Vierde Sondag in Advent

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Lukas 1:39-45, (46-55)
Ander tekste: Miga 5:2-5a; Lukas 1:47-55; Hebreërs 10:5-10

Inleiding

Die ontmoeting van twee swanger vroue beklemtoon die andersheid van God se rewolusionêre reddingsplan. Dit saam met Maria se Magnificat gee ’n ander insig van wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Maria se rol as profeet in hierdie lied open ’n ander verstaan van haar as die soms eng verstaan waarmee ons in die kerk se geskiedenis met haar omgegaan het. (Sien Mosaïek van Maria, Miriam van Nasaret ingeweef in God se verhaal deur dr Lisel Joubert, 2018, uitgegee deur Bybelkor.)

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Musikale voorspel: Lied 320

Aanvangswoord
Voorganger: Maar jy, Bethlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Israel, uit jou sal daar vir My iemand om om ’n heerser te wees in Israel.
Gemeente: My hart loof die Here!

Voorganger: Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die ou dae!
Gemeente: My hart loof die Here! Hy wat was en is en wat kom.

Voorganger: Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir ’n swanger vrou om geboorte te skenk.
Gemeente: My hart loof die Here! My gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien.

Voorganger: Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete.
Gemeente: My siel loof die Here! Want die Allerhoogste het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam.

Voorganger: Hy sal optree en as Herder lei, deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God.
Gemeente: My siel loof die Here! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het.

Almal: My siel loof die Here! Amen (uit Miga 5 en Luk 1).

Aansteek van al vier advent kerse. 

Hebreërs 5:5-10 is gepas by die verootmoediging.

Diens van die Woord

Laat ’n gemeentelid die fokusteks lees.

Voorganger: Die hemel en die aarde sal tot ’n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot’n einde kom nie (Luk 21:33).

Diens van die tafel

Sluit die seën af met hierdie woorde:
Dit terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons Groot God en Verlosser, Jesus Christus – Hy wat Homself terwille van ons gegee het.

Preekstudie – Lukas 1:39-45, (46-55)

Konteks

Die herhaling van die tema van blydskap in Lukas het daartoe gelei dat dit ’n “happy Gospel” genoem is. Dit gebruik meer as enige ander boek in die Nuwe Testament woorde waarvan die wortel verband hou met blydskap. Baie is al geskryf oor die ontstaan van Elisabet en ook Maria se loflied (Luk 1:42-55), maar die belangrike is dat dit goed inpas by hierdie spesifieke omstandighede waarin hulle is.

Ons teksgedeelte handel oor Elisabet se profetiese loflied, ’n lied van vreugde. In Israel was ’n vrou se waarde destyds grootliks bepaal deur haar vermoë om kinders in die wêreld te bring. Dit sit die geslagslyn voort. Elisabet het met die seer geleef dat sy kinderloos is. ’n Kinderlose vrou is beskou as die minste onder vroue, dikwels in die gemeenskap gespot. Op ’n dag het haar man, Sagaria, van sy tempeldiens teruggekom met ’n wonderlike boodskap waaroor hulle net kon droom. Kort daarna het Elisabet swanger geraak en het sy geweet dat God aan hulle ’n kind sou gee. Die gedagte van ’n onvrugbare vrou wat ’n seun baar, is ’n bekende tema in die Skrif. Mens dink aan Sara, Rebekka, Ragel en Hanna. Volgens Lukas was Elisabet en Maria familie. Dit word soms so vertaal dat dit daarop dui dat Elisabet ’n tannie van Maria was. Albei moeders word op wonderbaarlike wyse swanger en kom bymekaar om in mekaar se vreugde te deel.

Op watter wyse sou die prediking tydens Advent aandag kon gee aan die rol van Maria? Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat die Bybel self aandag vra vir Maria. Daar moet gewaak word teen die uiterstes. Aan die een kant moet die Roomse verklaring afgewys word wat Maria verhef tot die Moeder van God, wat op ’n bonatuurlike manier medeverlosser is, en wat ook aanbid moet word. Aan die ander kant moet ’n teenreaksie wat Maria alle betekenis wil ontsê, ook afgewys word. As mens deeglik na die Lukasevangelie luister, dan word haar rol geteken as ’n mededissipel, ’n medegelowige. Sy is deel van dié wat die woord hoor en dit doen. Dirkie Smit sê dat haar saligheid nie daarin lê dat sy fisiek die moeder van Jesus is nie, maar dat sy Gods woord “hoor, bewaar en doen”. Maria moet nie geëer nie, maar nagevolg word. Deur Maria word Jesus met Israel (Matteus) en met die hele wêreld (Lukas) verbind. In haar word die ou en nuwe verbond verbind.

