Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jeremia 4:11-12, 22-28;
11Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en
vir Jerusalem gesê word:
’n Gloeiende wind kom
oor die heuweltoppe
uit die woestyn uit op my volk af,
maar nie om die kaf weg te waai
en die koring skoon te waai nie.
12Ek bring die wind in sy volle krag
oor hulle,
Ek gaan nou die oordeel
oor hulle uitspreek.
22My volk tree dwaas op,
hulle erken My nie,
hulle is moedswillige kinders,
sonder enige begrip van wat Ek doen.
Hulle is net slim
as dit kom by verkeerd-doen,
van goed-doen wil hulle niks weet nie.
23Ek het na die land gekyk,
en dit was onbewoonbaar,
na die hemel, en die lig
was daaruit weg;
24ek het na die berge gekyk,
en hulle het gebewe,
na al die heuwels, en hulle het geskud.
25Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,
selfs die voëls het weggevlieg.
26Ek het gekyk, en die vrugbare grond
het in woestyn verander,
al die stede het in puin gelê.
Dit is die Here wat dit
in sy gloeiende toorn gedoen het!
27Ja, so sê die Here:
Die hele land sal verwoes wees,
maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.
28Daaroor moet die aarde treur
en die hemel daarbo donker word,
want Ek het my voorneme bekend
gemaak,
Ek staan by my besluit,
Ek sal nie van plan verander nie.

Psalm 14
Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles
wat hulle doen,
is ’n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie.
2Van die hemel af kyk die Here
die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
4Julle almal wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet
en wat weier om die Here te dien-
weet julle dan nie
5dat daar iets vreesliks
met julle gaan gebeur nie?
Omdat God aan die kant
van die regverdiges is,
6sal daar niks kom van julle planne
teen die hulpelose nie:
die Here bly sy toevlug.
7Ag, mag daar tog uit Sion
vir Israel redding kom!
Wanneer die Here die lot van sy volk
verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

1 Timoteus 1:12-17
12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Fokusteks

Die gelykenis van die verlore skaap
(Matt 18:12–14)
15  Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 182 [bekend] of Lied 498

Votum: Psalm 41:2-3

Seëngroet

Lofsang: Lied 207

Verootmoediging: 1 Timoteus 1:12-17

Toewyding: VONKK 215 of Lied 263

Geloofsbelydenis: Flam 72 of VONKK 86

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 15:1-10

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 46 of Lied 493

Seën: (Uit Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Respons: Lied 313

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 182 Herder Heer (Herder Jesus) [Bekend – Rock of Ages] of
Lied 498 “Hy wat glo, word nie beskaam nie”

Votum
Psalm 41:2-3
Dit gaan goed met die mens
wat omsien na die swakke.
Die Here sal hom red
op die dag van nood,
die Here sal hom beskerm
en in die lewe hou;
die hele land sal praat
oor hoe goed dit met hom gaan.
U sal hom nie uitlewer aan die wraaksug
van sy vyande nie.
Aan die Here, die God van Israel,
kom die lof toe
tot in die allerverste toekoms.
Amen, ja, amen.

Seëngroet
Voorganger: Aan die uitverkorenes van God,
Gemeente: vreemdelinge in die wêreld:

V: Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees,
G: en om besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.

V: Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Lofsang: Lied 207 “Eer aan die Vader”

Verootmoediging
1 Timoteus 1:12-17
12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Toewyding
VONKK 215 U Oorlaai Ons Met U Liefde of
Lied 263 “U, goeie Herder, wat ons lei”

Geloofsbelydenis
Flam 72 Ons Glo! of
VONKK 86 Ek Is Die Heer Se Skapie (Psalm 23)

Liedere

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Rock of Ages Teks: Augustus M Toplady Musiek: Thomas Hastings
Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe © Jack Publishing

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:

3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.

Refrein: (x2)

VONKK 46 “Soos ‘n Vader Vir Sy Kinders”
Teks: Johannes Tauler (1300-1361); As a bridegroom to his chosen – Emma Frances Bevan (1827-1909); Soos ‘n vader vir sy kinders – Awie van Wyk en Kobus van der Westhuyzen 1993; nuwe teks Jacques Louw 2008 ©  Musiek: BRIDEGROOM – Peter Warwick Cutts (1937- )
Kantoryverwerking: Danie Hyman 2009 © © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Stainer and Bell Ltd, London, England www.stainer.co.za  Used by permission. RUBRIEK: Kontemporêr – Geloof en Vertroue

1. Soos ‘n vader vir sy kinders,
soos ‘n heerser vir sy ryk,
soos ‘n herder vir sy skape,
soos ‘n wagter wat bly kyk –
só, Heer, is U vir my.

