Veertiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Wat is die verhouding tussen my hart en die buitewêreld? Jesus sê: Dit is nie die buitewêreld (stof, medemens, heiden) en ons kontak daarmee wat ons onrein maak nie. Die stof, dinge, plante en diere, die naaste – die heelal – is sy skepping, daaroor mag nie ’n verkeerde woord gesê word nie. Dit is ons binneste wat onrein is. Dis waar die teenstand teen God vandaan kom (Mark 7). Jakobus is iemand met eerlike belangstelling in die skepping. Hy noem ’n reeks dinge wat eie is aan die natuur (skepping): die see, wind, opkomende son, hitte, blomme en die maan en sterre (Jak 1). Die Ou Testament teks vra gehoorsaamheid aan die wet van die Here. Dit is die voorwaarde daartoe om te bly lewe en die “land” binne te gaan (Deut 4). Die Psalm teks bevestig net in ander woorde wat in Deuteronomium geskrywe is, naamlik hoe lyk die een wat die wet doen en dit daarom mag waag om in die woonplek van die Here te kom (Ps 15).

Ander tekste

Deuteronomium 4:1-2, 6-9
Gehoorsaam die Here!
4 “Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin
ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. 2Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.

3Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg. 4Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal. 5Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem. 

6Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’7Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? 8Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?

9“Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.

Psalms 15:1-5
Wie het die reg om in die tempel te kom?
15 ’n Psalm van Dawid.
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat,
3nie kwaad praat nie,
sy medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;
4hy wat dié verag
wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
wat sy woord hou,
selfs tot sy eie skade,
5sy geld nie op rente uitleen nie
en hom nie laat omkoop
om die onskuldige
te kort te doen nie.
Wie hom hieraan hou,
sal nooit wankel nie.

Jakobus 1:17-27
17Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 18Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.

Hoor en doen
19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ’n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Fokusteks

Markus 7:1-9, 14-15, 21-23
Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte

(Matt 15:1–9)
7 Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. 2Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

3Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. 4En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

5Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

6Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:
Hierdie volk eer My
met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.
7Dit help niks dat hulle My
probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie.

8Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

9Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou.

10Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 11Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ’n offergawe vir God. 12En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Wat ’n mens onrein maak
(Matt 15:10–20)
14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.” 16

17Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, 19omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?” Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein.

21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.”

Ekstra stof

Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make
Jesus-hulle gaan aan wal by Gennesaret, naby Kapernaum. Die toeloop na Hom neem steeds toe. Baie mense bring ongesteldes na Hom toe. Interessant is dat hulle vra om aan die soom van sy klere te raak, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. En elkeen wat dit gedoen het, het gesond geword. Die boonste kleed van mans van daardie tyd het vier tossels, met wit en blou toutjies gevleg, aan die soom gehad (Num 15:38-39), wat hulle moes herinner aan die wet van die Here. Die moontlikheid is sterk dat mense gedink het dat Jesus se krag daaruit gevloei het. Die fokus is egter steeds op die geloof van die mense en nie soseer op die magiese interpretasie wat hulle moontlik sou gehad het nie, soos inderdaad die geval was met die vrou.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem, heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win, maak beswaar teen party van die dissipels wat hulle kos met ongewaste hande eet, wat in hulle oë onrein is. Die probleem met dié optrede is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het. Jesus wys dit egter af as skynheiligheid, met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13, omdat die geestelike leiers in die praktyk eerder vashou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so leer en daarvolgens beoordeel, maar uiteindelik glad nie die Here dien nie. Hy illustreer dit met die gebruik van korban (dit beteken offergawe), waar jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg). Gebruike is dus belangriker as God en sy wet.

Jesus praat weer met die menigte, hak aan by die idee dat ongewaste hande jou kan onrein maak en verduidelik met beeldspraak hoe onhoudbaar dié gedagte is. Markus vertel nie vir ons wat die skare daarvan gedink het nie, maar die dissipels het weereens verdere onderrig nodig om dié beeldspraak te verstaan. Markus maak egter die gevolgtrekking, wat in ander NT geskrifte nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het. Die wetsriglyn word dus van ‘n blote uiterlike reëling verdiep na ‘n innerlike riglyn: dit is nie kos wat jou onrein maak nie, maar die gedagtes van jou hart.

