Vier en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Dit is die tweede Sondag van die Seisoen van die Voleinding. Een van die dae is dit ook 16 Dae van aktivisme: Geen geweld teen vroue en kinders.

Vandag se teks vertel die verhaal van Boas wat as losser vir Rut en Naomi optree. Dit is ‘n verhaal wat die verweefdheid van kwessies soos armoede, familie, kultuur, godsdiens en gender uitbeeld. Dit wys op iets van die uitgelewerdheid van vroue spesifiek in die regstelsel, maar terselfdertyd ook die agentskap van vroue en die belangrikheid van “allies”. Dit sal goed wees om die hele Rut 3–4 te lees of te vertel. Psalm 27 staan as teken van die problematiek van ‘n naïewe lees van die patriargale teks van die Bybel en moet baie versigtig benader word. Dit is nie ‘n teks wat onverklaard in die liturgie gelees kan word nie. Markus 12:38-44 is ‘n goeie teks om te gebruik om, in hierdie geval, spesifiek oor magsmisbruik deur godsdienstige leiers te praat.

Ander tekste

Psalm 127
As die Here die huis nie bou nie
127 ’n Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan
en laat gaan slaap
om met moeite ’n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet,
gee die Here dit in hulle slaap.
3Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
4Soos pyle
in die hand van ’n krygsman,
so is seuns wat gebore is
toe hulle vader nog jonk was.
5Dit gaan goed met die man
wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te vrees
as hulle met die vyand
in die stadspoort onderhandel nie.

Hebreërs 9:24-28
Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Markus 12:38-44
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes

(Matt 23:1–36; Luk 20:45–47)
38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die arm weduwee se gawe
(Luk 21:1–4)
41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Sleutelteks

Rut 3:1-5; 4:13-17

RUT OP DIE DORSVLOER
31Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou ‘n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? 2Nou ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons. Hy gaan vanaand by die dorsvloer gars uitwan. 3Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan. Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.” 5Rut het geantwoord: “Ek sal alles doen wat u sê.”

6Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonmoeder haar voorgesê het. 7Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nadergegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. 8In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê ‘n vrou by sy voete! 9“Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.” 10Hy sê toe: “Mag jy geseën word deur die Here, my dogter. Jou trou aan die familie blyk nou nog duideliker as voorheen, aangesien jy nie agter jong mans, of hulle arm of ryk is, aanloop nie. 11Moet dus nie bang wees nie, my dogter. Alles wat jy vra, sal ek doen. Al my mense in die dorp weet immers dat jy ‘n deugsame vrou is. 12Dit is nou wel waar dat ek ‘n losser is, maar daar is ook ‘n losser wat nader familie is as ek. 13Bly vannag hier. En môreoggend, as hy jou wil loskoop, goed, laat hy jou dan loskoop. Maar as hy jou nie wil loskoop nie, dan sal ek, so waar as die Here leef, dit self doen. Bly nou maar lê tot môreoggend.” 14Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê.

Nog voordat ‘n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat ‘n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” 15Boas sê toe vir haar: “Gee die sjaal wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in.

16Toe sy by haar skoonmoeder kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. 17Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê, ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonmoeder aankom nie.’ ” 18Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.”

BOAS AS LOSSER
41 Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier!” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. 2Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, 3sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. 4Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” 5Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef.”

6Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.”

7Wanneer dit gegaan het oor lossingsreg en ruiltransaksies, was dít vroeër in Israel die gebruik om enige saak te bevestig: ‘n Persoon moes sy sandaal uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het dan in Israel as bekragtiging van die saak gegeld. 8Toe die losser vir Boas sê: “Neem die lossingsreg vir jou oor,” het hy sy sandaal uitgetrek.

9Daarop sê Boas vir die oudstes en al die mense: “Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort, by Naomi oorneem. 10En ook Rut, die Moabiet, die vrou van Maglon, neem ek vir my oor as vrou om die naam van die oorledenes oor hulle familiebesit te laat voortleef, en sodat die naam van die oorledenes nie onder die familie en uit die poort van sy woonplek verdwyn nie. Julle is vandag getuies daarvan.” 11Al die mense wat by die dorpspoort was en die oudstes sê toe: “Ons is getuies. Mag die Here gee dat die vrou wat in jou huis inkom soos Ragel en Lea sal wees, die twee wat die huis van Israel gebou het. Mag jy van krag tot krag gaan in Efrata en roem verwerf in Betlehem! 12Mag, uit die nageslag wat die Here vir jou uit hierdie jong vrou gee, jou huis wees soos dié van Peres wat Tamar vir Juda in die wêreld gebring het.”

