Vier en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Vier en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Rut 3:1-5; 4:13-17
Ander tekste: Psalm 127; Hebreërs 9:24-28; Markus 12:38-44

Inleiding

Dit is die tweede Sondag van die Seisoen van die Voleinding. Een van die dae is dit ook 16 Dae van aktivisme: Geen geweld teen vroue en kinders.

Vandag se teks vertel die verhaal van Boas wat as losser vir Rut en Naomi optree. Dit is ’n verhaal wat die verweefdheid van kwessies soos armoede, familie, kultuur, godsdiens en gender uitbeeld. Dit wys op iets van die uitgelewerdheid van vroue spesifiek in die regstelsel, maar terselfdertyd ook die agentskap van vroue en die belangrikheid van “allies”. Dit sal goed wees om die hele Rut 3–4 te lees of te vertel. Psalm 27 staan as teken van die problematiek van ’n naïewe lees van die patriargale teks van die Bybel en moet baie versigtig benader word. Dit is nie ’n teks wat onverklaard in die liturgie gelees kan word nie. Markus 12:38-44 is ’n goeie teks om te gebruik om, in hierdie geval, spesifiek oor magsmisbruik deur godsdienstige leiers te praat.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord en seëngroet
Sien basisliturgie.

 Aanvangslied
Lied 159/Flam 291/NSG 343 “God is hier teenwoordig” (met die klem op die woorde “kom nou ALMAL nader)

Oproep tot lof en aanbidding
V: Vandag kom ons bymekaar om te aanbid.
G: Ons roep die storie van Rut in herinnering.
V: ’n Vreemdeling in ’n vreemde land
G: wat verwelkom is.
V: ’n Vrou sonder enige hulpbronne
G: wat deur die gemeenskap versorg is.
V: Ons vier Rut.
G: En ons bid dat ons verwelkom sal word wanneer ons dit nodig het. En op ons beurt ander in nood sal verwelkom. Amen.

Diens van die Woord

Skriflesing
Lees Rut 3–4.
Gebruik verskillende persone om te help lees en so aan die verhaal lewe te gee. Andersins kan ’n ouer vrou gevra word om die gedeelte voor te lees.

Kindertyd
Gebruik kinders om die verhaal uit te beeld terwyl dit voorgelees word.
Lees die verhaal uit ’n Kinderbybel of wys ’n YouTube-videosnit waar die verhaal op ’n kindervriendelike manier vertel word.
Carolyn C Brown het ’n hele paar goeie voorstelle in haar blog vir hierdie Sondag se gedeelte van die Rut-vertelling.

Diens van die Tafel

Gebed
V: Here, help ons om ons vrese, ons kwesbaarheid, ons gebrokenheid,
ons pyn, ons hartseer, ons menslikheid te erken en te wys vir ander,
want in ons vrees
G: lê daar moed,
V: in ons kwesbaarheid
G: lê daar krag,
V: in ons gebrokenheid
G: lê daar skoonheid,
V: in ons pyn,
G: lê daar verbintenis,V: in ons hartseer,
G: lê daar genesing
V: en in ons Godgeskape menslikheid
G: lê daar hoop vir ’n beter toekoms.
Natania Hendriks

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 530 “Praat ek mense eng’le tale”

Seën
Sien basisliturgie.

Preekstudie – Rut 3:1-5; 4:13-17

Teks

Sinvolle prediking oor hierdie gedeeltes in Rut behoort beslis die boek as geheel, met sy ryk kontekstuele beskrywing, in ag te neem. Die plasing van die boek in die Christelike kanon is reeds die eerste aanduider daarvan dat Rut nie bloot ’n losstaande, dog prikkelende kortverhaal is nie. Rut staan tussen Rigters en 1 Samuel, dus as narratief midde-in ’n tydperk waarin Israel na regverdige en herstellende leierskap smag. Dit is ook die oomblik wanneer die eerste koning gesalf word. Die breër verhaal van Rut dien klaarblyklik as ’n soort literêre brug tussen kerngebeure in Israel se geskiedenis. Die boek maak egter slegs enkele, byna veraf verwysings na die groter prentjie (die hongersnood in Betlehem word tradisioneel geïnterpreteer as ’n nagevolg van Israel se ongehoorsaamheid aan God) en fokus eerder op die persoonlike reis van een gesin.

