Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Tydens Koninkrykstyd  vier ons die koninkryk van God wat is en wat was en wat kom. Die koninkryk is reeds hier.  Jesus het dit met sy aardse lewe bevestig. Die koninkryk is ook aan die kom. Die Heilige Gees werk deur ons as gelowiges om Jesus se koninkryk sigbaarder te vestig. Die koninkryk sal finaal aanbreek met die bruilofsmaal van die Lam. As gestuurdes werk ons selfloos saam aan die ontplooiing van God se koninkryk in en om ons.

Fokusteks

Lukas 14:25-33

Ander tekste

Jeremia 18:1-11 (Die Here vorm sy volk soos die pottebakker klei vorm.);
Psalm 139:1-6, 13-18 (Die Here vorm ons ook want Hy ken ons omdat Hy ons Maker is.);
Filemon 1-21 (Paulus pleit in die Here se Naam dat versteurde verhoudings herstel moet word.)

Lukas 14:25-33
Die eise van dissipelskap

(Matt 10:37–38; vgl Mark 10:29–30)
25’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

28“Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? 29Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. 30Hulle sal sê: ‘Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’

31“Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? 32Anders stuur hy ’n afvaarding om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.

33“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Eksegeties en Hermeneuties

In die vorige perikoop (Luk 14:15-24) het Jesus die konteks van ’n ete by ’n Fariseër gebruik om te leer dat die uitnodiging na God se koninkryk vir alle soorte mense bedoel is (14:1-14). Hy rig Hom nou tot die menigte wat saam met Hom reis. In Lukas 14:25-35 verduidelik Jesus vir die mense wat agter Hom aan stroom, dat die keuse om Hom te volg ernstige implikasies het. Hy wil nie die skare ontmoedig nie, maar Jesus wil hê hulle moet nugter wees oor wat hulle vra. Die Jode het ’n Messias verwag wat met sy koms ’n goue era van finale oorwinning oor die vyande sou bring. Hierdie nuwe era/bedeling sou vir die Jode rykdom en voorspoed beteken. Jesus wil egter hulle oë oopmaak vir die “eise” van dissipelskap. Voordat koninkryk volledig kan kom, moes Jesus eers kruis toe gaan. Die feit dat die Messias ’n lydende kneg van die Here is en dat sy volgelinge ook sou ly, is nie iets wat hulle tot dusver begryp het nie. Hy vertel aan die skare twee gelykenisse en maak ’n uitspraak waarin Jesus die gelykenisse prakties toepas. In 14:16-24 het die genooide gaste almal iets goeds gehad om te doen, wat hulle as verskoning voorgehou het waarom hulle die feesmaal nie kon bywoon nie. God verwag egter nie dat ons van iets goeds moet afsien as Hy nie vir ons iets beters in die plek daarvan sal gee nie. Hy vra nie dat ons saam met Hom na ’n strafkamp moet gaan nie, maar na die bruilof van die Lam (Op 19:6-9). Daar sal God en sy kerk vir ewig verenig word.

Dit  bring Jesus by ’n verduideliking van die koste van dissipelskap. Om Jesus te volg verg ’n allesopofferende houding. Jy moet bereid wees om van jou familie afstand te doen en om jou kruis te dra en in Jesus se voetspore te volg. Eers dan kan jy ’n ware dissipel wees. Daarom moet jy sorgvuldig die koste bereken voordat jy op die pad vertrek, anders sal jy nooit die einddoel bereik nie. Om ’n gebou op te rig of om te gaan oorlog voer, verg deeglike beplanning. ’n Dissipel moet bereid wees om van al sy besittings afstand te doen. ’n Dissipel wat halfhartig is, is soos sout wat verslaan het en nie meer smaak kan gee nie.

