Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Sections

Oorsig

Seisoen van die Voleinding
Met Hervormingsfees vier Protestantse kerk die gebeure rondom die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Dit gaan veral oor die viering van die vier Reformatoriese sola‘s: die sola gratia (verlossing uit genade alleen sonder enige verdienste), die sola fidei (die geloof as enigste “voorwaarde” om die verlossing te ontvang), die sola Scriptura (die voorrang van die Bybel bo die kerklike tradisie) en die soli Deo gloria (aan God alleen alle eer). In die liturgie wat hieronder volg, word daar gebruik gemaak van verskeie elemente uit die tyd van die Hervorming, byvoorbeeld Lied 476 “‘n Vaste Burg is onse God” (Luther se weergawe van Psalm 46) en die eerste paar vrae en antwoorde van die Heidelbergse Kategismus. Die “Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord” en die sing van Lied 255 daarna gee uitdrukking aan die sola Scriptura, terwyl die gebruik van Romeine 3:21-24 as vryspraak en Efesiërs 2:4-10 en 1 Petrus
1:18-21 by die nagmaal uitdrukking gee aan die sola gratia en die sola fidei. Deur aan die erediens ‘n vreugdevolle karakter te gee kan uitdrukking gee word aan die soli Deo gloria.

Ander tekste

Psalm 119: 137-144
137U is regverdig, Here,
wat U bepaal, is reg.
138In groot regverdigheid en trou
het U u verordeninge uitgevaardig.
139Ontsteltenis verteer my
omdat my teëstanders
u woord verontagsaam.
140U woord is baie suiwer,
ek het dit lief.
141Al is ek gering en verag,
u bevele verontagsaam ek nie.
142U is altyd getrou en regverdig,
u wet staan altyd vas.
143Al oorval angs en benoudheid my,
in u gebooie bly ek my verlustig.
144U verordeninge is altyd regverdig;
gee my insig daarin, dat ek kan lewe.

2 Tessalonisense 1: 1-4, 11-12
1 Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Die oordeel met die wederkoms van Christus
3Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. 4Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur.

5Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo.

11Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Lukas 19: 1-10
Jesus en Saggeus
19 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ’n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ’n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ’n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Fokusteks

Habakuk 1:1-4, 2: 1-4
Opskrif
1 ‘n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.
Habakuk se klag: Onreg
2Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat U hoor, Here,
moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?
3Waarom laat u my die onreg sien
wat gedoen word,
waarom kyk U toe as daar
soveel ellende is?
Oral rondom my is daar
onderdrukking en geweld,
en word daar getwis en gebaklei.
4Die wet het nie meer krag nie,
en daar geskied nie meer reg nie.
Slegte mense het die oorhand
oor die goeies,
en so word die reg verkrag.
Die antwoord van die Here: Ek gaan iets doen
5Die Here het geantwoord:
Kyk na die ander nasies:
julle sal verstom staan
oor wat julle sien.
Ek gaan nog tydens julle lewe
iets doen wat julle nie sal glo
as dit vir julle vertel word nie.
6Ek gaan die Galdeërs laat kom,
die wrede, woeste nasie
wat dwarsoor die aarde rondtrek
om lande te verower
wat nie hulle s’n is nie.
7Hulle is ‘n nasie
wat vrees en ontsag inboesem,
hulle ken net een wet,
een trots, hulle eie.
8Hulle perde is
vinniger as luiperds,
vuriger as honger wolwe.
Hulle ruiters kom aan
op ‘n galop,
hulle kom van ver af,
hulle vlieg soos arende
wat op hulle prooi neerskiet.
9Hulle hele leërmag
kom om verwoesting te saai,
hulle kom aangestorm
soos die oostewind
en maak krygsgevangenes
bymekaar soos sand.
10Die Galdeërs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit.