GEBOORTE VAN OBED
13Boas het Rut by hom geneem en sy het sy vrou geword. Hy het by haar ingegaan, en die Here het haar swanger laat word. Sy het aan ‘n seuntjie geboorte gegee. 14Die vroue het vir Naomi gesê:
“Die Here moet geprys word!
Hy het jou vandag nie sonder
‘n losser gelaat nie.
Mag dié losser beroemd wees in Israel.
15Mag hy jou lewenslus herstel
en jou versorg op jou oudag.
Jou skoondogter, wat jou liefhet,
het hom in die wêreld gebring,
sy wat vir jou meer werd is
as sewe seuns.”

16Naomi het die kind geneem en op haar skoot gesit en sy pleegmoeder geword. 17Die buurvroue het vir hom ‘n naam gegee. Hulle het gesê: “‘n Seun is vir Naomi gebore”, en hom toe Obed genoem.

GESLAGSREGISTER VAN KONING DAWID
Obed was die vader van Isai, en Isai die vader van Dawid. 18Hier volg die geslagsregister van Peres:
Peres het Gesron verwek
19Gesron het Ram verwek
Ram het Amminadab verwek
20Amminadab het Nagson verwek
Nagson het Salmon verwek
21Salmon het Boas verwek
Boas het Obed verwek
22Obed het Isai verwek
Isai het Dawid verwek. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Datering maak saak
Ek dink min van julle het al ooit gedink oor die datering van die boek Rut. Dit is só ‘n pragtige verhaal, op soveel vlakke, dat die datering waarskynlik vir jou van minder belang is. Waarom sou die tyd wat ‘n boek geskryf is, van enige belang wees? Maak dit enigsins saak? Verander jou keuse dan aan die boodskap van die boek?

Wel, ja. Datering maak saak. Want dit bepaal vir wie die boek geskryf is. Dit bepaal vir wie die boodskap van die Bybel in die eerste plek bedoel is. En as jy dít weet, wat Rut vir daardie gehoor beteken het, kan jy baie beter bepaal watter boodskap die boek dan ook vir jou het, al is die boek in ‘n ander tyd en vir ander mense geskryf.

Die geheim in die lees van die Bybel is om eerstens goed te verstaan wat dit vir die eerste gehoor ingehou het, sodat jy met integriteit die kloof tussen toeka en vandag kan oorbrug en die boodskap van die Bybel vir vandag vars en nuut kan hoor.

Wanneer is die boek Rut dus geskryf?
Op linguistiese gronde is daar ‘n saak uit te maak daarvoor dat Rut vóór die ballingskap geskryf is. Daar is effens meer ooreenkomste met Standaard Bybelse Hebreeus, dws die Hebreeus wat vóór die ballingskap gebruik is. Dit maak dit waarskynlik dat die boek Rut vóór die ballingskap geskryf is.

Dat daar ook ‘n paar ooreenkomste met Laat Bybelse Hebreeus is in die boek, beteken moontlik dat die verhaal later opgedateer is, eerder as dat dit later geskryf is.

Wat my egter laat kies vir ‘n vóór ballingskap datering is nie die tipe taal wat gebruik is nie. Dit is eerder inhoudelike kriteria.

1. Die eerste inhoudelike feit is dat die skrywer self die verhaal in die tyd van die Rigters plaas (Rut 1:1). Daaroor is daar geen dispuut nie. Die tydperk wat die karakters geleef het, was êrens in die laat 11de eeu vC. Vóór Dawid.

2. Die tweede inhoudelike feit is dat die wyse waarop die vererwing en die leviraatshuwelik hier werk, op punte verskil van die wetgewing van Levitikus 25, Numeri 5 en Deuteronomium 25 (vgl. ook Jer. 32). Dit veronderstel ‘n situasie waar dinge nog vloeibaar was en die tempel in Jerusalem nog nie sy bepalende rol in die wel en wee van die volk kon speel nie. Presies hoe die tyd in Rigters beskryf word.

