Veertiende Sondag in Koninkrykstyd – Skepping 1

Picture of Woord en Fees

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd - Skepping 1

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Markus 7:1-8, 14-15, 21-23
Ander tekste: Deuteronomium 4:1-2, 6-9; Psalm 15; Jakobus 1:17-27

Sien die basisliturgie vir die voorstel oor die gebruik van kleure oor die volgende vier Sondae.

 Inleiding

Wat is die verhouding tussen my hart en die buitewêreld?
Jesus sê: Dit is nie die buitewêreld (stof, medemens, heiden) en ons kontak daarmee wat ons onrein maak nie. Die stof, dinge, plante en diere, die naaste – die heelal – is sy skepping, daaroor mag nie ’n verkeerde woord gesê word  nie. Dit is ons binneste wat onrein is. Dis waar die teenstand teen God vandaan kom (Mark). Jakobus is iemand met eerlike belangstelling in die skepping. Hy noem ’n reeks dinge wat eie is aan die natuur (skepping): die see, wind, opkomende son, hitte, blomme en die maan en sterre. Die Ou Testamentteks vra gehoorsaamheid aan die wet van die Here. Dit is die voorwaarde daartoe om te bly lewe en die “land” binne te gaan (Deut). Die psalmteks bevestig net in ander woorde wat in Deuteronomium geskrywe is, naamlik hoe lyk die een wat die wet doen en dit daarom mag waag om in die woonplek van die Here te kom (Ps).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid?
Gemeente: Hy wat onberispelik lewe
en doen wat reg is.

Voorganger: Here, wie mag woon op u heilige berg?
Gemeente: Hulle wat met opregte hart die waarheid praat.
Hulle wat dié eer wat die Here dien en hulle beloftes hou.

Voorganger: So een sal vir altyd stewig staan (uit Ps 15).

Seëngroet
Sien basisliturgie.

Diens van die Woord

Na die prediking
Voorganger: Hemelse Vader, ons wys die vinger na die buitewêreld vir ons sonde.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Hemelse Vader, die kwaad sit eintlik in ons harte.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Hemelse Vader, ons huisves die weerstand teen U in ons diepste binneste.
Gemeente: Here, ons ignoreer u opdrag omdie liefde te doen. Wees ons genadig.

Diens van die tafel

Lofgebed aan die Drie-enige God
“Lof aan U ons Vader,
en lof aan Jesus wat in u Naam gekom het
en in ons nag verskyn as blink morester
in stralende lig
wat niks en niemand kan uitdoof nie,
wat tot in die diepste donkerte reik.
Lof aan U, o Gees, wat sy woorde vervul
wanneer ons doen wat U ons opdra.” Amen.
Laat die gemeente die gebed uit die “Grootnagmaalgebed” (2) hardop bevestig voor die gebruik van die nagmaal.

Uitsending

Verbintenis
Die sonde in ons binneste is
van al ons angs en wanhoop die bron.
Sonder u vergifnis kom ons nie daar uit nie.
Reinig ons diep binne-in
dat ons weer u lof kan besing (uit A A van Ruler oor Mark 7).

Musiek en sang

Loflied: Psalm 8:1, 3, 4 “O, Here God u Naam is groot op aarde” (Beryming – Lina Spies); Lied 184 “Lofsing die Here”; NSG 25
By die opening van die Woord: Lied 255 “Woord van God, Woord van die lewe”; NSG 370
By die uitsending: Lied 231 “Heilig, heilig, heilig, Here”; NSG 61
Tussenspel of naspel: Verskillende van die meer bekende dele uit Die Skepping van Haydn

Preekstudie: Markus 7:1-8, 14-15, 21-23

Teks

Die Markusevangelie vertel die verhaal van Jesus as die Seun van God (1:11; 9:7; 15:39). Die sentrale boodskap wat Jesus bring is die koms van God se koninkryk (1:15). Hoofstuk 7 maak deel uit van die eerste hoofdeel van die evangelie wat handel oor Jesus se optrede in Galilea (1:14-8:30). In 7:1-23 lees ons van ’n twisgesprek tussen Jesus en ’n afvaardiging bestaande uit Fariseërs en skrifgeleerdes uit Jerusalem oor die sogenaamde oorgelewerde gebruike en oor die onderskeiding tussen rein en onrein. Die gedeelte kan soos volg ingedeel word:

Vers 1-8: Die vraag van die Fariseërs en skrifgeleerdes oor Jesus se dissipels wat met ongewaste hande eet en sy antwoord daarop;
Vers 9-13: Jesus illustreer met die korban-gebruik hoe die Jode die wet opsy geskuif het;
Vers 14-15: Jesus praat met die menigte oor dit wat die mens onrein maak;
Vers 16 ontbreek in die gebruikte grondteks;
Verse 17-19: Jesus se verduideliking aan sy dissipels;
Verse 20-23: Jesus wys die hart van die mens aan as die oorsprong van alle onreinheid.

Vers 1-2: Die afvaardiging van Fariseërs en skrifgeleerdes uit Jerusalem konfronteer Jesus oor die feit dat sy dissipels hulle nie hou aan die rituele voorskrifte nie, naamlik dat hulle nie hulle hande voor ete was nie. Die was van hande was in die tyd van die Nuwe Testament nie slegs gedoen vir higiëne doeleindes nie, maar ’n handeling wat jou voor God rein maak, aldus die Joodse oorlewering. (In vers 2 word in die Grieks verwys na koinais xersin [“met onrein hande”]).  Louw en Nida verklaar die woord soos volg: “pertaining to being ritually unacceptable, either as the result of defilement or because of the very nature of the object itself”. In sommige kontekste – soos byvoorbeeld Handelinge 10:14 word koinos, as byvoeglike naamwoord in sy verskillende verbuigings, as sinoniem gebruik met akathartos (onrein).

Vers 3-5: Vers 3-4 verskaf aan Markus se nie-Joodse lesers die nodige agtergrond. Die sogenaamde Joodse halaga (’n oorkoepelende benaming vir die Jode se uitleg van die wet soos dit in die handel en wandel van elke dag toegepas moet word) het al die Joodse wette en bepalings van Moses gesistematiseer en in skole van skrifgeleerdes vir elke denkbare omstandigheid in die fynste besonderhede uitgewerk. Voorskrifte oor rituele wat uitgevoer moet word om rein te wees, is breedvoerig uitgewerk – die was van hande voor ete is slegs een voorbeeld daarvan (4 verwys ook na rituele wassings wanneer ’n Jood van die mark en dorp kom, die was van koppies, bekers, bakke en stoele). Hierdie Joodse voorskrifte is noukeurig onderhou – een skrywer meld dat iemand wat eet sonder dat sy hande afgespoel is, maar net so wel by ’n slegte vrou kon lê! Hierdie “oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte” (3) moes die individu help om die wet van God te gehoorsaam. Gaandeweg het hierdie oorlewering die Tora (wet van God of tien gebooie) op die agtergrond geskuif. Jesus tref ’n skerp onderskeid tussen God se wet en die oorgelewerde gebruike van mense (8, 9, 13). Teenoor die halaga stel Jesus die ware bedoeling van die Tora. (In die Griekse teks van vers 3 kom die woord pugméi (“vuis”) voor.  Die 1983-Afrikaanse vertaling gee dit weer as “hande behoorlik gewas”.  Oor die betekenis van pugméi binne die konteks word bespiegel (tewens, sommige vertalings laat dit gewoon weg): “dat met die vuis in die handpalm gevryf moet word”; ander meen dit verwys na “’n hand vol water”; Moffat vertaal dit met “up to the elbow”; ander weer meen dis ’n bywoordelike beskrywing, naamlik dat die hande deeglik of sorgvuldig gewas moet word.

