Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Preekbundel
This content is only available to members.

Sections

Oorsig

Dit gaan in hierdie tekste oor God se teenwoordigheid en voorsienigheid, oor hoe ons in sy teenwoordigheid leef, en oor wat dit beteken om Hom na te volg.

Sleutelteks

Romeine 12:9-21

RIGTINGWYSERS VIR GELOWIGES
9Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. 10Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. 11Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. 13Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. 14Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. 17Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel.

Daar staan immers geskryf:
“Aan My kom die wraak toe;
Ek sal vergeld,”
sê die Here. 20Maar:
“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink.
Deur dit te doen,
stapel jy vurige kole op sy hoof.”
21Moenie dat die kwaad
jou oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
met die goeie.

Ander tekste

Psalm Psalm 105:1-6, 23-26, 45b
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.

7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy
aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy
met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig
as ’n vaste toesegging,
vir Israel as verbond
wat altyd sal bestaan.
11Hy het gesê:
“Ek gee Kanaän vir jou
as grondgebied en eiendom.”
12Toe hulle nog maar min was,
net ’n paar mense,
en vreemdelinge in die land,
13toe hulle van volk na volk
geswerf het,
van die gebied van die een volk
na dié van ’n ander,
14het Hy niemand toegelaat
om hulle te verdruk nie,
en het Hy selfs konings
ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie,
moenie my profete kwaad aandoen nie!”
16Toe Hy hongersnood
oor die land gebring het
en al hulle kos laat opraak het,
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur:

Josef is as slaaf verkoop.
18Hulle het sy voete geboei
en hom in die gevangenis gehou
19totdat sy woorde bewaarheid is,
nadat hy die toets deurstaan het
met wat die Here aan hom
bekend gemaak het.
20Toe het die koning hom
uit die gevangenis laat uitkom;
die heerser oor baie volke
het hom vrygelaat
21en hom aangestel as hoof
van die koninklike huishouding,
met gesag oor al sy besittings.
22Josef kon
die amptenare van die koning
na goeddunke beveel
en selfs aan hoë amptenare leiding gee.
23Israel het na Egipte toe gekom,
Jakob kon in die land van Gam
gaan woon.
24Die Here het sy volk
baie vrugbaar gemaak,
talryker as hulle onderdrukkers.
25Hy het die gesindheid
van die Egiptenaars verander,
sodat hulle sy volk gehaat
en vyandig opgetree het
teenoor sy dienaars.
26Die Here het Moses, sy dienaar,
gestuur,
en vir Aäron, die man
wat Hy verkies het.
27Onder die Egiptenaars het hulle
die tekens van die Here gedoen,
sy wonders het hulle gedoen
in die land van Gam.
28Hy het duisternis gestuur,
dit donker gemaak,
maar hulle het hulle
teen sy opdrag bly verset.
29Hy het hulle waters in bloed verander
en hulle visse laat vrek.
30Hulle land het gekrioel
van die paddas,
selfs tot in hulle koning
se slaapkamer.
31Die Here het beveel
en daar het insekte gekom,
muggies oor hulle hele gebied.
32Hy het hulle reëns in hael verander
en swaarweer
oor hulle land gestuur.
33Hy het hulle wingerdstokke
en vyebome vernietig
en die bome in hulle gebied
stukkend geslaan.
34Hy het beveel
en daar het sprinkane gekom,
ontelbaar baie sprinkane.
35Hulle het al wat groen was
in die Egiptenaars se land verslind
en al die gesaaides van hulle lande
afgevreet.
36Al hulle oudste seuns in die land
het Hy laat sterwe,
al hulle eersgeborenes.
37Toe het Hy sy volk uitgelei,
belaai met silwer en goud.
In geeneen van die stamme
het iemand uitgesak nie.
38Die Egiptenaars was bly
dat hulle vertrek het,
want hulle was skrikbevange
oor die Israeliete.
39Die Here het ’n wolk uitgesprei
as beskutting oor hulle
en ’n vuur gegee
om lig te maak in die nag.
40Toe hulle kos vra,
het Hy kwartels laat kom
en sy volk met brood uit die hemel
versadig.
41Hy het ’n rots oopgebreek
en daar het water uitgestroom
wat soos ’n rivier
deur die dorre gebied gevloei het.
42Ja, Hy het sy heilige belofte
aan sy dienaar Abraham
gestand gedoen
43en sy volk juigend,
sy uitverkorenes jubelend
laat voorttrek.
44Vir hulle het Hy
die heidene se lande gegee;
wat deur ander volke
met moeite verkry is,
het hulle in besit geneem.
45Daarom moet hulle

sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Eksodus 3:1-15
God openbaar Hom aan Moses
3 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ’n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”

En hy antwoord: “Hier is ek.”

