Vierde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die ontmoeting van twee swanger vroue beklemtoon die andersheid van God se rewolusionêre reddingsplan. Dit saam met Maria se Magnificat gee ‘n ander insig van wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Maria se rol as profeet in hierdie lied open ‘n ander verstaan van haar as die soms eng verstaan waarmee ons in die kerk se geskiedenis met haar omgegaan het. (Sien Mosaïek van Maria, Miriam van Nasaret ingeweef in God se verhaal deur dr Lisel Joubert, 2018, uitgegee deur Bybelkor.)

Ander tekste

Miga 5:2-5a
2Hy sal sy mense ’n kort rukkie prysgee,
so lank as dit ’n vrou neem
om ’n kind in die wêreld te bring.
Dan sal dié uit sy familie
wat die ramp oorleef het,
terugkom na die Israeliete toe.
3Hy sal na vore kom en sy volk lei
deur die krag wat die Here hom gee,
deur die sterkte van die Naam
van die Here sy God.
Hulle sal woon tot in die uithoeke
van die aarde,
want hulle leier sal sterk wees.
4Hy sal vrede bring.
Wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan,
sal ons baie leiers,
genoeg generaals, teen hom uitstuur.
5Hulle sal Assirië platloop
met die swaard,
die land van Nimrod met swaarde
wat reg is om te steek.

Lukas 1:47-55
Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Hebreërs 10:5-10
5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:
“Dit is nie diereoffer en graanoffer
wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U
My gegee het.
6Brandoffers en sondeoffers
het U nie behaag nie!
7Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God,
om u wil te doen.
In die boekrol is dit
van My geskrywe.”
8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Fokusteks

Lukas 1:39-45,(46-55)
‘n Woord aan Teofilus
1 Hooggeagte Teofilus!
Daar is baie wat onderneem het om ‘n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. 2Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. 3Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. 4So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.

Die geboorte van Johannes die Doper word aangekondig
5In die tyd van koning Herodes van Judea was daar ‘n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. 6Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. 7Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.

8Op ‘n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. 10Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. 11Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar ‘n engel van die Here aan hom. 12Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, 15want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. 16Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. 17En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.”

18Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ‘n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”
19Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. 20Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

21Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. 22Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel ‘n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. 23Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.

24Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: 25″Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

Die geboorte van Jesus word aangekondig
26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?”

35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”

38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Toe het die engel van haar af weggegaan.

Maria besoek Elisabet
39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ‘n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue
en geseënd is die vrug
van jou moederskoot!
43Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my
van vreugde beweeg.
45Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”

Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Johannes die Doper
57Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy ‘n seun in die wêreld gebring. 58Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.
59Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. 60Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”
61Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!”
62Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. 63Hy vra toe ‘n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. 64Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.
65Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. 66Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?”

Dit was duidelik dat die Here by hom was.

Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68″Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoeken vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ‘n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76″En jy, kindjie,
‘n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Ekstra stof

Lukas 1:1-56 – Twee Godsmanne word vir twee Godsvroue belowe
Hoofstuk 1 vertel die verhaal van:

  • die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser (1:1-38),
  • die reaksie daarop van twee groot Godsvroue, Maria en Elisabet (1:39-56) wat gekontrasteer word met die reaksie van Elisabet se man Sagaria (1:5-25) en
  • die geboorte van Johannes die Doper waarop sy pa se tong loskom en hy uitbars in lof aan God en ‘n profesie oor beide Johannes en Jesus (1:57-80).

1:1-4
Dit is belangrik om 2 goed in vers 1 te hoor :

  • dat Lukas eintlik sê dat hy skryf oor die dinge wat onder ons vervul is (Afrikaanse vertaling gebeur) omdat dit die band met die verlede onderstreep;
  • dat die doel van sy skrywe is om sekerheid te bring rondom die verhaal van Jesus. Daarom baseer hy sy verhaal op ooggetuies (veral Markus, maar ook Matteus, soos ons uit ‘n vergelyking van hulle evangelies kan agterkom).  Waar hy sê dat hy in volgorde skryf, is dit die volgorde van Markus se verhaal, nie soseer kronologies nie.