3. Die belangrikste argument vir ‘n vroeë datering is egter die derde feit, dat daar iets heeltemal unieks is in die wyse waarop die verhaal van Rut vertel word. Die hele verhaal van Rut loop uit op ‘n geslagsregister. Geen ander boek in die Bybel eindig só nie.

Normaalweg begin geslagsregisters ‘n boek om die verdere verloop van ‘n verhaal te bevestig, soos ons dit in Numeri kry as deel van die Pentateug en in Kronieke as deel van die verhaal van die koningskap.

Só is dit terloops ook in Matteus 1 met Jesus se geslagsregister. Dit is vóór sy geboorteverhaal geplaas. Want, die geslagsregister begrond en bepaal wat verder aan gaan gebeur. Jesus word in die Messiaanse linie gebore. So sê die geslagsregister.

En in Lukas 3 word die geslagsregister weer vóór sy openbare bediening geplaas, want Hy gaan optree as die Messias, soos sy geslagsregister dit begrond. Só sê die geslagsregister.

4. Dit hang saam met die vierde feit, die plek wat die boek Rut in ons Bybel beklee. Dit is net vóór die boek Samuel in die Bybel geplaas. Hoekom? Want, die boek bevestig die verhaal van Dawid wat in die boek 1&2 Samuel vertel gaan word. Die boek pas dus in die tydsgewrig wat dit beskryf. Dit pas in die orde wat dit in ons kanon gekry het. Net vóór Dawid en net vóór die Messiaanse verwagting wat hierna sou ontwikkel waarin Dawid so ‘n groot rol speel.

En dié feite is van fundamentele belang. Hierdie geslagsregister het Dawid se koningskap gesag gegee, ‘n skriftelike, Goddelike gesag, ‘n gesag ingebed in die storie van God en sy mense.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Psalm 127 en Psalm 146)

Seëngroet: (uit Kolossense 1)

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Verootmoediging: Hebreërs 9:24-28

Lied 178 Donna Nobis Pacem vs 1 (herhaal een of 2 keer)

Geloofsbelydenis:  (ahv Psalm 146)

Toewyding Video: Stef Bos:  Lied van Ruth

Epiklese

Skriflesing: Rut 3 en 4

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Psalm 127 en Psalm 146)
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.

Seëngroet:  (uit Kolossense 1)
2Aan almal ………………. wat aan God behoort, getroue broers (en susters) in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Verootmoediging: Hebreërs 9:24-28
Christus die volkome offer
24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Lied 178 Donna Nobis Pacem vs 1 (herhaal een of 2 keer)

Geloofsbelydenis:  (ahv Psalm 146)
Die Here het die hemel en die aarde gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,

Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.

Die Here bevry die gevangenes,
die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.

Ek glo in God die Vader
Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here.
Ek glo in die Heilige Gees…

Toewyding Video: Stef Bos:  Lied van Ruth

Liedere

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en Musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer
En elke rots skree uit: U is God
Die bome wieg deur u asem, Heer
En saggies fluister hul: U’t opgestaan

U regeer tot in ewigheid
U is God vir altyd nog
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
Die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
En tog met heerlikheid en eer gekroon

Heilig, heilig, heilig is die Heer
Wat was, wat is en wat kom

Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid

F230. “Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing
Ps 16

1. Ek het vir die Heer gesê
U is my Here
U is my Rots
Daar is geen ander god
Wat my lof verdien nie
Vir wie ek wil besing

Refrein:
Here, U is my lewe
U sorg vir my
En wat ek ontvang kom alles van U af
’n Pragtige deel is vir my afgemeet
Wat ek by U erf, is mooi vir my

2. U Heer, lei my deur U Gees
En ek slaap rustig
U is by my
Elke oomblik van die dag
Is U in my gedagtes
En my hart is juigend, bly

Refrein:

Brug 1:
Heer, U red my siel uit die dood
En in blydskap, leer U my leef

Brug 2:
Lieflikheid kom uit U hand
Juig vir alle ewigheid!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Vermurwe my,
o Heilige Een,
tot ’n ontspanne oomblik,
’n diep asemteug,
’n laat gaan
van swaarwigtige verwagtings,
van verskrompelende kommer,
van doodse sekerhede,
sodat, verteder deur die stilte,
omring deur die lig,
en oop vir die misterie,
ek gevind mag word deur heelheid,
opgelig deur die onpeilbare,
meegesleur deur eenvoud,
en gevul met die vreugde
wat U is.
Jaco Thom, vertaling van ‘n gebed deur Ted Loder

Skriflesing: Rut 3 en 4

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Gebruik kinders om die verhaal uit te beeld terwyl dit voorgelees word.

