Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Volgens die kerklike tradisie het Jakobus die bynaam  “Ou Kameelknieë” gehad. Dit was as gevolg van dik eelte wat op sy knieë gevorm het, die resultaat van jare lange, toegewyde gebed. Gebed is die voedingsbron van wysheid. Wysheid gaan nie eerstens oor ‘n sisteem vol leerstellings nie. Dis ‘n manier van lewe, ‘n lewensstyl. Jakobus se lyf het letterlik sy lewe verklap . . . In sy brief skryf hy oor hierdie lewenstyl.

Jakobus se klem op liefdesdiens maak dit ‘n baie goeie teks vir die tema van barmhartigheid. Hoofstuk 1:27 is die klassieke teks wat die vraag stel, wat suiwer godsdiens is? Met die antwoord: dit is om weeskinders en weduwees te versorg.

Ander tekste

Hooglied 2:8-13
8“Luister, daar kom die man
wat ek liefhet!
Hy spring oor die berge,
hy wip oor die rante.
9Die man wat ek liefhet,
maak soos ’n ribbok,
soos ’n takboklam.
Kyk, daar staan hy
agter ons huis se muur,
hy kyk by die venster in,
hy loer deur die latwerk!
10Die man wat ek liefhet, praat,
hy sê vir my:
‘Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!
11Kyk, die reëntyd is verby,
die reën is oor, dis weg.
12Daar is bloeisels in die veld,
dit het tyd geword om te sing;
die tortelduif se stem klink
oor ons land.
13Die voorvye kom al uit,
die wingerde bot en versprei hulle geur.
Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!

Psalm 45:1-2, 6-9
Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. Van die Koragiete.
’n Gedig. ’n Lied van die liefde.
2Mooi woorde roer in my hart;
ek dra my gedig voor aan die koning;
my tong is soos die pen
van ’n vaardige skrywer.
6U skerp pyle laat volke
voor u voete val;
hulle deurboor die hart
van die koning se vyande.
7U troon, verhewe wese,
staan vir altyd vas,
met u koninklike septer
laat u geregtigheid geskied.
8U het die reg lief en u haat
die onreg,
want, verhewe wese,
onder groot vreugde het u God
u bo u tydgenote tot koning
gesalf.
9Die geur van mirre, aalwyn en kaneel
deurtrek al u klere;
musiek uit u ivoorversierde paleis
maak u bly.

 Markus 7:1-8, 14-15, 21-23.
Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. 2Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

3Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. 4En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

5Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

6Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:
Hierdie volk eer My
met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.
7Dit help niks dat hulle My
probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie.
8Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.”

21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.”

Fokusteks

Jakobus 1:17-27
Hoor en doen
17Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.

18Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.

19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Ekstra stof

Jakobus die broer van Jesus
Die brief van Jakobus is waarskynlik geskryf deur Jakobus, die broer van Jesus.  Hy was waarskynlik die oudste seun naas Jesus, en het ook drie ander broers gehad: Joses, Judas (skrywer van die brief van Judas) en Simon.  Hy het natuurlik ook susters gehad (Mrk. 6:3).  Hoewel hy aanvanklik, soos sy ander broers, negatief was oor die bediening van Jesus (Joh. 7:3-5), het die Here Jesus ná sy opstanding persoonlik aan hom verskyn (Paulus verwys daarna in 1 Kor. 15:7), waarna hy nie net die Pinkstergebeure met die uitstorting van die Heilige Gees beleef het nie (Hand. 1:14), maar ook daarna ‘n sterk leiersrol in die gemeente en vroeë kerk gespeel het.

Beide Paulus (Gal. 1:19; 2:9) en Lukas (Hand. 15:13; 21:18) beskryf hom as ‘n leier, een van die “pilare” van die vroeë kerk, wat spesifiek ‘n leidende rol in die insluiting van die gelowiges uit die heidene gespeel het.  Dit is ook hy wat die brief aan die gelowiges uit die heidene voorgestel het asook die inhoud daarvan (Hand. 15:13-21).  Hy het egter self gefokus op die evangelisering van Jode (Gal. 2:9) soos ‘n mens ook uit die aanhef van sy brief kan aflei (Jak. 1:1).

Daar was wel ook twee van die dissipels van Jesus wat die naam Jakobus gehad het en moontlik kon kwalifiseer as skrywer van die brief.  Die eerste was Jakobus, die seun van Sebedeus (Mrk. 3:17), wat ook die broer van die geliefde dissipel Johannes was, die twee Boanerges, “seuns van die donder“.  Hierdie Jakobus het egter vroeg as martelaar gesterf aan die hand van Herodes (Hand. 12:2 – dit was voor 44 n.C., omdat Herodes self toe gesterf het).  Hy kon dus nie dié brief geskryf het nie.  Die tweede was Jakobus, die seun van Alfeus (Mrk. 3:18), wat moontlik ook klein-Jakobus genoem is (Mrk. 15:40), maar waarvan ons niks verder weet nie en ook nie verder genoem word in die NT nie.  Dit is ook onwaarskynlik dat hy dié brief geskryf het.

Dit is daarom dat Jakobus, die broer van Jesus, deur die vroeë kerk tradisie as die skrywer beskou word (bv. Hegesippus, Klement van Alexandrië, Origines, Eusebius).  Hy was volgens hulle ‘n gerekende leier wat ‘n groot invloed uitgeoefen het, meer as wat ons uit die res van die NT boodskap kan aflei.  ‘n Mens sou graag meer van hom wil weet!  Al wat ons egter verder weet, is dat hy volgens die geskiedskrywer Josefus ‘n marteldood sterf in 62 n.C.  Ons het natuurlik ook dié brief.