Hulle lag oor al die vestingstede:
hulle gooi grondwalle teen die
stede op en neem hulle in.
11Dan jaag hulle verder,
hulle trek verby soos die wind.
Vir hierdie sondige nasie
is sy eie mag sy god.
Habakuk se tweede klag: Waarom bly U stil?
12U is tog van altyd af daar, Here;
U is my heilige God;
ons sal nie sterwe nie.
U, Here, het die Galdeërs
aangestel om die vonnis te voltrek,
U, ons Rots, het hulle die mag
gegee om ons te straf.
13U oë is te rein om toe te kyk
terwyl daar verkeerd
gedoen word,
U kan tog nie sien dat daar
ellende is en niks doen nie!
Waarom doen U dan niks
aan die trouelose mense nie,
waarom bly U stil wanneer
slegte mense dié vernietig
wat beter as hulle is?
14Hoe kan U mense behandel
asof hulle visse is,
asof hulle kruipende insekte
sonder leier is?
15Die Galdeërs vang mense met hoeke,
trek hulle vas in nette,
maak hulle bymekaar in treknette,
en juig en jubel oor die vangs!
16Die Galdeërs bring selfs offers
vir hulle nette,
brand wierook vir hulle treknette,
want deur die nette leef hulle in weelde
en het hulle volop kos!
17Sal hulle maar deurentyd
voortgaan om hulle nette uit te skud,
om nasies meedoënloos
om die lewe te bring?
Die antwoord van die Here: Wie reg doen, sal lewe
2 Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem
wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord
wanneer mense my verwyt.
2Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette
sodat mense dit sommer
in die verbygaan kan lees.
3Die openbaring geld
vir ‘n bepaalde tyd;
dit sal gou kom
want dit kom beslis.
Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis,
dit sal nie uitbly nie.
4Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie,
sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe
omdat hy getrou bly.
Oordeel oor die Galdeërs
5‘n Hooghartige mens wat hom
deur sy rykdom laat mislei,
sal nie in sy doel slaag nie,
al is hy so gulsig soos die doderyk,
so onversadigbaar soos die dood,
al versamel hy al die nasies rondom hom,
al maak hy gevangenesvan al die volke.
6Dieselfde volke sal spotliedjies
oor hom sing
en met minagting na hom verwys.
Hulle sal sê:
Ellende wag vir hom wat hom verryk
met goed wat nie syne is nie,
wat vir hom al meer goed inpalm
wat verpand is.
Hoe lank sal dit nog voortduur?
7Die tyd kom vinnig nader dat jy self
in die skuld sal wees,
dat skuldeisers vir wie jy sidder,
skielik voor jou sal staan
en jou sal kaalstroop.
8Jy het baie nasies geplunder,
maar nou sal dié wat oorgebly het,
jou plunder,
want jy het baie bloed vergiet,
geweld gepleeg in baie lande,
teen stede en teen hulle inwoners.
9Ellende wag vir hom wat hom
ten koste van ander wou verryk
en daardeur ‘n rampoor sy familie gebring het,
hy wat vir hom ‘n hoë nes wou bou
juis om ‘n ramp vry te spring.
10Met jou geknoei het jy
jou familie se ondergang bewerk;
jy wou baie volke uitroei,maar daarmee het jy ‘n einde
aan jou eie lewe gemaak.
11Selfs die klippe in die mure
skreeu oor wat jy gedoen het,
en die balke skreeu saam.
12Ellende wag vir hom
wat ‘n stad bou met moord,
wat ‘n dorp aanlê met onreg.
13Dit is die Here die Almagtige
wat dit beskik het dat dít
waarvoor volke gewerk het
in vlamme opgegaan het,
dat volke hulle tevergeefs
afgesloof het.
14Soos waters die seebodem bedek,
so sal die magtige teenwoordigheid
van die Here oral op die aarde
geken word.
15Ellende wag vir hom wat,
toe hy vir ‘n ander drank gegee het,
dit met gif gemeng het
en hom dronk gemaak het
om na sy kaal geslagsdele te kan kyk.
16Jy sal self met skande
in plaas van met eer oorlaai word,
jy sal self dronk word en jou ontbloot!
Die Here sal jou
die oordeelsbeker wat in sy hand is,
gee om te drink,
en jou eer sal in skande verander word.
17Jou geweld teen die Libanon
sal jouself tref,
jou mishandeling van die diere
op die Libanon
sal jouself vernietig.
Jy het baie bloed vergiet,
jy het geweld gepleeg teen baie lande,
teen stede met hulle inwoners.
18Wat is die nut van ‘n afgod?
Dit is maar net iets
wat deur ‘n mens gemaak is,
‘n beeld waarvan net bedrog
te wagte kan wees.
Wat baat dit die maker om op
sy maaksel te vertrou
as hy ‘n afgod gemaak het
wat nie eens kan praat nie?
19Ellende wag vir hom
wat vir ‘n stuk hout sê: “Word wakker!”
of vir ‘n dooie stuk klip: “Staan op!”
Kan ‘n afgod jou iets leer?
Al is hy met goud of silwer oorgetrek,
is daar geen lewe in hom nie.
20Die Here is in sy heilige tempel:
almal op aarde moet
in sy teenwoordigheid stil wees!

Ekstra stof

Daar is ruim gebruik gemaak van die ekstra stof in die preekriglyn. Ons plaas dit wel ook hier om dit as ‘n eenheid te kan lees. Jy kan dié stof en ook die stof oor die ander profete wat deel is van Die Twaalf by hier bekom.

Habakuk – Nogtans sal ek in die Here jubel
Inleiding
Die profeet Habakuk, tydgenoot van Jeremia en Obadja, maar verder onbekend, worstel in die agste boek in die ry van Twaalf Kleiner Profete met die vrae wat Nahum op die tafel sit. As God dan só streng en grusaam kan oordeel oor die nasies, soos in die geval van Nineve, hoekom doen Hy dit nie ook nou waar die onderdrukkende werklikheid van die Galdeërs (1:6) die Jode se voortbestaan bedreig nie?