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”

Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

Matteus 16:21-28
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Mark 8:31–33; Luk 9:22)
21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Mark 8:34–9:1; Luk 9:23–27)
24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe? 27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. 28Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Leesrooster vir Lidmate

Romeine 12:9-21
Ongeveinsde, innige liefde vir geloofsgenote laat nie ruimte vir wraak nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.

Moment 1

Ons begeer ‘n lewenswyse wat vir God aanneemlik is
In Romeine 12 roep Paulus die gelowiges op om hul liggaam beskikbaar te stel as ‘n offer wat vir God aanneemlik is (v 1). Hy praat verder oor gelowiges se optrede in die gemeente as een liggaam in Christus en lede van mekaar (v 5). Dan (v 9-21) gee hy rigtingwysers vir gedrag in die daaglikse lewe wat uitdrukking gee aan hul eenheidskarakter en gedrag wat vir God aanneemlik is. “Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie” (v 9, 2020-vertaling). Hoe kan jy jou gawes vrywillig aanbied binne jou geloofsgemeenskap as offer wat vir God aanneemlik is?

Moment 2

Ons word aangedryf deur Jesus se vergewensgesindheid
Paulus vind dit nodig om die gelowiges in Rome aan te praat oor mense wat neig om wraak te neem. Dit was (is moontlik steeds) klaarblyklik aanvaarde sosiale gedrag. Dit klink of Paulus in vers 17 ‘n aanvaarde lewensfilosofie uitlig: “Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie.” Dit is immers die grondslag vir sosiale gedrag en ‘n lewenshouding wat werk met wraak. Watter beeld kom by jou op as jy die woord wraak hoor? Het dit ‘n smaak of kleur? Hoe sal jy as dienskneg funksioneer in ‘n gemeenskap waar wraak (kwaad met kwaad vergeld) gangbaar is?

Moment 3

Ons maak ruimte vir ander sodat God se vrede aangegee kan word
Paulus suggereer ‘n alternatiewe lewenshouding met gepaardgaande gedrag. Hy erken klaarblyklik in vers 18a hoe uitdagend sy alternatiewe voorstel in ‘n kwaad-vir-kwaad-samelewing vir die gelowiges in Rome sal wees: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang …” (2020-vertaling). Nietemin, daar is ‘n alternatief wat ruimte laat vir God se oordeel (v 19). Laat die regstelling van onreg aan God oor. Lê julle daarop toe om in vrede (Grieks – eirēneuontes) met alle mense te leef. Nie kwaad vir kwaad nie, maar leef en laat leef. Hoe kan jy fasiliterend funksioneer om ‘n konteks van vrede te skep?

Moment 4

Ons aanvaar die uitdaging van ‘n radikale alternatiewe leefwyse
Paulus daag sy lesers uit om radikaal (radix – vanuit die wortel) nuut te dink, te oriënteer en te doen. Hoe oorwin ‘n mens die kwaad en ‘n wraakgerigte lewenshouding? Paulus gebruik die Griekse woorde nikō (oorwin, v 21) en echthros (vyand, v 20) om die radikaliteit van sy onderrig te verwoord. Gelowiges is in ‘n kompetisie, stryd, wedstryd, selfs geveg (oorlog) gewikkel. Kwaad word alleen deur die goeie oorwin. In Koninkrykstyd val die klem op God se koningskap en heerskappy. Hoe sal jou bord kos en koppie water aan ‘n vyand (v 20) God se heerskappy aan die lig laat kom? 

Liturgie

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1” (+ latyn)

Aanvangswoord: – uit Psalm 105:4-6

Seëngroet: (Openbaring 1)

Lied: 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet (Fokusteks)
Romeine 12:9-21

Skuldbelydenis
Soms slaan die Woord jou tussen die oë… soos met Moses op die berg…
Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. (Eks 3:6b)
Lied 232 Diep o God diep neergeboë vs 1

Vryspraak
Maar Moses sou ook ‘n besondere kant van God se aard ontdek…

Geloofsbelydenis
Jesus het self geleer…
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.” (Matteus 16)
Ons bely wat ons glo…

Apostoliese Geloofsbelydenis

of die alternatief uit die Preekstudie vir vandag:

Loflied: 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Romeine 12:9-21

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Seën: (2 Tessalonisense 1)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,

of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1” (+ latyn)

Aanvangswoord: – uit Psalm 105:4-6
Ons soek hulp en beskerming by die Here.
Ons is in sy teenwoordigheid.
Ons dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het,
aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel.
Ons is die nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.

