Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se tekste vertel die nood van die natuur, van verskrompelde saad, vee wat bulk en blêr van honger, boorde wat verdroog. Die gemeente sal ook hoor hoe ons, na ons die natuur vertrap en vernietig het, in ons nood roep tot God (Joël). Die natuur, in sy vertrapping en vernietiging, wag op uitkoms van God af, sug soos ’n vrou met geboortepyne, wag om te sien wie die kinders van God is, want dan sal die skepping ook bevry word. ’n Nuwe begin moontlik? Ja, want die water van die doop is die tasbare teken dat die Gees wat nuut maak op elke gedoopte rus (Matt).

Ander tekste

Joel 1:8-10, 17-20; Psalm 18:6-19; Romeine 8:18-27
Joel 1:8-10, 17-20
8Julle moet rou soos ’n bruid rou
oor haar bruidegom.
9Die graanoffer en die drankoffer
is weggeneem
uit die huis van die Here.
Die priesters wat in die diens
van die Here staan, treur.
10Die weiding is weggevreet,
die veld treur.
Die koringoes is weggevreet,
van die wyn het daar niks gekom nie; die olyfolie het verdwyn.

11Julle moet verslae staan, saaiboere, oor die koring en die gars,
want die oes op die land is tot niet.
Kla, vrugteboere,
12die wingerd het verdor;
die vyeboom staan verdroog,
die granaat, die dadel en die appel,
ja, al die bome in die boord het verdor.
Daar het ’n einde gekom
aan die vreugde van die mense.
13Trek rouklere aan, treur, priesters!
Kerm, julle wat diens doen
by die altaar!
Dra julle rouklere selfs snags,
julle wat in die diens van my God is:
die graanoffer en die drankoffer
is weggeneem
uit die huis van julle God.
14Bepaal ’n vasdag,
roep die gemeente bymekaar,
bring die leiers en al die inwoners
van die land
na die huis van die Here
julle God toe.
Roep tot die Here!
15Die vreeslike dag!
Die dag van die Here is naby:
dit is ’n dag van verwoesting,
dit kom van die Almagtige af.
16Voor ons oë is ons kos weggevat;
blydskap en gejuig het
uit die huis van ons God verdwyn.

17Die saad lê verskrompel
onder die kluite,
die graanskure lê verlate,
die skure lê afgebreek,
want die koringoes het misluk.
18Die vee bulk en blêr:
die troppe beeste dwaal rond,
want hulle het niks om te vreet nie,
ook die kleinveetroppe kry swaar.
19Ek roep tot U, Here,
want ’n vuur het die weiveld verteer,
’n brand het al die bome in die veld
weggebrand.
20Die diere in die veld
wag op uitkoms van U af,
want die spruite het opgedroog,
’n vuur het die weiveld verteer.

Psalm 18:6-19
6Bande van die doderyk
het my vasgetrek,
strikke van die dood het my bedreig.
7In my nood roep ek na die Here,
ja, ek roep om hulp na my God.
In sy paleis hoor Hy my geroep.
Ek roep na Hom om hulp,
en Hy luister na my.
8Die aarde het geskud en gebewe,
die fondamente van die berge
het getril en geskud,
want Hy was vertoorn.
9Rook het uit sy neus getrek,
vuur uit sy mond het alles verteer,
gloeiende kole uit sy binneste.
10Hy het die hemel afgebuig
en afgekom,
onder sy voete was duisternis.
11Hy het op ’n gerub geklim en gevlieg;
op die vleuels van die wind
het Hy nadergesweef.
12Hy het Hom in donkerte gehul,
donker waters en wolkemassas
was sy bedekking.
13Uit die gloed voor Hom
het wolke getrek,
hael en weerligstrale.
14Die Here het dit uit die hemel
laat dreun,
die Allerhoogste het sy stem laat hoor
in hael en weerligstrale.
15Hy het sy pyle afgeskiet
en die vyand uitmekaar gejaag,
hulle met ’n menigte weerligstrale
op loop gejaag.
16Die seebodem het sigbaar geword,
die fondamente van die aarde is blootgelê
deurdat U, Here, op hulle gebulder het
met die orkaan van u toorn.
17Van bo af het Hy sy hand uitgestrek
en my gegryp,
my uit geweldige waters uitgelig.
18Hy het my gered van my vyand
wat sterk was,
van my haters
toe hulle vir my te magtig was.
19Die dag toe hulle my aangeval het,
was my ondergang naby,
maar die Here het my daarvan bewaar.