Hoe kan die Here hoegenaamd sê dat hy nasies inspan – “Kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek … (1:6) – terwyl hulle nie in Hom glo nie? Hoe kan die Here hulle toelaat om op gewelddadige en bose maniere op te tree? En hoe lank sal die onreg en geweld selfs onder die Godsvolk die oorhand hê? Kortom, hoe lank kan God nog toelaat dat onreg en boosheid gedy en regverdiges daaronder ly? Geregtigheid is immers ‘n grap in die land en die wêreld, soos Peterson in The Message skryf (Justice is a Joke – opskrif vir hoofstuk een).

Die Here oortuig Habakuk egter in sy gebedsworsteling dat al lyk dit op die oog af asof alles ten gronde gaan, God die regverdiges nie sal versaak nie. Op God se verlossing moet hulle wag, selfs al lyk dit asof dit/Hy talm. In volhardende wag, al dieper wordende luister en worstelende gebed met die Here lê hulle toekoms opgesluit.

Habakuk kan uiteindelik sê dat al lyk dinge op die oog af asof dit nie regkom nie, en eerder vererger: “nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag.” (Hab. 3:18-19). God versaak dus nie dié wat hulle toevlug tot Hom neem nie.

Die boek toon daarom eintlik meer ooreenkomste met van die Psalms as met van die ander profetiese boeke. Dit is, soos die Psalms, meer ‘n gesprek met God as wat dit ‘n woord van God af is. Habakuk relekteer dus meer van sy intersessorskap by God as dat hy as woordvoerder van God optree. Uit hfst. 2:1 blyk dit egter dat dit ook op ‘n woord vir die geloofsgemeenskap sal uitloop: “Ek wil wag om te verneem … wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

Weereens, soos die Psalms, is Habakuk daarom ook woorde wat God vir ons gee om vir Hom terug te sê. Kan ons Habakuk se woorde ons eie maak in watter uitdagende situasie ons ons ook al bevind. Trouens, Habakuk skryf sy gebed in hoofstuk 3 in die vorm van ‘n liturgie wat die geloofsgemeenskap kan gebruik in die erediens as klaaglied om by God in te tree vir watter situasie hulle ook al in verkeer (vgl. vers 1 en 19 – “Op die wysie van ‘n klaaglied … Vir die koorleier. Met snarespel.”).

Op dié manier is die boek op ‘n besondere manier ‘n boek van hoop, al weet ons dat die ballingskap uiteindelik wel gekom het en die volk vir sewentig jaar moes wag vir die uiteindelike verlossing. Uiteindelik het die Here hulle lot verander en kon hulle Hom weer dien in hulle eie land. En daarin lê ook vir ons die hoop vandag opgesluit.

Indeling
Die boek deel maklik in drie dele op. Die eerste twee hoofstukke is in die vorm van ‘n gesprek tussen Habakuk en die Here. Die derde hoofstuk is ‘n gebed wat uitsien na die uitkoms waarvoor Habakuk sy vertroue op God sit:
1:1-17 – Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument
1-20 – Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs
3:1-19 – Habakuk jubel in die God wat tot die redding van sy mense sal kom 

Habakuk 1:1-17 – Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument
Die eerste twee hoofstukke is ‘n roerende gesprek tussen Habakuk en God. Habakuk praat twee keer in hoofstuk een en die Here een keer. God praat twee keer meer uitgebreid in hoofstuk twee wat deur ‘n kort voorneme van Habakuk om te wag en te luister, ingelei word. Dit verloop as volg:

Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument – 1:1-17
Habakuk: Hoe kan u onreg verdra? – 1:2-
Die Here: Jy sal verstom staan oor wat Ek gaan doen – 1:5-11
Habakuk: U kan tog nie niks doen aan die ellende nie? – 1:12-17

Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs – 2:1-20
Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap – 2:1
Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly – 2:2-4
Die Here: Ellende wag altyd vir die wat plunder, knoei en onreg pleeg – 2:5-20

1:2-4 – Habakuk: Hoe kan u onreg verdra?
Habakuk se eerste woorde weerklink reg deur die eeue in gelowiges se gebede: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here.” Wat Habakuk se klag nog meer intens maak, is dat dit nie net sy persoonlike nood is wat voor die Here gebring word nie, maar dié van die gemeenskap waar die gebrek aan geregtigheid ‘n grusame grap geraak het, a la Peterson. Waar Habakuk ook al kyk, is daar onreg en ellende, onderdrukking en geweld, getwis en gebaklei.

Sy ervaring is dat die wet geen krag meer het nie en dat die slegte mense die oorhand het oor die goeies. Nêrens geskied daar meer reg en geregtigheid nie. Die reg word verkrag. En dit is nie die Galdeërs en die nasies wie se onreg Habakuk van praat nie. Dit is sy eie mense, die mense van Juda!

Wat Habakuk egter nog dieper ontstel, is dat dit lyk asof die Here van ‘n afstand af net toekyk en niks doen aan die ellende en geweld in die Joodse geloofsgemeenskap nie. Waarom tree die Here nie op nie? Hy kan tog sien dat dinge nie só kan aangaan nie?