Fokus op die praktiese Christelike lewe
Jakobus noem homself “‘n dienskneg van God en die Here Jesus Christus” en rig sy brief “aan die twaalf stamme in die Diaspora“.  Dié woord Diaspora is gebruik om die “verstrooiing” van die Jode buite hulle land aan te dui, sommige weens ekonomiese redes, ander weens politieke redes.  Dié titel word nou op hierdie Jode in verstrooiing, maar wat intussen in die Here Jesus Christus begin glo het, van toepassing gemaak.

Uit die brief lei ons af dat die meeste van hulle arm was, maar dat daar wel ook enkele rykes in hulle geledere was, hoewel Jakobus nie te positief oor hulle was nie.  Hy spreek hulle skerp aan asook dié wat deur hulle wêreldse invloed meegesleur word (Jak. 1:9-11 – “laat die onbeduidende broer in sy hoë aansien roem, en die ryke in sy onbeduidendheid“; 2:2; 5:1-6).  Hy maak veral melding van die uitdagings waaraan hierdie Christen Jode blootgestel is – allerlei beproewings (Jak. 1:2, 12), versoekings (Jak. 1:13), uitbuiting wat hulle uitgelok het tot negatiewe reaksies (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4), vooroordele (Jak. 2:2 vv) en erge onderlinge konflikte (Jak. 4:1 vv) wat hulle tot kwaadpratery (Jak. 4:11 vv) en klagtes verlei het (Jak. 5:9).  Hulle het ook geworstel met die problematiek van die werklik armstes van die armes en hoe sulke mense gehelp moes word (Jak. 2:13-17).

Jakobus fokus dus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel en moedig hulle aan om hulle geloof prakties uit te leef.  Deur te fokus op die praktyk van hulle geloof sal hulle geestelik volwasse kan word om te volhard in die geloof.  Die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, is dus juis die boublokke van hulle geloof wat deur die toetsing daarvan tot volledige ontwikkeling kan kom: “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak. 1:2-4).

Interessant is die ooreenkomste met die Bergrede van die Here Jesus, Jakobus se broer, wat ‘n mens kan raaksien in sy leringe oor vreugde in beproewing (Vgl. Jak. 1:2, 12: “Geseënd is die man …” en Matt. 5:3-12), gebedsverhoring (Vgl. Jak. 1:5-8 en Matt. 7:7-11), die relatiwiteit van rykdom (Vgl. Jak. 1:9-11 en Matt. 6:19-34), versoekings (Vgl. Jak. 1:12-15 en Matt. 5:27-30), hoor en doen (Jak. 1:19-27 en Matt. 7:21-23), die hulp aan armes (Vgl. Jak. 2:14-17 en Matt. 6:1-4), respek en nie-veroordeling (Jak. 4:11-12 en Matt. 5:38-42; 7:1-6), aardse skatte (Vgl. Jak. 4:13-17 en Matt. 6:19-21), en eedswering (Vgl. Jak. 5:12 en Matt. 5:33-37) om maar net ‘n paar duidelike ooreenkomste te noem.

Dit is ook ‘n boek wat ooreenkomste toon met die wysheidstradisies van die OT, veral Spreuke.

Die wysheid is volgens Jakobus ook iets wat van God af kom en nie maar net uit die somtotaal van aardse wysgere se leringe nie.  Vgl. bv. Jakobus 1:5: “As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit vra van God, wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word,” met Spreuke. 2:6: “Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig.“.

Wysheid moet ook getoon word deur goeie gedrag en dade net soos ons dit lees in Spreuke.  Vgl. bv. Jakobus se tekening van die “vrug van geregtigheid” wat volg op dié wat hulle wysheid wys deur hulle goeie gedrag en dade (Jak. 3:13-18) met Spreuke se beskrywing van die wysheid: “waar ek gaan, is daar geregtigheid, my pad is dié van die reg” (Spr. 8:20).

Indeling
Die brief kan as volg ingedeel word:

  • Jakobus 1:1-18 – Volhard in beproewing
  • Jakobus 1:19-2:26 – Doen wat die woord sê 
  • Jakobus 3 – Tree met sagmoedige wysheid op
  • Jakobus 4 – Tree met respek vir mekaar en in afhanklikheid van God op 
  • Jakobus 5 – Volhard in gebed

Jakobus 1:19-2:26 – Doen wat die woord sê
As God vrygewig is, as Hy genadig is en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak. 1:5), dan is dit net logies dat Hy kan verwag dat ‘n mens sal doen wat Hy sê.  Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid.  Ons moet doen wat Hy sê.

Jakobus pas hierdie waarhede van God nou toe op ‘n aantal praktiese maniere wat as volg gekategoriseer kan word:

  • Doen wat die woord sê – 1:19-27
  • Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie – 2:1-12
  • Doen wat jy glo – 2:13-26

Let veral op hoe die twee liefdegebooie – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – verweef word regdeur hierdie gedeelte.  Dit is twee kante van dieselfde munt.