Romeine 8:18-27
Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Fokusteks

Matteus 3:13-4:2
Die doop van Jesus

(Mark 1:9–11; Luk 3:21–22; Joh 1:31–34)
13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”

15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Die versoeking in die woestyn
(Mark 1:12–13; Luk 4:1–13)
4 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
’n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom.”

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
en:
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ’n klip
sal stamp nie.”
7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid en
Hom alleen dien.”

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Liturgie

ONS KOM TOT RUS

Lied 163 (2X) Soos ‘n wildsbok

Aanvangswoord
3Die Here is my rots,
my skuilplek en my redder,
my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser,
my veilige vesting. (Ps 18)

Seëngroet
Geliefdes wees gegroet in die Naam van Jesus
die vleesgeworde waarheid van God by ons.
Jesus wat toon dat die naam wat die Vader ons gee
waar is: geliefde.
“Die Here gee krag aan julle, sy volk;
Die Here seën julle, sy volk, met oorvloed” (uit Ps 29:11).
Uit Matteus 03_13-17.doc by die Leesrooster.org webtuiste – Epifanie 2008

Verootmoeding
Sondag 18 September 2011 is beide die 14e Sondag in koninkrykstyd en die 3e Sondag van die Skepping. Omdat die fokusteks hom nie eintlik leen aan die Skeppingtema nie, kan ons dalk onder verootmoediging hieraan aandag gee.

Die gebrokenheid van die Skepping
Joel 1:8-10, 17-20
8Julle moet rou soos ’n bruid rou
oor haar bruidegom.
9Die graanoffer en die drankoffer
is weggeneem
uit die huis van die Here.
Die priesters wat in die diens
van die Here staan, treur.
10Die weiding is weggevreet,
die veld treur.
Die koringoes is weggevreet,
van die wyn het daar niks gekom nie; die olyfolie het verdwyn.
11Julle moet verslae staan, saaiboere, oor die koring en die gars,

want die oes op die land is tot niet.
Kla, vrugteboere,
12die wingerd het verdor;
die vyeboom staan verdroog,
die granaat, die dadel en die appel,
ja, al die bome in die boord het verdor.
Daar het ’n einde gekom
aan die vreugde van die mense.
13Trek rouklere aan, treur, priesters!
Kerm, julle wat diens doen
by die altaar!
Dra julle rouklere selfs snags,
julle wat in die diens van my God is:
die graanoffer en die drankoffer
is weggeneem
uit die huis van julle God.
14Bepaal ’n vasdag,
roep die gemeente bymekaar,
bring die leiers en al die inwoners
van die land
na die huis van die Here
julle God toe.
Roep tot die Here!
15Die vreeslike dag!
Die dag van die Here is naby:
dit is ’n dag van verwoesting,
dit kom van die Almagtige af.
16Voor ons oë is ons kos weggevat;
blydskap en gejuig het
uit die huis van ons God verdwyn.

17Die saad lê verskrompel
onder die kluite,
die graanskure lê verlate,
die skure lê afgebreek,
want die koringoes het misluk.
18Die vee bulk en blêr:
die troppe beeste dwaal rond,
want hulle het niks om te vreet nie,
ook die kleinveetroppe kry swaar.
19Ek roep tot U, Here,
want ’n vuur het die weiveld verteer,
’n brand het al die bome in die veld
weggebrand.
20Die diere in die veld
wag op uitkoms van U af,
want die spruite het opgedroog,
’n vuur het die weiveld verteer.

Belydenis / Assosiering met die gebrokenheid

Lied 279 (2X) in gewyde stemming

Vooruitblik op die eendag…
Romeine 8:18-27

Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Lofverheffing
Lied 456:1,2,3 of Lied 571:3, 4 (of albei liedere)

Gebed
Here, leer ons om deernis met die aarde te hê.
Maak ons gees gevoelig:
vir die roepstem van die ganse skepping.
Here, maak ons gees gevoelig vir:Die snikke van die kwikstertjie wat hulpeloos toekyk terwyl die huiskat haar kleintjie verteer.
Die uitgerekte tjank van die hond wat vasgemaak staan in die nag.
Die hulplose geroggel van ’n koei wat kalf.
Die kreun van bome teen die stormwind.
Here, maak ons gees gevoelig vir:
Die oopgebarste grond en droë kluite,
die bees langs die droë krip,
wat smag na ’n druppel vog.
Here, laat ons in ons geestesoog sien:
Die koringaar en wingerdstok wat sy blare inmekaar
draai sonder vog en
weg beur van die son vir sy eie behoud.
Here, leer ons nou uit u Woord
om deernis met die aarde te hê.
Amen.
(Gebed na aanleiding van opmerkings deur Walter Lüthi oor Rom 8:18-30 in The Letter to the Romans)

