Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd Sondag van Christus die Koning

Sections

Oorsig

Vandag se tekste ontsluit almal wonderlike perspektiewe op die koningskap van Christus. Die profeet Jeremia veroordeel aardse regeerders wat hulle godgegewe opdrag misbruik, terwyl die profeet uitsien na ‘n regverdige spruit wat vir Dawid sal opskiet: ‘n Koning wat regverdig sal regeer (Jer 23). Lukas 1 se loflied van Sagaria antisipeer ‘n Sterk Verlosser wat lig gaan bring aan dié wat in duisternis lewe, terwyl Lukas 23 wys wat hierdie Verlosser se koningskap beteken, naamlik dat Hy sy lewe aan die kruis offer sodat sondaars saam met Hom in die paradys sal wees. Kolossense 1 getuig ook van “die ryk van die lig” wat op ons wag omdat die Vader ons uit die mag van die duisternis weggeruk en onder die heerskappy van sy Seun wat Hy lief het, gestel het.

Ander tekste

Lukas 1:68-79
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”

Jeremia 23:1-6
Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here. 2Daarom, so sê die Here die God van Israel oor die herders wat my volk moet versorg: Julle het my skape uitmekaargejaag en verstrooi, julle het hulle nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf vir al die verkeerde dade wat julle gedoen het, sê die Here. 3Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word. 4Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie, sê die Here.

5Daar kom ’n tyd, sê die Here,
dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit
sal laat opskiet,
’n koning wat verstandig sal regeer.
Hy sal die reg eerbiedig
en regverdig regeer in sy land.
6In sy tyd sal Juda gered word
en sal Israel veilig woon.
Sy naam sal wees:
Die Here regeer regverdig oor ons.

Lukas 23:33-43
33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Fokusteks

Kolossense 1:11-20
1 Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Ons dank God vir julle
3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ‘n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

Ons bid vir julle
9Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Die voorrang van die Seun
15Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien
kan word nie.
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
16God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
19God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.

God het ook julle met Homself versoen
21Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.

Paulus se diens in belang van die kerk
24Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk, 25waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak. 26Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. 27God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. 28Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. 29Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.

Ekstra stof

Vorige riglyne:

Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe
Paulus word weer saam met Timoteus as die skrywers van die brief aangekondig, soos vroeër ook die geval was met die brief aan 1 Tessalonisense en 2 Korintiërs, en twee van die ander gevangeniskapbriewe: Filippense, en Filemon.

Paulus maak God deel van sy gesprek met Kolosse
Dit is interessant hoe Paulus sy gebed in gesprek laat oorgaan.  Hy begin deur God te dank vir die gemeente se geloof, liefde en hoop (1:3-8), doen voorbidding vir hulle (1:9-14 – dit is in Grieks een sin!), en laat die gebed dan sonder onderbreking oorgaan in ‘n gesprek om hulle aan te spoor om self ook nie op te hou om die Here te dank nie (1:12-14).  Dit mond uit in ‘n poëtiese loflied op die voorrang van die Seun, wat die meeste geleerdes as ‘n loflied uit daardie tyd identifiseer (1:15-20).

In die praktyk tref ons gewoonlik ‘n onderskeid tussen gebed – waar ons met God besig is – en gesprek – waar ons met mekaar besig is.  Dink egter net aan die effek wat dit kan hê as ons gebede deel van ons gesprekke sou maak.  En ek bedoel nou nie om dit geforseerd te doen nie, maar heel gemaklik in ons gemeenskap met mekaar die Here te erken en Hom deel van ons gesprekke te maak.  Dit kan ‘n dimensie vir ons oopmaak van God se teenwoordigheid in ons almal se lewens wat lewensveranderend kan wees.

Geloof, liefde en hoop
Let ook op na wyse waarop Paulus oor die drie groot sake van die Christelike lewe skryf: geloof, hoop en liefde (1 Kor 13:13; 1 Tes 1:3; vgl ook 1 Pet 1:3-9).  Hy beskryf hier geloof en liefde as dinge wat op die hoop gebou is.  En dié hoop is verbind aan (weggelê het die OAV vertaal – weggebêre) die hemel, God se werklikheid – ‘n bietjie anders verwoord as in Paulus se brief aan Korinte en Tessalonika.  Hoop is hier iets waarvoor God instaan.  Dit is nie iets wat deur omstandighede weggeneem kan word nie.