1:19-27 – Doen wat die woord sê
FLINK OM TE LUISTER: Om te kan doen wat die woord sê, moet ‘n mens uiteraard in die eerste plek die woord van God kan hoor.  Hoor gaan doen vooraf.  Dit is waarom Jakobus klem lê op drie dinge: dat ‘n mens 1) “flink (moet) wees om te luister,”2) “stadig om te praat, en 3) “stadig om kwaad te word.”  In alles wat met jou en rondom jou gebeur, moet jy jou dus instel om agter te kom wat aan die gang is, en veral wat die Here besig is om te doen.  In alles is Hy besig om wysheid te gee, uitkoms te gee en sy voorsiening te laat gebeur.  Daarom moet jy nougeset luister en nie te gou wees om te praat nie, en veral nie kwaad te word oor wat gebeur nie

Dit is al manier waarop ons die woord van God “wat in ons geplant is” kan hoor.  ‘n Mens het ore nodig om te luister – dus flink om te luister.  Jy het ‘n wag voor jou mond nodig om genoeg tyd te hê om jou woorde te weeg voor jy dit sê – dus stadig om te praat.  En jy moet veral jou humeur oor en ongeduld met wat gebeur bedwing, sodat jou emosies oor wat gebeur nie God se stem uitdoof en jy uiteindelik net jou eie stem hoor nie – dus stadig om kwaad te word.  God se woorde (wette) word immers in die nuwe verbond in ons harte gegee, en op ons verstand neergeskryf (Jer. 31:33; Hebr. 8:10; 10:16).  Dit veronderstel ‘n innerlike proses wat baie meer subtiel en intuïtief is as iets wat ‘n mens doodgewoon uit die eksplisiete gebeure om jou kan aflei.

Soms is die luisterproses ook ‘n pynlike proses, want die “woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard.  Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Alles is immers oop en bloot voor God en dit is aan Hom wat ons ons moet verantwoord (Hebr. 4:12-13).

Oor woede leer Jakobus ons dat dit nie “geregtigheid voor God” bewerk nie.  Dit stel dinge nie reg nie.  Trouens dit vererger meesal dinge.  Daarom is sy raad dat hulle: “in sagmoedigheid afstand doen van alle morele besoedeling en die ongebreidelde kwaad.”  Die bron van die kwaad, hulle sondige natuur, moet afgelê word, sodat hulle (en ander) nie daardeur besoedel en verlei word nie.  Die gevolge daarvan is ongebreideld, d.w.s. dit kan nie beheer word nie.  Soos Paulus aan die Efesiërs skryf: “dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê wat as gevolg van sy drang na dwaling vergaan.  Julle moet eerder deur die aard van julle denke vernuwe word.  Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (Ef. 4:22-24).

Dan sal hulle die “ingeplante woord” van God kan hoor, en dié woord sal hulle red.  Dit is hoe God liefgehê word.

DOEN DIE WOORD: As ‘n mens flink is om te luister, is daar egter nog iets waarop jy moet fokus as jy wil doen wat die woord sê.  En dit is, om die woord in jou lewe toe te pas, om dit prakties uit te voer: “Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.”  Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk, maar weer gou vergeet hoe jy lyk.

Jakobus roep hulle dus op daartoe om hulle te verdiep in die “volmaakte wet van vryheid” en daarby te bly deur dit uit te voer.  God se woord is volmaak en dit maak vry, aan die een kant vry van sonde en aan die ander kant vry om die lewende God te kan dien, en spesifiek in deernis teenoor ander te kan optree, soos in die laaste verse van die perikoop uitgespel word.

Dan sal hulle lewens aan God se standaarde beantwoord.  Dan kom hulle liefde vir God tot sy volle reg.  Hulle sal nie net hulle tong kan beheer nie, iets waaroor hy nog verder gaan uitwy, maar ook kan omsien na mense wat in ellende is, weeskinders en weduwees, wat suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader is.  Dit is deel van hulle liefde vir hulle naaste.

Daarby sal hulle onbesmet deur die wêreldse dinge kan lewe.  Let op dat deernis met behoeftige mense jou in ‘n sekere sin in staat stel om vry van die besmetting van die wêreld te bly, waarskynlik omdat jy dan nie toegee aan die sondige begeerte om net na jou eie belange om te sien nie.  Nogal iets om oor na te dink.  Liefde vir die naaste help jou om lief te bly vir God!

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 257 vv 1 en 3 of Flam 158 of VONKK 252

Votum: Jakobus 1:17-18

Seëngroet

Lofsang: Lied 201 of Lied 209 of Flam 349

Die Wil van God: Jakobus 1:22-25

Skuldbelydenis: Lied 232 of Flam 179 of VONKK 224

Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis: Lied 255

RUS

Toetrede: Lied 257 vv 1 en 3 of Flam 158 of VONKK 252

Votum: Jakobus 1:17-18

Seëngroet

Lofsang: Lied 201 of Lied 209 of Flam 349

Die Wil van God: Jakobus 1:22-25

Skuldbelydenis: Lied 232 of Flam 179 of VONKK 224

Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis: Lied 255 of Flam 76

HOOR

Gebed: Lied 254 of Flam 224 of VONKK 282

Skriflesing: Jakobus 1:17-27

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Terugvoer Barmhartigheidsondag
Gebed

Slotsang: Lied 258 of Flam 389 of in aansluiting by Barmhartigheid: VONKK 158

Seën

Respons: Lied 533

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 257 vv 1 en 3 “O Heer, maak oop my hart se poort” of
Flam 158 “Ek Wil U Ken” of
VONKK 252 “Heer, ons wag op U” 

Votum: Jakobus 1:17-18

Seëngroet

Lofsang
Lied 201  “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”
Lied 209 “Heer, met my hele hart” of
Flam 349 “Jesus, O U Woord Verbly My”

