Vier en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Seisoen van die Voleinding staan in die teken van volharding tot op die dag waarop die Here Jesus weer kom. Dit is ons geloof wat ons laat vasstaan, volhard tot op die dag dat die Here Jesus ons kom haal. In hierdie tyd neem ons geloof en liefde steeds toe. Op ons geloofsreis sal ons maklik vrae kan vra oor die onreg en geweld wat deel van die lewe is. Volharding vra dat ons op die Here wag. God se geregtigheid staan vas. Ons moet op die uitkyk bly vir waar ons die Here sien werk, aktief deelneem aan die koms van sy koninkryk, en bly volhard met hoop.

Ander tekste

Habakuk 1:1-4; 2:1-4
Opskrif
1 ’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.
Habakuk se klag: Onreg
2Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat U hoor, Here,
moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?3Waarom laat u my die onreg sien
wat gedoen word,
waarom kyk U toe as daar
soveel ellende is?
Oral rondom my is daar
onderdrukking en geweld,
en word daar getwis en gebaklei.
4Die wet het nie meer krag nie,
en daar geskied nie meer reg nie.
Slegte mense het die oorhand
oor die goeies,
en so word die reg verkrag.
Die antwoord van die Here: Wie reg doen, sal lewe
2 Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem
wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord
wanneer mense my verwyt.
2Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette
sodat mense dit sommer
in die verbygaan kan lees.
3Die openbaring geld
vir ’n bepaalde tyd;
dit sal gou kom
want dit kom beslis.
Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis,
dit sal nie uitbly nie.
4Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie,
sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe
omdat hy getrou bly.

Psalm 119:137-144
137U is regverdig, Here,
wat U bepaal, is reg.
138In groot regverdigheid en trou
het U u verordeninge uitgevaardig.
139Ontsteltenis verteer my
omdat my teëstanders
u woord verontagsaam.
140U woord is baie suiwer,
ek het dit lief.
141Al is ek gering en verag,
u bevele verontagsaam ek nie.
142U is altyd getrou en regverdig,
u wet staan altyd vas.
143Al oorval angs en benoudheid my,
in u gebooie bly ek my verlustig.
144U verordeninge is altyd regverdig;
gee my insig daarin, dat ek kan lewe.

Lukas 19:1-10
Jesus en Saggeus
19 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ’n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ’n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ’n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Fokusteks

2 Tessalonisense 1:1-4, 11-12
1 Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.

2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Die oordeel met die wederkoms van Christus
3Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. 4Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur.

5Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo.

11Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Ekstra stof

Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.
Hy het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ’n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9). Dit was saam met Silvanus (Silas) en Timoteus, na die stigting van die eerste gemeente in Europa, Filippi. Lukas het in Filippi agter gebly (Hand 16:40), ten spyte van Paulus en Silas se geseling en kortstondige tronkstraf, en eers weer later saam met hulle verder gereis (Hand 20:6).

Die groot belang van Tessalonika vir die uitbreiding van die evangelie was dat dit geleë was aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad. Die stad was daarby as hawestad ’n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd. Gevolglik kon die gemeente ’n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het.

Die gemeente van Tessalonika
Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika. Ons lei af dat Paulus sy beroep as tentmaker (vgl 1 Tes 2:9) in Tessalonika beoefen het om nie ’n las vir die gemeente te wees nie.

Hy begin soos gewoonlik met ’n besoek aan die sinagoge en fokus 3 sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is. En sy hoofargumente kom uit sy lees van die Ou Testament.

’n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ’n hele aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. “Vooraanstaande” vroue speel hier, sowel as in Filippi en later in Berea, ’n groot rol, en wys ook op die status wat hulle in die Griekse samelewing geniet het. Interessant is dat die gemeente in Filippi, met Lidia ’n leidende figuur daar, in dié tyd vir hom meer as een maal ondersteun het (Fil 4:16).

Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors. Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus. Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees. Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Daarmee word Paulus effektief eers gestuit in sy voorneme om in die gemeente van Rome uit te kom (Rom 1:10!), want dit is waarheen die Via Egnatia hom sou lei, as hy verder daarop sou reis. Hy sou eers later as gevangene daar uit kom.