Geloof word uitgespel as iets wat in Christus Jesus gewortel is; liefde word uitgespel as iets wat ons verhouding met al die gelowiges definieer.  Wat my laat dink dat Paulus hier na geloof verwys as iets wat gewortel is in die historiese werklikheid van Christus Jesus se eerste koms – die verlede; dat die liefde weer met die teenswoordige wêreld te make het waar ons mekaar moet vashou in liefde – die hede; en dat die hoop met die toekomstige wêreld te make het, wat ons die moed gee om hier aan God en mekaar vas te hou – die toekoms.

Om God te ken en vir Hom te lewe
Let ook op wat Paulus vir hulle bid.  Hy wil hê dat vyf goed van hulle waar sal wees, vyf goed wat ons gerus ook vir mekaar kan bid:

  • Dat hulle God se wil duidelik sal ken (epignosis) deur die wysheid (sophia)  en insig (sunesis) wat die Gees gee;
  • Dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang;
  • Dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke;
  • Dat hulle sal toeneem in hulle kennis van God;
  • Dat hulle in alle omstandighede geduldig sal kan volhard deur God se wonderbare krag.

Kolossense 1:15-23 – Jesus die Here van die Skepping en die Herskepping
Let op die digterlike taal van vers 15-20 wat dit waarskynlik maak dat dit ‘n lied is wat die geloof van die vroeë kerk verwoord het, moontlik met byvoegings van Paulus.  Dit is in twee parallelle strofes opgedeel: vers 15-17 (skepping) en vers 18-20 (herskepping), waarin dieselfde sake besing word, telkens uit ‘n ander hoek (skepping/herskepping): die wese/oorsprong van die Seun, Sy status (Eerste) en werk in die hele kosmos, sowel as in die kerk, en Sy versoenende rol in hemel en op aarde.  Hiermee poog Paulus om die verkeerde idees wat onder hulle begin posvat in die kiem te smoor.

Vers 15-17 – Jesus in die Skepping
Let op hoe God as verhewe bo die Skepping geteken word.  God is dus nie deel van die Skepping nie, maar skep dit as iets wat onder sy beheer en versorging staan.  Let ook op dat daar van sigbare en onsigbare wesens gepraat word, en dat dit alles deur God geskep is.  Paulus beklemtoon dit onder andere omdat daar van die gelowiges in Kolosse was wat bv engele aanbid het. Hiermee wys Paulus dat hierdie wesens onder God is, deur Hom gemaak is, en daarom nie voorwerpe van aanbidding kan wees nie.  Jesus het ‘n besondere rol gespeel in die Skepping, in sy voor-menslike bestaan.  Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Vers 18-20 – Jesus in die Herskepping
En na sy dood en opstanding is Hy ook die Een vir Wie die lof van die Herskepping bedoel is.  Let op dat dit juis deur die kruis-evangelie is wat Jesus nou nie net Here van die Skepping is nie, maar Here van die Herskepping, dws van gelowiges wat hulle op God se versoening verlaat.  Deur Hom is alles op die aarde en in die hemel met God versoen.

Vers 21-23 – Staan vas in die geloof
Hierdie verlossing- en versoeningswerk sluit die Kolossense in, soos Paulus hier skryf.  En let op hoe Paulus nie net die wonderlike verandering wat by hulle deur geloof in Christus gekom het, besing nie, maar hulle ook oproep om vas te bly staan in die geloof en hulle nie te laat losruk van die hoop op verlossing, soos wat nou kon gebeur deur die mense wat hulle met verkeerde idees mislei.

Kolossense 1:24-2:5 – om met God se energie te bedien
Paulus praat hier nie net van vervolging nie.  In die grondteks van vers 24 staan lyding en verdrukkinge, dws meer omvattende dinge as net vervolginge.  Hierdie lydings en verdrukkings is dinge wat Christus sou ervaar het as Hy nou nog hier was as mens.  In ‘n sekere sin is alle lyding wat Paulus dus ervaar, ter wille van Christus.  En die omgekeerde is ook waar.  Alle lyding wat Paulus ervaar – omdat Hy in Christus glo en aan Hom getrou wil bly – is dinge wat aan Christus gedoen (sou) word.  Dit is waarom Paulus daaroor kan bly wees, want dit is dinge wat Hy ter wille van Christus ervaar, en dinge wat hy namens Christus ervaar.  Dit is wat sy deelname aan die lyding van Christus beteken, soos hy vroeër in Filippense 3:10 geskryf het.

