Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die laaste (10de) plaag gaan gepaard met duidelike instruksies oor die voorbereiding en viering van Paasfees. Dit sal die fees der feeste word vir Israel: fees van verlossing uit slawerny. Dan volg die uitdruklike opdrag: “Vir julle nageslag moet dit ‘n vaste instelling wees wat hulle moet vier.”

Ander tekste

Psalm 149
Die Here is goed vir sy volk
149 Prys die Here!
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
sing tot sy lof in die vergadering
van sy troue dienaars.
2Laat Israel hom verheug in sy Maker,
laat die volk van Sion jubel
oor die Here hulle koning.
3Laat hulle sy Naam prys
met koordanse,
laat hulle speel tot sy eer
op tamboeryn en lier.
4Die Here is goed vir sy volk,
Hy kroon die hulpeloses
met oorwinning.
5Sy troue dienaars juig oor sy mag,
jubel selfs
as hulle op hulle beddens gaan lê.
6Die roem van God
klink uit hulle mond,
en in hulle hand is die swaard,
alkante geslyp,
7waarmee hulle die nasies sal verslaan
en die volke sal straf.
8Hulle sal die konings
van daardie nasies
met kettings vasbind,
hulle aansienlikes
met ysterboeie,
9en die vonnis aan hulle voltrek
soos dit vasgestel is.
Dit sal die triomf wees
van al die troue dienaars van God.

Prys die Here!
Romeine 13:8-14
Liefde is die volle uitvoering van die wet
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” yof watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” z10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Matteus 18:15-20
’n Broer wat sondig
(Luk 17:3)
15“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

18“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. 19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Fokusteks

Eksodus 12:1-14
Die instelling van die paasfees
12 In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand ‘n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4As ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, kan ‘n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet ‘n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, ‘n skaap of ‘n bok. 6Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.

12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14“Hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees. Julle moet dit as ‘n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ‘n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

15Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word. 16Op die eerste en die sewende dag moet daar ‘n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.

17“Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as ‘n vaste instelling vier. 18In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand. 19Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete. 20Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.”

21Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen ‘n lam uit en slag die paaslam! 22Neem ‘n bossie hisop, doop dit in ‘n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. 23As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.

24“Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig. 25Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom. 26As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’27moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.”

Toe het die volk in aanbidding gebuig.

28Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.

Tiende plaag: dood van die eersgeborenes
29Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere. 30Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie ‘n enkele Egiptiese huis sonder ‘n sterfgeval nie.

Die farao laat die Israeliete trek
31Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! 32Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.”

33Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!”

34Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra. 35Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis. 36Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.

37Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet. 38Daar het ook ‘n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste.

39Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie.

40Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte.

Voorskrifte in verband met die paasfees
41Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek. 42Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.

43Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 44‘n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; 45geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. 46Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die paaslam mag gebreek word nie. 47Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. 48Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos ‘n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie. 49Een en dieselfde bepaling moet geld vir die gebore Israeliet en vir die vreemdeling wat julle beskerming geniet.”

50Al die Israeliete het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron beveel het.

51Presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte bevry.

Ekstra stof

Iets in die algemeen oor die plae
Uit die teks is dit duidelik dat die volgende tien plae aangekondig en in werking gestel word as deel van God se bevrydingsaksie:

  1. Water word bloed
  2. Paddas
  3. Muggies
  4. Steekvlieë
  5. Pessiekte
  6. Swere
  7. Hael
  8. Sprinkane
  9. Drie dae duisternis
  10. Eersgeborenes sterf

Daar is duidelik ‘n patroon van drie stelle van drie plae elk met die laaste plaag in ‘n kategorie van sy eie, as ‘n mens die kommunikasie met farao as maatstaf neem.  Met elkeen van die drie stelle word daar met die eerste twee plae in elke stel ‘n waarskuwing aan farao gegee, terwyl die laaste plaag onaangekondig en onverwags gebeur.

  • Farao word gewaarsku met die eerste plaag van die water wat bloed word, sowel as met die tweede plaag van die paddas, maar nie met die derde plaag van die muggies nie.
  • Farao word gewaarsku met die vierde en vyfde plae van die steekvlieë en pessiekte, maar die sesde plaag van die swere kom onaangekondig, hoewel die laaste een in sy teenwoordigheid gebeur.
  • Farao word gewaarsku met die sewende en agste plae van die hael en sprinkane, maar nie met die negende plaag van die drie dae duisternis nie.  Hy word wel gewaarsku oor die tiende en laaste plaag, die een waar al die eersgeborenes van die Egiptenare sterf, maar hy het selfs tóé nie na die waarskuwing geluister nie.

Dit is ook interessant dat die eerste stel van drie plae deur Aäron en sy staf (Eks. 7:19; 8:1, 12), die tweede stel van drie plae deur God self in die eerste twee gevalle en die derde deur Moses (Eks. 8:20: 9:6, 10), en die laaste stel van drie plae deur Moses aan die orde gestel word, twee keer met sy staf en die laaste keer daarsonder (Eks. 9:22-23; 10:12-13, 21).  Die laaste plaag word deur God self in werking gestel onafhanklik van Moses en Aäron.