Die kern van ’n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm. Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”). En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig. Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2; Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ’n mens uit Rom 16:21 aflei. Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.

Die briewe
Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11). Die brief aan die Tessalonisense, en ook die tweede brief aan hulle, is in dié tyd geskrywe, waarskynlik in die loop van 50-51 n C, omdat ons weet dat Gallio in die tyd goewerneur van Agaje geword het (inskripsie te Delfi) en Paulus voor hom verskyn het in Korinte (Hand 18:12–18). Hy skryf dus die brief uit Korinte.

Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges te bemoedig (vgl die metafore in 2:7, 11), en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê – hy is immers beide in Tessalonika en Berea as ’n onrusstoker uitgeskop – het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan (3:1).

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus die eerste brief vanuit Korinte (Hand 18; 1 Tes 3). Die terugrapport moes hom self baie bemoedig het, want die Gees het immers op ’n besondere wyse vir hulle daarheen geroep (Hand 16:6-10). Die geloofsgroei by die gemeente het dus vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, en hulle het die Gees nie verkeerd gehoor nie.

Uit die onderwerpe wat hy aanraak, kom ’n mens egter ook agter waaroor hulle onseker was, onder andere seksuele sake (4:3-8), die gemeenskapslewe (4:9-12 en 5:14-15), die lewe na die dood (4:13-18), die wederkoms (5:1-11 – waaroor hy weer gaan skrywe in die tweede brief om verdere misverstande op te klaar), hulle leiers (5:12-13) en die gemeentelike lewe (5:16-22).

Dit is ook interessant dat hy, anders as in sy ander briewe, hier in die meervoud skryf “Ons dank God …” (1 Tes 1:2; 2 Tes 1:3). Dit is omdat die briewe afkomstig is van Paulus, Silvanus (Latynse naam vir Silas) en Timoteus (1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1) en aldrie ’n sleutelrol in die bediening aan die gemeente gespeel het.

Die tweede brief hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim. Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ’n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ’n brief of profesie wat valslik aan Paulus toegeskryf word (1 Tes 2:2). Let op hoe hy sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17!

Belang van die briewe
Prof du Preez skryf dat die twee briewe aan die Tessalonisense die gees en boodskap van die vroegste Christelike kerk beliggaam. Hulle illustreer volgens hom die krag van die evangelie van Jesus Christus om mense uit alle volkere nuwe mense te maak. Dit is ’n bemoediging vir alle mense wat die evangelie wil neem na die uithoeke van die wêreld.

En dit illustreer hoe jy mense wat pas tot geloof gekom het, help om te groei te midde van vervolging. Jy bevestig hulle in hulle geloofservaring en jy spits jou lering toe op die praktiese vrae wat hulle vra. So bou jy gelowiges wat nie net heilig en verantwoordelik lewe in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ook ’n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese of eindtyd briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). So kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan, en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar
Paulus is dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem (skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!) ten spyte van vervolging en lyding. Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes. En dan bemoedig hy hulle om te volhard daarin deur na 2 eienskappe van God te verwys:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie. Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis. Let op hoe die verdoemenis geteken word as “altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here” (vers 9). Calvyn het gepraat van ’n “onsterflike dood”.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar is om te deel in die verheerliking. Let op dat God verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof én dat hulle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Paulus sluit dié hoofstuk met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak – woorde wat herinner aan die eerste brief (1:3; 5:8).

Die boodskap bevredig ons eie sin vir regverdigheid – lyding is nie maar toevallig of verniet nie – en gee ons hoop – God sal ons waardig maak vir die lewe waartoe Hy ons geroep het. Ons kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in ons bediening en lewe.

Liturgie

Toetrede: Lied 151 of VONKK 24 of Flam 305

Votum: (N.a.v. Ps. 17:6-8 – bidded)

Seëngroet: (Ps 91:4).