Let op hoe Paulus van die evangelie praat as ‘n geheimenis wat God nou in Christus geopenbaar het.  Daarmee vat hy natuurlik alreeds die idee aan dat daar geheimenisse is waarin ‘n mens nog ingelyf moet word om regtig geestelik te raak – dinge soos die engele aanbidding, die magte van die kosmos ensomeer.  Die evangelie gaan nie oor dinge wat ons nog moet leer nie, maar oor dinge wat reeds oopgemaak is vir ons in Christus en wat al hoe meer deel van ons lewe moet raak.

Want dít is die geheimenis: Christus is IN julle. Die Een wat op so ‘n integrale manier by die Skepping en Herskepping betrokke was, is IN ons besig om God se werk te voltooi.  En dit is ‘n boodskap wat vir alle mense is, en wat alle mense moet hoor.

Dan vervolg Paulus om oor sy bediening te skrywe.  En ek moet sê, ek wonder baie keer hoe Paulus dit reggekry het om in 14 jaar die hele bekende wêreld van daardie tyd met die evangelie te kon bereik.  Onthou, daar was nie vervoer soos vandag nie.  Jy moes stap waar jy wou wees.  En daar was nie die kommunikasie middele van vandag nie.  Jy kon nie eers ‘n traktaatjie uitdeel nie, praat nie eers van ‘n e-pos skryf nie!  Tog het hy met groot impak die wêreld ingevaar met die evangelie, ‘n werk wat die basis gevorm het van die groei van die Christendom, die vrugte waarvan die toets van die tyd deurstaan het.

Ek dink een deel van die geheim van Paulus se effektiwiteit lê in vers 29.  Paulus het gewerk met die energie wat God hom gegee het.  Die NIV vertaal dit as volg: “To this end I labor, struggling with all his energy, which so powerfully works in me.”   Struggling with all his energy.  Dit is ‘n mondvol!

Liturgie

CHRISTUS DIE KONING FEESDIENS

RUS

Toetrede: Flam 192 of Lied 167 of Lied 168

Openingsgebed: (Reël vooraf ‘n lidmaat om die gebed te doen)

Respons: (Sonder aankondiging) Lied 177

Seëngroet: (nav die Geloofsbelydenis van Nicea)

Lofsang: Flam 171 [bekend: “Hosanna in the Highest] of Lied 215

Verootmoediging (Reël vooraf ‘n lidmaat om die gebed te doen)

Respons:  Lied 271

Genadeverkondiging  Toewyding: Flam 51 of Lied 491

Geloofsbelydenis; (nav Kol 1)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Kolossense 1:11-20

Familie-oomblik

Respons: VONKK 171

Preek

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

CHRISTUS DIE KONING FEESDIENS

Toetrede
Flam 192 Die Koning Is Hier of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde” of
Lied 168 “Heilige Jesus”

Openingsgebed
(Reël vooraf ‘n lidmaat om die gebed te doen)
Jesus Christus. Ons Hoop, ons Lewe, die Weg, ons Verlossing, Wysheid, Lig, ons Regter, die Deur waar ons deur gaan, Allerhoogste, Koning, Profeet, Priester, Messias, Leermeester, Bruidegom, Middelaar, Emmanuel, Wingerdstok, Herder, ons Vrede, die Lam, die Leeu, die Een wat vir ons intree, ons Rots, dit alles, en meer, is U vir ons.
Amen.
(Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Respons
(Sonder aankondiging)
Lied 177 Jesus, gróót bo almal

Seëngroet
Liturg:  Genade en vrede vir julle
van God, die Almagtige Vader
Gemeente:  die Skepper van die hemel en die aarde,
en van alle sienlike en onsienlike dinge;

Liturg:  en van Jesus Christus, die eniggebore Seun
Gemeente:  Lig uit Lig, waaragtige God
uit waaragtige God, een in wese met die Vader;

