Vier en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Volgende week eindig die kerklike jaar op ‘n hoogtepunt met die viering van Christus die Koning. As laaste week binne die Seisoen van Voleinding, dien hierdie week se tekste as voorbereiding en oorgang tot hierdie hoogtepunt. Die vier tekste dien almal as belangrike roetemerkers onderweg na die voleinding en kroning van Christus die Koning. In Rigters 4, die fokusteks, beloof die Here by monde van die profetes Debora dat ‘n oorwinning oor die vyand op hande is. Die volgende drie tekste bied almal voorstelle van hoe hierdie reis na die voleinding aangepak moet word. Psalm 123 is ‘n pelgrimslied waarin gelowiges in moeilike omstandighede bely dat die enigste uitkoms is om “ons oë gerig op die Here ons God” te hou. Die teks uit Matteus 25 is die bekende gelykenis van die muntstukke. Indien dit saam met hierdie week se tema en tekste gelees word, hoor ons dat daar baie geleenthede is wat die Here vir gelowiges in die eindtye bied, en dat ons sal moet woeker met dít wat die Here vir ons gee. Die teks uit 1 Tessalonisense 5 sluit hierby aan deur gelowiges aan te moedig om waaksaam te wees in die eindtye: Die dag van die Here kom immers soos ‘n dief in die nag. Gelowiges is mense van die lig. Hulle is wakker en nugter omdat God hulle bestem het, nie om gestraf te word nie, maar om verlos te word.

Ander tekste

Psalm 123
123 ’n Pelgrimslied.
Ek sien na U op,
U wat uit die hemel heers.
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
erig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
3Ontferm U oor ons, Here,
ontferm U oor ons,
want ons het meer as genoeg veragting
gehad,
4meer as genoeg spot
van oormoedige mense,
veragting van hovaardiges.

1 Tessalonisense 5:1-11
Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag. 3Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ’n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos ’n dief oorval nie. 5Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7Dié wat slaap is van die nag; en die wat hulle dronk drink, is van die nag. 8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Matteus 25:14-30
14“Verder gaan dit soos met ’n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. 15Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ’n ander twee, en vir ’n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

16“Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en ’n wins gemaak van nog vyf. 17So ook die een wat twee gekry het: hy het ’n wins gemaak van nog twee. 18Maar die slaaf wat een gekry het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19“Na ’n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. 20Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ 21Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

22“Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ 23Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

24“Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u ’n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. 25Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’ 26Toe sê sy eienaar vir hom: Jy is ’n slegte en ’n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. 27Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. 28Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. 29Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 30En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Fokusteks

Rigters 4:1-7
Debora
4 Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag. 3Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk.

Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. 4In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ‘n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. 6Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe. 7Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.”

8Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.”

9Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer.”
Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan. 10Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek.

11In daardie gebied was daar ‘n man met die naam Geber, ‘n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af en sy tent opgeslaan by die groot boom in Saänannim naby Kedes.

12Daar is aan Sisera vertel dat Barak seun van Abinoam na Taborberg toe opgetrek het. 13Sisera het toe sy nege honderd strydwaens en al sy manskappe van Garoset-Gojim af laat kom na Kisonspruit toe.

14Toe sê Debora vir Barak: “Trek op, want vandag gee die Here vir Sisera in jou mag oor. Die Here gaan voor jou uit.”
Barak het toe van Taborberg af afgegaan, en die tien duisend man het hom gevolg. 15Die Here het Sisera en sy strydwabemanning en sy hele leër baie bang laat word vir Barak en sy mag, en Sisera het van sy strydwa af afgespring en te voet gevlug. 16Barak het die strydwaens en die leër agternagesit tot by Garoset-Gojim, en die hele leër van Sisera is afgemaai: daar het nie een van hulle oorgebly nie.

17Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer. 18Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!”
Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter ‘n gordyn weggesteek. 19Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ‘n bietjie water om te drink.”

Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak. 20Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!”

21Jael die vrou van Geber het toe ‘n tentpen gevat en met ‘n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood.

22Barak was besig om vir Sisera te agtervolg, en Jael het na Barak toe gegaan. Toe sê sy vir hom: “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.”
Toe Barak by haar kom, lê Sisera daar dood met ‘n tentpen deur sy slaap.

23Daardie dag het God vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder 24en hulle het al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom vernietig het.