Dirkie Smit skryf in sy boekie Verlange na méér, onder die tema “Die erns van dié verlange” (Luk 14:25-35): “Lukas skryf sy Evangelie om Christene aan te spoor tot ’n lewe van dissipelskap. Tot waaksame, getroue, dienende Christelike lewens. Terwyl hulle – dalk baie jare, eeue, millennia – wag op die koms van hulle Heer. Vir dié doel teken hy Jesus Christus amper as ’n soort voorbeeld vir ons. Hy teken Jesus op weg na die kruis en die Christene as sy navolgers, op hulle eie kruisdra-weë. Ons het gesien dat hy sy lesers op verskillende maniere waarsku dat hulle nie die koste van hierdie navolging moet ontsien nie. Dit nie te moeilik, te erg, te groot ag nie. Daarom moet hulle nie wegskram of ontrou raak nie. Hy waarsku sy lesers egter ook teen die omgekeerde gevaar dat hulle die koste van navolging kan onderskat; dat hulle alte maklik kan kom om Hom te volg, kan meeloop en dan nie volhou nie – en daarmee die saak van Christus en die kerk skade aandoen.”

Ons sê maklik dat ons Christus ken. Maar hoe goed ken ons Hom? Smit wys op die groot verskil tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus: “Bewonderaars” dink baie van Hom en beskou Hom as ’n besondere mens. “Leerlinge” het soveel van Hom te wete gekom dat hulle selfs ander kan leer. “Dissipels” egter, volg Hom. Hulle ken Hom en is bereid om saam met Hom te sterwe. Ons sê ook maklik dat ons dissipels van Jesus is. Wat veroorsaak dat ons dikwels slegs bewonderaars en leerlinge is? Is dit dalk ons selfgenoegsame gearriveerdheid? Ons probeer oorleef op die brood wat ons self opdis – sukses, voorspoed, gemak, eer. Dit word die sin van ons lewe. Ons verval in ’n rustigheid en tevredenheid. Tussen ons (die kerk) en die wêreld is daar nie meer ’n skerp verskil nie. Van dissipelskap bly weinig oor!

Vers 25: ’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Jesus is op pad na Jerusalem vir die Paasfees (9:51). Die skare saam met Hom was ook op pad daarheen. Die verwagting was dat Jesus, indien Hy inderdaad die Messias is, by die Paasfees weer die koninkryk van Israel sou vestig. Die Paasfees was immers die viering van die Jode se verlossing uit Egipte. Hulle het verwag dat Jesus hulle van hulle Romeinse heersers sou verlos.

Vers 26: In teenstelling met die hoopvolle, opgewonde gees onder die skare, het Jesus met hierdie gelykenis ’n somber onderwerp opgehaal. Hoewel die uitnodiging na die koninkryk aan almal gerig word, is dit net mense wat Jesus hulle eerste prioriteit maak, wat daaraan sal deel hê. Hy wou hê hulle moet insien dat ’n mens se lojaliteit teenoor die koninkryk alle ander lojaliteite moet oortref – selfs dié wat jy gewoonlik as die eerste en belangrikste beskou, byvoorbeeld jou familie. Eintlik staan daar iets ergers as “afstand doen van”. Die oorspronklike sê: Jy kan nie ’n dissipel Jesus wees nie, tensy jy jou gesin en familie “haat”. Dis ’n Semitiese uitdrukking wat beteken “minder liefhê”, verlaat, gering ag, bereid wees om dit tweede te stel, wanneer nodig. “Haat” in hierdie sin, is dus nie ’n emosionele of psigiese haat nie, maar verwys na prioriteite. Elders in die evangelie word dit nog duideliker dat ons ons naastes, wat ons gesinne en families insluit, moet liefhê.

Maar in 14:26-27 is dit nie die geval nie. Dit gaan klaarblyklik hier om krisissituasies, om geleenthede waar prioriteite bots en mense voor keuses gestel word (Smit). Jesus moes dikwels dramatiese oorbeklemtoning gebruik om mense se aandag te trek en hulle te help om die punt wat Hy wil maak, te verstaan, (vgl. Matt 5:29-30). Jesus se keuse van die woord “haat”, moet dus nie letterlik verstaan word nie, maar as berekende oordrywing (hiperbool) om te verduidelik dat mense se liefde en lojaliteite vir Jesus, voorrang moet geniet bo hulle natuurlike gehegtheid aan hulle familie.