Aanvanklik is die leser nie bewus daarvan dat hierdie gesin tog ’n hoofrol in die verhaal van Israel (en versoening van die hele wêreld) speel nie, maar die skrywer ontwerp die struktuur juis so dat hierdie aangename verrassing aan die einde opduik. Die simmetriese struktuur van die hele verhaal neem die leser vanaf ’n breë (nasionale) perspektief met die gedagte dat God uitkoms gee in die tyd van hongersnood, na ’n meer persoonlike perspektief met die gedagte dat Naomi terugkeer na Betlehem in die hoop om sorg te vind. Hierdie persoonlike perspektief brei later weer uit na die geboorte van Obed wat uitkoms en sorg vir Naomi bied (persoonlik), maar wat ook die voorvader van Dawid is deur wie Israel uiteindelik herstel word (nasionaal). Dawid is die voorvader van Jesus, deur wie die hele wêreld gered word.

Hoewel die verhaal van Rut dus voorkom of dit min tot geen verband met die narratiewe verloop van die hele Ou Testament het nie, kan daar tog duidelike verbande getrek word na kernoomblikke en konsepte regdeur die verhaal van Israel. Sommige interpretasies voer selfs aan dat die verhaal spesifieke sterk verbondsteologie inhou, aangesien dit opvallend ook oor temas rondom ballingskap, terugkeer, grondbesit en volk handel. Die gedagte van terugkeer word sterk deur Naomi se karakter ondersteun in haar oorgang vanaf bitterheid en verlatenheid na vervulling. Sien gerus Bethel Müller se besprekings van Rut 1, 3 en 4 vir ’n meer gedetailleerde bespreking van taalgebruik en Bybelse konteks van Rut.

Die perikope ter sprake in hierdie studie kan baie moeilik los van die boek as geheel verstaan of gebruik word. Daar rus ’n soort dramatiese ironie daarop wanneer mens net hierdie gedeeltes op hulle eie lees, aangesien die konteks van Naomi se opdrag en Boas se besluit onbekend is. Nietemin, hierdie gedeeltes is tog opsommend van die belangrikste bekommernisse en verantwoordelikhede van al die karakters: Naomi is ’n hulpelose weduwee wat te oud is om nog ’n seun te verwek en so haar oorlewing te verseker. Rut bly ’n absolute vreemdeling by ’n volk wat eintlik niks met haar te make mag hê nie (vgl Deut 23:3). Sy is skynbaar ook onvrugbaar en kan dus nie haar eie versorging verseker nie. Boas staan voor die keuse om aan die wet van God gehoorsaam te wees (Deut 24) deur hom te ontferm oor sy familie. Indien hierdie ’n verhaal oor die koninkryk van God is, wat is dit wat elkeen van hierdie hoofkarakters bydra?

3:1-5. Let daarop dat Naomi verwys na haar “verantwoordelikheid” om vir Rut te sorg. Hierdie verantwoordelikheid bestaan eintlik nie, want as weduwee kan en hoef Naomi vir niemand verantwoordelikheid te neem nie – inteendeel, die mans in haar familie behoort vir haar te sorg. Net so word ’n mens daaraan herinner dat Orpa se reaksie om van haar skoonma af weg te gaan (Rut 1), eintlik die norm sou wees. Rut staan voor dieselfde opdrag van haar skoonma om weg te gaan, maar kies daartéén en sy bly by die magtelose vrou wat nie vir haar kan sorg nie. Rut en Naomi se band is buitengewoon. Hulle skuld mekaar niks! Dat Naomi kies om vir Rut by haar plan in te reken om versorging te bekom, dui op iets anders as blote pligsgetrouheid. Watter waardes sou Naomi aanspoor om, in haar bitterheid, steeds sorg aan Rut te betoon?

4:13. Boas kies uiteindelik om gehoorsaam te wees aan die wet en om as losser op te tree soos die verwagting van Israel se mans is. Reeds in 2:10 kry ’n mens eintlik ’n blik op Boas se oortuigings wanneer Rut vra: “Waarom is u so goed vir my en stel u belang in my, ’n buitelander?” Boas se antwoord dui daarop dat hy hom oor Rut ontferm omdat hy gesien het volgens watter waardes sy leef – dat sy gekies het om haar land, mense en gode te verlaat om by haar skoonma te bly. Voordat daar nog aanspraak op Boas se verantwoordelikheid as losser gemaak word, tree hy dus volgens sekere waardes op.

4:14-15. Nadat Rut aan ’n seun geboorte gee, word die Here geloof vir die sorg en vervulling wat Hy op hierdie persoonlike vlak in die karakters se lewe bring. Die simmetriese verhaal bereik hier sy volheid, aangesien die land wat verlore is, teruggekoop en Naomi se skoot weer vol is met ’n seun wat haar versorging verseker. Die vroue in die dorp bevestig die rol wat Rut, die vreemdeling wat nou die God van Israel dien, hierin speel.