Vergelyk die soortgelyke lering wat God vir Petrus gee met die oog op sy getuienis aan Kornelius in Handelinge 10:15. Jesus is besig om hier sekere beginsels vir die koninkryk neer te lê wat ‘n groot impak sou hê op sy eie bediening (vergelyk die gesprek met die Griekse vrou van Siro-Fenisië net hierna) en die bediening van die kerk aan heidene. Die evangelie is bedoel vir almal, en die hou van oorgelewerde Joodse gebruike sou die ontvangs van die evangelie belemmer het.

Interessant genoeg is die 1ste 6 van die lys van 12 slegte gedagtes in die meervoud en die laaste 6 in die enkelvoud wat ‘n mens nie in die vertaling kan optel nie (onkuishede, diefstalle, moorde, owerspelle, hebsugte, kwaadwillighede). Let op dat die lysie amper volledig met die tweede tafel van die wet verbind kan word:

  • diefstal – Jy mag nie steel nie (8ste gebod);
  • moord en kwaadwilligheid – Jy mag nie moord pleeg nie (6de gebod);
  • onkuisheid, owerspel, losbandigheid – Jy mag nie egbreuk pleeg nie (7de gebod);
  • bedrog, kwaadpratery – Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (9de gebod);
  • hebsug, afguns (“evil eye” – Jode het die gesegde nie met ‘n vloek geïdentifiseer nie, maar met afguns) – Jy mag nie begeer nie (10de gebod);
  • Die 5de gebod – eer jou vader en jou moeder – is reeds met die korban-afwysing op die tafel gesit.
  • Hoogmoed, wat volgens sommige die ergste sonde is, en ligsinnigheid (“lack of moral sense”, dws morele dwaasheid) oortree eintlik alles in die wet, dit is om jouself en jou gebruike en gedagtes hoër te ag as God se geopenbaarde wil.

Die NT het verskeie sulke lysies: Rom 1:29–31; 1 Kor 5:10–11; 2 Kor 2:20–21; Gal 5:19–21; Kol 3:5–8; 1 Tim 1:9–12; 2 Tim 3:2–5.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is… (Uit Psalm 15)

Seëngroet
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!
(1 Timoteus 1:2)

Nader tot God

Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Verootmoediging
Gebruik die gedeelte uit Jak 1 as spieël waarin elkeen sy eie lewe ondersoek:
Hoor en doen
19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ’n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld. (Jak 1)

Skuldbelydenis
Die gemeente kan saam die gedeelte uit Psalm 51 hardop lees of dit kan in ‘n Powerpoint voorberei word.
5Ja Here, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen sondig ek
en doen ek verkeerd is in u oë.
U uitspraak is altyd reg
en u oordeel regverdig.
Ek weet: U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
Laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.
(Uit Psalm 51)

Riglyn om te lewe
6Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’7Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? 8Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?

9“Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.
(Deut 4)

Lofliedere
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel” vs 1,2,3″

Liedere

F225. “Heer Ek wil U Aanbid”
(RUBRIEK: Flammikidz – Gebed)
Oorspronklike titel: Heer, ik wil U aanbidden
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 2001 Celmar Music

Refrein:
Heer, ek wil U aanbid in
alles wat ek doen
nie alleen met woorde
of deur te sing, maar U te dien.
Heer, ek wil U verheerlik
eerlik en opreg
diep vanuit my hart
want my hart is wat U sien.

Mense sien die buitekant
maar U kyk regdeur my
U sien waarom ek dinge doen
en of ek anders bedoel daarby

Refrein:

Leer my om deur alles heen,
deur blydskap, pyn en vrees,
te lewe soos wat U dit wil
om (so) ’n kind na u hart te wees

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005 Jacques Louw
© 1978 Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer, Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.
In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.
In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Markus 7:1-23

Prediking

Familie-oomblik

Kinders sal mal wees oor die idee dat Jesus nie soveel omgee oor hoe vuil iets (hulle) aan die buitekant is nie, maar dat dit vir hom gaan oor wat in ons harte aangaan. Verduidelik dat ’n goeie (rein) mens nie iemand is wat skoon is nie, maar iemand wat van binne goed is. (Ter wille van die kinetiese leerders, kan jy natuurlik – as jy dapper is – ‘n lekker morsige aktiwiteit hê terwyl jy met die kinders gesels. Laat die kinders bv harte verf of harte van modder maak.)

