Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Ou-Testamentiese tekste sowel as die psalm getuig van God se mag en die ontsag, eer en lof wat Hom toekom. Die Nuwe-Testamentiese tekste lei ons om te fokus op hierdie magtige God en sy genade eerder as op ons eie vooroordele en onvermoë om te aanvaar (Romeine) en te vergewe (Matteus). Dit sluit goed aan by die vorige week se sleutelteks (Rom 13:8-14) wat gehandel het oor ons leefwyse gebaseer op liefde vir God en vir mekaar.

Ander tekste

Eksodus 14:19-31
Die Here red die Israeliete
15Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. 16En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. 17Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning. 18Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

19Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.

21Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ’n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ’n muur gestaan. 23Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. 24In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai. 25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg.

Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.” 26Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.”

27Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. 28Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie.

29Maar die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan en die water het weerskante van hulle soos ’n muur gestaan. 30Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê. 31Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.

Psalm 114
Die aarde moet bewe as die
Here verskyn

114 Toe Israel uit Egipte getrek
het,
toe die nageslag van Jakob getrek het,
weg van die volk
met die onverstaanbare taal af,
2het Juda sy gewyde besit geword
en Israel sy magsgebied.
3Die see het dit gesien
en op die vlug geslaan,
die Jordaan het teruggedraai,
4die berge het rondgespring
soos ramme,
die rante soos lammers.
5Wat is dit met jou, see,
dat jy op die vlug slaan,
wat is dit, Jordaan, dat jy terugdraai,
6berge, dat julle soos ramme
rondspring,
en julle, rante, soos lammers?
7Bewe, aarde, as die Here verskyn,
as die God van Jakob verskyn,
8Hy wat rots in waterkuile verander,
harde klip in fonteine.

Eksodus 15:1b-11, 20-21
Die Here is oorwinnaar in die stryd
15 Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing:
“Ek wil tot eer van die Here sing
omdat Hy hoog verhewe is.
Perd en strydwa
het Hy in die see geslinger.
2Die Here is my krag
en my beskerming.
Hy het tot my redding gekom.
Hy is my God, Hom roem ek,
die God van my voorvaders,
Hom prys ek.
3Die Here is oorwinnaar in die stryd,
sy Naam is ‘die Here’!
4Die strydwaens van die farao
en ook sy leër
het Hy in die see geslinger.
Die keur van Egipte se offisiere
is in die Rietsee gedompel.
5Watermassas het hulle oordek,
soos ’n klip het hulle
in die dieptes afgesak.
6U regterhand, Here,
gedug in sy krag,
u regterhand, Here,
verpletter die vyand.
7U is hoog verhewe,
U vernietig wie teen U opstaan,
U laat u toorn woed,
dit verteer hulle soos kaf.
8U wind het gewaai:
die water dam op,
strome staan regop soos ’n muur,
watermassas stol
in die hart van die see.
9Die vyand sê:
‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal,
ek sal die buit verdeel,
ek sal my sin kry,
ek sal my swaard trek,
my hand sal hulle verslaan.’
10“U laat u wind waai:
die see oordek hulle,
hulle sink soos lood
in die magtige waters.
11Wie van die gode is soos U, Here?
Wie is soos U, so hoog geëeren heilig?
In lofsange word U vereer,
Bewerker van wonderdade!

12U het u regterhand uitgesteek;
die aarde het die vyand ingesluk.
13Deur u trou het U die volk gelei
wat deur U verlos is,
hulle deur u krag gebring
na u gewyde land toe.
14Die volke het dit gehoor
en hulle het gesidder,
angs het die bewoners van Filistea
beetgepak,
15die stamhoofde van Edom
was verskrik,
die magtiges van Moab
vreesbevange,
al die bewoners van Kanaän
was lam geskrik.
16Vrees en angs het hulle oorval,
u magtige dade het hulle
laat versteen
toe u volk deurtrek, Here,
toe die volk wat U u eie gemaak het,
deurtrek.
17U het hulle ingebring,
U het hulle geplant
op die berg wat aan U behoort.
Here, U het ’n plek vir u troon
voorberei,
u hande, Here, het ’n gewyde plek
gereed gemaak.
18Die Here regeer tot in ewigheid!”

19Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan.

Die lied van Mirjam
20Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing:
“Sing tot eer van die Here
omdat Hy hoog verhewe is.
Perd en ruiter
het Hy in die see geslinger.”

Matteus 18:21-35
Die plig om te vergewe
21Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. 23Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ’n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. 24Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. 25Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. 26Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’27Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28“Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’29Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’30Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. 32Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. 33Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’34Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

35“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Fokusteks

Romeine 14:1-12
Moenie jou broer veroordeel nie

(Vgl 1 Kor 8:11–13; 10:23–33)
14 Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2Een glo ’n mens mag alles eet; ’n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.

4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.

5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

7Niemand van ons leef tog
vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
8As ons lewe, leef ons tot eer
van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.

9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.

10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:
“So seker as Ek lewe, sê die Here,
voor My sal elke knie buig,
en elke tong sal bely dat Ek God is.”
12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.

Ekstra stof

Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente
Paulus beweeg hier na ’n spesifieke probleem in die gemeente van Rome, die konflik tussen die sterkes en swakkes in die geloof. Hy hanteer dit eers in die algemeen in 14:1-12, en dan meer spesifiek in 14:13-23.

14:1-12: Let op hoe Paulus hom hier hoofsaaklik rig tot die sterkes in geloof, en uitspel dat hulle diégene wat in geloof swak is, moet aanvaar, sonder om met hulle te stry oor opvattings wat van die sterkeres verskil. Dit beteken natuurlik nie dat hulle ander gelowiges se opvattings doodgewoon voor die voet moet aanvaar nie, maar dat hulle die swakkes moet aanvaar.

Die swakkes in die geloof waaroor Paulus hier skryf, is mense wat bv. net groente eet (14:2), of anders as jy met hulle werkers omgaan (14:4), of een dag belangriker as ander reken (14:5). Die sterkeres in die geloof, waaronder Paulus natuurlik self tel (15:1), wat alles eet of alle dae as gelykwaardig beskou, moet die swakkes nie veroordeel nie, en, voeg hy by, die swakkes moet die sterkeres in die geloof nie verag nie. Aanvaarding is beter as die wen van argumente.

In 1 Kor. 8-10 het hy natuurlik oor ’n soortgelyke probleem geskryf, hoewel dit in Korinte heel moontlik oor die heidense invloed gegaan het. Hier gaan dit eerder oor die Joodse invloed, soos gesien kan word uit die vermelding van hoe mense oor die dae van die week gedink het.

Almal moet egter wat hulle doen tot eer van die Here doen, en toegelaat word om dit te doen, want ons is aan Hom, en alleen aan Hom, rekenskap verskuldig. Let op hoe Paulus hier die regterstoel van God as motivering inbring om ’n mens se eie doen en late te ondersoek, eerder as om ander s’n met ’n fynkam deur te gaan.

14:13-23: Die belange van medegelowiges weeg swaarder as jou eie opvattings, veral oor goed wat meer op die periferie lê soos wat jy eet, drink (14:21) en vier. ’n Mens moenie aanstoot gee of ander tot ’n val bring nie, al is daar niks intrinsiek verkeerd met kos, drank en feesgeleenthede per se nie. Dit trek ’n streep deur die liefde, soos Paulus dit in hoofstuk 13 uitgespel het.

Let op hoe Paulus die lewe voor God en in die Gees koppel aan die lewe in die liggaam van Christus. Deur met oorleg op te tree teenoor ons medegelowiges, terwyl ons ook sonder om te skroom aan ons eie oortuigings mag en moet vashou (14:22-23), sorg ons dat mense gehoorsaam aan God kan lewe en sy vrede en vreugde deur die Gees in die uitbreiding van die koninkryk kan beleef. Vers 19 som dit op: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

Ek onthou nog hoe ek die oortuiging gekry het in ’n 2-jaar tydperk waar ek met alkoholiste gewerk het in my studentejare (straatwerk Parow), en ek nie met ’n goeie gewete self alkohol kon gebruik nie, ter wille van hulle standvastigheid. Ek het selfs nie Nagmaalwyn gebruik in daardie tyd nie. En ek onthou ook hoe die Here my daarvan vry gemaak het, toe ek nie langer by hulle betrokke was nie. Alles ter wille van my medegelowiges wat probleme gehad het, en tot eer van die God aan wie ons saam gehoorsaam gelewe het.