Die gedagte wat in 14:26 negatief klink met die woord “haat”, word in Matteus 10:37-38 meer positief gestel: “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie”. Jesus bedoel egter ’n doodeenvoudige algehele toewyding (Eng “commitment”) aan Hom, selfs wanneer dit direk teen familieverbande en identiteit indruis. Jesus beklemtoon ook dat hulle wat “die koste bereken het” en kies om Hom te volg, moet weet dat die koninkryk van God vir hulle nóg nader aan die hart moet lê. Jesus gebruik dus juis die sterkste moontlike taal (“haat”) om te beklemtoon hoe belangrik dit is om volkome toegewy aan Hom te wees.

Vers 27: Iemand wat in Jesus se tyd sy kruis gedra het, was net na een plek onderweg: om self te gaan sterf. Die kruis simboliseer die Romeine se grusame metode van teregstelling. Hoewel sommige van Jesus se dissipels letterlik hul eie kruis sou dra en daaraan sou sterf, word dit hier as metafoor gebruik om te sê dat Jesus se volgelinge hul eie begeertes en belange sal moet “kruisig” wanneer dit bots met lojaliteit aan Jesus. Hierdie woorde van 14:27 herinner aan wat in 9:23 staan: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.” Die evangelis Lukas praat van elke dag jou kruis opneem, dit wil sê nie ’n eenmalige algehele toewyding aan die Here nie, maar van dag tot dag moet ons dit weer en weer doen.

Thomas van Kempis het in die vyftiende eeu ’n boekie, Om die Navolging van Christus geskryf (een van die mees gedrukte boeke naas die Bybel). Met die waardering wat ’n mens vir hierdie werk het, teen die agtergrond van die verwêreldliking van die kerk in sy tyd (en vandag!), ontdek ons tog by Thomas die gevaar om die navolging van Christus te sien as ’n wegtrek uit die wêreld na ’n kloosterlewe en ’n mistieke, innerlike reis. Christus, die Een vir wie ons volg, het egter juis in die wêreld ingegaan en aan mense in hulle konkrete nood barmhartigheid en uitkoms gebied. Daar was dan ook in die vorige eeu ’n fel reaksie teen ’n Christendom wat die naam Christus dra, maar die nood en verdrukking in die wêreld by hulle laat verbygaan of selfs daaraan deelneem! Teoloë soos Bonhoeffer, wat letterlik vir sy geloofsoortuigings met sy lewe geboet en ’n boek The cost of Discipleship geskryf het, het vir ’n “religionless Christianity” gepleit. “Christ cannot be shut up in the sacred society of the church,” het hy gesê. Die skeiding tussen kerk en wêreld moes verdwyn in die tyd van die Naziregering.

Jesus se toehoorders het goed geweet wat dit beteken om ’n mens se eie kruis te dra. Enige misdadiger wat onder die Romeinse bewind tereggestel is, moes self die dwarsbalk van sy kruis na die plek van teregstelling dra. Om Christus te volg, beteken nie dat ons lewe sonder probleme sal wees nie. Inteendeel, ons betaal ’n hoë prys daarvoor. Dissipelskap vereis dat ons Christus met algehele oorgawe sal volg. Ons moet vooraf die koste van dissipelskap bereken. Dan sal ons weet waarvoor ons ons inlaat, en later selfs in die versoeking kom om terug te draai. Om ’n volgeling van Jesus te wees, vra van ons algehele oorgawe aan Hom, al moet ons daarvoor sterf.

Vers 28-33: Jesus gebruik nou drie kort gelykenisse om te verduidelik hoe noodsaaklik dit is om, voordat mens daarvoor kies, eers goed te besin wat dit sal kos om ’n dissipel van Jesus te wees. As ’n bouer nie vooraf die koste van ’n gebou bereken nie, of dit verkeerd doen, kan dit gebeur dat die gebou onvoltooid gelaat moet word. Moet jou Christelike lewe dalk onvoltooid gelaat word omdat jy nie die koste van jou toewyding aan Jesus vooraf bereken het nie? ’n Christen sal dalk afstand moet doen van sy geld of sosiale status. God mag moontlik vra dat hy van die beheer oor sy tyd en loopbaan moet afsien. Hy kan selfs gehaat word, van sy familie vervreem raak of doodgemaak word. Om Christus te volg, beteken dat ’n mens nie noodwendig sonder enige probleme sal kan lewe nie. Ons moet vooraf die koste bereken as ons Christus wil volg sodat ons nie later in die versoeking kom om terug te draai nie. In vers 33 pas Jesus die gelykenisse self toe: Niemand kan sy dissipel wees wat nie bereid is om af te sien van alle besittings nie. En die besittings sluit in: vader en moeder en vrou en man en kinders en broers en susters . . . en eie lewe (Smit).