Die Wil van God: Jakobus 1:22-25

Skuldbelydenis
Lied 232 “Diep, o God, diep neergeboë” of
Flam 179 “Regeer In My” of
VONKK 224 “Met Ons Skuld En Met Ons Sonde”

Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis
Lied 255 “Woord van God, Woord van die lewe” of
Flam 76 “Die Woord Van God”

Liedere

VONKK 224 “Met Ons Skuld En Met Ons Sonde”
Teks: Hannes van der Merwe 2012 © Melodie: KAS DZIEDAJA – Latviese volksmelodie
Orrelbegeleiding: Cecilia van Tonder 2012 © Musikale verryking: Cecilia van Tonder 2012 ©
© Teks en orrelbegeleiding: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Nagmaal /    Lydenstyd en Goeie Vrydag

Met ons skuld en met ons sonde
kniel  ons voor u voete neer.
Wees genadig en vergewe
as ons pleit voor U, o Heer.

Deur ons woorde en ons dade
is ons nie wat U verlang:
soveel selfsug in ons lewe,
so gedryf deur selfbelang.

In die Naam van Jesus Christus
smeek ons om vergiffenis.
Was ons skoon en maak ons lewe
vir U tot getuienis.

Maak u kruis vir ons die teken
van u liefde en u trou,
en die oop graf die bewys dat
ons op U steeds kan vertrou.

F158. “Ek Wil U Ken”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Oorspronklike titel: In The Secret Teks en musiek: Andy Park
Afrikaanse vertaling: Onbekend Teks en musiek: © 1995 Mercy / Vineyard Publishing

In my rusplek in die stilte, Heer, weet ek U’s altyd daar.
By myself, Heer, staan ek voor U,
wag ek op U, praat U altyd met my.
Meer soos U wil ek wees.

Refrein:
Ek wil U ken, Heer, u Woord in my bewaar.
U hart wil ek verstaan, u aanroer wil ek voel,
U Gees my siel oorspoel.
Meer soos U wil ek wees.

Ja, u stem, Heer, wil ek duidelik hoor.
U Woord my rigting gee.
In my twyfel, in my hartseer,
staan U by my hier aan my sy.
Meer soos U wil ek wees.

F349. “Jesus, O U Woord Verbly My”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Afrikaanse vertaling: Izak de Villiers Musiek: Gewysig deur Marina du Toit
Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Liedboek 495)

Jesus, o, u Woord verbly my,
Jesus, en u hand bevry my.
Jesus, o, u Woord verbly my,
Jesus, en u hand bevry my.
En ek sing en ek sing, sing.

Refrein:
Hoogte, diepte, lyding,
niks bring ooit weer skeiding.
Hoogte, diepte, lyding,
niks bring ooit weer skeiding.

Buiten U is niks op aarde,
Here, enigsins van waarde.
Buiten U is niks op aarde,
Here, enigsins van waarde.
En ek sing en ek sing, sing.

Refrein:

F179. “Regeer In My” 
(RUBRIEK: Flam – Toewyding) Teks en musiek: Rick Moser © 2006 MAR Gospel Music Publishers

Skepper van hemel en aarde,
Lewensbron, lig en genade,
Kom regeer in my,
Kom regeer in my.

Die hemele verkondig u werke,
U almag word vertoon in die sterre,
Kom regeer in my,
Kom regeer in my.

Refrein:
Regeer in my
dat hierdie hart u huis kan wees.
Regeer in my
dat hierdie vlees u Woord kan spreek.
Regeer in my
dat hierdie lewe brood mag wees.
Woord vir die wêreld,
bring lewe deur my.

U is die eerste Woord,
U kry die laaste woord,
U is die Lewenswoord,
wat alles onderhou.

F76. “Die Woord Van God”
(RUBRIEK: Flammikidz – Woord van God) Teks en musiek: Soekie Rautenbach © 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot) (Deut 6)

Refrein: (x2)
(Want) Die Woord van God is ewig
(ja) die Woord van God is waar.
Die Bybel is die Woord van God
sal dit in my hart bewaar.

Die Woord van God is nie te hoog,
die Woord van God is nie te ver,
die Woord van God is naby my,
in my mond en in my hart.

Refrein: (x2)

As ek sit of as ek staan,
as ek lê of waar ek gaan,
praat ek daaroor want ek weet,
dan sal ek dit nooit vergeet.

Refrein: (x2)

Skryf dit as ’n teken op,
op jou hand en op jou kop,
in jou huis en op die deur,
dat jy dit uit jou kop kan leer.

Refrein: (x2)

My oë lees die woorde deur,
my ore hoor dit weer en weer,
my mond bely dit nog ’n keer,
my hande doen wat dit my leer.

Refrein: (x2)

F389. “Want U is Altyd by My (Altyd)” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Erich Posthumus en A de Wet © 2007 Urial Publishing

Soos klere oud word en verslyt,
ja so sal alles vergaan.
Na ’n ruk vergeet die mens,
net mooi alles ja.

Modes kom en gaan verby,
helde staan en val.
Maar U, o Heer,
bly altyd in beheer.

Refrein:
Want U is altyd by my,
u Woord leef in my.
U is altyd by my
u Woord maak my vry.
U is altyd by my,
niks wat ek doen kan U van my skei.
U is altyd by my,
Heer ek is ewig in U hand.

Al wat ewig staan
deur die eeue is God se liefde.
Sy Woord staan vas, ja ewig vas
sodat niemand ooit sal twyfel

Wat Hy beloof het kan Hy doen,
daar’s niks onmoontlik nie.
Ja sy beloftes sal bly staan
daar’s niks onmoontlik nie.

