Veertiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks fokus op seksualiteit en intimiteit. In aansluiting by die woordverkondiging word die konsep “beliggaming” ook sterk in die liturgie beklemtoon. Beliggaming gaan oor hoe ons as mense nie net lywe het nie, maar ook lywe is en dat ons lywe iets sê van wie ons is. Binne Christenskap gaan beliggaming oor ons lyflikheid wat geskape en geliefd is deur God, soos ons sien in Jesus wat vlees geword het – Jesus het beliggaamd na ons toe gekom. Die liturgie vier daarom lyflikheid en beliggaming en help die gemeente om in die erediens tuis te kom in hulle eie lywe terwyl hulle oor hulle lywe nadink.

Ander tekste

Psalm 45:1-2, 6-9
45 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. Van die Koragiete.
’n Gedig. ’n Lied van die liefde.
2Mooi woorde roer in my hart;
ek dra my gedig voor aan die koning;
my tong is soos die pen
van ’n vaardige skrywer.

3U is mooier as alle mense;
oor u lippe vloei net vriendelike woorde,
want u hele lewe lank seën God u.
4Kom, held, maak u reg
vir die stryd,
kom in u koninklike luister.
5Mag u oorwin!
Knoop die stryd aan vir die waarheid
en vir die reg van die hulpelose!
U is geroepe tot magtige dade.

6U skerp pyle laat volke
voor u voete val;
hulle deurboor die hart
van die koning se vyande.
7U troon, verhewe wese,
staan vir altyd vas,
met u koninklike septer
laat u geregtigheid geskied.
8U het die reg lief en u haat
die onreg,
want, verhewe wese,
onder groot vreugde het u God
u bo u tydgenote tot koning
gesalf.
9Die geur van mirre, aalwyn en kaneel
deurtrek al u klere;
musiek uit u ivoorversierde paleis
maak u bly.

10Voor u staan prinsesse,
getooi met u juwele,
en aan u regterhand die koningin,
versier met goud van Ofir.
11Luister, dogter, luister goed:
neem afskeid van u volk
en u familie,
12want u skoonheid bekoor die koning.
U behoort aan hom,
u moet hom eer.
13Dogter van Tirus,
die rykes van die volk
sal u guns soek met geskenke.
14In louter prag staan die koningin daar
in haar kleed van goudbrokaat;
15in haar veelkleurige rok
word sy na die koning toe gelei;
sy en haar gevolg van jong meisies,
haar vriendinne,
word na u toe gebring.
16Onder uitbundige vreugde
word hulle ingelei,
betree hulle die paleis
van die koning!
17Mag u seuns hê
om u geslag voort te sit
dat u hulle kan aanstel as regeerders
in die hele land!
18Mag deur my lied
die roem van u naam
oor geslagte strek,
sodat volke u vir altyd sal prys.

Jakobus 1:17-27
Glo en doen
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 

17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Markus 7:1-8, 14-15, 21-23
Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte

(Matt 15:1–9)
7 Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. 2Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

3Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. 4En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

5Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

6Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:
Hierdie volk eer My
met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.
7Dit help niks dat hulle My
probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie.
8Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

9Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. 10Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 11Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ’n offergawe vir God. 12En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Wat ’n mens onrein maak
(Matt 15:10–20)
14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.” 16

17Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, 19omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?” Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein. 21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.”

Sleutelteks

Hooglied 2:8-13
Die gedigte maak meer sin as ‘n mens dit tot by vers 17 lees.
21Ek is ‘n tulp van die Saron,
‘n narsing uit die valleie.

Hy: 2Soos ‘n narsing tussen dorings,
so is my liefling onder die meisies.