2. Soos ‘n lig wat skyn in donker,
soos die sonskyn in die dag,
soos ‘n ligglans vir my voete,
soos ‘n kompas in die nag –
só, Heer, is U vir my.

3. Soos ‘n omgeehand van liefde,
soos ‘n vader wat verstaan,
soos ‘n moederhart vol deernis,
soos ‘n vriend wat by jou staan –
só, Heer, is U vir my.

4. Meer as al die goud op aarde,
meer as al die roem vandag,
meer as kennis en besittings,
meer as rykdom en as mag –
só, Heer, is U vir my.

VONKK 215 “U Oorlaai Ons Met U Liefde”
Teks: Wat ‘n grenslose liefde – Hannes van der Merwe 2012 © Melodie: NATASHA – Thinus van Staden 2012 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Cecilia van Tonder 2012 © Musikale verryking: Cecilia van Tonder 2012 ©
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Kontemporêr – Gebede / Geloof en Vertroue

1. U oorlaai ons met u liefde
Omdat U, ons Hemelheer,
al die mense hier kom roep het
om na God toe terug te keer.
U roep skape sonder herder
uit die nood waarin hul is
na die strome van vergifnis
en die skadu van u rus.

Refrein:
Wat ’n grenslose liefde,
’n onpeilbare deernis
het U aan ons gewys,
o God van genade.
Elke dag hier op aarde
is ons smeking, ons bede
dat ons in liefde leef,
o God van genade.

2. U sien trane in die oë,
word geraak deur al die seer,
hoor die sug van hul wat moeg is,
bied ‘n tuiste by U, Heer.
En met deernis vir die sondaar
het U in ons plek getree,
vir die siekes en die dooies
kom U hoop en lewe gee.

Refrein:
Wat ’n grenslose liefde,
’n onpeilbare deernis
het U aan ons gewys,
o God van genade.
Elke dag hier op aarde
is ons smeking, ons bede
dat ons in liefde leef,
o God van genade.

3. Hierdie boodskap van genade
moet weerklink ook in ons tyd
soos profete lank gelede
wat die wil van God ontsluit.
Wees ’n stem van hoop en heling
in die honger en die seer
met die antwoord op die noodroep:
Hier’s genade by die Heer!

Refrein:
Wat ’n grenslose liefde,
’n onpeilbare deernis
het U aan ons gewys,
o God van genade.
Elke dag hier op aarde
is ons smeking, ons bede
dat ons in liefde leef,
o God van genade.

VONKK 86 “Ek Is Die Heer Se Skapie  (Psalm 23)”
Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)  Melodie: MINANTÉ – Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding:  Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Geloof en Vertroue

1. Ek is die Heer se skapie; Hy sorg so goed vir my.
Hy lei my na die water en laat my rustig wei. *

2. Hy dra my as ek moeg raak, Hy wys die pad vir my.
En as dit om my donker word, sorg Hy en help Hy my.
* Alternatief: en laat my kossies kry

F72. “Ons Glo!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Louis Brittz © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Ons glo as ons struikel dat ons op kan staan.
Ons glo in U liefde soos ’n oseaan.
Ons glo in genade soos die see.
’n Stroom van vergifnis sleur ons mee
en ons bely.

Ons glo dat die Herder sy kudde lei.
Ons glo dat die Leidsman die weg berei.
Alwys alwetend onsienlik Heer.
Onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

Ons glo daar’s ’n more na die donker nag.
Ons glo aan ’n bruilof wat die bruid inwag.
Ons glo in vervulling van die Woord.
In Christus oorwinnaar oor die dood
en ons bely.

Ons sing omdat ons glo,
aanbid omdat ons glo,
bely dit dat ons glo,
ons loof U want ons glo.

