Vier en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hoop maak verskil. Die erediens bevestig dit vandag.

God ontmoet ons in die Bybel (en spesifiek in hierdie teksgedeeltes) as die Een wat hoop bring. In Elia se lewe kan hy in die Naam van die Here ’n nuwe en wonderbaarlike uitweg aandui in ’n situasie waar alles uitsigloos lyk. Markus vertel hoe Jesus hoop uitwys in die gedrag van mense wat in God alleen hoop teenoor mense wat op hulle eie oorvloed staatmaak.

Die gemeente kan hulle hoop binne alle vasgeloopte situasies herwin deur met blydskap op God se offer in Christus te vertrou.

Ander tekste

Psalms 146
Prys die Here!
146 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak, die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Hebreërs 9:24-28
Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 

24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Markus 12:38-44 ()
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes

(Matt 23:1–36; Luk 20:45–47)
38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die arm weduwee se gawe
(Luk 21:1–4)
41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Fokusteks

1 Konings 17:8-16
Elia kondig ’n droogte aan
17 Elia die Tisbiet was ’n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

2Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

5Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. 7Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.

8Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: 9“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

10Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.”

11Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.”

12Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

13Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. 14So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

15Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. 16Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

17In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het. 18Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

19Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bo-kamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer 20en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ’n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”

21Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

22Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. 23Toe bring Elia die kind van die bo-kamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”

24Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u ’n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

Ekstra stof

Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel.  Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word.  Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is.  Die Assiriërs verwys bv. ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld.

Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart.  Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.

Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou.  Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig.  Daar is min oor Elia bekend.  Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn.  Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe.  Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes.  Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”.

Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.

Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant was. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl.  Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom.  Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer.  Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek.  Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ’n man van God wat veral ’n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar ook vir hom sorg.  Let op dat elke wonder van die Here ’n sinvolle rol speel in sy bediening.

  1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die volk.
  2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here sorg.
  3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in Sarfat.
  4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan haar.
  5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.
  6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die volk.
  7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Dit tref my hoe ’n belangrike rol gebed in sy lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan.  Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

“Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)
Let ook op die klein verhaaltjie van Obadja (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord
6Die Here het die hemel en die aarde gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou…  (Psalm 146)

Seëngroet
“Genade en vrede vir julle van God ons Vader
en die Here Jesus Christus” (Rom 1:7; 1 Kor 1:3),
wat trinitaries aangevul kan word met: “… deur die werking van die Heilige Gees.”

Lied Psalm 146 “Prys die Here loof en prys Hom vs vs 1,3,5,6”

Verootmoediging
Lees die gedeelte uit Psalm 146:
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.

Sing Psalm 23 as ‘n lied wat getuig van geloofsvertroue in God alleen…

Psalm 23 “Die Here is my herder en bewaarder (Lina Spies) verse 1,2,3”

Doopherinnering/-viering 
Die doopviering/-herinnering of selfs die doopbediening, kan dien as vryspraak. Die voorganger gaan staan by die doopvont en nooi kinders uit om na vore te kom en elkeen kry geleentheid om hulle hande in die water te sit.
Die voorganger gaan staan by die doopvont en terwyl die litanie gedoen word, sit hy sy hande in die water.

Lidmaat: Waarom is daar water in die doopvont?
Voorganger: Water maak skoon, reinig, verfris en onderhou.  Jesus Christus gee die water van die lewe.

Lidmaat: Wat gebeur wanneer ons met water doop?
Voorganger: In die doop belowe God ons dat ons saam met Christus in sy dood begrawe is, deel in sy opstanding uit die dood en dat ons daagliks vernuwe word deur die Heilige Gees.

Lidmaat: Waarom onthou ons dit vandag?
Voorganger: Want deur die doop roep Christus ons tot nuwe gehoorsaamheid, om God lief te hê en te vertrou met alles wat ons is en het, om die boosheid van die wêreld af te lê, en ’n nuwe en heilige lewe lei (Ps 123).
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Liedere

F84. “My God Is So Groot”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Verwondering)
Oorspronklik:  My God Is So Big
Teks en Musiek: Ruth Harms Calkin
Afr vertaling: Onbekend
© 1959, 2002 Nuggets of Truth
(Opgeneem op Jan de Wet & die lofkleuters, My eerste loflied)

My God is so groot so sterk en so magtig
daar’s niks wat my God nie kan doen
Die berge maak Hy, die riviere daarby
die see en alles daarin
My God is so groot so sterk en so magtig
daar’s niks wat my God nie kan doen

F71. “U Is Vir My Genoeg”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Vertroue/ Votum)
Teks en Musiek: Louis & Hettie Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Uit U deur U tot U is alles in my hele lewe
U is die bron van al my vrede
Vader, U is vir my genoeg

