Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die gemeente kan weet dat God met sy kerk op pad is na ’n nuwe toekoms. Op hierdie pad moet hulle oppas vir die vals christusse en moet hulle te midde van swaarkry getrou bly aan die Here Jesus. Hou aan om goed te doen en die Here te dien. Sing vir hom nuwe liedere en prys sy Naam.

Fokusteks

Lukas

Ander RCL tekste

Jesaja 65:17-25;
Jesaja 12;
2 Tessalonisense 3:6-13

Lukas 21:5-19
Die profetiese rede:  die tempel sal afgebreek word

(Matt 24:1–2; Mark 13:1–2)
5Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6“Alles wat julle sien—daar sal ’n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging

(Matt 24:3–14; Mark 13:3–13)
7Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”

8Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”

10Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.

12“Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om van My te getuig. 14Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens ’n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.”

Eksegeties

In Preekstudies met liturgiese voorstelle 2000 tot 2001 is ’n volledige bespreking van hierdie gedeelte deur Desmond Meyer. Vir die uitleg van die teks kan dit en kommentare geraadpleeg word. Volgens Meyer sou Lukas 21:5-19 soos volg ingedeel kon word: a) Vers 5 en 6 dien as inleiding en handel oor die aankondiging van die vernietiging van die tempel; b) Vers 7-11 beskryf die verskillende gebeure rondom die eindtyd; c) Vers 12-19 beskryf die vervolging van die dissipels van buite en van binne die gemeente. Die hulp wat Coenie Burger vir ons in Woord teen die Lig 6. Riglyne vir eskatologiese prediking oor die parallelle gedeelte in Matteus 24:1-14 aanbied, kan ook met groot vrug gebruik word.

Daar is kommentatore wat ’n groter perikoopafbakening aanbeveel (21:1-28 of selfs 21:1-38). Daar is van hulle wat vers 1-4 insluit. Hulle gaan uit van die standpunt dat Jesus gesien het dat die arm weduwee die twee klein muntstukkies in die offergawekis ingooi. Toe van die dissipels in vervoering raak oor die prag van die tempel, sluit Hy daarby aan en wys op die verganklikheid daarvan teenoor die kosbaarheid van die nietige daad van die weduwee. Lukas maak melding daarvan dat die tempel met “gewyde geskenke versier was”.

Lukas 21:5-36 is Lukas se weergawe van wat dikwels die profetiese of apokaliptiese rede (Mark 13:1-37; Matt 24:1-25:46) genoem word. By Lukas is dit teenoor ’n ongeïdentifiseerde “hulle” by die tempel uitgespreek. Matteus en Markus sê dat Jesus saam met die dissipels op die Olyfberg was. Lukas maak ook ’n duideliker onderskeid wanneer hy na die gebeure rakende die verwoesting van Jerusalem en dié wat op die finale oordeel betrekking het, verwys. Geldenhuys sê: “ . . .  verses 5-24 deal practically throughout (except verses

8, 9) with predictions concerning the destruction of Jerusalem and the preceding events, although in a secondary sense even some of these predictions also refer to the Last Things. But in verses 25-28 Jesus looks beyond the foreshadowing of the Final Judgment to that Judgment itself and its attendant signs, in association with His second advent. In verses 29-33 He exhorts His hearers to watch for the former set of events, which are to be accomplished within “this generation”, while in verses 34-36 He warns them (and through them the whole Christian church) to watch faithfully for the latter set of events, which are to take place at a day and hour known to none save God the Father.”

Vers 5 en 6: Die tempel was ’n indrukwekkende gebou. Dit is te verstane dat die dissipels deur die aanskoue daarvan meegevoer is. Die tempel was vir die Jode die sentrum van hul godsdienstige lewe. E P Groenewald noem dat die tempel vir hulle ook die simbool van vastigheid was en die waarborg dat hulle as volk sal bly voortbestaan so lank as die tempel daar is. Daarom het hulle die ondergang van die tempel vereenselwig met die einde van die wêreld. Die dissipels was sekerlik geskok om Jesus se uitsprake oor die tempel te hoor, maar tog weerspreek hulle Hom nie. Klaarblyklik het hulle reeds besef dat ’n nuwe orde aan die kom is.

