Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jesus waarsku in die fokusteks teen die skynheilige vroomheid van die skrifgeleerdes en stel teenoor dit die opregte gawe van die arm weduwee. Die Rutteks beskryf die opregte liefde van Naomi vir haar skoondogter Rut en die toewyding waarmee sy aan ’n oplossing vir Rut se dilemma gewerk het. Die psalmteks besing die bystand van die Here en die wyse waarop Hy sy mense ondersteun. Die Hebreërsteks handel oor Jesus wat Hom selfloos as offer gegee het.

Ander tekste

Rut 3:1-5; 4:13-17
3 Rut se skoonma Naomi het vir haar gesê: “My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou ’n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. 2Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer. 3Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen.”

5Toe antwoord Rut: “Ek sal doen wat u gesê het.”
13Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ’n seuntjie in die wêreld gebring. 14Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ’n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 15en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

16Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.
17Haar buurvroue het die seuntjie toe ’n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.”
Obed was die voorvader van Dawid.

Psalm 127
As die Here die huis nie bou nie
127 ’n Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan
en laat gaan slaap
om met moeite ’n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet,
gee die Here dit in hulle slaap.
3Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
4Soos pyle
in die hand van ’n krygsman,
so is seuns wat gebore is
toe hulle vader nog jonk was.
5Dit gaan goed met die man
wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te vrees
as hulle met die vyand
in die stadspoort onderhandel nie.
Hebreërs 9:24-28

Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Fokusteks

Markus 12:38-44
Die vraag oor die seun van Dawid
(Matt 22:41–46; Luk 20:41–44)
35Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? 36Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê:
‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande aan jou
onderwerp het.’
37Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”
Die groot menigte mense het graag na Hom geluister.

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes
(Matt 23:1–36; Luk 20:45–47)
38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die arm weduwee se gawe
(Luk 21:1–4)
41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Ekstra Stof

In hierdie kort paar verse, voor ons vir volgende week die begin van die profetiese rede lees, kontrasteer Jesus die skyn en huigelary van die skrifgeleerdes met die opregte oorgawe van die arm weduwee met haar gawe by die offergawekis.

Alles wat die skrifgeleerdes doen, is gemik op ‘n sosiale – en gemeenskap impak: klere, sitposisies en gebede (vgl Luk 18 vir die kontras tussen die gebed van die Fariseër en die tollenaar). Agter die skerms doen hulle egter kwaad, deur die huise van weduwees in te palm. Omdat hulle nie vergoeding vir hulle dienste gekry het nie, het hulle blykbaar geteer op die gunste en gawes van mense, onder andere op dié van weduwees. Dit is ook heel moontlik dat hulle met die regsprosesse van die boedels van weduwees betrokke was en hulle daardeur kon benadeel het (Fitzmyer).

Die arm weduwee, wat waarskynlik ook deur die skrifgeleerdes ingeloop is, kom gooi egter uit haar gebrek alles wat sy het in die offergawekis. 128 van dié muntstukkies was die dagloon van ‘n arbeider. Dit was dus uiters min en kon volgens sommige ‘n handvol meel vir ‘n eenvoudige maal bekostig. Sy gee egter wat sy het, in ‘n sekere sin haar lewe, en al weet sy ook haar gawe sal deur die Joodse Raad gebruik word, gee sy dit steeds, omdat sy aan God getrou wil bly. Dit is dié tipe gelowiges op wie Jesus fokus en by wie se lot Hy betrokke raak.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 309 of VONKK 72 of F198

Votum: Psalm 127:1-2

Seëngroet

Lofsang: Lied 529

Die Wil van God

Toewyding: Lied 543 of F189

Geloofsbelydenis

HOOR 

Gebed: Lied 541 “Ons bring aan U, Heer Jesus”