4:16-17. Hierdie verse verwys na die nasionale perspektief waarna die simmetrie uiteindelik terugkeer: die seun, Obed (die een wat dien) is die voorvader van Dawid. Die vroue wat vir hom hierdie naam gee, weet watter rol hy in Rut en Naomi se kort lewe sou speel, maar hulle is salig onbewus daarvan dat hy ’n onvervangbare stukkie in die legkaart van versoening vir die hele wêreld is. Deurdat hierdie enkele gesin vanaf onsekerheid en verlatenheid oorgaan na vervulling, kan Israel uiteindelik ook dieselfde oorgang vanaf die donker tyd van die Rigters maak na hoop en herstel onder koning Dawid.

Konteks

Die verhaal van Rut sou gewoonlik gelees word by die shavuot-fees (die lenteoesfees en ook die fees waar Israel die ontvangs van die Tora vier) na aanleiding daarvan dat dit ook in oestyd afspeel en die verhaal baie beelde van vrugbaarheid en vervulling bevat. Hierdie leserskonteks en die noue band tussen Rut en Naomi (en selfs die huwelik tussen Boas en Rut), dien al lank as inspirasie by huwelikseremonies. ’n Mens sou egter kon vra of die boodskap van hierdie verhaal so ingeperk moet word tot romantiese liefde tussen (net) twee mense wat mekaar baie goed ken. Rut en Naomi se verhaal kan maklik geromantiseer word, maar dit neem niks weg van die werklike swaar omstandighede waarin hierdie vroue (en gesin) hulleself bevind het nie: lewensbedreigende hongersnood, die verlies van drie geliefdes en om oorgelewer te wees aan die (onwaarskynlike) genade van mense, is hoegenaamd nie romanties nie! Dit is vanuit hierdie omstandighede dat Rut, die vreemdeling, vra: “Waarom is u so goed vir my?” en sy die antwoord kry (in mense se handeling) dat toewyding en onvoorwaardelike liefde geseën en geprys word onder die God van Israel se mense.

Die verhaal van Rut maak ook sterk aanspraak op ons verstaan van hoe die koninkryk van God funksioneer. Rut word tot deel van Israel verklaar wanneer sy aan Naomi se plan deelneem om ’n erfgenaam te verseker. Hierin word sy as een van die heldinne van Israel saam met Tamar en Ragel getel aangesien sy, soos hulle, die familielyn van Israel in haar eie hande neem. Uiteindelik is sy een van vier vroue wat by die naam genoem word in die breedvoerige geslagsregister van Jesus self (Matt 1). Hierdie insluiting van ’n vreemdelingvrou in die bloedlyn van verlossing, beklemtoon dat mense se deelname aan die koninkryk van God nie net rus op bloed en geboorte nie, maar ook op gehoorsaamheid en bereidheid om God se wil na te kom (al weet ’n mens nie dat jy is daarmee besig is nie).

Die betrokke perikope in die boek Rut word aan onder andere Psalm 127 en Hebreërs 9:24-28 verbind. Psalm 127:3 verklaar: “Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.” Hierdie vers getuig daarvan dat God doelgerig in die oprigting van sy koninkryk handel. Die seun Obed is met opset aan Rut gegee (miskien sodat nog ’n vreemdeling verwelkom kon word tot die verlossing wat God in sy almag bepaal het?) nadat sy in haar vorige huwelik kinderloos gebly het. Die Hebreërsteks spreek van dieselfde doelgerigtheid waarmee God werk – Christus het waarlik en eenmaal gesterf en so is die wêreld eenmaal, volkome verlos. Hierin sien ons weer dat God op verskillende momente in die geskiedenis persoonlik sowel as nasionaal werk met Rut, met Naomi, met die psalmdigter en met Jesus, en uiteindelik met elkeen wat vandag nog in Hebreërs lees oor die verlossing wat die nasaat van Obed gebring het.

Hierdie tekste funksioneer vandag skaars in omstandighede waar mense nie lyding en gevoelens van swaarkry en verlies ervaar nie. Dit is egter in die midde van sulke uitdagings dat ons mense hoor vra: “Waarom is u (Christene, kerke?) so goed vir my?” of dalk selfs: “Waarom is u nie goed vir my nie?” Die hoop is dat toegewyde liefde, deernis en omgee soos in Rut, Naomi en Boas se handelings die status quo in die koninkryk van God sal wees. Dit is in sulke handelings van liefde dat ons ook die liefde van God weerspieël. So ’n leefstyl word geseën en dit is vir baie die trekpleister. So ’n leefstyl is op sigself ook tot ’n seën vir ander.

Preekvoorstel

’n Tema vir die preek sou kon wees: “Ek, in die koninkryk”.