Lofsang: Lied 470 of VONKK 174

Wet (Responsories)
Lied 526 of Vonkk 57 of Flam 173

Toe-eiening (as Toewyding en Geloofsbelydenis): (Ps. 119:137-144)

Gebed

Skriflesing: 2 Tessalonisense 1:1-12

Preek
Geleentheid vir Gebed
Getuienis

Slotlied: Lied 280 of VONKK 38 of Flam 253

Seën: (N.a.v. 2 Tess 1:11-12)

Respons
Lied 280v2 refrein: of
Vonkk 89 “Amen” of
Flam 56 “Oorwinnaars”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 151 “Skenk ons, Here, u beskerming” of
VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons” of
Flam 305 “Daar’s ’n Vlam (Vlam)”

Votum: (N.a.v. Ps. 17:6-8 – bidded)
Ons roep U aan, want U sal ons antwoord, ons God! Luister tog na ons. Toon u wonderlike trou, U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil. Beskerm ons soos die appel van u oog, steek ons weg in die skaduwee van u vleuels.

Seëngroet
Vriende, ek groet julle in die Naam van die Drie-enige God. 4Hy beskut ons onder sy vleuels en is vir ons ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm ons aan alle kante. (Ps 91:4).

Lofsang
Lied 470 “U, Here, is ons koning” of
VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”

Wet
V: Wat is ons alles aan mekaar verskuldig?
G: Net om mekaar lief te hê.

V: Watter deel van God se wet voer ons uit wanneer ons mekaar liefhet?
G: Die hele wet van God, want al die gebooie word daarin saamgevat.

V: Die samevatting van die wet van God is:
G: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

V: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
G: Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
(Uit Wepener, C 2011 Soos ’n Blom na die Son Draai. Wellington, Bybelmedia.)

Lied 526 “Waar daar liefde is” of
Vonkk 57 “Ek gee aan julle ’n nuwe gebod” of
Flam 173 “Dis Die Opdrag Van God”

Toe-eiening (as Toewyding en Geloofsbelydenis)
(Ps. 119:137-144)
137U is regverdig, Here,
wat U bepaal, is reg.
138In groot regverdigheid en trou
het U u verordeninge uitgevaardig.
139Ontsteltenis verteer my
omdat my teëstanders
u woord verontagsaam.
140U woord is baie suiwer,
ek het dit lief.
141Al is ek gering en verag,
u bevele verontagsaam ek nie.
142U is altyd getrou en regverdig,
u wet staan altyd vas.
143Al oorval angs en benoudheid my,
in u gebooie bly ek my verlustig.
144U verordeninge is altyd regverdig;

gee my insig daarin, dat ek kan lewe.

Liedere

VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons”
Teks: Tui amoris ignem – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.
Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

F305. “Daar’s ’n Vlam (Vlam)”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Stass van Veuren © 2009 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Onbeskaamd 2)

Daar’s ’n vlam wat brand in ons hart vandag.
Dis ’n vlam, dis ’n vuur,
dis ’n honger na u heerlikheid.
Daar’s ’n vlam wat brand in ons hart vandag
dis ’n honger, ’n honger na U.

Refrein:
Jesus, Koning
ons honger en ons dors na U.
Jesus, Koning
ons honger en ons dors na U.

VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Teks: There shall be showers of blessing – Daniel W Wittle 1882; Strome van seën van bowe – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 © Musiek: SHOWERS OF BLESSING – James McGranaham 1883
Kantoryverwerking: James McGranaham 1883 © Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Pinkster / Geloof en Vertroue

1. Strome van seën uit die hemel
gee God aan ons deur sy Gees.
Hy skenk die wedergeboorte,
maak van ons lewe ‘n fees!

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

2. Strome van seën uit die hemel
kom van die Heilige Gees.
Hy wek geloof en bekering
dat ons sy kinders kan wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

3. Strome van seën uit die hemel
kom deur die werk van die Gees.
Hy kom vernuwe ons denke
om meer gehoorsaam te wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

4. Strome van seën uit die hemel –
dis wat die Gees ons beloof.
Hy leer ons bid met verwagting,
om te volhard in geloof.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35
Teks: A new commandment I give unto you – Roy Crabtree; Afrikaanse teks: Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

F173. “Dis Die Opdrag Van God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Kerk en Koninkryk; Getuienis; Wet)Teks en musiek: Willem Gouws
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Dis die opdrag van God,
dis sy groot gebod
om jou naaste lief te hê soos jouself.
Hy gebruik vir jou en my
om sy koninkryk uit te brei
en Hy stuur ook sy Gees om ons te help.