Refrein:

F224. “Ek Maak Elke Dag Tyd”
(RUBRIEK: Flammikidz – Gebed) Oorspronklike titel: Ik neem even de tijd
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht (gewysig 2009) © 2003 Celmar Music

Ek maak elke dag tyd
om met U te praat, Heer
’n oomblik met U alleen.
Ek maak elke dag tyd
om by U te wees, Heer,
niemand rondom my.

Ek maak elke dag tyd
om na U te luister
en stil te wees by U.
Ek maak elke dag tyd
om u stem te hoor en
Heer, ek luister nou.

Refrein:
Spreek, Heer, ek luister,
u dienskneg hoor.
Spreek, Heer, ek luister,
ek luister na u Woord.

Ek maak elke dag tyd,
ek wil U verheerlik,
God van liefde en trou.
Ek maak elke dag tyd
om vir U te sê, Heer
dat ek van U hou!

Ek maak elke dag tyd
om u Woord te lees wat
U vrylik aan my skenk.
Ek maak elke dag tyd
sodat U kan praat deur
u Woord wat lewe gee.

Refrein:

U het altyd die tyd
om na my te luister
daar gaan nooit ’n sekonde verby
dat U glad nie meer tyd het
want elke oomblik
is U daar vir my!

Refrein:

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©  Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833 Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

VONKK 282 “Spreek, Heer, in die stilte”
Teks: Speak, Lord, in the stillness – Emily May Grimes Crawford 1864-1927; Hannes van der Merwe 2013 ©
Melodie: QUIETUDE – Harold Green 1925 Orrelbegeleiding 1: Gerrit Jordaan 2014 © Orrelbegeleiding 2: Harold Green 1925
Kantoryverwerking 1: Gerrit Jordaan 2014 © Kantoryverwerking 2: Harold Green 1925© Teks, orrelbegeleiding 1 en kantoryverwerking 1: 2014  VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie, Orrelbegeleiding 2 en Kantoryverwerking 2: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord te hoor

Spreek, Heer, in die stilte;
spreek nou deur u Gees.
Laat ons in ons harte
stil-ontvanklik wees.

Wees Uself teenwoordig,
bid ons van U, Heer.
En ontmoet ons, Vader,
in wat hier gebeur.

Vul ons met die kennis
van u heil’ge wil,
sodat ons gehoorsaam
só ons lewe vul.

Heer, u kinders luister –
raak ons harte aan.
Ons wil met u opdrag
deur ons lewe gaan.

VONKK 252 “Heer, ons wag op U”
Teks: Pieter Malherbe 2013 © Melodie: WAG OP DIE HEER – Pieter Malherbe 2013 ©
Orrel- en klavier begeleiding: Anton Esterhuyse 2013 © Kantoryverwerking:  Jacques Louw 2013 ©
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2013 © © 2013 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord    te hoor /  Gebede

Voorganger: Heer, ek wag op U; ja, ek wag om u stem te hoor. By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.
Gemeente: Heer, ons wag op U; ja, ons wag om u stem te hoor. By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.

Voorganger: Heer, ek buig voor U; ja, ek buig voor u heerskappy. By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.
Gemeente: Heer, ons buig voor U; ja, ons buig voor u heerskappy. By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.
By U alleen is woorde wat die ware lewe gee.
Amen.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 254 “Spreek Heerof
Flam 224 “Ek Maak Elke Dag Tyd” refrein of
VONKK 282 “Spreek, Heer, in die stilte”

Skriflesing: Jakobus 1:17-27

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die groot uitdaging gaan hierdie week wees om nie moraliserend met die kinders te praat nie.  Jy kan (versigtig) aansluit by die idee van hoor én doen.  Voorbeelde soos:  jy weet jy mag nie oor die straat hardloop nie – en dan gaan speel jy bal in die straat.  Of gesels oor die kere wat ons sê ons sal iets doen en dit dan nie doen nie:  jy sê jy sal jou kamer reg pak of bed opmaak, maar dan doen jy dit nie. Wanneer ons Jesus se kinders is, hoor ons na wat God sê – én ons doen wat hy sê.

Sermons4kids gebruik die voorbeeld van n resepteboek.  Jy kan ’n paar heerlike resepteboeke saambring.  Vertel hoe jy daardeur blaai.  ’n Mens sou dink dit beteken jy maak heerlike kos – maar eintlik maak jy glad nie kos nie.  (Net as dit die waarheid is!  Aangesien meeste mense kan kos maak, is dit dalk beter om koek-resepte te gebruik – as jy nie bak nie.)  Om ’n kok te wees, moet jy die resepteboeke lees én die koeke bak!

As julle aktiwiteite doen, kan julle “oor-alicebands” maak van papierbord

Preekriglyn

Tony Campolo, bekende Amerikaanse sosioloog, predikant, skrywer, en spreker, het op ‘n dag tydens ‘n erediens vir ‘n man met ernstige kanker gebid. ‘n Paar dae later kry hy ‘n oproep van die man se vrou. Sy sê: “Jy het vir my man gebid. Hy het kanker gehad.” Waarop Tony sê: “Hét gehad?” By homself het hy gedink: “Sjoe, dit het gebeur! Die man is genees!”

Die vrou sê: “Ja, hy het kanker gehad. Hy is oorlede.” Campolo het verskriklik sleg gevoel.