Dit is dus ‘n hoogs gestileerde beskrywing van wat plaasgevind het.

Die versoeking om die plae net natuurlik te verklaar
Die versoeking is daar om die plae te interpreteer as God se manier om natuurlike prosesse in te span om die mag van sy woord ten toon te stel, soos talle geleerdes doen (vgl. bv. Ziony Zevit in sy artikel: “Exodus in the Bible and the Egyptian Plagues.  Can we make sense of the Biblical plagues?“).

Die eerste ses plae, sowel as die agste, kan met die Egiptiese ekosisteem verbind word.  Die sewende, en die laaste twee plae pas egter nie in nie.

  1. Die hewige reën wat baie keer in die hooglande van Ethiopië neersak, bring rooi klei deur die Nyl na Egipte (getuienis daarvan kom ook in ‘n Egiptiese teks uit ongeveer 2 050 v.C. voor: “Die aanmanings van Ipu-Wer“).  Groot hoeveelhede klei in die water laat die visse van suurstofgebrek vrek – die eerste plaag.
  2. Die dooie visse maak die paddas siek wat uit die water vlug na koeler areas in die huise waar hulle egter op hulle beurt vrek – die tweede plaag.
  3. Dit veroorsaak die vermeerdering van muggies – die derde plaag.
  4. Dit veroorsaak ook die vermeerdering van steekvlieë – die vierde plaag.
  5. Die muggies en steekvlieë laat op hulle beurt ‘n pessiekte los onder die vee – die vyfde plaag.
  6. Die pessiekte tref ook mens en dier met swere wat in oop sere oopbars – die sesde plaag.
  7. Haelstorms kom nie baie voor in Egipte nie – die sewende plaag – wat nie lekker in die patroon inpas nie.
  8. Sprinkane kom wel in Egipte voor – die agste plaag.
  9. Die negende plaag – ‘n tasbare duisternis – kan met ‘n stofstorm verbind word, iets wat gereeld van die weste af vanuit die Sahara oor Egipte waai (getuienis daarvan kom ook in ‘n Egiptiese teks uit min of meer dieselfde tyd voor: “Die profesie van Nefer-Rohu“).
  10. Die tiende plaag – die dood van die eersgeborenes – pas glad nie in die patroon in nie.

Die probleem met só ‘n natuurlik verklaring is dat dit dan eintlik geensins ‘n Goddelike teken aan farao sou gewees het nie.  As bv. die kleur van die water slegs uit die hoër voorkoms van klei verklaar kon word, veral omdat dit gereeld gebeur het, sou farao nie vir Moses en Aäron gevra het om van die plae te stop nie, soos hy bv. met die plaag van die paddas en die steekvlieë gedoen het nie.  ‘n Blote natuurlike verklaring kan dan ook nie die feit verklaar dat die plae ophou wanneer Moses tot die Here daaroor bid nie.

Dit is ook duidelik dat farao en sy mense gou agterkom dat dit die “staf van God” was wat die plae gebring het, en dit ook kon staak op sy bevel.  Dit is ook duidelik dat die skaal waarop die plae die land getref het sonder enige vorige vergelykbare gebeure was.  Die plae het tot groot en wydverspreide ellende aanleiding gegee.

Die plae was dus duidelik wondertekens, soos Walter Kaiser sê: “God does use natural features in miracles, but to be miraculous signs they cannot simply coincide with natural phenomena.

Die plae was ‘n oordeel oor die gode van Egipte
Wat wel waar is, is dat die plae ‘n bevestiging was dat God nie net teen die farao en sy mense opgetree het nie, maar ook teen die veelgodedom van Egipte.  Dit sou vir die Egiptenare mettertyd duidelik word dat die God van Moses en Aäron die magteloosheid van hulle eie gode demonstreer.

Trouens, in die verdere nadenke oor wat regtig hier gebeur het, verklaar die skrywer van Numeri dat die plae in Egipte baie spesifiek ‘n oordeel oor die gode van Egipte verteenwoordig het: “Dit is hoe die Here die oordeel oor hulle gode voltrek het.” (Num. 33:4).

Talle van die plae kan daarom met van die gode van Egipte verbind word waarmee hulle onmag ten toon gestel word:

  • Die eerste plaag van bloed kon gemik gewees het teen die god Khnum, wat as skepper van water en die lewe gereken is, of teen Hapi, die god van die Nyl, of teen Osiris, wie se bloedstroom gereken is as die Nyl.
  • Die tweede plaag van paddas kon teen Heket, die godin van die geboorte van kinders, gemik wees wat met die simbool van ‘n padda voorgestel is.
  • Die vyfde plaag teen die vee kon gemik gewees het teen Hathor, die godin van die hemelruim, wat met ‘n koei voorgestel is of teen Apis, die simbool van vrugbaarheid en as ‘n bul voorgestel is.
  • Die sewende en agtste plae, hael en sprinkane, kon teen Seth gemik wees, die god wat van homself in die wind en met storms laat hoor het, of teen Isis, die godin van die lewe, of teen Min wat ook met vrugbaarheid geassosieer was en daarom ‘n beskermer van die plantegroei en hulle oes opgetree het.
  • Die negende plaag van duisternis kon teen verskeie gode gemik wees – Amon-Re, Aten, Atum of Horus – wat almal met die son geassosieer was.
  • Die laaste en tiende plaag van die dood van die eersgeborenes kon teen Osiris, die god wat spesifiek met farao geassosieer was en ook as die regter van die dood opgetree het, gemik wees.  Interessant genoeg is daar ook ‘n ou Egiptiese tradisie wat met die dood van die eersgeborenes van die gode verbind word – onthou farao is ook as ‘n god gereken – soos ‘n mens in die berugte “Kanibaal Gesang” uit ongeveer 2 300 v.C. kan lees, sowel as in variasies daarvan wat op sommige doodskiste uit die era aangebring is.