Vers 6-7: Jesus se verweer is skerp. Hy spreek die Fariseërs en skrifgeleerdes aan as huigelaars – mense wat voorgee om iets te wees, wat hulle nie is nie. Hy verwyt hulle vir die verkragting (Bolkestein se omskrywing) van God se gebod. Jesus tree in lyn met die Ou-Testamentiese profete op wat hulle skerp uitgelaat het oor die lippediens van Israel teenoor die gebrek aan gehoorsaamheid – Jesus haal uit Jesaja 29:13 aan. God vra ons heelhartige toewyding aan Hom van ons hele lewe – ons alles. ’n Erediens kan die vermomming van ’n groot stuk ongehoorsaamheid wees – dan is die erediens nutteloos, tewens gevaarlik! Jesus sê gehoor-saamheid aan al die oorgelewerde voorskrifte is bloot gehoorsaamheid aan mensgemaakte gebruike (7). Vir Jesus gaan dit nie oor die opheffing van die wet nie, maar juis die navolging en erkenning van God se wet na sy oorspronklike bedoeling.

Vers 8: Teenoor die mensgemaakte voorskrifte en rituele wys Jesus op die gebod waar die mens, geheel en al, in al sy doen en late regstreeks die lewende God ontmoet. Dit gaan vir Jesus oor die lewende God en die koms van sy koningsheerskappy – dis die inhoud van Jesus se prediking (1:15). Die koms van sy ryk bring ’n nuwe soort daad-gehoorsaamheid mee vir diegene wat Jesus navolg.

Vers 14: Jesus vat die twisgesprek met die Fariseërs en skrifgeleerdes saam, maar Hy roep die menigte nader om ’n belangrike beginsel vir hulle uit te spel.

Vers 15: Jesus verduidelik dat niks van buite af mens onrein kan maak nie, maar onreinheid kom van binne mens uit. Die oorsprong van onreinheid lê binne-in die mens. God skep alles goed. Die mens, daarteenoor, bring voort wat nie goed en nie rein is nie.

Vers 20: Reeds in vers 17 het Jesus huis toe gegaan en beantwoord Hy die vraag van sy dissipels oor die betekenis van sy beginseluitspraak in vers 15. In sy antwoord, wys Jesus eers op die negatiewe kant van sy uitspraak in vers 15 (“. . . niks wat van buite af in mens ingaan, hom onrein kan maak nie.” –18). In vers 20 hanteer Hy die positiewe kant: Die mens is die oorsprong van onreinheid en sonde.

Vers 21-23: Die hart is die sentrum van die mens van waaruit sy gedagtes, emosies, woorde en dade beheer word. Vanuit dié beheersentrum van sy bestaan, bring die mens dit wat onrein is voort. Jesus wys daarop dat die mens onreinheid nie sommer kan vermy of daarvan kan vrykom deur een of ander uiterlike, rituele wassing (aan die buitekant) nie, want binne-in die mens self is die oorsprong van die verkeerde en slegte: sy hart. Al die gestaltes van onreinheid word gebore uit en begin by “slegte gedagtes”. Jesus sê ’n onrein hart, gevul met slegte gedagtes, lei tot ’n lewe vol onrein optrede en onrein dade. Die vorme daarvan is veelvuldig: porneiai (seksuele immorele optrede), klopai (diefstal), phonoi (moord), moicheiai (huweliksontrou), pleonexai (die sug om meer en meer te besit/hebsug), poneiriai (bose dade), dolos (bedrog), aselgeia (grypsug op seksuele gebied), ophthalmos poneeros (jaloesie), blasphemia (laster), hupereephania (hoogmoed), aphrosunee (dwaasheid).

Konteks

Ons kan soos die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jesus se tyd op klein syspore van die geloof rangeer word. Ons kan baie slim wees oor God en reëls en regulasies hê oor wat mens mag en nie mag nie, moet en nie moet nie. Ons kan reëls en regulasies slaafs navolg, onder die indruk dat dit ware diens aan God is. Soms lyk reëls en regulasies in die beoefening van godsdiens vroom en logies. Maar wat dit in werklikheid doen, is om die evangelie te verwater. Jesus wys op die gekheid van “’n reëls en regulasies godsdiens”. ’n Soort godsdiens wat floreer waar skuldgevoelens by mens opgewek word en waar mense deur die gevoel van mislukking platgeslaan word. Dit keer ons oë weg van wie Jesus werklik is (die Seun van God in terme van die Markusevangelie). Dit verhinder ons om te ontdek wie Jesus is: Redder, Bevryder. Behalwe dat dié soort godsdiens nie die wese van die evangelie verstaan nie, verstaan dit ook nie die wese van die mens en sy “hart” nie. Ons kan die onreinheid in ons eie hart nie tem, beheer of verander nie. Jy kan die bose nie tem deur die simptome daarvan te verbied nie. Dis soos om iemand wat verkoue is, te verbied om te nies – dit sal die verkoue beslis nie genees nie! Jy kan die bose in jou nie regdokter met reëls en verbeteringsprogramme nie. Jy moet daarvan verlos word. Die geheim van die evangelie is dat ons in Christus die verlossing het, vergewe is, nuwe mense geword het, van die mag van sonde bevry is en as uitvloeisel daarvan dankbaar reg wil en kan leef deur sy Gees!