Seëngroet: (Openbaring 1)
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Lied: 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet (Fokusteks)
Romeine 12:9-21

RIGTINGWYSERS VIR GELOWIGES
9Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. 10Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. 11Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. 13Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. 14Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. 17Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf:
“Aan My kom die wraak toe;
Ek sal vergeld,”
sê die Here. 20Maar:
“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink.
Deur dit te doen,
stapel jy vurige kole op sy hoof.”
21Moenie dat die kwaad
jou oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
met die goeie.

Skuldbelydenis
Soms slaan die Woord jou tussen die oë… soos met Moses op die berg…
Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. (Eks 3:6b)

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1″

Vryspraak
Maar Moses sou ook ‘n besondere kant van God se aard ontdek…
12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.” (Eks 3)
en in die Nuwe Testament… (Johannes 3)
16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Geloofsbelydenis
Jesus het self geleer…
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.” (Matteus 16)
Ons bely wat ons glo…

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

of die alternatief uit die Preekstudie vir vandag:
Die toekoms saam met God:
1. ’n Toekoms vol nuwe moontlikhede: Dis wonderlik om ’n pad te stap met die God wat Homself ontperk het deur te sê: “Ek is wat Ek is.”
2. ’n Toekoms van potensiaal: Ons is gegrond in die onbeperkte potensiaal van ons Skepper.
3. ’n Toekoms van feesvier: Ons kan ons bestaan vier, want God het ons na ons aard gemaak om die lewe te geniet.
4. ’n Toekoms met ’n nuwe selfwaarde: Die God wat sê “Ek is wat Ek is”, het daarmee bevestig dat Hy teenwoordig is. En dat ons die belofte van sy ewige teenwoordigheid het. Dit gee aan ons waarde, ’n waarde wat ons elke dag nuut moet besef.
5. ’n Toekoms met al twee voete op die aarde: God het die werklikheid geskape. Ons hoef nie daarvan weg te vlug nie. Dis ons s’n.
6. ’n Toekoms met die krag om weg te breek: God ontperk ons om ook te kan sê: “Ek is wat ek geskape is om te wees.”
7. ’n Toekoms met ’n vooruitsig: Die God wat nuwe dinge doen, gee ons ’n blye uitsig op die toekoms.
8. ’n Toekoms van vars ontdekkings: Die God wat ons elke dag verras met sy teenwoordigheid, met sy “Ek is”, laat ons elke dag iets nuuts ontdek van menswees, van skoonheid, van oorlewing.
9. ’n Toekoms met werklikheid: Ek kan, soos God, sê: Ek is werklik. Ek is ’n werklikheid in hierdie wêreld. God het my geskapenheid herstel. God het my geskape en verlos om na my eie aard te bestaan, saam met God te bestaan en in verhouding met ander mense te bestaan. En om te bestaan in ’n wêreld wat my versorging en toewyding nodig het.
10. ’n Toekoms met betekenis: God is. Ek is. Die werklikheid is. Die werklikheid is goed. Die lewe het betekenis. Die lewe is nie futiel nie. Dis goed om by en in die wêreld betrokke te wees. Om deel van die werklikheid te wees.
– Christina Landman

Loflied: 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Liedere

F144. “God Is Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam’
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Here, skenk aan my uit u genade

  • lig waar ek net donker sien
  • moed waar ek vrees
  • hoop waar ek wanhoop
  • vrede waar my gemoed storm
  • vreugde waar ek hartseer is
  • krag waar ek swak is
  • wysheid waar ek verward is
  • sagtheid waar ek bitter is
  • liefde waar ek haat
  • vergifnis vir my sonde
  • Úself in die plek van mýself.

Here, Here, skenk aan my Úself!
Amen.
– Howard Thurman, in Gebedeboek met liturgiese voorstelle

Skriflesing: Romeine 12:9-21

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor die vis (salm) wat stroomop swem. Die teks in Romeine 12 vra ons ook soms om teen die stroom te swem. Maak dit prakties met voorbeelde uit hulle konteks. Sluit af met die karaktereienskap van liefde wat altyd sigbaar is in die kinders van die Here.

