Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Christus is die volkome offer vir al ons sonde. Hy vervul so die wet en is die perfekte voorbeeld van die liefdesgebod. Hebreërs 9, Rut 1 en Markus 12 kyk vanuit verskillende hoeke na die liefde en wat dit beteken om aan God of aan iemand anders verbind te wees. God word geloof vir sy liefde, sy trou en sy rotsvaste verbintenis. Dit gee ons hoop vir die pad vorentoe – dikwels die vreemde in – saam met mekaar en in navolging van Jesus Christus.

Ander tekste

Rut 1:1-18
Uit Betlehem na Moab toe en terug
1 In die tyd van die leiers was daar op ’n keer hongersnood in die land, en ’n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ’n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ’n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. 7Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.

8Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9Mag die Here vir julle elkeen weer ’n goeie man en ’n heenkome gee.”

Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”

11Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? 12Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by ’n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, 13sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai.”

14Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. 15Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.”

16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

18Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat.

19Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”

20Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara a, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.”

22So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.

Psalm 146
Prys die Here!
146 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Markus 12:28-34
Die vraag oor die grootste gebod
(Matt 22:34–40; Luk 10:25–28)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ u31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ vGeen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ wen ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ x33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ yen ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ zis van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Fokusteks

Hebreërs 9:11-14
Die aardse heiligdom en sy offers
9 Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook ‘n aardse heiligdom. 2Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word.

4Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. 5Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie.

6Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig. 7Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. 8Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is solank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, ‘n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net betrekking op voedsel, drank en ‘n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God ‘n beter orde sou instel.

11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

15Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met ‘n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want ‘n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.” x21Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.

Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ‘n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 331 of Flam 69 of Lied 158

Votum: Psalm 146

Seëngroet

Lofsang: VONKK 64 of Psalm 146 of Lied 202

Wet en Verootmoediging: Psalm 40: 7 & 9 responsories
Flam 464 of Lied 195

Genadeverkondiging: Hebreërs 9:12-14

Apostoliese Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 3:11-14

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 268 of Lied 390 of Lied 493

Seën

Respons: Lied 189 of Flam 268 Refrein of Vonkk 64 laaste 5 reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 331 Wonderbare Koning of
Flam 69 Was My Skoon of
Lied 158 “Bring my na u woning, Here”

Votum
Psalm 146 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Seëngroet

Lofsang
VONKK 64 Prys Die Heer Met Blye Galme (Psalm 146) [bekend] of
Psalm 146 of
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”

Wet en Verootmoediging
Psalm 40: 7 & 9
Liturg:  7Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê.

Gemeente:  9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.”
Flam 464 Ek Het Gesmag Na Die Hulp Van Die Here (Psalm 40 / ’n Nuwe Lied) of
Lied 195 “U, o God, wat ewig op die troon is”

Genadeverkondiging
Hebreërs 9:12-14
12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

F331. “Wonderbare Koning”
(RUBRIEK: Flam – ) Musiek- en teksverwerking: Retief Burger en Leza Liversage
Oorspronklike tradisionele Teks en musiek: Wunderbare König (1680) Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf
Kopiereg: © 2006 NG Kerk Uitgewers (Liedboek 197)  (Opgeneem op Luidkeels Hersien)

Wonderbare Koning, Heerser oor die skepping,
ons bring U ons lofgesange.
Wonderbare Koning, Heerser oor die skepping,
ons bring U ons lofgesange.

Deur u goedheid, Vader, kan ons tot U nader –
deur u goedheid, Vader, kan ons tot U nader.

Refrein:
U’s ons diepste hartsverlange, Heer.
U’s ons diepste hartsverlange, Heer.
U’s ons diepste hartsverlange, Heer.
Wonderbare Koning, U is hier.

Brug: (x3)
Deur u bloed kan ons kom.
Deur u bloed sal ons nader.
Deur u bloed is ons vry,
want ons staan in u genade.

Refrein:

F69.b “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Hannes Grabe © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Kom en reinig my, o Heer,
week my sonde en skuld in die bloed van u Seun.
Ek staan skuldig voor U, Heer,
die verlore kind kom vra ’n tweede kans.