Die verwysing na Herodes beteken dat dié gebeure voor ons jaartelling moes plaasgevind het, want Herodes is dood in die jaar 4 vC.

1:5-25:
Let op dat die eerste aankondiging van die engel Gabriël in ‘n gebedsomgewing gedoen word, waar die hele volksmenigte besig was om te bid, terwyl Sagaria die wierook op die altaar gebrand het (1:9-11).  Hy het ook sy eie gebed daar gebid, vir ‘n seun (vers 13).  Laat my dink aan die toneel in die hemel waar Jesus die sewende seël oopmaak terwyl ‘n engel wierook saam met die gebede van al die gelowiges aan God offer (Open 8:1-5).  Betekenisvolle gebeure gaan meesal met gebede saam en het ‘n hemelse impak!

Sagaria en Elisabet word as getrou aan die wet van God beskryf (eintlik regverdig voor God in die Grieks) wat God se gebooie en voorskrifte nagekom het.  Hulle was uit ‘n suiwer priesterlike familie, omdat albei uit priesterlike families afkomstig was.

Sagaria word deur die lot aangewys om die diens in die tempel te verrig (1 Kron 24), wat onpartydigheid illustreer deurdat niemand voorgetrek word nie, maar ook beteken dat dit ‘n uitsonderlike voorreg was wat nie noodwendig baie in ‘n priester se lewe kon gebeur het nie.  Sagaria maak daarom ook eers klaar met sy dienswerk voor hy dit met Elisabet gaan deel.

Maar juis hierdie voorreg word die moment waar die buitengewone gebeur, met die engel wat ‘n besondere boodskap vir hom bring.  En die boodskap is nie net ‘n verhoring van sy gebed vir ‘n eie seun nie, maar die belofte van ‘n Seun vir die volk wat hulle sou verlos.
Let op hoe Lukas van die begin af beklemtoon dat hierdie gebeure die werk van die Heilige Gees is.

Sagaria word verkwalik vir sy vraag, anders as wat die geval was met Abraham (Gen 15:8) en Gideon (Rigt 6:17).  Ook anders as met Maria net hierna.  Dit kan wees dat sy vraag eintlik sy twyfel geopenbaar het, of hy nog in staat sou wees tot vaderskap, terwyl Abraham en Maria eerder na die proses uitgevra het, en Gideon na sekerheid aangaande die engel se status.  Hoe dit ook al sy, die engel tree beslis op met ‘n teken van stomheid, wat eers met die geboorte van Johannes verbreek is.

1:26-38:
Die vraag oor die maagdelike geboorte, en die debat oor Jes 7:14 se betekenis is eintlik net van akademiese belang, want Maria was duidelik ‘n maagd uit haar eie (en Josef se) getuienis.
Die hoofboodskap hier is vir my dat niks vir God onmoontlik is nie, niks!

1:39-45:
Maria reageer onmiddellik op die inligting wat die engel haar oor Elisabet gee. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haar verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel.

En sy kry nog ‘n dieper bevestiging as net dat die engel se woorde vervul sou word. Elisabet kry woorde van die Heilige Gees, en noem Maria “moeder van my Here” sonder dat Maria nog enigsins begin vertel het van wat die engel gesê het. En sy noem Maria gelukkig (eulogêmenos – letterlik: [mense sal oor] goedpraat [oor jou]) omdat sy die boodskap aan haar geglo het.
Let op dat die Een wat die belofte gegee het, en die Een wat gebore sou word, met dieselfde naam, Here, genoem word. Dit bevestig nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus.

1:46-56:
Dit tref my dat Maria se loflied aanhak by wat Elisabeth oor Maria gesê het, dat sy gelukkig is. Sy brei dit aan die een kant verder uit deur te sê elke nuwe geslag sal haar, soos Elisabeth, gelukkig noem.

