Vierde Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die vierde Sondag van Advent is die Sondag van liefde waar ons fokus op Maria, die moeder van Jesus, wat bereid was om die diensbaar aan die Here te wees. Ons weet die Here is op pad en het vir ons plek gereed gemaak.

Ander tekste

2 Samuel 7:1-11, 16
Dawid wil vir die Here ’n huis bou

(Vgl 1 Kron 17:1–27)
7 Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ’n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ’n tent.”

3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”

4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ’n huis wat met sederhout versier is nie?’

8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ’n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig.

12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ’n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. 15Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie.

16Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Romeine 16:25-27
Lofprysing
25God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, 26maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees. 27Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.

Lukas 1:26-38
Die geboorte van Jesus word aangekondig
26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ’n maagd in Nasaret, ’n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”

35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”

38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Toe het die engel van haar af weggegaan.

Fokusteks

Psalm 89:1-4, 19-26
Die hemel loof u wondermag
89 ’n Gedig van Etan die Esragiet.
2Ek sal altyd sing
van die Here se liefdesdade,
sy trou verkondig
aan komende geslagte.
3Ek sê: “U liefde en u trou
wankel nooit,
dit hou vir altyd stand
in hemel en op aarde.”
4U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit
met my uitverkorene,
Ek het ’n eed gesweer
vir my dienaar Dawid:
5Ek sal vir jou ’n nageslag verseker
vir altyd
en jou troon in elke geslag
laat standhou.”
6Die hemel loof u wondermag, Here,
die hemelinge loof u trou.
7Wie in die hemel kan
met die Here vergelyk word?
Wie onder die hemelwesens
is soos die Here?
8Hy is God, vir Hom
het die hemelse vergadering
’n heilige ontsag.
Hy is magtig, gevrees onder almal
rondom Hom.
9Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
10U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan,
laat U hulle bedaar.
11U het die monster Rahab verbrysel,
hy is verslaan.
Deur u groot mag het U u vyande
uitmekaargejaag.
12Aan U behoort die hemel,
aan U behoort ook die aarde,
die wêreld en alles daarin.
U het alles gemaak.
13Die noorde en die suide,
U het dit geskep;
Tabor en Hermonberg roem u Naam.
14U het ’n magtige arm,
sterk is u hand,
kragtig u regterhand.
15U troon is gebou
op geregtigheid en reg,
liefde en trou staan in u diens.
16Dit gaan goed met die volk
wat kan jubel tot u eer,
wat in u lig lewe, Here.
17Hulle besing u Naam die hele dag,
hulle prys u reddingsdade;
18U is die krag waarin hulle roem.
Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet.
19Ons koning behoort aan die Here,
ja, ons beskermer behoort
aan die Heilige van Israel.
20U het ’n openbaring gegee,
oor u troue dienaar het U gesê:
“Ek het aan ’n held my bystand geskenk,
aan ’n dapper jong man uit die volk
’n ereplek gegee.
21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,
hom met my heilige olie
tot koning gesalf.
22My mag sal hom ondersteun,
my krag sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,
gewetenlose mense
sal hom nie verdruk nie.
24Ek sal sy teëstanders
voor hom verpletter
en dié wat hom haat, verslaan.
25My trou en liefde sal by hom wees:
deur My sal hy oorwin.
26Ek sal sy heerskappy uitbrei
tot oor die see,
sy gesag tot oorkant die riviere.
27Hy sal My aanroep met die woorde:
‘U is my Vader,
my God, die rots wat my redding is.’
28Ek stel hom eerste,
die magtigste koning op aarde.
29Vir altyd handhaaf Ek my trou
teenoor hom;
my verbond met hom staan vas.
30Ek sal vir hom altyd
nakomelinge verseker
sodat sy troon vas sal staan
so lank daar ’n hemel is.
31As sy nakomelinge nie handel
volgens my woord nie
en nie lewe volgens my bepalings nie,
32as hulle my voorskrifte verontagsaam
en my gebooie nie nakom nie,
33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf
en hulle oor hulle sonde
met swaar slae tref.
34Maar my liefde sal Ek van hom
nie terughou nie,
my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie versaak nie,
nie een van my beloftes terugtrek nie.
36Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê,
en my woord aan Dawid
sal Ek nie verbreek nie:
37daar sal altyd nakomelinge
van hom wees,
sodat sy troon so blywend soos die son
sal wees.
38Soos die maan sal dit altyd daar wees.
Solank die hemel daar is,
sal dit vas bly staan.”
39Maar nou het U in u toorn
tog u gesalfde verstoot en verwerp.
40U het die verbond met u dienaar
nie in ag geneem nie,
sy kroon tot in die grond vertrap.
41U het al sy stadsmure afgebreek,
sy vestings in puin gelê.
42Almal wat daarlangs kom, beroof hom;
die buurvolke behandel hom
met minagting.
43U het sy teëstanders laat seëvier,
al sy vyande laat juig.
44U het hom voor die vyand laat vlug,
hy kon nie staande bly in die oorlog nie.
45Aan sy koninklike luister
het U ’n end gemaak,
sy troon teen die grond gegooi.
46U het sy jeugdige krag gebreek
en hom diep verneder.
47Sal U dan vir altyd u hulp weerhou,
Here?
Sal die vuur van u gramskap
dan bly brand?
48Dink tog daaraan hoe kort die lewe is,
hoe min daar in die lewe is
vir al die mense wat deur U geskep is.
49Watter mens leef daar
wat die dood nie sal sien nie,
wat homself kan red
uit die mag van die doderyk?
50Waar is u liefde van vroeër, Here,
wat U in u trou
plegtig aan Dawid belowe het?
51Dink, Here, aan die smaad
wat my aangedoen is,
aan alles wat ek moes verduur
van baie volke.
52Die mense
van wie hierdie smaad kom,
is u vyande, Here,
dit is u gesalfde vir wie hulle smaad
waar hy ook gaan.
53Aan die Here kom die lof toe
vir altyd. Amen, ja, amen.