“Moenie sleg voel nie,” het die vrou gesê. “Toe my man verlede Sondag kerk toe is, was hy vol woede. Hy het besef hy gaan oor ‘n kort rukkie sterf, en hy het God daarvoor gehaat. Hy was 58 jaar oud, en hy wou bitter graag sy kinders en sy kleinkinders sien grootword.

“Hy was kwaad omdat hierdie almagtige God nie sy siekte wou wegneem en hom genees nie. Hy het dikwels in sy bed gelê en God gevloek. Hoe meer sy woede teenoor God gegroei het, hoe meer onuitstaanbaar was sy gedrag en houding vir almal naby aan hom. Dit was verskriklik om net in sy teenwoordigheid te wees.

“Nadat jy vir hom gebid het, het daar vrede oor hom gekom en hy is met diepe vreugde vervul. Die laaste drie dae was die beste dae van ons lewe. Ons het gesing. Ons het gelag. Ons het saam Bybel gelees. Ons het gebid. Dit was regtig wonderlike dae. Daarom bel ek nou, om dankie te sê dat jy jou hande op my man gelê en vir hom gebid het.

“Sy siekte is nie weggeneem nie, maar hy is innerlik genees.”

Kragtig vernuwe

Ons teks is vol van die krag van God. Jakobus praat oor die woord van God en die woorde van mense as instrumente van lewe. God gee sy woord van waarheid wat lewe skep, mense red, mense laat groei, mense op die regte pad lei. Jakobus daag ons uit om God se woord in ons te laat groei, sodat ons eie woorde ook lewe kan bring en ons op die regte lewenspad plaas.

Aangesien ons vir die volgende paar Sondae by Jakobus gaan stilstaan, gee ons eers bietjie agtergrond oor die skrywer, lesers en die boek voordat ons by die inhoud van ons teks stilstaan.

Wie was Jakobus?

Die brief van Jakobus is waarskynlik geskryf deur Jakobus, die broer van Jesus. Hy was tien teen een die oudste seun naas Jesus, en het ook drie ander broers gehad: I (skrywer van die brief van Judas) en Simon.  Hy het natuurlik ook susters gehad (Mark. 6:3).  Hoewel hy aanvanklik, soos sy ander broers, negatief was oor die bediening van Jesus (Joh. 7:3-5), het die Here Jesus ná sy opstanding persoonlik aan hom verskyn (Paulus verwys daarna in 1 Kor. 15:7). Daarna het hy nie net die Pinkstergebeure met die uitstorting van die Heilige Gees beleef nie (Hand. 1:14), maar ook ‘n sterk leiersrol in die gemeente en vroeë kerk gespeel.

Beide Paulus (Gal. 1:19; 2:9) en Lukas (Hand. 15:13; 21:18) beskryf hom as ‘n leier, een van die “pilare” van die vroeë kerk, wat spesifiek ‘n leidende rol in die insluiting van die gelowiges uit die heidene gespeel het.  Dit is ook hy wat tydens die eerste groot kerkvergadering in Handelinge 15 die brief aan die gelowiges uit die heidene voorgestel het, asook die inhoud daarvan (Hand. 15:13-21).  Hy het egter self gefokus op die evangelisering van Jode (Gal. 2:9) soos ‘n mens ook uit die aanhef van sy brief kan aflei (Jak. 1:1).

Jakobus het, volgens die geskiedskrywer Josefus, ‘n marteldood in 62 n.C. gesterf.

Die eerste lesers van die brief

Jakobus noem homself “‘n dienaar van God en die Here Jesus Christus” en rig sy brief “aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is”.  Op hierdie stadium was baie Jode in “diaspora,” verstrooi buite hulle land. Op baie plekke, regoor die destyds bekende wêreld, was daar gemeenskappies van Jode. Sommige is weens ekonomiese redes verstrooi, ander weens politieke redes.  Dié titel (die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is”) word nou op hierdie Jode in verstrooiing, maar wat intussen in die Here Jesus Christus begin glo het, van toepassing gemaak.

Uit die brief lei ons af dat die meeste van hulle arm was, maar dat daar wel ook enkele rykes in hulle geledere was. Jakobus maak veral melding van die uitdagings waaraan hierdie Christen-Jode blootgestel is:

  • allerlei beproewings (Jak. 1:2, 12),
  • versoekings (Jak. 1:13),
  • uitbuiting wat hulle uitgelok het tot negatiewe reaksies (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4),
  • vooroordele (Jak. 2:2 vv)
  • erge onderlinge konflikte (Jak. 4:1 vv) wat hulle tot kwaadpratery (Jak. 4:11 vv) en klagtes verlei het (Jak. 5:9).
  • Hulle het ook geworstel met die versorging van die armstes van die armes en hoe sulke mense gehelp moes word (Jak. 2:13-17).
Inhoud van die brief

Jakobus fokus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel. Hy moedig sy lesers aan om hulle geloof prakties uit te leef.  Deur te fokus op die praktyk van hulle geloof sal hulle geestelik volwasse kan word om te volhard in die geloof. Die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, is dus juis die boublokke van hulle geloof wat deur die toetsing daarvan tot volledige ontwikkeling kan kom: “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak. 1:2-4).