Habakuk 2:1-20 – Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs
2:1 – Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap
Met dié laaste reeks vrae aan die Here, neem Habakuk in hoofstuk twee die enigste posisie in wat sin maak: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê, en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

2:2-4 – Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly
Die Here antwoord Habakuk op twee maniere.
Hy wys in die eerste gedeelte wat die geloofsgemeenskap se verantwoordelikheid in só ‘n tyd van onreg en oordeel is: “Wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.
Hy wys in die tweede gedeelte uitvoerig op die ellende wat mense te wagte kan wees wat plunder, knoei en onreg pleeg.

En dit is dié tweede antwoord wat Habakuk tot rus bring en sy gebed laat skryf wat ons in hoofstuk 3 opgeteken het.

In die eerste gedeelte beveel die Here vir Habakuk om die boodskap op kleitablette te skryf wat mense sommer in die verbygaan kan lees. Dit moet dus baie sigbaar in die publieke oog wees, die moderne weergawe van groot kennisgewing- of advertensieborde. Dié boodskap is:

Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” In die OAV lui die tweede frase: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Geloof en getrouheid (faithfulness) is albei goeie weergawes van die Hebreeus ‘emunâ.

Let op dat dié boodskap gekoppel word aan die geduldige wag vir die uitkoms van die Here:

Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

In dié twee woorde van die Here – 1) om te wag vir sy uitkoms, en 2) om in geloof en getrouheid te volhard – lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit. Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan die Galasiërs (3:11 – “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”) en die Romeine (1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’”) so baie van hierdie boodskap maak.

Ook die skrywer van Hebreërs maak in sy brief-boodskap baie van dié belangrike boodskap uit Habakuk (10:37-38 – “Nog net ‘‘n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdiens, het Ek niks aan hom meer nie.’”). Let op hoe die Hebreërskrywer die boodskap van Habakuk aan die wederkoms van die Here Jesus Christus koppel, dié dag wat geregtigheid in sy volheid sal aanbreek. Let ook op hoe hy die hoop en vertroue uitspreek dat die geloofsgemeenskap dié boodskap ter harte sal neem: “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.”!

Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Maarten Luther wat in die Romeine brief se boodskap (1:16-17) ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.

Boodskap
Ons is geneig om net te fokus op die wonderlike boodskap in Habakuk 3:17-19: “al sou die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek in die Here jubel.” Dit is egter noodsaaklik om eers te fokus op die worsteling van Habakuk in die eerste twee hoofstukke vóór ‘n mens tot ‘n jubeling midde in jou en jou gemeenskap se stryd oorgaan.

Dit is nie ‘n klein saak as geregtigheid ‘n grap geword het nie. Dit is nie maklik om die grypsug en geweld van plunderaars gade te slaan, veral as dit oopgevlek word in die openbare lewe nie. Dit is pynlik en hartverskeurend. Habakuk roep ons op om sélf met God daaroor in gesprek te tree en dán te wag, en te luister na sy antwoorde vóórdat ons ons geloof in Hom bely met die jubeling dat Hy genoeg is vir ons, dat sy uitkoms genoeg is vir ons.

Ons moet ook onthou dat die vyf uitsprake van ellende oor plunderaars en knoeiers ons nie vryspreek van die absolute eis van die Here tot geloof in en getrouheid aan Hom nie. “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou/gelowig bly.

Liturgie

Toetrede
Lied 478 “Op vaste fondamente” of
Flam 66 “Op Vaste Fondamente” of
VONKK 77 Bring my die ou-ou tyding (bekend: Halleluja-lied)

Votum
Seëngroet

Lofsang
Lied 476 “’n Vaste Burg is onse God”

Verootmoediging

Skuldbelydenis
Lied 232 “Diep, o God, diep neergeboë” of
Flam 75 Jesus, Rots Vir My Geslaan
VONKK 175 Net Soos Ek Is [Bekend: Halleluja]

Genadeverkondiging: 2 Tessalonisense 1: 11-12

Geloofsbelydenis
Gebed

Skriflesing: Habakuk 1:1-4, 2:1-4

Familie-oomblik
Preek
Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 558 “O grote Christus, eew’ge Lig”

Seën

Respons: Lied 558 vers 4

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 478 “Op vaste fondamenteof
Flam 66 Op Vaste Fondamente of
VONKK 77 Bring my die ou-ou tyding (bekend: Halleluja-lied)

Votum
Voorganger: U is regverdig, Here, wat U bepaal, is reg.
Gemeente: In groot regverdigheid en trou
het U u verordeninge uitgevaardig.

Voorganger: Ontsteltenis verteer my
omdat my teëstanders u Woord verontagsaam.
Gemeente: U Woord is baie suiwer, ek het dit lief.

Voorganger: Al is ek gering en verag,
u bevele verontagsaam ek nie.
Gemeente: U is altyd getrou en regverdig,
u wet staan altyd vas.

Voorganger Al oorval angs en benoudheid my,
in u gebooie bly ek my verlustig.
Gemeente: U verordeninge is altyd regverdig;
gee my insig daarin, dat ek kan lewe (uit Ps 119; 137-144).
(Uit BybelMedia se Woord en Fees 2015-2016)

Seëngroet

Lofsang
Lied 476 “’n Vaste Burg is onse God”

Verootmoediging
Voorganger: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente: Dat ek met liggaam en siel
in lewe en in sterwe
nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort.