Vers 7-11: Die dissipels wil twee dinge van Jesus weet, “wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken wanneer dit gaan plaasvind?” Dieselfde woord vir “teken” (Gr symeion) word gebruik wanneer na Jesus verwys word wat in die krip lê (2:12); en toe die skare ’n teken uit die hemel wou hê (11:16) en Jesus gesê het dat daar geen ander teken vir hulle gegee sal word nie, behalwe die teken van Jona (11:29-30).

In ’n sekere sin is hulle net bekommerd oor hoe dit hulle persoonlik gaan raak. Hulle wil eintlik net één ding weet, hoe kan hulle seker wees wanneer daardie tyd beslis aangebreek het? Met hierdie vraag is dit duidelik dat hulle dink dat die verwoesting van die tempel dieselfde tyd as Jesus se wederkoms gaan plaasvind. Daarom waarsku Jesus hulle in die eerste plek om nie te dink dat sy wederkoms en die eindgerig spoedig sal wees nie. Hulle moet hulle nie laat mislei deur mense wat sê dat hulle die Christus is, of dat die tyd van finale oordeel aangebreek het nie.

Die Griekse woord vir “mislei” planao (of enige verwante term) kom net by Lukas voor. Die oorspronk-like betekenis van die woord is “om van die pad af te dwaal.” Dus: “om te verwar”, “te bedrieg”, “te verlei”, “te veroorsaak dat van die waarheid afgedwaal word”. Die misleiding in hierdie vers het twee dele: vals messiasse en vals verklarings oor die tyd wat aangebreek het.

Een moontlike Griekse woord vir “tyd” is kairos. Dit word drie keer in hierdie rede van Jesus in Lukas 21 gebruik: hier in vers 8; in vers 24 ten opsigte van die geweld van die heidennasies teenoor die gelowiges waarvan die tyd verby sal gaan; in vers 36 in die finale oproep om altyddeur waaksaam te wees en te bid.

Geweld en vernietiging moet hulle nie ontstel asof dit die begin van die onmiddellike einde is nie. Allerlei tragiese dinge sal gebeur voordat Jerusalem en die tempel vernietig word.

Vers 12-19: Jesus wys sy dissipels daarop dat voordat al die gebeure gaan plaasvind hulle ’n tyd van uiterste verdrukking gaan deurmaak. Hierdie vervolging sal vir hulle egter ’n geleentheid wees om van Hom te getuig. Hulle moet hulle nie bekommer oor wat hulle ter verdediging sal sê nie. Hy sal deur sy Gees aan hulle die nodige wysheid en die regte woorde gee. Hoe intens en uitgebreid die vervolging sal wees, blyk uit die feit dat dit van die intiemste familie en vriende se kant kan kom. Die meerderheid mense sal hulle haat omdat hulle in Christus glo. Alhoewel hulle fisieke pyn en selfs die dood te wagte kan wees, sal hulle volkome deur God bewaar word.

Dit is ’n vraag hoe die uitdrukking “daar sal selfs nie eens ’n haar van julle kop af val nie”, verstaan moet word. Dit kan beteken dat hulle van die dood bewaar sal word of dat die Here hulle sal beskerm. In Handelinge 27:34 raai Paulus die bemanning van die stormskip aan om te eet. Hy sê hulle het dit nodig om gered te word, want niemand van hulle sal “’n haar van sy kop verloor nie”. In 1 Samuel 14:45 kry ons dieselfde betekenis: “Maar die manskappe sê vir Saul: ‘Moet Jonatan wat hierdie groot uitkoms vir Israel bewerk het, sterf? Beslis nie! So seker as die Here leef, daar sal vandag geen haar van sy kop op die grond val nie, want met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.’” Die belofte dat die dissipels van Jesus in tye van vervolging van die dood bewaar sal word, mag teenstrydig klink met die voorafgaande vers wat sê dat party van hulle doodgemaak sal word. Tiele gee die volgende verklaring: “The assurances in vv. 18-19 are, therefore, not denials of the reality of persecution and death. The assurance about even ‘the hair on your head’ is a traditional proverb (see 1 Sam. 14:45; 2 Sam. 14:11; 1 Kings 1:52; Acts 27:34), but in this instance it offers an assurance of life beyond death. Similarly Luke’s understanding of endurance does not mean mere marathon determination, but faithful reliance on the word of God (see 8:15). The life that is gained, therefore, is not an assurance of surviving the persecutions while others die. Nor is it merely a “spiritual” truth. It is a promise of life and salvation which transcends the need to preserve this life (9:24). Death is physically real, and so are the adversaries (see 12:4-5). But the hope of the resurrection is grounded in God’s righteousness, against which all who kill the body cannot stand. This is the eschatological hope which exposes the deceit of those who intimidate the faithful and deny the reality of the kingdom by persecution and murder (see also 17:33).”