Die plae is wondertekens van God self
Die plae is dus doodgewoon wondertekens van God wat nie in die eerste plek aan natuurlike gebeure verbind word nie, maar aan sy kragtige ingrype in die verlossing van sy mense waarin die natuur wel ingespan word.  Die plae is wondertekens soos reeds met die eerste tekens wat aan Moses met die aanvang van sy roeping gegee is die geval was: die staf wat in ‘n slang verander, sy hand wat wit van melaatsheid word en dan weer gesond raak, en die water wat op die grond in bloed verander.

Die plae is ook nie net ‘n oordeel oor Egipte nie, maar ‘n manier waarop God Homself bekend gestel het aan die mense van Egipte.  Hulle het telkens die opsie gehad om voor God se gesag te buig, maar farao het daarvoor telkens nee gesê.  Ook Israel moes leer dat die Here God is, en in Eks. 14:31 is dit presies wat beskryf word.  Die plae het hulle geloof in God versterk.

Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam
Hoofstuk 12 is nie net die deurslaggewende gebeure wat tot die Uittog van die Israeliete uit Egipte gelei het nie.  Dit het ook ‘n fundamentele impak gehad op die Joodse volk se selfverstaan.  Die Paasfees sou hierna die identiteit van die volk begrond op die bevryding wat God vir hulle uit Egipte bewerk.  Elke jaar wanneer ‘n familie die Paasfees saam met die res van die geloofsgemeenskap in hulle eerste kalendermaand gevier het, het hulle die herinnering aan die bevryding lewend gehou.

Daardeur het hulle God aanbid wat hulle van hulle ellende in die verlede bevry het.  Daardeur is hulle hoop en vertroue ook versterk dat dié God hulle ook uit elke krisis waarin hulle dié jaar en elke jaar daarna mag kom, sal kan bevry.

Die Here gee eers die opdrag om die Paasfees te vier aan Moses en Aäron (12:1-20) waarna hulle dit aan die volk oordra en die Israeliete die opdrag gehoorsaam (12:21-28).  Daarna word die waarskuwing van die tiende plaag ‘n werklikheid (12:29-30) waarna farao die volk laat trek (12:31-42).

Die Here gee die opdrag van die Paasfees aan Moses en Aäron – 12:1-20
Die Paasfees was van die begin af ‘n maaltyd waaraan almal in die familie deelgeneem het.  Trouens, kinders was veral welkom om op dié manier deel van die geloofsverhaal van Israel te word.  Dit was ook ‘n maaltyd waarin verskillende families hulle bronne gedeel het. As ‘n huisgesin te klein was vir ‘n skaap- of boklam, kon bure dit onder mekaar verdeel volgens die aantal mense in die families.  Die lammetjie moes ‘n jaar oud wees en sonder enige liggaamsgebrek.  Elke familie het ook dieselfde roetine gevolg om teen laatmiddag te slag, die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis te smeer waar hulle die lammers sou eet.

Die lam moes ook daar dieselfde nag geëet word, gebraai nie gekook nie, met kop, pootjies, binnegoed en al.  Daarby moes hulle ongesuurde brood – simbool van die nuwe lewe wat God gee – en bitter kruie – simbool van die bitterheid van die tyd in Egipte – eet. Alles moes opgeëet word.  Alle oorskiet moes die volgende dag verbrand word.

Daarby moes hulle die maaltyd vier met hulle reisklere aangetrek as teken daarvan dat hulle bevryding gekom het en die maaltyd hulle die reg gee om bevryding uit die hand van die Here te ontvang.  Trouens, hulle mag die nag nie geslaap het nie, soos die voorskrif in vers 42 lui.

Die donker kant van die Paasfees sou wees dat die Here die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, sou uitwis.  Dit sou ‘n teken wees dat Hy sy oordeel oor al die Egiptiese gode voltrek.  Die Here se mag sou finaal en deurslaggewend gedemonstreer word aan die hele Egipte.  Daarmee sou Hy sy Heerskappy oor alles aan almal bekend maak.

Die Israeliete sou die oordeel vryspring weens die bloed aan die huise.  Daarom sou dit ‘n gedenkdag word wat as ‘n fees tot eer van die Here gevier is as ‘n vaste instelling.  In die toekoms sou die fees sewe dae duur waarin veral die verwydering van suurdeeg ‘n belangrike rol sou speel.  Daarom is dit ook die fees van die ongesuurde brood genoem.  Let ook op dat die opdrag hiervoor eintlik twee keer herhaal word, hoewel die inhoud effens verskil.  Dit was werklik ‘n belangrike opdrag van die Here.