Waarom stel Jesus dit so kras? Waarom teken Lukas dit op? Die antwoord lê in 14:34-35. Dit is die woorde van Jesus wat Lukas hier opteken, as verdere verduideliking: As sout verslaan (laf) is, is dit nutteloos. Baie Bybeluitleggers is van mening dat Lukas dit doen omdat hy dit sien as goeie kommentaar op die probleme van sy tyd, as nuttige toepassing op die geestelike toestand van die gemeentes en gelowiges vir wie hy skryf. Hulle dreig dalk om soos kragtelose sout te word: laf, flou, nutteloos. So kan hulle die evangelie en die Naam van Christus meer skade doen as iets anders. Sout kan verslaan. Sout wat nat en weer droog geword het, is niks anders as ’n nuttelose neerslag nie. Talle Christene swem saam met die stroom van hierdie wêreld omdat hulle nie bereid is om standpunt vir Christus in te neem nie. Jesus sê egter duidelik dat Christene wat nie meer “sout” is nie, niks beteken nie. Net soos sout “preserveer” sodat iets nie verlore gaan nie, moet ons smaak aan die lewe gee. Dit vereis beplanning, vrywillige opoffering en absolute toewyding aan die koninkryk van God.

Dis nie maklik om “sout” vir Christus te wees nie, maar ’n Christen wat nie daarin kan slaag nie, kan nie ’n verteenwoordiger van Christus op aarde wees nie. Waar staan jy wat dit betref? ’n Groot menigte het saam met Jesus op reis gegaan (24) sonder om te begryp wat aangaan en sonder om hulle waarlik aan Jesus te wy (Smit). Wanneer “groot menigtes” in die kerk en onder die Naam van Christus Hom volg – en Hom tog nie waarlik volg nie – word die kerk ongeloofwaardig, sy getuienis kragteloos, die boodskap irrelevant en die evangelie uiteindelik verloën. Dan kan ’n mens later van niemand meer verwag om Christus waarlik te volg nie. Want almal word net meelopers, ’n onoortuigde en daarom onoortuigende menigte. Dis om hierdie rede dat Jesus en Lukas ons waarsku: Voor julle kom, maak eers seker. Natuurlik is die bedoeling nie om met dié waarskuwing mense af te skrik en weg te wys nie! Natuurlik is die bedoeling veel eerder om by die hoorders te pleit dat hulle wel sal volg, maar met oorgawe (Smit).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema:  Vreesloos georiënteer aan Jesus

Rus

Seëngroet
Voorganger: Die Here is met julle.
Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Hy skenk sy vrede aan julle.
Gemeente: En ook aan jou.

Voorganger: Genade en vrede vir julle van God die  Vader . . .
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: . . . en van die Seun . . .
Gemeente: Hy het al ons skuld gedra.

Voorganger: . . . en van die Gees.
Gemeente: Hy maak ons nuut.

Kerkhistoriese inset oor dissipelskap (Luk 14: 33)
Augustinus het in 386 nC, die jaar van  sy worstelinge en bekering, geskryf dat dissipelskap beteken dat jy, as dienaar van God, moet bou teen berekende koste. Die koste sal wees dat jy alles wat jy besit, moet prysgee en Jesus moet volg (Boek VIII/6).

Lied

Lofsange:  Lied 100 “Juig almal tot Gods lof en eer”
Skuldbelydenis: Lied 232  “Diep, o God, diep neergeboë”

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1991  Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

Familie-oomblik

Vertel ’n storie oor iets wat jy begin wat moeilik is om klaar te maak: ’n legkaart met baie stukkies, ’n speelding wat jy aan mekaar moet sit.  Brei uit oor die deursettingsvermoë wat ’n mens aan die dag moet lê om dit klaar te maak.  Net so is daar uitdagings vir ons as Christene: mense wat ons moet vergewe, of ’n geldjie wat ons moet op offer om iemand anders te help.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Dié dag toe ons op skool magnete in die wetenskapklas behandel het, is duidelik in my geheue ingeprent.  Ons onderwyser het verduidelik hoe magneetvelde, magneetpole en die magnetisme van die aarde werk.  Toe sit hy so ’n langerige magnetiese staaf op die tafel neer, lê ’n karton bo-oor die magneet en skud ’n klomp ystervylsels bo-oor die karton.  Hy vee die vylsels mooi plat, en tik toe liggies op die karton.