Maar aan die ander kant gebruik sy ‘n ander woord vir gelukkig, makarios (salig), wat die betekenis van ‘n toesegging het, dws iets wat God oor haar uitspreek, soos Jesus dit inderdaad in die Bergrede sou gebruik (teenoor Elisabet se woord eulogêmenos – letterlik goedpraat). En sy lê klem daarop dat die geluk nie is omdat sy gehoorsaam was nie, maar omdat God groot dinge aan haar gedoen het.  Wat my leer, selfs gehoorsaamheid kan ‘n aanleiding tot hoogmoed wees.

En sy brei uit op die groot dinge wat God in die verlede deur die geslagte gedoen het. Hy bewys ontferming aan geringes en hoogmoediges jaag Hy uitmekaar. God duld nie hoogmoed nie.

Wat my laat terugdink aan ‘n tyd in my lewe wat ek te belangrik in my eie oë geraak het. En die tyd van worsteling met teenstand wat ek ervaar het oor (wat ek gedink het) onverwante goed was, was eintlik die Here se hand op my lewe om my aan Sy voete te kry.

Daar is geen ander manier om voor God te wees nie, as om bewus te wees van jou afhanklikheid van Hom nie. Dit is behoeftiges (grondteks praat van  peinoontas, hongeriges) wat Hy oorlaai (grondteks praat van volmaak met goeie dinge) nie rykes en hoogmoediges nie.  Hy stuur hulle leeg weg!

Let op hoe dit die herinnering aan God se beloftes van ontferming is, wat Hom laat optree om uitkoms te gee vir Sy volk, sy dienaar Israel. Dié uitkoms het met die koms van Jesus, die Verlosser, te make.

Wat my leer, die impak van ‘n belofte aan ‘n gelowige hou nooit op nie, want God bly altyd getrou aan sy beloftes.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus, ons verlange.vs 1,2,3,4,”

Aanvangswoord

Seëngroet
Sang: Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, Hy kom vs 1,2,3,4,5,6”

Ons sluit aan by die tema van hierdie Sondag, liefde.

Skriflesing: 1 Johannes 4:7-21

Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied: 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 1:39-55

Familie-oomblik
Prediking
‘n Gebed aan die begin van die Kerstyd
Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
“Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die klem op die vierde Sondag van Advent val op die liefde. Die Een wat voorspel is, is die Immanuel. Hy beliggaam God se liefde. Hy maak God se hart sigbaar. Hy is God met ons. Hy is liefde.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus, ons verlange.vs 1,2,3,4,”

Aanvangswoord
Voorganger: Maar jy, Bethlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Israel, uit jou sal daar vir My iemand kom om ’n heerser te wees in Israel.
Gemeente: My hart loof die Here!

Voorganger: Sy oorsprong is uit die verre verlede,uit die ou dae!
Gemeente: My hart loof die Here!Hy wat was en is en wat kom.

Voorganger: Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir ’n swanger vrou om geboorte te skenk.
Gemeente: My hart loof die Here! My gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien.

Voorganger: Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete.
Gemeente: My siel loof die Here! Want die Allerhoogste het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam.

Voorganger: Hy sal optree en as Herder lei, deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God.
Gemeente: My siel loof die Here! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het.

Almal:  My siel loof die Here! Amen (uit Miga 5 en Luk 1).
Aansteek van al vier advent kerse.
of
Voorganger (V): Vandag is die vierde Sondag van Advent, die Sondag van Liefde.
Gemeente (G):   Jesus wys vir ons hoe God se liefde lyk.
Hy self is die volmaakte liefde van God in die gestalte van ’n mens.
Elkeen wat in Hom glo en in Hom lewe, leef in liefde.
Liefde verander alle dinge en vergaan nooit nie.

V: Ons steek vandag die vierde kers aan om ons daaraan te herinner dat God liefde is.
Ons dank God vir die hoop wat ons van Hom ontvang, vir die vrede wat Hy skenk,
vir die vreugde wat Hy ons harte uitstort en vir die liefde waarmee Hy ons verlos.
G: U is Immanuel, God met ons. U is die God van liefde.

