Veertiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jeremia 1:4-10
Jeremia word tot profeet geroep
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
6“Ag, Here my God,”
het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie,
ek is nog te jonk.”
7Toe sê die Here vir my:
Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe
Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê,
moet jy sê.
8Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou,
Ek sal jou red.
Dit is wat die Here gesê het.
9Hy het sy hand uitgesteek,
my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde
in jou mond gelê.
10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

Psalm 71:1-6
Nou dat ek oud geword het
71 By U, Here, skuil ek, laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
2Red my en bevry my,
want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
3Wees vir my ’n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
4My God, bevry my
uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke
en verdrukkers,
5want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af
vertrou.
6U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het,
het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.

Lukas 13:10-17
Jesus genees ’n gebreklike vrou op die sabbatdag
10Eenkeer op ’n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. 11Daar was ook ’n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ’n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”

13Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.

14Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop ’n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”

15Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? 16En hier is ’n vrou, ’n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”

17Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.

Fokusteks

Hebreërs 12:18-29
Moenie die genade van God verwerp nie
14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18Julle het immers nie gekom by ’n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs ’n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ’n verterende vuur.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1 (+ latyn)”

Aanvangswoord en seëngroet: (Litanie)
Voorganger: Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Voorganger: Ons wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Voorganger: Dit is die Here wat al ons sonde vergewe, wat al ons siekte genees, wat ons red van die graf en ons met liefde en ontferming kroon, wat ons die goeie in oorvloed laat geniet, ons die jeugdige krag van die arend skenk.
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Voorganger: Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word.
Hy sal aan ons sy wil bekend maak.
Gemeente: Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.

Voorganger: Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Genade en vrede vir julle van God die Vader . . .
Gemeente: Hy sorg vir ons.

Voorganger: . . . en van die Seun . . .
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan.

Voorganger: . . . en van die Heilige Gees.
Gemeente: Hy leef in ons.  Amen.

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Verootmoediging
Die Here beloof die wonderlikste dinge aan sy kinders wat Hom gehoorsaam dien. Kom ons luister weer ‘n keer daarna.

Lees Jesaja 58:9b-14.
Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie. Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ‘n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon. As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê.

Skuldbelydenis
Geliefdes, ons weet dat ons nie so leef nie. Ons sal graag die seën wil ontvang wat die Here beloof, maar ons skiet so ver te kort. Kom ons bely ons swakheid en sonde voor die Here.

Lied 238 “God enkel lig, voor U gesig 1,3,4,5”

Riglyn om te lewe
As jy jou skuld voor die Here bely het, wil die Here nuut met jou begin en stuur Hy jou soos Hy Jeremia gestuur het.

Lees Jeremia 1:4-10
Die woord van die Here het tot my gekom: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. “Ag, Here my God,” het ek geantwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het. Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

En/of Psalm 103:8-13
Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Geloofsbelydenis: Anders as die Jode
V: Anders as die Jode van 2 000 jaar gelede, weet ons Jesus is die Christus. Aan elkeen wat glo, sê Jesus vanoggend opnuut sy genade toe.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Julle is my skape, luister na my stem.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Ek ken julle, volg My.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Ek gee aan julle die ewige lewe, en julle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Niemand sal julle uit my hand ruk nie.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Julle wat deur die Vader vir My gegee is, is die belangrikste van almal.
G: U is die goeie herder, Here.

V: En niemand kan julle uit die hand van die Vader ruk nie.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Ek en die Vader is een.
A: Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011:58)

Sang
Lied 184 “Lofsing die Here die Ewige vs 1,2,3,4” en/of
Lied 191 “Grote God ons bring U eer (melodie 190) vs1,2,3”

Liedere

F74. “Ek Wil Die Here Dien Met My Lewe”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)

Refrein:  (x2)
Ek wil die Here dien met my lewe
want Hy alleen is God

1. Hy’s die enigste pad na die Vader toe
Hy’s die Waarheid en die Weg
Daar is niemand anders wat lewe gee
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

2. As ek bang is, is Hy daar vir my
As dit donker is, Hy’s die Lig
As ek alleen is, is Hy my vriend
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

3. Vir die blindes
sal Hy die pad kom wys
Vir die swakkes sal Hy help
Vir die siekes sal Hy genesing bring
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

4. Vir die sondaar
wil Hy verlossing bring
Die gevangenes laat Hy vry
Die wat hartseer is,
sal Hy vertroos
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

F228. “Waarom Is Ek Hier? (Nuwe Mens)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Diens & Getuienis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

1. Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?
Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?

