Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Lukas 14:25-33
Ander tekste:  Jeremia 18:1-11; Psalm 139:1-6, 13-18  of  Deuteronomium 30:15-20; Psalm 1; Filemon 1:21

Inleiding

Tydens Koninkrykstyd  vier ons die koninkryk van God wat is en wat was en wat kom. Die koninkryk is reeds hier.  Jesus het dit met sy aardse lewe bevestig. Die koninkryk is ook aan die kom. Die Heilige Gees werk deur ons as gelowiges om Jesus se koninkryk sigbaarder te vestig. Die koninkryk sal finaal aanbreek met die bruilofsmaal van die Lam. As gestuurdes werk ons selfloos saam aan die ontplooiing van God se koninkryk in en om ons.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Seëngroet
Voorganger: Die Here is met julle.
Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Hy skenk sy vrede aan julle.
Gemeente: En ook aan jou.

Voorganger: Genade en vrede vir julle van God die Vader . . .
Gemeente:  Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: . . . en van die Seun . . .
Gemeente: Hy het al ons skuld gedra.

Voorganger:  . . . en van die Gees.
Gemeente: Hy maak ons nuut.

Diens van die Woord

Kerkhistoriese inset oor dissipelskap (Luk 14: 33).
Augustinus het in 386 nC, die jaar van  sy worstelinge en bekering, geskryf dat dissipelskap beteken dat jy, as dienaar van God, moet bou teen berekende koste. Die koste sal wees dat jy alles wat jy besit, moet prysgee en Jesus moet volg (Boek VIII/6).

Diens van die tafel

Instellingswoorde
Voorganger: Dit is Jesus se liggaam. Dit is vir ons.
Gebruik dit om Jesus te onthou.
Gemeente: Ons glo dat Jesus se liggaam vir ons gebreek is.

Voorganger: Hierdie beker is die nuwe verbond, wat
deur Jesus se bloed beseël is. Gebruik dit
elke keer as julle daaruit drink om Jesus te onthou.
Gemeente: Ons glo dat Jesus se bloed vir ons gestort is.

Voorganger: Elke keer as julle saam brood eet en wyn
drink, verkondig julle die dood van Jesus
Christus totdat Hy weer kom
(1 Kor 11:24-26).

Uitsending

Seën
Voorganger: Die Here sal met jou wees.
Gemeente: Ek wil Hom bo my gesin liefhê.

Voorganger: Die Here sal met jou wees.
Gemeente: Ek wil Hom bo my geld en my goed liefhê.

Voorganger: Die Here sal met jou wees.
Gemeente: Ek wil Hom bo alles liefhê.

Voorganger: Die Here sal met jou wees.

Musiek en sang

Lofsange: Lied 100 “Juig almal tot Gods lof en eer”
Slotsang: Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”; Lied 146  “Prys die Here, loof en prys Hom”
Skuldbelydenis: Lied 232  “Diep, o God, diep neergeboë”

Preekstudie: Lukas 14:25-33

Teks en Konteks 

In die vorige perikoop (Luk 14:15-24) het Jesus die konteks van ’n ete by ’n Fariseër gebruik om te leer dat die uitnodiging na God se koninkryk vir alle soorte mense bedoel is (14:1-14). Hy rig Hom nou tot die menigte wat saam met Hom reis. In Lukas 14:25-35 verduidelik Jesus vir die mense wat agter Hom aan stroom, dat die keuse om Hom te volg ernstige implikasies het. Hy wil nie die skare ontmoedig nie, maar Jesus wil hê hulle moet nugter wees oor wat hulle vra. Die Jode het ’n Messias verwag wat met sy koms ’n goue era van finale oorwinning oor die vyande sou bring. Hierdie nuwe era/bedeling sou vir die Jode rykdom en voorspoed beteken. Jesus wil egter hulle oë oopmaak vir die “eise” van dissipelskap. Voordat koninkryk volledig kan kom, moes Jesus eers kruis toe gaan. Die feit dat die Messias ’n lydende kneg van die Here is en dat sy volgelinge ook sou ly, is nie iets wat hulle tot dusver begryp het nie. Hy vertel aan die skare twee gelykenisse en maak ’n uitspraak waarin Jesus die gelykenisse prakties toepas. In 14:16-24 het die genooide gaste almal iets goeds gehad om te doen, wat hulle as verskoning voorgehou het waarom hulle die feesmaal nie kon bywoon nie. God verwag egter nie dat ons van iets goeds moet afsien as Hy nie vir ons iets beters in die plek daarvan sal gee nie. Hy vra nie dat ons saam met Hom na ’n strafkamp moet gaan nie, maar na die bruilof van die Lam (Op 19:6-9). Daar sal God en sy kerk vir ewig verenig word.