Moses dra die opdrag aan die Israeliete oor en hulle gehoorsaam dit – 12:21-28
Moses het die praktiese reëlings hier rondom aan die leiers van die volk uitgestippel

Die bossie hissop wat hulle gebruik het is heel waarskynlik Origanum Maru wat deel van die kruisement familie is wat die ruik van die bloed met die kruie se aromatiese geur sou beperk het.  Sommige verbind dit met marjolein.  Daarmee moes die bloed aan die deurkosyne gesmeer word waarna hulle die nag nie by die deur moes uitgaan voor die volgende môre nie.

Die bloed sou die plaag van die Here beperk tot die Egiptenare.  Die Israeliete sou oorgeslaan word – “passed over” – deur die dood deurdat die “vernietiging” of “vernietiger” – soos dit vertaal kan word – met die tiende plaag sou verbygaan.  Dit is ‘n duidelike voorafskaduwing van die bloed van Christus, die NT Paaslam, wat die toorn van God teen die sonde van die wêreld gedra het, soos ons ook in die Nagmaal vier.

Die kinders se nuuskierigheid oor dié voorskrif wat vir altyd eerbiedig moes word, sou die geleentheid skep dat ouers hulle deel kon maak van die geloofsverhaal van Israel: “Dit is ‘n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.

In aansluiting by beide die Paaslam en die verwydering van suurdeeg uit die Israeliete se huise skryf Paulus later dat die suurdeeg van onsedelikheid vanuit die geloofsgemeenskap verwyder moet word: “Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus.” (1 Kor. 5:6-7).  In die NT konteks verwys die suurdeeg van die Paasmaaltyd dus na die etiese voorskrifte rondom onsedelikheid wat steeds die NT geloofsgemeenskap moes struktureer.

Die volk het die aand die voorskrifte rondom die Paasmaaltyd nougeset uitgevoer na hulle in aanbidding voor die Here gebuig het.  Die Paasfees sou ‘n kragtige getuienis word wat ook die nageslagte in aanbidding voor die Here sou laat buig.

Die Here tref die Egiptenare met die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes – 12:29-30
Die reeks plae kulmineer dus om middernag in die handeling van die Here wat: “elke eersgeborene van Egipte laat sterf het, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere.”  Die hoogste boom in Egipte sowel as die laagste struik in die tronk is deur dieselfde lot getref.  En niemand kon iets daaraan doen nie.

Soos die farao en sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag bewus geword het van die ellende wat hulle getref het, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan.  Daar was nie ‘n enkele Egiptiese huis sonder ‘n sterfgeval nie.  Die verlossende oordeel van die Here het daarvoor gesorg.

Die farao laat die Israeliete trek – 12:31-42
Die verlossing van Israel het daarna amper onmiddellik in vervulling gegaan, want dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en opdrag gegee om pad te gee onder sy mense uit.  Sy afskeidswoorde is ‘n hulpgeroep dat hulle vir hom sal bid, hoewel dié verootmoediging van korte duur was.  Kort voor lank sou hy hulle weer probeer inhaal om hulle weer onder sy beheer te probeer kry.

Dieselfde aandrang het van die ander Egiptenaars gekom.  Die Israeliete was ook nie links nie en het die pad gevat – hulle was immers reeds aangetrek met reisklere – met ongesuurde brooddeeg as padkos, en kosbare silwer- en goue goed sowel as klere wat hulle van die Egiptenare geëis het.  “Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het.

Hulle het die roete van Egipte af na Sukkot toe geneem.  Dit is waarskynlik Tell el Maskhuta in die stad Ismailia wat vandag aan die westelike oewer van die Suez kanaal geleë is.  Hulle was sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet.

Die Hebreeuse woord ʾě·lěp̄  kan in die betekenis van “duisend” vertaal word, soos dit meesal in vers 37 vertaal word.  Die woord kan egter ook in die betekenis van “afdelings” van óf ‘n stam (1 Sam. 10:19) óf ‘n gebied (1 Sam. 23:23) gebruik word.  Indien ‘n mens die betekenis van “afdelings” hier sou kies, beteken dit dat die getal Israeliete wat die Trek meemaak dramaties verminder word.

Dit word gerugsteun deur die feit dat die Israeliete met hulle eerste geveg in die woestyn bang was vir die nomadiese volk van die Amalekiete (Eks. 17).  Dit is dus onwaarskynlik dat die Israeliete baie meer sou wees as die Amalekiete.  Die Here belowe ook by Sinai dat Hy die Intog proses stadig sal laat verloop, omdat hulle nie onmiddellik genoeg sou wees om die hele land volledig te besit nie: “Ek sal hulle egter nie dadelik voor jou uitdryf nie, sodat die land nie leeg lê en die wilde diere te veel word nie. Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor jou uit verdryf totdat jou mense genoeg is om die land in besit te neem.” (Eks. 23:29-30).  Moses beskryf die volk ook in Deuteronomium as ‘n “klein volk” (Deut. 7:7).