As gelowiges vra ons dalk dikwels die vraag: “Wil God mý regtig gebruik?” Ons ontmoedig of verkleineer onsself gereeld deur te dink dat daar ander mense met beter gawes is, of mense in belangriker posisies, wat eerder die werk van die koninkryk kan voortsit. Ons dink aan spesifieke (groot) dinge wat moet gebeur voordat mense in God sal begin glo, of voordat randmense ingenooi en omarm sal word. Blote omgee en sorg kan mos nie genoeg wees nie, kan dit? Dit sal nie werk om net vir mense lief te wees nie, sal dit?

Die familie in die verhaal van Rut was bloot oor hulle eie oorlewing besorg. Hulle was nie bewus daarvan dat hulle eintlik deelneem aan God se eeue-oue plan vir versoening nie. Tog het elkeen van hulle ’n besondere rol daarin gespeel.

Natuurlik is hierdie nie ’n goedkoop troosteologie om te sê “almal het ’n plekkie in die son” nie, maar eerder dat die manier waarop God sy wil laat geskiet, ons soms kan verras. Dit is deur Rut se toewyding aan Naomi; Naomi se sorg vir Rut en Boas se ontferming vir ’n nuwe vreemdeling in sy familie dat hierdie verhaal uiteindelik koningskap en herstel in Israel se gebroke geskiedenis inlui. Die dinge waarop ons wêreld in die post-moderne tyd die laagste prys stel, is juis dit wat lei tot die bevordering van verlossing.

Elkeen van hierdie karakters kon anders besluit het. Rut sou kon wegstap. Naomi kon vir Rut uitsluit en afskryf. Hulle skuld mekaar mos niks nie! Boas kon ook weier om as losser op te tree. In ons tyd sou mense se eerste instink dalk wees om te sê “nee”, en met hulle eie lewe aan te beweeg. Vandaar die oorvloed rolprente en stories waarin die een of ander karakter in ’n stadium vra: “Why are you being so nice to me?” Dink vir ’n oomblik hoeveel keer mens hierdie woorde in rolprente en reekse hoor.

Die antieke Israeliete het geen maatreëls gevestig gehad vir dit wat Rut gedoen het nie. Toe sy haar eie mense agterlaat, haar nasionaliteit “verander” en vir haarself ’n nuwe God kies, was dit iets ongehoords. Wat verstommend is, is dat sy reeds optree volgens die waardes van God se koninkryk (in haar liefde vir Naomi), nog voordat sy dit weet. Sy word ook om die beurt volgens hierdie selfde waardes behandel en staan verwonderd daaroor dat Israeliete goed kan wees vir ’n vreemdeling. Die karakters was dalk nie eers bewus daarvan nie, maar hulle leef volgens die aanname dat omgee, liefde en sorg die “regte ding” is om in die koninkryk van God te doen.

Die vraag, “waarom is u so goed vir my?” is ’n kwessie van identiteit en vereenselwiging. “Wat veroorsaak dat jy goedhartig en met deernis optree teenoor my?” In die geval van Boas en Rut het dit nie met een van hulle se menswees, bui of persoonlikheid te make nie, maar eerder met waarmee hulle hulle vereenselwig het. Aangesien Boas onder God se wette geleef het en hierdie wette sorg vir weduwees en weerloses inhou, het hy hom oor Rut en Naomi ontferm. Dit is sy vereenselwiging met die koninkryk van God, dus met God self, wat maak dat hy op ’n bepaalde manier optree.

Die hoop is dat mense hierdie vraag aan gelowiges kan rig en dat die antwoord sal wees: “Die liefde van Christus [God] dring my”. Die hoop is dat so ’n antwoord (verkieslik eerder in handeling as in woorde) sal getuig daarvan dat God elkeen van ons in sy koninkryk wil inspan, al weet ons nie wat ons omgee en deernis en verwelkoming van vreemdelinge mag beteken nie.

Bibliografie

Berlin, A 2020. The Story of Ruth. [Online] Available at: https://www.biblicalarchaeology.org
/daily/biblical-topics/hebrew-bible/the-story-of-ruth/
; Biblica, n.d. Introduction to Ruth. [Online]; Available at: https://www.biblica.com/resources/scholar-notes/niv-study-bible/intro-to-ruth/; Müller, B 2000. Rut 1:1-22: 5 November 2000, Twintigste Sondag in Koninkrykstyd; Müller, B 2000. Rut 3 en 4: 12 November 2000, Een-en-twintigste Sondag in Koninkrykstyd; Petter, D 2012. Ruth. In: G & HA Burge, eds. The Baker Illustrated Bible Commentary. Ada, Michigan: Baker Books.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.