Ekstra stof

Die Psalmboek is die mees praktiese boek in die Bybel, omdat dit ons leer hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof.  Op die koop toe help die Psalms ons op onvergelyklike wyse met die emosies wat ons oor die hele spektrum van die lewe ervaar.   Dit spreek nie net ons intellek aan (kognitief), of leer ons hoe om gehoorsaam te wees nie (konatief).  Dit help ons ook om emosioneel gesond voor God te lewe (affektief).

Soos die Psalmboek na die terugkeer uit die ballingskap saamgestel is om as Liedboek van die volk in die tempel en sinagoges gebruik te word in die liturgie (Esra 2:65; 3:10-13 – 200 sangers en sangeresse het teruggekom na die ballingskap en die volk begelei met trompette en simbale!), só is dit ook vir ons vandag die Liedboek wat vir ons eie praktiese persoonlike geestelike lewe sowel as vir die gemeente in die liturgie gebruik kan word.

Om regtig met aandag die Psalms nie net weer te begin lees nie, maar veral te begin bid en te sing, sal ons help om dieper met God om te gaan, en dit met die woorde wat Hyself vir ons gegee het om te gebruik.  Die Psalms help ons om van ‘n oor-God gesprek na ‘n met-God gesprek te beweeg. Die Psalms sal jou keer om in ’n oppervlakkige en vervelige manier van bid te verval, en jou gemeenskap met God verdiep om nie net jou eie emosies en gedagtes nie, maar ook die ervarings van die hele lewe in te sluit in jou lewe voor en met God.

Psalm 89 is die laaste Psalm in die derde Psalmboek (Psalms 73-89) wat afgesluit word met 89:53 – “Aan die Here kom die lof toe vir altyd. Amen, ja, amen.