Vra dan vir hulle wanneer is ’n mens goed, en begelei hulle om by die samevatting van die wet uit te kom (liefde) of om God van harte te gehoorsaam, nie net met die mond nie (soos in die teks). Jy kan dit ook kontrasteer met wat sleg is (7:21 vv) en kies ’n paar van die relevante vir kinders uit in die dinge wat Jesus noem – diefstal, kwaadpratery, bedrog, afguns, hoogmoed, ligsinnigheid.

Om mee af te sluit, kan ’n mens wel verduidelik dat mense van daardie tyd nog nie mooi geweet het van kieme wat jou siek kan maak as jy nie jou hande was nie. Ons was dus nou ons hande omdat ons nie siek wil raak nie, nie omdat ons dink dat ons dan goeie mense is nie.
(Foto deur MyTudut by flickr.com. Jy sou ook die foto regdeur as agtergrond kon gebruik – verander die grafieka by view / slide master)

Preekriglyn

Nancy Ortberg van die Willow Creek Gemeenskapskerk in Chicago, VSA, vertel hoe sy een jaar op die laaste minuut nog Kersinkopies moes doen. Dit gee toe ‘n gesukkel af om parkeerplek te kry. Terwyl sy in die rondte ry op die winkelsentrum se parkeerterrein, sien sy ‘n bejaarde paar stadig na hulle motor loop. Sy kruie stadig agter hulle aan tot hulle by hul motor kom. Geduldig wag sy met haar flikkerlig aan.

Die egpaar pak hulle aankope rustig agter in hul motor se bagasiebak, en toe maak die oom nog die deur vir sy vrou oop. “Ek dink by myself: dis wragtie nie nou tyd vir galantheid nie. Klim in die kar en maak dat julle wegkom!”

Stadig trek die oompie uit die parkeerplek en kruie weg. Voor Nancy kan sê mes, glip ‘n afgesloofde bakkie by haar verby en is – woeps – binne-in die parkeerplek!

“Toe klim ek uit my kar, stap na die bakkie se bestuurder toe en knoop ‘n geselsie met hom aan. Ek noem dinge kaalkop by die naam, en gebruik woorde wat my bedoeling glashelder maak. As my ma daar was, sou sy my mond met seep uitwas. Ek praat so vrymoediglik en reguit met die man, hy gooi die bakkie sowaar en trurat en ontruim die parkeerplek.”

“Aan die begin het ek goed oor myself gevoel,” vertel Nancy. “Goed so, ek het ‘n slag opgestaan vir my regte. Ek kon myself laat geld. Maar toe kom die versie in my gedagtes op wat sê die dinge wat van binne af uit ‘n mens kom, dit wat uit die hart uit kom, dit maak ‘n mens onrein.”

“Ek moes die pynlike erkenning teenoor myself maak dat die dinge wat in my hart leef by my mond uitborrel. My eie onreinheid van hart word deur my gedagtes en woorde gereflekteer. Eers ‘n paar dae later kon ek teenoor myself erken dat ek heeltemal verkeerd was. Ek het vir die Here gesê my woorde en dade het inderdaad my innerlike toestand gereflekteer, en ek was nie trots op wat uitgekom het nie.”
(foto deur Walter Baxter by geograph.org.uk – Creative Commons Lisence)

Diep gesprek

Jesus is in Markus 7 in diep gesprek gewikkel met die Fariseërs en Skrifgeleerdes, die dissipels en die skare wat hom omring. Die gesprek gaan oor onreinheid. Die kernvraag is wat onreinheid is, en wat dit veroorsaak.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het allerlei reëls oor was, met die motief om reinheid in stand te hou. Hande moet gewas word, en so ook koppies, bekers, bakke en stoele. Dit maak en hou mens rein.

Hoewel netheid en higiëne altyd ‘n goeie ding is, gaan dit hier om veel meer as bloot higiëne. Die gesag agter die rituele van wassing is die oorgelewerde gebruike van die voorvaders. Die doel hiermee is om in die regte verhouding met God te wees. Die reëls rondom was grens die Jode ook van ander af. Die gebruik word ‘n merker van identiteit. Diegene wat hierdie reëls volg, is die kinders van God, die ware volk van God. Diegene wat dit nie volg nie, is onrein, word uitgesluit uit gemeenskap met God se mense. So dink die Jode.

Die Griekse taalkenners, Louw en Nida, verklaar die “onrein hande” (2) as mense wat deur hul dade nie geskik is bevind word vir insluiting in die teenwoordigheid van God en God se volk nie.