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe
Elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja
Elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
U is vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
U onderwysing, Heer,
herstel ons lewe weer:
U woorde is volmaak.
U wysheid vul ons hart –
nooit klop dit weer verward.
U woorde is volmaak.
U eise hou ons rein,
bring blydskap wat nooit kwyn.
Ons oë kyk met insig.
Die buig voor u gebod
verlig ons hart, o God –
u voorskrif is regverdig.
(Psalm 19:3; berym deur Antjie Krog (2001) uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)
en/of Lied 176 Halleluja, U is Koning vs 1

Skriflesing: 1 Konings 17:8-16

Prediking

Familie-oomblik

In een van Louis L’Amour se cowboyboeke is hierdie bekende storie:
’n Brief is aan ’n bakpoeier bakkie met ’n stuk bloudraad aan die handvatsel van ’n outydse waterpomp vasgemaak. Die put was die enigste hoop op drinkwater vir dorstige trekkers op ’n lang en min gebruikte roete oor die onherbergsame Armargosa-woestyn.  Op die briefie het gestaan: “Hierdie pomp is in ’n 100% werkende toestand.  Ek het ’n nuwe suig wasser daarin gesit en dit behoort vir ten minste vyf jaar vanaf vandag, 16 Junie 1862, te hou.  Maar die wasser droog uit en die pomp moet gevoer word.  Onder die wit rots daar eenkant, het ek ’n bottel water begrawe, in die koelte met die prop na bo. Daar is genoeg water om die pomp te voer, maar nie genoeg as daarvan gedrink word nie. Gooi ’n ¼ van die water op die wasser en laat dit week. Gooi die res geleidelik in die pomp en pomp dan vir die vale.  Jy sal water kry.  Die put het nog nooit opgedroog nie!  Glo dit net.  As jy genoeg gedrink het en jou waterbottels gevul het, maak weer die bottel vol en plaas dit terug waar jy dit gekry het vir die volgende reisiger wat hier mag verbykom .

Geteken
Desert Pete.
N.S. “Moet nou nie eers die bottel water gaan staan en opdrink nie. Voer eers die pomp en jy sal soveel water kry as wat jy nodig het.”

Die foto van ‘n waterpomp kan gekry word vanaf van Wikimedia commons (creative commons lisensie).

Wat ’n mens doen as jy halfdood van die dors op hierdie briefie afkom, sal ons baie sê van ons geloof…

Preekriglyn

Danny Simpson, 24, het in 1990 ‘n bank in Ottawa, Kanada, van R50,000 beroof.  Hy is gevang en gevonnis tot 6 jaar tronkstraf.  Sy vuurwapen was ‘n .45 kaliber Colt semi-outomaties.  Dit het geblyk ‘n gesogte handwapen met groot versamelwaarde te wees, wat in 1918 deur die Ross Rifle Company in Quebec gemaak is.

Die waarde van sy vuurwapen was trouens sowat R800,000 – byna ‘n miljoen rand.  Baie meer as wat Simpson gesteel het.  As hy maar net geweet het wat hy in sy hande hou, sou hy nooit die bank beroof het nie.

Danny Simpson het reeds alles gehad wat hy benodig het.

‘n Bietjie meel en olie

Ons teks vertel van ‘n weduwee en haar seuntjie wat in die uiterste droogte net ‘n handvol meel en ‘n bietjie olie oorgehad het.  Daarmee doen sy God se werk.  Sy sorg vir Elia.  Sy doen dit met die belofte dat die olie en meel nie sal opraak nie.  So gebeur dit ook.  Besig met God se werk, is die bietjie meel en olie wat sy gehad heeltemal genoeg vir hulle versorging.

Terwyl sy gereed maak om saam met haar seuntjie te sterf, het sy reeds alles wat sy nodig het.

Die groter prentjie

Die boek 1 Konings is deel van ‘n groter bundel wat die verhaal vertel van Israel (die noordelike 10 stamme) en Juda (die suidelike twee stamme) vanaf die laaste dae van koning Dawid.  Die boek verteenwoordig ‘n evaluering van die konings.  Die vraag word gevra in watter mate hulle in ooreenstemming met God en sy onderwysing gelewe het.  Hulle het óf gedoen “wat goed is in die oë van die Here” of “wat sleg is in die oë van die Here.”

Ons teks is ‘n onderdeel van die groter verhaal van Elia en sy optredes tydens die heerskappy van koning Agab, seun van Omri, en koningin Isebel van Israel (die noordelike 10 stammeryk).  Agab het getrou met Isebel, uit die heidense Sidon.  Isebel het alles in haar vermoë gedoen om Baälaanbidding in Israel te bevorder.  Vir 1 Konings was Agab ontrou aan die Here, die God van Israel (1 Kon 16:30).