Maria en Elisabet se ontmoeting bring Johannes en Jesus bymekaar, soos verteenwoordig deur hulle ouers. Dit is die bymekaarkom van die teken van die Messias wat sou kom (Johannes) en die vervulling (Christus). Die gedeelte vervul ook twee literêre funksies. Dit bind die geboorteaankondigings saam deurdat Johannes en Jesus bymekaarkom. Dit maak ook die toneel gereed vir die geboorte van Johannes en Jesus, want Elisabet is hier teen die einde van vers 56 al in haar negende maand. Die vertelling beklemtoon ook Jesus se voorrang bo Johannes as die vervulling van God se beloftes. Elisabet is glad nie jaloers nie omdat hulle al twee besef het hulle is net instrumente in God se diens. Elisabet het daarop aangedring dat die kind die naam moes kry wat die Here wou hê. Toe Sagaria die naam neergeskryf het, is dit bevestig en kon Sagaria weer praat. Elisabet speel hier die rol van die een wat God se plan bekendmaak. Sy is hier ’n profetes en Maria word geëer as die draer van die Messias. Mens sou kon sê dat Johannes se profetiese werk alreeds hier in sy moederskoot begin.

Hierdie gedeelte is nou verbonde aan vers 46-56 omdat dit by dieselfde geleentheid plaasvind. Meeste preeksketse kyk daarom na die gedeelte as geheel, vanaf vers 39 tot 56. Vers 39 tot 45 vorm tog ’n afsonderlike deel omdat dit die vertelling van Elisabet bevat, terwyl vers 46-56 Maria se vertelling bevat. Dit is opmerklik dat twee vrouens die eerste ontvangers van die Heilige Gees was (Luk 1:35 en 1:39). Vrouens is dus die eerste wat van Jesus se koms weet. Hierdie hele ontmoeting is so gestruktureer dat die klem op die teenwoordigheid van Jesus val. Alles wat in hierdie verse gebeur is ’n reaksie op die teenwoordigheid van die Seun van God.

Teks

Vers 39. Maria het so pas van die engel Gabriël die mees verrassende boodskap gekry wat enige mens nog ooit ontvang het – dat sy as maagd die moeder sal wees van die beloofde Messias. As bevestiging het die engel vir haar gesê van haar ouer familielid, Elisabet, wat ook ’n wonderwerk sal ervaar deur ’n seun te kry. As direkte uitvloeisel van die engel se aankondiging (36), het Maria haastig na die huis van Sagaria in die bergstreek van Judea gegaan. Die presiese plek word nie genoem nie. Dit was meer as 100 kilometer van Nasaret. Die reis sou 3 tot 4 dae geneem het vir die jong swanger meisie. Maria se haas dui op haar gewilligheid om gebruik te word in God se plan, haar gretigheid om bevestiging te sien van wat aan haar gesê is, asook ’n aanduiding van haar drang om haar diepste gewaarwording met haar vriendin, wat ook familie was en eweneens deur God begenadig is, te deel. Die hele toneel wat volg het die effek dat dit die engel se woorde (26-38) aan Maria bevestig. Maria se swangerskap was menslik onmoontlik, maar die ouer, verstandige Elisabet het wel geglo en was saam met haar bly. Maria en Elisabet deel hulle seëninge, wat die wêreld nie sou verstaan nie, met mekaar. Hulle het begrip vir God wat wonderwerke in hulle verrig. Hulle samesyn sou vreugdevol wees.

Vers 40. In daardie tyd was die groet ’n meer omvattende ritueel wat ook die uitruil van inligting kon omvat. Elisabet en Maria mekaar  nie inlig oor wat met hulle gebeur nie. Lukas gee dit egter nie weer nie en laat die indruk dat Elisabet haar kennis deur die Heilige Gees se werk ontvang het.

Vers 41. Nog voordat Elisabet kon antwoord op die groet van Maria, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg. Dit is waarskynlik nie die gewone beweging van ’n fetus in reaksie op ’n emosionele ervaring van die moeder nie, maar ’n bonatuurlike uitdrukking van emosie van die ongebore baba op hierdie “ontmoeting” met die Messias in Maria se moederskoot. ’n Fisiologiese verklaring mis dus die punt. Dit stem ooreen met die gebeure wat in Genesis 25:22 beskryf word, maar nie in die konteks van ’n tweeling wat met mekaar kompeteer nie. Elisabet is ook met die Heilige Gees vervul en het dadelik geweet wat die goddelike betekenis van hierdie beweging is. Sy begryp nou Maria se situasie en sy verklaar profeties dat dit die begin is van Johannes se rol as wegbereider vir die Messias.