Liturg:  en van die Heilige Gees
Gemeente: Die Heer en Lewensmaker.
(nav die Geloofsbelydenis van Nicea)

Lofsang
Flam 171 [bekend: “Hosanna in the Highest”] Hosanna In Die Hoogste of
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”

Verootmoediging
(Reël vooraf ‘n lidmaat om die gebed te doen)
Here Jesus, dink aan my
En wis my sonde uit
Bevry my van sondige begeertes
En maak my van binne rein.
Here Jesus, dink aan my –
Angs oorweldig my.
Laat my ervaar dat ek u geliefde kind is
aan wie U u beloofde vrede skenk.
Here Jesus, dink aan my
En laat my nie van u wegdwaal nie.
Wys my die hemelse weg
Uit duisternis en wanhoop uit.
Here Jesus, dink aan my,
Sodat lig deur duisternis kan breek,
Sodat ek u ewige heerlikheid mag aanskou
En sodat ek in u vreugde mag leef.
Amen.
(Synesius van Cirene – vierde eeu n.C. – opgeneem in “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Respons
Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat me lewe”

Genadeverkondiging
Liturg: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodskap dat ons gered is.
Gemeente: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
L: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; met die mond bely ons, en ons word gered.

G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
L: Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.

G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
L: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
(Uit “Soos ‘n Blom na die Son Draai” deur Cas Wepener)

Toewyding
Flam 51 Koning Van My Hart of
Lied 491 “‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag”

Geloofsbelydenis: (Nav Kol 1)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.

Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.

Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.

Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
(met dank aan Wicus Wait)

Liedere

F192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie) Teks en musiek: Stass van Veuren © 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste.
Ons sing hosanna want die Koning het gekom.
En Hy is hier vir ons.
Ons sing hosanna want God het ingetree.
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee.
Hy is hier vir ons.

Refrein:
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my lewe.
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my hart.

2. Ons sing halleluja want God is op die troon.
Ons sing halleluja want die dood het verloor
by die kruis van Jesus.
Ons sing halleluja want die lig het gekom.
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom.
Hy’t gekom vir jou en my.

Refrein:

F171. “Hosanna In Die Hoogste”
(RUBRIEK: Gemeentesang – Lof) Oorspronklike titel: Hosanna in the highest Teks en musiek: Carl Tuttle
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet  © Mercy Publishing / Universal Songs

1. Hosanna (x3)
in die hoogste.
Hosanna (x3)
in die hoogste.
Ons verheerlik u Naam
soos ons nou voor U staan.
U’s verhewe, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

2. Loof Hom (x2)
loof die Koning en Heer.
Loof Hom (x2)
bring aan Hom die lof en eer.
Heer, ons bring U die eer,
U, ons Koning en Heer.
Word verheerlik, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Gebed) Teks en musiek: Rick Moser © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart,
koning van my lewe,
U wil ek bemin,
U lof besing vir ewig.
U het my bevry
my sondeskuld vergewe.
Koning van my lewe,
koning van my hart.

VONKK 171 “Jesus Is Koning”
Teks: Uit Laat die kindertjies na My toe kom – kleuterkantate van Gerrit Jordaan 1995/2011 (:1); Jacques Louw 2011 © (:2)
Musiek: JESUS IS KONING – Gerrit Jordaan 1995 Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
Volledige kleuterkantate beskikbaar by musikale verryking van VONKK 170. © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kleuterlied – Geloof en Vertroue / Kindwees

1. Jesus is Koning. Hy woon in my hart.
Hy is oral by my, ek kan altyd met Hom praat.
Hy is lief vir kinders en Hy kom nooi vir my,
dat ek God se kind kan word deur net in Hom te glo.

2.Jesus is Koning. Hy is groot en sterk.
Oor die hele wêreld is Hy Koning van sy kerk.
Hy roep alle mense en sê ook in sy Woord:
Hul wat soos ’n kindjie glo, ontvang sy Koninkryk.