2. Was my skoon, maak my rein,
laat U lig weer deur my skyn.
Neem my hart, maak dit nuut,
laat my lig na ander skyn.
Was my skoon, maak my rein
laat u lig weer deur my skyn.

3. Laat u Gees my hart deurspoel,
bring u vrede en rus, u genade oor my.
Maak my wit net soos die sneeu,
ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer.

VONKK 64 “Prys Die Heer Met Blye Galme (Psalm 146)”
Teks:  Psalm 146 –  JD du Toit 1937 Melodie: PRYS DIE HEER – Liederwysie – opgeteken deur Chris Lamprecht
by mnr JCH Lagrange, Rustenburg in 1953 © Teks en melodie: openbare besit RUBRIEK:  Tradisioneel – Lof

Prys die Heer met blye galme,
o my siel, daar’s ryke stof!
‘k Sal solank ek leef my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.
Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

Dis die God der leërmagte,
troue Bondsgod van weleer,
God van wordende geslagte,
tot in ewigheid die Heer.
Sion, sing dié God ter eer,
prys sy grootheid, loof die Heer!
Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

F464. “Ek Het Gesmag Na Die Hulp Van Die Here (Psalm 40 / ’n Nuwe Lied)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof) Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

Ek het gesmag na die hulp van die Here –
Hy’t afgebuig en my gehoor.
Hy’t my gered uit die put van die dood,
het my op ’n rots laat staan,
my op ’n rots laat staan.

Refrein:
Hy gee my ’n nuwe lied
’n loflied vir ons God.
Baie sal die klanke hoor
en Hom die eer toebring.
Hulle sal op die Here,
hulle sal op die Here vertrou.

Dit gaan goed met die mens
wat sy geloof op die Here bou.
Wat hom nie wend tot bose magte
maar net op God vertrou,
net op God vertrou.

Here, U doen wonders,
te veel om op te noem.
U vra nie offers
U vra my hart
en om U lief te hê
is wat ek steeds begeer.
Ek sal nie stilbly nie,
ek sal nie stilbly nie.

F268. “Verlosser Vir My”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

Verlosser vir my,
eensaam aan ’n kruis,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
gebroke in ’n graf,
U het my hart verower.

Refrein:
Ek offer myself,
offer myself
net vir U.
Ek offer myself,
offer myself
net vir U.

Verlosser vir my,
Oorwinnaar opgestaan,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
Gesalfde Seun van God,
U het my hart verower.

Brug:
Ek wil niks terughou nie,
niks terughou nie,
alles net vir U.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 3:11-14

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown sê tereg dat die aanvanklike lesers van hierdie teks bekend was met diere-offers.  Vir kinders, wat letterlike denkers is, is die konsep van offers – om nie eers te praat van die ontstellende beelde wat dit oproep – gewoon te moeilik om te verstaan.

As jy dit egter wel wil waag om hierdie teks met kinders te behandel, begin by ‘n eenvoudiger vertaling.  Die Bybel vir Almal vertaal Hebreërs 9:11-14 as volg:

Maar Christus het gekom om Hoëpriester* te wees en Hy laat goeie dinge gebeur. Hy het deur die groter en beter tempel-tent gegaan. Dit is nie mense wat hierdie tempel-tent* gebou het nie, dit is God, en hierdie tempel-tent is ook nie in hierdie wêreld nie.

Hoëpriester: Die belangrikste priester. Hy was die hoof oor die ander priesters.

Tempel-tent: ’n Tempel wat hulle van materiaal gemaak het en wat hulle van die een plek na ’n ander plek kon dra.

12 Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde* kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered.

Hoog-gewy, hoog-gewyd: Baie gewyd, meer gewyd as ander gewyde dinge.

13 Die priesters* het op onrein* mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as* van ’n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig* en dan was hulle rein*. Dan kon hulle weer in die tempel* kom en vir God dien.

Priester: Iemand wat by die tempel en die altaar gewerk het. Hy moes werk met die offers wat mense gebring het.