(Die vierde kers word aangesteek.)
V: O God van liefde, Immanuel, God met ons, ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons
hart sal laat skyn. Help ons om gereed te wees vir die dag wanneer Christus finaal verskyn.
Gee dat ons so in Christus sal bly dat sy liefde ons hele lewe sal vul.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Vernuwe ons deur die krag van u Gees, sodat ons aanbidding, ons feesviering en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig.
G: Amen.
(Uit Handleiding vir die Erediens. Wellington: Bybel-Media 2012: 202)

Seëngroet
Genade vir julle en hoop, vrede, vreugde en liefde van God ons Vader en van Jesus Christus, wat gekom het, hier is en weer kom, en van die Heilige Gees.

Sang: Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, Hy kom vs 1,2,3,4,5,6”

Ons sluit aan by die tema van hierdie Sondag, liefde.

Skriflesing: 1 Johannes 4:7-21

God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Gebed
Hemel Vader, groot is u Naam,
Heilig en volmaak,
Oneindig u liefde en genade.

Heilige Gees,
kom maak ons bewus van liefde,
wek ons geestelik op,
sodat ons u liefde vir ons
kan ontdek,
kan ervaar.

God van liefde, ons het u nodig,
help ons om mekaar lief te hê,
sodat ons nooit liefde weerhou nie.

Laat ons lewe in u Liefde,
met die begeerte na liefde,
sodat ons volmaakte liefde
teenoor ons medemens openbaar.
Want waar u liefde heers,
heers daar vrede.

Here Jesus leer ons van
u liefde,
skenk ons u vrede
sodat ons dit kan lewe, vir u.
Amen.

Die gebed is ook hier beskikbaar

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied: 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Liedere

F323. “Goeie Nuus” 
(RUBRIEK: Flammikidz / Flam – Kersfees)
Teks en musiek: Marcel en Lydia Zimmer
Oorspronklike titel: Goed Nieuws
Afrikaanse vertaling: JP Bruwer, Marcel en Lydia Zimmer
© 1999 Celmar Music
(Nav Jes 9:5)

Refrein:
Goeie nuus, goeie nuus
sing saam met eng’le kore!
Goeie nuus, goeie nuus
Jesus is gebore, Jesus is gebore.

“Wonderbare Raadsman”
1. Hy wil jou altyd bystaan
in alles, dag en nag.
Ja, in jou hele lewe
gee Hy jou raad en krag.

“Sterke God”
Hy is die allerbeste,
geen ander is soos Hy.
Die magtigste en sterkste
sal Hy vir altyd bly.

Refrein:

“Ewige Vader”
2. En Hy is soos ’n Vader
so baie lief vir jou.
Hy dra jou in Sy arms
jy kan op Hom vertrou.

“Vredevors”
Hy gee jou ware vrede
vir nou en vir altyd.
En dié wat in Hom glo
sal leef in ewigheid.
Refrein:

“Immanuel”
3. Hy is ook altyd by jou
en altyd om jou heen.
En waar jy ook al rondgaan
laat Hy jou nooit alleen.
Refrein:

F368. “O Heer, My God (Dit Maak My Bly)”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees)
Musiek: Publieke Domein
Teks: Annalise Wiid
Kopiereg: © 2005 Annie’s Song (geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers)

1. O Heer, my God, U’t baie lank gelede
in mensetaal iets mooi vir ons kom sê:
In Betlehem, as onbeholpe baba,
So weerloos méns, in ’n stal kom lê.

Refrein:Dit maak my bly, en dit laat my huil,

U liefde is oneindig groot.
Dit laat my huil, en dit maak my bly
dit is só groot – te groot vir my!

2. In die begin het U geskep met woorde
en als wat is, het uit u mond ontstaan.
Toe Jesus mens word, skep U weer, genadig,
vir dié wat glo, ’n nuwe soort bestaan.

Refrein:

3. O Heer, my God, U praat soos lank gelede,
ook nou met ons oor skoon en nuut begin.
En skep in ons iets van die eerste Kersfees
se grootse vrede en verwondering.