VONKK 277 “U is die lig wat deur die donker skyn”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 © Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo) Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd.  Met toestemming gebruik.
RUBRIEK:  Kontemporêr – Paasfees / Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)”
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit  © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein: Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

VONKK 204 “Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader”
Teks: Hannes van der Merwe 2010/2012 © Musiek: CHRISTINE – Cecilia van Tonder 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Cecilia van Tonder 2012 (Pro Deo) © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Gebede / Uitsending

1. Mag die vrede van ons Hemelvader,
die genade van sy Seun, ons Heer,
die gemeenskap met die Gees van Waarheid
oor ons harte en verstand regeer.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam

2.Mag die vrede wat bo ons verstand is,
en genade wat ons nuut laat wees,
en die eenheid van geloofsgemeenskap
ons verbind in hart en ook in gees.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Kolossense 1:11-20

Familie-oomblik

Respons: VONKK 171 Jesus Is Koning

Familie-oomblik
Vir die familie-oomblik kan jy óf fokus op Jesus se koninskap, óf op die fokusteks:

Fokusteks:
Bring ‘n paar gewigte (die soort waarmee ‘n mens oefeninge doen) van verskillende groottes.  Terwyl jy demonstreer hoe jy die gewigte optel – of ‘n paar kinders verskillende gewigte (prober) optel (pasop dat niemand seerkry nie) – kan jy verduidelik hoe belangrik gewigoptel is om spierkrag te ontwikkel.  Lees dan Kol. 1:11 uit die Bybel vir Almal:  Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

Verduidelik dat ons krag as gelowiges nie kom van oefeninge met gewigte nie.  Ons krag kom van Jesus.  Jesus maak ons elke dag sterk in ons geloof.  Wanneer ons bid, wanneer ons Bybel lees, wanneer ons kerk toe kom, liedjies vir  God sing, leef soos wat Jesus vra, is Jesus die hele tyd besig om ons geloof sterk te maak.

Hier is ‘n inkleurprent van ‘n gewigopteller.

Jesus se koninskap:
Dalk is hierdie Sondag ‘n goeie tyd om weer “Who is the King of the jungle” af te stof (as jy dapper is en julle kan dans in jul Gemeente).  Hier is ‘n video om jou geheue te verfris.

Gesels oor konings / koninginne.  Laat kinders vertel watter konings hulle van weet (dalk in hul gunsteling stories) en wat hulle weet van konings/koninginne.  Verduidelik die kontras tussen Jesus se koningskap en die wêreld se idee van ‘n koning.  Gebruik ‘n pragtige kroon (maak een van karton, of koop ‘n blink plastiek een by ‘n speelgoedwinkel) en ‘n doringkroon.  Gesels oor die verskil tussen ‘n koning wat baie geld het en ‘n koning wat baie ryk is, ‘n koning wie se mense vir hom moet sterf en ‘n koning wat vir sy mense sterf.
Hier is ‘n eenvoudige inkleurprent van ‘n kroon.

VONKK 171 Jesus Is Koning

Preekriglyn

In die kerkjaar staan vandag bekend as “Sondag van Christus die Koning”. Op hierdie Sondag word beklemtoon dat Christus die Middelaar is, die Koning van die heelal. Ons teks help ons om hierdie waarheid oop te breek. Dit lei ons daartoe om te besef dat Christus die antwoord is op die onwaarhede of dwaalleringe wat ons ook in ons hedendaagse lewe weglei van Christus as die Middelpunt in ons lewe.

Versoekings

Dit kan goed wees om na te dink oor versoekings in die lewe wat ons makliker en eerder aanhang as geloof in Christus. In ‘n wêreld wat in ‘n  groot mate kapitalisme aanhang, kan geld-hebsug dikwels ons lewe beheers. Die najaag van rykdom word ons koning. Ons kan selfs glo ons redding lê daarin. Ons kan selfs verval in ‘n denkraamwerk (of selfs dwaalleer) waar ons begin glo daar is al hoe meer mag in die lewe en selfs in ons persoonlike verhoudings wat tot ons redding sal kom.

Die ander dwaalleer is dat God “weg” is, of dat God ‘n mite is, dat ons eintlik maar net alleen op hierdie wêreld is, dat die dood die einde van alles is. Ons moet self sin in die lewe probeer skep, of onsself aan sinloosheid oorgee.

Hierdie, en ander “konings” of “regeerders” in ons eie lewe, neem ons weg van die waarheid dat Christus ons Here en Middelaar is.

Gebed

Geloof in Christus maak die lewe anders.