Dit  bring Jesus by ’n verduideliking van die koste van dissipelskap. Om Jesus te volg verg ’n allesopofferende houding. Jy moet bereid wees om van jou familie afstand te doen en om jou kruis te dra en in Jesus se voetspore te volg. Eers dan kan jy ’n ware dissipel wees. Daarom moet jy sorgvuldig die koste bereken voordat jy op die pad vertrek, anders sal jy nooit die einddoel bereik nie. Om ’n gebou op te rig of om te gaan oorlog voer, verg deeglike beplanning. ’n Dissipel moet bereid wees om van al sy besittings afstand te doen. ’n Dissipel wat halfhartig is, is soos sout wat verslaan het en nie meer smaak kan gee nie.

Dirkie Smit skryf in sy boekie Verlange na méér, onder die tema “Die erns van dié verlange” (Luk 14:25-35): “Lukas skryf sy Evangelie om Christene aan te spoor tot ’n lewe van dissipelskap. Tot waaksame, getroue, dienende Christelike lewens. Terwyl hulle – dalk baie jare, eeue, millennia – wag op die koms van hulle Heer. Vir dié doel teken hy Jesus Christus amper as ’n soort voorbeeld vir ons. Hy teken Jesus op weg na die kruis en die Christene as sy navolgers, op hulle eie kruisdra-weë. Ons het gesien dat hy sy lesers op verskillende maniere waarsku dat hulle nie die koste van hierdie navolging moet ontsien nie. Dit nie te moeilik, te erg, te groot ag nie. Daarom moet hulle nie wegskram of ontrou raak nie. Hy waarsku sy lesers egter ook teen die omgekeerde gevaar dat hulle die koste van navolging kan onderskat; dat hulle alte maklik kan kom om Hom te volg, kan meeloop en dan nie volhou nie – en daarmee die saak van Christus en die kerk skade aandoen.”

Ons sê maklik dat ons Christus ken. Maar hoe goed ken ons Hom? Smit wys op die groot verskil tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus: “Bewonderaars” dink baie van Hom en beskou Hom as ’n besondere mens. “Leerlinge” het soveel van Hom te wete gekom dat hulle selfs ander kan leer. “Dissipels” egter, volg Hom. Hulle ken Hom en is bereid om saam met Hom te sterwe. Ons sê ook maklik dat ons dissipels van Jesus is. Wat veroorsaak dat ons dikwels slegs bewonderaars en leerlinge is? Is dit dalk ons selfgenoegsame gearriveerdheid? Ons probeer oorleef op die brood wat ons self opdis – sukses, voorspoed, gemak, eer. Dit word die sin van ons lewe. Ons verval in ’n rustigheid en tevredenheid. Tussen ons (die kerk) en die wêreld is daar nie meer ’n skerp verskil nie. Van dissipelskap bly weinig oor!

Die Markusevangelie wil ons ook help om opnuut te ontdek wat dit werklik beteken om ’n dissipel van Jesus te wees of in Markus se eie woorde, om Jesus te volg. In sy verhaal wys hy watter wonderlike voorreg dit is om een van Jesus se volgelinge te wees: Jy word nie ’n volgeling van Jesus deur jouself eers goed af te rig en dan by Jesus te gaan aanmeld nie. Dit werk andersom: Jesus roep mense om sy volgelinge te wees. Oor wat dit prakties beteken om Jesus te volg, draai Markus nie doekies om nie. Om Jesus te volg is moeilik omdat dit so baie vra. Dit vra opoffering, selfverloëning en selfs bereidheid om ter wille van Jesus te sterf. In Markus 8:31 kom Jesus met ’n dramatiese aankondiging: Hy is wel die Messias, maar nie die soort messias wat die Jode (en die dissipels) verwag nie. Hy kom nie oorwin of heers nie, maar ly. Dit is deel van ’n Goddelike plan (Hy móét ly). Dié aankondiging van Jesus sluit sterk aan by die gedagte wat in die Ou Testament aangetref word, naamlik dat goeie mense dikwels sonder rede moet ly. Daar word dikwels gepraat van die lydende regverdige. As Messias sou Jesus die groot lydende Regverdige wees. Jesus se aankondiging in 8:31-33 vorm die keerpunt in Markus se verhaal. Alles wat verderaan gebeur, is afgestem op Jesus se lyding en opstanding.