Salm is ‘n bekende vissoort in die Noordelike halfrond met baie unieke gedrag. (In Suid-Afrika kom salm nie natuurlik voor nie- ‘n soortgelyk visspesie wat ons ken is forel).

Wikipedia berig so daaroor…
Salmon (/ˈsæmən/; pl: salmon) is the common name for several commercially important species of euryhaline ray-finned fish from the family Salmonidae, which are native to tributaries of the North Atlantic (genus Salmo) and North Pacific (genus Oncorhynchus) basin. Other closely related fish in the same family include troutchargraylingwhitefishlenok and taimen.

Salmon are typically anadromous: they hatch in the gravel beds of shallow fresh water streams, migrate to the ocean as adults and live like sea fish, then return to fresh water to reproduce. However, populations of several species are restricted to fresh water throughout their lives. Folklore has it that the fish return to the exact spot where they hatched to spawn, and tracking studies have shown this to be mostly true. A portion of a returning salmon run may stray and spawn in different freshwater systems; the percent of straying depends on the species of salmon.[1] Homing behavior has been shown to depend on olfactory memory.[2][3]

Salmon are important food fish and are intensively farmed in many parts of the world,[4] with Norway being the world’s largest producer of farmed salmon, followed by Chile.[5] They are also highly prized game fish for recreational fishing, by both freshwater and saltwater anglers. Many species of salmon have since been introduced and naturalized into non-native environments such as the Great Lakes of North AmericaPatagonia in South America and South Island of New Zealand.[6]

Prior to spawning, depending on the species, salmon undergo changes. They may grow a hump, develop canine-like teeth, or develop a kype (a pronounced curvature of the jaws in male salmon). All change from the silvery blue of a fresh-run fish from the sea to a darker colour.

Salmon can make amazing journeys, sometimes moving hundreds of miles upstream against strong currents and rapids to reproduce. Chinook and sockeye salmon from central Idaho, for example, travel over 1,400 km (900 mi) and climb nearly 2,100 m (7,000 ft) from the Pacific Ocean as they return to spawn. Condition tends to deteriorate the longer the fish remain in fresh water, and they then deteriorate further after they spawn, when they are known as kelts. In all species of Pacific salmon, the mature individuals die within a few days or weeks of spawning, a trait known as semelparity. Between 2 and 4% of Atlantic salmon kelts survive to spawn again, all females. However, even in those species of salmon that may survive to spawn more than once (iteroparity), postspawning mortality is qite high (perhaps as high as 40 to 50%).
https://en.wikipedia.org/wiki/Salmon

‘n Inkleurprent aangeheg.


chinook-salmon-drawing-30.jpg (863×771) (getdrawings.com)

Preekriglyn

Paulus is vanaf hoofstuk 12 besig met ‘n nuwe gedeelte van die brief, gewy aan die oproep om in ooreenstemming met die verlossing te gaan lewe.

Paulus se voorskrifte het hoofsaaklik op verhoudings betrekking. Let op die talle verhoudings: met medegelowiges (12:10, 13, 15, 16); met vervolgers (12:14); met vyande (12:19-21); met alle mense (12:17-18). Vers 11-12 roer ook die verhouding met God aan.

Romeine 12:9-21 bou op dit wat Paulus in 12:1-8 leer: om jouself te offer aan God. As jy genade ontvang het en jouself offer as lewende offer in diens aan God (oorgegee aan God), beteken dit diensbaarheid en liefde teenoor jou naaste. Elke gemeentelid het wel afsonderlike genadegawes, maar alle gemeentelede het gemeenskaplik één groot gawe ontvang: die liefde wat alle ander gawes oorheers en beheer.

Vers 9-21 kom met die oproep dat die onderlinge liefde werklik uitgeleef moet word. Soos in 1 Korintiërs 12 en 13 word die bespreking van die verskillende gawes ook hier opgevolg met die oproep om die gawes in liefde uit te leef onder mekaar. (Interessante feit: Paulus het die brief aan die Romeine vanuit Korinte geskryf.)

Die begrip genade is die sleutel vir die regte interpretasie van wat Paulus hier bedoel. Die genade maak vry en bind die mens tegelykertyd aan die diens van God.