Sy: 3Soos ‘n appelboom
tussen die bome van die bos,
so is my liefste
onder die jong mans.
Ek sit graag in sy skaduwee,
sy vrugte soet op my tong.
4Hy neem my na ‘n wynhuis
onder die vaandel van liefde.
5Verfris my met rosyntjies,
verkwik my met appels,
want ek is siek van liefde.
6Sy linkerarm is onder my kop,
sy regterarm omhels my.
7Meisies van Jerusalem,
ek besweer julle
by die ribbok- en takbokooie
van die veld:
Moenie die liefde aanwakker nie,
moet dit nie opwek nie,
voordat dit nie self wil ontwaak nie.
8Luister! My liefste!
Kyk! Daar kom hy,
al bokspringend oor die berge,
al huppelend oor die heuwels!
9My liefste is soos ‘n ribbok,
soos ‘n jong rooitakbok.
Kyk! Hy staan agter ons huismuur,
hy kyk by die vensters in,
hy loer deur die latwerk.
10My liefste antwoord my,
hy sê vir my:
“Staan op, my liefling,
my mooiste, en kom!
11Want kyk, die winter
het verbygegaan,
die reën is verby, dit het opgeklaar.
12Die veld staan in die blom.
Die tyd om te sing het aangebreek,
die gekoer van die tortelduiwe
klink op in ons land.
13Die vyeboom laat sy groen vye
uitswel,
die wingerd bot en versprei sy geur.
Staan op, my liefling,
my mooiste, en kom!
14My duif in die rotsskeure,
in die skuilplekke
teen die bergkrans –
laat my jou gesig sien,
laat my jou stem hoor,
want jou stem is soet
en jou gesig is pragtig.”
15Vang vir ons die jakkalse –
die klein jakkalsies
wat die wingerde verniel,
ons wingerde wat bot.
16My liefste is myne en ek is syne,
hy wat tussen die narsings wei.
17Totdat die dag begin asemhaal
en die skaduwees vlug:
Draai om, my liefste,
wees soos ‘n ribbok,
soos ‘n jong rooitakbok
op die tweelingheuwels. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Lied van liedere
Hooglied is ‘n digterlike perspektief op die liefdeskuns tussen ‘n man en vrou.  Dit werk met ‘n hele aantal liefdesgedigte wat verskillende kante van die liefde uitlig.  Dit is letterlik ‘n “Lied van liedere”, ‘n “Song of songs” (“Canticle of Canticles”) soos dit in Engels vertaal word.  Luther het dit Hooglied genoem.

Salomo
Hoewel die boek tradisioneel aan Salomo toegeskryf is, is daar baie min geleerdes wat dit vandag nog handhaaf.

  • Aan die een kant kom Salomo se naam 7 keer voor in die boek (1:1, 5; 3:7, 9, 11; 8:11, 12).  In hoofstuk 3:6-11 word ‘n beskrywing gegee wat met Salomo self geïdentifiseer kan word.  Die man verwys ook na homself as die koning (7:5).  Die vrou word ook in die gedigte as koningin beskryf (6:8-9).
  • Aan die ander kant blyk dit in 8:11-13 dat die man iemand anders as Salomo is.  Hy wil ook juis een vrou hê, nie vele nie, soos dit telkens ook die keuse van die vrou is.  Die verwysing na die man en vrou as koning en koningin kan daarby liefdesname wees wat hulle in die digterlike verwysings na mekaar gebruik.

Dat die man en die vrou in die gedigte duidelik kies vir persoonlike liefde, eerder as die gedeelde liefde van die harem, soos wat die geval met Salomo sou wees, maak dit daarom onwaarskynlik dat die skrywer Salomo is.

Sulammitiese vrou
Die vrou in die gedigte word as ‘n Sulammitiese vrou geïdentifiseer (6:13).  Sulam was ‘n boerderygemeenskap 96 km noord van Jerusalem.  Sommige geleerdes identifiseer haar (of ‘n ander vrou) ook as die digteres self (Christina Landman).  Van die getuienis dat die digteres ‘n vrou is – in die uitstekende werk van Elliot, Literary Unity – is dat die fokus, anders as in ander poësie uit daardie tyd, meesal op die vrou en haar ervaring gerig is.  Die dialoog in die gedigte is ook duidelik ‘n poëtiese tegniek, nie die gevolg van die samevoeging van gedigte van bv die man en die vrou nie.

Van droom na werklikheid
‘n Mens kan ‘n sekere mate van progressie van gedagtes in die loop van die gedigte waarneem, waar die gedigte algaande meer en meer van die droom oor en verlange na die liefde beweeg na die vervulling en werklikheid daarvan.  Hooglied werk dus beide met die liefdesdrome wat ons oor mekaar het, sowel as met die werklikheid van daardie liefde.  Dit sluit ook die teleurstellings en misverstande van die liefde in.