Onrein: Iemand of iets wat onrein is, mag nie in die tempel kom om die Here te dien nie, en hy mag ook nie naby iemand of iets kom wat rein is nie. Wanneer iets onrein is, dan mag ’n mens wat rein is, dit nie gebruik of eet of daaraan raak nie.

As: Die poeier en klein stukkies wat oorbly wanneer iets verbrand het.

Reinig: Alles wegvat wat iemand of iets onrein maak.

Rein: Iemand of iets wat rein is, mag in die tempel kom of naby enige iets wat aan die Here behoort en hy mag die Here dien.

Tempel: ’n Gebou waar mense offers gebring het en gebid het en waar hulle die Here gedien het.

14 Christus het ’n offer* vir God geword, die Heilige Gees wat altyd lewe, het Hom gehelp om ’n offer te wees wat heeltemal gesond is. Daarom sal die bloed van Christus ons reinig, baie beter as die offers van bokke en bulle, en dan sal ons ophou om dinge te doen wat ons geestelik dood laat word, en ons sal heeltemal weet wat is reg en wat is verkeerd. Dan sal ons vir God kan dien, God wat lewe.

Offer: Wanneer iemand ge-offer het, dan het hy iets vir die Here of vir ’n ander god gegee. Partymaal het hy self verder met die offer gewerk, partymaal het hy dit na ’n tempel of ’n altaar gebring. Die priesters het daar dan verder daarmee gewerk. ’n Offer is ’n present vir die Here of vir ’n ander god. Geestelik dood: Nie die ware lewe hê nie.

Of Stephan Joubert (1999) se vertaling in Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan (Vanderbijlpark: Carpe Diem)

Jesus is ons Spesiale Helper
11–14 Christus is ons spesiale Helper of Hoëpriester. Hy het die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak. Hy is ook na ’n “heilige plek” toe. Maar dit is nie ’n gewone gebou op aarde nie. Dit is die heiligste plek in die hemel. Dit is baie wonderliker as die aardse kerke en dinge. Hy het nie vir God gewone geskenke (offers van diere) gevat nie. Hy het Homself as geskenk namens ons gegee. Hy hoef dit nie aanhoudend te doen nie. Hy is mos altyd by God. Daarom kan Hy ons help om ook eendag vir altyd by God te wees.

Die ou Jode het die bloed van bokke of beeste gevat, of die as van ’n bul wat geoffer is en dit op iemand gegooi. Dit was hulle geskenke aan God. So het hulle van al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, ontslae geraak. Dit sou maak dat God meer van hulle hou. Dink net hoeveel meer God van ons sal hou, want nie diere nie, maar Jesus se bloed, vat ons verkeerde dinge weg. Jesus het niks verkeerds gedoen nie, maar tog Homself as geskenk of offer in ons plek gegee. Nou hoef ons ons nie meer te bekommer oor alles wat ons verkeerd gedoen het nie. Jesus vat dit vir ons weg. Ons kan die Here nou met ons hele hart dien.

Vra vir die gemeente:  watter vloeistof móét jy altyd in jou huis hê?  Noem voorbeelde soos Q10, tamatiesous, ‘n gunsteling soort koeldrank, water.  Jy kan selfs van daardie wonderlike skoonmaakmiddels wat kwansuis alles skoonmaak, saambring en ’n paar vuil dinge skoonmaak.  As jy hierdie vloeistof het, het jy amper niks anders nodig nie!  Brei uit oor wat dit alles kan doen.

Die ding is, ’n mens kan oorleef sonder enige van hierdie vloeistowwe.  Jy kan selfs vir tot drie dae sonder water oorleef!  Jy kan vir sewe dae sonder kos leef.  Waarsonder jy nié kan oorleef nie, is bloed.  Dit is die vloeistof wat lewe gee.  Die vloei deur ons are en voorsien ons hele liggaam van suurstof.

Dit is hoekom die bloeddiens se leuse is:  “Skenk bloed, red ’n lewe”.  In Engels sê hulle “Give the gift of life.”

Ons gebruik ook bloed om ons nouste verhoudings te beskryf: ons is bloedverwant wanneer ons familie is.