Die oorwinningslied van Debora en Barak
5 Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam gesing:
2“Julle moet die Here prys,
want leiers het opgetree in Israel,
die volk het hulle aangemeld
vir die oorlog.
3Luister, konings,
gee aandag, regeerders!
Ek sing tot eer van die Here,
ek prys die Here die God van Israel
met my lied:
4Toe U uit Seïr gekom het, Here,
toe U uit die veld van Edom
opgetrek het,
het die aarde gebewe,
het die hemel reën gegee:
die wolke het strome water gegee.
5Die berge het weggesmelt
voor die Here,
voor Hom uit Sinai,
voor die Here die God van Israel.
6“In die dae van Samgar seun van Anat,
in die dae van Jael
was die hoofpaaie stil,
reisigers het ompaaie gebruik.
7Die lewe buite die stede
het in Israel gekwyn
en agteruitgegaan
totdat ek, Debora, na vore gekom het,
totdat ‘n moeder in Israel
na vore gekom het.
8Toe die volk nuwe gode
vir hulle gekies het,
het daar oorlog gekom,
maar nie een uit Israel
se duisende soldate
het die wapen opgeneem nie.
9“Ek staan by die leiers van Israel,
by dié wat hulle vrywillig
aangemeld het.
Julle moet die Here prys,
10julle wat op bruin donkies ry,
julle wat op mooi saalkleedjies sit,
julle wat op reis is,
julle moet dit alles vertel!
11“Tussen die drinkbakke
praat hulle daaroor,
besing hulle die oorwinning
wat die Here behaal het,
sy oorwinning vir die boere
van Israel.
“Die volk van die Here kom bymekaar
by die stadspoorte,
hulle sing:
12‘Kom, Debora, kom,
kom, kom sing ‘n lied!
Maak klaar, Barak seun van Abinoam,
kom maak vir jou krygsgevangenes!’
13“Dié van my volk wat oorgebly het,
het bymekaargekom by die leiers,
die volk van die Here
het na my toe gekom,
al die dapper vegters:
14party was van Efraim,
selfs ver uit Amalek uit,
saam met hulle Benjamin,
almal uit jou volk,
party was van Makir,
sy leiers het gekom,
en uit Sebulon
dié wat die heersersepter dra,
15die leiers uit Issaskar was by Debora.
Issaskar was soos Barak,
in die laagte was Issaskar by Barak.
“By Ruben se suipplekke
is daar baie beraadslaag.
16Waarom het jy by die saalsakke bly sit,
bly luister na die fluitspel
by die veetroppe?
By Ruben se suipplekke
is daar baie beraadslaag.
17Gilead het oorkant die Jordaan
bly sit,
en waarom het Dan by die skepe gebly?
Aser het by die seestrand bly sit,
nie van sy kaai af geroer nie.
18Sebulon was nie bang vir die dood nie
en Naftali het die dood getrotseer
op die hoogland.
19“Konings het gekom, hulle het geveg,
die konings van Kanaän het geveg
by Taänak, by Megiddo se waters,
maar hulle het nie silwer
buitgemaak nie.
20Uit die hemel het die sterre geveg,
uit hulle bane het hulle
teen Sisera geveg.
21Die Kisonrivier het die vyand
meegesleur,
die Kisonrivier,
die rivier uit die voortyd.
“Hou moed! Wees sterk!
22“Die perde het met hulle hoewe gekap,
die sterkes het in jaaggalop
voortgestorm.
23“Die Engel van die Here het gesê:
‘Julle moet vir Meros vervloek,
julle moet sy inwoners
sonder genade vervloek,
want hulle het nie vir die Here
kom veg nie,
nie vir Hom teen die dapper vegters
kom veg nie.’
24“Geseënd is Jael vrou van Geber
die Keniet,
meer geseënd as al die vrouens,
die vrouens wat in tente woon.
25Sisera het water gevra,
sy het hom melk gegee,
in ‘n koningsbeker het sy vir hom
dikmelk gegee.
26In haar hand het sy die tentpen
vasgevat,
in haar regterhand
die werksman se hamer.
Sy het vir Sisera daarmee getref,
sy kop papgeslaan,
sy het die slaap van sy kop verbrysel,
dit deurboor.
27By haar voete het hy neergesak,
geval en bly lê,
by haar voete het hy neergesak en geval;
waar hy neergesak het, het hy geval,
morsdood.
28“Sisera se ma het deur die venster
gekyk,
sy het by die traliewerk gestaan en gekla:
Waarom talm sy strydwa om te kom,
waarom bly die gedreun
van sy strydwawiele weg?’
29“Haar slimste hofdame antwoord haar
en sy sê die woorde agterna:
30‘Hulle het ‘n groot buit
in die hande gekry,
hulle verdeel dit:
‘n meisie of twee vir elke soldaat;
gekleurde klere as buit vir Sisera;
gekleurde weefwerk as buit,
gekleurde doeke vir my nek,
dit is die buit!’
31“Mag al u vyande so omkom, Here,
maar mag dié wat vir U liefhet,
wees soos die son
wat in sy volle krag skyn.”
Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land.