Refrein 2:
Dit maak my bly, en dit laat my huil
U liefde is oneindig groot.
Dit laat my huil, en dit maak my bly
dit is só groot – oneindig groot!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.
Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word
Sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.

Skriflesing: Lukas 1:39-55
Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

In vers 43 maak Elisabet ’n aangrypende uitspraak: as sy die ongebore Jesus reeds “haar Here” noem. In vergelyking met ons, wat werk met “geloof as kennis en vertroue”, en die mense van haar tyd, wat werk met “sien is glo” (vgl. Thomas in Joh. 20), is Elisabet eintlik ’n uitsondering. Die vraag wat amper outomaties by ons opkom is: Hoe kry sy dit reg? Vers 41 gee die antwoord: “… sy is met die Heilige Gees vervul”

Om aan kinders iets daarvan te verduidelik, gebruik die voorbeeld van ’n doedelsak. Dalk kan jy een iewers leen of iemand kry wat dit kan bespeel.
Die doedelsak is nie op sy eie iets wat kan werk nie, maar as iemand van buite af lug kan inblaas, is die potensiaal daar dat daar klanke kan uitkom. Jy kan ook verder die beeld van die doedelsak ondersoek en iets maak van iemand wat die doedelsak moet bespeel om die regte klanke te kry en ook iemand wat ’n bietjie druk op die doedelsak moet uitoefen voordat daar klank uitkom. Ons klank kom mos ook op die beste uit as daar iets is wat druk op ons uitoefen, of as ons buite ons gemaksone beweeg…

Preekriglyn

Die tema van blydskap word dikwels in Lukas se evangelie herhaal. Daarom word dit dikwels ‘n “happy Gospel” genoem. Dit gebruik meer as enige ander boek in die Nuwe Testament woorde waarvan die wortel verband hou met blydskap.

Kinderloos

Ons teksgedeelte handel oor Elisabet se profetiese loflied, ‘n lied van vreugde. In Israel was ‘n vrou se waarde destyds grootliks bepaal deur haar vermoë om kinders in die wêreld te bring. Dit sit die geslagslyn voort. Elisabet het met die seer geleef dat sy kinderloos is. ‘n Kinderlose vrou is beskou as die minste onder vroue, dikwels in die gemeenskap gespot.
Op ‘n dag het haar man, Sagaria, van sy tempeldiens teruggekom met ‘n wonderlike boodskap waaroor hulle net kon droom. Kort daarna het Elisabet swanger geraak en het sy geweet dat God aan hulle ‘n kind sou gee. Die gedagte van ‘n onvrugbare vrou wat ‘n seun baar, is ‘n bekende tema in die Skrif. Mens dink aan Sara, Rebekka, Ragel en Hanna.
Volgens Lukas was Elisabet en Maria familie van mekaar. Dit word soms so vertaal dat dit daarop dui dat Elisabet ‘n tannie van Maria was. Albei moeders word op wonderbaarlike wyse swanger en kom bymekaar om in mekaar se vreugde te deel.

Fokus op Maria

Die rol van Maria in die Nuwe Testament verg ons aandag. Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat die Bybel self aandag vra vir Maria. Daar moet gewaak word teen die uiterstes.

  • Aan die een kant moet die Roomse verklaring afgewys word wat Maria verhef tot die Moeder van God, wat op ‘n bonatuurlike manier medeverlosser is, en wat ook aanbid moet word.
  • Aan die ander kant moet ‘n teenreaksie wat Maria alle betekenis wil ontsê, ook afgewys word.

As mens deeglik na die Lukasevangelie luister, dan word haar rol geteken as ‘n mededissipel, ‘n medegelowige. Sy is deel van dié wat die woord hoor en dit doen. Dirkie Smit sê dat haar saligheid nie daarin lê dat sy fisiek die moeder van Jesus is nie, maar dat sy Gods woord “hoor, bewaar en doen”. Maria moet nie geëer nie, maar nagevolg word. Deur Maria word Jesus met Israel (Matteus) en met die hele wêreld (Lukas) verbind. In haar word die ou en nuwe verbond verbind.