Dit veronderstel meesal die ballingskap en val van Jerusalem – 6de eeu vC – met die vrae en dreigende wanhoop wat dit in die lewe van die volk opgeroep het.  Dit is diep en donker wroeginge oor die toekoms, waarin die voorspoed van die onregverdiges en goddeloses tot baie vrae en worstelinge aanleiding gee.  Ons vind hier dus meesal Klaagpsalms met Psalm 73 die inleiding wat die tema van twyfel eerlik op die tafel sit, weliswaar met die uiteindelike boodskap dat twyfel wel in die nabye teenwoordigheid van God tot rus kom.

Hiermee wys die Psalms dat die lyding en verydeling van hierdie lewe nie ontwyk kan en selfs mag word nie.  Die Psalms nooi ons uit na ‘n “honest facing of the darkness” soos Breuggemann dit stel (The Message of the Psalms, 1984:12).  En die rede waarom ‘n mens dit kan doen, is omdat die Psalms so sterk beklemtoon dat daar Iemand is in die duisternis wat aangespreek kan word, tot Wie gebid kan word (Ps 2).  En nog dieper, dat daar Iemand in die duisternis is wat kan antwoord en dinge kan verander.  So word ons ervarings in die lewe getransformeer, nie deurdat dinge noodwendig ligter of makliker word nie, maar omdat God by ons is in die donker (Ps 23).

Hierdie Psalm verwoord egter die vreugde van nuwe heroriëntasie Psalms oor die verrassende nuwe verandering wat God bring en waar “joy breaks through the despair”.  Dit pas dus uitstekend aan die einde van die donkerte waarmee die voorafgaande Psalms hoofsaaklik geworstel het, en loof die Here vir die lig wat Hy laat deurbreek het vir hulle.  Die lof kom uit die ervaring dat die bekers van hulle lewens weer oorloop – en “We delight to praise what we enjoy because the praise not merely expresses but completes the enjoyment” (CS Lewis, Reflections on the Psalms, 81).

Liturgie

Die vierde Sondag van Advent is die Sondag van liefde waar ons fokus op Maria, die moeder van Jesus, wat bereid was om die diensbaar aan die Here te wees. Ons weet die Here is op pad en het vir ons plek gereed gemaak.

Oorweeg om die diens te begin met die Familie-oomblik (ingevoeg).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Aansteek van die vierde Adventskers
Kersfees is nou baie naby. Ons is vandag by die laaste kers in die Adventskrans. Ons steek die kerse aan om ons te herinner dat Jesus ons Ewige koning is wat kom om ons te kom haal. Jesus het ons so lief dat Hy sy lewe gegee het om te betaal vir ons sonde. Ons is skoongewas deur Jesus se bloed sodat ons sonder ʼn skuldige gewete voor God kan staan. Jesus het ons lief, daarom doen Hy dit vir ons. Deur hom te gehoorsaam, bewys ons dat ons Hom ook liefhet.

Vra ’n kind om 1 Johannes 4:9-11 te lees:
9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.

Ons steek die kers aan om die koms van die lig van God na die wêreld te verkondig. Toe Jesus as mens gebore is, het Hy God se liefde aan ons bewys. Hierdie groot liefde help ons om God lief te hê en ook ons naaste soos ons self.

Vra ’n kind om die laaste kers aan te steek.

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3” of Flam 60 “U liefdeslied vir my”

Aanvangswoord
16Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Johannes 3:16 OAV)

Seëngroet
7Aan almal in ……………………vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Romeine 1:7)

Lied 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Verootmoediging: Lees Lukas 1:26-38
Die geboorte van Jesus word aangekondig
26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ’n maagd in Nasaret, ’n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”

35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”

38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Toe het die engel van haar af weggegaan.

Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, Hy kom vs 1,2,5,6”

Geloofsbelydenis: ahv Luk 1:46vv (Die loflied van Maria)
“Ek besing
die grootheid van die Here,
ek juig oor God, my Verlosser,
omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
God praat met ons en ons luister

Epiklese: Adventsgebed, Outeur: Unitas fratrum (Morawiese Broeders) 16de eeu
Almagtige God, ons Hemelse Vader, U kom altyd u beloftes na.
Ons dank U dat U u enigste Seun gestuur het toe die tyd daarvoor reg was.
Saam met u hele kerk vier ons Sy koms.
Ons verheerlik u, ons genadige Vader,
en u Seun, ons koning van Sion,
en die Heilige Gees.
Here, U is ons Koning – in die Naam van die Vader bid ons dat U ons in staat sal stel om hierdie adventstyd reg te vier:  in ons harte, met ons woorde, en deur ons lewens aan U toe te wy.
Stort asseblief u oorvloedige seën oor ons uit.
Stel ons in staat om met entoesiasme na u Woord te luister,
om dit te vertrou en in geloof te aanvaar,
sodat ons die vreugde van u Gees kan ervaar en aan u ons bewondering kan bring.
Laat ons U dien, die God wat mens geword het, ons Verlosser,
nou hier op aarde, in u kerk,
maar ook vir altyd in u Koninkryk.
Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)

Skriflesing: Psalm 89

Prediking
God stuur ons om te leef
Gebed

Wegsending: Lied 508:1,2 “Vaste rots op wie ek bou”

Seën: 2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 314

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens / Getuienis)
Teks en Musiek: Deon Roberts
© 2000  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ‘n God is wat van alles weet,
Wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou
En soms vergeet ons weer
dat ons ‘n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

FLAM 112 (b) “Ek Roem U Naam”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: I lift my hands
Musiek: André Kempen
Teks: Braam Hanekom  (met toestemming André Kempen)
© 1989 Kempen Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II;  Opgeneem op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek roem u Naam,
ek wil graag sing.
Ek wil U eer,
U hulde bring.
want daar is trou en liefde by U, Heer.

Refrein:
Ek wil voor u almag buig,
met my hele hart getuig
van u groot ontferming,
genade vir ‘n sterfling.
Ja, daar is geen einde aan u liefde nie

2. My diepste nood
bring ek voor U.
Ek bid tot U,
ek vra U, Heer,
sien my tog raak, genees my grootste seer.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gebruik die aansteek van die vierde Adventskers as familie-oomblik.

Jy kan ook vir die kinders die verhaal van A Christmas Carol van Charles Dickens vertel.  Die verhaal begin op Oukersaand in die 1840’s, presies 7 jaar na die dood van Ebenezer Scrooge se vennoot, Jacob Marley.  Scrooge is ‘n gulsige, vrekkige besigheidsman.  Van vriendelikheid, omgee, simpatie en barmhartigheid wil hy niks weet nie.  Op die spesifieke Oukersaand waarsku Marley se spook vir Scrooge dat hy sy lewe moet verander.

Deur die loop van die nag word Scrooge deur drie verskillende spoke besoek.  Die eerste, die Spook van Kersfees in die Verlede, vat Scrooge terug na sy kinderjare.  Dit herinner die ou man aan ‘n tyd toe hy nog onskuldig was, en laat in sy gees ‘n sagter kant groei.  Die tweede spook, Die Spook van Kersfees in die Teenswoordige Tyd, vat Scrooge na ‘n klomp verskillende plekke:  ‘n plesierige mark waar mense kos koop vir hul kers-etes, ‘n familiefees van Scrooge se armoedige sekretaris, ens.  In die proses groei daar by Scrooge ‘n sin van verantwoordelikheid vir ander mense.  Die laaste spook, die Spook van Kersfees in die Toekoms, wys vir Scrooge watter aaklige toekoms op hom wag as hy nié reageer op wat hy gesien het nie.

Wanneer Scrooge op Kersoggend wakker word, is sy hart vol vreugde en liefde.  Hy stuur heerlike kos vir mense wat dit nodig het en spandeer die dag saam met familie.  Scrooge het verander.  Hy hanteer nou sy medemens met liefde, vriendelikheid, deernis en vrygewigheid.