Refrein:
Hy maak ons deel van sy liggaam,
Hy maak ons deel van sy kerk.
Hy leef in ons harte
en in Jesus se Naam staan ons sterk.

VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”
Teks: Nuwe Sionsgesange 1994; gewysig Jacques Louw 2009 ©
Melodie: EVENTIDE – William Monk 1861 © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Uitsending

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

F352. “Met My Hele Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof; Toewyding; Gebed) Teks en musiek: Riaan van Jaarsveld Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

1. Hier is ek, o Heer, doen met my soos U wil,
U wat my hart vervul.
Hier is ek, o God, neem my lewe in u hand
en laat u vlam in my brand.

Refrein:
Met my hele hart wil ek u Naam loof en prys,
U liefde is al wat ek begeer.
Vir al ons sondes het u Seun gesterf aan die kruis,
hoe wonderbaar is u Naam o Heer!

2. Laat my volhard, o Heer, met elke dag se stryd
en maak my voorbereid.
Laat my weer sien, o God, dat U alles vir my is,
moet nooit u vlam in my blus.

God praat met ons en ons luister

Gebed
O Here, onuitputlike bron van alle goeie dinge,
Ons eer U vir die gawes van u liefde.
Gee dat ons u Woord mag hoor meet ’n opregte begeerte om te ontvang wat dit belowe en ta gaan doen wat dit van ons vra.
Graveer u Woord nie net in ons verstand nie, maar ook in ons harte.
Verander ons deur u Heilige Gees om al meer aan die beeld van u Seun gelyk te word.
Ons wil ons verwonder oor u heerlikheid
Terwyl ons in hierdie helder spieël van u evangelie kyk.
Amen
(Uit: Van der Merwe, J (red.) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington, Lux Verbi.BM.)

Skriflesing: 2 Tessalonisense 1:1-12

Familie-oomblik

In die brief wat ons vandag lees, word daar gepraat van die mense in Tessalonika se goeie voorbeeld. Daar word vertel van hulle geloof, liefde en volharding, wat vir ander mense ’n voorbeeld is.

Vertel die storie van Mean Jean, the Recess Queen deur Alexis O’Neill. Mean Jean het oor die speelgrond regeer – niemand kon swaai voor sy geswaai het nie, niemand kon op die glyplank gly voor haar nie. Sy het almal geboelie. En dan, een dag, kom daar ’n nuwe dogtertjie – Katie Sue. Katie Sue stel ’n nuwe voorbeeld. Sy vra Mean Jean om saam met haar te speel! En so word die speelgrond weer ’n wonderlike plek vir almal om te speel. Katie Sue stel ’n goeie voorbeeld vir almal om te volg. Net soos wat die mense van Tessalonika se optrede oral vir mense ’n voorbeeld was, word Katie Sue se optrede die voorbeeld vir almal – en word die skool ’n beter, lekkerder plek!

As jy nie die boek koop nie, kan jy na die storie kyk/luister en dit in jou eie woorde en styl oorvertel.

Preekriglyn

[Nota: In die preek word verwys na die hele teksgedeelte, verse 1 tot 12.]

Wat hou die vuur van geloof brandend? Terwyl dit gietende reëns moet trotseer? Terwyl die vyande van geloof dit wil blus. Terwyl die sosiale afkeur en weerstand van die samelewing teen geloof dit van alle kante probeer versmoor?

Hoe kry die vuur van geloof dit reg om sterker te brand teen al die pogings om dit uit te doof?

Dit is ‘n vuur van liefde vir mekaar, vir die naaste en vir die vyand. Dit is ‘n vuur van geloof in God wat die onsigbare God in Jesus Christus sien, liefhet, dien en gehoorsaam. Dit is ‘n vuur van hoop wat God se toekoms sien, al kan niemand anders dit sien nie, en al maak die wêreld dit belaglik.