Voorganger: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Gemeente: Drie dinge:
eerstens, hoe groot my sonde en ellende is;
tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word
en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Voorganger: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente: Uit die wet van God.

Voorganger: Wat vra die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Voorganger: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente: Nee, want ek is van nature geneig
om God en my naaste kwaad aan te doen.
Voorganger: Laat ons dan nou ons skuld voor die Here en voor mekaar bely:
(Uit BybelMedia se Woord en Fees 2015-2016)

Skuldbelydenis
Lied 232 Diep, o God, diep neergeboë of
Flam 75 Jesus, Rots Vir My Geslaan
VONKK 175 Net Soos Ek Is [Bekend: Halleluja]

Genadeverkondiging
2 Tessalonisense 1: 11-12
11Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Geloofsbelydenis 

Liedere

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof) Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004 (Liedboek 478)
© MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

VONKK 77 Bring my die ou-ou tyding
Teks: Tell me the old, old story – Arabella Catherine Hankey 1834-1911; GBA Gerdener, Halleluja 1931; Jacques Louw 2009 ©
Melodie: TELL ME – WH Doane 1832 – 1915
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin-Bybel-Media) Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Musiek: openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping/Voorbereiding om God se Woord te hoor

1. Bring my die ou-ou tyding,
van God se Woord vir my.
Vertel my van sy liefde
wat sondaars kom bevry.
In sy groot genade
het God sy Seun gestuur.
Vir my het Hy kom sterwe,
Die smart en pyn verduur.

Refrein:
Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

2. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe die Seun van God
die dood oorwin vir my.
Bring my die goeie tyding,
die evangeliewoord:
Dat Jesus opgestaan het
en lewe bring uit dood.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

3. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe ek deur te glo,
verlossing kan verkry.
Bring my die blye boodskap
dat Jesus weer sal kom.
Hy gee vir ewig lewe
aan dié wat glo in Hom.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

VONKK 175 “Net Soos Ek Is”
Teks: Just as I am, without one plea – Charlotte Elliot 1836; Net soos ek is, geen hulp naby – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 ©
Musiek: BOSTON – Lowell Mason (1792-1872) Kantoryverwerking: Lowell Mason (1792-1872)
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Geloof en Vertroue

1. Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
o Lam van God, ek kom!

2. Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
o Lam van God, ek weet!

3. Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer.
Net U kan, Heer, my verlorenheid keer –
o Lam van God, ek kom!

4. Net soos ek is kom en nooi U vir my.
Al moes U ook soos ‘n moordenaar ly,
kom U vergewe en skeld U my vry –
o Lam van God, ek glo!

F75. “Jesus, Rots Vir My Geslaan”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Skuldbelydenis) Oorspronklik: Meine Hoffnung Stehet Feste (1680)
Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Liedboek 239) Musiek: Elmarie Wiesner
© Urial Publishing

1. Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
Laat u lyding sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en -mag.

2. En ek self – wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei –
nog gebede, nog geween,
kan my red, Heer, U alleen.

3. Leeg, net my sondelas,
hou ek u verdienste vas.
Leeg, net my sondelas
Hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was, my Heiland, maak my rein!

4. Heer, my Rots bo almal groot
Staan U vas in elke nood.
Heer, my Rots bo almal groot
Staan u vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan,
maar u bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my
veilig, ewig in U bly.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Habakuk 1:1-4, 2:1-4

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Ons het die afgelope jare ‘n hele paar keer voorgestel dat jy jongmense reël om die gebeure rondom Luther en die reformasie op te voer. As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy die riglyne hier kry.
OF
Sluit aan by die konsep van klag-gebede. Dis nie die maklikste ding vir kinders om te verstaan nie! Jy kan dit op ‘n maklike, humoristiese manier verduidelik met behulp van die storie “Click Clack Moo” (vir $7.99 op kindle beskikbaar). Boer Brown se koeie roep vir ‘n einde aan koue nagte, via elektriese komberse.

Preekriglyn

Habakuk se klag in die eerste 4 verse van hoofstuk 1 klink of dit op vanoggend se nuusberigte gebaseer is. Habakuk kla by die Here oor al die geweld wat hy rondom hom sien; die onreg wat gedoen word; ellende, onderdrukking, twis, geweld en onderdrukking:
Die wet het nie meer krag nie,
en daar geskied nie meer reg nie.
Slegte mense het die oorhand oor goeies,
en so word die reg verkrag. (4)

Al het Habakuk meer as 2,500 jaar gelede geleef, klink sy woorde net soos vanoggend se nuusberigte. Dit kon netsowel vanoggend se nuus wees. Dit is die styl waarin baie dinge steeds in die wêreld – en ook in ons land – gebeur.

Ondersoekeenheid vals beskuldig

Dink maar net aan Johann van Loggerenberg se boek Rogue:The Inside Story of SARS’s Elite Crime-busting Unit wat op 14 September 2016 verskyn het.