Gebruik enige van bogenoemde beelde om dit dan te verbind aan Jesus se bloed:  die bloed waarsonder ons nie kan lewe nie, die geskenk van lewe.  Jy kan dit ook verbind aan die doop.  Gaan staan met die kinders by die doopvont (met water) en laat hulle die water spat.  Jy kan dan die lyn trek tussen Jesus se bloed wat ons skoon was en water wat ons skoon was.

OF

Sluit aan by die konsep van “gewete” waarna daar in die preek verwys word.  Gesels oor hoe ’n mens weet wanneer jy verkeerd gedoen het en hoe jy voel wanneer jy verkeerd gedoen het.  Hier is ’n uitstekende video vir hierdie gesprek (wys dalk net ’n gedeelte van die video):  in die video is twee honde.  Een was stout, een nie.  Vra vir die kinders watter hond stout was.  Hoe weet ons wie die stoute hond was?  Die soet hond voel glad nie sleg nie, want sy was nie stout nie!  Die hond wat stout was, voel sleg.  [Dankie aan Danie Mouton vir die idee en die video.]

Sluit hiermee aan by ons gewete.  Onthou om te bevestig dat ons met ’n absolute skoon gewete voor God kan leef – nie omdat ons nog nooit stout was nie, maar omdat Jesus ons stout skoongewas het.

Preekriglyn

Prof Stephan Joubert noem die Hebreërbrief “‘n preek wat moeë gelowiges van voor af sterk maak.”

Uit die Hebreërbrief blyk dat die eerste lesers reeds vervolging ter wille van hulle geloof deurstaan het (10:32-35; 12:4). Hulle moes beledigings en openlike spot verduur. Sommige van hul medegelowiges is selfs in die tronk gegooi. Omdat die lesers by die vervolgdes bly staan het, is daar op hulle besittings beslag gelê (10:34).

In die lig van hierdie teenstand moedig die Hebreërbrief sy eerste lesers aan om nooit moed op te gee nie. Hulle moet volhard, want Christus kom weer. Hulle swaarkry is nie die einde nie.

Die brief bemoedig die lesers deur van hulle goeie kennis van die Ou Testament gebruik te maak. Om in Jesus te glo en Hom te volg is om op ‘n geloofsreis te wees. Hulle is soos die rondreisende Israeliete in die woestyn. Die gevaar is dat hulle God se groot Sabbatsrus sal misloop – soos die Israeliete – deur handdoek in te gooi. Die groot skare getuies uit die Ou Testament moedig gelowiges aan om trou aan die Here te bly.

Hoe sal die gelowiges dit regkry om te volhard? Hulle moet aan Christus vashou as die gesag-hebbende spreekbuis van God. Hulle moet Christus se reddingswerk reg begryp. Hulle moet vashou aan Hom as die enigste Hoëpriester wat ‘n nuwe verbond tot stand gebring het. Christus is die Begin en die Einde van hulle geloofspad.

Terugval

Mens kry uit die brief die indruk dat dit gerig was aan mense wat die Jodedom goed geken het. Dalk was hulle self Jode, of mense wat uit die heidendom na die Jodedom oorgegaan het voordat hulle Christene geword het. Die gevaar is nie net dat hulle kon ophou glo nie, die gevaar is ook dat hulle kon terughunker na ‘n Ou Testamentiese bedeling, waar dinge eenvoudiger, die prys minder hoog en die bekende rituele meer seker was..

Atletiek

Gene wonder nie dat die Hebreërbriefskrywer in hoofstuk 12 ‘n atletiekbaan as beeld gebruik om volharding te beklemtoon nie. Jesus is die voorbeeld vir die volharding wat die geloofspad as atletiekbaan vra. Hy maak die slap hande en lam knieë sterk. Hulle moet egter soos atlete oefen en hulself deur God laat dissiplineer.

Stephan Joubert skryf in sy Ontsluit die Nuwe Testament as volg oor Hebreërs:

Geen vorm van dissipline … is opsigself aangenaam nie, tog lei dit tot goeie vrug in die lewens van diegene wat sulke oefensessies enduit deurstaan …. Swaarkry en teenstand mag hulle nooit onderkry nie. Dit is ‘n belangrike geestelike leerskool – mits hulle hul oog enduit op Jesus hou. Net soos wat Jesus self die pad van lyding moes stap (2:9), moet gelowiges volhard in gehoorsaamheid ten einde die ewige beloning te ontvang wat God vir hulle almal in die vooruitsig gestel het (10:32-39).