Vers 25: ’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Jesus is op pad na Jerusalem vir die Paasfees (9:51). Die skare saam met Hom was ook op pad daarheen. Die verwagting was dat Jesus, indien Hy inderdaad die Messias is, by die Paasfees weer die koninkryk van Israel sou vestig. Die Paasfees was immers die viering van die Jode se verlossing uit Egipte. Hulle het verwag dat Jesus hulle van hulle Romeinse heersers sou verlos.

Vers 26: In teenstelling met die hoopvolle, opgewonde gees onder die skare, het Jesus met hierdie gelykenis ’n somber onderwerp opgehaal. Hoewel die uitnodiging na die koninkryk aan almal gerig word, is dit net mense wat Jesus hulle eerste prioriteit maak, wat daaraan sal deel hê. Hy wou hê hulle moet insien dat ’n mens se lojaliteit teenoor die koninkryk alle ander lojaliteite moet oortref – selfs dié wat jy gewoonlik as die eerste en belangrikste beskou, byvoorbeeld jou familie. Eintlik staan daar iets ergers as “afstand doen van”. Die oorspronklike sê: Jy kan nie ’n dissipel Jesus wees nie, tensy jy jou gesin en familie “haat”. Dis ’n Semitiese uitdrukking wat beteken “minder liefhê”, verlaat, gering ag, bereid wees om dit tweede te stel, wanneer nodig. “Haat” in hierdie sin, is dus nie ’n emosionele of psigiese haat nie, maar verwys na prioriteite. Elders in die evangelie word dit nog duideliker dat ons ons naastes, wat ons gesinne en families insluit, moet liefhê.

Maar in 14:26-27 is dit nie die geval nie. Dit gaan klaarblyklik hier om krisissituasies, om geleenthede waar prioriteite bots en mense voor keuses gestel word (Smit). Jesus moes dikwels dramatiese oorbeklemtoning gebruik om mense se aandag te trek en hulle te help om die punt wat Hy wil maak, te verstaan, (vgl. Matt 5:29-30). Jesus se keuse van die woord “haat”, moet dus nie letterlik verstaan word nie, maar as berekende oordrywing (hiperbool) om te verduidelik dat mense se liefde en lojaliteite vir Jesus, voorrang moet geniet bo hulle natuurlike gehegtheid aan hulle familie.

Die gedagte wat in 14:26 negatief klink met die woord “haat”, word in Matteus 10:37-38 meer positief gestel: “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie”. Jesus bedoel egter ’n doodeenvoudige algehele toewyding (Eng “commitment”) aan Hom, selfs wanneer dit direk teen familieverbande en identiteit indruis. Jesus beklemtoon ook dat hulle wat “die koste bereken het” en kies om Hom te volg, moet weet dat die koninkryk van God vir hulle nóg nader aan die hart moet lê. Jesus gebruik dus juis die sterkste moontlike taal (“haat”) om te beklemtoon hoe belangrik dit is om volkome toegewy aan Hom te wees.

Vers 27: Iemand wat in Jesus se tyd sy kruis gedra het, was net na een plek onderweg: om self te gaan sterf. Die kruis simboliseer die Romeine se grusame metode van teregstelling. Hoewel sommige van Jesus se dissipels letterlik hul eie kruis sou dra en daaraan sou sterf, word dit hier as metafoor gebruik om te sê dat Jesus se volgelinge hul eie begeertes en belange sal moet “kruisig” wanneer dit bots met lojaliteit aan Jesus. Hierdie woorde van 14:27 herinner aan wat in 9:23 staan: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.” Die evangelis Lukas praat van elke dag jou kruis opneem, dit wil sê nie ’n eenmalige algehele toewyding aan die Here nie, maar van dag tot dag moet ons dit weer en weer doen.