Paulus gee nou ‘n lang lys kenmerke van hierdie nuwe leefwyse.

Liefde wys die rigting

Die eerste en laaste verse van die gedeelte kan as opskrif daarvoor dien: Liefde oorwin die kwaad!

In vers 9-13 gee Paulus ‘n uitgebreide lys opdragte aan die Christene.

  • Die lys begin met liefde (9). Laat liefde sonder skynheiligheid wees. Die Griekse woord skynheiligheid (Anupokritos) beteken “om eg, opreg, nie skynheilig nie te wees”. Dit is die teenoorgestelde van die akteur (hypokritos, waaruit ons die woord hypocrite kry) wat agter ‘n masker skuil en gevoelens uitdruk wat uit ‘n draaiboek kom in plaas van uit die hart. Opregte liefde is sonder ‘n selfsugtige agenda.
  • Verafsku die kwaad, hou vas aan die goeie (9). Die woord verafsku wat hier gebruik word, beskryf die grootste afkeer denkbaar: wegdraai daarvan as die walglikste, verfoeilikste en afskuwelikste wat jy kan dink. Boosheid moenie net vermy of nagelaat word nie, dit moet doelbewus verafsku word.
  • Gelowiges moet mekaar liefhê met innige liefde en mekaar voorgaan in eerbetoning (10).
  • In vers 11 verskuif die klem na die verhouding met God. Die gelowiges word aangespoor om nie te verslap in hul ywer om die Here te dien nie. Hulle moet vurig van gees wees; letterlik ‘n gees wat brand of kook. Dien die Here in vers 11 praat van dien soos ‘n slaaf, diens onder slawerny. As Christene dien ons God onder verpligting.
  • Verder moet ons ons verbly oor die hoop wat God gee, standvastig wees in swaarkry en volhard in gebed (12). Hoop bestaan daarin dat ons God onwrikbaar vertrou en weet dat Hy sal doen soos Hy beloof. Daarom volg dan die oproep om voortdurend ywerig in gebed met God besig te wees.
  • Paulus vestig ons aandag in vers 13 op versorging van mekaar en om met mekaar te deel (Fil. 4; Rom. 15; 2 Kor. 8; Hand. 2 en 4). Gasvryheid moet letterlik nagejaag word.
  • By vers 14 verskuif Paulus sy aandag na mense buite die gemeenskap van gelowiges. Dit gaan oor mense wat hul kwaadgesind is en vervolg. Seën en moenie vervloek nie. Dit is ‘n byna onmoontlike opdrag wat Paulus hier voorhou. Hy herhaal waarskynlik sy Here Jesus se opdrag uit Matteus 5:42-48, naamlik om die onmoontlike te doen en volmaak te wees soos ons hemelse Vader volmaak is.
  • Vers 15 roep ons op om bly te wees saam met diegene wat bly is en te treur met diegene wat treur. Die oproep om werklik ingestel te wees op die medemens se emosies en belewenisse, en om naby mekaar te staan in enige omstandighede is belangrik vir elke slaaf van die hemelse Koning in hierdie lewe.
  • In vers 16 klink dit of Paulus nou weer met die mense binne die gemeente praat. Hulle moet letterlik dieselfde dinge bedink. Die een moet hom nie hoër ag as die ander of dink hy is slimmer nie, want dit verbreek eenheid.
  • In vers 17-19 beklemtoon Paulus die feit dat vergelding en wraak glad nie deel uitmaak van die gelowige se lewe nie. Rig jou gedagtes, bedink dit wat goed is en die vrede sal bevorder, en leef dit teenoor alle mense uit. Die gelowige moet onthou wat God beloof en wat God sal doen, en dit dan in sy hande los. Vyandskap moet nooit van God se kinders af kom nie. Geduld dui nie op passiewe volharding nie, maar aktiewe, standvastige volharding. Verdrukking dui nie op die een of ander klein speldeprik nie, maar op diep en ernstige moeilikheid wat ervaar word.
  • In vers 20 gee Paulus praktiese raad vir die uitleef van die liefde: “As jou vyand honger is, gee hom kos. As hy dors is, gee hom iets om te drink.” Dit sal hom skaam maak. Paulus haal Spreuke 25:21-22 amper woordeliks aan (sien ook Heb. 10:30).

Kom ons fokus nou die aandag op die boodskap van hierdie gedeelte vir ons lewe.