Ekstra stof

Rigters 4 – Debora, die formidabele moeder in Israel
Hoewel Debora nie buite die boek Rigters vermeld word nie (wel Barak) is dit duidelik dat sy die eintlike een was wat die voortou geneem het in dié geskiedenis van Israel. Sy was ‘n gesogte profeet, gedugte regter, bobaas rigter en gesagvolle leier wat die titel: “moeder in Israel” heeltemal waardig was. ‘n Onkreukbare mens, as daar ooit een was.

Dit is hoe sy haarself beskryf in die loflied oor die oorwinning wat hulle behaal het: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ‘n moeder in Israel na vore gekom het.” (Rigt 5:7).

Die Israeliete verval in ongehoorsaamheid en die Here straf hulle met koning Jabin van Hasor
Die verhaal begin soos gewoonlik met die Israeliete wat doen wat verkeerd is in die oë van die Here en in ongehoorsaamheid verval. Ehud (en Samgar) se invloed het met sy dood getaan. Hierdie keer gee Hy hulle as straf oor in die hande van die koning Jabin van Hasor, ‘n stad so vyftien kilometer noord van die See van Galilea.

Ongeveer ‘n eeu te vore in die tyd van Josua het die toenmalige koning Jabin (dit is ‘n titel) van Hasor ‘n noordelike koalisie met omringende inwoners teen die magte van Israel gevorm. Josua kon daarin slaag om die stad in te neem in die aanvanklike “platvee“-veldtog en sy koning oorwin (Jos 11:1–15).

Nou is die rolle omgekeer en word Israel deur ‘n nasaat, ook koning Jabin, oorheers, ‘n hele 20 jaar lank. Veral die hoof van Jabin se weermag het chaos in Israel gesaai met sy 900 ysterstrydwaens.

Israel is dus gekonfronteer met ‘n formidabele vyand. Dit was aan die begin van die Yster tydperk in die Midde-Ooste, wat beteken dat die Kanaäniete regtig tegnologies gevorderd was vir die tyd. Hulle kon wapens van yster maak, wat baie beter was as die brons waarvan Israel se wapens gemaak is. Met hulle skaarste aan goeie sterk wapens, laat staan nog ysterwaens, was Israel menslik gesproke nie opgewasse teen Sisera nie.

Dit het die Israeliete baie bang gemaak. Hulle het traag geraak om te reis. As hulle êrens gereis het, as hulle nie anders kon nie, het hulle ompaaie gebruik. Die lewe buite die stede van Israel het gekwyn en agteruitgegaan. Die boere het in sulke omstandighede swaar gekry en kon nie hulle lande bewerk soos hulle wou nie. Hulle het langs bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly (vgl Gideon in Rigt 6:2). Hulle het regtig wegkruip-lewens gelei.

Die Here luister na hulle geroep om hulp en gee vir hulle dié moeder in Israel: Debora
Daarom het hulle soos tevore tot die Here geroep om hulp. En vanweë God se voorsiening kon Hy hulle weer verlos, dié keer met ‘n besondere vrou, die moeder Debora.

Dit tref my hoe God selfs terwyl die verdrukking as strafmaatreël die lewe moeilik maak vir die volk, reeds ‘n plan gereed het om die volk te verlos. Sy oordeel sluit altyd sy verlossing in. Daarom dat ‘n mens so baie keer in die Bybel van oordeel as ‘n verlossende oordeel kan praat.

Debora was ‘n formidabele vrou. Haar naam beteken letterlik by (heuningby), en soos ‘n koninginby het sy alles beïnvloed rondom haar. Sy was die eerste werkende ma waarvan ons in die Bybel lees.

Sy was die vrou van Lappidot, maar terselfdertyd die bobaas rigter van die Israeliete. Sy was daarby ‘n gesogte profetes wat altyd onder ‘n palmboom – wat uiteindelik na haar vernoem is, die “Deborapalm” – in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit het om die Israeliete se geskille by te lê. Sy was dus ook ‘n gedugte regter.