Thomas van Kempis het in die vyftiende eeu ’n boekie, Om die Navolging van Christus geskryf (een van die mees gedrukte boeke naas die Bybel). Met die waardering wat ’n mens vir hierdie werk het, teen die agtergrond van die verwêreldliking van die kerk in sy tyd (en vandag!), ontdek ons tog by Thomas die gevaar om die navolging van Christus te sien as ’n wegtrek uit die wêreld na ’n kloosterlewe en ’n mistieke, innerlike reis. Christus, die Een vir wie ons volg, het egter juis in die wêreld ingegaan en aan mense in hulle konkrete nood barmhartigheid en uitkoms gebied. Daar was dan ook in die vorige eeu ’n fel reaksie teen ’n Christendom wat die naam Christus dra, maar die nood en verdrukking in die wêreld by hulle laat verbygaan of selfs daaraan deelneem! Teoloë soos Bonhoeffer, wat letterlik vir sy geloofsoortuigings met sy lewe geboet en ’n boek The cost of Discipleship geskryf het, het vir ’n “religionless Christianity” gepleit. “Christ cannot be shut up in the sacred society of the church,” het hy gesê. Die skeiding tussen kerk en wêreld moes verdwyn in die tyd van die Naziregering.

Jesus se toehoorders het goed geweet wat dit beteken om ’n mens se eie kruis te dra. Enige misdadiger wat onder die Romeinse bewind tereggestel is, moes self die dwarsbalk van sy kruis na die plek van teregstelling dra. Om Christus te volg, beteken nie dat ons lewe sonder probleme sal wees nie. Inteendeel, ons betaal ’n hoë prys daarvoor. Dissipelskap vereis dat ons Christus met algehele oorgawe sal volg. Ons moet vooraf die koste van dissipelskap bereken. Dan sal ons weet waarvoor ons ons inlaat, en later selfs in die versoeking kom om terug te draai. Om ’n volgeling van Jesus te wees, vra van ons algehele oorgawe aan Hom, al moet ons daarvoor sterf.

Vers 28-33: Jesus gebruik nou drie kort gelykenisse om te verduidelik hoe noodsaaklik dit is om, voordat mens daarvoor kies, eers goed te besin wat dit sal kos om ’n dissipel van Jesus te wees. As ’n bouer nie vooraf die koste van ’n gebou bereken nie, of dit verkeerd doen, kan dit gebeur dat die gebou onvoltooid gelaat moet word. Moet jou Christelike lewe dalk onvoltooid gelaat word omdat jy nie die koste van jou toewyding aan Jesus vooraf bereken het nie? ’n Christen sal dalk afstand moet doen van sy geld of sosiale status. God mag moontlik vra dat hy van die beheer oor sy tyd en loopbaan moet afsien. Hy kan selfs gehaat word, van sy familie vervreem raak of doodgemaak word. Om Christus te volg, beteken dat ’n mens nie noodwendig sonder enige probleme sal kan lewe nie. Ons moet vooraf die koste bereken as ons Christus wil volg sodat ons nie later in die versoeking kom om terug te draai nie. In vers 33 pas Jesus die gelykenisse self toe: Niemand kan sy dissipel wees wat nie bereid is om af te sien van alle besittings nie. En die besittings sluit in: vader en moeder en vrou en man en kinders en broers en susters . . . en eie lewe (Smit).

Waarom stel Jesus dit so kras? Waarom teken Lukas dit op? Die antwoord lê in 14:34-35. Dit is die woorde van Jesus wat Lukas hier opteken, as verdere verduideliking: As sout verslaan (laf) is, is dit nutteloos. Baie Bybeluitleggers is van mening dat Lukas dit doen omdat hy dit sien as goeie kommentaar op die probleme van sy tyd, as nuttige toepassing op die geestelike toestand van die gemeentes en gelowiges vir wie hy skryf. Hulle dreig dalk om soos kragtelose sout te word: laf, flou, nutteloos. So kan hulle die evangelie en die Naam van Christus meer skade doen as iets anders. Sout kan verslaan. Sout wat nat en weer droog geword het, is niks anders as ’n nuttelose neerslag nie. Talle Christene swem saam met die stroom van hierdie wêreld omdat hulle nie bereid is om standpunt vir Christus in te neem nie. Jesus sê egter duidelik dat Christene wat nie meer “sout” is nie, niks beteken nie. Net soos sout “preserveer” sodat iets nie verlore gaan nie, moet ons smaak aan die lewe gee. Dit vereis beplanning, vrywillige opoffering en absolute toewyding aan die koninkryk van God.