Skriflesing :Markus 12:38-44

Familie-oomblik

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer – terugvoer en gebed

Slotsang: Lied 308 of VONKK 146 of F294

Seën

Respons: Lied 541 Refrein of Vonkk 146 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 309 “My lewe bly aan U gewy” of
VONKK 72 “Wees Stil, Want Die Heilige Is Hier” of
F198. “Ek Wil Gereed Wees”

Votum: Psalm 127:1-2

Seëngroet

Lofsang: Lied 529 “Dank, dankie die Heer”

Die Wil van God
[sluit aan by laaste parr van preek] Dietrich Bonhoeffer het gesê: Wanneer Jesus jou nooi om Hom te volg, nooi Hy jou om aan jouself te sterf.

Die teks wat ons vanoggend saam gaan lees, is ‘n uitnodiging tot selfondersoek. Wat leef in ons harte? Dit is ‘n uitnodiging om ons lewe in diens van God te gee. En om onsself en ons besittings tot die uiterste toe aan God se diens toe te vertrou.

Stil gebed: gee geleentheid dat mense nadink oor waarop hulle hul harte plaas. Waaraan hulle vashou, wat hulle bereid is om in diens van God te gee, wat hulle terug hou.

Toewyding
Lied 543 “Here Jesus, ek is klein”
F189. “Vul My Hart, O Heer”

Geloofsbelydenis
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.
Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret,
die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om Hom te volg.
Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.
Outeur onbekend
(van der Merwe, J (red) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington: Lux Verbi, bl 39.)

Liedere

F294. “Neem My Lewe”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding)
Teks en musiek: Marina du Toit
© 2008 Urial Publishing

1. Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Want U is die lewe en U is die lig,
U gee die water en ek dra die vrug.

2. Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Want U is die Skepper en ek is die klei,
maak vir u hart, Heer, ’n woning in my.

3. Snoei my vorm my, suiwer my,
laat U meer word binne my.
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer,
laat ek weer skoon word al is dit seer.

4. Snoei my, vorm my, suiwer my,
laat U meer word binne my.
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n lewende offer gevul met u Gees.
’n Lewende offer vir U,
’n lewende offer gevul met u Gees.

F198. “Ek Wil Gereed Wees”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Heiligmaking)
Teks en musiek: Stass en Elanie van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers
(Matt 25:1-12)

1. Ek wil gereed wees vir die Een wat kom.
Ek wil gereed wees vir die Bruidegom.
Ek wil gereed wees as Hy ons kom haal.
Ek wil gereed wees as Jesus my kom haal.

2. Ek wil gereed wees vir Sy koninkryk.
Ek wil gereed wees as Hy my wil gebruik.
Ek wil gereed wees om op te staan
vir Sy koninkryk, vir Sy heiligheid, vir Sy grote Naam.

Refrein:
Kom vorm my net soos U wil.
Kom reinig my in die vuuroond van U heiligheid.
Kom vorm my net soos U wil
want ek wil gereed wees as Jesus kom.

F189. “Vul My Hart, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Verootmoediging)
Oorspronklike titel: Change My Heart, Oh God
Teks en musiek: Eddie Espinosa
Afrikaanse vertaling: Pieter Malherbe 2007
Kopiereg: © 1982 Mercy/Vineyard Publishing/Administrasie deur Copy Care.

Vul my hart, o Heer
met ’n nuwe gees.
Heer, verander my
laat my soos U wees.
Heer, in U hande is ek soos klei
vorm my en maak my
laat my soos U wees.

VONKK 72 “Wees Stil, Want Die Heilige Is Hier
Teks: Be still, for the presence of the Lord – David J Evans (1986); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 ©
Melodie: BE STILL – David J Evans 1986
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: David J Evans 1986
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© 1986 Kingsway Thankyou Music (admin CopyCare SA)
RUBRIEK: Kontemporêr – Toetrede en Aanbidding

1. Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.
Kom buig nou voor Hom neer
met eerbied en ontsag.
Erken sy heiligheid
en sy geregtigheid.
Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.

2. Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.
Hy is met eer gekroon,
met mag en majesteit.
Uit Hom straal helder lig –
‘n glans wat als verlig.
Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.

3. Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.
Hy neem ons sonde weg,
genees ons grootste seer.
Niks stuit die Gees se werk
of kan sy krag beperk.
Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

God praat met ons en ons luister

Gebed: Lied 541 O”ns bring aan U, Heer Jesus”

Skriflesing: Markus 12:38-44

Familie-oomblik

Onthou, ons hoef nie altyd morele “lessies” uit die teks te haal nie. Veral die narratiewe tekste – soos hierdie week s’n – kan gewoon dramaties gelees of oorvertel word.

Hier is ‘n video-vertelling van vandag se verhaal. Wys dit van 30 sek af. Jy kan ook die klank afsit en self die verhaal vertel terwyl die video wys.

As die kinders in jul gemeente daarvan hou om iets te maak, kan hulle beursies maak van papier. Hier is ‘n patroon en instruksies.

Hier is ‘n paar gedagtes oor hoe om vir kinders te leer van dankoffers.

As die kinders baie dapper is – of jy kans sien vir trane! – kan jy vir ‘n paar kinders tiensent-muntstukke gee. Gee vir sommige 2, vir ander meer. Vra dan vir almal om 2 10c-stukke in die kollektebord te gooi. Die met net twee, moet alles gee. Die met 10, gee minder. Dit is ‘n maklike manier om te verduidelik wat in vandag se verhaal gebeur.

Preekriglyn

Fulvia was ‘n Romeinse vrou, woonagtig in Rome en getroud met Saturninus. Die egpaar was vriende met die Romeinse keiser, Tiberius. Sy het besluit om ‘n Joodse gelowige te word op grond van die onderrig deur ‘n Jood wat na Rome gevlug het om straf te vermy. Dit was heel moontlik ‘n skrifgeleerde. Hierdie Jood was ‘n regte boef. Saam met drie ander vriende het hy Fulvia oorreed om purper en goud aan die tempel in Jerusalem te skenk. Die vier skurke het die geld en goedere egter vir hulleself gehou en nooit in Jerusalem opgedaag nie.

Keiser Tiberius was briesend toe hy, via sy vriende Saturninus en Fulvia, van die bedrog hoor. Dit lei daartoe dat Tiberius alle Jode in 19 n.C. uit Rome verban. Boonop is 4,000 jong Jode opgekomman­deer om die keiser se gevegte vir hom op Sardinia-eiland te gaan weg.

Verskeie antieke geskiedskrywers verwys na hierdie insident, soos die Jood Josefus, en Romeine soos Suetonius, Tasitus, en Dio Cassius. Punt is: die Joodse uitbanning was groot nuus in die Romeinse Ryk, en ook in die Israel van Jesus se tyd.

Pasop vir die skrifgeleerdes

In ons teksgedeelte waarsku Jesus die mense teen die skrifgeleerders. Só vertaal die nuwe Direkte Vertaling Jesus se woorde (38-40):

In sy onderrig het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, en die voorste sitplekke in die sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.”

Jesus is steeds op die tempelterrein. Ons teks kom aan die einde van ‘n lang reeks debatte en gesprekke tussen Jesus en die drie groepe wat die godsdienstige mag in die Joodse Raad uitgeoefen het: die Fariseëers, Sadduseërs en die skrifgeleerdes. Die enigste positiewe ontmoeting is dié tussen Jesus en die skrifgeleerde wat Hom oor die grootste gebod uitvra. Van dié man sê Jesus dat hy nie ver van die koninkryk van God is nie. Die res van die gesprekke bestaan uit strikvrae om Jesus in die moeilikheid te kry. Die vrae getuig van die godsdienstige owerhede se onmag om God se werk in Jesus, en Jesus se gesag as gestuurde van die Vader te herken en te erken.