Teken en vervulling

Maria en Elisabet se ontmoeting bring Johannes en Jesus bymekaar, soos verteenwoordig deur hulle ouers. Dit is die bymekaarkom van die teken van die Messias wat sou kom (Johannes) en die vervulling (Christus). Die gedeelte vervul ook twee literêre funksies. Dit bind die geboorteaankondigings saam deurdat Johannes en Jesus bymekaarkom. Dit maak ook die toneel gereed vir die geboorte van Johannes en Jesus, want Elisabet is hier teen die einde van vers 56 al in haar negende maand.

Die vertelling beklemtoon ook Jesus se voorrang bo Johannes as die vervulling van God se beloftes. Elisabet is glad nie jaloers nie omdat hulle al twee besef het hulle is net instrumente in God se diens. Elisabet speel hier die rol van die een wat God se plan bekendmaak. Sy is hier ‘n profetes en Maria word geëer as die draer van die Messias. Mens sou kon sê dat Johannes se profetiese werk alreeds hier in sy moederskoot begin.

Dit is opmerklik dat twee vrouens die eerste ontvangers van die Heilige Gees was (Luk 1:35 en 1:39). Vrouens is dus die eerste wat van Jesus se koms weet. Hierdie hele ontmoeting is so gestruktureer dat die klem op die teenwoordigheid van Jesus val. Alles wat in hierdie verse gebeur is ‘n reaksie op die teenwoordigheid van die Seun van God.

Haastige reis

Die engel het vir Maria gesê die bevestiging van die Here se belofte aan haar dat sy die moeder sal wees van die beloofde Messias, is dat haar ouer familielid, haar tannie Elisabet, ook ‘n wonderwerk sal ervaar deur ‘n seun te kry.

Daarop het Maria haastig na die huis van Sagaria en Elisabet toe gegaan in die bergstreek Judea. Vanaf Nasaret was dit ‘n reis van 3 tot 4 dae deur ‘n jong meisie, alleen. Maria is haastig, wat wys op haar gretigheid om bevestiging te kry van wat die engel vir haar gesê het.

Soos wat belowe is, is Elisabet, die onvrugbare, toe swanger. Maria se swangerskap was menslik onmoontlik, maar die ouer, verstandige familielid, Elisabet, het wel geglo God sal dit doen en was saam met Maria bly. Maria en Elisabet deel hulle seëninge, wat die wêreld nie sou verstaan nie, met mekaar. Hulle verheug hulle in God wat wonderwerke in hulle verrig, en hulle samesyn sou vreugdevol wees.

Drie persone se blydskap

Dit gaan in ons teks om drie persone se blydskap, naamlik:

  • die van Elisabet,
  • die van die kind in haar moederskoot (Johannes) en
  • die van Maria.

Die belangrikste van die blydskap is egter die bron daarvan, naamlik God se wonderwerkende ingrype in hulle lewe.