Die aanmoediging lê daarin dat gelowiges nou vir Jesus het. Die nuwe verbond wat Jesus bring is soveel groter as die ou verbond. Daarom is die aanmoediging soveel sterker.

Hierdie agtergrond is belangrik. Hebreërs gee nie bloot vir ons interessante inligting oor Jesus nie. Hebreërs moedig ons aan, bind ons vaster en hegter aan Jesus, sodat ons oorvloedig in gehoorsaamheid en volharding sal lewe.

Konteks

Ons teksgedeelte kom uit ‘n onderdeel van die Hebreërbrief wat van hoofstuk 8:1 tot 10:31 strek. In hierdie gedeelte word twee Ou Testamentiese tekste behandel:

  • Jeremia 31:31-34 word in hoofstuk 8:7-13 en 10:15-18 aangehaal en behandel. Jeremia getuig van God se bedoeling om ‘n meer effektiewe nuwe verbond te vestig, gebaseer op – sê Hebreërs – groter beloftes.
  • Psalm 40:6-8 word aangehaal en bespreek in Hebreërs 10:5-10. Vir Hebreërs verwys hierdie teks na die groter en beter offer wat Jesus gebring het, teenoor die offerandes van die ou verbond wat nie langer vir God van waarde is nie.

Ons teks kom dus voor in ‘n gedeelte van die brief wat getuig dat Jesus ‘n beter offer onder die nuwe verbond bring – ‘n offer wat kragtiger reiniging, heiliging en volharding meebring as al die offers van die ou verbond.

Hoofstuk 9, die hoofstuk waaruit ons teks kom, is die brug tussen die bespreking van die aanhalings uit Jeremia 31 en Psalm 40. Hoofstuk 9 vergelyk die heiligdomme van die ou en nuwe verbond, met verwysing na die gebruike en rituele wat gevolg word.

  • In verse 1-10 word ‘n gedetailleerde beskrywing gegee van die verbondstent of tabernakel soos dit tydens die woestynreis van Israel ingerig was. In die voorste gedeelte van die tent het priesters gereeld offers gebring, maar in die agterste gedeelte – agter die voorhangsel, dit is die allerheiligste – kon net die hoëpriester op die groot versoendag ingaan.
  • In verse 11-28 word die resultate van die ou en die nuwe verbond vergelyk en met mekaar gekontrasteer. Ons teks kom uit hierdie gedeelte.
Finale offer en heiligdom

In die ou verbond moes die bloedoffers eindeloos herhaal word, en kon die priesters net die heiligdom betree. Die allerheiligste was slegs een keer per jaar toeganklik, en dan net vir die hoëpriester. Hy moes vooraf deur reinigingsrituele gaan.

Die bedeling van Christus is soveel heerliker.

  • In verse 11-12 word gesê dat Christus as finale Hoëpriester die ewige versoening afgehandel het, en vir eens en vir altyd in die groter en finale verbondstent in die hemel ingegaan het.
  • In verse 13-14 word gesê die offers van die ou verbond het mense uiterlik rein gemaak, maak die bloed van Christus ons ook innerlik skoon omdat dit ons gewete van dooie werke bevry, sodat ons die lewende God kan dien.
Hoër en dieper

Christus se werk as Hoëpriester gaan dus beide hoër en dieper as die bloed wat vergiet en besprinkel is onder die ou verbond:

  • Dit gaan hoër want Christus het deur sy eenmalige offer in die volmaakte verbondstent (11), die hemel self (24), ingegaan om namens ons voor God te verskyn.
  • Dit gaan dieper want dit reik na die diepste elemente van ons bestaan, tot by die reiniging van ons gewete en van dooie werke (1953-vertaling van vers 14: “… hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”
Objektief en subjektief

‘n Ander manier om oor Christus se werk te praat, is om te sê:

  • Christus het die verlossing objektief (buite ons) as ‘n feit vir ons bewerk. Ons verlossing berus by dit wat Christus aan die kruis verrig het, en die wyse waarop Hy ons as Verlosser in die hoogste hemele voor God verteenwoordig.
  • Subjektief word hierdie verlossing in ons bewerk deurdat ons vry gemaak word van die sonde, ons gewetens gereinig word van die las van dade wat tot die dood lei. Ons getwete word gereinig, sodat ons innerlik nuut is en God van harte kan dien.
Rein gewete

Hierdie gawe van ‘n rein gewete is van onskatbare waarde vir ons diens aan God.  Dit is die basis vir ons vertroue in God, ons verbintenis aan Hom en die vrymoedigheid waarmee ons met Hom ‘n pad kan stap in ons geestelike lewe.  Die skrywer sal in hfst. 10:19 verder daarop uitbrei.

Rol van die gewete

[Nota: In hierdie lang paragraaf volg ‘n algemene inset oor die gewete wat dalk in ‘n afsonderlike besprekingsdiens oor die gewete – na aanleiding van ons teks – meer volledig hanteer kan word.]

Ons lees op verskeie plekke dat ‘n mens se gewete ‘n rol speel in jou onderskeiding van wat God se wil is of wat die regte ding is om te doen.  Die gewete kan jou aankla of verontskuldig , soos Paulus in sy brief aan die Romeine skryf (Rom. 2:15).  Hy leer daar dat die gewete, in samewerking met die hart en die gedagtes, sy krag kry uit die ingebore wet van God wat selfs in ongelowiges sy rol speel (Rom. 2:12-16).

Wanneer jy in ooreenstemming met God se wil optree, bevestig jou gewete dit.  Wanneer jy dit nie doen nie, kla jou gewete jou aan, en het jy, by wyse van spreke, ‘n slegte gewete.  Met die gewete kan jy dus God se wil onderskei al dan nie (Rom. 2:17-24).  Saam met jou hart en gedagtes, is die gewete ‘n uitstekende instrument van onderskeiding.

Dit is iets waarvan ons reeds in die OT van kennis neem, hoewel daar nie ‘n spesifieke woord daarvoor gebruik is nie.  Ons lees bv. van Dawid wat Saul se mantelpunt afsny in die grot, maar dan deur sy hart (in die betekenis van gewete) gepla word (1 Sam. 24:6), sy manskappe keer om teen Saul op te tree, en besluit om sy hand nie aan die gesalfde van die Here te slaan nie.  Sy gewete lei hom dus om reg teenoor sy medemens op te tree.  Dieselfde gebeur met Dawid in terme van sy verhouding met die Here wanneer hy die volk laat tel, maar dan weer deur sy hart (gewete) gepla word (2 Sam 24:10).  Dit lei hom tot ‘n belydenis teenoor die Here waarna hy ook die oordeel van die Here kan aanvaar.

Ons lees op verskeie plekke in die NT nog dieper van die rol wat die gewete in die onderskeiding van wat belangrik is, speel.  Paulus maak in sy gesprek met die Sanhedrin, die Joodse Raad, aanspraak daarop dat hy met ‘n absoluut skoon gewete voor God leef (Hand. 23:1; vgl. 2 Tim. 1:3 en ook Hebr. 13:18).  Hy herhaal dit in sy antwoord op die Joodse klagtes voor die prokurator Festus dat hy sy uiterste bes doen om sy gewete in alle opsigte skoon te hou voor God en voor die mense (Hand. 24:16).

En hy raai die gemeente in Rome aan om onderdanig te wees aan die reëls van die owerheid (belastings, tolgeld) sowel as om aan hulle die respek wat hulle toekom, te betoon (ontsag, eer) ter wille van die gewete (Rom. 13:1-7; vgl. ook 1 Pet. 3:16).  Trouens, dit is wat die liefde van ons vra, om aan niemand iets verskuldig te wees nie, en die riglyne van die wet na te kom teenoor mekaar, want die liefde is die vervulling van die wet (Rom. 13:8-14).  Só beklee jy jouself al meer met Christus sodat jy nie meer voorsiening maak vir jou sondige natuur om sy drange te bevredig nie.