In verse 3 en 4 verskaf Markus meer agtergrond vir lesers wat nie die Joodse gebruike ken nie. Die Jode het voorskrifte vir reinheid tot in die fynste besonderhede uitgewerk. ‘n Joodse skrywer uit daardie tyd sê bv. iemand wat sy hande nie voor ete was nie, kan net sowel by ‘n slegte vrou lê. Sowaar!

Rein voor God

Die Jode se beswaar teen Jesus se dissipels wat met ongewaste hande eet, het dus te doen met die vraag hoe mens rein voor God is en word, en wie kwalifiseer om ingesluit te word in gemeenskap met die volk van God. Hierdie oorgelewerde, fyn uitgewerkte gebruike moes mense help om in die regte verhouding tot God en tot God se volk te lewe.

Die probleem met hierdie mensgemaakte reëls was dat dit God se bedoeling met God se wet heeltemal verdring en op die agtergrond skuif. Die wet (Tora) het gehandel oor liefde en heelhartige toewyding tot God, en liefde vir die naaste. Dit is ‘n ingrypende eis van die wet: ons lewe behoort geheel en al aan God, en ons staan in diens van ons naaste.

Hierdie bedoeling van die wet word verdring deur fyn uitgewerkte rituele, soos die was van hande en ander eetvoorwerpe. Terwyl die Jode meen dat hierdie dinge mens rein voor God maak, ontkrag hulle die bedoeling van God se wet of onderwysing, en vervang dit met allerlei mensgemaakte reëls.

Reinheid voor God word nie bewerk deur die onderhouding van menslike reëls, al kom dit oor eeue heen van die voorgeslagte af nie. Ons onreinheid word nie só weggeneem nie.

Wie het verlossing nodig?

Wat dompel ons in ‘n krisis? Wat maak dat ons verlossing nodig het? Waarvan moet ons verlos word?

Jesus sê ons krisis is nie die moontlike onreinheid wat van buite af deur ongewaste hande en ongewaste borde, koppies en pierings in ons liggame ingaan nie. Ons onreinheid lê nie in kos, higiëne, vloeistowwe of gebruike nie. Dit lê baie dieper.

Ons krisis is die onreinheid wat binne-in ons lewe. Ons siek innerlike, ons besmette harte, septiese gedagtes, die wrokke wat ons koester, en ons onvermoë om lief te hê en te vergeef.

Die fokus op mensgemaakte reëls, en die aanname dat dit mens rein maak, verdoesel die feit dat alle mense redding, verlossing nodig het. Ons almal – ook dié van ons met selfgeskepte reinheid – ly aan die siekte van die menslike kondisie: ons is onrein.

Jesus spel dit is geen onsekere taal in verse 21 en 22 uit nie.

Diegene wat die algemene menslike nood aan verlossing verdoesel agter die nakom van oorgelewerde en menslike gebruike, is bloot skynheilig. Almal het verlossing nodig.

Wie kwalifiseer vir verlossing?

Hierdie gesprek oor reinheid (en onreinheid) is ingebed in ‘n groter dinamika wat in Markus, en die ander evangelies, uitspeel. Vir die Skrifgeleerdes en Fariseërs was dit vanselfsprekend dat die reinheidsreëls op Jode van toepassing is. Jode is God se volk, Jode is uitverkies, en Jode verkry en behou reinheid voor God deur die regte reëls te volg.

Deel van hierdie reinheid was dat Jode hul sal weerhou van kontak met nie-Jode. Reinheid lê in afsondering.

Dis opvallend dat Markus net in die vorige episode, aan die einde van hfs. 6, vertel hoedat Jesus mense in die heidense landstreek van Gennesaret genees het. Dan volg die gesprek oor reinheid (ons teks). Net na hierdie gedeelte word vertel hoe Jesus Hom in die heidense gebied van Tirus bevind en ‘n Griekse vrou uit Siro-Fenisië se dogter genees.

Daarmee berei Jesus sy dissipels voor om later, na die Heilige Gees uitgestort is, doelbewus die oorgelewerde Joodse reinheidsreëls te oortree. In Handelinge 10 stuur die Here Petrus na die heidense Kornelius toe. Wel wetende dat Petrus, as Jood, nie ‘n heiden se huis sou wou betree nie (heidene is onrein), kry Petrus ‘n les uit die hemel. Petrus sien onrein diere uit die hemel neerdaal en moet dit slag en eet. Toe hy nie wil nie, sê die stem uit die hemel: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (Hd. 10:15).