Soos Christus

Hierdie gedeelte wys een ding duidelik: Paulus het die leer van Jesus goed geken, veral die Bergrede. Die gelowige se liefde moet ‘n weerspieëling wees van God se liefde, wat volkome onverdiend, uit louter goedheid aan mekaar geskenk word sonder om te vra of dit beantwoord word of nie. Die prentjie wat hier geteken word, is dié van ‘n selflose mens wat deur die liefde bereid is tot diens aan die naaste en daarom ten volle na buite gerig lewe.

Geen valsheid

Eerbiedigheid, of liefde met ander bedoelings, word maklik deur mense valslik as blote meganisme gebruik om eie voordeel uit die betrokke verhouding te put. Jy sal byvoorbeeld eerbied aan jou baas by die werk bewys met die hoop om beloon te word; of aan jou werknemers om hulle nog harder te laat werk; of aan vermoënde mense sodat hulle jou saak sal borg; of aan gesagsdraers sodat hulle hul gesag vir jou en nie teen jou nie sal gebruik.

Dink ook aan die verkoopspersoon wat belangstel in ‘n persoon en sy familie as ‘n manier om vertroue te wen en produkte te verkoop. Selfs die dominee is soms in die versoeking om baie hoë prioriteit te gee aan die vul van banke en vergaderings en begrotings.

Mense gee maklik voor dat hulle ander liefhet; hulle praat vriendelik, maak nie ander se gevoelens seer nie en skep die indruk dat hulle regtig in die ander persoon belangstel. Dalk draai jy jouself ook hieroor ‘n rat voor die oë deur te dink blote ontsteltenis oor ander se onreg of ontroering oor ander se nood is regtig liefde. Die liefde waartoe God ons oproep, gaan egter baie dieper as oppervlakkige emosies of gedissiplineerde gedrag teenoor ander. Liefde moet oorgaan in dade.

Liefde gee die toon aan

Paulus noem liefde eerste onder die 13 opdragte. Liefde is meer as eerste onder gelykes. Liefde gee die toon aan. Die ander dosyn opdragte groei uit liefde, is natuurlike uitdrukkings van liefde.

Soos ons liefde omhels, moet ons boosheid verafsku.

Sonde is dit wat teen God is, teen sy wil en teen sy wese, teen sy volmaaktheid. Dit moet te alle tye en in alle omstandighede met alle mag teëgestaan word. Daarom sê Paulus dat boosheid nie net vermy of nagelaat moet word nie, maar dit moet doelbewus en doelgerig verafsku word. Om te verafsku wat sleg is, vereis daaglikse toewyding en oorgawe en herbegronding in die geloof sodat ons die lyn tussen goed en kwaad baie duidelik kan onderskei. Paulus roep die gelowige op om alle boosheid in al sy vorme te haat, in sowel onsself as in ons naaste. Ons moet alle boosheid haat, soos ‘n ma die dwelms haat wat sy in haar seun se slaapkamer vind. Boosheid, die verkeerde, die sonde moet werklik as die vyand beskou word. Dit moet oral en altyd teëgestaan en uitgeskakel word. Dit beteken om ‘n lewenslange oorlog teen die Bose te voer.

Daar is ‘n bepaalde spanning tussen laat die liefde sonder skynheiligheid wees en verafsku wat boos is. Ons moet boosheid haat terwyl ons mekaar as sondaars moet liefhê. Dit is ‘n moeilike aksie van balans: haat van bose dinge is een manier waarop ons opregte liefdevolheid betoon. Ons haat boosheid, want boosheid het die potensiaal om die geliefde te vernietig.

Ons Christelike familie

Christene is lede van hul huisgesinne (pa, ma, broers, susters), maar is ook lede van hul Christelike familie. Om liefde met ander Christene te deel is ‘n groot bron van troos en krag vir gelowiges in ‘n gemeenskap. Daar is baie maniere om dit te bereik: om verjaarsdae te onthou, dankie te sê, ander mense te vertel dat hulle goeie werk gedoen het, hulle aan te moedig om hul belangrike gawes uit te leef, hulle te help om hul werk gedoen te kry, om na mekaar te luister, deel te neem aan aktiwiteite wat hulle geniet.

Hierdie liefde vir mekaar is wat ons Here Jesus bedoel het as kenteken van dissipelskap. Onthou Jesus se woorde in Johannes 13:34-35: “Hieraan sal alle mense weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. Paulus sluit op sy unieke manier hierby aan. Hy verwag nie net gewone onderlinge broederliefde nie. Dit moet hartlik wees. Die een moet die ander voorgaan in eerbetoon.