Vers 42 tot 45 bevat Elisabet se loflied. Omdat die gedagte van “seën” herhaal word, word dit ook ’n seënbede of saligspreking genoem. Soos reeds genoem, is daar in haar loflied ook elemente van ’n profetiese verklaring van dit wat gebeur. Die Griekse woord eulogeo vir “seën”, kan die toesegging van seën en geluk insluit, maar ook die viering van die seëninge. Vers 42 tot 45 het ’n groot rol gespeel in die Rooms-Katolieke Kerk se ontwikkeling van die leerstuk oor Maria (Mariologie).

Elisabet is verder geïnspireer om hardop ’n seënbede teenoor Maria uit te roep. Die Griekse woord wat vir “hard uitgeroep” gebruik word, kan ook dien as ’n liturgiese lied. Dit wys meer waarskynlik na ’n betekenisvolle aankondiging. As sy dit hard uitroep, is dit omdat sy opgewonde is en om die gesag daarvan te beklemtoon. Die seënbede is nie bedoel om gerig te wees op iets wat nog moet gebeur nie, maar om die huidige situasie te bevestig. Elisabet se seënbede is tweeledig. In die eerste plek noem sy die seëninge wat sy self ontvang in vers 43: Sy word besoek deur die moeder van haar Here. Hieruit blyk dat Elisabet geweet het dat Maria se kind die Messias sou wees. Elisabet neem ’n nederige posisie in ten opsigte van hierdie spesiale seëning. Dat God se barmhartigheid tot openbaring kom in sy toewending tot die nederige menslike vlees, in Elisabet en Maria se geval, is ook ’n grondervaring van die Christelike geloofsgemeenskap. Die seëning van die kindjie in haar wat van vreugde beweeg (44), is ook vir haar ’n seëning. Dit dui daarop dat die ongebore kind opgewonde is oor dit waarmee God besig is in die swangerskap van Maria. Dat sy, Elisabet, deel hiervan is, is vir haar ’n bron van blydskap. Die koms van Christus bring vreugde.

In die tweede plek spreek sy drie seëninge uit oor ander: eerste, die seën vir die vrou (42). Sy is nie “bokant” ander vroue geseën nie, maar “onder die vroue”, dus “tussen” hulle, as hulle gelyke. Die seën wat Elisabet Maria toesê is nie soos gewoonlik iets wat nog in die toekoms sal gebeur nie, maar is reeds waar vir Maria. Hierdie uitdrukking, “geseënd onder die vroue”, is idiomaties en kom ook elders voor (vgl Rig 5:24). Tweedens, die seën vir die vrug in Maria se moederskoot (42). “Vrug van die moederskoot” is ’n Hebreeuse uitdrukking wat God se seën aandui wat volg op getrouheid aan God. Daarmee seën en vereer sy Christus. Derdens seën sy die teenwoordigheid van geloof (45), spesifiek hier Maria wat glo dat wat die Here vir haar gesê het in vervulling sal gaan. Seën kom vir dié wat in God glo. Hierin moet Maria nagevolg word. Waar vers 42 se wortels in die Ou Testament is, laat val vers 45 die lig op die Nuwe Testament. In Lukas 8:21 sê Jesus dat sy moeder en broers dié is wat sy wil hoor en dit doen. Lukas 11:27 en 28 speel ook hierop in, naamlik dat Maria se saligheid veral daarin lê dat sy die Woord van God hoor en dit doen. Elisabet se gebruik van die derde persoon sluit almal in wat soos Maria glo in God se beloftes.

Preekvoorstel

’n Preek kan moontlik begin met die gedagte dat vreugde of blydskap ’n groot rol in die Lukasevangelie speel en sentraal staan in hierdie kort loflied van Elisabet. Dit gaan hier om drie persone se blydskap, naamlik: die van Elisabet, die van die kind in haar moederskoot (Johannes) en die van Maria. Die belangrikste van die blydskap is egter die bron daarvan, naamlik God se wonderwerkende ingrype in hulle lewe.

Elisabet en Maria se ontmoeting is die bymekaarkom van die teken van die komende Messias (Johannes) en die vervulling daarvan (Jesus), soos verteenwoordig in hulle ouers. Mens sou kon sê hierdie is ’n oorgangspunt vanaf die Ou Testament na die Nuwe Testament. In hierdie verhaal staan Jesus Christus sentraal, soos wat Hy die middelpunt van die hele evangelie is.