Pre-Refrein:
Is ek vir U behae beplan?
’n Kind van U familie?
Gemaak om soos U Seun te leef?
’n Dienaar wat wil dien?
Brandend vir sending?
Of om te sien dat ek kan:

Refrein:
Lewe
As ’n nuwe mens
Lewe
As ’n nuwe mens
Wys my, lei my, leer my altyd om te
Lewe
As ’n nuwe mens

Brug:
Aanbidding, Familie, Mense wat soos U leef
Bediening, Sending
Hier om te kan sien  (x3)

Refrein:

F308. “My Koning Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Danksegging)
Teks en musiek: Jean Marais
© Urial Publishing 2009
(Opgeneem op “Ons Koning kom!”)

En in my hart is daar ‘n lied van dankbaarheid
Aan U, my God, aan U, my Vriend
Vir wat U doen in my lewe elke dag
Net waar ek gaan, net soos ek is
Daar is niemand wat my hart kan raak soos U (nie)
En my kan optel en vashou
Daarom gee ek U al die eer

Refrein:
Met my hande omhoog
Met elke klank wat ek sing
Wil ek U kom verhoog en al my lof aan U bring
Want U is my Skepper, my Vriend
Die heem’le lig U omhoog
U word vir ewig vereer
My Koning Heer, my Koning Heer

En in my hart is daar ‘n lied van dankbaarheid
Aan U, my God, aan U, my Vriend
Vir wat U doen in my lewe elke dag
Net waar ek gaan, net soos ek is
Daar is niemand wat my hart kan raak soos U (nie)
My kan optel en vashou
Daarom gee ek U al die eer

Refrein:
Met my hande omhoog
Met elke klank wat ek sing
Wil ek U kom verhoog en al my lof aan U bring
Want U is my Skepper, my Vriend
Die heem’le lig U omhoog
U word vir ewig vereer
My Koning Heer, my Koning Heer

Met my hande omhoog
Met elke klank wat ek sing
Wil ek U kom verhoog en al my lof aan U bring
Want U is my Skepper, my Vriend
Die heem’le lig U omhoog
U word vir ewig vereer
My Koning Heer, my Koning Heer
My Koning Heer, my Koning Heer

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, skenk aan my uit u genade
lig waar ek net donker sien
moed waar ek vrees
hoop waar ek wanhoop
vrede waar my gemoed storm
vreugde waar ek hartseer is
krag waar ek swak is
wysheid waar ek verward is
sagtheid waar ek bitter is
liefde waar ek haat
vergifnis vir my sonde
Úself in die plek van mýself
Here, Here, skenk aan my Úself!
Amen.
(Outeur Howard Thurman, uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle; Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Hebreërs 12:18-29

Familie-oomblik

‘n Moeilike teksgedeelte om met kinders te deel.
Die fokusteks kontrasteer die nuwe verbond met die Sinaï-gebeure. Een opsie is om die stuk geskiedenis te herbesoek en dramaties oor te vertel.

Eksodus 19
Die Israeliete kom by Sinaiberg
19 Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom. 2Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg. 3Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:
“So moet jy vir die nageslag
van Jakob sê,
vir die Israeliete vertel:

4‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5–6As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

7Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.

8Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”

Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.

9Toe het die Here vir Moses gesê: “Ek kom na jou toe in ’n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanneer Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.”

Toe Moses alles wat die volk geantwoord het, aan die Here gaan meedeel het, 10het die Here ook nog vir hom gesê: “Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was. 11Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk. 12Jy moet rondom die berg vir die volk ’n grens vasstel en vir hulle sê: Julle moet oppas om nie op die berg te klim of selfs aan sy helling te raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.