Lees die verhaal uit ‘n Kinderbybel of wys ‘n YouTube-videosnit waar die verhaal op ‘n kindervriendelike manier vertel word.

Carolyn C Brown het ‘n hele paar goeie voorstelle in haar blog vir hierdie Sondag se gedeelte van die Rut-vertelling.

Sy suggereer oa dat die storie van Rut kortliks aan die kinders dramaties oorvertel word.

Hier is ‘n weergawe…

Rut en Naomi
IN DIE Bybel sal jy ’n boek met die naam Rut kry. Dit is ’n verhaal oor ’n gesin wat gelewe het in die dae toe Israel rigters gehad het. Rut is ’n jong vrou uit die land Moab; sy is nie ’n lid van God se nasie Israel nie. Maar wanneer Rut van die ware God Jehovah leer, kry sy hom baie lief. Naoʹmi is ’n ouer vrou wat Rut gehelp het om van Jehovah te leer.

Naoʹmi is ’n Israelitiese vrou. Sy en haar man en twee seuns het na die land Moab toe getrek toe daar min kos in Israel was. Toe het Naoʹmi se man doodgegaan. Later het Naoʹmi se seuns met twee Moabitiese meisies getrou wie se name Rut en Orpa was. Maar ná omtrent 10 jaar het Naoʹmi se twee seuns doodgegaan. Hoe hartseer was Naoʹmi en die twee meisies tog! Wat sou Naoʹmi nou doen?

Eendag besluit Naoʹmi om op die lang reis terug na haar eie volk toe te gaan. Rut en Orpa wil by haar bly, en daarom gaan hulle saam. Maar nadat hulle ’n ent gegaan het, sê Naoʹmi vir die meisies: ‘Gaan terug huis toe en woon by julle ma’s.’

Naoʹmi groet hulle met ’n soen. Dan begin hulle huil, want hulle is baie lief vir Naoʹmi. Hulle sê: ‘Nee! Ons sal saam met jou na jou volk toe gaan.’ Maar Naoʹmi antwoord: ‘Julle moet teruggaan, my dogters. Dit sal beter met julle gaan by julle huis.’ Toe gaan Orpa terug na haar huis toe. Maar nie Rut nie.

Naoʹmi sê nou vir haar: ‘Orpa het omgedraai. Gaan saam met haar huis toe.’ Maar Rut antwoord: ‘Moenie my probeer wegstuur nie! Laat my saam met jou gaan. Waar jy gaan, sal ek gaan, en waar jy woon, sal ek woon. Jou volk sal my volk wees, en jou God sal my God wees. Waar jy doodgaan, sal ek doodgaan, en dit is waar ek begrawe sal word.’ Wanneer Rut dit sê, hou Naoʹmi op om haar te probeer ompraat om na haar huis toe te gaan.

Uiteindelik kom die twee vroue in Israel aan. Hier kry hulle ’n plek om te woon. Rut begin dadelik op die landerye werk, want dit is tyd vir die garsoes. ’n Man met die naam Boas laat haar in sy landerye gars optel. Weet jy wie was Boas se ma? Dit was Ragab van die stad Jeʹrigo.

Eendag sê Boas vir Rut: ‘Ek het alles van jou gehoor, en hoe goed jy vir Naoʹmi is. Ek weet hoe jy van jou pa en jou ma en jou eie land weggegaan het en hoe jy kom woon het onder ’n volk wat jy nie geken het nie. Mag Jehovah vir jou goed wees!’

Rut antwoord: ‘Jy is baie goed vir my, meneer. Jy laat my beter voel omdat jy so mooi met my praat.’ Boas hou baie van Rut, en kort daarna trou hy met haar. Hoe bly is Naoʹmi tog hieroor! Maar Naoʹmi is selfs blyer wanneer Rut en Boas hulle eerste seun, naamlik Obed, het. Later word Obed die oupa van Dawid, van wie ons later nog baie sal leer.
Rut en Naomi | Bybelverhaal (jw.org)
(LW: Die webtuiste is die domein van die Jehovah getuies)

Preekriglyn

Ons het reeds verlede week by die eerste hoofstuk van Rut stilgestaan. Daar het ons gelees van die hongersnood, van die emigrasie van ‘n familie, ‘n nuwe begin met groot terugslae in die vreemde land, hoe byna almal in die familie sterf, en hoe Rut en haar skoondogter terugkeer na Israel.