Sy word egter ook ‘n gesagvolle leier, want sy laat vir Barak uit Naftali roep en beveel hom – namens die Here! – om Sisera by die Kisonspruit naby die Taborberg tegemoet te trek met die stamme Naftali en Sebulon, die Jabiniete die stryd aan te sê, en hulle te verslaan (saam met Efraim, die halwe stam van Manasse in die land [Makir], Benjamin, en Issaskar, soos dit uit Rigters 5 blyk).

En Barak kom nie net haar toe op haar bevel nie, maar vra haar om saam te trek, anders sal hy nie die moed hê om dié opdrag na te kom nie.

Die Israeliete behaal ‘n klinkende oorwinning oor Hasor
Daar in die “slag van Taänak“, tussen die Taborberg en die Kisonspruit, het Naftali en Sebulon (en die ander vier stamme) ‘n klinkende oorwinning oor Sisera en die Jabiniete van Hasor behaal. Die eer sou egter aan ‘n vrou behoort, soos sy hom ingelig het toe sy instem om saam te gaan.

Hierdie profesie het nie net op haarself as rigter gedui nie, maar ook letterlik op wie Sisera sou doodmaak. Dit is inderdaad ‘n vrou wat vir Sisera verslaan het, Jael, ‘n Keniet, nageslag van Moses se skoonpa (of swaer) Gobab, en daarom nageslag van Midian, Abraham se een seun by Ketura (lees meer in my bydrae oor Eksodus 2 en Numeri 10).

Let op hoe Debora volledig staatmaak op wat die Here vir haar sê. Sy doen wat reg is in die oë van die Here, óók in die veldslag wat op sy terme gevoer word. Haar vertroue in God boesem dus vertroue in by die volk. Die Here se belofte van oorwinning gee Barak die moed om op te tree.

Maar let ook op dat dit die Here is wat vrees in die harte van Sisera en sy beter toegeruste mag inboesem, soveel só dat Sisera sy strydwa agterlaat en te voet voor die manne van Israel vlug.

Daar is egter meer. Uit die lied wat Debora en Barak sing (Rigt 5), wil dit voorkom of daar iets baie ongewoons gebeur het, iets wat hulle groot vrees verklaar. Miskien was daar ‘n geweldige wolkbreuk, óf ‘n aardbewing by die Kisonspruit, wat ‘n groot vloed veroorsaak het óf een of ander kosmiese gebeure. Nietemin, dit het die leër van Sisera onkant gevang, sodat hulle gevlug het.

Sisera vlug en dink nie meer helder nie. Hy aanvaar die uitnodiging van Jael en dink dit sal tot sy voordeel wees. Sy is immers die vrou van Geber wat op ‘n goeie voet met koning Jabin verkeer het. Maar Sisera was salig onbewus daarvan dat Geber intussen weggetrek het van sy familie af … Jael se gasvryheid is dus ‘n lokval en sy maak korte mette van hom met ‘n tentpen deur die slaap.

Sy maak ook nie te veel daarvan nie. So half terloops sê sy vir Barak dat Sisera dood in haar tent lê … ‘n magtige kryger oorwin deur ‘n vrou. Dié vernedering het die moed van Jabin gebreek en die Israeliete algaande die oorhand laat kry totdat Hasor vernietig is.

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 5 of Psalm 123

Votum en Seëngroet

Lofsang: Flam 57 [bekend] of Lied 417 of Lied 492

Verootmoediging: 1 Tessalonisense 5:8-11

Geloofsbelydenis: Flam 38

HOOR

Gebed

Skriflesing: Rigters 4:1-7a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 50 of VONKK 160 of Lied 470 U

Seën

Respons: Flam 56 of VONKK 59 met Ukunqoba

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 5 of
Psalm 123

Votum
Soos Debora, die Rigter van Israel, word ons ook geroep om te besin, te bedink en besluite te neem wat tot optrede lei.
Here God, lei ons oordenkings, sodat ons met u regverdigheid en geregtigheid in ‘n onregverdige wêreld kan leef. Amen.