Liturgie

RUS

Toetrede” Lied 151 of Flam 378 of VONKK 102

Votum: Eksodus 15:1b-3 of NGB Artikel 1 en 2:

Seëngroet

Lofsang: Lied 521 of Flam 49 of VONKK 121

Wet: Matteus 18:21-22 en Romeine 14:1-7 of Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 3-5

Skuldbelydenis/Toewyding: Lied 511 of Flam 4 of VONKK 175

Genadeverkondiging/vermaning Romeine 14:8-12 of NGB Artikel 21

Geloofsbelydenis HK Vraag en Antwoord 22 en 23

HOOR

Gebed: Bybelmedia se video “Gebed vir leerbaarheid” Klik hier

Skriflesing: Romeine 14:1-12

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 517 of Flam 221

Seën

Respons: Lied 553 “Ek is bly ek ken vir Jesus”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 151 “Skenk ons, Here, u beskerming (v2: deur u lering…)” of
Flam 378 “Skyn Met U Lig In My Hart, Heer” of
VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15)”

Votum: Eksodus 15:1b-3 of
NGB Artikel 1 en 2:
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles.

Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:12). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Seëngroet

Lofsang
Lied 521 “Erkentlik deur die dae” of
Flam 49 “Ek Weet Dat U My Liefhet” of
VONKK 121 “Ek Wil U Loof Met My Hele Hart (Psalm 138) “

Wet: Matteus 18:21-22 en Romeine 14:1-7 of
Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 3-5
Liturg Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente Antwoord: Uit die wet van God.

Liturg Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?
Gemeente. Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Liturg Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente Antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Skuldbelydenis/Toewyding
Lied 511 “Lei U ons, Lig” of
Flam 4 “O Heilige Gees, Kom Maak My Nuut” of
VONKK 175 “Net Soos Ek Is”

Genadeverkondiging/vermaning
Romeine 14:8-12 of
NGB Artikel 21
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur die allerbitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het en so ‘ sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.

Geloofsbelydenis
HK Vraag en Antwoord 22 en 23:
Liturg Vraag 22: Wat moet ‘n Christen glo?
Gemeente Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

Liturg Vraag 23: Hoe lui die artikels?
Antwoord: Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 175 “Net Soos Ek Is”
Teks: Just as I am, without one plea – Charlotte Elliot 1836; Net soos ek is, geen hulp naby – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 ©
Musiek: BOSTON – Lowell Mason (1792-1872)
Kantoryverwerking: Lowell Mason (1792-1872)
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Geloof en Vertroue

1. Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
o Lam van God, ek kom!

2. Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
o Lam van God, ek weet!

3. Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer.
Net U kan, Heer, my verlorenheid keer –
o Lam van God, ek kom!

4. Net soos ek is kom en nooi U vir my.
Al moes U ook soos ‘n moordenaar ly,
kom U vergewe en skeld U my vry –
o Lam van God, ek glo!

VONKK 121 “Ek Wil U Loof Met My Hele Hart (Psalm 138)”
Teks: Jacques Louw 2009 ©
Melodie: LOURENS – Jacques Louw 2009 ©
Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

1. Ek wil U loof met my hele hart,
laat al die gode dit hoor.
Ek roem u Naam en u liefdestrou;
dis tot u eer dat ek sing.
Al die konings van die aarde
sal U loof vir wat U doen;
want U is hoog verhewe, Heer,
U mag en krag is groot.

2. Al is U so verhewe, Heer,
gee U vir ned’riges om.
As nood en vyande my oorval,
strek U u hand uit oor my.
Aan die liefde van die Here
is daar nooit ‘n einde nie
Die goeie werk van u hande, Heer,
sal U mos nooit laat vaar.