Gebruik jou gratis FLV-converter program om hierdie snit af te laai. Dit wys vir Scrooge ná sy ontmoeting met die Kersfees-spoke.

Preekriglyn

Die meeste mense het al massiewe foute met hul toekomsvoorspellings gemaak.  Hier is ‘n paar van die slegste toekomsvoorspellings ooit:

• “Ontdekkings het al lankal hul perk bereik, en ek sien geen vooruitsig vir verdere ontwikkelinge nie” – Julius Sextus Frontinus, Romeinse ingenieur, 100 n.C.

• “Die maagholte, die borskas en die brein sal vir altyd ontoeganklik wees vir die operasiemes van die verstandige en menslike chirurg”- John Eric Ericksen, chirurg van koningin Victoria, in 1873.

• “Wetgewing sal vereenvoudig word.  Prokureurs sal verdwyn, en hul fooie sal dramaties daal”- Joernalis Junius Henri-Browne in 1893.

• “Maak nie saak wat hy doen nie, daar sal nooit iets van hom kom nie” – ‘n Onderwyser van Albert Einstein in 1895.

• “Dit blyk dat ons die grense bereik het van wat moontlik is met rekenaartegnologie”- Rekenaarwetenskaplike John von Neuman in 1949.

• “Die Japannese maak niks wat die mense in die VSA wil hê nie” – John Foster Dulles, Secretary of State, 1954.

• “Kernkrag aangedrewe stofsuiers sal binne 10 jaar beskikbaar wees”- Alex Lewyt, president van die Lewyt stofsuiermaatskappy in 1955.

• “Voordat die eerste mens op die maan land, sal jou pos binne ure vanuit New York met begeleide missiele in Australië afgelewer word.  Ons staan op die vooraand van pos-per-vuurpyl” – Arthur Summerfield, VSA Posmeester-Generaal, in 1959.

• “Teen die draai van die eeu sal ons in ‘n papierlose samelewing leef” – Roger Smith, voorsitter van General Motors, in 1986.

• “Ek voorspel die internet sal dramaties supernova raak, en net daarna in 1996 katastrofies in duie stort” – Bob Metcalfe, Infoworld, in 1995.

Laura Lee, “Forecasts That Missed by a Mile,” The Futurist

Inderdaad. Mens kan die toekoms verkeerd takseer.  Jy kan die hede misverstaan, en dan foute oor die toekoms maak.  Jy kan jou met die tye misgis.  Jy kan handel en voorspel op maniere wat die toekoms met kilometers mis.

Oor die tye

Psalm 89, die gedig van Etan die Esragiet, begin deur in verse 1 tot 4 op ‘n aangrypende wyse oor tyd te praat.  Hierdie eerste vier verse bied ‘n sleutel wat die boodskap van Psalm 89 ontsluit.  Etan sing oor:

  • Teenwoordige tyd: “Ek sal altyd sing”, “Ek sal verkondig…” (vers 2), “Ek sê” (vers 3)
  • Toekomstige tyd: “aan komende geslagte” (vers 2)
  • Verlede tyd: “U het gesê: ‘Ek het ‘n verbond gesluit’ … ‘Ek het ‘n eed gesweer'” (vers 4).

Die wyse waarop verlede, hede en toekoms op mekaar betrek word, is nie toevallig nie.  Die psalm getuig oor die betekenis van God se verbond met die volk vir hul lewe in die hede en die toekoms.

Psalm 89 verskaf die sleutel hoe om oor die hede te dink en hoe om toekomsgerig te lewe.  Die psalm getuig dat mens die lewe en die tye net reg verstaan wanneer jy daaroor dink vanuit God se belofte van trou aan sy volk en sy skepping.

Boodskap van Psalm 89

Psalm 89 is ‘n klaaglied van ‘n geloofsgemeenskap, gerig aan God, waarin God gevra word om God se stilte te verbreek in die lig van die aanvegtinge wat God se volk beleef.  Ons tekskeuse vir vandag, geneem uit die Revised Common Lectionary, fokus op die Psalm se koninklike taal: God se ondersteuning van koning Dawid en God se heerskappy as die almagtige.

