Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

“Roeping” is vandag die goue draad wat deur al vier ons tekste geweef is. By almal is daar die versugting na dapperheid en volharding in die uitvoer van ons roeping. Jeremia ontvang as jong seun sy roeping. Hy voel dat hy te jonk is en nog nie goed kan praat nie. Die Psalm bekyk roeping weer vanuit die perspektief van iemand wat nou al oud geword het en steeds hunker na God as ‘n veilige toevlug. Hebreërs verbind die Ou-Testamentiese berg Sinai met die Nuwe-Testamentiese Sionsberg en fokus op Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond. In die Lukasteks tree Jesus na vore as voorbeeld van dapper volharding in die uitleef van sy roeping onder moeilike omstandighede.

Ander tekste

Jesaja 58:9b-14
As jy sorg dat mense nie meer by jou
verdruk word nie,
nie meer gedreig
en vals beskuldig word nie,
10as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes
van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn
wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is,
word soos die helder middag.
11Die Here sal jou altyd deur lei;
selfs in dor streke
sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos ’n tuin met volop water,
soos ’n fontein waarvan die water
nie opdroog nie.
12Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel
wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as ’n volk
wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel
sodat daar weer mense kan woon.
13As jy nie op die sabbat oortree nie,
op my heilige dag doen
net wat jy wil nie,
as jy die sabbat ’n vreugde noem,
as jy die heilige dag van die Here
in ere hou,
as jy dit eer deur nie jou gewone gang
te gaan nie,
nie te doen net wat jy wil nie,
en nie handel dryf nie,
14sal jy vreugde vind in die Here.
Ek sal jou die land
weer in besit laat neem,
Ek sal jou laat eet van die opbrengs
van die land van jou vader Jakob.
Ek, die Here, het dit gesê.

Psalm 71:1-6
71 By U, Here, skuil ek, laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
2Red my en bevry my,
want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
3Wees vir my ’n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
4My God, bevry my
uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke
en verdrukkers,
5want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af
vertrou.
6U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het,
het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.

Psalm 103:1-8
103 Van Dawid.
Ek wil die Here loof,
met alles wat in my is,
wil ek sy heilige Naam loof.
2Ek wil die Here loof
en nie een van sy weldade
vergeet nie.
3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,
wat al my siekte genees,
4wat my red van die graf
en my met liefde en ontferming kroon,
5wat my die goeie in oorvloed
laat geniet,
my die jeugdige krag van die arend
skenk.
6Die Here laat geregtigheid en reg
geskied
aan almal wat verdruk word.
7Aan Moses het Hy
sy wil bekend gemaak,
aan Israel wat Hy van plan was
om te doen.
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.

Hebreërs 12:18-29
Moenie die genade van God verwerp nie
14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18Julle het immers nie gekom by ’n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs ’n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, gwas vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!” h

22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” i27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ’n verterende vuur.

Lukas 13:10-17
Jesus genees ’n gebreklike vrou op die sabbatdag
10Eenkeer op ’n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. 11Daar was ook ’n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ’n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”

13Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.

14Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop ’n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”

15Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? 16En hier is ’n vrou, ’n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”

17Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.

Fokusteks

Jeremia 1:4-10
Die tyd van sy optrede
1 Die woorde van Jeremia. Hy was ‘n seun van Gilkija en ‘n priester uit Anatot in Benjamin.

2Die woord van die Here het tot hom gekom tydens die regering van koning Josia van Juda, seun van Amon. Dit was in die dertiende regeringsjaar van Josia. 3Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom tydens die regering van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, en telkens tot die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, seun van Josia. In die vyfde maand van daardie jaar is die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Jeremia word tot profeet geroep
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
6“Ag, Here my God,”
het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie,
ek is nog te jonk.”
7Toe sê die Here vir my:
Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe
Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê,
moet jy sê.
8Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou,
Ek sal jou red.
Dit is wat die Here gesê het.
9Hy het sy hand uitgesteek,
my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde
in jou mond gelê.
10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

11Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia?
Ek het geantwoord: “Ek sien ‘n amandeltak.”
12Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.
13Die woord van die Here het ‘n tweede keer tot my gekom: Wat sien jy?
Ek het geantwoord: “Ek sien ‘n kokende pot in die noorde en dit kantel oor hiernatoe.”
14Toe sê die Here vir my:
Van die noorde af gaan Ek ‘n ramp stuur
oor almal wat in hierdie land woon.
15Ek gaan alle volke, alle koninkryke
van die noorde af roep,
sê die Here.
Hulle konings sal elkeen sy troon
kom oprig
voor die poorte van Jerusalem,
by die mure rondom die stad
en by al die stede van Juda.
16Ek sal die mense van Juda straf
vir al hulle sondes:
hulle het My verlaat,
vir ander gode offers gebring
en voor hulle eie handewerk
in verering gebuig.
17Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë.
18Ek maak jou vandag ‘n vestingstad,
‘n ysterpilaar,
‘n bronsmuur sodat jy staande kan bly
teen die hele land,
teen die koningshuis van Juda
en al sy amptenare,
teen sy priesters en teen die bevolking.
19Hulle sal teen jou veg maar hulle sal
jou nie oorweldig nie,
want Ek is by jou, sê die Here,
Ek sal jou red.