Regdeur Jesus se optrede blyk dat Hy in sy persoon die weg tot die Vader is. Jesus vervang die tempeldiens. Hierdie magsposisie, met al die voordele wat dit inhou (waaronder groot rykdom en groot skenkings) gaan die godsdienstige leiers nie sommer prysgee nie.

Verset teen die skrifgeleerdes

Waar Jesus op die tempelterrein rondbeweeg, neem hy verskeie groepe waar. In ons teks sien hy die swierige skrifgeleerdes en – in skrille kontras – ook die arm weduwee.

Die skrifgeleerdes het groot gesag en invloed in Jesus se tyd uitgeoefen. Hulle het swierige kleding en togas gedra, met tossels op die vier hoeke. Gemaak uit wol en linne het hierdie mantels hulle as vooraanstaande en welvarende mense voorgestel. Hulle het op die belangrikste stoele in die sinagoge gesit. Wanneer ‘n skrifgeleerde in die straat afgestap het, is van mense verwag om uit eerbetoon op te staan.

Jesus sê hulle verslind die huise van die weduwees. Soos gesê, kon Jesus heel moontlik dink aan Fulvia se lot in Rome en die uitbanning van al die Jode uit Rome. Die skrifgeleerdes het donasies ingesamel vir die tempel, en dit was heel moontlik dat hulle ook op weduwees se gevoel gespeel het om groot skenkings te maak. Anders as die Sadduseërs was die skrifgeleerdes afhanklik van donasies. Hulle kon die eer wat hulle afgedwing het dus maklik misbruik om skenkings te werf.

Jesus veroordeel mense wat godsdiens beoefen ter wille van selfbevoordeling. Hy draai nie doekies om nie: hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.

Ware godsdiens

Kort vantevore het Jesus gesê die grootste gebod, die hart van ware godsdiens, is liefde tot God met jou hele wese, en liefde tot die naaste (12:29-31). Die liefde tot die naaste is ‘n gebod om ander lief te hê en by te staan. Sommige mense doen ander leed aan eerder as om hulle te help. Erg genoeg, gebruik sommige mense godsdiens as ‘n instrument én as regverdiging om ander in te loop. Dis asof godsdienstiges handel dryf in vroomheid en ander daarmee uitbuit.

Ons ken almal die voorspoedpredikers wat ander sover kry omgroot skenkings te maak sodat hulle vooruit kan gaan. Fulvia was nie die enigste slagoffer in die wêreld se geskiedenis nie, nie die eerste nie en beslis ook nie die laaste nie.

Hierdie soort godsdienstigheid word skerp deur Jesus veroordeel. Hy is immers oortuig dat die Joodse tempel ‘n handelshuis geword het wat gawes ter wille van die voordeel van die godsdienstiges ontvang, eerder as ‘n huis van gebed.

Ware godsdiens is om God lief te hê en jou naaste te dien.

Die tempel se tesourie

Hierna is Jesus na die tempel se tesourie toe, die plek waar die offergawekis gestaan het. Dit was in die gedeelte van die tempel waar vroue en kinders kon kom. Volgens die heilige Joodse geskrifte, die Misna, was daar dertien offergawekiste, elkeen bestem vir ‘n spesifieke soort offer. Die geld is deur ‘n buis in die vorm van ‘n ramshoring gegooi. Die doel van die ramshoring-gleuf was om te verhoed dat geld uit die kis geneem kon word.

Hier by die offergawekis het die mense hulle offergawes ingegooi. Baie rykes het baie geld ingegooi. Hulle offers het die tempelbedryf moontlik gemaak.

Naas sy rol as aanbiddingsplek, was die tempel ook die sentrum waar groot somme geld ontvang is. Anders as die ander stamme, het die stam van Levi geen grond ontvang nie. Die bring van offers was hul lewensonderhoud. Die Leviete was verantwoordelik vir die bestuur van die tempel. Hieruit het hulle groot hoeveelhede geld in die vorm van verpligtinge, belastings, en donasies van waardevolle artikels ontvang het.