Die engel het vir Maria gesê die bevestiging van die Here se belofte aan haar dat sy die moeder sal wees van die beloofde Messias, is dat haar ouer familielid, haar tannie Elisabet, ook ’n wonderwerk sal ervaar deur ’n seun te kry. Daarop het Maria haastig na die huis van Sagaria en Elisabet toe gegaan in die bergstreek Judea. Vanaf Nasaret was dit ’n reis van 3 tot 4 dae deur ’n jong meisie, alleen. Maria is haastig, wat wys op haar gretigheid om bevestiging te kry van wat die engel vir haar gesê het. Soos wat belowe is, is Elisabet, die onvrugbare, toe swanger. Maria se swangerskap was menslik onmoontlik, maar die ouer, verstandige familielid, Elisabet, het wel geglo God sal dit doen en was saam met Maria bly. Maria en Elisabet deel hulle seëninge, wat die wêreld nie sou verstaan nie, met mekaar. Hulle verheug hulle in God wat wonderwerke in hulle verrig, en hulle samesyn sou vreugdevol wees.

Die blydskap van Elisabet
Toe Maria by Elisabet kom en haar groet, het Elisabet, gevul met die Heilige Gees, haar vreugde laat hoor in ’n loflied, met die woord “seën” onmiddellik oor haar lippe. Sy seën Maria en die vrug van haar moederskoot. Agter hierdie woorde is haar eie ingehoue blydskap wat ook deurskemer in die loflied. Sy het ’n gawe van God ontvang waarvoor sy en haar man Sagaria nie eers meer kon bid of hoop nie. Hier, in haar ouderdom, is Elisabet verwagtend. “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem” (Luk 1:25). Die Here het die vrou wat geminag  is se kinderloosheid opgehef en vir haar en haar man nuwe toekomsmoontlikhede geskep. In plaas van die ervaring van mislukking en twyfel, is Elisabet se entoesiasme ’n teken van hoop in ’n tyd wat hoop nodig het.

Hierdie hele ontmoeting van Elisabet en Maria word gevul met die deel van mekaar se vreugde. Elisabet is bly en verwonderd dat die “moeder van my Here” na haar toe kom (43). Dit is ’n voorreg waaroor sy baie nederig voel. Elisabet sou maklik jaloers kon wees omdat Maria die moeder van die Messias sou word. Jesus se voorrang as die vervulling van God se beloftes kom hier pertinent na vore. Tog sien ons by Elisabet diepe vreugde saam met Maria. In plaas van enige vorm van selfhandhawing, deel Elisabet haar vreugde met Maria en deel sy in Maria se vreugde. Elisabet se blydskap borrel behoorlik oor as sy “sing” van die vrou wat geseënd is onder die vroue, die vrou wat gelukkig is omdat sy glo dat God sal doen wat Hy beloof.

Elisabet se blydskap is ook hoorbaar in die manier waarop sy die effek van Maria se groet op die kind in haar moederskoot beskryf (44). Dit bevestig dat God in hulle al twee se lewe ingegryp het en hulle gebruik as instrumente in sy diens. Elisabet se vreugde is hoofsaaklik gerig op hierdie jong vrou wat gekies is om die Messias in die wêreld te bring. Eintlik gaan dit verder: die subteks van Elisabet se blydskap is Jesus Christus self.

Die blydskap van die kind
Nog voordat Elisabet kon antwoord op Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se moederskoot gespring (“leap”). Dit is waarskynlik nie die gewone beweging van ’n fetus in reaksie op ’n emosionele ervaring van die moeder nie, maar ’n bonatuurlike reaksie van die ongebore baba op hierdie “ontmoeting” met die Messias in Maria se moederskoot. Dit sou dalk kon dui op die vervulling van Lukas 1:15, dat Johannes reeds van sy geboorte af vervul sou wees met die Heilige Gees. Elisabet besing die blydskap van die kindjie in haar wat van vreugde beweeg (44). Reeds voor sy geboorte verheug Johannes hom al in Jesus Christus, soos wat hy in sy lewe sou doen (Joh 3:29-30). Dit dui daarop dat die ongebore kind opgewonde is oor dit waarmee God besig is in die swangerskap van Maria. Die koms van Christus bring vreugde.

As Johannes die Doper, sou hy die voorreg hê om die Messias aan die wêreld bekend te stel. Sy lewensroeping sou ’n heenwysing na die Lam wees, ’n oproep om gereed te maak vir Hom. Sy bestemming is sy blydskap. Johannes begin sy bediening reeds in sy moederskoot, deur van vreugde te beweeg.