Dit beteken dat ‘n mens moontlik eerder aan ‘n kleiner groep moet dink wat die Trek die woestyn in onderneem het.  Die logistiek van ‘n kleiner groep in die woestyn sou baie makliker in terme van vervoer en watervoorsiening gewerk het.  Dit maak nie afbreek aan die wonders wat in elk geval met dié Trek nodig was om dit vir die Israeliete moontlik te maak om die uitdagings van die woestyn te hanteer nie.  Die manna en kwartels, die water en die wolkkolom, die verskyning van God en die gawe van die wet was steeds deel van God se wondervoorsiening.

Interessant genoeg was daar ook ‘n menigte mense van ander afkoms wat met hulle saamgegaan het saam met groot troppe kleinvee en baie beeste.  Van Jetro se mense sou ook later by hulle aansluit.

Let op na die kommentaar in die teks oor die datum van die Paasfees wat: “presies op die dag waarop die fees nou gevier word“, is wat vir jou ‘n duidelike aanduiding gee van die hand van die latere redakteur(s) van die boek.

Die skrywer som die deurslaggewende moment in Israel se geskiedenis as volg op: “Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 306 “U Christus is my lewe vs 1,2,3,4,5”

Aanvangswoord: Psalm 149

Seëngroet  

Lied 241 “Troue Here van my lewe 1,2,3”

Wet: Romeine 13:8-14

Verbintenis: Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Geloofsbelydenis: Blydenuus van geloof

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Eksodus 12:1-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied  277 “U wat van ouds af ons behoed 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 306 “U Christus is my lewe vs 1,2,3,4,5”

Aanvangswoord: Psalm 149
4Die Here is goed vir sy volk,
Hy kroon die hulpeloses
met oorwinning.
2Laat Israel hom verheug in sy Maker,
laat die volk van Sion jubel
oor die Here hulle koning.

Seëngroet  
Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou.
As ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie (uit Ps 146:6 en 2 Tim 2:13).

Lied 241 “Troue Here van my lewe 1,2,3”

Wet: Romeine 13:8-14

Liefde is die volle uitvoering van die wet
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” yof watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” z10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Verbintenis: Lied  334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Geloofsbelydenis: Blydenuus van geloof
(Gebruik dalk slegs dele daarvan)
Ek glo in God die Vader
die Almagtige Maker
van alles in die hemel
en alles op die aarde.
Ek glo in hierdie Vader
met die wondernaam:
“Ek is wat Ek is,”
werkwoordelik onvoltooid
voortdurend God.
Ek glo in hierdie Vader
van wie Moses slegs die rug
kon sien toe hy gevra het:
“Wys my U gesig.”
Ek glo in hierdie Vader
die God wat Liefde is
en ons na hierdie aard gevorm het
tot vlees uit stof,
en dit gevul het met Sy Gees
sodat ons uit gewone mensesaad
mense na Sy beeld kan maak:
om hierin onsself te wees –
om lief te hê
sonder vrees.
Ek glo in hierdie Vader
wat die waters uit Sy hemel gee
as teken van Sy seën
sodat elke volk –
wit en bruin en swart –
in eie taal die Heer kan loof
en heersend oor die Skepping
voort kan gaan
om groente in akkers te plant,
daarvan te eet en te dank.
Ek glo in hierdie Vader
wat Hom geopenbaar het in sy Seun,
die Mens wat tussen ons kom woon het
as die Waarheid teen die leuen:
“Sien dan dié Mens! – die geheim van My gesig.”

Ek glo in hierdie Seun,
die Timmerman van Nasaret,
wat gekom het
en kom om ons te ken
elkeen na sy naam ­
in die fynheid en die grofheid van sy grein
en in die jaarringe van sy pyn.
Ek glo in Jesus Christus,
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ’n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota –
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou ­–
styf teen die braille van Sy lyf.

Ek glo in die Heilige Gees,
die Wind van God,
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal ­
weg van myself, weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.

Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei
tot nuwe skeppingswerk;
om alle mense
met geloof en hoop en liefde te verbind
aan die Koninkryk van God se Kind.

Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
wat kniel voor die heiligheid van God.
Ek glo aan die vergiffenis ­
dat genade altyd groter is
as my sonde en geskiedenis.
Ek glo aan die heropstanding van die liggaam
want ek glo in Christus.

Ek glo aan die ewige lewe
wat hier begin
en ná die dood
die blydenuus bly sing.
(Outeur: Wilhelm Jordaan)

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5′

Liedere

F43. “As Die Son Opkom”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

1. As die son opkom
en die nuwe dag ontvou,
sien ek die liefde van die Heer.
In die donker nag
sien ek die grootheid van die Heer
in al die sterre in die hemelsfeer.
Dan sal ek sing en die lof
en die eer aan die Here bring.
Ek sal sing en die lof
en die eer aan die Here bring.