Alwys alwetend onsienlik Heer,
onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 15:1-10

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown herinner ons dat ons kinders se perspektief op “verlore wees” in ag moet neem:  “First, lost is being physically abandoned and alone.  Being lost in sin is a metaphor that requires explanation.  Second, fear of being lost (as in abandoned) is one of the deepest and most common fears of childhood – and most of life.  (Ever have dreams about being lost in an airport running to catch a plane?)  Third, when children are lost they assume that it is the adults around them who have wandered away from them.  They were doing reasonable to them activities and suddenly find themselves abandoned.  “I was looking at all the candy bars and mom was gone!”  “I decided to go back to the car while you shopped, but I couldn’t find it.”  So children assume the lost sheep was an innocent victim rather than a willful strayer – UNLESS you suggest the second possibility to them with examples of a sheep intentionally ignoring the shepherd’s call in order to chase a butterfly or eat more of a great patch of grass.”  (Kyk gerus ook na haar baie sinvolle voorstelle vir maniere om hierdie teks met kinders te bespreek.)

Jy kan ‘n teddiebeer (of eintlik enige iets!) iewers in die kerkgebou wegsteek.  Kry die kinders om jou te help soek.  Stap een is om te roep.  Die teddiebeer gaan natuurlik nie antwoord nie.  Julle moet gaan soek!  Dit is die wonder van teddiebere, skape, muntstukke:  hulle kan nie hul eienaar vind nie.  Die eienaar moet hulle gaan soek.  Dis wat Jesus doen.  Jesus kom altyd eerste na ons toe.
Of doen iets soortgelyks met ‘n legkaart.  Elke stukkie van die legkaart maak saak.  As een stukkie daar anderkant is, gaan soek ons dit.  Ons het elke stukkie nodig vir die hele prent.  God soek ons, omdat ons belangrik is vir God.

Die kinders sal ook daarvan hou as jy Finding Dory gebruik as ‘n moderne gelykenis. Dory, wat ernstige geheue probleme het, gaan soek haar ouers m.b.v. Nemo en Marlin.  Ten spyte van baie groot uitdagings, weier sy om op te gee.

Hier is ‘n inkleurprent van die herder en verlore skaap.

Preekriglyn

Lukas se evangelie is ‘n besondere geskrif.

Lukas vertel dat hy kans gehad het om ‘n bietjie terug te staan van die buitengewone gebeure en dat hy met die betrokke mense kon gesels, dokumente kon lees en so sy eie volledige weergawe kon gee van die dinge aangaande Jesus sodat sy lesers die waarheid kan hoor. Lukas was geleerd en opgevoed. Ons kan sê hy is die eerste ware geskiedkundige wat oor Jesus geskryf het.

Sy boek plaas Jesus in die hart van die destydse Joodse wêreld, maar ook in die hart van die Romeinse wêreld waarbinne die evangelie ingebreek en dit radikaal verander het.

‘n Paar temas is vir Lukas baie belangrik:

  • “God se plan” is ‘n baie groot tema in die Lukasevangelie. Baie tekste wat uniek aan Lukas is, raak die tema aan (1:14-17, 31-35, 46-55, 68-79; 2:9-14, 30-32, 34-35; 4:16-30; 13:31-35; 24:44-49).  Opvallend baie van die tekste kom aan die begin van die evangelie voor. Dit dui waarskynlik daarop dat die tema vir hom belangrik is.
  • Die tyd van vervulling begin met Jesus se bediening en gaan voort by sy wederkoms (Luk 17:21-37; 21:5-38; 24:43-49; Hand 2:14-39; 3:14-26). Lukas beklemtoon die vervulling met ‘n groot getal verwysings daarna, waarin hy “vandag” benadruk as hy praat oor die aanbreek van God se redding (2:11; 4:21; 5:26; 13:32-33; 19:5, 9, 42; 23:42-43).
  • Lukas is die evangelie wat die hart en die gedagtes van Jesus openbaar. Hier sien ons hoe God sorg vir sondaars, armes en uitgeworpenes, mense wat in die teks “tollenaars en sondaars” genoem word.
  • Hierdie hoofstuk het drie gelykenisse met ‘n onderlinge verband waarin verduidelik word waarom Jesus met sondaars omgegaan het. Die verband word sigbaar in terme soos “verlore” en “gevind” asook “verheug” en “feesvier”.
  • Hoofstuk 14 eindig met Jesus se woorde: “Laat die wat ore het om te hoor, luister!” Die saak van “luister na Jesus”, is vir Lukas belangrik. Mense wat na Jesus luister, word soms op verrassende plekke gevind (5:1, 15; 6:17, 27, 47, 49; 7:29; 8:8-18, 21; 9:35; 10:16, 24, 39; 11:28, 31).
Hoofstuk 15