Seëngroet

Lofsang
Flam 57 Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied) [bekend] of
Lied 417 “Jesus, ons eer U” of
Lied 492 “In U is vreugde”

Verootmoediging: 1 Tessalonisense 5:8-11
8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.
11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Geloofsbelydenis
[Die liturg kan dalk die lyn trek na die gesamentlike belydenis van geloof as ‘n manier om mekaar moed in te praat en mekaar te versterk]
Flam 38 Voluit In U Krag http://flam.kerkmusiek.co.za/product/f038/

Liedere

F38. “Voluit In U Krag”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Belydenis) Musiek: Jaco van Staden Teks: Jaco van Staden en Cornel Driessen
© 2003 Urial Publishing en J van Staden

Brug:
Voluit in u krag (o God) en in u groot mag
staan ek op u woord, bely ek vandag.

1. Daar is oorwinning in Jesus se Naam.
As U vir ons is, wie kan teen ons staan?
Daarom sal ek sing:
Here Jesus.

2. Geen hoogte, geen diepte
kan my skei van u liefde, o Heer.
Abba Vader, u genade
laat my leef in u voluit, o Heer.

Brug:
Alles wat U gee, kry ek in Jesus Christus
meer as ’n oorwinnaar, omdat ek u kind is.

3. Vader en Seun, Heilige Gees
as U vir ons is, wie kan teen ons wees?
Daarom sal ek sing:
Here Jesus.

F50. “In Sy Naam”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof /Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Rick Moser © 1999 Spirit and Truth Music (STM)
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

1. In sy Naam word die blydskap van die Here my beskerming.
In sy Naam kan ek selfs deur donker nagte jubel en sing.
In sy Naam word ’n struikelblok ’n vastrapplek vir oorwinning.
In die Wondernaam bo elke naam.

2. In sy Naam sal siekte buig en plek maak vir genesing.
In sy Naam kan ek selfs teen donker magte staan en oorwin.
In sy Naam word my onvermoë ’n deur vir Sy voorsiening.
In die wondernaam bo elke naam
in die naam van Jesus.

Brug:
Is jy moeg gesit in ’n donker put van mislukking en berou?
Voel jy vasgespin in ’n web van leuens wat jou moedeloos wil hou?
Wel, God het belowe om daar te wees waar sy volk sy lof besing.
So hef op jou stem, kyk op en sien die verlossing wat Hy bring!

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)” 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

VONKK 160 “Dié Wat My Liefhet, Word Veilig Bewaar (Psalm 91)”
Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo) Melodie: MONIQUE – Anton Esterhuyse 2011 Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2011
© 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Geloof en Vertroue

Keervers:
Dié wat My liefhet, word veilig bewaar.
Dié wat my Naam ken, oorwin in gevaar.
As hul my aanroep, is Ek reeds daar,
hul sal met vreugde my redding ervaar.

Psalmvers
Dié wat na God gaan vir skuiling
sal Hy veilig beskerm en omvou.
U bly my veilige vesting,
U, my Here, op wie ek vertrou.

Keervers:
Dié wat My liefhet, word veilig bewaar.
Dié wat my Naam ken, oorwin in gevaar.
As hul my aanroep, is Ek reeds daar,
hul sal met vreugde my redding ervaar.

Psalmvers:
Jy hoef nie angstig te wees nie,
vir ‘n skielike skrik in die nag,
vir rowers wat rondsluip en aanval,
of ‘n ramp wat jou tref op ‘n dag.

Keervers:
Dié wat My liefhet, word veilig bewaar.
Dié wat my Naam ken, oorwin in gevaar.
As hul my aanroep, is Ek reeds daar,
hul sal met vreugde my redding ervaar

VONKK 59 “Ukuthula / Gee Ons Vrede”
Teks: Ukuthula – tradisioneel isiZulu; Vree, volle vree – Afrikaans in Halleluja 1931; nuwe weergawe: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: PAX TECUM – C Vincent 1921 Orrelbegeleiding: Tradisioneel Kantoryverwerking: Tradisioneel
© Afrikaanse teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © isiZulu teks en musiek: Openbare besit.
RUBRIEK: Multikultureel – Gebed

isiZulu
Voorsanger: Ukuthula (Vrede)
Gemeente: Ukuthula

Voorsanger: Ukuthula kulo mhlaba wezono
Gemeente: Kulo mhlaba wezono

Voorsanger: Aleluya
Gemeente/Voorsanger: igazi likaJesu linyenyez’. Ukuthula.

En verder:
2. Usindiso (Vryspraak)
3. Ukubonga (Lofprysing)
4. Ukukholwa (Geloof)
5. Ukunqoba (Oorwinning)
6. Induduzo (Vertroosting)
Herhaal strofe 1 saggies

Afrikaans
Voorsanger: Gee ons vrede,
Gemeente: Vrede vir ons,

Voorsanger: uit genade ons gegee, aan ons gegee.
Gemeente: uit genade ons gegee.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar nou vrede
deur die bloed van onse Heer.