ONS HOOR

Skeriflesing: Matteus 3:13-4:2

Prediking

ONS GAAN LEEF

Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis

Wegsending: Lied 308:1,4,5

Musikale Amen

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees
Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die teks leen hom uitstekend tot die ritueel van doopviering.
In 2004 het die Algemene Sinode oor die viering van die doop as volg besluit:

 Doopviering
1. Die Algemene Sinode besluit om sinodes en kerkrade weer eens dringend aan te moedig om groot erns te maak met die verantwoordelike vertolking van die doop en nagmaal soos ons dit verstaan binne die Gereformeerde verstaan van die evangelie van die genade.
2. Die Sinode moedig kerkrade aan om gesamentlike doopvierings in die erediens verder te ontwikkel en uit te bou.
3. Die Sinode versoek gemeentes om nie met hierdie viering die suggestie van ’n herdoop te laat posvat nie.
4. Die Sinode moedig kerkrade ook aan om die moontlikheid van individuele doopvierings in die erediens en in kleiner groepe in die gemeente te ontwikkel.

In die dokumente bundel van die Alg Sinode 2007 vind ons ook hierdie paragraaf:
2.2.7.3 Toewydingsgeleenthede (die nagmaal en ander simboliese geleenthede): Daar is ‘n groeiende behoefte aan lidmate om na jare weer deel te hê aan ‘n openbare toewydingsgeleentheid.
Afgesien van die nagmaal, wat tog die mees waarskynlike sigbare deelnemende liturgiese handeling is, wat as toewydingsgeleentheid as sodanig ingerig kan word, kan daar ook ander liturgiese elemente geskep word om hierdie behoefte aan te spreek.

Suggestie vir Doopviering: Nooi al die kinders na die doopvont en gee elkeen geleentheid om beide hande in die water te dompel en druppels te laat afloop. Hierdie handeling kan ondersteun word met ‘n neutedop gesprek oor die betekenis van die doop sowel as ‘n gepaste gebed.

Preekriglyn

Die bekende woorde van Michelangelo, “In elke blok graniet sien ek ‘n pragtige beeld,” inspireer vir Benjamin Zander, dirigent van die Bostonse Filharmoniese orkes. Sy lewensdoel is om die goeie, die mooie in elke mens na vore te bring. Hy noem hierdie benadering “Giving an A”. Hy behandel alle mense asof hulle A-kandidate is. Hy doen dit letterlik. Die studente vir wie hy ’n semesterkursus in die kuns van musiekuitvoering aanbied, gee hy sommer aan die begin van die kursus ’n A-simbool.

Zander beskryf die praktiese implikasies van sy benadering as volg:

  • Jy fokus nie op ander se beperkings nie, maar ontdek saam met hulle hul uniekhede.
  • Jy skat jou kollegas/mense na waarde en luister na hulle.
  • Jy verwag nie die minste van ander nie en daarom sal hulle hulle beste lewer.
  • Gee jouself ’n A. As jy jouself onderwaardeer, sal jy geneig wees om dieselfde met ander te doen.

Zander skryf die volgende oor die leefwêreld waarin sy musiekstudente hul begeef: “Hulle sal hulself in ’n maalstroom [sic] van kompetisie bevind waarin hulle moet veg vir oorlewing. Dit is ’n leefwêreld wat gekenmerk word deur rugstekery, rangordes en ’n strewe na status. In hierdie arena verwag ons van hulle om die meesterwerke met warmte, edelheid, speelsheid, gul-hartigheid, eerbied, sensitiwiteit en liefde uit te voer” (vry vertaal). Is dit nie ironies nie, vra hy? Is dit nie verskriklik tragies nie? Mense (ons) skep ’n giftige, ’n toksiese omgewing en verwag dan dat lewe daar moet gedy! Benjamin Zander wil dit verander. Hy wil help om mense te vorm sodat hulle pas by die lewenstaak wat vir hulle voorlê! As hulle soos A-kandidate moet optree, dan gee hy vir hulle ’n A en span hy met hulle saam om dit te verwesenlik. (Uit: Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2011)

‘n Groot dag in die lewe van God

In ons teks lees ons van ‘n groot dag in die lewe van Vader, Seun en Heilige Gees. Jesus kom aan die begin van sy openbare bediening van Galilea af. Hy kom om deur Johannes die Doper in die Jordaan gedoop te word.