Die blydskap van Maria
Elisabet se loflied besing ook die blydskap van Maria, ’n vreugdevolle viering van Maria se seën. Van Maria word eerstens gesê dat sy geseënd, salig, gelukkig is onder die vroue. Sy is nie “bokant” ander vroue geseën nie, maar “onder die vroue”, dus “tussen” hulle, as hulle gelyke. Die seën wat Elisabet haar toesê is nie soos gewoonlik iets wat nog in die toekoms sal gebeur nie, maar is reeds waar vir Maria. Hierdie uitdrukking, “geseënd onder die vroue”, is idiomaties en kom ook elders voor (vgl Rig 5:24; Judith 13:18).

Dan is daar die verklaring van Maria se seën: Sy is geseën omdat die vrug van haar moederskoot geseën is. Daarom besing Elisabet tweedens die seën van die vrug in Maria se moederskoot (42). “Vrug van die moederskoot” is ’n Hebreeuse uitdrukking wat God se seën aandui wat volg op getrouheid aan God. Maria is so gelukkig, geseënd, omdat sy aan God gehoorsaam was (“Laat met my gebeur wat U gesê het”, 38). Daarmee seën en vereer Elisabet eintlik vir Christus. Maria se vreugde bestaan daarin dat sy die bron van alle seëninge in haar dra.

Derdens seën sy die teenwoordigheid van geloof (45), spesifiek hier Maria wat glo dat wat die Here vir haar gesê het in vervulling sal gaan. Seën kom vir dié wat in God glo. Maria is ten diepste nie geseën omdat sy die fisieke moeder van Jesus was nie. Sy is geseën omdat sy die woord van God gehoor en dit gedoen het (Luk 8:21; 11:27, 28). Maria moenie vereer en aanbid word as medeverlosser nie, maar haar rol moet ook nie geïgnoreer word nie. Sy is ’n spesiale instrument vir God. Haar rol word beskryf as ’n mededissipel, ’n medegelowige. Sy is deel van dié wat die woord hoor en dit doen. Daarin lê haar saligheid. Maria moet nie geëer word nie, maar nagevolg word as voorbeeld van gehoorsame toewyding aan die Here.

Die prediking van hierdie gedeelte in Adventstyd wil ten diepste die aandag vestig op die ondenkbare gebeure van God wat mens word in Jesus Christus. Sy koms bring ’n toekoms, hoop in ’n vasgeloopte wêreld. Elisabet, Johannes en Maria se blydskap is aansteeklik. Dit maak iets in ons los om ook ’n loflied te wil sing: “Jesus, bron van al my vreugde . . .”

Dit is blydskap wat voortkom uit geloof. Daarom is dit ’n vreemde blydskap, ’n vreugde wat mens nie in jouself het nie, maar in Hom wat die lewe in oorvloed bring. Dit is nie afhanklik van omstandighede nie, maar: Dit is blydskap wat voortkom uit die teenwoordigheid van Jesus Christus, die vervulling van God se beloftes. Blydskap wat sonder skroom of terughoudendheid gedeel word met ander geseëndes, wat vir ander selfs meer geld as vir die self, wat ander na Hom toe heenwys, want dit is blydskap wat voortkom uit die ervaring dat God nie die magtiges en grotes in die wêreld gebruik nie, maar klein, swak mense. Dit bevestig die saligspreking van Matteus 5: Salig is die wat weet dat hulle afhanklik is van God. Dit is mense wat nie so goed op hulle eie regkom nie, wat weet hulle het God nodig, wat hulle kan verheug in Hom.

Bibliografie

Butler, J G 2008. Analytical Bible Expositor: Luke (24). Clinton, I A: LBC Publications; Bock, D L 1994. Luke Volume 1: 1:1-9:50. Baker exegetical commentary on the New Testament (137). Grand Rapids, Michigan: Baker Books; Die Evangelie volgens Lukas. 1998, c1989. Bibliografie; Uitgegee in Opdrag van die Algemene Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling. Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente (Luk 1:41). Kaapstad: NG Kerk Uitgewers; Just, A A (1997, c1996). Luke 1:1-9:50. Concordia Commentary (76). St. Louis, MO: Concordia Pub House; Vosloo, Wil (1997, c1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Luk 1:41). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; Wiersbe, W W (1996, c1989). The Bible exposition commentary. “An exposition of the New Testament comprising the entire ‘BE’ series”-Jkt. (Luk 1:39). Wheaton, Ill: Victor Books.

© Missio 2024 | All rights reserved.