Dit moet hulle aanspoor om in die geloof te volhard sodat hulle die ewige saligheid kan verkry. Die NAV vertaal vers 19 soos volg: “Deur julle volharding moet julle julleself red.” Hoor ook daarin dat die “self” ’n aanduiding is van dit wat uniek aan my is. Daardie persoon wat uniek deur God met bepaalde gawes geskep is. Ons moet volhard deur getrou te bly aan onsself. Deur te bly by ons geloofsoortuigings te midde van vervolging en doodsdreiging bly ons getrou aan ons self – naamlik dat ons kinders van God is aan wie die ewige lewe belowe is.

Hermeneuties

Wanneer ons na die teksgedeelte kyk, moet ons in gedagte hou dat hier ten minste drie verskillende “tye” (v 8) na vore kom: (1) Die tyd toe Jesus hierdie profesie uitgespreek het, voordat die tempel afgebreek is; (2) Die tyd toe Lukas hierdie woorde geskryf het (en sy hoorders dit gehoor het), wat na die vernietiging van die tempel was; en (3) Die huidige tyd van ons as hoorders, wat eeue na hierdie gebeure opgeteken is, leef. F B Craddock sê as deel van sy inleiding tot hierdie gedeelte: “Major historical crisis triggered apocalyptic thinking. For example, the destruction of Jerusalem is the historical event that prompted the apocalyptic speech of Jesus in the text before us as well as the apocalypses we know as Fourth Ezra and second Baruch. In other words, in an apocalypse of this type, what is going on is mixed with what is really going on, history is being set in the larger context of God’s purpose, the whole being an extraordinary writing with historical descriptions laced with symbols, signs, and mysterious figures of speech. As strange as this literature may seem to us, it is a dramatic witness to the tenacity of faith and hope among the people of God. Amid painful and prolonged suffering, when there can be seen on the horizon of predictable history no relief from disaster, faith turns its face towards heaven not only for a revelation of God’s will but also for a vision of the end of the present misery and the beginning of the age to come.”

Een van die vrae waaroor daar groot verskil van mening is, is wanneer hierdie beloftes in vervulling sal gaan (of gegaan het). Dit is moeilik om presies agter te kom wat die verhouding is tussen: (a) ’n vroeë (gedeeltelike?) ver-vulling van die profesie rondom die val van Jerusalem in 70 nC; (b) “n latere, meervoudige vervulling; en (c) ’n eind-eskatologiese vervulling. Die veiligste opsie bly om vir ’n tussenstandpunt te kies wat met elkeen van hierdie “tye” rekening hou. Jesus se woorde het dus ’n les vir die mense van destyds sowel as vir die gelowiges van alle tye. Daar sal net duidelikheid verkry moet word oor wat die betekenis van apokaliptiese stof is vir mense wat níé lyding ervaar nie.

Ons moet egter onthou dat hierdie tipe literatuur geskryf is in ’n tyd van groot vervolging en lyding: om die gelowiges aan te moedig om te bly glo. Die aspek van troos speel dus ’n groot rol in hierdie gedeelte. Die dissipels kry die versekering dat dit nog nie die onmiddellike einde is nie. Daarmee saam die wonderlike belofte dat God hulle sal bewaar sodat “daar selfs nie eens ’n haar van hulle kop af val nie”. Mense het vandag nog behoefte aan dié soort troos en versekering waarvan daar in hierdie gedeelte sprake is. Die gedeelte het ook ’n duidelike vermanende strekking: om hulle nie te laat mislei nie, nie beangs te raak nie, hulle nie oor hulle verdediging te kwel nie, te volhard.