Indeling in gedigte
Om Hooglied egter in te deel in ‘n logiese geheel, is ‘n groot uitdaging.  Die paar herhalings in die teks (“vroue van Jerusalem” in 2:7; 3:5; 8:4 en “sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my” in 2:6; 8:3) help nie veel nie, omdat daar net te veel kleiner gedagte-eenhede in die boek is, wat eintlik as selfstandige en afsonderlike gedigte gelees kan word.

Sommige geleerdes lees daarom die boek vers-vir-vers en verklaar dit as sodanig (Pope).  Ander verdeel dit in korter en langer gedigte op grond van die inhoud en struktuur, soms so min as 9 gedigte (Murphy) en soms so veel as 42 (Keel).

Drie-karakter liefdesverhaal
Een manier om ‘n logiese geheel te vind, is om Hooglied teen die agtergrond van ‘n drie-karakter liefdesverhaal te lees, waarin ‘n Sulammitiese vrou deur Salomo die hof gemaak word, en sy – teen die insluiting in die harem saam met honderde ander vroue – kies vir persoonlike liefde, liefde vir die man wat haar op sy beurt ook liefhet.  Die vroue van Jerusalem (6:1, 13; 8:5 – deel van die harem?), sowel as (waarskynlik) haar broers (8:8-9), lewer dan op gesette tye bykomende kommentaar.  Dit is ‘n aantreklike opsie, hoewel ‘n mens net moet besef dat dit ‘n hipotese is, en slegs ‘n handige manier om eenheid tussen die onderskeie selfstandige gedigte te vind.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord  

Seëngroet:  1 Korintiërs 1:2-4 ()

Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Wet: Jakobus 1:17-27

Skuldbelydenis: (Psalm 51)

Vryspraak: Romeine 1:16-17

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Hooglied 2:8-13

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 578:1, 3 “Jesus wat my liefhet, Heer”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159  “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord  
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan
na die huis van die Here toe.”
2En nou is ons hier binne-in jou,
Jerusalem! (Psalm 122)

Seëngroet: 1 Korintiërs 1:2-4 ()
2Aan die gemeente van God in …………….., wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort…
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Wet: Jakobus 1:17-27

Glo en doen
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 
26’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Skuldbelydenis
Here…
ek herinner my aan U kritiek eenkeer gemik op die Fariseërs… (Markus 7)
Hierdie volk eer My
met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.
7Dit help niks dat hulle My
probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie.
8Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

Soos die Fariseërs, Here, is ek ook ‘n kerkmens.
Maar vandag is ek baie bewus daarvan dat my geloofspoging(s) ook kan dood wees.
Dood- soos ‘n liggaam wat nie asemhaal nie;
soos geloof wat nie tot dade oorgaan nie.

Daarom buig ek voor u met die bede van Dawid…
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde! (Psalm 51)

Vryspraak: Romeine 1:16-17
16Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.

God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.

Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

F51.”Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

F135. “Meer Soos U “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed,  Toewyding)
Teks en Musiek: Derek de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers
[Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletta Park]

[Let wel:  Lied begin met die refrein]

Refrein:
Meer soos U, meer soos U
Gees van God, werk in my
Meer soos U, meer soos U
Neem U my hart en maak
My meer soos U

Jesus ek kan leef omdat U lewe
U alleen is Koning van my hart
Lei my in U waarheid
Gee my vrede
Laat vaar tog nooit die werke
Van U hand
En maak my

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle Here,
stuur u Gees in ons midde,
en maak ons ontvanklik vir u Woord.
Help ons om nie net te hoor wat U sê nie,
maar om dit ook uit te leef,
sodat die wêreld kan sien en kan glo
dat U die redder van die heelal is.
Amen.