13“Julle mag so iemand nie met die hand aanraak nie; hy moet beslis met klippe doodgegooi of met ’n pyl doodgeskiet word. Dit maak nie saak of dit ’n mens of ’n dier is nie; hy mag nie bly lewe nie. Eers wanneer die ramshoring blaas, mag hulle die berg uitklim.”

14Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was 15en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby ’n vrou kom nie.”

16Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. 17Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ’n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, 19en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

20Toe die Here na die top van Sinaiberg toe afgekom het, het Hy vir Moses na die top van die berg toe geroep. Moses het daarheen opgeklim, 21en die Here het vir hom gesê: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie deurbreek na My, die Here, toe om na My te kyk nie, want dan sal baie van hulle sterf. 22Selfs die priesters wat gewoonlik in my teenwoordigheid kom, moet op ’n afstand bly of anders sal Ek hulle laat sterf.”

23Moses het die Here geantwoord: “Die volk kan nie Sinaiberg bestyg nie, want U self het ons gewaarsku om ’n grens rondom die berg vas te stel en daarvan af weg te bly.”

24Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan nou af en kom dan saam met Aäron terug. Die priesters en die volk mag nie deurbreek en opklim na My, die Here, toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”
25Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê.

Die nuwe verbond kan aan die hande van die fokusteks nou kontrasteer word met die Sinaï-gebeure.
22–24 Net so het julle ook by so ’n berg uitgekom—dit is Sion, die hemelse Jerusalem. Die lewende God bly daar. Daar is miljoene engele* wat fees hou. Dit is die fees vir almal wat God S’n is. Hulle name is in die hemel opgeskryf. God is ook die Regter oor almal. Die geeste van die mense wat klaar gered en volmaak is, is by Hom. Jesus is ook daar. Hy het vir ons die nuwe ooreenkoms met God gemaak.

25–29 Luister asseblief as God met julle praat. Mense wat in die verlede nie na Hom wou luister nie, het hulle verdiende loon gekry. As ons nie na Hom luister nie, sal ons nog meer deurloop. Toe God destyds gepraat het, het die aarde geskud. Nou sê God: “Ek sal nog een maal praat, en hierdie keer sal die aarde en die hemel skud.” Die tydelike dinge sal uitmekaar skud, maar die dinge wat vir altyd daar gaan wees, sal oorbly.

Ons moet vir God baie dankie sê. Hy het ons deel van sy koninkryk gemaak wat vir altyd daar sal wees. Ons moet God dien met eerbied*. Ons moet gehoorsaam na Hom luister, soos Hy wil hê.
(Uit “Die Nuwe Testament vir Kinders” deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander)
*****
Storypath.wordpress.com stel voor dat jy die storie “Don’t Squish the Sasquatch” lees.  Tot my groot spyt kon ek dit nie in die hande kry nie, maar jy sou dit kon bestel by loot.co.za (R191, 8-13 werksdae) of Kalahari.com (R186, 16 werksdae).  Of jy die storie kon vind of nie, sluit aan by  “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie.” Gesels oor die doel van waarskuwings, hoe dit ons help en wat gebeur wanneer ons nie daarna luister nie.  (Verskillende padtekens kan goed werk! Of wegneem koffiebekers wat waarsku dat dit warm is, ens.)  Hierdie waarskuwings beskerm ons.  So sê God vir ons om na hom te luister, want dit beskerm ons.

Preekriglyn

Mark Galli vertel hoe ‘n groep vlugtelinge uit Laos, Noord-Viëtnam, die kerk in Sacramento, Kalifornië, besoek het waar hy predikant was. Na ‘n erediens een Sondag vra hulle hom om lidmate van die kerk te word. Galli se kerk het die vlugtelinge ondersteun, maar hulle het slegs vir ‘n paar maande by die erediens ingeskakel.