Voila!  Skielik draai die ystervylsels almal in sulke bogies, georiënteer aan die twee pole van die magneet.  ’n Pragtige prentjie staan skielik uit die karton op.  Die oriënterende krag van die magneet is hiervoor verantwoordelik.  Die twee velde van die staafmagneet werk vanaf twee pole, en beweeg die ystervylsels in ’n pragtige patroon wat bestaan uit onder ander twee bogies weerskante van die staaf.  Groter velde vloei ook van die magneet weg.  Elke ystervylsel word gedraai ooreenkomstig die kragte wat op daardie punte op die vylsel inwerk.

Jesus oriënteer ons

Jesus oriënteer sy volgelinge se lewens.  Sy persoonlike teenwoordigheid in ons lewens draai ons in die rigting van sy groot krag wat Hy in en deur ons uitoefen.

Daar is baie kragte wat op ons lewens inwerk: vriende, ouers, broers en susters, besittings, beplanning, eise en uitdagings wat aan ons gestel word.  Mens rig jou lewe in om hierdie kragte te akkommodeer en te leef in ’n rigting wat sin maak en jou help om vooruit te gaan in die lewe.

Die lewende Here Jesus is nie net nog ’n krag in ons lewens nie.  Hy verteenwoordig dié krag in ons lewens.  Wat meer is:  Jesus is nie nét ’n krag nie, Jesus is ’n Lewende Persoon.  Teenwoordig deur sy Woord en Gees in ons lewens, roep en stuur Hy ons.  Sy persoon, sy roeping en opdrag is die “kragte” wat ons lewens rig.

Kragte wat op ons inwerk

In Lukas 14 ontmoet ons die kragtige invloede wat ons lewens rig.

Een: Die behoefte aan status
Verlede Sondag het ons stilgestaan by die voorafgaande paragraaf in hierdie hoofstuk (14:7-14).  Jesus is op besoek by ’n vooraanstaande Fariseër en merk hoe die gaste die voorste plekke aan tafel uitsoek.  Dit is die behoefte aan status, die krag van hoogmoed.  Ons wil graag op die sosiale leer klim.  Ons oriënteer ons aan mense en posisies wat ons hoër op die leer sal skuif.

Twee: Die rol van vriende en familie
In dieselfde gedeelte sê Jesus sy volgelinge moet hulle nie net aan vriende en familie oriënteer nie.  Nooi ook die armes, kreupeles, verlamdes en blindes as jy ’n feesmaal gee, is Jesus se opdrag.  Hy ken die krag wat vriende op ons uitoefen.

In vandag se teksgedeelte, Jesus se onderrig net ’n bietjie later in dieselfde hoofstuk, word dit nog meer radikaal gestel:  Mens kan nie Jesus se dissipel wees as jy nie afstand doen van vader, moeder, vrou, kinders, broers en susters nie (14:26).  In die oorspronklike Griekse teks word dit baie skerper gestel: Jy kan nie ’n dissipel Jesus wees nie, tensy jy jou gesin en familie “haat”. Dis ’n Semitiese uitdrukking wat beteken “minder liefhê”, verlaat, gering ag, bereid wees om dit tweede te stel, wanneer nodig. “Haat” in hierdie sin, is dus nie ’n emosionele of psigiese haat nie, maar verwys na prioriteite.

Prof Dirkie Smit verduidelik dit gaan om geleenthede waar prioriteite bots en mense voor keuses gestel word.  Jesus moes dikwels dramatiese oorbeklemtoning gebruik om mense se aandag te trek en hulle te help om die punt wat Hy wil maak, te verstaan, (vgl. Matt 5:29-30). Jesus se keuse van die woord “haat”, moet dus nie letterlik verstaan word nie, maar as berekende oordrywing (hiperbool) om te verduidelik dat mense se liefde en lojaliteite vir Jesus, voorrang moet geniet bo hulle natuurlike gehegtheid aan hulle familie.