Beskou al jou broers as van meer waarde as jyself. Moenie toelaat dat hartseer of afguns jou gesindheid affekteer as jy sien dat ‘n ander meer geëer word en jy oor die hoof gesien word nie. Dit is ‘n moeilike les. Min mense leer dit maklik. As ons sien dat ons broers of susters eer en aansien ontvang, is dit dikwels in ons gedagtes dat ons self eintlik meer geëer behoort te word as hulle. Ons het dikwels geen beswaar teen die verheffing van ander nie, mits ons deel is van die aksie. Maar wie kan dit verdra as hy oor die hoof gesien word?

Ons moet onthou ons dien die Here. Ons moet altyd in ag neem dat sy oog op ons is en dat jy aan Hom verantwoording moet doen vir alles. Hiervoor moet daar eenvoud in ons bedoeling wees, en reinheid in ons liefde.

Hoop en gebed

Beide vreugde en hoop is gereelde temas in die Nuwe Testament, al was die lewe vir vroeë Christene allesbehalwe maklik. Mense wat vandag van buite na die kerk kyk, is dikwels verbaas oor die vreugde en hoop wat hulle daar vind. Hulle neem soms aan dat Christene besig is om ‘n show op te sit, want vreugdevolle, hoopvolle Christene kort dikwels die dinge (geld, invloed, aansien) wat in die oë van die wêreld vreugde en hoop bring.

Die oproep tot hoop het gewoonlik ons uiteindelike beloning saam met Jesus in gedagte. Paulus sê ons dien God met blydskap in hoop, nie met blydskap oor resultate nie. Die gelowiges word beveel om al hierdie dinge te doen met die oog op die hemel. Christene het immers een voet geplant in hierdie wêreld (waar ons inderdaad kos, klere, skuiling en ‘n magdom ander materiële dinge nodig het) en die ander voet in die koninkryk van God. Ons vind vreugde en hoop in die versekering dat ons hemelse Vader weet dat ons al hierdie dinge nodig het. Wanneer ons eers God se koninkryk en sy geregtigheid soek, sal al hierdie dinge ook aan ons gegee word (Matt 6:32-33). Verder vind ons vreugde en hoop in die versekering dat ons lewe belangrik is; nie net nou nie, maar ook vir die ewigheid.

Die gedagte oor gebed wat ons hier aantref, is baie soos Paulus se vroeëre vermaning aan die gemeente in Tessalonika: “bid sonder ophou” (1 Tess. 5:17). Gebed is ‘n kanaal waardeur die Christen krag ontvang. Eerste-eeuse Christene wat vervolg is, het voortdurende gebed vereis vir krag om die geloof te behou.

Gasvryheid en diens

Vroeë Christene het die behoeftes van weduwees en ander kwesbare mense ernstig opgeneem, veral binne die kerk (Hand. 6:1; 2 Kor. 8:13-14; Gal. 6:10; 1 Tim. 5:3-16; Jak. 1:27). Paulus pleit dat ons aktief sal soek na geleenthede om gasvryheid te betoon. Abraham was die model vir gasvryheid omdat hy drie besoekers so vriendelik onthaal het (Gen. 18). Die skrywer van Hebreërs sinspeel op Abraham se gasvryheid wanneer hy sê: “Moenie vergeet om gasvryheid aan vreemdelinge te betoon nie, want deur dit te doen, het sommige engele onthaal sonder dat hulle dit weet” (Heb. 13:2).

Jesus het die belangrikheid van gasvryheid aan diegene in nood beklemtoon (die wat honger, dors, ‘n vreemdeling, naak, siek of in die tronk is), en het gewaarsku dat versuim om gasvryheid te toon ewige gevolge sal hê (Matt 25:31-46). Paulus sluit gasvryheid onder die vereiste eienskappe van ‘n ouderling in (1 Tim. 3:2; Tit. 1:8).

Gasvryheid beteken dat ‘n mens onderdak aan vreemdelinge gee, in die letterlike en die figuurlike sin van die woord. Dink net aan die miljoene mense in ons land wat in tydelike opslaanstrukture of plakkershuise moet bly, of wat vanweë ekonomies moeilike tye op straat moet oorleef. Gasvryheid beteken dan dat ek en jy sulke mense regtig moet help.