Oor die hele kwessie van wanneer die vervulling van die beloftes gaan realiseer en wat die verhouding tussen troos en vermaning in die gedeelte is, kan volstaan word met die riglyne wat Desmond Meyer (Preekstudies met liturgiese voorstelle 2000 tot 2001) en Coenie Burger (Woord teen die Lig 6. Riglyne vir eskatologiese prediking) vir ons bied.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Tema: Jesus, die Hoeksteen, help ons volhardend op Waarheid bou

Rus

Aanvangswoord
Voorganger:
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin.

Gemeente: Ons God is die oorwinnaar.
Hy bevestig sy liefde en sy trou aan ons.

Voorganger: Juig tot eer van die Here, almal op aarde,
wees vrolik, juig en sing!
Blaas die trompet en die ramshoring,
jubel tot eer van die Here, die Koning.

Gemeente: Ons Here, kom om oor die aarde te heers;

Voorganger: Die see en alles daarin moet druis,
die aarde en alles daarop moet juig,
die riviere moet hande klap,
die berge moet saam juig.

Gemeente: Die Here sal oor die wêreld heers met regverdigheid,
oor die volke met billikheid  (Ps 98).

Liedere

Lofsang
Lied 175 “Majesteit”;
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe”;
Lied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal”;
Flam 57 “Oorwinningslied”;
NSG 33; 138

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees

Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vandag gaan ons praat oor hoe om geduldig te wees. Weet julle hoe dit is om geduldig te wees?

Kry verskeie antwoorde. Jesus het die mense geleer om geduldig te wees al gaan dit nie so goed nie.

Wys meel en ’n koringkorrel. Vra die kinders hoe dit hulle gaan help as hulle honger is. Meel op sy eie smaak nie lekker nie en die saad nog minder. As jy egter geduldig is en wag kan koringkorrels verwerk word tot meel, en meel kan gebruik word om koekies te bak. Wys koekie. As jy geduldig wag kry jy uiteindelik iets wat die moeite werd is. So moet ons volhard en wag op die koms van die Here Jesus.
(Prentjie van www.flash-screen.com)

Preekriglyn

Christo and Jeanne-Claude het 15,000 vierkante meter oranje nylonlap weerskante van die berge rondom die “Rifle Gap”, ‘n vallei in die Rocky-gebergtes in Colorado, gehang.  Dit was in die vroeë 1970’s.  Tien jaar later het hulle twee eilande aan die kus van Florida in helder pienk materiaal omring.  Nog later het hulle die Duitse Reichstag en die Pont Neuf in Frankryk met materiaal “toegedraai” en “verpak”.

Sedert die vroeër 1960’s is Christo en Jeanne-Claude besig met unieke kuns-installasies vir ’n dikwels skeptiese publiek. Mense het hul vreemde, publieke kunsversierings is soms verwelkom, maar was meestal totaal onvoorbereid vir wat hulle beleef het.  Daar is tot vandag toe projekte wat beplan word.

Dié twee kunstenaars noem hulle werk omgewingskuns, omdat hulle groot stroke materiaal gebruik om sekere natuurlike of mensgemaakte strukture vir ’n bepaalde tyd te beklemtoon.  Elke projek neem gewoonlik jare om te beplan en eis lang onderhandelinge met plaaslike owerhede.  Die kunswerk verg boonop vindingryke ingenieursvernuf, honderde personeellede, en natuurlik baie geld.

Wat besiel mense om sulke massiewe en tydelike kunswerke te skep?  Watter doel kon hulle bereik?  Volgens Robert Storr, professor in moderne kuns in New York, is die doel om dit wat reeds in die wêreld teenwoordig is visueel uit te lig, meer te beklemtoon, en veral op ’n nuwe manier sigbaar te maak.  Die draperings is slegs ’n deel van die kunswerk.  Die ander deel daarvan is dit wat reeds daar is, soos die Rifle Gap-vallei of die Duitse parlementsgebou.  “Ons loop dikwels verby dit wat reeds daar is, sonder om dit werklik te sien of aandag daaraan te gee,” sê Storr.  Die kunstenaars beklemtoon een deel van die omgewing.  “In doing so, we see and perceive the whole environment with new eyes and a new consciousness,” vertel Christo en Jean-Claude op hul webblad – www.christojeanneclaude.net

Jesus beklemtoon en lig uit

In ons teksgedeelte verstom mense hulle by aanskoue van die skoonheid van die tempel.  Hulle sien die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier is.