Blydskap van Elisabet

Toe Maria by Elisabet kom en haar groet, het Elisabet, gevul met die Heilige Gees, haar vreugde laat hoor in ‘n loflied, met die woord “seën” onmiddellik oor haar lippe. Sy seën Maria en die vrug van haar moederskoot.
Agter hierdie woorde is haar eie ingehoue blydskap wat ook deurskemer in die loflied. Sy het ‘n gawe van God ontvang waarvoor sy en haar man Sagaria nie eers meer kon bid of hoop nie. Hier, in haar ouderdom, is Elisabet verwagtend. “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem” (Luk 1:25). Die Here het die vrou wat geminag is se kinderloosheid opgehef en vir haar en haar man nuwe toekomsmoontlikhede geskep. In plaas van die ervaring van mislukking en twyfel, is Elisabet se entoesiasme ‘n teken van hoop in ‘n tyd wat hoop nodig het.
Hierdie hele ontmoeting van Elisabet en Maria word gevul met die deel van mekaar se vreugde. Elisabet is bly en verwonderd dat die “moeder van my Here” na haar toe kom (43). Dit is ‘n voorreg waaroor sy baie nederig voel.
Elisabet sou maklik jaloers kon wees omdat Maria die moeder van die Messias sou word. Jesus se voorrang as die vervulling van God se beloftes kom hier pertinent na vore. Tog sien ons by Elisabet diepe vreugde saam met Maria. In plaas van enige vorm van selfhandhawing, deel Elisabet haar vreugde met Maria en deel sy in Maria se vreugde. Elisabet se blydskap borrel behoorlik oor as sy “sing” van die vrou wat geseënd is onder die vroue, die vrou wat gelukkig is omdat sy glo dat God sal doen wat Hy beloof.
Elisabet se blydskap is ook hoorbaar in die manier waarop sy die effek van Maria se groet op die kind in haar moederskoot beskryf (44). Dit bevestig dat God in hulle al twee se lewe ingegryp het en hulle gebruik as instrumente in sy diens. Elisabet se vreugde is hoofsaaklik gerig op hierdie jong vrou wat gekies is om die Messias in die wêreld te bring. Eintlik gaan dit verder: die diepere bron van Elisabet se blydskap is Jesus Christus self.

Blydskap van die kind

Nog voordat Elisabet kon antwoord op Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se moederskoot gespring. Dit is waarskynlik nie die gewone beweging van ‘n fetus in reaksie op ‘n emosionele ervaring van die moeder nie, maar ‘n bonatuurlike reaksie van die ongebore baba op hierdie “ontmoeting” met die Messias in Maria se moederskoot. Dit sou dalk kon dui op die vervulling van Lukas 1:15, dat Johannes reeds van sy geboorte af vervul sou wees met die Heilige Gees.
Elisabet besing die blydskap van die kindjie in haar wat van vreugde beweeg (44). Reeds voor sy geboorte verheug Johannes hom al in Jesus Christus, soos wat hy in sy lewe sou doen (Joh 3:29-30). Dit dui daarop dat die ongebore kind opgewonde is oor dit waarmee God besig is in die swangerskap van Maria. Die koms van Christus bring vreugde.
As Johannes die Doper, sou hy die voorreg hê om die Messias aan die wêreld bekend te stel. Sy lewensroeping sou ‘n heenwysing na die Lam wees, ‘n oproep om gereed te maak vir Hom. Sy bestemming is sy blydskap. Johannes begin sy bediening reeds in sy moederskoot, deur van vreugde te beweeg.

Blydskap van Maria

Elisabet se loflied besing ook die blydskap van Maria, ‘n vreugdevolle viering van Maria se seën.
Van Maria word eerstens gesê dat sy geseënd, salig, gelukkig is onder die vroue. Sy is nie “bokant” ander vroue geseën nie, maar “onder die vroue”, dus “tussen” hulle, as hulle gelyke. Die seën wat Elisabet haar toesê is nie soos gewoonlik iets wat nog in die toekoms sal gebeur nie, maar is reeds waar vir Maria. Hierdie uitdrukking, “geseënd onder die vroue”, is idiomaties en kom ook elders voor (vgl Rig 5:24; Judith 13:18).
Dan is daar tweedens die verklaring van Maria se seën: Sy is geseën omdat die vrug van haar moederskoot geseën is. Daarom besing Elisabet tweedens die seën van die vrug in Maria se moederskoot (42). “Vrug van die moederskoot” is ‘n Hebreeuse uitdrukking wat God se seën aandui wat volg op getrouheid aan God. Maria is so gelukkig, geseënd, omdat sy aan God gehoorsaam was (“Laat met my gebeur wat U gesê het”, 38). Daarmee seën en vereer Elisabet eintlik vir Christus. Maria se vreugde bestaan daarin dat sy die bron van alle seëninge in haar dra.
Derdens seën sy die teenwoordigheid van geloof (45), spesifiek hier Maria wat glo dat wat die Here vir haar gesê het in vervulling sal gaan. Seën kom vir dié wat in God glo. Maria is ten diepste nie geseën omdat sy die fisieke moeder van Jesus was nie. Sy is geseën omdat sy die woord van God gehoor en dit gedoen het (Luk 8:21; 11:27, 28).
Maria moenie vereer en aanbid word as medeverlosser nie, maar haar rol moet ook nie geïgnoreer word nie. Sy is ‘n spesiale instrument vir God. Haar rol word beskryf as ‘n mededissipel, ‘n medegelowige. Sy is deel van dié wat die woord hoor en dit doen. Daarin lê haar saligheid. Maria moet nie geëer word nie, maar nagevolg word as voorbeeld van gehoorsame toewyding aan die Here.