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15)”
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Afrikaans – Pro Deo); Jacques Louw 2010 (Engels en Duits); Frans du Toit & Nataniël Sebolai 2010 (Sesotho); Naòmi Morgan 2010 (Frans)
Melodie: MY WILLEM – Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

F49. “Ek Weet Dat U My Liefhet” 
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Chardi Visser
© 2009 MAR Gospel Music
(Opgeneem op Uitverkoop)

Ek weet dat U my liefhet.
Ek weet dat U vir my sorg.
Ek weet dat U genade
my altyd deur sal volg.

Brug:
En u Heilige Gees
en sy liefde vir my
sal vir ewig hier binne-in my bly.

Refrein: (x2)
Here my God
ek sal U loof, ek sal U prys
U is my God want U het my geroep gehoor.

F4. “O Heilige Gees, Kom Maak My Nuut” 
(RUBRIEK: Kersflam, Flammikidz)
Teks en musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2009 Flam Musiek-Uitgewers

O, Heilige Gees, kom maak my nuut,
kom vul my hele lewe.
O, Heilige Gees, kom maak my nuut,
kom vul my hele lewe.

F221. “Ek Wil Meer Lyk Soos Jesus”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Meer en meer
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music
(vgl 2 Kor 3:18 Nuwe Lewende Vertaling)

Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus.
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Hy.
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus
Ek wil meer en meer lyk soos Hy.

In alles wat ek is
en in alles wat ek doen
wil ek word soos wat Jesus dit wil.
Elke oomblik, elke dag
en nie net af en toe
want dit maak ’n reuseverskil.

Ek wil graag dat die mense Jesus in my sien
omdat ek ’n getuie wil wees.
Al is ek nog so jonk,
dis niks en buitendien
ek’s ’n brief wat die wêreld kan lees.

Ek weet dit net soos jy
dat ek dit self nie kan nie
daarom gee Hy sy Heilige Gees.
Hy help my meer en meer
om te leef soos Hy beplan
sonder Hom was ek nêrens gewees.

F378. “Skyn Met U Lig In My Hart, Heer”  
(RUBRIEK: )
Teks en Musiek: Paul Baloche: Open the Eyes of my heart, Lord
Afr teks: Faani Engelbrecht
© 1997 Integrity’s Hosanna! Music
Ps 123:1,2; Ef 5:15-23; Heb 12:2

(x2)
Skyn met u lig in my hart, Heer
Skyn met u lig in my hart,
Ek wil U sien, Heer (x2)

(x2)
Beklee met majesteit en mag,
stralend in die glans van u grootheid.
Vul ons met liefde en krag
Ek sing: Heilig, heilig, heilig.

Heilig, heilig, heilig (x3)
Ek wil U sien, Heer.

Heilig, heilig, heilig (x3)
Ek wil U sien, Heer. (x3)

God praat met ons en ons luister

Gebed
Bybelmedia se video “Gebed vir leerbaarheid” Klik hier

Skriflesing: Romeine 14:1-12

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Kinders is baie bewus van wat en hoe mense eet. Mense is omnivore, vegetariërs, vegans. Baie kinders mag nie suiker eet nie, of suiwel of kleurmiddels. Kinders is ook bewus van verskillende nasies se kos en verskillende diëte (hulle mag dalk selfs weet van die Tim Noakes mode). Kinders bring verskillende kos skool toe, in verskillende tipes houers. Aangesien meeste kinders ’n redelik oop houding het teenoor hierdie verskillende maniere van eet, kan dit ’n goeie wegspringplek wees om te gesels oor hoe ons oor ander oordeel. Ons eet verskillend en dis okay. Ons trek ook verskillend aan, het verskillende vermoëns, leef op verskillende maniere. Sommige van hierdie goed lei tot oordeel of dat mense mekaar lelike name noem: brainiac, dommie, ens. Gesels oor wat dit beteken om nie te oordeel nie.

Jy kan ook die gelykenis van Matt. 18 gebruik (en opvoer) om die punt te illustreer.