Met soveel vyandige kragte daarteen, hoe bly geloof brandende?

Geloof wat sterk toeneem

Die apostel Paulus skryf tweeduisend jaar gelede aan die gemeente in Tessalonika presies oor so ‘n geloofsvuur:

Ons moet God altyd vir julle dank, broers en susters. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur. (2 Tess 1:3-4)

As mens die omstandighede waaronder die evangelie na Tessalonika gekom het, en die situasie waarbinne dit gegroei het, in ag neem, weet jy hier is ‘n wonderwerk aan die gang:

  • Hulle geloof neem sterk toe
  • Hulle liefde vir mekaar word altyd meer
  • Die gemeente volhard en bly glo, ten spyte van vervolging en lyding.

Paulus kyk egter veel verder as bloot na die geloof van die gemeente in Tessalonika. Daar sit meer agter hulle geloof as bloot eie oortuiging, durf en toewyding. Hy bring aan God die dank. God het die vonk verskaf wat die geloofsvuur laat ontvlam het. God hou die vuur brandend, en laat dit toeneem. Die gemeente se oorspronge lê dieper as hulle eie keuses. Hulle is die vrug van Vader, Seun en Heilige Gees se bediening in Tessalonika.

Hoe is dié vuur aangesteek?

Tessalonika staan vandag as Salonika bekend. Dit is die tweede grootste stad in Griekeland.

Paulus het Tessalonika, die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ’n paar weke lank besoek ten tye van sy tweede sendingreis (Handelinge 17:1-9).

Tessalonika was geleë aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad. Die stad was daarby as hawestad ’n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd. Gevolglik kon die gemeente ’n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het. Tessalonika was geweldig belangrik vir die uitbreiding van die evangelie.

Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika. Hy begin soos gewoonlik met ’n besoek aan die sinagoge en fokus 3 sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is.

’n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ’n hele aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. Die bekerings stuit die meerderheid ander Jode teen die bors. Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring. Hulle tree glo in stryd met die keiser se wette op deur te sê dat Jesus die Here is.

Paulus-hulle vertrek inderhaas na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees. Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Die kern van ’n florerende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm. Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”). En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig. Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2; Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ’n mens uit Rom 16:21 aflei. Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Briewe aan die Tessalonisense

Ons teks vandag kom uit Paulus se tweede brief aan die gemeente in Tessalonika. Aangesien Paulus slegs na drie weke moes vlug, was daar baie onafgehandelde sake waaroor hy met die gemeente wou gesels. Die twee briewe is baie moontlik kort na mekaar geskryf. Die gemeente in Tessalonika was enkele maande oud toe hulle die tweede brief van Paulus uit Korinte ontvang het.

Paulus herinner die gemeente dat hulle onder druk sal kom weens hulle geloof, maar dat die toekoms in God se hande is. Die twee briewe word dikwels Paulus se eskatologiese briewe genoem. Die woord “eskatologies” kom van “eskaton” wat “einde” of “laaste dinge” beteken. Dit dui op die einde van die tyd met Christus se wederkoms. Paulus verduidelik dat mens die lewe van elke dag, jou geloof, toewyding en volharding aan Christus in die lig van die einde – Jesus se wederkoms – moet verstaan. Dit gee jou die krag om God elke dag te dien, en in jou geloof te groei. Hiervoor gee God jou die krag.

Waar die einde vir gelowiges troos inhou, sal dit oordeel oor die gemeente se vervolgers bring. Terwyl gelowiges nou die slagoffers van lyding en vervolging is, bring die wederkoms van Jesus ‘n ingrypende omkeer mee:

God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo. (2 Tess 1:6-10)

Dankbaar

Ons het reeds verwys na Paulus se dankbaarheid voor die Here oor die geloof en liefde van die gemeente in Tessalonika wat sterk toeneem. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir toeneem kan vertaal word met supergroei. Hierdie supergroei geskied ten spyte van vervolging en lyding.

Paulus is diep bemoedig deur berigte oor hulle geloof. Hy erken God as die Gewer van dié groei.

