweede deel van die brief word vir die gelowiges gehelp met die praktiese uitlewing van hulle verlossing in Jesus Christus. Hy gee vir hulle raad hoe om mekaar te behandel en hoe om met verantwoordelikheid in die samelewing op te tree.

Uit Hoofstuk 16 is dit duidelik dat daar baie struikelblokke voor hulle gelê het. Paulus waarsku die gemeente om weg te bly van mense wat verdeeldheid veroorsaak en ook van hulle wat afvallig van die Evangelieboodskap geraak het (16:17). Hy vertroos hulle deur te sê dat God die Satan spoedig onder hulle voete sal vernietig.

Te midde van al die verskillende aanslae wat duidelik vanuit verskillende oorde gekom het moes die gelowiges kennelik bekommerd gewees het oor die feit of hulle werklik in staat sou wees om getrou te bly aan hulle roeping. Te midde van alles wat rondom hulle gebeur het, nie alleen in die kerk nie, maar ook in die wêreld waarin hulle geleef het, is dit duidelik dat die gelowiges hulleself op allerlei maniere bedreig moes gevoel het.

God aan die werk

Nou is dit baie belangrik om te let op die konteks waarin Paulus hier in die afsluiting van die brief oor die openbaarmaking van die geheimenis praat. Wat is dit wat hy hierdeur wil bereik?

Hy begin die gedeelte met die woorde in vers 25: God is magtig om julle te laat vasstaan. …. en dan gaan hy voort …. ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis.

Ons hoor gewoonlik net hier die openbaring van die geheimenis, wat ons weet die Evangelie van Jesus Christus is, terwyl Paulus eintlik besig is om te sê dat God besig is om ‘n pad met ons te loop, dat God met ons, te midde van ons lotgevalle, onderweg is – en dit is waarop dit hier aankom – bokant wat ons voel, déur dit wat ons vrees.

Ons lees hierdie gedeelte dikwels asof hier staan dat God ons sal vashou ooreenkomstig die belofte wat Hy gemaak het, amper soos wat ‘n mens bly sal wees oor ‘n geskenkbewys wat jy gekry het.

Dit is nie wat hier staan nie. Hier staan dat God ons sal vashou ooreenkomstig die openbaarmaking, dit wil sê, die realisering van die belofte. God is nie soos iemand wat ons alleen ‘n geskenkbewys gee wat eintlik niks werd is nie.

Soos wat Okke Jager dit by geleentheid so raak uitgedruk het: “So gesê; dit is die Ou Testament, so gedaan; dit is die Nuwe Testament.”

Meer nog, dit gaan hier nie om woorde of bewyse nie, dit gaan selfs nie eers oor ‘n daad nie, dit gaan oor Iemand. Dit gaan oor Jesus Christus.

Vasgehou deur God self

Daarom, en hierin lê die ondeurgrondelike wonder van die Kersevangelie, ons word nie alleen vasgehou deur ‘n belofte van God nie, ons word nie vasgehou deur ‘n woord nie, ons word vasgehou deur die Woord wat vlees geword het. Ons word vasgehou deur God Self.

Hierdie waarheid word op ‘n ander manier deur Thomas Cahill in sy boek The gift of the Jews verwoord. Hy sê: “Aangesien dit nie bewys kan word dat God bestaan nie, kan dit nouliks bewys word dat Hy met Abraham, Moses of Jesaja gepraat het. Elke leser van die Bybel moet besluit of die Stem wat met die aartsvaders (of die apostels) gepraat het, met hom of haar ook praat. As dit so is, is daar geen bewys vir die bestaan van God nodig nie. Want in die laaste instansie, ‘n mens glo nie dat God bestaan soos wat jy glo dat Timboektoe of die een of ander sterrekonstellasie bestaan nie. ‘n Mens glo in God soos wat jy in ‘n vriend glo.”

Daarom is die bekendheid van die misterie is nie soos die voortydige bekendheid van ‘n Kersgeskenk nie, dis soos eerder soos die bekendheid van ‘n vriend. Hoe meer jy van hom weet, as jy wil, hoe bekender hy word, hoe inniger word die vriendskap.

Daarom is die loflied waarmee Paulus hier afsluit nie soos die lied van H2O nie. Dit is die klank van die Lewende water. Of beter gestel: dit is die Lewende water wat so klink!

Daarom is die prediking van hierdie gedeelte nie soos die bring van ‘n ou-ou tyding nie; dit is soos Miskotte by geleentheid gesê het: “Prediking is ‘n oop-hou van die hande in bewende, maar seker verwagting dat God daarin die lewende Water sal laat vloei, om dit dan so, sonder om te mors, te dra tot in die harte van gekwelde mense.”

En daarom is tenslotte die openbaarmaking van die geheimenis soos die fluistering van ‘n vriend, soos die versekering van ‘n vader: Kyk Ek is nou reeds met julle, al die dae, die goeie en die slegte dae, tot aan die voleinding van die wêreld.

Glystroom

Die Kersboodskap is soos met ‘n fietsryer wat in die glystroom (‘slip stream’) van ‘n groot voertuig ry. Ons kan agter die beweging van God met die wêreld, inkom. God is met ons op pad; met die wêreld op pad na sy ryk. In Christus het Hy vir ons Iemand gegee wie se asem op pad na die ryk nie sal opraak nie. Ons kan aan Hom vashou, ons kan ons hande uitsteek en aan die “bakwerk” wat voor ons is, vashou. Hy is die voertuig na saligheid, tegelyk die weg en die Een wat ons op hierdie weg mee-neem.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 353 “Die Heiland is gebore”

Seën
God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis.
Die genade van die Here Jesus Christus,  die liefde van God en die gemeenskap vir die Heilige Gees sal met julle almal wees. Amen

Respons: Lied 365 vers 3 laaste twee reëls: Almal deur sy koms verlos / dank en loof die Vredevors!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.