In hoofstuk twee lees ons hoe Rut, die skoondogter uit die vreemde land, gaan koring optel. Om den brode. Boas ontferm hom oor haar. Dit bring ons by hoofstuk 3.

God werk deur Naomi se strategie

Waar in die vorige hoofstuk Rut die inisiatief geneem het om kos op die lande te gaan optel, is dit nou in Rut 3 Naomi wat verantwoordelikheid neem vir haar skoondogter. Sy werk ‘n fyn strategie uit om Rut se behoefte aan ‘n losser onder die aandag van Boas te bring.

Wanneer Boas die nag by die dorsvloer wakker word met Rut by sy voete, vra sy hom dan ook om haar onder sy beskerming te neem. En hy is onmiddellik gereed om sy deel te doen. Hy waarborg dit met die groot geskenk van gars wat hy met haar saamstuur huis toe.

Die spanning neem toe met die vermelding van ‘n familielid wat die eerste verantwoordelikheid het om as losser op te tree. Maar Naomi lei die volgende hoofstuk in met haar fyn waarneming dat Boas ‘n man met ‘n plan is en nie sal rus voor die saak afgehandel is nie.

Treffend is hoe hierdie fyn uitgewerkte strategie van Naomi, die uitvoering daarvan deur Rut en die reaksie van Boas alles meewerk om God se werk tot uitvoering te bring.

God gee ‘n wonderlike uitkoms

In Rut 4 bereik die verhaal sy hoogtepunt met die ontknoping wat plaasvind in die stadspoort, die plek waar alles van belang, van handel- tot regsake voltrek is.

Let op hoe Boas ‘n fyn strategie uitwerk waarin dit nie net die losser-gebruik is wat in spel kom nie, maar ook die gebruik van die sogenaamde swaershuwelik (vgl. ook die Juda-Tamar-verhaal in Gen. 38 waarna later in die hoofstuk verwys word).

Hierdie gebruik het volgens Duet. 25:5–10 bepaal dat as iemand sonder kinders sterf, een van sy broers verplig was om met sy weduwee te trou. Die eerste seun uit hierdie “swaershuwelik” geld dan as die seun en erfgenaam van die oorledene.

Die broer kon die verpligting ontduik deur ‘n verklaring voor die oudstes van die dorp af te lê. Dit is egter as oneerbaar beskou. Die weduwee kon dan sy skoen uittrek en hom in sy gesig spoeg omdat hy nie sy broer se huis in stand hou nie.

Let op hoe Boas klem lê op haar Moabitiese afkoms, waarmee hy natuurlik hoop dat die familielid nie verder sou belang stel nie. Die nader familielid het inderdaad nie hiervoor kans gesien nie, en daarmee slaag Boas in sy doel om met Rut in die huwelik te tree.

Let ook op hoe dit die Here is wat haar die voorreg van swangerskap gee, waarmee duidelik bely word dat die gelukkige uitkoms van dié verhaal aan Hom toegeskryf kan word. Obed se naam beteken dienaar.

Deur die gewone lewe

Wat is die boodskap en betekenis van hierdie Skrifgedeelte vir ons?

Dink weer na oor hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ‘n oes (hoofstuk 1) , ‘n ontmoeting (hoofstuk 2), ‘n dorsvloer (hoofstuk 3), ‘n huwelik (hoofstuk 4). Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke. Bo-natuur is baie keer sigbaar as Binne-natuur.

‘n Mens moenie met ‘n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie. Jy moet veral nie daaruit gevolgtrekkings maak oor waar die Here teenwoordig is of nie. In stil wees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes. 30:15).

Dit tref ook dat die Here nie nalaat om sy trou aan lewendes EN dooies te bewys nie. Wat Elimelek nie kon doen vir sy vrou en nageslag nie, wat ook sy twee seuns nie kon regkry nie, dit laat God gebeur vir hulle – voorsiening en versorging vir die weduwees. God is inderdaad ook sy koning, soos Elimelek se naam sê.