Skriflesing: Hooglied 2:8-13

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Met behulp van ‘n plakkaat of ‘n foto, wys vir die kinders ‘n mens se liggaam (anatomie, skelet, spiere). Vertel vir hulle dat die Here elke deel van ons lyf gemaak het. Die Here het mooi beplan toe Hy ons geskep het. Elke spier, elke orgaan, elke been en elke ander liggaamsdeel het ‘n doel. Ons kan ons lywe gebruik om te oefen, dan word ons sterker en vinniger. Ons kan ons verstand gebruik om te leer. Die Here wil hê ons moet ons lywe gebruik om Hom te eer. Maar ons kan ons lywe ook verkeerd gebruik. Soos wanneer ons ons lywe gebruik om ander mense seer te maak of te na te kom, of wanneer ons ons eie lywe met slegte gewoontes seermaak. Ons respekteer ons lywe; daarom dra ons klere. Ons maak sekere dele van ons lywe toe uit respek. Ons hoef nie skaam te wees vir ons lywe nie. God het elke deeltjie van ons gemaak. Ons moet onthou dat ons lywe aan ons behoort, en as iemand iets aan ons lywe doen wat ons ongemaklik laat voel, mag ons sê: “Nee!” Ons liggame is tempels; daarom moet ons ons lywe mooi beskerm.

Preekriglyn

[Nota: Die preekskets veronderstel ‘n Skriflesing van vers 8-17.]
Ons teks, Hooglied 2:8-17, handel oor die bedwelming van die liefde en beskerming in die liefde. Dit handel oor die liefde tussen ‘n man en vrou. Die liefde is sterker as enige teenkanting of omstandigheid.

In Hooglied sien ons hoe die vrou dagdroom oor haar minnaar en hoe die liefde hulle hele lewe in beslag neem. Hulle droom oor mekaar, fantaseer oor mekaar en is seksueel aangetrokke tot mekaar. Dit is nie wellus nie, nee, dit is opregte liefde waar fisiese aantrekking ‘n wesenlike rol speel

Die vrou se gedigte sluit nie net haar eie gedagtes in nie, maar ook die woorde van die man in haar lewe.  En dit is ‘n pragtige beskrywing aan die een kant van die bedwelmende impak van die liefde, sowel as aan die ander kant die behoefte aan beskerming in die liefde.

SY – “Ek is lief vir jou” – 2:8-10a
Die vrou sing van die man wat sy liefhet.  In haar geestesoog is hy soos ‘n ribbok of takboklam wat met spoed oor die berge spring, en met grasie wip oor die rante, om die liefde saam met haar te kom geniet (vgl. Spr. 5:19 waar dié twee boksoorte met die bedwelming van die liefde geassosieer word).

Niks kan hom keer nie!  Hy kyk van buite agter haar ouerhuis se muur af, deur die venster en die latwerk (hek?) om met haar te praat.

HY – “Kom geniet die liefde saam met my” – 2:10b-14
Die man nooi haar uit om die nuwe lewe van die lente (Junie) saam met hom te gaan ontdek.  Dit dui metafories die tyd van ontluikende liefde aan.  Die winterreën is weg, die bloeisels kondig aan dat dit tyd geword het om te sing (van die liefde), soos die tortelduif – ‘n trekvoël wat weer teruggekom het (vgl. Jer. 8:7) – dit al aankondig.  Die voorvye is uit, en die wingerde bot en versprei hulle geur.

Hy roep na haar, sy mooiste, sy liefling, om uit te kom (vers 10b en 13b) en saam met hom die bruising van die nuwe lewe en die liefde te kom geniet.  Let op hoe hy haar ook met ‘n duif vergelyk, wie sy stem hy wil hoor en geniet, soos hy die tortelduiwe al hoor sing, maar nou nog in haar ouerhuis verskuild is, soos ‘n duif in die klipskeure, in ‘n skuilplek teen die krans.

SY – “Jy moet my beskerm”  – 2:15-17
Die vrou wil egter die versekering hê dat hy die gevare (jakkalse en hulle kleintjies) kan trotseer wat hulle liefde kan bedreig (ander mans, sowel as die uitdagings van die lewe).  Sy stel haar eenheid met dié herderman op prys – hulle behoort aan mekaar: “Die man wat ek liefhet, is myne, en ek syne”, net soos Gen. 2:23-25 dit gevisualiseer het.

Maar sy wil hê hy moet haar beskerm soos ‘n herder sy skape versorg wat tussen die lelies wei tot die aandwind begin waai en die skaduwees lank word.  Daarom wil sy graag hê dat hy haar sal opsoek om die liefde te vier op die Beterberge. Interessant genoeg beteken die Beterberge letterlik “berge van skeiding” wat waarskynlik haar behoefte verteenwoordig dat sy liefde haar vrese – ook die vrees van die afskeid van haar bekende (ouer)omgewing – sal oorkom en tot rus bring.  Sy wil veilig voel in hulle liefde.