Dit is nogal vreemd dat Jesus aanmeld om gedoop te word. Johannes se doop is ‘n bekeringsdoop. Met hierdie doop bely mens jou sonde voor God en soek jy vergifnis. Die vraag is: wat het Jesus om te bely? Jesus is ten volle mens, uitgesonderd die sonde. Jesus is ook God. Tog kom Jesus om ‘n belydenis- en bekeringsdoop te ondergaan.

Die antwoord? Op hierdie groot dag, aan die begin van sy openbare bediening as die Messias en Verlosser, sit Jesus as’t ware sy skouer onder ons sonde. Hy tel die las van ons gebrokenheid, ons opstand teen God, ons verskeurdheid in ons verhoudinge met mekaar en die wêreld, op sy skouers. Hy het gekom om vir ons en ons wêreld genesing te bring. Soos die engel vir Josef gesê het: “Jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Mat 1:21)

Johannes se doop is Jesus se publieke ampsaanvaarding van sy taak as Messias. Gestuur deur die Vader, buig Hy gehoorsaam onder die las van ons sonde in om vir ons bevryding te bring.

Wanneer Johannes skroom om Jesus te doop, sê Jesus hy moet dit nou doen, “want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” (15)

Só word hierdie dag ‘n gróót dag in die lewe van God. Só kom daar die blydskap in die Vaderhart. Om hierdie rede daal die Heilige Gees neer op Jesus. Daar is vreugde, blydskap en omhelsing in die lewe van die Drie-eenheid. Die Seun is immers gedoop. Die missie van God is op koers.

“Jy is my geliefde Seun”

Die Drie-eenheid word in die dooptoneel openbaar as ‘n lewende gemeenskap van Vader, Seun en Heilige Gees. Ons leer God in ons teks as ‘n liefdevolle gemeenskap van goddelike Persone ken. Ons aanbid ‘n God met verhoudinge binne-in God. Daar is Vader, Seun en Heilige Gees. Ons God is ‘n sosiale God, ‘n heilige Familie van Persone wat op mekaar ingestel is, mekaar dien, en vreugde in mekaar vind.

Hierdie sosiale God reik uit na mense en na die skepping. Ons is geskep uit God se begeerte na meer verhoudinge. Mens kan sê God se soeke na verhoudinge het op ‘n dag so groot geword dat God ook na buite in verhouding wou tree. Vanuit hierdie oorkook van Goddelike liefde is God se wêreld in aansyn geroep. Ons is die produk van die oerknal van God se liefde.

Deur krisisse het ons uit hierdie verhoudinge met God geval. Ons het weggebeur van God en die verhouding versteur. Ons het vyande van God geword.

Die Heilige Familie, die heilige Drie-eenheid, laat ons egter nie alleen nie. God gee ons nie oor aan ons lot nie. Die Vader stuur die Seun na die aarde om die deur te open dat ons teruggetrek kan word in ‘n herstelde verhouding met God. Die openbare uitvoering van hierdie missie in Jesus se bediening begin by die doop in die Jordaan.

Vandaar die blydskap van God. “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” (17) Vandaar die omhelsing van die Heilige Gees wat soos ‘n duif uit die hemel neerdaal en op Jesus kom. (16)

‘n Groot dag in die lewe van die Drie-eenheid.

Bevestiging en bemagtiging

Die Goddelike omhelsing by die doop van Jesus word die Goddelike bemagtiging waaruit Jesus lewe en sy bediening uitvoer. Dit word die krag van waaruit Hy bv. die versoeking in die volgende toneel van Matteus se evangelie weerstaan en die duiwel oorwin.

Ons is ook – in Jesus en deur die Gees – ingetrek in die groot geselskap van gemeenskap met die lewende God. Ons is ook gedoop. Oor ons lewe klink die woorde van die Almagtige: “Jy is my geliefde kind. Oor jou verheug Ek My.”