Interessant is die ooreenkomste met die Bergrede van die Here Jesus, Jakobus se broer, wat ‘n mens kan raaksien in sy leringe oor:

  • vreugde in beproewing (Vgl. Jak. 1:2, 12: “Geseënd is die man …” en Matt. 5:3-12),
  • gebedsverhoring (Vgl. Jak. 1:5-8 en Matt. 7:7-11),
  • die relatiwiteit van rykdom (Vgl. Jak. 1:9-11 en Matt. 6:19-34),
  • versoekings (Vgl. Jak. 1:12-15 en Matt. 5:27-30),
  • hoor en doen (Jak. 1:19-27 en Matt. 7:21-23),
  • die hulp aan armes (Vgl. Jak. 2:14-17 en Matt. 6:1-4),
  • respek en nie-veroordeling (Jak. 4:11-12 en Matt. 5:38-42; 7:1-6),
  • aardse skatte (Vgl. Jak. 4:13-17 en Matt. 6:19-21), en
  • eedswering (Vgl. Jak. 5:12 en Matt. 5:33-37).

Dit is ook ‘n boek wat ooreenkomste toon met die wysheidsboeke van die Ou Testament, veral Spreuke. Die wysheid is volgens Jakobus ook iets wat van God af kom en nie maar net uit die somtotaal van aardse wysgere se leringe nie. Wysheid moet ook getoon word deur goeie gedrag en dade net soos ons dit lees in Spreuke.

Teen hierdie agtergrond kan ons aandag gee aan ons teksgedeelte. Die goue draad hier is die woord van God. Ons fokus op drie aspekte:

  • Geskep deur die Woord (17-18)
  • Omhels die Woord (19-21)
  • Doen die Woord (22-27)
Geskep deur die woord

In verse 17 tot 18 beklemtoon Jakobus dat die klein gemeentes vir wie hy skryf “deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring” is (18). God is die skepper en outeur van die gelowiges se bestaan as gemeentes. God het gekies om dit te doen; die lewe van geloof as geloofsgemeenskap is ‘n gawe van God.

Vir Jakobus is dit geweldig belangrik dat die gelowiges moet weet hulle is ‘n skepping van God. Dwarsdeur die brief konsentreer hy op hulle praktiese geloofsvorming. Dit geskied onder groot druk in ‘n moeilike situasie waar gelowiges die minderheid in die samelewing is, sonder groot invloed. Op hierdie moeisame weg is die wete dat God hulle as geloofsgemeenskap geskep het, van deurslaggewende belang. Dit skep die fondament vir praktiese geloofsgroei.

Hulle geloof en hulle gehoorsaamheid, die nuwe lewe en die Heilige Gees wat dit begelei, is alles deel van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” wat “van Bo” kom (17). Dit kom van die grote God, wat al die hemelligte geskep het: die son, maan, sterre en planete. Dit beklemtoon twee dinge:

  • God is getrou en bestendig. Soos die roetine, konstantheid en bestendigheid van die sterre, is God betroubaar en getrou.
  • God is onveranderlik in God se trou. Die sterre is ook veranderlik, skyn dan helderder en dan weer flouer, verander van posisie in die hemelruim en verduister soms. Teenoor die sterre se veranderlikheid is God onveranderlik in God se goedheid.

Dit is belangrik om te weet, sê Jakobus, dat God nooit slegte gawes gee nie. God kweek geloof, God ondergrawe nie geloof nie. Hy versoek nie. Hy skenk lewe, volharding en hoop. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.

Omhels die Woord

In verse 19 tot 21 moedig Jakobus die gelowiges aan om die Woord wat God in hulle geplant het, aan te neem. Die woord red mens, skep die geloof.

Om die Woord aan te neem, is dit nodig om goed en gewillig te luister (19). As jy nie ruimte maak om die woord te hoor nie, kan jy die woord nie doen nie. Daarom lê Jakobus die klem op drie dinge:

  • Mens moet gewillig, flink wees om te luister: jy moet jou oopstel vir die woord, vir die evangelie, vir die onderrig uit die woord, vir ander gelowiges, vir Jakobus se onderrig in hierdie brief. Geloof is onmoontlik as daar nie luister is nie
  • Stadig om te praat: dit gaan hier op ons reaksie op dit wat rondom ons gebeur. Vir geloof en geloofsgroei is dit nodig om nie te vinnig te reageer nie, nie te gou besluit wat werklik aan die gang is nie, maar liewer luisterend en nadenkend na die wil van God te soek, oop te bly vir insette van ander.
  • Stadig om kwaad te word: daar is ‘n diepgewortelde woede in ons oor dit wat met ons gebeur en ons onvermoë om die lewe in te rig soos ons dinge wil hê (dink aan die man vir wie Campolo gebid het). Ons moenie hierdie weg gaan nie….

“‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie” (20). Die diepgewortelde woede wat dreig om ons te beheer kan ons tot verbale en fisieke geweld laat oorgaan, omdat ons self geregtigheid wil vestig. Mens kan kwaad word oor ongeregtigheid, maar jy moet stadig wees daarmee. Dit beteken jy moet eers luister, oorleg pleeg, agter die volle verhaal kom, en dan doen wat volgens God se woord reg is.

Luister is veral om agter te kom wat die Here besig is om te doen.  In alles is Hy besig om wysheid te gee, uitkoms te gee en sy voorsiening te laat gebeur.  Daarom moet jy nougeset luister en nie te gou wees om te praat nie, en veral nie kwaad te word oor wat gebeur nie

Dit is al manier waarop ons die woord van God “wat in ons geplant is” kan hoor.  ‘n Mens het ore nodig om te luister – dus flink om te luister.  Jy het ‘n wag voor jou mond nodig om genoeg tyd te hê om jou woorde te weeg voor jy dit sê – dus stadig om te praat.  En jy moet veral jou humeur oor en ongeduld met wat gebeur bedwing, sodat jou emosies oor wat gebeur nie God se stem uitdoof en jy uiteindelik net jou eie stem hoor nie – dus stadig om kwaad te word. Dit veronderstel ‘n innerlike proses wat baie meer subtiel en intuïtief is as iets wat ‘n mens doodgewoon uit die eksplisiete gebeure om jou kan aflei.