Voorsanger: Maak ons vry, Heer,
Gemeente: Vry, waarlik vry,

Voorganger: uit die mag van sonde vry, van sonde vry.
Gemeente: uit die mag van sonde vry.

Voorganger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar vergifnis
deur die bloed van die Heer.

Voorsanger: Loof die Here!
Gemeente: Loof nou die Heer

Voorganger: al druk hartseer jou soms neer, druk dit jou neer;
Gemeente: al druk hartseer jou soms neer.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Kom loof God vir genade
deur die bloed van onse Heer!

Voorsanger: Met vertroue,
Gemeente: Glo in die Heer

Voorsanger: met geloof wat niks kan keer, wat niks kan keer.
Gemeente: met geloof wat niks kan keer.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Bly glo net met vertroue
in die bloed van onse Heer.

Voorsanger: Met volharding,
Gemeente: Wees meer en meer

Voorsanger: ‘n oorwinnaar in die Heer, wees in die Heer.
Gemeente: ‘n oorwinnaar in die Heer.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar oorwinning
deur die bloed van onse Heer.

Voorsanger: Met vertroosting
Gemeente: Hy sal ons lei

Voorsanger: deur sy Gees wat in ons bly, wat in ons bly.
Gemeente: deur sy Gees wat in ons bly.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar vertroosting
deur die bloed van onse Heer.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Rigters 4:1-7a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die Bybelverhaal op ‘n kindervriendelike manier vertel. Dit is veral belangrik met ‘n storie soos dié van Debora, aangesien dogtertjies baie selde die kans kry om hulleself in Bybelverhale te sien. Jy kan dit uit ‘n gunsteling Kinderbybel vertel. Daar is ook video’s, soos hierdie vier minuut-lange een, of hierdie korter, eenvoudiger een. Op bladsy 15 van hierdie dokument is ‘n mooi inkleurprent, terwyl bladsy 3-4 mooi prentjies het wat as ‘n tipe boek gemaak kan word (daar is ook ander aktiwiteite).

Preekriglyn

Daar is ‘n natuurlike diamantveld in ‘n nasionale park in Arkansas. As jy ‘n diamant sou optel, kan jy dit vir jouself hou. Ongelukkig is daar nie meer veel diamante oor nie. Om een te vind, moet jy vroegoggend voor sonsopkoms daar wees sodat die strale van die son dalk op ‘n weggesteekte diamant in die veld kan skyn en dit blink. Soms moet jy wag tot laatmiddag as die son sak om iets te sien blink. Dit is dus ‘n wag-en-sien besigheid.

Die onderdrukking van die Here se mense was erg. Hulle het iets spesiaals nodig gehad – iets wat soos ‘n diamant blink. Die magte rondom hulle was sterk en onverbiddelik. Hulle het dit oor hulleself gebring. Gewoontemisdadigers. Só beskryf Rigters die mense wat die beloofde land binnegetrek het.

‘n Patroon van afvalligheid

Aan die einde van die boek Josua bely hulle dat hulle die Here vir altyd sal dien. Nou sien ons, geslag ná geslag en gebied op gebied, het van die Here af weggeloop

Die Rigterboek begin op die noot waarmee Josua geëindig het. Josua het die volk gewaarsku dat daar nog Kanaäniete in die land oorgebly het. Hierdie mense sou vir hulle ‘n strik wees waarin hulle maklik kon beland. Rigters maak dit duidelik hoe die volk inderdaad in die strik beland het, selfs telkens, en hoe God hulle elke keer weer tegemoetgekom het.

Die boek Rigters kyk na Israel se geskiedenis vanuit die perspektief van ballingskap. Dit help die volk verstaan hoekom hulle in ballingskap beland het, en dat hulle weer moed sal skep om verder in gemeenskap met God te leef.

Drie groot bewegings

Die Rigterboek beskryf drie groot bewegings:

  • Die eerste deel van die boek benadruk dat God die volk gaan toets of hulle aan Hom getrou gaan bly te midde van die Kanaänitiese teenwoordigheid.
  • Die tweede deel maak dit duidelik dat Israel die toets gedruip het.
  • Die derde deel vertel van die volk se mislukte aanbidding en hoe hulle totaal afvallig geword het.

Ons Skrifgedeelte val in die tweede deel van die boek.