Ons teks lê alreeds hierdie werklikheid vas. Alle mense is onrein. Ons krisis is dat boosheid binne in ons almal skuil en ons lewe besoedel. Maar Jesus raak ons aan en maak ons rein. Daarom is die reinheid en genesing wat Jesus skenk vir almal bedoel.

“Here, maak ons rein”

Ons is almal onrein. In verse 21 en 22 word ‘n katalogus van ons onreinheid uitgespel: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, en ligsinnigheid.

Ons kan onsself nie hiervan red nie. Reinheid kan net as geskenk van God ontvang word.

Om te herhaal: In die hart van die mens, binne-in die mens, word die weerstand teen God gehuisves. “Van binne af, uit die hart van die mens uit, kom die slegte gedagtes voort . . .,” sê Jesus in vers 21 met groot nadruk. Daar lê die oorsprong van die kwaad en onreinheid: in die wil van die mens, sy gevoelens en drange en drifte. As daar sonde en die verkeerde in die wêreld om ons aanwesig is, dan is dit aan die mens se eie toedoen te danke. Die mens is die “skepper” van die kwaad en die verkeerde. Uit die hart van die mens borrel die kwaad op soos ’n fontein. Nêrens anders nie!

Hierin lê die kern van die evangelie, die boodskap van bevryding, opgesluit: In onsself is ons vasgevang, verstrik, verlore, maar vind ons redding buite onsself, in Jesus, die Seun van God – in Christus, in sy kruis en opstanding. Só word ons bevry van wanhoop! Reëls en rituele bring ons nie in ontmoeting en verhouding met die lewende God nie. Alleen ’n genadedaad van God self in Jesus Christus verlos ons uit genade en maak van ons nuwe mense. Die wedergeboorte is ’n herskeppingsdaad van God deur sy Gees. En as nuwe mense word ons geroep om in die wêreld draers van lig en hoop te wees.

Reinheid en gasvryheid

Die feit dat God mense reinig, beteken dat onreinheid nooit die oorsaak mag wees dat ons mense uitsluit nie. Ons het geen rede om onsself te isoleer van ander net omdat ons hulle as onrein beskou nie. Die Joodse isolasie-in-reinheid is vir altyd deur die evangelie deurbreek. Ons is die draers van reinigende genade na die wat onrein is.

Jesus het dit duidelik geïllustreer. Hy was by uitstek die Een wat die Joodse isolasie deurbreek het. Hy het gemeng met onreines, sondaars, losbandiges. Hy het dit gedoen sodat hulle rein kon word.

In die gangbare reinheidslogika word reinheid besoedel deur onreinheid. Daarom bly mens van onreinheid weg. Jy is bang dat onreinheid jou sal besoedel. Só het die Jode dit gedoen.

In die koninkryk van God besoedel onreinheid nie reinheid nie. Nee, reinheid as geskenk van God reinig onreinheid. Daarom raak Jesus die onrein melaatse man aan en maak hom só rein (Markus 1:40-41).

Mense hoef nie eers rein te wees voordat hulle kwalifiseer vir ons liefde, aandag en belangstelling nie.

Veranderde lewens

Soos Nancy Ortberg raak mens van tyd tot tyd bewus van die onreinheid wat binne in jou skuil. Jesus is ons reinheid. Jesus het ons rein verklaar, en Jesus was ons onreinheid deur vergifnis af.

Mag ons as gereinigde mense deelneem aan Jesus se voortgaande aksie in die wêreld om onreines aan te raak en te genees!

God stuur ons om te leef

Gebed na Prediking
Dankie, Here, dat ons vandag in die erediens in u Woord kon deel.
Stuur ons om ’n lewe van liefde en diens daarbuite in die wêreld te leef.
Laat ons u Woord vir die wêreld word Here,
maak ons u “boodskap” na die wêreld en nie net draers daarvan nie.
Amen.

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

of ‘n Verbintenis (leraar en gemeente saam indien Nagmaal gevier is)
Here, ons sal u boodskap aan die wêreld wees,
en as u Woord weerklink.
Ons sal u tafel in die wêreld wees
met brood vir die wat honger is
en water vir die wat dors.
Christus –
deur u offerbrood deel ons aan u liggaam
en die offerdrank is ons deel aan u bloed.
Dankie Here, dat U deur Christus
by ons deernis vir ander wek.
Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.