Wat mense sien, en wat deur kuns versier word, gryp hulle aan die hart.  Die grootsheid van die tempel lê so beslag op hulle bewussyn dat hulle die lewe vanuit die tempel begin verstaan.  Die tempel is die simbool van God se teenwoordigheid, dit gee mense ’n manier om God te verstaan en sy teenwoordigheid te beleef.  Hierdie indrukwekkende gebou is ’n teken van vastigheid.  Die Joodse gemeenskap sal bly voortbestaan solank die tempel daar is.  Die ondergang van die tempel is vir hulle die einde van die wêreld.

Jesus sit die skoonheid en die werklikheid van die tempel op losse skroewe.  Alles sal afgebreek word.  Daar kom ’n tyd dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie.  Wat ons as vastigheid beleef, mag reeds deur God veroordeel wees.

Die dissipels moet die lewe op ’n nuwe manier sien.  Hulle moet leer ken en onderskei wat die egte nkers en hoekstene is.  Anders is die gevaar groot dat hulle mislei word.

Jesus is die egte oriëntasiepunt, die hoeksteen

Die pragtig-versierde tempel is nie die egte oriëntasiepunt, die ware hoeksteen waarop die dissipels hul lewens kan bou nie.  Jesus leer hulle Hy is dit.  Die tempel is nie die waarborg van God se openbaring nie, Jesus is.  Die tempel is nie die middelpunt waar God gedien word nie, Jesus is die weg tot die Vader.

Wanneer Lukas Jesus se woorde in sy evangelie neerskryf, is die pragtige tempel waarskynlik reeds verwoes, of baie naby aan verwoesting.  Lukas skryf hierdie woorde in ’n tyd toe gelowiges baie swaar gekry het, onder ander weens die inval van die Romeinse keiser in Palestina waarin Jerusalem verwoes is, en die laaste Joodse vegters by Masada gesterf het (70 n.C.).

In ’n tyd waar baie sekerhede in duie stort, hardloop mense maklik agter enige ding aan.  In sulke tye is daar ’n ooraanbod van waarhede en sekerhede, ’n klomp messiasse wat mense nooi om agter hulle aan te gaan.

In hierdie tyd onthou Lukas dat Jesus sy dissipels geleer het om nie agter die skoonheid van geboue of die idees van mense aan te gaan nie.  Dit is misleidend.

Die egte hoeksteen is die woorde en die dade van Jesus. Hy is die Een wat ons volg.

Menslike konstruksies, soos geboue van klip (die tempel), of menslike idees en teorieë oor wat die waarheid is, bly nooit staan nie.  Sedert die Toring van Babel, die pragtige Dawidstad met sy magtige vestingmure, die oorspronklike tempel van Salomo, en die tempel van Jesus se tyd soos dit na die ballingskap herbou is, het dit nog altyd geblyk dat menslike konstruksies nie die toets van die tyd deurstaan nie.

Dieselfde geld vir menslike idees en ideale.  Kapitalisme beloof ons baie dinge, die Bolsjewiste wou ’n kommunistiese ryk bou waarin almal genoeg sou hê, Hitler wou die Ariese ras se toekoms verseker, apartheid het gemeen mense kan hul eie sekuriteit op hul eie voorwaardes skep.  Van dit alles het niks gekom nie.  Talle mense is langs die pad gebreek, gedood en ontnugter.  Valse sekerhede mag mooi beloftes verkondig, maar verkrummel spoedig.

Jesus se boodskap is: Pasop wat jy versier en waaraan jy waarde heg.

Angs speel ’n belangrike rol in die soek na sekerheid.  Daarom verbind Jesus misleiding en angs in verse 8 en 9.  Ons kan so angstig raak, dat ons enige oplossing sal aangryp wat ons angstigheid kan verminder.  Dan tree misleiding maklik in.

Die toekoms neem die vorm aan van ’n kruis

Daar is so baie tekens.  Daar is die tekens van versierde tempels, mooi besittings, die vastigheid van vaste eiendom.  Daar is die tekens van politieke geweld en oorloë.  Koninkryke bots, hongersnode kom, epidemies tref baie mense.  Hierdie dinge is alles tekens dat die einde aan die kom is.