Verse 1 tot 18 loof God se universele koningskap, en verse 19 tot 37 (ons tekskeuse eindig by vers 26) besing God se trou aan Israel en spesifiek die Dawid-koningshuis.

Die aanvangsverse, 1 tot 4, gee die toon vir die res van die psalm aan.  God word geprys vir God se standvastige liefde (hesed) en God se trou (emuna).  God se verbond met Dawid is ‘n voorbeeld van God se standvastige liefde en trou.

Daarna roep verse 5 tot 8 die hemele op om God te prys, verse 9 tot 12 besig God se heerskappy oor hemel, aarde en see.  Verse 13 tot 18 besing God se mag, geregtigheid en reddingsdade.

Vanaf vers 19 raak die psalm meer partikulier.  Nou word gefokus op God se trou, liefde en versorging gerig op God se volk en die koning deur God aangewys.

Vanaf vers 38 verander die toonaard.  Tot en met vers 38 is Psalm 89 ‘n terugblik op God se geskiedenis met Israel.  Die werklike probleem word eers vanaf vers 38 uitgespel.  Die volk is in ‘n krisis.  Dit lyk nou asof God stil geraak het.  Die gevoel is dat God afgesien het van God se beloftes van trou aan Dawid en die volk Israel.  Daarom roep die volk uit dat God hulle moet onthou.

Historiese agtergrond

Daar is verskillende omstandighede wat die krisis in Psalm 89 kan verklaar.  Dit mag die dood van die hervormer-koning Josia verwoord, of (baie waarskynlik) die krisis van die ballingskap en die afloop daarvan.

Dink aan die ballingskap en die val van Jerusalem – 6de eeu vC – met die vrae en dreigende wanhoop wat dit in die lewe van die volk opgeroep het.  Daar was diep en donker wroeginge oor die toekoms.  Die voorspoed van die onregverdiges en goddeloses het tot baie vrae en worstelinge aanleiding gegee.

Die spesifieke historiese omstandighede van die psalm is nie so belangrik soos die boodskap daarvan nie.  Psalm 89 praat oor die moeilike geskiedenis van Israel en haar konings.  Die psalm is ‘n kreet gerig aan God:

  • “Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?  Sal die vuur van u gramskap dan bly brand?” (47)
  • “Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?” (50)
Toegelaat om te worstel

Psalm 89 is ‘n moedige gebed wat getuig van ‘n worsteling waarvoor baie kerke vandag nie regtig meer die moed het nie.  Dit bly worstel met God.  Die naam Israel is gebore uit die nagtelike worsteling tussen God en Jakob, en Israel worstel in hierdie psalm inderdaad – getrou aan haar naam – met die Here.  Die volk waag om kragtig aan God vas te hou en te bly glo, met ‘n geloof wat sterk genoeg is om aan te dring dat God die volk se krete om hulp sal hoor.  Hierdie geloof is waagmoedig, dit herinner God aan God se beloftes van trou, en waag deur te kla dat God nie trou bly aan God se beloftes nie.

Psalm 89 verteenwoordig gevaarlike geloofstaal waarvoor baie gelowiges sal terugdeins.  Tog gaan die Bybel ons daarin voor om ons moeilike klagtes aan God te rig.  Ons kry toestemming om ons klagtes oor God aan God te rig.  Dit is geloof.

Die uitdaging is om God nie te laat los as ons kla oor die hede en ‘n hoopvolle verwagting oor die toekoms het nie.  Sodra ons God laat los, en vir die toekoms op onsself vertrou, loop dinge ernstig skeef.

Psalm 89 sit  twyfel eerlik op die tafel, met die uiteindelike boodskap dat twyfel wel in die nabye teenwoordigheid van God tot rus kom.