Elia se bediening moet verstaan word teen die agtergrond van die konflik tussen die aanbidding van die ware God, die God van Israel, en die aanbidding van die afgod Baäl.

Baäl was ‘n heidense vrugbaarheidsgod.  Baäl het – so is geglo – gesorg vir reën en vrugbare oeste.  Baäl moes sorg dat droogte nie die land tref nie.  In ons teksgedeelte wyk Elia uit na Fenisië, heidens gebied, die bakermat van Baälaanbidding, en plek waarvandaan Isebel kom.  Soos uit die verhaal  blyk, beheer die God van Israel reën, lewe, en ook vir Fenisië.

Gebeure in 1 Konings 17

1 Konings 17:1-24 bestaan uit drie verhale:

  • Elia se verblyf by die Kritspruit.  Dit begin met die uitspraak dat “so seker as wat die Here leef” daar vir die volgende drie jaar geen dou of reën sal wees nie.
  • Elia se verblyf by die weduwee van Sarfat.
  • Elia wek die weduwee se seun op.

Op ‘n menslike vlak speel hierdie verhale teen die agtergrond van die konflik tussen Elia met Agab en Isebel af.  Op ‘n ander vlak is die konflik tussen die ware God en Baäl, soos gesê, op die spel.  Die boodskap is dat die ware God die reën, lewensmiddele, en lewe beheer.

Elia (“Jahwe is my God”) is die agent van die Here.  Deur wat met Elia gebeur, en deur wat hy doen, word die Here se mag gedemonstreer.

Gebeure in ons teks

Ons teks bestaan uit die tweede van die drie episodes in 1 Konings 17.

Die Woord van die Here kom tot Elia en stuur hom na Sarfat, in Sidon.  Sarfat was tussen Sidon en Tirus, buite Israel, in die hartland van Baäl.  Koningin Isebel het uit hierdie gebied gekom.  Elia reis na Sidon om in die tuisgebied van Isebel aan te toon dat die Here reën en lewe beheer.

Elia gaan na ‘n weduwee, wat die mees marginale en weerlose mense in die destydse omgewing was.  Sonder ‘n man of ‘n volwasse seun was sy en haar kind op hulself aangewese vir oorlewing.  Baäl, (ironies) die god van vrugbaarheid, wil nie help nie.  Kontrasteer dit met die Ou Testament waar telkens blyk hoe belangrik die versorging van die weduwee en wese vir God was.

Kragtens die destydse tradisie van gasvryheid is ‘n buitestander soos Elia geregtig op bystand.  Die weduwee willig in om hom te voed, maar sê dat sy en haar kind na die ete sal sterf.  “So seker as die Here leef,” sê sy, is daar nie meer brood nie.  Die dood is die enigste opsie.  Dit beteken sy kon die ware God geken het, van God geweet het.  Sy kon dit ook ironies bedoel het: alle gode het haar immers tot op hede in die steek gelaat, hierdie God sal ook.

Let op hoe sterk gebrek in hierdie gedeelte beskryf word.  Daar is slegs houtjies beskikbaar, ‘n bietjie water, stukkie brood, ‘n handvol meel en ‘n bietjie olie.

Boodskap van die teks

Teen hierdie agtergrond kan ons nou vra uit watter momente die boodskap van hierdie teks vir ons bestaan.  Ons vestig die aandag op ‘n paar aspekte:

  • God verras ons met die mense deur wie ons God leer ken;
  • God werk waar mense in ‘n hoek vasgeverf is;
  • God werk inderdaad deur mense; en
  • Gewone, alledaagse nood is vir God belangrik
Die mense deur wie God God laat ken

In die gebeure is die onbelangrike mense, die randfigure, die persone deur wie ons God leer ken.  Hier is dit ‘n weduwee en haar seuntjie in ‘n heidense gebied.  Hierdie is ‘n patroon reg deur die Bybel.  Ons leer God ken deur die lewe en optrede van randfigure.

God kies ‘n onbelangrike slawevolk en red hulle uit Egipte.  Hy bring hoop vir die wêreld deur hierdie volk.  Hy kies in  Dawid ‘n onwaarskynlike koning.  Hy roep en stuur onaansienlike profete.

In ’n kultuur waar die oudste die belangrik is, kies Hy die jongste.  Waar mans sentraal is, kies Hy vroue.  Die vreemdeling bring hoop.  Die wat nie inherent mag of aansien het nie, gebruik Hy om ook sy hart vir die weerloses te toon.  Maar saam met die kyk in God se hart in sien ons ook sy mag in die natuur en sy vermoë om lewe te bring waar daar dood is.  Die God van die Bybel werk altyd verrassend.