Die gedagte wat in 14:26 negatief klink met die woord “haat”, word in Matteus 10:37-38 meer positief gestel: “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie”. Jesus bedoel egter ’n doodeenvoudige algehele toewyding, commitment aan Hom, selfs wanneer dit direk teen familieverbande en identiteit indruis.

Drie: Die krag van voorlopige, tentatiewe verbintenisse
Mens sou selfs kon besluit om Jesus te volg op ’n voorlopige, eksperimentele basis.  Moderne koopkontrakte het ’n afkoelingsperiode.  Jy kry kans om jou besluit te hersien, en die reg om kop uit te trek as dit nie vir jou werk nie.

Só kan mens kies om Jesus te volg.  Jy begin spreekwoordelik die gebou oprig, maar as dinge nie uitwerk nie, trek jy kop uit.  Nee, sê Jesus, iemand wat ’n gebou oprig moet vooraf die koste uitwerk, sodat jy in staat sal wees om die gebou te voltooi.  Dis soos ’n koning wat gaan oorlog maak.  Jy moet vooraf duidelikheid kry oor die verbintenis aan Jesus, en dit deurvoer.

Vier: Die krag van selfbehoud
Jesus sê iemand wat nie sy eie kruis dra en agter Hom aanloop nie, kan nie sy dissipel wees nie (14:27).

Die luisteraars het goed geweet wat dit beteken om ’n mens se eie kruis te dra. Enige misdadiger wat onder die Romeinse bewind tereggestel is, moes self die dwarsbalk van sy kruis na die plek van teregstelling dra. Om Christus te volg, beteken nie dat ons lewe sonder probleme sal wees nie. Inteendeel, ons betaal ’n hoë prys daarvoor. Dissipelskap vereis dat ons Christus met algehele oorgawe sal volg.  Om ’n volgeling van Jesus te wees, vra van ons algehele oorgawe aan Hom, al moet ons daarvoor sterf.

Dirkie Smit wys op die groot verskil tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus: “Bewonderaars” dink baie van Hom en beskou Hom as ’n besondere mens. “Leerlinge” het soveel van Hom te wete gekom dat hulle selfs ander kan leer. Bewonderaars kan egter maklik iemand of iets anders kry om te bewonder.  Leerlinge kan aan ’n ander leermeester se voete gaan sit.

“Dissipels” egter, volg Hom. Hulle ken Hom en is bereid om saam met Hom te sterwe.  Dit is die mense wat hulle kruis opneem, wat kies om Jesus te volg met die volle verrekening van al die implikasies.

Radikaal georiënteer aan Jesus

Wat beteken dit prakties om radikaal georiënteer te wees aan Jesus?  Watter kragte gaan daar van Jesus uit wat ons soos ystervylsels in die kragveld van dissipelskap op die regte koers plaas?

Watter geestelike magneetvelde rig die kompas van ons lewens as dissipels?

Malan Nel sê daar is twee kragte:

  • Ons verhouding met Jesus;
  • Ons roeping wat uit die hand van die Here kom.

Dissipelskap of navolging, skryf hy, is die wese van ons lewe.  Ons word opgeneem in ’n verhouding met Jesus, en ons ontvang ’n lewensroeping van Hom.  Op hierdie pad leer ons lewenslank wat dit beteken om Jesus te volg.

Mens kan Jesus nie halfhartig volg nie.  Dit is die hoogste lojaliteit van jou lewe.  Jesus kom staan tussen my en elke ander naaste en krag wat op my inwerk.  Dit verander my verhoudinge met almal radikaal. Dit mag wees dat Jesus ’n sekere afstand wil bring tussen my en diegene aan wie ek van nature verkleef is.  Die kruis van dissipelskap is presies om elke keer op só ’n punt, wanneer ’n mens met Jesus te make kry, te sterf aan jouself deur jou natuurlike drange en verhoudinge met mense ondergeskik te stel aan wie hulle in Jesus vir jou word. Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, is om elke keer te kies vir Christus, en om my naaste te begin sien deur die oë en liggaam van Jesus heen. Om deur Jesus na mense te leer kyk, naby en ver, dit is dissipelskap. En verg selfverloëning en kruisdra.