Dis nie maklik om “sout” vir Christus te wees nie, maar ’n Christen wat nie daarin kan slaag nie, kan nie ’n verteenwoordiger van Christus op aarde wees nie. Waar staan jy wat dit betref? ’n Groot menigte het saam met Jesus op reis gegaan (24) sonder om te begryp wat aangaan en sonder om hulle waarlik aan Jesus te wy (Smit). Wanneer “groot menigtes” in die kerk en onder die Naam van Christus Hom volg – en Hom tog nie waarlik volg nie – word die kerk ongeloofwaardig, sy getuienis kragteloos, die boodskap irrelevant en die evangelie uiteindelik verloën. Dan kan ’n mens later van niemand meer verwag om Christus waarlik te volg nie. Want almal word net meelopers, ’n onoortuigde en daarom onoortuigende menigte. Dis om hierdie rede dat Jesus en Lukas ons waarsku: Voor julle kom, maak eers seker. Natuurlik is die bedoeling nie om met dié waarskuwing mense af te skrik en weg te wys nie! Natuurlik is die bedoeling veel eerder om by die hoorders te pleit dat hulle wel sal volg, maar met oorgawe (Smit).

Preekvoorstel

Smit sê in Verlange na Meer onder die tema “Die erns van dié verlange” dat “(a)Almal met wie ons van nature verbind is – so verduidelik ’n bekende teoloog (Schaller) – word maklik hindernisse op die weg van dissipelskap. Dis om hulle ontwil dat ons ons besittings behou en vermeerder. Dis om hulle onthalwe dat ons daarna soek om gewild te wees by die mense. Om hulle ontwil probeer ons lyding ontwyk. Ter wille van hulle moet ons nie sterf nie. En wanneer hulle dit alles van ons begeer, versterk hulle nie juis dit wat ons eie siel ook van nature reeds begeer nie. Om dissipel te wees bring daarom tweespalt in ’n mens self. Dit bring ’n mens telkens weer in botsing met jouself. Jy moet telkens opnuut hierdie keuse maak. Wie nooit meer hierdie tweespalt in hom of haar ervaar nie, vir wie die eise van Christus en die evangelie maklik, vanselfsprekend, byna natuurlik word, vir wie die evangelie soos ’n handskoen begin pas by hulle eie behoeftes en lewenskeuses . . . só iemand neem die evangelie waarskynlik nie meer ernstig genoeg nie. Navolging, so verduidelik die bekende Dietrich Bonhoeffer hierdie moeilike verse, beteken dat Jesus
as ’t ware tussen my en elke ander naaste kom staan. En dit verander my verhoudinge met almal radikaal. Dit mag wees dat Jesus ’n sekere afstand wil bring tussen my en diegene aan wie ek van nature verkleef is. Dit mag wees dat Jesus ’n nuwe nabyheid, ’n nuwe solidariteit wil bring tussen my en diegene van wie ek van nature ver verwyder is, selfs deur bitterheid en vyandskap. Die kruis van dissipelskap is presies om elke keer op só ’n punt, wanneer ’n mens met Jesus te make kry, te sterf aan jouself deur jou natuurlike drange en verhoudinge met mense ondergeskik te stel aan wie hulle in Jesus vir jou word. Om jou kruis  te neem en Jesus te volg, is om elke keer te kies vir Christus, en om my naaste te begin sien deur die oë en liggaam van Jesus heen. Om deur Jesus na mense te leer kyk, naby en ver, dit is dissipelskap. En verg selfverloëning en kruisdra.”

Malan Nel skryf “Lewenslange navolging: is dit nie maar wat dissipelskap beteken nie? En is dit nie wat predikante ook is nie – dissipels van die Here, Jesus, die Christus? Twee dinge konstitueer Bybelse dissipelskap: Om opgeneem te wees in ’n verhouding met Hom wat geroep het, om ’n roeping te hê, wat beteken dat ons lewenslank volgelinge en leerlinge van Christus is. Dissipelskap is die wese van ons lewe. Ons in opleiding, die omvattende lewenservaring van ’n intense verhouding met God, die ervaring van die toenemende beter verstaan van sy wil en die groei in wysheid om (met) beter insig te onderskei.”