Psalm 89 se verset

Walter Brueggemann (Abiding astonishment: Psalms, modernity, and the making of history) vertel dat Psalm 89 verset is teen pogings om die wêreld los van God se beloftes vir sy volk te verstaan.  Dit is ‘n verset teen pogings om hoop op ander plekke as by God te gaan soek, al voel dit vir jou asof die hede so swaar is dat God van jou moes vergeet het.  Psalm 89 moedig ons aan om die moeiliker pad te volg om met God te worstel, eerder as om die wêreld los van God te bedink.

As jy God laat los, raak jou verstaan van die tye uit pas.  As jy God laat los ontspoor jou verwagtinge oor die toekoms .  Jy is dan gewaarborg om jou tye en verbuigings verkeerd te kry.

Psalm 89 is ‘n verset, sê Brueggemann, teen:

  • Mense wat die band met die verlede wil deurknip, omdat hulle meen die verlede was misleiding.  God se beloftes in die verlede gegee, is nie meer van toepassing nie.
  • Mense wat hulle wil loswikkel uit die verantwoordelikhede wat God se verbond op hulle lê.  God het immers gesê: Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle moet vir my ‘n volk wees.  As ons die verbond in die verlede begrawe, is ons nie meer aan God gebonde nie.
  • Mense wat God in die hemel wil toesluit en sê God gee nie regtig om wat op aarde gebeur nie.  Dalk is God dood.  Ons kan dus maak soos ons wil.

In so ‘n wêreld (steeds Brueggemann):

  • Leef mense net vir hulself en hul eie belange;
  • Wen die sterkste – daarom word geen genade gevra of betoon nie;
  • Kan niemand meer deur God verras word nie;
  • Is die prys van gehoorsaamheid te veel gevra, want dit maak jou ‘n verloorder.
  • Word die dien van die Here afgeskaal tot veilige rituele wat geen impak op die lewe het nie.
Psalm 89 se advies

Psalm 89 is eerstens ‘n oproep om die lewe steeds vanuit God en God se beloftes van trou te verstaan.  Hoe sleg dit ook al gaan, onthou God en onthou dat God se beloftes oor sy kinders uitgespreek is.

Tweedens: wie onthou, vertel ook aan die volgende geslagte van God se verbond en God se teenwoordigheid.  Wie onthou, bly leef in die bewussyn van God se teenwoordigheid, en dra hierdie werklikheid aan die toekomstige geslagte oor.

Derdens: wie onthou, bly worstel met God oor die toestand van die wêreld.  Sulke gelowiges bly hoop op God en bly uitkoms afbid van God.  Sulke gelowiges bly God herinner aan God se beloftes en aan God se groot dade.  Dis geloof wat ondanks omstandighede die risiko bly loop om te glo, te vertrou, te gehoorsaam en te hoop op God.

In Christus

Christopher Wordsworth het Psalm 89 “A Carol of Christmas” genoem.  Mens kan verstaan waarom hierdie psalm op Christus betrek word.  Jesus Christus is immers uit die nageslag van Dawid gebore, ‘n bevestiging van God se verbondstrou aan Israel.  Christus is God se “ja en amen” op al die verbondsbeloftes aan Israel en die koningslinie van Dawid.  Christus is die hoogste uitdrukking en die finale gestalte van God se koningskap in en oor die lewe van God se mense.

Hierdie tyd van die jaar word ons uitgenooi om die wêreld opnuut te leer sien in die lig van God se trou en God se koningskap.  Ons word genooi om God se verbond te onthou en vanuit God se sorg te lewe.

Deur al die eeue het God se kinders God so leer ken en so in God se wêreld geleef.  Wie vanuit die teenwoordigheid en die trou van God lewe, het ‘n toekoms.  Wysheid is om God ernstig te neem en God te gehoorsaam.

Selfs al worstel jy met tye, selfs al is die hemel met tye – so voel dit – toe bokant jou kop, is so ‘n mens gewaarborg om die tye reg te kry.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.