Paulus dank God in die aanhef van die brief vir die vrug wat die geloof dra. In vers 9 noem hy dat hy en sy medewerkers alreeds van die begin af vir hulle ingetree het en gaan dan in vers 11 voort met sy gebed/intrede vir die gemeente. Hy bid dat hulle vervul sal word met die wil van God; dat hulle dit sal verstaan en dat dit sal lei tot geestelike wysheid.

In 2:8 waarsku Paulus die gemeente teen misleidende filosofiese redenasies (“teorieë en argumente wat misleidend is”). Hy waarsku die gemeente om nie te verval in die soeke na menslike wysheid nie. Vir Paulus – en alle Jode – is wysheid om God te ken. Dus om God se wil te doen (vgl Hos 6:6). Ware wysheid en insig kom van Christus, deur die Gees en is ingestel op die wil van God.

Daarom is Paulus se volgende gebed in vers 10 dat hulle “tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang”. Hy bid vir hulle om krag, wat daarin lê om geduldig in die wil van die Here te volhard (11).

Volharding gaan hier gepaard met geloof. Die Christene word vervolg weens hulle geloof in Christus.

Vanaf vers 15 word Christus se lewe, rol en werk die inhoud van ‘n wonderlike lied.

Christuslied

In Kolossense 1:15-23 word Jesus besing as die Here van die Skepping en die Herskepping.

Let op die digterlike taal van vers 15-20, wat dit waarskynlik maak dat dit ‘n lied is wat die geloof van die vroeë kerk verwoord het, moontlik met byvoegings van Paulus.

Dit is in twee parallelle verse opgedeel: vers 15-17 (skepping) en vers 18-20 (herskepping). Hierin word dieselfde sake besing, telkens uit ‘n ander hoek – dié van skepping en herskepping:

  • die wese/oorsprong van die Seun,
  • Sy status (Eerste) en werk in die hele kosmos, sowel as in die kerk, en
  • Sy versoenende rol in hemel en op aarde.

Hiermee poog Paulus om die verkeerde idees wat onder hulle begin posvat in die kiem te smoor.

Ons gaan nou na twee perspektiewe op Jesus die Koning kyk, wat in hierdie lied uitgewerk word: Jesus as Here, en Jesus as Eersgeborene.

Here in die skepping

In vers 15-17 word Jesus as Heerser in die skepping besing.

Let op hoe God as verhewe bo die Skepping geteken word.  God is dus nie deel van die Skepping nie, maar skep dit as iets wat onder sy beheer en versorging staan.  Let ook op dat daar van sigbare en onsigbare wesens gepraat word, en dat dit alles deur God geskep is.

Paulus beklemtoon dit onder andere omdat daar van die gelowiges in Kolosse was wat bv engele aanbid het. Hiermee wys Paulus dat hierdie wesens onder God is, deur Hom gemaak is, en daarom nie voorwerpe van aanbidding kan wees nie.  Jesus het ‘n besondere rol gespeel in die Skepping, in sy voor-menslike bestaan.  Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Here in die herskepping

In vers 18-20 word Jesus se koningskap in die herskepping besing.

En na sy dood en opstanding is Hy ook die Een vir Wie die lof van die Herskepping bedoel is.  Let op dat dit juis deur die kruis-evangelie is wat Jesus nou nie net Here van die Skepping is nie, maar Here van die Herskepping, dws van gelowiges wat hulle op God se versoening verlaat.  Deur Hom is alles op die aarde en in die hemel met God versoen.

Verwondering

By die lees van hierdie Christuslied word ons met verwondering vervul oor die grootheid van Christus, die Koning. Deur Jesus as die Eersgebore in skepping en herskepping uit te beeld, word die beskermende krag van Christus vir gelowiges uitgelig.

Eersgeborene

Die tema van Christus as eersgeborene in skepping en herskepping staan sentraal in hierdie lied.

Vers 15-17 fokus op Christus as die  Eersgeborene van die skepping. Vers 18-20 stel Christus bekend as die Eersgeborene uit die dood. Onder hierdie twee groter temas ressorteer die ander temas.