Aangesien hulle ‘n baie basiese verstaan van die Christelike geloog gehad het, stel Galli voor hulle doen vir ‘n paar weke saam Bybelstudie uit die Evangelie volgens Markus. Hy wou seker wees die vlugtelinge verstaan wat ‘n verbintenis aan Christus en sy kerk prakties beteken. Hulle stem geesdriftig in.

Ten spyte van hulle gebrek aan Bybelkennis – of dalk weens die gebrekkige kennis, vertel Galli hoe die Bybelstudies van die mees merkwaardige ervarings word wat hy nog ooit gehad het. “Nadat hulle op ‘n keer die gedeelte lees waar Jesus die storm op die See van Galilea stilmaak, vra ek hulle oor die storms in hulle lewens. Hulle kyk my met vraagtekens in hulle oë aan. Ek verduidelik toe ons het almal storms in ons lewens – probleme, bekommernisse, moeilikhede, krisisse – en dat hierdie storie ons leer Jesus kan ons vrede gee in die middel van sulke storms. So, wat is julle storms?”

Weer is daar stilte. Daar is raaisels in die mense se oë. Hulle verstaan Galli nie. Een van die mans vra hom toe: “Bedoel jy dat Jesus werklik die wind en die see in die middel van ‘n storm stilgemaak het?”

Galli wil nie betrokke raak by ‘n gesprek oor die werklikheid van wonderwerke nie. Daarom reageer hy: “Ons moenie vassteek of vasval by die detail van ‘n moontlike wonderwerk nie. Ons moet onthou die gedeelte wil eintlik sê Jesus kan kalmte bring midde-in die storms van ons lewens.”

Weer is daar gespanne stilte, totdat iemand sê: “Wel, as Jesus die wind en die golwe laat bedaar het, moet Hy ‘n magtige persoon wees!” Skielik knik hulle almal geesdriftig en begin opgewonde met mekaar gesels oor die mag en krag van Jesus. Daar is duidelik nuwe ontsag vir wie Jesus is by hulle.

“Behalwe vir my,” vertel Mark Galli, “was die vertrek vol verwondering. Hulle het die boodskap van die teks baie beter verstaan as ek.”

Verwondering en ontsag

Die brief aan die Hebreërs vertel in ons teks van die verskil tussen die ou verbond en die nuwe verbond.

In die ou verbond het die volk by die Sinaiberg gekom waar hulle God se stem gehoor het. Hulle het die diepste ontsag beleef, ontsag wat hulle met vrees en verwondering vervul het. Verse 18-21 beskryf hierdie ervaring.

In die nuwe verbond het die openbaring van God se grootheid en genade soveel groter geword. Die brief aan die Hebreërs wys daarop dat met Christus alles nuut geword het. Dit is beter as wat dit was. Die verlossing is meer volkome. Dit is superieur! Jesus is groter as Moses. Jesus is groter as die ou priesters. Jesus se offer is beter as die offers van die priesters. Verse 22-24 beskryf hierdie ervaring.

Sinai teenoor Sion

Hierdie gedeelte van die brief stel die Sinai-lewe teenoor die Sion-ervaring – die oue teenoor die nuwe. Dit dryf die hele verskil tussen wet en evangelie, tussen die oue en die nuwe op die spits: Sionsberg as simbool van die nuwe verbond; die voorreg om in die teenwoordigheid van God te staan; die voorreg om deel van die eeue oue geloofsgemeenskap te wees; die voorreg om te weet dat die Regter wat gaan oordeel ons name in die boek van die hemelse lewe sal vind omdat ons deur die besprinkelingsbloed van Jesus vryspraak ontvang het.

Charles Fensham skryf: “Die boodskap is dat die gelowiges die reg het om die Godstad te nader sonder enige vrees. In die ou bedeling het hulle gesidder vir die heerlikheid van God; in die nuwe bedeling het die gelowiges die reg om selfs die hemelse stad te nader sonder vrees omdat Christus vir hulle die pad oopgemaak het.”