2. Ek hef my hande op
Om die Here te vereer
Vir Sy genade dag na dag
As ek Sy handewerk
In my lewe ook aanskou
Staan ek verwonderd oor Sy krag
Dan sal ek sing en die lof
en die eer aan die Here bring
Ek sal sing en die lof
en die eer aan die Here bring

F93. “God Van Krag”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en vertroue)
Teks en Musiek: JA de Beer
© 2005 Urial Publishing
(Opgeneem op Uit dieptes)

God van krag
U stem kom skeur die hemel
soos weerlig in die nag.
U woorde vernietig elke twyfel
en vrees,
want U lewe.  U lewe!

Ek sal sing al huil die stormwinde,
al dreun die vloed met mag.
Die Ewige vlam van hoop brand
diep in my, want U leef.  U leef!
U lewe.

Meer as wat ek kan dink
of kan droom,
kan U waar maak in my lewe.
U regeer oor my donkerste nag.
Ek vertrou U, God van krag.

my God van krag,
My God van krag.
My God van krag.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, skenk aan my uit u genade

  • lig waar ek net donker sien
  • moed waar ek vrees
  • hoop waar ek wanhoop
  • vrede waar my gemoed storm
  • vreugde waar ek hartseer is
  • krag waar ek swak is
  • wysheid waar ek verward is
  • sagtheid waar ek bitter is
  • liefde waar ek haat
  • vergifnis vir my sonde
  • Úself in die plek van mýself

Here, Here, skenk aan my Úself!
Amen.
Gebed deur Howard Thurman in Gebedeboek met liturgiese voorstelle, Lux Verbi.BM 2001 (red Johan van der Merwe) bl 44-45.

Skriflesing: Eksodus 12:1-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vertel die 10 plae vir die kinders op eenvoudige wyse. ’n Afrikaanse vertelling is hier beskikbaar en bevat ook ander grafika. Die doel is om by die tiende plaag uit te kom.

Verbind dan die Paasfees (pass over) aan die tiende plaag volgens die teks in Eksodus 12.

Gee vir ’n paar kinders iets om te proe: Gebreekte stukkies matzos in ’n bordjie, en ’n paar opgesnyde stukkies oorskiet braaivleis van Saterdag. Braai spesifiek Saterdag 1 porsie sonder enige sout maar sprinkel met (bitter) kruie soos oreganum. Die bedoeling is dat kinders self kan proe hoe smaak brood sonder suurdeeg en vleis met bitter kruie. En onderstreep hoedat die opoffering beteken het die eersgeborenes van die Israeliete “passed over” was.

Preekriglyn

Wanneer mens die boek Eksodus deurgelees het, het jy die basiese woordeskat van die Evangelie leer ken. Woorde soos bloed, verlos, offer, eer en heerlikheid of glorie, wet, tabernakel of woning, en Paasfees is almal hier. Dit is woorde wat die groot verlossende drama beskryf waarin God vir Godself ‘n volk red en ‘n nuwe mensheid skep.

Wanneer ons Eksodus lees, ontmoet ons God as die Verlosser van sy mense, ‘n versorgende God, ‘n teenwoordige God, by sy volk terwyl hulle op reis is van Egipte na Kanaän, van die plek van slawerny tot by die land van belofte en verlossing.

Daarom is die geskiedenis wat Eksodus vertel so belangrik. Die woord Eksodus beteken letterlik “‘n pad of weg uit”. Die boek vertel hoe God “‘n pad uit” vir sy volk voorsien het, hulle wat slawe in Egipte was. Moses staan sentraal in die gebeure. God berei hom voor, roep hom om Farao uit te daag, sy volk uit slawerny uit te lei, en dan die leier te wees op die reis na die beloofde land. Die instelling van die Pasga, net voor die bevryding uit die land, en die ontmoeting met God by Sinaiberg waar God met sy volk praat, vir hulle wetgewing en onderrig gee, staan sentraal in die gebeure.

Die tien plae

Ons teks speel af in die konteks van die tien plae wat God oor Egipte laat kom, omdat die Farao hardnekkig weier om die Godsvolk te laat trek. Elke plaag ontwrig en bring ellende, maar elke keer weier die Farao om God se opdrag uit te voer en die slawe te laat trek.

Die tiende plaag sou Egipte verskriklik swaar tref. Elke eersgebore kind in Egipte sou sterf. Van al die plae sou dit die kragtigste teken van God wees dat God die ware God is, en dat God se opdragte uitgevoer moet word. God is die Een wat die onderdrukking en uitbuiting van die slawe beëindig, en uit hierdie slawevolk sy uitverkore volk sal maak om seën en verlossing aan al die nasie te bring.

Die plae was nie net ‘n oordeel oor Egipte nie, maar ‘n manier waarop God Homself bekend gestel het aan die mense van Egipte. Hulle het telkens die opsie gehad om voor God se gesag te buig, maar Farao het daarvoor telkens nee gesê.  Ook Israel moes leer dat die Here God is. In Eks. 14:31 is dit presies wat beskryf word. Die plae het hulle geloof in God versterk.