Boodskap en betekenis

‘n Paar perspektiewe oor die liefde van die boek Hooglied is belangrik om die boodskap van die boek te verstaan:

Skeppingswerk van God

Hooglied beklemtoon dat seks en seksualiteit die skeppingswerk van God is en iets moois en kosbaars wat Hy aan die mens gegee het. Die seksdaad word as die hoogste uitdrukking van ‘n betekenisvolle liefdesverhouding uitgebeeld.

Seks en seksualiteit hoort gevolglik ook tuis binne die verhouding tussen God en mens. Dit is nie iets waaroor mense skaam hoef te wees of verskoning by God te vra nie. Nee, seksualiteit moet binne die raamwerk van ons verlossing van sonde en versoening met God verstaan word. Só staan dit in diens van God en moet dit tot sy eer strek.

‘n Mens moet versigtig wees oor die taal wat jy gebruik wanneer jy oor seks praat. Ons praat gereeld oor seks asof dit ‘n geheim is, iets verkeerds, onreins of stouts. Dit skep maklik die indruk by jongmense dat dit wat natuurlik voel, sonde is. Seks kan vir seker skade aanrig en moeilikheid veroorsaak as ‘n mens nie jou eie seksualiteit en die seksualiteit van ander respekteer nie. Vandag – dalk meer as tevore – het mense die vrymoedigheid om te praat oor hoe hulle hulle seksualiteit beoefen en verstaan. Ons sien die toename in waagmoedige gesprekke oor die fisiese, emosionele, verstandelike en sosiale implikasies van seks en seksualiteit.

Moenie die karakter van Hooglied ontken nie! Dit is ‘n boek vol erotiese digkuns wat tussen die digkuns en wysheidsliteratuur in die Bybel lê. Baie Joodse rabbi’s en Christelike teoloë ervaar spanning hieroor. Dan word Hooglied beperk tot die verstaan van God se liefde vir Israel of Christus se liefde vir die kerk. Die boek word vergeestelik, en dit onderdruk dan die boodskap daarvan Die ou kerkvader Origenes was oortuig dat seks en vleeslikheid sy grootste vyand is en het daarom homself gekastreer om hom van moontlike versoekings te bewaar.

Selfstandige waarde

Hooglied besing die selfstandige waarde van die seksuele en erotiese kant van die liefde tussen man en vrou.  Die behoefte aan seksuele intimiteit is ‘n universele deel van menswees.  In Hooglied se onverbloemde verheerliking van die seksuele en erotiese kant van die liefde, word ‘n sterk saak uitgemaak vir die gelykwaardige betekenis van die seksuele liefde, sodat dit nie as ondergeskik beskou sal word aan die ander aspekte van die liefde nie, bv. die geestelike, of kameraadskaplike, of lewensgemeenskaplike dimensies daarvan. Seksuele liefde is volgens Hooglied dus nie minderwaardig teenoor ander vorme van die liefde tussen man en vrou nie.

Binne ‘n waardegedrewe verhouding

Hooglied besing die waarde van die seksuele liefde in die konteks van die wedersydse, persoonlike en getroue verhouding tussen een man en een vrou.  Die liefdesgedigte van Hooglied bevestig die privaatheid van seksuele intimiteit tussen man en vrou.  Seksuele liefde moet dus nie oorhaastig aangeblaas word nie (2:7; 3:5; 8:4), dit moet nie publiek vertoon word nie (1:4; 3:1-4; 8:1-2), dit moet nie lei tot enige vorm van promiskuïteit met ander vroue/mans nie (6:3; 7:10; 8:8-10).

Natuurlik mag dit ook nie lei tot uitbuiting of misbruik binne die verhouding nie, iets wat na alle waarskynlik binne ‘n harem sou kon gebeur (dink aan Salomo).  In die lig van die interpretasie van Hooglied as ‘n drie-karakter liefdesverhaal, kies die digteres dus vir persoonlike liefde, teenoor die praktyk van die harem van Salomo se tyd.  En spel die boek uit hoe ‘n mens lief kan wees, sonder om jouself te verloor.