Vir ons, moderne mense van die 21ste eeu, is die vraag deur wie God aan ons verskyn?  Watter kindjie, oumens, arme, heiden, word God se gesig en God se openbaring aan ons in ons tyd?  Hoe bly ons oop vir die verrassende God wat deur die moordenaar aan die kruis, die gevangene, arme, sieke, bejaarde, hongerige aan ons verskyn?

Lewe uit doodsheid

God werk daar waar mense min tot niks oor het nie en eintlik al magteloos boedel oorgee.  Die weduwee het haar reggemaak om te sterf en om die dood van haar kind te aanskou.  In die situasie bring God lewe. God openbaar Homself in weerlose momente.  Hy het min tot niks nodig om mense te versorg of ’n wonderwerk te doen nie.

Geen situasie is vir God te doods, te droog, te uitgeteer om nie nuwe lewe daaruit voort te bring nie.  Die leë graf getuig hiervan.  Die dood is oorwin.  Toe onreg, hebsug en die gewelddadige mag van aardse koninkryk Jesus teen die kruis verpletter, word dit die geboortemoment van die lewe wat alle dood en doodsheid oorwin.

Hierdie leweskeppende krag van God word tot vandag toe onder ons gesien.  Huwelike wat dreig om te verbrokkel, genees wonderbaarlik.  Mense kom tot geloof, word van siekte genees, wanhoop word met hoop vervang, dood met lewe.

Natuurlik is geloof nie net triomf nie.  Daar is ook dood, verbrokkeling en mislukking.  Ons is gekraakte erdekruike.  Maar ook oor ons gebrokenheid is die belofte van ewige hoop uitgeroep.  Ons leef uit die hand van God, dié God wat doodsheid oorwin.

God werk deur mense

God werk deur mense.  Die vrou was tog bereid om hierdie basiese, die laaste, aan hierdie man van God te gee.  Haar gasvryheid kon haar einde beteken het, maar hier was dit net haar begin.  Hier sien ons die genade in menseverhoudinge.  Tog moet ons nie noodwendig dink die situasie was miskien “makliker” vir Elia nie (hy is tog man van God). Hulle was beide in nood. Hulle moes beide vertrou. Die respons van albei op die woord van God (5, 15) was “hy het gedoen”, “sy gaan maak toe so”. Die naamlose vrou en die bekende man vertrou op God.

God se werk vra altyd dat ons onsself, ons lywe, daarvoor op die spel moet plaas.  God se werk vra gehoorsame beliggaming deur mense.  Dit vra getrouheid en opoffering.

God se Woord kom ook to jou en my.  God daag uit.  God nooi.  God stuur.  Ons moet gaan.  Op hierdie manier kom die ratwerk van God se werk tot volle ontplooiing.

Fisieke nood

Die Bybel ken nie die teenstelling tussen die geestelike en die materiële asof die een belangriker as die ander is nie.  God help in fisieke nood. Hy is nie net die Heerser van die heelal nie, maar ook die een wat voed en versorg.

Daarom roep God sy volgelinge ook op om in materiële nood belang te stel.  Ons word gestuur om ‘n glas water te gaan gee.  ‘n Kombers teen die winterkoue.  ‘n Besoekie om eensaamheid te verlig en belangstelling te betoon.

Ons word geroep om materiële nood te verlig.  Die owerheid ontvang die swaard by God om die oortreder te straf en hierdie wêreld ‘n veiliger plek te maak.  Ons word geroep om die arme te ontvang, ons te ontferm oor die vreemdeling in ons poorte, en om te gee vir die weduwee en die wese.

Só demonstreer God dat Hy die bron is van lewe, nie Baäl, kapitalisme, of die rente- en repokoers nie.  God gee lewe.

Ons het reeds alles wat ons nodig het

Ons nooit te min het om te gee nie.  Wat ons moet gee, het ons klaar in ons hande.  Ons beskik oor wat ons nodig het om vir God bruikbaar te wees.

Daarom kan ons dit altyd waag met God.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Gebruik dalk die gedeelte uit Psalm 146 as belydenis…
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.

Offergawes

Wegsending” Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Seën
Voorganger: Gaan hiervandaan met vreugde. Dans, lag, sing en skep.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van die Here se seën.

Voorganger: Gaan hiervandaan met die vertroue om te waag en lief te hê.
Gemeente: Ons gaan –  verseker van die Here se seën.

Voorganger: Gaan hiervandaan met die geloof om te glo, te hoop, te stry en te onthou.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se liefde. Alle dank kom God toe.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.