Netwerk24.com berig op 16 September 2016 as volg oor dié opsienbare boek (hierdie is ‘n ietwat verkorte uittreksel uit die berig):

Die voortslepende stryd oor die sogenaamde “rogue-unit” van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ontvou in ’n boek wat geskryf is deur ’n sleutelfiguur in die sage.

Johann van Loggerenberg, die SAID se oudhoof van ondersoeke, en Adrian Lackay, voormalige woordvoerder van die SAID, se boek Rogue: The Inside Story of SARS’s Elite Crime-busting Unit is van Woensdag op die rakke.

Die soeklig het op dié eenheid geval nadat die Sunday Times in 2014 ’n reeks artikels oor die eenheid geskryf het. Die koerant het onder meer beweer die eenheid het op pres. Jacob Zuma gespioeneer, ’n bordeel bestuur en onwettige afluistersagteware aangekoop. Die koerant het sedertdien om verskoning gevra.

Luidens die uitgewer se mediaverklaring gaan die boek die feite stel dat daar geen “rogue unit” was nie en “hoër magte” saamgewerk het om die SAID te kaap.

“Ons wil ’n objektiewe weergawe gee van ons ervaring. Hoe mense behandel is. Hoe ons ondersoeke gemanipuleer is. Dit is om dinge te boekstaaf, gesubstansieer en gemotiveer deur feite, sonder enige sensasie, op so ’n objektiewe wyse moontlik.”

Lackay sê 55 senior amptenare het van Oktober 2014 – toe Tom Moyane as kommissaris van die SAID aangestel is – tot Maart 2016 bedank.

“Vir enigiemand wat bloot na die syfers kyk van wat in daardie tydperk van 19 maande gebeur het, behoort dit ’n aanduiding te wees van ’n groot probleem in ’n fiskale instelling wat moet bydrae tot die staatskas, ekonomiese groei en ons ekonomie moet beskerm.”

Lackay meen die SAID is in dié tydperk afgetakel.

Benjamin Trisk, uitvoerende hoof van Exclusive Books, sê in ’n verklaring elke nou en dan verskyn ’n boek wat boekverkopers se fokus weer verskerp.

“Ons is trots om hierdie boek te koop aan te bied, trots om by die onthullings te staan en is oortuig hierdie sal ’n beduidende impak op ons nasionale diskoers hê.”

Hy sê dit skets ’n kommerwekkende beeld van hoe ’n staatsinstelling die land gefaal het, en hoe intelligensiedienste gebruik is om individue of faksies te dien.

Een van die sentrale bewerings in Rogue is dat die Inkomstediens se ondersoekeenheid te naby aan georganiseerde misdaad gekom het, veral in die tabakbedryf. Dit is deel van die motief waarom die eenheid gediskrediteer moes word

Sedertdien begin meer en meer inligting oor hierdie onreg, geweld en publieke leuens waarmee onreg reg genoem word, na vore kom. Die onthullings is nog lank nie verby nie.

Habakuk se worsteling

Habakuk worstel met die Here oor die verval onder die volk van God. Hy leef waarskynlik so twintig jaar voordat Jerusalem verwoes word en die volk in ballingskap geneem word. Aan die een kant is donker politieke wolke aan die opsteek. Die nasies word ‘n groter en groter bedreiging vir God se volk. As profeet worstel Habakuk met die feit dat God die gewelddadige nasies kan gebruik om sy volk te toets en tot gehoorsaamheid te lei.

Sy tweede worsteling is hoe lank die onreg en geweld selfs onder die Godsvolk die oorhand sal hê? Hoe lank kan God nog toelaat dat onreg en boosheid gedy en regverdiges daaronder ly? Eugene Peterson gee aan hoofstuk 1 in sy The Message die opskrif Justice is a Joke. Dit is Habakuk se krisis. Hy laat God nie los nie, maar bly worstel: Hoe lank nog, Here!

Inhoud van die boek

Die boek Habakuk bestaan uit drie hoofstukke wat die drie dele van die boek aandui. Die eerste twee hoofstukke is in die vorm van ‘n gesprek tussen Habakuk en die Here. Die derde hoofstuk is ‘n gebed wat uitsien na die uitkoms waarvoor Habakuk sy vertroue op God sit:

  • Hoofstuk 1: – Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs (Babiloniërs) as sy oordeelsinstrument
  • Hoofstuk 2 – Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs
  • Hoofstuk 3 – Habakuk jubel in die God wat tot die redding van sy mense sal kom.
Tweegesprek met God

Ons teks bestaan uit die eerste verse van beide hoofstuk 1 en hoofstuk 2. Die eerste twee hoofstukke is ‘n roerende gesprek tussen Habakuk en God. Habakuk praat twee keer in hoofstuk een en die Here een keer. God praat twee keer meer uitgebreid in hoofstuk twee wat deur ‘n kort voorneme van Habakuk om te wag en te luister, ingelei word. Dit verloop as volg:

Hoofstuk 1: Habakuk worstel met God se keuse van die Galdeërs as sy oordeelsinstrument
Habakuk: Hoe kan u onreg verdra? – 1:2-4
Die Here: Jy sal verstom staan oor wat Ek gaan doen – 1:5-11
Habakuk: U kan tog nie niks doen aan die ellende nie? – 1:12-17

Hoofstuk 2: Die Here stel Habakuk gerus dat Hy die reg sal handhaaf met oordeel ook oor die Galdeërs
Habakuk: Ek sal wag vir u antwoord vir die geloofsgemeenskap – 2:1
Die Here: Julle moet geduldig bly wag, reg doen en getrou bly – 2:2-4
Die Here: Ellende wag altyd vir die wat plunder, knoei en onreg pleeg – 2:5-20

Kom ons kyk in groter detail na die inhoud van ons teks:
Here, hoe kan u onreg verdra? (1:2-4) se eerste woorde weerklink reg deur die eeue in gelowiges se gebede: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here.” Wat Habakuk se klag nog meer intens maak, is dat dit nie net sy persoonlike nood is wat voor die Here gebring word nie, maar dié van die gemeenskap waar die gebrek aan geregtigheid ‘n grusame grap geraak het, a la Peterson. Waar Habakuk ook al kyk, is daar onreg en ellende, onderdrukking en geweld, getwis en gebaklei.

Sy ervaring is dat die wet geen krag meer het nie en dat die slegte mense die oorhand het oor die goeies. Nêrens geskied daar meer reg en geregtigheid nie. Die reg word verkrag. En dit is nie die Galdeërs en die nasies wie se onreg Habakuk van praat nie. Dit is sy eie mense, die mense van Juda!

Wat Habakuk egter nog dieper ontstel, is dat dit lyk asof die Here van ‘n afstand af net toekyk en niks doen aan die ellende en geweld in die Joodse geloofsgemeenskap nie. Waarom tree die Here nie op nie? Hy kan tog sien dat dinge nie só kan aangaan nie?

Here, ek sal wag op u antwoord (2:1)

Met dié laaste reeks vrae aan die Here, neem Habakuk in hoofstuk twee die enigste posisie in wat sin maak: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê, en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.”

Wag geduldig, doen reg en bly getrou (2:2-4)

Die Here antwoord Habakuk op twee maniere.
Hy wys in die eerste gedeelte wat die geloofsgemeenskap se verantwoordelikheid in só ‘n tyd van onreg en oordeel is: “Wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.
Hy wys in die tweede gedeelte uitvoerig op die ellende wat mense te wagte kan wees wat plunder, knoei en onreg pleeg.

En dit is dié tweede antwoord wat Habakuk tot rus bring en sy gebed laat skryf wat ons in hoofstuk 3 vind.

In die eerste gedeelte beveel die Here vir Habakuk om die boodskap op kleitablette te skryf wat mense sommer in die verbygaan kan lees. Dit moet dus baie sigbaar in die publieke oog wees, die moderne weergawe van groot kennisgewing- of advertensieborde. Dié boodskap is:

“Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” In die OAV lui die tweede frase: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Geloof en getrouheid (faithfulness) is albei goeie weergawes van die Hebreeuse woord, ’emunâ.

Let op dat dié boodskap gekoppel word aan die geduldige wag vir die uitkoms van die Here:

“Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.”

Oorgeneem in die Nuwe Testament

In dié twee woorde van die Here – 1) om te wag vir sy uitkoms, en 2) om in geloof en getrouheid te volhard – lê miskien een van die belangrikste boodskappe vir gelowiges deur die eeue opgesluit.

Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan die Galasiërs (3:11 – “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”) en die Romeine (1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.'”) so baie van hierdie boodskap maak.

Ook die skrywer van Hebreërs maak in sy brief-boodskap baie van dié belangrike boodskap uit Habakuk (10:37-38 – “Nog net ”n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek niks aan hom meer nie.'”).

Let op hoe die Hebreërbriefskrywer die boodskap van Habakuk aan die wederkoms van die Here Jesus Christus koppel, dié dag wat geregtigheid in sy volheid sal aanbreek. Let ook op hoe hy die hoop en vertroue uitspreek dat die geloofsgemeenskap dié boodskap ter harte sal neem: “Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.”!

Trouens, die impak van Habakuk strek ook tot in die begronding van die Reformasie deur Maarten Luther wat in die Romeine brief se boodskap (1:16-17) ‘n genadige God ontdek het. Dit het die basis gevorm vir die formulering van die sola fide belydenis, een van die kosbaarste erfenisse uit daardie tyd.

Kom ons fokus nou op die boodskap van ons teks vir ons vandag.

Klagwoorde wat God aan ons gee

Die Here oortuig Habakuk egter in sy gebedsworsteling dat al lyk dit op die oog af asof alles ten gronde gaan, God die regverdiges nie sal versaak nie. Op God se verlossing moet hulle wag, selfs al lyk dit asof dit/Hy talm. In volhardende wag, al dieper wordende luister en worstelende gebed met die Here lê hulle toekoms opgesluit.