Verhaal van God se getrouheid

Die verhaal van Rut is uiteindelik ‘n uitnemende verhaal van God se getrouheid, maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. En wat veral van betekenis is, is dat hierdie klein verhaal van Rut se lojaliteit en Naomi en Boas se waagmoed deur God ingesluit word in sy groter verhaal met hierdie wêreld.

Hierdie kind, Obed, is van baie groter betekenis as wat hulle in hulle wildste drome sou kon droom. Obed se naam beteken “dienskneg”. En uit sy nageslag sou die Groot Dienskneg gebore word. Jesus wat gebore is in ‘n stal in Bethlehem, soos Matteus 1 ons vertel in aansluiting by die geslagsregister aan die einde van die boek Rut.

Jesus is egter ook die nageslag van Elimelek, Naomi se oorlede man, wie se naam die ander kant van die betekenis van die verhaal voorspel: “my God is koning”. Jesus sou as Messias nie net die Dienskneg wees wat getrou sou bly tot aan sy kruisdood nie, maar ook as Koning van die wêreld die troon van sy Vader sou bestyg en die koninkryk van God sou vestig.

Ons verhaal in God se groot verhaal

Die boodskap van die verhaal van Rut is ten diepste ‘n bevestiging dat ons die pad van God met sy mense kan vertrou. Soos Rut, die vreemdeling, ‘n tuiste vind by Naomi, Boas en in die geloofsgemeenskap van Israel, só kan ons Hom ook vertrou vir ons eie plekkie in die son, ook hier in SA.

Die verhaal van Rut is egter nie net ‘n bevestiging van God se voorsiening vir ons self en ons situasie nie, maar ook van sy voorsiening vir die toekoms, selfs van die voorsiening van ‘n uitkoms vir die wêreld. Ons kleiner verhale word opgeneem in sy groter verhaal met die mensdom.

Dat Naomi en Rut ‘n losser (go’el) in Boas gevind het, is wonderlik. En dit is ‘n woord vir my en jou vandag. Dat God vir ons ook op ‘n baie praktiese wyse dinge sal laat meewerk, ‘n losser vir ons sal gee. Ook in terme van land, gemeenskap en ‘n nageslag.

Maar daar is ‘n dieper boodskap. Dit is, dat hierdie verhaal vir ons van die groter losser in Dawid, en die grootste Losser van almal, Jesus Christus, vertel, die Losser waarvan ook Job gedroom het (Job 19:25). Dit is die breër en dieper boodskap van hierdie boek. Ons verhale is ingebed in die groter verhaal van God se betrokkenheid in hierdie wêreld. Wat met ons gebeur, het daarom ook ‘n impak op die wêreld.

En dit is groter as maar net dat die Here vir ons sorg. Deur vir my en jou te sorg, sorg Hy vir die wêreld. Dit is waarskynlik die boodskap wat ons in hierdie tydsgewrig in ons land die meeste oor moet nadink.

Groot Losser

Ons moet God as die groot Go’el leer raaksien, soos Hy Homself in Rut bewys

Dit is immers hoe Hy beskryf word in al die groot uitkomste wat Hy vir die volk voorsien het. Dit was hierdie belofte – dat Hy die Losser is – wat die volk gemotiveer het om Moses te vertrou toe hy die boodskap van verlossing aan hulle gebring het: “Ek sal julle van julle verknegting verlos.” (Eks 6:6). Dit is vir hierdie eienskap van Hom waarvoor Hy geloof is toe Hy die belofte aan hulle vervul het met die verlossing deur die Rietsee: “Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is.” (Eks 15:13).

Hierdie eienskap van God word daarom in die Psalms besing. Hy is geloof reg deur die eeue as die Losser – die groot Go’el – wat die volk vir Homself gekoop het (Ps. 74:2). Hierdie gedagte van die Groot Verlosser het die boodskap van die profete gestruktureer (Jes. 41:14; 43:14; 44:6; 47:4; 60:16; Miga 4:10; Jer. 50:34). Israel word daarom die Verlostes genoem (Jes. 35:9; 62:16), ‘n titel wat ons ook vir onsself kan toeëien in Christus Jesus, die Groot Verlosser.

Maar terug dan by ons eie kleiner situasies.