Hierdie inkomste was sigbaar in die waardevolle voorwerpe in die tempel. Volgens die Ou Testament moes die voorwerpe vir die offerdiens van goud of silwer gemaak word. Die gordyne en priesterlike drag was uit gesogte en duur materiaal vervaardig. Daar was ook waardevolle voorrade soos olie, meel, graan, wyn en wierook in die tempel. Waardevolle besittings van individue is ook daar gestoor. Die tempelbestuurder was in rang net ondergeskik aan die hoëpriester.

Arm weduwee

Jesus gaan sit by die offergawekis en kyk hoe mense hul offers ingooi. Terwyl die rykes baie ingooi, kom ‘n arm weduwee twee kopermuntstukkies ingooi. Sy gooi twee “lepta” in, die kleinste muntstuk in sirkulasie. Ter wille van sy lesers, wat Romeine was, sê Markus dit is gelykstaande aan ‘n kwadrant.

Jesus kon op verskeie maniere weet wat die weduwee ingegooi het. In gevalle waar die bydrae vir priesterlike diens was, moes die skenker die geld eers deur die priester aan diens laat ondersoek. Hy het vasgestel dat dit eg is, en gevra wat die doel van die offergawe is. Hy het ook seker gemaak die bedrag stem ooreen met die voorskrifte vir die spesifieke offer. Dan het hy die skenker na die regte offergawekis gestuur. Al hierdie instruksies is hoorbaar gedoen. Die omstanders het dus geweet waarvoor die offer gaan en wat die waarde daarvan is.

As die weduwee se offer ‘n vrywillige bydrae was, kon haar armoedige voorkoms en die klank van die vallende munte in die kis ook die grootte daarvan verklap. Jesus kon natuurlik ook moontlik sien wat sy ingooi.

Markus se beskrywing beklemtoon die armoede en die betekenisloosheid van die weduwee se bydrae. Die skrifgeleerdes is op vertoon ingestel, die skare by die offergawekis is welvarend en uitspattigheid. Teenoor hulle is die brandarm weduwee wat die twee kleinste munte in sirkulasie kom ingooi. Haar bydrae vergelyk hoegenaamd nie met die groot bedrae van die rykes nie.

Goddelike ekonomie

In God se ekonomie lyk die vrou se bydrae totaal anders. Jesus roep sy dissipels nader, en sê letterlik: “Amen, Ek sê vir julle dat hierdie weduwee, wat brandarm is, meer ingegooi het as almal wat geld in die offergawekis gegooi het. Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”

Jesus se “meer ingegooi” is opvallend. Alles aan hierdie vrou is “minder” as die welvarende mense rondom haar. Vir Jesus is sy egter eg, teenoor die byna onuitstaanbare vertoon en skyn van vroomheid van die skrifgeleerdes en die welvarende mense rondom haar.

Dit is nie armoede wat Jesus verheerlik nie. Dit is nie rykdom wat Hy afskiet nie. Dit is egte geloof en toewyding aan God wat vir Hom die verskil maak. Hierdie vrou gee alles. Sy kon een munt gegee het, en die ander een gehou het. Sy gee egter albei munte.

Die waarde van die offer lê nie in die bedrag nie, maar in die koste vir die persoon wat dit gee. “Alles wat sy gehad het,” sê Jesus. Hierdie “alles” kom ooreen met die dissipels wat – toe Jesus hulle geroep het – “alles” agtergelaat en Jesus gevolg het. Jesus het die toewyding van ‘n onverdeelde hart lief. Dit pas ook by die liefde tot God met jou “alles” waarvan die groot gebod praat, en die dien van die naaste met “alles” wat jy het om mee te dien.