“Beter as”

Waarom moet ons die verskil ken tussen die ou en nuwe verbond, tussen Sinai en Sion?

Die Hebreërsbriefskrywer gebruik die woord kreitton, wat “beter” beteken, nie minder nie as dertien keer om die verskil tussen die ou verbond en die nuwe verbond uit te druk. Hy het ‘n boodskap daarmee, skryf Dirkie Smit in sy boek oor Hebreërs. Hy wil dit vir die Christelike gemeente op die hart druk:

  • Dit gaan nou ‘beter’ met julle as voorheen;
  • dis ‘beter’ om Christene te wees as nie.
  • jul omstandighede nou (en julle toekoms vorentoe) is tog beter – veral die toekoms van God, die beloofde land, die rus, die stad op vaste fondamente.
  • En dit maak julle hede beter as wat dit is om terug te keer na die verlede van sonde en daardeur ook julle toekoms te verloor.
  • In die lig van God se beloftes en sy toekoms is dit beter om Christene te wees, ten spyte van die woestyn omstandighede van die hede.”
  • Die brief benadruk dat dit die gevolg is van Jesus – die finale openbaring van God. Hy is beter as Moses, beter as enige priester, omdat Hy die priester is wat Homself geoffer het.
Dreigende gevaar van binne

Hoekom maak die skrywer hierdie punt? Daar is ’n gevaar….

Miskien moet ons eers sê wat die gevaar nie is nie. Ons kry almal gereeld e-posse en briewe oor die geweldige gevaar wat ander godsdienste en filosofieë vir Christene kan inhou. Dis gevare van buite. Die “New Age” was ’n gonswoord ’n paar jaar gelede. Sekularisme en selfs postmodernisme is woorde wat gereeld gebruik word om die ondermynende gevare in ons Christelike lewe te benadruk. Uiteraard is daar waarheid in die dinge wat mense as bedreiginge voorhou. Uiteraard kan ons deur ons omgang met die wêreld laks word, ons visie verloor, waardes prysgee en lui word.

Vir die Hebreërskrywer is daar ’n baie groter gevaar wat aan die wortel van alle sonde lê. Dit kom nie van buite nie. Dit is in die gemeente self. Die dreigende ongeloof van die kerk is die grootste vyand.

Die groot gevaar is dat hierdie geslag Christene die pad byster kan raak. Dit gebeur deur stadig maar seker moeg te word vir hierdie pad en terug te verlang na die ou soort lewe sonder Christus. Die daaglikse sonde van laksheid, hardhorendheid en traak-my-nie-agtigheid vreet soos ’n kanker aan die wortel van die boom. Uiteindelik sal die boom verdroog en doodgaan. Die klein, alledaagse sonde speel dus ’n groot rol om die uiteindelike “doodsonde” te pleeg, naamlik om die offer van Christus te verwerp. Hierdie doodsonde word in 10:26-29 beskryf.

Dirkie Smit stel dit soos volg:
Nou is die volgende opvallende saak dat Hebreërs sonde nie eintlik vir ons teken soos wat ons meermale oor sonde dink nie, te wete as dit of dat of die oortreding van die een of ander gebod of ’n misstap of ’n spesifieke daad nie, maar wel as hierdie een ding: om afvallig van Christus en sy gemeente te word. Sonde is afval, terugkeer, terugverlang, terugdraai, uitval uit die stoet uit, om jou plek in die Godsvolk te verlaat of prys te gee, en terug te draai. Dit, sê Hebreërs, is sonde. Dié sonde! Die hart agter elke ander stuk sonde! Dis ’n keuse teen Christus, terug na Egipte. En al die klein keusetjies saam, al die enkele sondetjies saam, word later ’n gewoonte, ’n lewenstyl, wat ’n mens net nie meer kan of wil breek nie. Dit word ’n lewenstyl los van die kerk en los van Christus. Die Hebreërboek sê: “Sonde is ongeloof, en ongeloof is om jouself geleidelik los te maak van Christus en sy kerk en weg te dryf. Om weg te draai, om terug te draai van die goeie pad af – dit is ongeloof, en dit is sonde.