Hooglied beskryf ‘n meisie en ‘n seun wat aan mekaar verbind is. Hulle het oor mekaar fantaseer, het vir mekaar lief geraak en gehunker na mekaar. Hulle liefde word as iets moois uitgebeeld. Natuurlik gebeur dit binne die konteks van toestemming, medeverantwoordelikheid, respek, broosheid, eerlikheid en opregtheid. Wanneer hierdie waardes ontbreek, word seks uitgebuit, word dit ‘n wapen en deel van ‘n magspeletjie.

Seks vra onbaatsugtigheid, omgee en wederkerige respek en liefde. Die huwelik is die veiligste ruimte waarbinne seks kan plaasvind, want dáár is ‘n liedesverbond. Nogtans beteken die huwelik nie outomaties goeie, veilige en respekvolle seks nie.

Guns van God

Hooglied wys dat seksuele liefde die guns van God geniet.  Die insluiting van Hooglied in die Bybel bevorder daarmee die gedagte dat die instelling van die huwelik sowel as die rol wat seksuele liefde daarin speel, iets is wat God se guns geniet.

Tradisioneel het die Jode immers dié boek gelees op die 8ste dag van die Paasfees, waarin die belang van die seksuele liefde as deel van die feestelike herdenking van die Trek, Tora en Tabernakel van die Eksodus beskou is.  Daarmee is die seksuele liefde tussen man en vrou as deel van die normale lewe voor God bevestig.

Waarde vir die mens

Hooglied wys dus dat seksuele liefde vir die verhouding tussen man en vrou bedoel is, nie vir die verhouding met God en/of die gode soos in die vrugbaarheidsgodsdienste nie.  Seksuele liefde het vir Hooglied geen godsdienstige funksie nie, en wys dat dit uitsluitlik bedoel is vir die intieme lewensgemeenskap tussen man en vrou.  Daarmee word ‘n streep getrek deur die gebruik van tempelprostitusie wat in sommige godsdienste van dié tyd voorgekom het. Die seksuele liefde tussen man en vrou is doodgewoon deel van die lewe voor God, nie ‘n manier om Hom te aanbid nie.

Leer daaroor praat

Aangesien die Bybel oor seksualiteit praat, en vir ons taal daaroor gee, kano ns dit gerus ook meer doen. Veral ouers in hul verhouding tot hul kinders.

God stuur ons om te leef

Gebed
Voorbidding: Sensitiwiteit vir liggame wat uitgebuit word

V: Ons bid vir die veiligheid van elke vrou en kind in ons land, dat hulle vry kan beweeg in hulle huise en in die openbaar, sonder om bang te wees.
G: Stil gebed en/of Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sonder amen)

V: Ons bid vir alle gelowige mans, dat hulle Christus se omgee-liefde sal beliggaam; dat hulle nooit ’n hand teen enige vrou sal lig nie, maar vroue sal respekteer as medelede in Christus se liggaam.
G: Stil gebed en/of Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sonder amen)

V: Ons bid vir elke oorlewende van seksuele en huishoudelike geweld. Mag hulle genees word, liggaamlik en emosioneel.
G: Stil gebed en/of Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sonder amen)

V: Ons bid vir die kerk, dat ons die oorlewendes van seksuele geweld liefdevol sal versorg en saam met hulle sal opstaan teen alle magte wat hulle wil stilmaak of beskaam.
G: Stil gebed en/of Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sonder amen)

V: Ons bid vir die mans wat hierdie gruwelike misdade pleeg, dat God hulle sal vergewe, maar ook dat reg en geregtigheid sal geskied.
G: Stil gebed en/of Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sonder amen)

V: Ons bid vir die regering, dat hulle hierdie misdade sal sien vir die gruweldade wat dit is en dat hulle sal werk om ’n veilige, regverdige samelewing te vestig.
G: Stil gebed en/of Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer” (sonder amen).
– met erkenning aan ds Rethie van Niekerk

Offergawes

Wegsending: Lied 578:1, 3 “Jesus wat my liefhet, Heer”

Seën
Mag die Here wat vlees geword het jou liggaam seën en beskerm.
Mag jy die Here wat ’n liggaam gehad het, leer ken en Hom eer met jou lyf.
Mag jy ontslae raak van alle skaam en seer,
en in afhanklikheid voor jou Skepper ten volle leef.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.