Versoekings en slaggate

Reeds in die eerste hoofstuk van die boek dek die skrywer as’t ware die tafel, skuif hy die verhoog reg. Sy doel is om één saak duidelik te stel: Die mense wat die beloofde land in besit geneem het, was sondig. Alles wat vorentoe met hulle verkeerd geloop het, kan teruggevoer word na wat hier gebeur het.

Die versoekings van die beloofde land was té groot. Daar was ondertrouery met mense wat ander gode aanbid het. Morele verval was aan die orde van die dag. Die Here het hulle sonde nie oorgesien nie. Hier ly die mense al 20 jaar lank. In hulle swaarkry roep hulle na die Here om hulp. Daardie terugkeer, daardie nood, daardie gebede, is vir die Here genoeg om weer lig te laat deurbreek.

‘n Diamant

In hierdie donker tyd skitter daar ‘n diamant. Op die pad tussen Jerusalem en Efraim, het ‘n profetes onder ‘n boom gesit. Dag na dag het mense na haar toe gekom. Sy het hulle gehelp om geskille uit te sorteer. Sy was ‘n wyse persoon. Haar reputasie was goed. Sy het gesag gehad. Sy het na mense geluister. Sy het baie verhale van swaarkry gehoor. Soos die mense in Arkansas soms ‘n diamant ontdek as die son se lig daarop skyn, het sy baie mense versterk.

Sy het egter nie net na mense geluister nie. Sy was ‘n profetes. Oor die jare het sy geleer om op God se golflengte te wees. Hoe sy God se stem gehoor het, weet ons nie. Sy het egter dag in en dag uit, van vroegoggend tot laataand gewag dat die son van God se openbaring op die woorde sal skyn wat sy moes meedeel. Toe kom die dag. God praat met haar.

“Ek sal my mense red”

Wat sê God vir die profetes wat jaar na jaar en dag na dag met sondige mense omgegaan het? Die boodskap is duidelik: “Ek sal my mense red,” sê God.

Dit is die boodskap wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Die Ou en Nuwe Testament beklemtoon God se genade. Selfs wanneer ons weens ons eie sonde in die diepste ellende beland, red God ons wat Hom aanroep. Al lyk die magte rondom ons té groot en duur die lyding jare lank, hoor God die gebed van mense wat uit die dieptes na Hom roep.

In Christus word die oorwinning by uitnemendheid aangekondig. Sy bediening as profeet verkondig dat Hy sonde, dood en siekte oorwin. Hy is deur sy lewe, dood en opstanding ‘n teken van hoop in ons gebroke wêreld. Deur sy opstanding, waarborg Hy ‘n toekoms wat op die finale oorwinning sal uitloop oor alle leed wat die vyand ons wil aandoen.

Sonder skroom

Wat doen Debora? Wonder sy of sy reg gehoor het? Wonder sy of sy as profeet moet optree? Nee, in gehoorsaamheid aan God se stem, maak sy God se wil sonder skroom bekend. So seker is sy van God se wil dat sy vir Barak ontbied en verseker die oorwinning sal behaal word.

Daar is heelwat ander voorbeelde van profete wat die wil van God onverskrokke verkondig het. Dink aan die troosboek in Jesaja 40-55, wat aan blinde en dowe mense verkondig dat die Here ‘n nuwe begin gaan laat aanbreek. Die profeet het ‘n visie gehad, en het dit sonder enige bewyse verkondig.

Menslike instrumente

God gebruik menslike instrumente om sy oorwinning oor die magte rondom ons aan te kondig. Hier is sprake van twee menslike instrumente, naamlik Debora en Barak. Debora het die leidende rol gespeel. Reeds op hierdie vroeë stadium gebruik God vroue as leiers in sy Ou Testamentiese kerk.

Sy speel op verskeie vlakke ‘n sterk rol:

  • Eerstens vertoon sy medelye. In Rigters 5:6,7 sing sy van haar bediening as profeet en regter. Daar het sy die nood, vrees en onderdrukking van mense raakgesien. Soos ‘n moeder, het sy medelye met hulle gehad.
  • Tweedens val haar leierskap op. Haar leierskap staan bo verdenking. As iemand wat die wil van God aan mense bekend gemaak het, het mense haar leiding gevolg. Die feit dat mense na haar toe gekom het vir leiding, en Barak bereid was om te doen wat sy sê, benadruk dat haar leierskap gerespekteer was:

Iemand skryf:
“That she was a woman – in a day when women were given little place in leadership – and still held a position of influence makes her qualities in this respect the more noteworthy”.