Om die Een wat praat af te wys

Volgens ons teks kan hierdie sonde terug gevoer word na een groot probleem. Dit is wanneer die gemeente die een wat praat afwys (10:25). Die waarskuwings van Hebreërs 3 en 4 hou hiermee verband. Hierdie sonde van hardhorendheid is ’n herhaling van die verlede. ’n Mens kan verwag dat die gemeente sou leer uit die foute van die voorvaders in die woestyn. Die gevaar is egter dat ons nie sal luister nie.

Die gevolge is verskrikliker as vir die mense van die ou verbond: Dit is eenvoudig omdat Christene, ook ons, in ’n soort woestynsituasie leef. Ons leef in ’n situasie van beproewings, nood, onsekerhede, vervolging, teenstand, aanvegtinge, probleme, bekommernis. Kortom: in ’n situasie waarin die beloftes van God nog maar beloftes is en nog nie in vervulling gegaan het nie. Ook ons is nog op weg na die eintlike bevryding en rus. Dit is ’n situasie waarin dit dikwels lyk asof die beloftes en die redding ook nie so ‘n groot verandering teweeggebring het nie en in elk geval nie veel van ’n verbetering nie.

En die rede daaragter verstaan die Hebreërskrywer ook. Dis maar net dat ons ons visie van die toekoms, van die beloftes van God, van Jesus Christus, verloor het. Omdat dit nie meer vir ons wonderbaar is nie. Omdat ons nie meer daarvan droom nie. Omdat ons ons oë nie meer op Christus hou nie, Hom nie meer liefhet nie. Daarom word die hede vir ons so swaar en daarom twyfel ons of geloof die moeite werd is en daarom dryf ons weg . . . Jy verloor jou visie van God en Christus, jy sien net wat voor oë is, jy kies hier en daar teen Christus en dryf al hoe verder weg.

Groter verantwoordelikheid

Aan hulle aan wie baie gegee is, sal baie gevra word. Calvyn is reg: “Christus se koninkryk is soveel groter en wonderliker as die tyd van Moses. Hoe wonderliker ons roeping, hoe groter skande is ons ondankbaarheid en hoe minder kan dit vergewe word.”

Dis duidelik dat die hede daarom so ontsettend belangrik is. Om vandag na God se stem te luister, om nóú te aanvaar dat Jesus die Verlosser is, het ewigheidsbetekenis. Op die pad van geloof, moet ons sensitief vir sy stem wees. Immers, Hy sal weer oordeel (10:27-29). Ons ontvang die koninkryk as geskenk, maar daar kom ’n dag wanneer Hy nog een maal sal praat. Dan sal hulle wat al hierdie seëning van die verbond ontvang het, deur die Regter van hemel en aarde beoordeel word.

Die enigste aanvaarbare reaksie is daarom om in die hede reg te reageer op die lewende God se geskenk, naamlik om Hom in die lewe van elke dag volgens sy wil te aanbid (10:28).

AW Tozer skryf: “If you do not worship God seven days a week, you do not worship Him on one day a week. There is no such thing known in heaven as Sunday worship unless it is accompanied by Monday worship and Tuesday worship and so on.”

Ware aanbidding begin wanneer ons leer om elke dag te luister. Uit ontsag en verwondering.

Dit is wat die Noord-Viëtnamese uit Laos ons vriend Mark Galli daardie dag in die Bybelstudie geleer het: om met verwondering en ontsag na God se stem en God se reddingsdade te luister.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here,
ons wil ons beywer vir vrede met alle mense,
ons wil ons beywer vir ’n heilige lewe,
waarsonder ons weet niemand die Here sal sien nie.
Ons wil sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie.
Ons sal waak dat verbittering nie soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.
Ons sal ons Here, ook beywer om nie sedeloos en goddeloos lewe nie.
Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees.
Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil,
want ons God is ’n verterende vuur. (Uit Hebreërs 12)

Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;,
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen (of)

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: _ Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.