Dalk is dit die uitdaging vir ons om in Koninkrykstyd en in die Seisoen van die Skepping vanuit die verlossing in en deur Christus te begin dink en vanuit sy verlossing te leef. Koninkrykstyd wil ons aanspoor om na te dink oor navolging van Jesus en dissipelskap. Hoe raak die feit dat ons onder die heerskappy van Jesus leef ons verhouding tot die skepping (die natuur en ekologie)?

Preekvoorstel

Indien vers 14-15 as preekteks geneem word, kan die volgende verkondigingsmomente verder in ’n preek uitgewerk word:
In die koninkryk wat Jesus verkondig gaan dit nie oor ontvlugting uit die wêreld nie. Agter die oorgelewerde gebruik om voor ete hande te was, leef die oortuiging dat alles buite-om die mens onrein is. Gevolglik moet alle kontak met stof, met ander mense, met sondaars en met heidene vermy word omdat dit jou onrein maak. Jesus sê in Markus 7 dit gaan nie oor wêreldvermyding of
-ontvlugting nie. Trouens, die stof, die omgewing, die natuur, plante, bome, diere, ons naaste en die same-lewing is deel van God se goeie skepping. Daarin is die kwaad en die sonde nie geleë nie en daarvan hoef jy jou nie te onttrek nie.

In die hart van die mens, binne-in die mens, word die weerstand teen God gehuisves. “Van binne af, uit die hart van die mens uit, kom die slegte gedagtes voort . . .,” sê Jesus in vers 21 met groot nadruk. Daar lê die oorsprong van die kwaad en onreinheid: in die wil van die mens, sy gevoelens en drange en drifte. As daar sonde en die verkeerde in die wêreld om ons aanwesig is, dan is dit aan die mens se eie toedoen te danke. Die mens is die “skepper” van die kwaad en die verkeerde. Uit die hart van die mens borrel die kwaad op soos ’n fontein. Nêrens anders nie!

Hierin lê ook die kern van die evangelie, die boodskap van bevryding, opgesluit: In onsself is ons vasgevang, verstrik, verlore, maar vind ons redding buite onsself, in Jesus, die Seun van God – in Christus, in sy kruis en opstanding. Só word ons bevry van wanhoop! Reëls en rituele bring ons nie in ontmoeting en verhouding met die lewende God nie. Alleen ’n genadedaad van God self in Jesus Christus verlos ons uit genade en maak van ons nuwe mense. Die wedergeboorte is ’n herskeppingsdaad van God deur sy Gees. En as nuwe mense word ons geroep om in die wêreld draers van lig en hoop te wees.

Bibliografie

Bolkestein, M H 1977. Het evangelie naar Marcus. Callenbach; Bratcher, R G 1981. A Translator’s Guide to the Gospel of Mark. United Bible Societies; Groenewald, E P 1981. Die evangelie van Markus. NG Kerk Uitgewers; Grundman, W 1977. Das Evangelium nach Markus. Evangelische Verlagsanstalt; Lenski,
R C H 1964. The Interpretation of St. Mark’s Gospel. Augsburg; Louw, J P en Nida, E A 1989. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains Volume 1 & 2. Bybelgenootskap van SA; McKenna, D L 1984. The Communicator’s Commentary: Mark. Word Books; Philander, N 2009. Preekstudies met Liturgiese voorstelle. Bybelmedia; Van Leeuwen, J A C 1964. Het evangelie naar Markus. J H Kok N V Kampen;  Van Ruler, A A 1974. Dichter bij Marcus, Callenbach.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.