Hoofstuk 15 begin met tollenaars en sondaars wat na Jesus kom luister. Direk daarna hoor die leser van die Fariseërs en skrifgeleerdes wat mor en brom. Lukas teken tollenaars en sondaars in die algemeen in ‘n positiewe lig; mense wat gewillig is om te luister, wat oop is vir bekering en dissipelskap (3:10-14; 5:27-32; 7:34-50; 18:13).

Hy vertel hier drie (of 4) gelykenisse. Die eerste twee gelykenisse is in die afgebakende Skrifdeel. Die derde (en vierde) handel oor die verlore seun (en ouer broer). Elkeen maak dieselfde punt oor vreugde wanneer die verlore item of mens gevind word, wat waarskynlik verwys na die bekering van een sondaar. Die onvolledige, die nege en negentig en die nege, word weer heelgemaak; die een wat ontbreek, word gevind en teruggebring.

Daar is ‘n bepaalde ontwikkeling in die gelykenisse. Die herder verloor een van honderd  skape. Die vrou verloor een van tien munte. Die vader verloor een van twee seuns. Opvallend is ook die plek of ruimte in die gelykenisse waar die verlies plaasvind: die skaap in die oop veld; die muntstuk in die huis, en; die seun in die hart van die vader.

Rolspelers

Ons teks speel af teen die agtergrond van tollenaars en sondaars, Fariseërs en Skrifgeleerdes en hul houdings en interaksies.

Die gelykenisse word vertel in ‘n spesifieke situasie. Jesus het groot skares getrek. Veral tollenaars en sondaars het Hom gevolg. Tollenaars was dienaars van die Romeinse Ryk. Hulle het dikwels te veel geld gevra om hulle eie sakke te vul. Sondaars was diegene wat nie godsdienstige wette nagekom het nie. Ook diegene wat bepaalde morele kodes oortree het.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes was beswaard. Dit het hulle gepla dat Jesus assosieer met mans en vroue wat spesifiek deur hulle as sondaars beskou is. Jesus het amper ‘n gewoonte daarvan gemaak om etes of feesmaaltye saam met die “verkeerde” mense te geniet. Sodoende het Jesus waardigheid en erkenning aan die sosiaal onwaardiges en onaanvaarbares gegee.

Daar was ‘n duidelike grens tussen die Fariseërs en mense wat nie die wet gehoorsaam nie.

Wanneer iemand deel nie wetsgehoorsaam was nie:

  • Vertrou jy hulle nie met geld nie;
  • aanvaar jy nie hulle getuienis nie;
  • vertrou jy hulle nie met ‘n geheim nie;
  • maak jy hulle nie beskermer van die weeskinders nie;
  • moet jy geen fondse aan hulle toevertrou nie;
  • moet jy hulle nie vergesel op ‘n reis nie.

Hierdie mense moes volgens die Fariseërs en skrifgeleerdes ten alle koste vermy word.

Die verlore skaap

Die eerste gelykenis handel oor een van honderd skape wat verlore raak.

Honderd skape is ‘n baie groot trop. Die meeste families het maar ‘n klein deel van so ‘n groot getal skape besit. Iemand wat honderd skape gehad het, sou waarskynlik ‘n herder gehuur het. ‘n Uitgebreide familie het gewoonlik hulle skape saam laat loop, met die herder of herders wat uit die familie kom. Baie van die skaaptroppe was die groter gemeenskap of dorpie se skape.

Honderd skape sou waarskynlik meer as een herder gehad het. Waar wilde diere ‘n bedreiging was, sou een herder beswaarlik die trop kon beskerm. Ons kan waarskynlik aanvaar dat die een herder die groter trop in die hande van ‘n ander herder gelaat het, met die risiko’s daaraan verbonde. Die nege en negentig skape wat veilig was, sou op hulle tyd in die dorpie aankom en die herders sou vertel van die een herder wat die verlore skaap in die berge gaan soek het. Die hele dorpie se mense sou saam wag op die terugkeer van die herder. En as hulle hom sien aankom met die skaap op sy skouers, sou daar groot vreugde en blydskap wees.