Instelling van die Paasfees

Daar vind ‘n belangrike verandering in die aard van ons teks plaas. In die eerste elf hoofstukke van Eksodus het ons met vertellings te doen. Die geskiedenis van Moses, God se opdragte en die sending van Moses na Egipte word in die toonaard van verhale vertel. Die gebeure het ‘n duidelike tydlyn, en die opeenvolging van gebeurtenisse is belangrik.

In hoofstuk 12 het ons skielik met opdragte en reëlings te doen. Dit is amper of ons skielik wetgewing kry. Daar word ‘n spesifieke godsdienstige ritueel aan die Israeliete voorgeskryf. Die Paasfees of Pasga word ingestel. Hierdie reëlings is so belangrik dat dit elke jaar herhaal moet word. En die datum is so belangrik, van nou af sal dit die eerste maand (Abib of Nisan) van die Joodse godsdienstige kalender wees.

Die res van die Ou Testament kyk telkens terug op die eerste Paasfees, en noem dit die hoeksteen van God se verlossing van Israel.

Sterwe van die Paaslam

God se volk sou danksy die Paasfees die oordeel gespaar word wat die hele Egipte sou tref. Ook Israel sou slegs aan die sterwe van die eersgebore ontsnap deur die dood van ‘n plaasvervanger: ‘n lam moes geslag word en die bloed aangebring word op die deur van hul huise. Dood het elke huis in Egipte getref: óf die dood van die eersgeborene, óf die dood van die Paaslam.

Nie enige lammetjie kon geslag word nie. Dit moes ‘n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, ‘n skaap of ‘n bok (5). Dit moes in ‘n goeie kondisie wees. Elke huishouding moes as’t ware gaan skuil onder die bloed van die lam, of sterf. Die dood van die lam het ‘n tweeledige doel gehad: die bloed van versoening en verlossing is aan die sykante en bokant van die deurkosyn gesmeer, en die lammetjie self is geëet. Op hierdie manier het elkeen ‘n persoonlike belang gekry in die lam wat om hulle ontwil geslag is.

Eintlik was die bloed van die Paaslam nie net ‘n teken vir Israel nie, maar ook vir God. God sê: “Waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.” (13). Die beginsel van “oorslaan” of “pass-over” is letterlik waar die Pasga of Paasfees sy naam vandaan kry. Dit is die oorslaan van mense wat in God se opdragte en God se fees van versoening skuiling gaan soek.

Wat het gebeur?

Wat hier gebeur het, is onduidelik: of dit een of ander plaag of epidemie was, weet ons nie. In die geheue van die Israeliete sou dit voortleef as ‘n wonderbare ingrype van God waardeur hulle vyande se mag gebreek is en hulle vryheid verkry is. Die teks plaas dan ook in vers 12 en 13 opvallend klem daarop dat dit ‘n daad van die Here persoonlik was; alle werkwoorde is in eerste persoon enkelvoud. Dit word versterk deur die invoeging van die uitspraak: “Ek is die Here!” Hierdie uitspraak, of eerder aanspraak, staan juis in kontras met die posisie van die Egiptiese gode, hulle beskermers. Die gode is magteloos en passief. Hierdie plaag is ten diepste oordeel, die toedien van wat hulle toekom, dit is toepassing van geregtigheid.

‘n Permanente fees

Ons teks is meer as ‘n stel instruksies vir ‘n spesifieke nag. Hierdie is die eerste voorkoms van ‘n godsdienstige geleentheid wat van nou af jaarliks herhaal moet word. Dit dien as ‘n herinnering aan die groot verlossing uit Egipte. Dit sal gepaard gaan met die eet van ongesuurde brood (sonder suurdeeg gemaak) en met bitter speserye.

Die jaarlikse herdenkingsfees sal ‘n gereelde herinnering wees. Ons teks het daarom ten doel om nie net van die uittog en redding te vertel nie, maar ook die begronding te wees vir die jaarlikse fees.

Wet en dankbaarheid

Soos vroeër gesê het ons duidelik regulasies, wet, opdragte in hierdie teks. Die verteltrant van Genesis en Eksodus (tot dusver) word opgeskort en die Here gee spesifieke opdragte.

Hierdie opdragte het ten doel om die volk Israel se nuwe identiteit uit te spel. Dit word opgevolg met meer wette later in Eksodus, wat by Sinaiberg gegee word. Dink maar net aan die tien gebooie.

Dit is geen wonder dat ons tot vandag toe gelowige Jode “praktiserende Jode” noem nie. Om ‘n Jood te wees, is om sekere dinge te doen. Ons moenie dink die Jode het gedink die doen van die wet red hulle nie. Dit was (of is) nie ‘n werke-godsdiens, waar goeie werke die Jood red nie. Hierdie “wette” (die instelling en onderhouding van die Paasfees) is ‘n dankbare reaksie op die vaste en seker redding uit Egipte wat God reeds aangekondig het. Dis ook waar van die tien gebooie: dit begin met God wat die verlossing uit Egipte bewerk het, en vertel dan vir die volk Israel wat hulle uit dankbaarheid moet doen.

Vir ons as Protestante het dit ‘n besliste boodskap. Ons is dikwels van mening jy moet net instem met ‘n lysie waarhede. Ware geloof vir ons is om die regte feite en waarhede te glo. Net ons verstand is betrokke. Ons hou dikwels ook nie van vaste roetine, soos voorgeskryf in die Pasga, nie.