Die tweespalt van gehoorsaamheid

Die eise van dissipelskap is inderdaad hoog.  Luister wat sê twee bekende teoloë hieroor:
Dirkie Smit: “Almal met wie ons van nature verbind is word maklik hindernisse op die weg van dissipelskap. Dis om hulle ontwil dat ons ons besittings behou en vermeerder. Dis om hulle onthalwe dat ons daarna soek om gewild te wees by die mense. Om hulle ontwil probeer ons lyding ontwyk. Ter wille van hulle moet ons nie sterf nie. En wanneer hulle dit alles van ons begeer, versterk hulle nie juis dit wat ons eie siel ook van nature reeds begeer nie. Om dissipel te wees bring daarom tweespalt in ’n mens self. Dit bring ’n mens telkens weer in botsing met jouself. Jy moet telkens opnuut hierdie keuse maak. Wie nooit meer hierdie tweespalt in hom of haar ervaar nie, vir wie die eise van Christus en die evangelie maklik, vanselfsprekend, byna natuurlik word, vir wie die evangelie soos ’n handskoen begin pas by hulle eie behoeftes en lewenskeuses . . . só iemand neem die evangelie waarskynlik nie meer ernstig genoeg nie.”

C S Lewis: “Christus sê: Gee my alles, Ek wil nie soseer van jou geld of jou werk hê nie, Ek wil jou hê. Ek het nie gekom om jou ou self so bietjie op te knap nie, maar om jou ou self dood te maak. Halfpad is nie ver genoeg nie. Ek wil nie ’n takkie hier en daar regsnoei nie, ek wil die boom afkap. Die eise van dissipelskap dra soms die skyn van ’n sware las. Die geloofskuns is om dit te ontdek as dinge wat vrymaak, omdat dit jou aan Christus verbind.”

Die krag kom van God

Paulus skryf in Filippense 3:10: “Al wat ek wens is, om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood.”

Paulus is baie ernstig oor sy navolging van Christus. Dissipelskap bly dus inspanning, maar die diepste motivering is die feit dat ek reeds aan Christus behoort. Paulus is by ’n punt in sy lewe waar hy ’n totale herwaardering moes maak. “Om Christus te ken” het vir hom die belangrikste prioriteit in sy lewe geword. Dit is ’n intieme, persoonlike, leweveranderende kennis van Christus. Die lewende krag wat hy ontvang van die opgestane Christus maak die enorme verskil in sy lewe.

Wat is tans die situasie in jou lewe? Is daar die hartstog, die voortdurende verlange om Hom beter te leer ken, of het jy geruime tyd gelede reeds “aangekom?”

Navolging beteken dat ons onsself onherroeplik aan Christus weggee en doen wat Hy van ons vra.  Bewonderaars en leerlinge kry dit nie reg nie. Dissipels wel. Hulle ervaar die verskil en maak ’n groot verskil!

My lewenstyl en optrede as dissipel moet so wees dat mense Jesus Christus in my lewe kan sien. ’n Lewenstyl wat navolgenswaardig is, wat ’n bewys is dat ek Christus Jesus as die bate en wins verkry het. Dat Christus Jesus die winspunt in my lewe is en moet wees.

Sien, dit werk net soos met ystervylseltjies.  Dis die magneet wat hulle oriënteer.  Die krag kom van buite.  Die Here Jesus het ons vasgegryp.  Hy het sy Gees kragtig oor ons uitgestort.  Ons het die Woord as kompas.

Just do it.

God stuur ons om te leef

Slotsang: Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”

Lied 146  “Prys die Here, loof en prys Hom”

Seën 
Voorganger: Die Here sal met jou wees.
Gemeente: Ek wil Hom bo my gesin liefhê.

Voorganger: Die Here sal met jou wees.
Gemeente: Ek wil Hom bo my geld en my goed liefhê.

Voorganger: Die Here sal met jou wees.
Gemeente: Ek wil Hom bo alles liefhê.

Voorganger: Die Here sal met jou wees.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.