Preekriglyn

Die Gereformeerde geloofsbeweging is gebore in die harde leerskool van Genève. Dié stad was in die sestiende eeu ‘n smeltkroes van gevestigde inwoners, en vlugtelinge voor geloofsvervolging in die naasliggende Frankryk. Johannes Calvyn, die grondlegger van Gereformeerde denke en self ‘n vlugteling uit Frankryk, se bediening en teologie is diep beïnvloed deur die omstandighede van Genève. Daar is baie moeite gedoen om die haweloses te versorg, troos met die evangelie te bring, en mense op te roep om getrou aan God se Woorde te bly.

Hiervoor was toerusting en bemagtiging nodig.

Calvyn, en die ander leiers van die Protestantse reformasie, het moeite gedoen om te leer wat die Here van ons vra. Hulle het dit gedoen in ‘n tyd toe geloofsverskille ontsettende spanning veroorsaak het. Martin Luther, die Duitse Hervormer, was sy lewe lank oortuig hy sou ‘n marteldood vir sy geloof sterf. Johannes Calvyn was self ‘n slag uit Genève verban, en moes by sy tweede bedieningstermyn in Genève hard werk om weerstand teen die evangelie te oorkom.

In hierdie proses het Calvyn besondere, geraffineerde publikasies oor die lewe van geloof gepubliseer. Sy grootste werk, die Institusies van die Christelike Geloof, het verskeie uitgawes beleef. Die publikasie is telkens grondig hersien, sodat hyself by die laaste uitgawe gesê het dit is eintlik ‘n nuwe werk.

Calvyn is ook bekend vir sy oprigting van ‘n Collège vir die opleiding van kinders.

Van die hele Reformasie in die sestiende eeu kan ons sê: dit is gebore uit die passie om te leer wat dit beteken om God op grond van sy Woord te ken en te dien. Die Reformasie wou die hele lewe in verband bring met die kennis van God, en groei in ‘n lewe tot Sy eer.

“Alle kennis begin by God”

“Daar is geen kennis wat nie by die kennis van God begin nie.” So lui die bekende woorde van Calvyn. Hoe jy ook al oor die lewe nadink, alles moet in verband met God gebring word. Hy is die Bron van waarheid.

Calvyn se simbool was ‘n brandende hart wat aan God gewy word. Sy lewe was met passie vir God gevul. Sy doel was om ‘n gemeente en gemeenskap te skep wat uit die kennis wat God gee, lewe.

Konflik verg ook Godskennis

In ons teks worstel Paulus met die gemeente in Rome oor allerlei konflik in die gemeente.

Hier is die toneel die eerste eeu na Christus. In die gemeente te Rome het sowel bekeerlinge uit die Joodse agtergrond én bekeerlinge uit die ander nasies (bv. Palestyne, Siriërs, Grieke, Romeine) een Christelike geloofsgemeenskap geword. Soos mens kan verstaan, het daar sekere verskille na vore gekom. Dit het veral gegaan oor verskillende eetgebruike en die hou van feesdae. Dit was die geval met veral die bekeerlinge uit die Jodendom met hulle diepgewortelde verankering in die wette van Moses, soos die Joodse godsdiens dit geïnterpreteer het.

Sommige Christene – veral uit die ander volke – het daarvan uitgegaan dat die verlossing deur Christus ’n vrymaking van alle vorige rituele en gebruike beteken het. Hulle het daarom geen probleem gehad om nou alle kossoorte met vrymoedigheid te eet nie. Vir hulle was daar ook nie spesiale feesdae wat gehou moes word nie. Alle dae was dieselfde en is so deur hulle benut.

Die Christene wat nog aan baie van die vorige voorskrifte en wette vasgehou het, het hiermee probleme gehad. Hulle wou nie alles eet nie maar het hoofsaaklik groente gebruik. Vir hulle was daar ook nog sekere feesdae, onder andere die Joodse Sabbat, wat waargeneem moes word.

Sterk en swak in die geloof

In sy beoordeling van dié situasie, noem Paulus die eerste groep “die wat sterk is in die geloof”. Die wat allerhande reëls probeer nakom, noem hy “die wat swak is in die geloof”. Helaas het dié twee groepe mekaar geen bestaansreg gegun nie. Dit was ’n verlammende skaakmat-situasie.