Hierdie God, wat die groter bewegings van die geskiedenis beheer, is ook die Verlosser in die persoonlike ruimte van die gelowige in nood. Daarom kan Hy aangeroep word in nood: “Kom red my lewe, bevry/verlos my van my vyande.” (Ps. 69:18). Dit is immers Hy: “wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon.” (Ps. 103:4; vgl. Ps. 107:2). Dit is van Hom wat ‘n mens verlossing kan verwag: “Behartig tog my saak en bevry my, hou my in die lewe volgens u belofte.” (Ps. 119:154). In elke praktiese situasie waarin ons ons mag bevind.

Soos Job sê: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job 19:25). Dit bly in elke en alle situasies waar.

God gebruik my

As gelowiges vra ons dalk dikwels die vraag: “Wil God mý regtig gebruik?” Ons ontmoedig of verkleineer onsself gereeld deur te dink dat daar ander mense met beter gawes is, of mense in belangriker posisies, wat eerder die werk van die koninkryk kan voortsit. Ons dink aan spesifieke (groot) dinge wat moet gebeur voordat mense in God sal begin glo, of voordat randmense ingenooi en omarm sal word. Blote omgee en sorg kan mos nie genoeg wees nie, kan dit? Dit sal nie werk om net vir mense lief te wees nie, sal dit?

Die familie in die verhaal van Rut was bloot oor hulle eie oorlewing besorg. Hulle was nie bewus daarvan dat hulle eintlik deelneem aan God se eeue-oue plan vir versoening nie. Tog het elkeen van hulle ‘n besondere rol daarin gespeel.

Natuurlik is hierdie nie ‘n goedkoop troosteologie om te sê “almal het ‘n plekkie in die son” nie, maar eerder dat die manier waarop God sy wil laat geskiet, ons soms kan verras. Dit is deur Rut se toewyding aan Naomi; Naomi se sorg vir Rut en Boas se ontferming vir ‘n nuwe vreemdeling in sy familie dat hierdie verhaal uiteindelik koningskap en herstel in Israel se gebroke geskiedenis inlui. Die dinge waarop ons wêreld in die post-moderne tyd die laagste prys stel, is juis dit wat lei tot die bevordering van verlossing.

Elkeen van hierdie karakters kon anders besluit het. Rut sou kon wegstap. Naomi kon vir Rut uitsluit en afskryf. Hulle skuld mekaar mos niks nie! Boas kon ook weier om as losser op te tree. In ons tyd sou mense se eerste instink dalk wees om te sê “nee”, en met hulle eie lewe aan te beweeg. Vandaar die oorvloed rolprente en stories waarin die een of ander karakter in ‘n stadium vra: “Why are you being so nice to me?” Dink vir ‘n oomblik hoeveel keer mens hierdie woorde in rolprente en reekse hoor.

Die antieke Israeliete het geen maatreëls gevestig gehad vir dit wat Rut gedoen het nie. Toe sy haar eie mense agterlaat, haar nasionaliteit “verander” en vir haarself ‘n nuwe God kies, was dit iets ongehoords. Wat verstommend is, is dat sy reeds optree volgens die waardes van God se koninkryk (in haar liefde vir Naomi), nog voordat sy dit weet. Sy word ook om die beurt volgens hierdie selfde waardes behandel en staan verwonderd daaroor dat Israeliete goed kan wees vir ‘n vreemdeling. Die karakters was dalk nie eers bewus daarvan nie, maar hulle leef volgens die aanname dat omgee, liefde en sorg die “regte ding” is om in die koninkryk van God te doen.

Die hoop is dat mense hierdie vraag aan gelowiges kan rig en dat die antwoord sal wees: “Die liefde van Christus [God] dring my”. Die hoop is dat so ‘n antwoord (verkieslik eerder in handeling as in woorde) sal getuig daarvan dat God elkeen van ons in sy koninkryk wil inspan, al weet ons nie wat ons omgee en deernis en verwelkoming van vreemdelinge mag beteken nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën:  (uit Rut 1, 2 en 4)
Mag die Here sy liefde aan julle bewys…  
Mag julle geseën word deur die Here wat nie nalaat om sy trou aan lewendes en dooies te bewys nie. 
Mag hy jou lewenslus herstel en jou versorg op jou oudag.
of
V: Mag die vuur van God se liefde ons harte warm maak.
Mag God ons gebede om gelykheid en geregtigheid
in ons kerke en wêreld verhoor.
Mag die liefde van Christus ons vul en uit ons straal.
Gaan nou in die vrede van Christus
en laat die diens van gelykheid en geregtigheid voortgaan.
G: Aan God al die eer. Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3.U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.