Die eerste herder neem die risiko, want die een skaap is vir hom kosbaar. Hy kry die een skaap wat verdwaal en alleen is, jammer. Hy tel hom op sy skouers, ‘n teken dat hy werklik omgee. Die skaap was in gevaar, nou is hy veilig. Die trop is weer volledig; al honderd is bymekaar. Sy vreugde kan nie beperk word nie. Dit vloei oor in die gemeenskap.

Die woorde, “watter een van julle”, laat dit klink asof die agterlaat van die nege en negentig skape die normale reaksie sou wees. Dit sou beslis nie vandag die normale reaksie gewees het nie, of hoe? ‘n Maatskappybestuurder van vandag sal sy kernbesigheid beskerm; die 99%. Hy sou reken, ons kan 1% verlies hanteer, maar ons kan nie ‘n verlies van 99% oorleef nie!

Jesus beklemtoon die kosbaarheid en die waarde van die enkele mens wat dalk mag verlore raak.

Volle getal

Die getal honderd kan ook simbolies verstaan word as die volle getal van God se kinders. As een weg is, is die getal nie meer vol nie, en God soek die een wat nie daar is nie. God soek.

Dit bring ‘n radikale nuwe verstaan van die betekenis van bekering. Die prentjie wat Jesus van God teken, is totaal anders as dit wat die Fariseërs ooit sou hê aangaande God. Jesus kom vertel en beklemtoon die wonderlike feit dat God werklik na elke sondaar soek. Hy sit en wag nie net dat hulle na Hom sal kom nie. Daar is vreugde in die hemel saam met die engele voor God oor een sondaar wat “gevind” word. God soek die verlore mens.

Dit vertel iets baie belangriks van ons eie roeping, naamlik om nie net te verkondig en te vertel nie, maar om “soekers” te wees.

Nege en negentig regverdiges wat nie bekering nodig het nie. Almal het nodig om tot bekering te kom; beide Jode en Grieke (vgl Luk 10:13; 11:32; 13:3, 5; Hand 2:38; 17:30; 11:18; 17:30). Indien die nege en negentig dui op die Fariseërs en die skrifgeleerdes, dan verwys die woorde ironies na diegene wat dink hulle is regverdig en het nie bekering nodig nie.

Geldstuk

Die geldstuk wat verlore geraak het, was waarskynlik ‘n Griekse dragma (min of meer ‘n Romeinse denarius), ongeveer die dagloon van ‘n arbeider. Dit was nie ‘n fortuin nie, maar genoeg om die aandag te vra van die vrou vir wie dit belangrik is. Dit is haar verlies. Niemand anders is jammer oor die geld wat nou êrens lê nie. Sy kry egter swaar en sy soek die munt. Niemand was jammer oor die munt nie, maar die mense het die vrou jammer gekry.

Hier wil Jesus die aandag vestig op die feit dat dit vir die Vader ‘n verlies is, dat dit God se hart raak as een mens “wegraak”. As een van sy eie nie meer in sy hand is nie, moet daardie persoon gesoek word.

God se vreugde is ook hier die fokus van die gelykenis. Hy verheug Hom en nooi almal saam, engele en mense, om saam fees te vier oor die getal wat weer vol is; al die muntstukke is daar!

Verskil en ooreenkoms

Daar is ‘n verskil tussen die skaap wat weggeraak het en die een muntstuk wat verloor is. Die skaap, in sy verlorenheid, word jammer gekry. Die eienaar wat die muntstuk verloor het, word jammer gekry!

Dan is daar vreugde oor die skaap wat weer gevind is en oor die vrou wat weer gelukkig is.

Die klem in die twee verhale is op hierdie punt tog ‘n bietjie verskillend. God se vreugde staan in sterk kontras met die gemor van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle laat nie sondaars naby hulle toe nie, sodat hulleself nie onrein word nie. Hulle verstaan waarskynlik die waarde van een skaap of een muntstuk, maar skryf maklik een sondaar af.

Sien God raak

Hierdie is nie net ‘n verhaal van ‘n goeie Jesus teenoor slegte Fariseërs nie. Dit is die verhaal van godsdienstige mense, pilare in hulle gemeenskap, wie se ingesteldheid en selfs beheptheid met hulle rituele getrouheid, hulle blind gemaak het vir hulle eie sonde.