Hoe leef ons in die lewensbedreigende stampe en stote van die geskiedenis?  Wat doen mens as sekerhede wegval, en jy moet ly omdat jy Jesus navolg?

Dissipels moet eerstens weet dat die navolging van Jesus lyding inhou.  Die kruisweg wat Jesus op aarde geloop het, is ook die pad vir sy volgelinge.  Wanneer ons in die krisisse van die geskiedenis beland, moet lyding ons nie laat dink ons is aan die verkeerde kant nie.  Wanneer valse messiasse wonderlike vrederyke en ideale met groot beloftes aan ons voorhou, moet ons nie dink dit is beter opsies as die navolging van Jesus van Nasaret nie.  Ons het ’n kruis om te dra.  En ons toekoms neem die vorm van ’n kruis aan.  Ons moet dit verwag en ons daaraan oriënteer.

Tweedens moet ons onthou swaarkry is juis die tyd om van Jesus te getuig.  Gevangeneming, vervolging, verhore, opsluiting, is ’n geleentheid om van Jesus te vertel (vers 13).  Die woord tyd beteken dikwels in die Grieks geleentheid.  Daar breek ’n oomblik van waarheid aan, wanneer jy nie kan stilbly nie, maar jou bewondering en liefde vir Jesus moet uitbasuin.  En jy hoef nie eers vooraf bekommerd te wees wat jy gaan sê nie – die Here sal dit aan jou gee (vers 15).

Wat gaan jy liefdevol versier en tooi om daarmee te illustreer wat vir jou kosbaar is?  Wat gaan jy in kleurryke lapwerk toewikkel sodat die samelewing kan leer om nuut na die wêreld te kyk en die ware hoeksteen raak te sien?   Vir Christene is die afskuwelike, vernederende kruis die plek waar ons die skoonheid van God raaksien.  Die kruis, wat ’n doodsreuk dra, gaan oop in die leë graf, wat vir ons die geur van die ewige lewe versprei.  Daarom ly ons, en getuig ons, in die greep van die belofte van die kruis.  Daarom kan ons leed verduur en op die hoeksteen bly staan.

Die kruis, en ’n lewe in die teken van die kruis, is pragtig.

Derdens help die Here ons om te volhard (vers 19).  Volharding klink na harde werk, maar dit is allereers ’n geskenk uit die Here se hand.  Volharding is om bewustelik in sy beskerming te vertoef.  Daarom die belofte dat nie eers ’n haar van ons hoofde sal val nie (vers 18).  Volharding is om doelgerig agter Jesus die hoeksteen te bly skuil al kom die storms aan.

Die skoonheid van “julle”

Ons prentjie van die kruispad is gewoonlik dat dit ’n alleenpad is.  Niks kan verder van die waarheid wees nie.

As ons ’n paar woordjies in die teks wil onderstreep, of highlight, mooi wil versier, moet “julle” een van hulle wees.

Jesus praat deurgaans van “julle”.  Hy verwys daarmee na sy kerk, sy liggaam.  Ons is nooit alleen nie.  Ons is deur die Here aan mekaar gegee.  Ons is saam op die toekomspad wat die vorm van ’n kruis aanneem.

Die “julle” van die gemeente van die Here is ’n skuilplek, ’n plek van versterking, waar ons saam die Here se teenwoordigheid beleef.  Al die beloftes van die Here het – volgens ons teks – met die “julle” te doen.

Natuurlik verg dit geloof om te glo dat lyding, getuienis, volharding, samesyn en getrouheid die regte pad is om te bly loop.  Daar is so baie stemme wat ’n ander koers aandui.  Daarom sal ons net kan bly glo en hoop as ons dit saam met mekaar doen, en mekaar bly versterk.

Uitroepteken

Mag die aanhoor van hierdie goue woorde van Jesus, en die pragtige getuienis oor Jesus, en die tekens van konflik in die geskiedenis wat ons aan God se nuwe toekoms herinner, ons help om sáám getrou te bly volhard – totdat die einde kom!

God stuur ons om te leef

Slotlied
Lied 577 “Die Heer my Herder sorg vir my”;
Lied 578 “Jesus wat my liefhet, Heer”;
Flam 30 “U is in beheer”;
NSG 50

Seën
Mag God wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.