  • Derdens word haar selfprysgawe duidelik. Sy was bereid om haar in diens van die mense te stel. Sy was ‘n praktiese profeet. Sy het ‘n visie van God ontvang en het iets daaraan gedoen. Sy ontbied vir Barak en maak God se wil bekend. Sy bied haar hulp aan toe hy haar hulp vra.
  • Laastens is haar geestelike verbintenis aan God opvallend. Sy sien die nood en doen iets daaraan, omdat sy deur God in diens geneem is. Wat God vra, doen sy in gehoorsaamheid. Die oorwinning wat belowe word, klink in die lig van die oormag van die vyand na ‘n menslike risiko. Tog is daar in haar gedagtes geen twyfel oor die oorwinning nie. Sy het geen menslike waarborg nie, maar wel Goddelike sekerheid: “Troop strength had its place, but Deborah was reminding Barak that the victory depended on God’s blessing, not the number of troops”, skryf iemand.

Uiteindelik is die lied van Debora in Rigters 5 ‘n duidelike bewys van hierdie verbintenis aan God se genade.

Barak erken die gesag van die Here wanneer Debora praat.

Vandag nog is leiers belangrik

Goddelike leierskap in gesinne, kerke en gemeenskappe is vandag uiters belangrik. Ja, ons het mense nodig wat met wysheid leiding gee. Ons het priesterlike pastors nodig wat mense in moeilike tye bystaan en rigting gee. Daar is egter iets wat ons nóg nodiger het. Ons het leiers nodig wat die stem van God hoor en dit profeties sal oordra. Ons het mense nodig wat hoop kan bring in hopelose situasies.

God die Bron

Daar is egter een voorvereiste. Profete praat nie uit hulle eie nie. Profete is God se spreekbuise. Paulus skryf dat die verkondiging van God se wil slegs kan gebeur wanneer ons op dieselfde golflengte as die Gees van God is:

Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het (2 Kor 1:7,13).

God gebruik ons pogings

Nicky Gumbel vertel dat Lord Radstock in die middel van die 19de eeu in ‘n hotel in Noorweë was. Hy het gehoor hoe ‘n klein dogtertjie in die gang op ‘n klavier speel. Sy het ‘n verskriklike geraas gemaak: ting … tong … ting … Dit het hom mal gemaak! Toe kom ‘n man en gaan sit langs haar en begin saam met haar speel. Die resultaat was die mooiste musiek. Hy het later ontdek dat die man wat saam haar gespeel het, was die meisie se pa, Alexander Borodin, komponis van die opera Prins Igor.

Ons ontdek die diamante van God se genade wanneer ons bereid is om mooi te luister. Ons ontdek die diamante, die pragtige melodie van die oorwinning in Christus wanneer mense bereid is om in die Here se diens te staan en sy wil aan ons bekend te maak. Wanneer ons in God se diens speel en die Here toelaat om ons pogings reg in te klee en te gebruik.

God roep jou in ‘n verhouding wat met Hom saamwerk. Die Christelike geloof is inderdaad oor wat God in Christus vir ons gedoen het. Ons is egter nie net toeskouers nie. Ons word geroep om te reageer. God sluit ons by sy planne in. Hy kom en sit langs jou en my. Saam met ons, speel Hy die melodie en verander ons sukkelende ting … tong … ting … in ‘n oorwinningslied.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 50 In Sy Naam of
VONKK 160 Dié Wat My Liefhet, Word Veilig Bewaar (Psalm 91) of
Lied 470 “U, Here, is ons Koning”

Seën

Respons
Flam 56 Oorwinnaars
(RUBRIEK: Flam – Lof/Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Rick Moser © MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lied, vol 1)
(Rom 8:37)

Ons is oorwinnaars! Ons sal vasstaan op Sy Woord.
Oorwinnaars, deur Sy kosbare bloed!
Oorwinnaars! Ons sal altyd triomfeer
deur Jesus Christus, ons Heer.

VONKK 59 Ukuthula / Gee Ons Vrede
isiZulu
Voorsanger: Ukunqoba (Oorwinning)
Gemeente: Ukunqoba

Voorsanger: Ukunqoba kulo mhlaba wezono
Gemeente: Kulo mhlaba wezono

Voorsanger: Aleluya
Gemeente/Voorsanger: igazi likaJesu linyenyez’. Ukunqoba.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.