Christus is dodoende die sigbare beeld van die onsigbare Vader. Christus word die sigbare beeld van God. Alles wat sigbaar en onsigbaar is, het uit Hom ontstaan (ook die magte van die wêreld). Die Seun het bestaan voor enigiets anders en is daarom die Middelpunt van die ganse skepping. Ons leer ken hier weereens iets van die besonderheid van die heerlikheid van Christus.

Deur Christus se dood aan die kruis, word Hy die Eersgeborene uit die dood en versoen Hy alles en almal met die Vader. Hierdeur word Hy beslis die instrument vir vrede op aarde. Die Skepping maak sin, danksy die Seun.

Roeping van die kerk

Die kerk, die liggaam van die Seun, word die gestuurde agente na die skepping. Ons is as mens ook na die beeld van God geskape. As kerk is ons na Christus se hemelvaart, die sigbare beeld van God. Daarom is ons ook agente/instrumente van vrede op aarde.

Uit Christus se mag (die mag van die lig) en sy krag, vloei die moontlikheid vir sy liggaam om geduldig en standvastig te lewe terwyl ons die bedreigende magte en kragte van die wêreld of die duisternis in die oë moet kyk. Hierdie krag vloei uit Christus se verlossing en vergifnis.

Vergifnis verwys hier nie in die eerste plek na die ewige lewe nie, maar na nuwe maniere van lewe (om in die lig te leef). Ons word verlos van die gewoontes van die duister, die motiewe, redenasies en denke wat ons gehad het voor ons tot bekering gekom het; voordat ons besef het dat Christus ons vry gemaak het. Voordat ons erfgename saam met Christus was.

Bevry van vrees

Paulus wil ons daaraan herinner dat “alle dinge” onder die heerskappy van Christus is en ons word in sy koninkryk ingenooi. Wanneer ons hierdie werklikheid met opregtheid begin glo en alles in ons lewe onder sy heerskappy staan, hoef ons geen vrese meer te hê nie.

Gevange gehou?

Wat is al die dinge in die lewe wat ons gevange hou? Deur hoeveel dwaalleringe van die wêreld word ons mislei?

Baie Christene wil eintlik maar net goeie Westerlinge wees, tevrede dat ons eendag hemel toe sal gaan as ons sterf. Terwyl ons leef, wil ons goeie morele keuses maak, vir onsself ‘n neseier opbou en gelukkig leef.

Die effek is dat ons gevange gehou word deur ons besittings. Die belangrikste merkers van ons geluk word die rentekoers, die opbrengskoers, die wisselkoers, die repokoers en ander markkragte.

Wanneer ons lyding en verdrukking beleef, voel ons daar is iets fout. Voorspoed, sukses en voooruitgang is vir Westerlinge die norm – lyding en teenspoed nie.

Ons teks bied ‘n radikale alternatief aan. Die hoogste werklikheid is dat Christus die Here is. Hy is die sluitsteen van die hele skepping, en ook die Eersgeborene van die herskepping. Ons lewe word nuut deur saam met Christus te sterwe en op te staan in ‘n nuwe lewe van diens, getuienis en standvastigheid.

Wat Christus leer en wat Christus doen, is die maatstaf vir ons lewe. Ons is die draers van sy versoeining en sy herskepping van die hele wêreld. Ons leef uit die heerlike bestemming wat in Christus vir ons weggelê is. Ons leef nuut.

Die heerlikheid en heerskappy van Christus vra dat ons, as sy agente op hierdie aarde, sal meewerk daaraan om al meer mense in te sluit by hierdie “ander” werklikheid.

Op hierdie manier begin ons dit uitleef dat die heerlikheid nie iets is wat eers gebeur met die wederkoms nie. Christus se heerlikheid en heerskappy word op hierdie aarde reeds waar – wanneer ons in gehoorsaamheid aan Christus volgens die vrug van die Gees as agente van Christus se vrede op hierdie aarde leef.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 277 [bekende en baie gepaste melodie] U is die lig wat deur die donker skyn of
Flam 57 [baie bekend] Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied) of
Lied 468 “Christus, die Seun, is beeld van God” (nav Kol 1)

Seëngroet
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek;
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens;
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
Deur William Temple (1881-1944) in “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”

Respons
VONKK 204 Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader of
Vonkk 277 refrein of
Lied 215 refrein “Christus is dié Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.