Daarom skryf Paulus in sy tweede brief aan die Korintiërs dat die getuienis van hulle gewete is dat hulle teenoor die Korintiërs in opregtheid en met die eerlikheid opgetree het wat van God af kom (2 Kor. 1:12-2:4).  Hulle het sorg gedra dat hulle nie maar deur menslike wysheid optree nie, maar deur die genade van God, sodat hulle lewens op die fondament van Christus gebou sou wees.  Daarvan getuig hulle gewetens as hulle oor hulle bediening in die gemeente nadink.  En hy wil hê dat dieselfde waarheid ook in hulle gewetens geëggo word (2 Kor. 5:11).

Trouens, Paulus maak staat daarop dat mense deur Paulus-hulle se bediening in hulle gewetens aangespreek word deur die waarheid van die evangelie (2 Kor. 4:1-7).  Die hoop is dat die waarheid van Christus ‘n impak op die gewete van elke mens sal maak sodat die lig van die evangelie mense se oë vir Hom sal oopmaak.

Dit is egter nodig dat die gewete van die gelowige deur die Heilige Gees gelei word (Rom. 9:1).  Dit doen die Gees onder andere op twee maniere, soos Paulus dit in sy brief aan die Korinte uitspel.  Hy doen dit deur die regte kennis van God se wil sowel as deur die liefde (1 Kor. 8:1-13).  Die regte kennis maak die gewete sterk, anders bly dit swak en vatbaar vir besoedeling. Die deernis van die liefde dien weer die belange van dié wie se gewete swak is en keer dat ‘n mens verwaand raak deur al jou kennis.

Paulus illustreer dit aan die Korintiërs met die eet van afgodsoffers al dan nie.  Aan die eenkant, sê Paulus, is dit só dat daar eintlik geen afgod in die wêreld is nie, want daar is net Een God.  Selfs al is daar sogenaamde gode in die oë van mense, is daar vir ons eintlik net Een, as ‘n mens regtig diep daaroor nadink.  Ons kan ons gewete dus gerusstel en vry van enige vrees vir afgode leef.  Hulle hoef ons op geen manier aan bande te lê nie.  Ons kan enigiets eet.

Maar, aan die ander kant, omdat almal nie dié kennis het nie, sê Paulus, besoedel hulle hul gewete as hulle afgodsvleis eet.  Daarom kan die eet van afgodsvleis vir hulle ‘n struikelblok word as hulle dié wat sterk in hulle gewete is, gevoed deur die regte kennis, sien afgodsvleis eet.  Dan moet die liefde egter inskop en raai Paulus die gelowiges met ‘n sterk gewete aan om nie afgodsvleis te eet nie sodat hulle nie sondig teen die swakkes, hulle swak gewetens gekrenk word en hulle struikel nie.  Die regte kennis moet ons dus nie verwaand maak en onsensitief laat optree teenoor die swakkes nie.

Paulus gaan verder om dié tipe Christelike vryheid te beskryf (1 Kor. 10:23-11:1).  Aan die eenkant hoef ‘n mens jou nie te steur aan afgodsvleis nie en dit eet sonder om vrae te vra ter wille van die gewete.  Alles behoort immers aan die Here, ook dié vleis.  Maar, aan die ander kant, as ‘n ander gelowige beswaard is daaroor, moet jy die vleis nie eet nie, ter wille van die ander se gewete.  Jou vryheid moet nie ‘n struikelblok word vir ander nie.  Dit is hoe die Here dit gedoen het, en ons moet sy navolgers wees, sê Paulus.

Dit beteken egter nou weer nie dat die regte leerstellings oor dié dinge verdoesel of geïgnoreer mag word nie.  Daarom gee Paulus aan Timoteus die opdrag om mense wat verkeerde leringe versprei, te beveel om dit nie te doen nie, omdat dit God se plan met hulle en die wêreld in die wiele kan ry.  “Die doel van die opdrag is liefde uit ‘n rein hart, ‘n skoon gewete en ‘n ongeveinsde geloof.” (1 Tim. 1:3-7).  Só kan Timoteus sorg dat hy die goeie stryd kan stry: “met geloof en ‘n goeie gewete“, iets wat sommige mense versaak het, en waardeur hulle geloof skipbreuk gely het (1 Tim. 1:18-20).