Henry Nouwen skryf – na aanleiding van die gelykenis van die verlore seun – daar is geen ander plek waar mens jouself moet bevind nie dan in die omhelsing van die Vader. Die vuil, verslonste, mislukte voorheen verlore seun val in die arms van die Vader. Die liefde van die Vader tel hom op, genees hom, herstel hom. “Jy is my geliefde kind. Oor jou verheug Ek My.”

God bevestig en bemagtig ons. Eers wanneer ons God se liefdesverklaring hoor, is ons bemagtig om God te gehoorsaam en te dien.

“Is ek goed genoeg?”

Ons leef in ‘n kultuur wat ons wysmaak dat ons nie goed genoeg is nie. Jy is te maer of te vet. Jy maak dit nie, want jy volg hierdie tien, of daardie drie stappe tot onvergelyklike sukses nie. Ons word ook geleer om mekaar te kritiseer en af te breek. Die lewe is een groot kompetisie, en jy is op jou eie. Dit gaan oor jou potensiaal wat jy moet verwesenlik. Jy moet bo uitkom.

Soos Benjamin Zander sê: ons leefwêreld word gekenmerk deur rugstekery, rangordes en ’n strewe na status. Hierdie groot kompetisie stroop die lewe kaal. Dit vervreem ons van mekaar. Dit maak van God die beoordelaar wat bepaal of ons dit maak of nie.

In die bekende fliek, As it is in Heaven, leer ons die kerk as so ‘n veroordelende gemeenskap ken. Die kerk is geïnteresseerd in wat verkeerd is, en word ‘n heksejag na vermeende sonde. Terwyl die kerk mense wil help om God te plesier, vernietig die kerk vreugde en vervreem juis mense van God en van mekaar. ‘n Koormeester wat skoonheid en menslikheid inweef in die lewe van die koorgemeenskap, wys ons iets van God se alternatief.

Vir immer-kritiserende Westerlinge is die groot dag in die lewe van die Drie-eenheid ‘n uitnodiging om vanuit God se liefde te lewe.

Wees versigtig om nie God se liefde te gebruik om die kerk te kritiseer nie! God se liefde gee ons nie skietgoed om mekaar vir ons liefdeloosheid te beskaam nie. Dit mis die punt.

God se liefde en God se bevestiging wil ons genees om self liefdevolle en bevestigende mense te word. God help ons om liefdevolle en bevestigende gemeenskappe te vorm. Dit gebeur deur die bediening van sy Seun en die krag van die Gees wat ons lewens verander.

In die omhelsing van die Vader weet ek ek is goed genoeg. God het my lief. Ek kan nou ook omhels en liefhê en bevestig.

Soos Benjamin Zander kan ek ander mense as A-kandidate behandel. Daar is ‘n pragtige mens in elke mens rondom my.

Ingetrek in God se missie

Waarom reik God in Jesus uit na ons? Waarom trek God ons in die groot liefdesgemeenskap, die lewe van die Drie-eenheid, in?

Een van die redes is dat God ons deel maak van God se missie in die wêreld. Die Seun is gestuur om mense in te trek in liefdesgemeenskap. Die Seun het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook…” Net daarna blaas Hy oor sy dissipels en skenk die Heilige Gees aan hulle. (Joh. 20:21-22)

Ons ontvang die liefde en genesing, sodat ons liefde en genesing het om uit te deel. Mens kan daarom sê ons eie doop is ons ordening tot deelnemers aan God se sending.

Ons het gelowiges nodig wat in Jesus se Naam hul skouers onder die sonde en die gebrokenheid van die wêreld plaas. Ons het agente nodig vir genesing en herstel.

Ons moet ruim dink oor wat genesing en herstel beteken. Dit het te doen met ‘n herstel van verhoudinge met God, met mekaar en met die wêreld. Dit het te doen met ons dagtaak, met ons binnekamer, met ons innerlike selfgesprek oor ons eie genesing en gesondheid, met ons hele lewe.

Lesslie Newbigin beklemtoon die rol van ons dagtaak in God se sending in die wêreld. Hy sê gelowiges wat in dieselfde beroepsvelde werk, moet voortdurend saam beplan oor hoe hulle in daardie area God se sending kan uitleef. Gemeentes het ‘n rol om hierdie gesprekke te fasiliteer.

Versterk

Ons lewe as gelowiges in God se diens begin elke dag van ons lewe vanuit die omhelsing van God. Dit is ons krag en ons sterkte. Dit is ons genesing. Dit is die inhoud van ons bediening. Dit is die manier hoe ons onsself en ons medemens benader.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.