Veral Bonhoeffer argumenteer in sy boek The cost of discipleship, dat hierdie dinge doodgewoon die ontberinge van die wêreld is, maar dat die kruis smaad en verwerping ter wille van Christus impliseer. “When Christ calls a man, he bids him

come and die!” Die beeld wat ons voor oë moet hê, is dié van ’n veroordeelde misdadiger wat deur die strate loop met die kruis waartoe hy veroordeel is, op sy rug. Deur dit te dra vertoon hy sy neerbuiging voor die gesag van die owerheid teen wie hy hom voorheen deur sy misdadigheid verset het. As simbool is die kruis tekenend van onderwerping, gehoorsaamheid, dood, verwerping en bespotting. Daarom sê Bonhoeffer alleen die gelowige is gehoorsaam en alleen wie gehoorsaam is, glo. Gehoorsaamheid aan en navolging van Jesus, selfs met die risiko’s van verwerping en lyding in berekening gebring, is eie aan die weg saam met Hom en die beginpunt van die ervaring van volle oorgawe en die intimiteit wat daarmee gepaard gaan.

Die eise van dissipelskap is inderdaad hoog. Dit het
C S Lewis ook geweet en geskryf. Christus sê: Gee my alles, Ek wil nie soseer van jou geld of jou werk hê nie, Ek wil jou hê. Ek het nie gekom om jou ou self so bietjie op te knap nie, maar om jou ou self dood te maak. Halfpad is nie ver genoeg nie. Ek wil nie ’n takkie hier en daar regsnoei nie, ek wil die boom afkap. Die eise van dissipelskap dra soms die skyn van ’n sware las. Die geloofskuns is om dit te ontdek as dinge wat vrymaak, omdat dit jou aan Christus verbind. “Dat jy daarin iets herontdek wat joune was” (Symington). Fokus op mense se diepste lewensvrae. In dié geval: Besef ons regtig wat dit van ons vra om Jesus voluit en enduit te volg? Bonhoeffer se boek word oraloor erken as ’n klassieke boek met ’n boodskap vir ’n wêreld wat (ná twee vernietigende wêreldoorloë) sy onskuld verloor het. Rigtingwysers vir ’n praktykgerigte geloofslewe (wat mense juis wil weet): Hoe kan ek in krisistye myself en God in die oë kyk? In gemaklike Afrikaans aangebied vir soekende mense van die 21ste eeu wat opnuut ontdek wat dit beteken dat God se genade nie goedkoop is nie en wil weet wat dit in ons situasie van ons vra. Dit bied die realisme van ’n ware verhaal geskryf uit die worsteling met die wrede werklikheid waarin geloof die hoogste prys betaal het – die skrywer is deur die Nazi-regime tereggestel.

Meer oor die skrywer: Gesien teen die agtergrond van die opbou tot die oorlog in Nazi-Duitsland, het hierdie opregte, openhartige neerpen van “die koste” van dissipelskap ’n kragtige realisme. Dit is ’n water-skeidingswerk wat gehalte teologie uit die studeerkamer geruk het binne die storms en stroomversnellings van ongekende krisistye vir Christene en die kerk. Dit is nie net merkwaardige reguit teologie vir daardie berserkte tyd nie. Dit het ’n tydloosheid met aanwysers oor hoe om waarlik dissipel te wees wanneer die handskoene uitgetrek is en God se genade wat sy Seun se lewe gekos het, ook ’n aanspraak op ons maak – om te kies vir “buitengewone liefde”, binne hierdie wêreld. Dietrich Bonhoeffer het eers ná sy dood bekend geword as uitmuntende teoloog wat die realisme van ware dissipelskap deur sy martelaarskap as tydlose leefstyl uitgedra het. Hy het The cost of discipleship in 1937 geskryf terwyl hy hoof van die kweekskool van die Duitse “Belydende Kerk” te Finkenwalde naby Stettin was. Hy het nie net sy teologie opgestel teen die mags-vergrype van die Nazis nie, maar ook die predikers en pastors opgelei en geïnspireer wat later teen Hitler se regime hulle profetiese getuienis laat hoor het. Hy is in 1945 as medesamesweerder vir ’n mislukte sluipmoord-aanval op Hitler in hegtenis geneem en deur die Nazi’s gemartel en geïnterneer. Hy is in ’n konsentrasiekamp dood enkele weke voordat dit deur die Geallieerde magte bevry is. Sy twee ander klassieke werke wat vir soveel mense ná die oorlog en, tot vandag toe bemoedig en toerus, is Ethics en Letters and Papers from Prison (deur SCM in Engels vertaal).