Gasvryheid beteken ook dat ons vreemdelinge sal intrek in ons vriendekring en vir hulle ‘n geestelike tuiste bied. As jy reeds ‘n gevestigde vriendekring het en jou beskikbare tyd gevul is, verg dit opoffering (van jou en jou vriende!) om ‘n vreemdeling opreg in te trek.

Die vyand

Dan praat Paulus ook oor die verhouding met buitestanders, in besonder teenoor diegene wat jou kwaad aandoen. Vers 17 en 21 vat in ‘n sekere sin alles saam wat in hierdie verse gesê word: “Jy moet die kwaad deur die goeie oorwin.” Dit sluit in om goedgesind te wees teenoor almal (12:17), in vrede met alle mense te leef (12:18), nie te vergeld nie (12:19) en goed te doen aan jou vyand (12:20).

‘n Wins van hierdie tipe optrede is dat jy op die lange duur eer en respek afdwing, maar die eintlike rede waarom jy so moet optree, gaan veel dieper: jy gee eintlik ‘n praktiese demonstrasie van die gesindheid van liefde wat jy van God se kant ervaar. Negatiewe ontvlugting van die kwaad is nie genoeg nie. Dit moet positief deur die goeie uitgeban word.

Paulus roep ons om geweld tegemoet te gaan, nie met geweld nie, maar met seën: ‘n verbysterende idee, maar nie oorspronklik by Paulus nie.

  • Jesus roep ons om die ander wang te draai, om die tweede myl te loop, om ons vyande lief te hê en om te bid vir diegene wat ons vervolg (Matt 5:38-44).
  • Jesus roep ons om te vergewe sodat ons vergewe kan word (Luk 6:37).
  • By die kruis het Jesus die voorbeeld gestel en gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34).
  • Terwyl hulle hom stenig, het Stefanus gebid: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie” (Hand 7:60).

Om vervolging met seën tegemoet te kom, draai oog-vir-‘n-oog-wettisisme op sy kop (sien Eks 21:24; Matt 5:38-41).

Jaag vrede na

Wanneer Paulus ons roep om in vrede te leef met alle mense, voeg hy twee kwalifikasies by, naamlik as dit moontlik is en sover dit van julle afhang. Daar is ongelukkig mense wat ons nie sal toelaat om in vrede te lewe nie. Paulus vereis net dat ons ons deel doen om vreedsame verhoudings te vestig.

Drie keer in ‘n handvol verse (vgl. 14, 17, 19) sê Paulus dat ons nie wraak moet neem nie. Die rede is eenvoudig: ons kan God vertrou om die regte ding te doen. As iemand straf verdien, sal God daarvoor sorg. Hy sal dit doen op sy tyd, hetsy nou of met die Oordeelsdag.

Wanneer Paulus skryf: “Die wraak is myne,” haal hy Deuteronomium 32:35 aan. Hierdie uitdrukking impliseer dat dit onvanpas is vir mense om in te meng met dit wat aan God behoort. Wanneer ons kwaad is en onsself probeer wreek, moet ons dus onthou dat ons inbreuk maak op die voorregte van die Almagtige.

Wanneer Paulus vir ons sê om ons vyand te voed, gebruik hy kos en drank as metafore vir enige soort hulp wat nodig is. As ons ons vyand in die modder sien, sou hierdie vers ons oproep om ‘n helpende hand te verleen.

“Moenie deur die kwaad oorwin word nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Regverdig die doel die middele? Vers 21 sê dit is nie so nie. As ons bose middele gebruik om ‘n waardevolle doel te bereik, sal die bose middele beide ons karakter en ons getuienis afbreek. As ons wil bereik waarvoor Christus ons geroep het en waarvoor ons onsself geoffer het, moet ons dit bereik deur die Christelike deug van liefde elke oomblik en in elke situasie uit te leef.

‘n Mondvol!

Hierdie teks is ‘n mondvol en slaan mens se asem weg.

Tog is elke frase en onderdeel van hierdie opdragte belangrik. Dink net hoe die soort samelewing lyk waarin mense hierdie opdragte uitleef. Dat almal dit nie doen nie, hoef ons nie mismoedig te maak nie. Kom ons doen dit. Dit is soos suurdeeg in die samelewing werk. Dit is hoe ons sout is, en hoe ons ons lig laat skyn.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Seën: (2 Tessalonisense 1)
Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

© Missio 2024 | All rights reserved.