Aan die geheimenis van die geloof moet dus met ‘n skoon gewete vasgehou word (1 Tim. 3:9) sonder om toe te gee aan vreemde leerstellings wat onder andere mense verbied om te trou en allerlei dieetreëls as evangelie aan mense voorhou.  Sulke mense is vals en word deur Paulus as mense met toegeskroeide gewetens  beskryf (1 Tim. 4:1-4; vgl. Tit. 2:15).

Ook die apostel Johannes skryf oor die rol van die gewete en verbind dit baie spesifiek aan die feit dat ons met die daad moet liefhê, nie net met woord nie, d.w.s. “ten volle“!  In 1 Joh. 3:18-24 gebruik hy eintlik die Griekse woord hart, maar dit is uit die konteks duidelik dat dit hier om daardie aspek van ons innerlike gaan wat ons van skuld of onskuld oortuig, naamlik ons gewete.  Dit dra dieselfde betekenis as in die Psalms waar onder andere die Hebreeuse woorde hart (vgl. Ps. 51:12: “Skep ‘n rein hart vir my, o God, vernuwe ‘n bestendige gees in my binneste“) en niere in dieselfde betekenis gebruik word (vgl. Ps. 16:7: “Ek sal die Here prys wat my raad gegee het, ja, snags spoor my niere [gewete] my aan.“).

Wanneer ons dus inderdaad ander met die daad liefhet: “sal ons weet dat ons uit die waarheid kom en met ‘n geruste gewete voor God kan staan.”  Dan kan ons met vrymoedigheid van God vra en ontvang, “omdat ons sy opdragte gehoorsaam en doen wat vir Hom aangenaam is.”  En selfs as ons steeds bewus bly van ons swakhede, “wanneer ons gewete ons aankla,” kan ons troos vind in die feit dat God groter is as ons gewete en alles weet.

Vrymoedige diens

Die skrywer aan die Hebreërs leer ons dus in dié gedeelte – en dit is goed om die res van die Bybel se getuienis oor die rol van die gewete in gedagte te hou – dat die gewete nie deur offers gereinig kan  word nie.  Dit kan net deur die bloed van Christus gereinig word (Hebr. 10:22).

As ons ‘n skoon gewete het voor God, sê Hebreërs, help dit ons om ‘n vrymoedige verhouding met Hom te handhaaf.  In ons verhouding met God is dit ‘n onontbeerlike aspek van ons geestelike lewe, want vrymoedigheid teenoor God stel ons in staat om “met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete en ons liggame gewas met skoon water,” voor God in die heiligdom te verskyn en Hom te dien (Hebr. 10:19-25).  ‘n Skoon gewete stel ons dus in staat om God se teenwoordigheid te geniet en met vertroue op sy beloftes staat te maak.

Dit is egter ook belangrik om te onthou dat die gewete nie volledig op sy eie kan funksioneer nie.  Dit moet deur ervaring geoefen word, soos die skrywer aan die Hebreërs al in hfst. 5:14 geskryf het: “vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te onderskei tussen goed en kwaad.”

Aangemoedig

Ons raak in ons teks opnuut bewus van die ongelooflike verlossingswerk van Christus, wat ons objektiewe status voor God verander en ons – subjektief- van binne nuut maak.

Ons hoef onsself nie geestelik te grimeer of uit eie krag geestelik self te verbeter nie. God maak ons nuut.

Daarom kan ons nuut leef. Ons word bemoedig en versterk deur die hoë God self.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 268 Verlosser Vir My of
Lied 390 “Ons kniel hier aan u voete neer” of
Lied 493 “Jesus neem die sondaars aan!”

Seën

Respons: Lied 189 :Halleluja: of
Flam 268 Refrein of
Vonkk 64 laaste 5 reëls

Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.