Vinnig praat en woede vererger meesal dinge.  Daarom is Jakobus se raad dat hulle: “al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier” (21). Die bron van die kwaad, hulle sondige natuur, moet afgelê word, sodat hulle (en ander) nie daardeur besoedel en verlei word nie.  Die gevolge daarvan “tier welig”, d.w.s. dit kan nie beheer word nie. Dan sal hulle die “ingeplante woord” van God kan hoor, en dié woord sal hulle red.  Dit is hoe mens reageer op die woord van God en hoe jy God en jou medemens liefhet.

Doen die Woord

In verse 22-27 praat Jakobus oor die doen van die woord. As ‘n mens flink is om te luister, is daar nog iets waarop jy moet fokus as jy wil doen wat die woord sê.  Dit is om die woord in jou lewe toe te pas, om dit prakties uit te voer: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself” (22). Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk, maar weer gou vergeet hoe jy lyk.

Jakobus roep hulle dus op daartoe om hulle te verdiep in die “volmaakte wet wat ‘n mens vry maak” (25) en daarby te bly deur dit uit te voer.  God se woord is volmaak en dit maak vry, aan die een kant vry van sonde en aan die ander kant vry om die lewende God te kan dien. Dit maak jou ook vry om spesifiek met deernis teenoor ander te kan optree.

Hierdie verdieping in God se woord veroorsaak dat gelowiges se lewens aan God se standaarde beantwoord.  Dan kom hulle liefde vir God tot sy volle reg.  Hulle sal nie net hulle tong kan beheer nie, maar ook kan omsien na mense wat in ellende is, weeskinders en weduwees, wat suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader is.  Dit is deel van hulle liefde vir hulle naaste.

Daarby sal hulle onbesmet deur die wêreldse dinge kan lewe. “Wêreldse dinge verwys na die patrone van die sondige wêreld. Deernis met behoeftige mense stel jou in staat om vry van die besmetting van die wêreld te bly. Jy gee dan nie toe aan die sondige begeerte om net na jou eie belange om te sien nie.

Toepassing

In hierdie aangrypende gedeelte roep Jakobus ons op om daaraan vas te hou dat ons geloof en ons gesamentlike gemeente-wees ‘n skeppingswerk van God is. God is die standvastige, getroue Bron van ons geloof en toewyding. Daarom is ons geloof nie op sand gebou nie. Niks kan dit wegkalwe nie.

God is ‘n aanwesige, aktiewe Persoon: in die wêreld en in gelowiges se lewe. Die diepste kuns van geloof is om met God verbind te wees en vanuit die werklikheid van God se trou te lewe.

Jakobus plaas ook klem op die praktiese doen van ons geloof. Geloof is nie ‘n teorie of ‘n filosofiese probleem nie. Geloof is nie ‘n intellektuele konsep of ‘n interessante diskussie nie. Geloof is praktiese aksie. Solank geloof nog nie ‘n impak op jou doen het nie, het God nie ‘n lewende werklikheid in jou lewe geword nie.

Die doen van geloof spruit uit ‘n hart en lewe wat deur God aangeraak is. Jakobus weet duidelik dat geloof net hande en voete kan kry as mens innerlik vernuwe is. Daarom plaas hy soveel aksent op luister, sodat mens oop raak vir die woord, stem en evangelie van God. Dit wat jy met jou lewe doen, is ‘n respons op wat binne in jou hart gebeur. Daarom moet woede en ander sondige passies onder beheer gebring word.

Jakobus ken die werklikheid van die sonde wat welig binne-in ons tier. Vir hom is ons daarom nie per definisie maar reg en aanvaarbaar nie. Ons deel in ‘n sondige kondisie, wat die dood in die pot vir ons lewe is. Sonder voer mens teen ‘n afgrond af, maar die woord van God wat vry maak, skep met God se krag vir ons ‘n weg na nuwe lewe. Hierdie is ‘n lewe van liefde en diens teenoor God en die naaste.

Die doen van geloof kyk dus weg van die self, en sien vir God, maar ook die naaste raak. Wanneer my lewe ‘n versorgende en opbouende teenwoordigheid in ander se lewens geword het, het geloof sy doel bereik.

God stuur ons om te leef

Gebed
Bid of sing die Gebed van St Franciskus van Assisi (Lied 284) of vra lidmate om die spesifieke bedieninge waarvan julle terugvoer gekry het, aan die Here op te dra.

Slotsang
Lied 258 “Vreugdevolle tyding” of
Flam 389 “Want U is Altyd by My” (Altyd)
In aansluiting by Barmhartigheid: VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”

Seën
Voorganger: Wanneer ons van hierdie erediens af uitmekaar gaan, betree ons die erediens van die lewe . Gaan die wêreld tegemoet: dans, lag, sing en skep.

Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se seën.
Voorganger: Gaan die wêreld tegemoet: neem risiko’s, verken, ontdek en wees lief.

Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se genade.
Voorganger: Gaan die wêreld tegemoet: glo, hoop, stry en onthou.

Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se liefde.
Voorganger: Gaan nou, onthou wie jy is en aan Wie jy behoort!

Respons: Lied 533 “Stuur ons, Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.