Boodskap

Die boodskap van hierdie gedeelte in Adventstyd wil ten diepste die aandag vestig op die ondenkbare gebeure van God wat mens word in Jesus Christus. Sy koms bring ‘n toekoms, hoop in ‘n vasgeloopte wêreld. Elisabet, Johannes en Maria se blydskap is aansteeklik. Dit maak iets in ons los om ook ‘n loflied te wil sing: “Jesus, bron van al my vreugde . . .”
Dit is blydskap wat voortkom uit geloof. Daarom is dit ‘n vreemde blydskap, ‘n vreugde wat mens nie in jouself het nie, maar in Hom wat die lewe in oorvloed bring.
Dit is nie afhanklik van omstandighede nie, maar: Dit is blydskap wat voortkom uit die teenwoordigheid van Jesus Christus, die vervulling van God se beloftes. Blydskap wat sonder skroom of terughoudendheid gedeel word met ander geseëndes, wat vir ander selfs meer geld as vir die self, wat ander na Hom toe heenwys, want dit is blydskap wat voortkom uit die ervaring dat God nie die magtiges en grotes in die wêreld gebruik nie, maar klein, swak mense.
Dit bevestig die saligspreking van Matteus 5: Salig is die wat weet dat hulle afhanklik is van God. Dit is mense wat nie so goed op hulle eie regkom nie, wat weet hulle het God nodig, wat hulle kan verheug in Hom.

God stuur ons om te leef

‘n Gebed aan die begin van die Kerstyd
Heilige God, en in Jesus Christus ons liefdevolle Vader, ons sien uit na die sinvolle viering van die geboorte van ons Verlosser.
Gee genadiglik dat ons Kersfees in die regte gesindheid sal tegemoet gaan. Suiwer ons gees van bitterheid en haat, ons wil van onwaardige motiewe, en ons siele van gebruike wat vir U onterend is. Laat elke geskenk gepaard gaan met opregte liefde en elke groete kaartjie ‘n belydenis wees van ons geloof in U.

Ons hunker, o Vader, na die eenvoudige skoonheid van Kersfees: onopgesmuk met die klatergoud en die skitterligte van die wêreld. Gee nuwe betekenis aan elke ou bekende melodie van Kersfees. Laat dit opnuut tot ons deurdring dat God méns geword het- ‘n Kind in ‘n krip- sodat mense met God versoen kan raak en Hom weer Vader mag noem.
Mag hierdie versoening tussen God en mens lei tot versoening tussen mens en mens. Mag ons die vrede waarvan die engele gesing het, nie as ‘n ydele droom sien of as ‘n onmoontlike ideaal nie, maar laat ons deur geloof ons deel doen om dit ‘n werklikheid te maak.

Gee tog dat die goedheid en glorie van die Kerstyd nie slegs ‘n kort rukkie in ons harte vertoef nie. Gee dat dit daar sal bly sodat, wanneer ons terugkeer na ons elke dag se pligte en bekommernisse en verantwoordelikhede, ons selfs in die koue van Junie maand nog die warmte van Kersfees in ons harte sal beleef.
Ons bid dit in die Naam van Jesus wat gekom het om mense van hulle sondes te verlos en vir ons Immanuel- God met ons- te wees. Amen
(Outeur onbekend)

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur hartseer tye.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, Basisliturgie vir Avent)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
“Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.