Dissipelskap

Die belangrikste punt van vergelyking tussen die weduwee en die skrifgeleerdes is nie die verskil in rykdom nie, hoewel dit ter sprake kom. Die arm weduwee is vir Jesus ‘n model van dissipelskap. Sy illustreer wat dit beteken om God te dien. Geen gawe, of dit tyd, geld of talent is, is te klein om vir God te gee nie. En wanneer dit gegee word, word dit ‘n pêrel van onskatbare waarde.

‘n Baie groot gawe mag baie minder wees as die “alles” wat jy het om te gee. ‘n Groot gawe kan klein wees in vergelyking met wat jy kan gee. Die vrou wat “alles gee wat sy het” is die ware vervulling van die roeping tot dissipelskap wat beteken dat mens jou lewe vir Jesus gee. Mens kan sê sy het haar hele lewe neergelê vir Jesus.

Dit is wat Jesus aanstons self op Golgota sou doen.

Toepassing

Ons teks nooi ons uit om die weduwee se voorbeeld van toewyding na te volg. Sy is ʼn vrywillige gewer. Die Skrif leer ons dat God ʼn vrywillige gewer lief het. Die weduwee se offer word teenoor die talryke offers van die rykes deur Jesus as aanneemlik beoordeel (Luk 21:1-4). Sy gee werklik “alles.”

Die voorbeeld wat sy gestel het, is tot vandag toe prysenswaardig. Hier word geleer dat ’n offer om waardevol in die oë van God te wees, nie bloot bepaal word deur die geldwaarde daarvan nie. Nee! Die motief, houding, gesindheid en die finansiële toestand van die gewer word in ag geneem. Ons leer verder ook dat die armes nie vrygestel behoort te word om by te dra tot die skatkis in die tempel nie. Die weduwee stel ook vir ons ʼn voorbeeld van die getroue uitvoering van godsdienstige plig, desondanks haar armoede.

Merkwaardig genoeg sien Jesus te midde van soveel godsdienstigheid in hierdie vrou ware dissipelskap. Net soos Hy vroeër die skrifgeleerde prys wat die kern van die wet, liefde tot God en die naaste, kon herken.

Die weduwee illustreer die gestroopheid aan die self wat dissipelskap nodig het. Soos Dietrich Bonhoeffer eeue later sou sê: Wanneer Jesus jou nooi om Hom te volg, nooi Hy jou om aan jouself te sterf.

Die weduwee vertrou op God terwyl sy alles weggee. Sy vertrou dat Hy in staat is om heeltemal in al haar aardse behoefte te voorsien. Jesus staan op ʼn besondere manier by haar en Hy roep ons op om Hom daarin te volg. Ons glo immers dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hom rein en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek.

Ons moenie Jesus se veroordeling van godsdienstige skyn en manipulasie miskyk nie. Hoe meer mens het, hoe meer kan jy jou lewe pleister en dinge wegsteek. Jy kan ook jou gebrek aan ware toewyding wegsteek. Soos op baie ander plekke, sien Jesus egter deur die skilde en skanse wat ons rondom ons bou. Jesus sien die hart.

Ons teks is ‘n uitnodiging tot selfondersoek. Wat leef in ons harte? Dit is ‘n uitnodiging om ons lewe in diens van God te gee. En om onsself en ons besittings tot die uiterste toe aan God se diens toe te vertrou.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer
Gee terugvoer van een of twee van jul gemeente se bedieninge / uitreike na randfigure, veral vroue.
Daag veral die kinders uit om van hul eie geld as dankoffer te gee.
Laat die diakens vorentoe kom en bid hierdie week spesifiek vir jul offers. Gee dit vir God as simbool van jul hele lewe wat julle tot God se beskikking stel.

Slotsang
Lied 308 “Neem my lewe”
of VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
of F294. “Neem My Lewe”

Seën

Respons
Lied 541 Refrein of Vonkk 146 Refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.