En dan bemoedig hy die Tessalonisense om in hul geloof te volhard. Hy doen dit deur na twee eienskappe van God te verwys:

  • God se regverdigheid, en
  • God se betroubaarheid
Bemoedig deur God se regverdigheid

God is regverdig. Daarom sal God nie toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf verbygaan nie. Paulus gebruik sterk taal. Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis. Let op hoe die verdoemenis geteken word as “altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here” (vers 9).

God se regverdigheid bemoedig die gemeente, want dit maak hulle vry om te fokus op liefde en gehoorsaamheid. Gelowiges hoef nie self reg in eie hande te neem nie. God beskerm hulle. God tree namens hulle tot die stryd toe, versterk hulle, en dra hulle tot die einde.

Hierdie bemoediging laat mens dink aan Dawid se gebed in Psalm 17:
Luister tog, Here, na my regverdige saak, let op my hulpgeroep. Hoor tog die gebed wat ek in alle opregtheid bid.
U sal uitspraak lewer in my guns: u oë sien immers self wat reg is.
As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie.
Oor die doen en late van mense het ek niks verkeerds gesê nie: ek het my aan u bevel gehou.
Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie.
Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God! Luister tog na my en hoor wat ek sê.
Toon u wonderlike trou, U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil.
Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels vir die goddeloses wat my wil oorweldig, die doodsvyande wat my omsingel.
Sonder enige meegevoel, met monde wat aanmatigende dinge sê, omsingel hulle my waar ek ook gaan. Hulle soek my ondergang.
Hulle is soos leeus, oorgehaal om te verskeur, soos jong leeus wat iets voorlê.
Kom tog, Here, staan hulle voor, dwing hulle op die knieë. Red my met u swaard uit die mag van die goddeloses, met u eie hand, Here, van hierdie mense.
Die versoeking is altyd daar dat gelowiges die reg in eie hande wil neem. Paulus vestig die aandag op God wat die reg handhaaf, en gelowiges se toekoms waarborg.

Bemoedig deur God se betroubaarheid

God is getrou, en dra sy kinders tot op die dag van Jesus se wederkoms. God sal sorg dat God se kinders deel in die verheerliking:

Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (vers 10).
En:
So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus (vers 12).

Die gelowiges se standvastige geloof verheerlik God, en God verheerlik die gelowiges weer op God se beurt.

Gebed en getuienis

Hierdie gedeelte word omraam deur:

  • Paulus wat vertel hoe hy oral getuig van die gemeente in Tessalonika se volharding en geloof; en
  • Paulus se gebed vir die Tessalonisense dat God hulle waardig sal maak vir die lewe waartoe God hulle geroep het. Hy bid dat God hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak.

Laat ons dit vir onsself, vir mekaar en vir ander bid. Laat ons vashou aan God en die doen van dit wat reg is. Laat ons onsself oopstel sodat God God se heerlike bedoelinge deur ons kan verwesenlik. Laat ons mekaar herinner wie God is, en hoe God werk, sodat ons bemoedig en geestelik versterk kan lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gee geleentheid vir voorbidding. Of reël vooraf mense om vir spesifieke sake in jul omgewing voorbidding te doen.

Getuienis
Gee geleentheid vir ’n aantal kort getuienisse, om mekaar te “herinner wie God is, en hoe God werk, sodat ons bemoedig en geestelik versterk kan lewe.”

Slotlied
Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig” of
VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan” of
Flam 253 “Met my hele hart2″

Seën: (N.a.v. 2 Tess 1:11-12)
Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het,
en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.
So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word,
en julle deur Hom,
in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Respons
Lied 280v2 refrein: “vas kan ek op U vertrou.” of
Vonkk 89 “Amen” of
Flam 56 “Oorwinnaars”
(RUBRIEK: Flam – Lof/Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Rick Moser © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 1) (Rom 8:37)

Ons is oorwinnaars! Ons sal vasstaan op Sy Woord.
Oorwinnaars, deur Sy kosbare bloed!
Oorwinnaars! Ons sal altyd triomfeer
deur Jesus Christus, ons Heer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.