Dis ‘n storie oor mense wie se ywer vir die wet van God hulle laat vergeet het van God se liefde vir sondaarmense. Jesus roep hulle, en vir ons, om sondaars lief te hê, maar die sonde te haat.

Hy daag hulle uit, en vir ons, om te hoop op die aanbreek van die nuwe werklikheid; die herstel, die heelmaak of die volmaak van die onvolledige.  Jesus roep ons op om die terugvind en die herstel van elke enkele sondaar te vier! Al drie hierdie verhale wil sê: “Dit is hoekom ons feesvier!”

Die tollenaars en sondaars het nie na die skrifgeleerdes en die Fariseërs gaan luister nie, want hulle het geweet daar sal hulle net veroordeling ontvang. Hulle het na Jesus gaan luister, omdat Hy hulle aanvaar het en bly was dat hulle gekom het! Jesus se ontmoeting met sondaars lei dikwels tot hul bekering (5:29-32; 7:36-50; 17:11-19; 19:1-9).

Op een vlak het die Fariseërs en skrifgeleerdes dalk ‘n punt gehad in die lig van die algemene wysheid dat slegte geselskap tot slegte dade lei. Wyse ouers leer immers hulle kinders om goeie vriende te soek. Om saam te eet dui op aanvaarding. Jesus kon die verkeerde indruk gelaat het deur saam met die sondaars te eet. Paulus leer ook in 1 Korintiërs 6:14 om nie met ongelowiges om te gaan nie.

Watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Tollenaars en sondaars het in ontmoeting met Jesus geweet dat hulle verkeerd lewe en het daarom gehoop dat Jesus iets aan die saak kan doen. Nêrens sê Jesus dat sulke mense maar net kan aangaan soos hulle is nie; hulle lewens moet verander. Hulle is immers verlore en moet gevind word.

Beide die godsdienstige mense en die tollenaars en sondaars moet tot bekering kom. Ons doen dit deur God in Jesus raak te sien en daarop te reageer.

Volg Jesus na

Dissipels moet aktief betrokke wees by die opsoek en aanvaar van verlore sondaars, terwille van die Here wat hulle dien. Dissipels moet weet dat God sondaars en verlorenes aktief soek! Hy soek omdat daar ‘n verlange in sy eie hart is na die verlorenes wat eintlik aan Hom behoort en in sy hand (beursie) moet wees.

Jesus gee ‘n volmaakte voorbeeld wat sy dissipels moet navolg. Ons het nodig om weer hierdie liefde vir verlorenes en die vreugde van terugvind terug te bring in ons eie lewe, in ons kerke en in ons gemeentes. Morele selfbeskerming kan soms versmorend wees. Dit kan dalk veroorsaak dat ons kerke dikwels styf en vreugdeloos is.

Bekering

Bekering, in die lig van die gelykenisse, beteken dat ek as sondaar vreugde beleef in die ervaring dat God my gevind het. God het my kom soek. Ek het nie in die eerste plek my hart vir die Here gegee nie. God het my in sy hart geneem. Hy dra my op sy skouers. Ek is terug waar ek hoort.

Ons algemene siening van bekering is dikwels redelik selfgerig, in plaas daarvan dat ons die wonder van God se liefde en soeke raaksien. Ons kyk so maklik na verlossing asof dit net om myself gaan; om dit wat ek nodig het en om voordele wat ek gaan kry. Dit is ek wat vergiffenis van sonde kry; ek wat vrede in my gemoed kry; ek wat beskerming kry; ek . . . ek . . . ek! Dit is alles werklik baie wonderlik, maar die grootste, wonderlikste werklikheid is dat ons kinders van die lewende God is; om tuis te kom waar ons moet wees, veilig by ons Hemelse Vader. Een van God se kinders.

Vreugde, verlossing en bekering is die terugvind van ‘n verlore skaap/munt deur sy Vader. Dit is die ware rede vir feesvier en vreugde in die hemel!

God stuur ons om te leef

  1. God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang
VONKK 46 Soos ‘n Vader Vir Sy Kinders of
Lied 493 “Jesus neem die sondaars aan!”

Seën
God die Vader sal jou altyd liefhê,
God die Seun sal jou altyd genadig wees,
God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en jou in sy waarheid lei.(Uit Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Respons: Lied 313 Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.