Habakuk kan uiteindelik sê dat al lyk dinge op die oog af asof dit nie regkom nie, en eerder vererger: “nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag.” (Hab. 3:18-19). God versaak dus nie dié wat hulle toevlug tot Hom neem nie.

Die boek toon daarom eintlik meer ooreenkomste met van die Psalms as met van die ander profetiese boeke. Dit is, soos die Psalms, meer ‘n gesprek met God as wat dit ‘n woord van God af is. Habakuk reflekteer dus meer van sy voorbidding by God as dat hy as woordvoerder van God optree. Uit hfst. 2:1 blyk dit egter dat dit ook op ‘n woord vir die geloofsgemeenskap sal uitloop: “Ek wil wag om te verneem … wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

Weereens, soos die Psalms, is Habakuk daarom ook woorde wat God vir ons gee om vir Hom terug te sê. Kan ons Habakuk se woorde ons eie maak in watter uitdagende situasie ons ons ook al bevind. Trouens, Habakuk skryf sy gebed in hoofstuk 3 in die vorm van ‘n liturgie wat die geloofsgemeenskap kan gebruik in die erediens as klaaglied om by God in te tree vir watter situasie hulle ook al in verkeer (vgl. vers 1 en 19 – “Op die wysie van ‘n klaaglied … Vir die koorleier. Met snarespel.“).

Op dié manier is die boek op ‘n besondere manier ‘n boek van hoop, al weet ons dat die ballingskap uiteindelik wel gekom het en die volk vir sewentig jaar moes wag vir die uiteindelike verlossing. Uiteindelik het die Here hulle lot verander en kon hulle Hom weer dien in hulle eie land. En daarin lê ook vir ons die hoop vandag opgesluit.

Worsteling wat jubeling word

Ons is geneig om net te fokus op die wonderlike boodskap in Habakuk 3:17-19: “al sou die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek in die Here jubel.” Dit is egter noodsaaklik om eers te fokus op die worsteling van Habakuk in die eerste twee hoofstukke vóór ‘n mens tot ‘n jubeling midde in jou en jou gemeenskap se stryd oorgaan.

Dit is nie ‘n klein saak as geregtigheid ‘n grap geword het nie. Dit is nie maklik om die grypsug en geweld van plunderaars gade te slaan, veral as dit oopgevlek word in die openbare lewe nie. Dit is pynlik en hartverskeurend. Habakuk roep ons op om sélf met God daaroor in gesprek te tree en dán te wag, en te luister na sy antwoorde vóórdat ons ons geloof in Hom bely met die jubeling dat Hy genoeg is vir ons, dat sy uitkoms genoeg is vir ons.

Ons moet ook onthou dat die vyf uitsprake van ellende oor plunderaars en knoeiers ons nie vryspreek van die absolute eis van die Here tot geloof in en getrouheid aan Hom nie. “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou/gelowig bly.

Luther se worsteling

Vandag herdenk ons die Hervorming wat in 1517 begin het toe Maarten Luther sy 95 stellings teen die kasteelkerk in Wittenberg se deur gaan vasspyker het.

Luther was geen vreemdeling sover dit geloofsworsteling aangaan nie. Habakuk, volgens alle aanduiding eweneens ook nie. Baie eeue vroeër het Ignatius geskryf dat gelowiges deur die seisoene van “troos” en “vertwyfeling” (geloofsworsteling) gaan. Gedurende tye van troos voel ons nader en tydens tye van vertwyfeling verder van God se teenwoordigheid. Dit is egter die tye van troos wat ons dra in die droë tye van vertwyfeling.

Habakuk herinner ons aan die lewende realiteit van die Persoon en werk van God Drie-enig. In geloof kan ons daarom met alles na God gaan. In oomblikke van worsteling het ons die uitnodiging van die bekende Engelse lied, “What a friend we have in Jesus” wat sê: “Take it to the Lord in prayer.” Met geloofsvertroue kan ons daarom ook ons waaroms aan die regte adres rig. Trouens, soos Habakuk ons leer, is dit ‘n adres waar die Eienaar altyd tuis is en ons innooi. Meer nog, Hy sit sy arm om ons skouers en verseker ons “die slegte mense sal hulle verdiende loon kry, maar jy wat die regte ding doen, sal vir jou getrouheid beloon word”.

Voorbidders

Ons moet die taak om klag-gebede oor die omstandighede van ons omgewing na die Here te neem nie geringskat nie. Dit is ons protes teen misdaad, geweld, onreg, bedrog, korrupsie en mags-misbruik.

God is steeds ‘n lewende realiteit, en sy beloftes is steeds waar.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gee geleentheid vir klag-gebede (mense kan ook in klein groepies na mekaar draai en saam bid) – of reël vooraf met spesifieke persone om die omstandighede van ons omgewing na die Here te neem.

Dankoffer

Slotsang
Lied 558 “O grote Christus, eew’ge Lig”

Seën
Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het;
mag ons God deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak;
sodat die Naam van ons Here Jesus verheerlik sal wees (uit 2 Tess 1:11-18).

Respons
Lied 558 vers 4

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.