Paulus skryf in Filippense 3:10: “Al wat ek wens is, om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood.” Paulus is baie ernstig oor sy navolging van Christus. Dissipelskap bly dus inspanning, maar die diepste motivering is die feit dat ek reeds aan Christus behoort. Paulus is by ’n punt in sy lewe waar hy ’n totale herwaardering moes maak. “Om Christus te ken” het vir hom die belangrikste prioriteit in sy lewe geword. Dit is ’n intieme, persoonlike, leweveranderende kennis van Christus. Die lewende krag wat hy ontvang van die opgestane Christus maak die enorme verskil in sy lewe. Wat is tans die situasie in jou lewe? Is daar die hartstog, die voortdurende verlange om Hom beter te leer ken, of het jy geruime tyd gelede reeds “aangekom?”

Die “evangelie as geboorte van die nuwe lewe” maak ’n nuwe seisoen van dissipelskap vir ons moontlik. Herfs en winter (stroping) is deel van hierdie proses. Die afsterwing van die sonde, kruisdra, selfverloëning en liefdesdiens verhoed, laat ons so vasgroei aan hierdie wêreld dat ons nie ons vreemdelingskap prysgee nie. Teen die agtergrond van bogenoemde kry die kernvers (4:1a), “Julle moet vasstaan en getrou bly aan die Here”, besondere betekenis. Bewonderaars en leerlinge kry dit nie reg nie. Dissipels wel. Hulle ervaar die verskil en maak ’n groot verskil! My lewenstyl en optrede as dissipel moet so wees dat mense Jesus Christus in my lewe kan sien. ’n Lewenstyl wat navolgenswaardig is, wat ’n bewys is dat ek Christus Jesus as die bate en wins verkry het. Dat Christus Jesus die winspunt in my lewe is en moet wees.

Wie die ervaring van God se genade, God se betrokkenheid by jou sake, God se teenwoordigheid in jou lewe beleef het, kan nie anders as om met nuwe oë na die lewe, jou prioriteite in die lewe, te  kyk nie. In die evangelie volgens die beskrywing van Matteus praat Jesus met die skare en sy dissipels en onderrig hulle oor die Christelike lewenswandel, die voetspore wat hulle moet nalaat: “Julle is die sout van die aarde en die lig vir die wêreld. Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien, sodat julle Vader in die hemel verheerlik kan word” (Matt 5:13-16). Daar is ’n  Engelse gesegde wat soos volg lui: “If you cannot stand firm in your faith, you cannot stand at all”. Julle moet te alle tye gefokus wees. Die oog op Jesus ons Leidsman en Voleinder van ons geloof.

Bibliografie

Vosloo Wil en Fika J van Rensburg (reds) Die Bybellennium – Eenvolumekommentaar. Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing; Vosloo, W en  J van Rensburg (reds) 1993. Die Bybel in Praktyk,  Vereeniging: CUM; Marshall, I H 1978. Commentary on the Gospel of Luke. Eerdmans; Van der Laan, J H Klijn, A F J & Noort, E (ed) 1991. Het Evangelie naar Lucas; Symington, J. Bylae by die Burger, 28 April 2007; Nel, M 2009. Kruisgewys-Bedieningsontwikkeling, 9/1, Februarie 2009. Jesus se stories vir mense soos jy – ’n Bybelstudie-reeks vir groepe of individue 1997. Lux Verbi: Kaapstad; Verlange na Méér – Vreugde lê in die hunkering na God en die verlange na méér, Kaapstad: Lux Verbi; The Gospel of Luke. The New International Greek Testament Commentary. Paternoster Press; The Gospel of Luke (New International Commentary on the Greek Text); Metzer, BM. The International Commentary: A Critical and Exegetical Commentary on the Gospel According to  St. Luke.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.