Gevolglik kan ons glo sonder dat ons lewens verander. Ons teks beklemtoon dat ons identiteit as gelowiges en die uitleef van ons geloof alles met doen, aksie, en ons godsdienstige vormende praktyke te doen het. In ander taal kan ons sê: mens kan nie ‘n Christen wees en jou van die kerk, van die geloofsgemeenskap, afsonder nie. Jy kan nie kerk wees en jou afskei van die vier van die sakramente en die praktyke van die erediens nie. Op hierdie manier kry die geloofswaarhede waaraan ons ons verbind immers praktiese toepassing in ons lewens.

Verlos met ‘n doel

Israel se verlossing is nie blote bevryding nie. Dit is bevryding met ‘n spesifieke doel. Daar word ‘n volk van God uit hulle gevorm. Hulle kry ‘n nuwe identiteit. Verlos van tirannie, word hulle nou die onderdane van ‘n vormende en versorgende Koning wat hulle leer hoe om reg te lewe. Sy las is lig en sy juk is sag.

Hierdie Koning verdruk nie, maar bring volheid van lewe en oorvloed. Die res van Eksodus vertel hoe God die bevryding uit Egipte voltooi het en hoe God voortgegaan het om die volk te leer hoe verloste mense moet lewe.

Ons word gered om as God se mense te lewe. Daarom kan ons van God se koninkryk sê:

  • Die koninkryk het altyd ‘n Koning, die Een wat regeer en die pad aanwys
  • Die koninkryk het onderdane: daar is mense wat God dien
  • Die koninkryk het ‘n wet: daar is vormende onderwys en gedragsreëls wat geld
  • Die koninkryk loop uit op ‘n land: God is koning oor ‘n gebied, ja, God is koning oor die hele aarde

God se verlossing dien die doel van die vestiging van God se koninkryk.

Betekenis

Hierdie teks het ‘n ryke betekenis, ook vir Nuwe Testamentiese gelowiges.

Soos ons aan die begin gesê het, leer mens in ons teks die grammatika van verlossing ken. God red mense onder die juk van slawerny uit, en maak van hulle sy volk. Ons is nie in Egipte nie, en ons is nie onder die juk van Farao nie. Maar ons ken as gelowiges die verlossende krag van God, die Een wat ons vry maak om aan Hom te behoort.

Dit is duidelik dat ons almal verlossing nodig het. Mens is nie maar vanself reg en aanvaarbaar nie. Ons het nodig om gered te word, van die sonde en die band van verslawing wat dit meebring.

Ons weet ook dat verlossing ons deel maak van God se volk. Dit maak ons deel van die ritmes van geloof waar ons bymekaar kom om ons geloof en die ryke inhoud daarvan te vier. Geloof is nie net verstandelike kennis nie, geloof is ‘n praktyk, ‘n handeling, ‘n viering – spesifiek in die erediens. Geloof is ‘grootliks n geloofspraktyk.

Die instelling van die Pasga veronderstel deurgaans dat gelowiges terugdink aan wat God in Egipte gedoen het. Die gelowiges dink ook toekomsgerig: hulle weet dat God hulle op die pad vorentoe sal bewaar, juis op grond van sy reddende dade in die verlede. Terwyl hulle die Pasga vier, hoop hulle ook op hul volkome verlossing, die beloofde land wat wag, die koms van die Messias en die heerlikheid wat God sal laat aanbreek. Geloof gebeur tussen herinnering en hoop.

Ook in die Nuwe Testament is geloof ‘n balans tussen herinnering en hoop. Die Pasga is opgevolg deur die Nagmaal. In die nagmaal dink ons terug aan die grootste reddingsdaad van alle tye: Jesus se verlossing aan die kruis. Die tekens van brood en wyn herinner ons hieraan. Maar in die brood en wyn proe ons ook al reeds iets van die groot feesmaal wat met die tweede koms van Jesus sal aanbreek. Wat hou ons staande? Juis die praktiese viering van ons geloof in die hede.

Ons teks openbaar vir God as ‘n aktiewe God. God werk, handel, doen, laat gebeur. God hoor die ellende van sy volk en reageer daarop. Waarom God soms lank wag, en waarom God anders optree as wat ons graag sou wou hê, is nie aan ons gegee om te verstaan nie. Maar dat niks buite God se teenwoordigheid om gebeur nie, dit is ons troos.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 277 “U wat van ouds af ons behoed 1,2,3,4,5”

Seën
Ek sal jou seën
en jou iemand van groot betekenis maak,
en jy sal tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën.
In julle verbondenheid met Jesus
sal die volke van die aarde geseën wees.
(Genesis 12)
(Preekstudies van Bybelmedia, 05/06, p217)
of
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is binne jou om jou te lei deur sy Heilige Gees.
Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.
Amen.
Outeur: Vroeë kerk in Gebedeboek met liturgiese voorstelle, Lux Verbi.BM 2001 (red Johan van der Merwe) bl 99.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.
2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.
3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.