Diegene wat aan Joodse rituele vasgehou het, is dus op ’n gespanne voet geplaas met die bekeerlinge uit die ander volke. Moes ander gelowiges eers Joodse kulturele reëls aanvaar voordat hulle Christene kon word? Het Christenskap beteken dat alle reëls, moets en moenies sommer verdwyn? Hierdie verskille in benadering het spoedig ernstige gevolge gehad. Dit het tot verwerping van mekaar gelei.

Onderlinge veroordeling

In hulle veroordeling van mekaar, waarby selfs die huiswerkers van mense ingesleep is, was hulle blind vir die primêre band tussen Christus en elke lid van die gemeente. Hulle moes dus tot hulle diepe verootmoediging by vernuwing hoor dat hulle dit totaal mis het oor mekaar, want van elkeen is dit waar dat “God hulle aangeneem het” (3). Daar is net één meriete vir toelating tot die gemeente – en dit geld vir elke mens – naamlik dat God die gelowige “aanneem”. Eintlik is dit die enigste meriete!

Paulus leer die gemeente om dus oor mekaar in die lig van God te dink. Daar is nie betroubare kennis wat nie by God begin nie. Mens kan nie reg oor jou naaste dink, ook nie diegene van wie jy skerp verskil, sonder om in die lig van God oor jou naaste te dink en te oordeel nie.

Die werkgewer oordeel alleen

Paulus gebruik ook die voorbeeld van die huiswerker (4). Volgens die reg word werkers slegs deur die persoon wat hulle in diens het, beoordeel. Daardeur demonstreer Paulus die posisie van elke Christengelowige wat regtens deur God alleen gehandhaaf en staande gehou word. Wat enige mens dus oor diesulkes te sê het, is ongeldig.

Twee oorwegings

Baie belangriker as die opinies wat hulle van mekaar het, is die hartsgesindheid wat God vra. Watter keuse ’n gelowige ook al maak, of dit oor kos of oor die belangrikheid van ’n dag is, is twee oorweginge nodig:

Een: Eie oortuiging
Elkeen moet in sy eie gemoed ten volle oortuig wees van sy opvatting, sê Paulus in vers 5. Daarmee plaas hy die verantwoordelikheid op gelowiges self om oor hul eie opvattings na te dink, in die lig van God se betrokkenheid in hul lewe.

Daar is Christelike vryheid, en daar is sake waaroor Christene mag verskil. Daar is sekere kategorieë van sake wat nie die wese van ons geloof raak nie. Daaroor moet mens jou eie opvattings toets en vir jouself tot gevolgtrekkings kom. Dit bind nie noodwendig ander gelowiges nie.

Daarmee daag Paulus ons ook uit om verantwoordelikheid vir ons opvattings te aanvaar, én geestelik te bly groei. Ons moet ons motiewe ondersoek, daarna streef om geestelik te groei en om ons innerlike oortuigings te kan verantwoord. Dit is ‘n leerproses wat jou oop vir nuwe insette hou, en wat lewenslank voortduur.

Twee: Vir die Here
Die tweede toets vir elke optrede – eet of nie eet, feesdae onderhou of nie – is of dit gedoen word “vir die Here” (6). Waar dit gebeur, kan God vir alles gedank word.

Paulus beklemtoon ‘n bewussyn van God, en ‘n manier van lewe wat eer aan God bring. Ons verskil dus nie van mekaar ten einde te bewys dat ons reg is nie. Ons lewe moet daarop ingestel wees om lof aan God te bring. Doen ons dit, sal ons mekaar veel makliker vind, en saamgebind word deur ons onderlinge fokus op God.

Ook hierdie strewe daag ons uit om te groei, en self verantwoordelikheid daarvoor te neem. Geestelike groei is om alles in ons lewe met God in verband te bring, en vir God alleen te lewe.

Diepste sin

Hiermee bring Paulus ons as gelowiges by die diepste sin van ons bestaan. Niemand wat aan die Here behoort, leef of sterf meer vir haar/homself nie. “Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here” (8b). Ons word met alles wat ons is en het in die genaderuimte van God ingesluit!

Paulus onderstreep die doel van Christus se dood en opstanding, naamlik om sy heerskappy oor lewendes en dooies te verwesenlik (vgl 5:6.; 6:4; 7:4; 8:11). Nie die lewe nie en ook nie die dood kan ons buite die heerskap, die eienaarskap, en die seggenskap van Christus plaas nie! Ons is syne vir tyd en ewigheid.

Aangespreek

Teen hierdie agtergrond kan Paulus nou die twee groepe in die oë kyk en die bestaande wanverhoudinge kragtig aanspreek. Interessant genoeg keer Hy die rolle om en spreek hy eers die “wat swak is in die geloof” aan: “Jy, watter reg het jy om jou broer wat vry is, te oordeel?” Op dieselfde wyse word die “wat sterk is in die geloof” aangespreek: “Jy, waarom verag jy jou broer wat swak is?” Let op die direkte en persoonlike trant van die gesprek. Nie “julle” in die algemeen nie maar “jy” in ’n een-tot-een verhouding met die lewende Christus en die geloofsgenoot!

Inderdaad, nie een van die skuldiges is in die rol van beoordelaar of regter oor die ander nie. Daar is slegs een regter. Alle gelowiges bevind hulle op gelyke grond voor die regterstoel van Christus. Dis nie hulle wat met mekaar moet afreken nie. Dit is Christus wat nou besig is om hulle te weeg.

Dié omkeer van rolle is nie ’n onverwagte verrassing nie. Immers, dit is wesenlik deel van die evangelie wat oor die hele wêreld weerklink dat “elke knie voor Christus sal buig en elke tong sy Naam bely” (11).

Elkeen gee rekenskap

Paulus sê elkeen gee vir homself of haarself “rekenskap aan God.” Dit is geen grappie nie, want dit gaan om wat ons aan Christus gedoen het. Gelowiges behoort aan Christus. Hulle is sy liggaam. Ons word dus dringend vermaan om almal weer te dink oor wat ons as gelowiges van mekaar sê en aan mekaar doen.

Dit het verreikende gevolge. Ons moet mekaar aanneem soos Christus ons aangeneem het! Dit is die essensie van gemeente-wees. Dit gaan ten diepste om ’n ware gemeenskap van gelowiges.

Vir Christene van Gereformeerde oortuiging beteken dit dat “gelowiges aan Christus en al sy skatte en gawes deel het” en ook “verplig is om die skatte en gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander aan te wend” (Heidelbergse Kategismus, antw 55). Verskeidenheid mag nooit lei tot botsings en verbrokkeling nie. Dit is onlosmaaklik deel van die rykdom van God se genade en moet dus waardeer en benut word.

Die rol van toerusting

Ons teks is ‘n goeie voorbeeld hoedat die lewe en onderlinge verhoudinge bedink word vanuit die werklikheid van God. Daar is inderdaad geen betekenisvolle kennis wat nie by God begin nie.

Paulus wys op die individuele gelowige se verantwoordelikheid om geestelik so te groei dat jy jou plek in die gemeente kan vind, kan volstaan en in liefde opbouend met medegelowiges kan saamleef.

Dit beklemtoon die noodsaak om jouself toe te rus vir die pad van geloof. Hierdie toerusting vind jou in jou gemeente. Dit gebeur waar jy eredienste bywoon, oor geloof met medegelowiges in Bybelstudiegroepe of selgemeentes nadink, en waar jy kursusse bywoon en opbouende, verantwoorde boeke oor geloof lees.

Daar is soveel dinge wat ons geloof uitdaag en wat van ons vra om te groei na ‘n geestelik volwasse lewensingesteldheid. Ons is bevoorreg dat ons kerk ook baie geestelike materiaal publiseer wat ons help om by egter kennis uit te kom. Ons kan gerus hiervan gebruik maak.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 517 “Leer ons U vertrou, o Here” of
Flam 221 “Ek Wil Meer Lyk Soos Jesus”

Seën

Respons
Lied 553 “Ek is bly ek ken vir Jesus”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.