Ekstra stof

Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om Sy lyf. Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ‘n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer.

Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding. As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ‘n mandjie goeie vye en in ‘n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle:

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (29:11-12).

Dié hoop kry nog groter betekenis in ‘n grondkooptransaksie wat Jeremia aangaan in Anatot waarmee die Here ‘n belofte aan die volk maak dat ná sewentig jaar van ballingskap daar weer huise, grond en wingerde in Juda gekoop sal word. Die Here belowe om ‘n nuwe verbond met hulle te sluit waarin sy woord op hulle harte geskryf en in hulle gedagtes vasgelê sal wees. Almal sal Hom ken, klein en groot.

Jeremia ontvang sy roeping in 627 v.C., die dertiende jaar van koning Josia se regering en tree regdeur die koningstyd van Josia (640-609 v.C.), Joahas (slegs 3 maande lank koning voor hy dood is, daarom word hy nie eers hier genoem nie), Jojakim (609-598 v.C.), Jojagin (slegs 3 maande lank koning voor hy weggevoer is, en word ook nie genoem nie) en Sedekia (597-586 v.C.) tot in 586 v.C. toe die volk in ballingskap weggevoer is.

1:1-3 – Die tydperk van Jeremia
Jeremia word hier as die seun van Gilkija, `n priester uit Anatot (vandag Almon), in die grondgebied van Benjamin, so 5 km noord–oos van Jerusalem (Jer. 1:1) geïdentifiseer. Jeremia was dus self `n priester, maar iemand wat die Here vroeg reeds as “profeet vir die nasies” geroep het soos ons in vers 5 sal sien.

Soos reeds vroeër genoem, Jeremia se profesieë word gelewer teen die agtergrond van die drie groot wêreldmagte van sy tyd:

  • Assirië – wie se invloed begin taan het met die val van Assurbanipal en die opkoms van die Galdeër Nabopolassar in 627 v.C. en in 609 v.C. finaal verslaan is by Megiddo deur Egipte;
  • Egipte – wat die internasionale vakuum probeer vul het deur hulle mag in die Midde–Ooste uit te brei, maar deur die opkomende Babiloniërs verslaan is in 605 v.C. by Karkemis;
  • Babilon – wat onder Nebukadnesar tot die dominante wêreldmag in die tyd van die ballingskap van Juda uitgebou is.

Met die name van Josia, Jojakim en Sedekia word ‘n mens voorberei vir die koppeling wat daar in Jeremia se woorde met hulle in die loop van die boek sal wees:

1:4-19 – Die roeping van Jeremia
Jeremia beskryf sy roepingsgebeure met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom“. Hoewel hy nie uitbrei oor die presiese aard daarvan nie, dui die res van die hoofstuk se beskrywings op ‘n ervaring wat Jeremia met sy sintuie ervaar het. Ten minste sy ore, mond en sy oë was betrokke, soos ‘n mens uit die roepings-woorde, die aanraking en die roepings-visioene aflei.

Die roepingsgebeure word ook as ‘n gesprek tussen God en Jeremia uitgebeeld, soos meermale die geval was met ander ervarings van Bybelfigure wat deur God geroep is — Abraham, (Gen. 12), Moses (Eks. 3), Samuel (1 Sam. 3), Jesaja (Jes. 6), Esegiël (Eseg. 1) ensomeer. Trouens, dié tipe gesprek teken hulle verhouding met die Here. Gesprek met God stempel die pad wat hulle met Hom loop.

God se betrokkenheid by sy roeping word met vier werkwoorde gemotiveer: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies). Let op dat God hom ken nog voor die Here hom skep … ‘n diepsinnige perspektief op die lewe! God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het.

‘n Lewensveranderende gedagte om oor na te dink!

Interessant genoeg word dieselfde woord “aanstel” (gegee/gekies) gebruik vir die beskrywing van Abraham se roeping in Genesis 18:19. Amos gebruik dit ook met verwysing na die verkiesing van Israel (Amos 3:2):

Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.”

Peterson vertaal dit so mooi:
Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).

Jeremia se reaksie daarop is om sy jonkheid as hindernis voor te hou. “Ek is ‘n seun” sê Jeremia, ‘n woord wat beide vir babas en kleiner kinders sowel as vir tieners en jong volwassenes gebruik is. Sy presiese ouderdom kan dus nie hieruit afgelei word nie, maar hy was dus waarskynlik nog nie in sy twintigerjare nie. “Ek kan nie goed praat nie,” het waarskynlik meer met sy eie beoordeling van die “gesag” waarmee hy kan praat te doene, as dat hy nie vlot kon praat nie.

Die Here word egter nie daardeur van stryk gebring nie en praat hom moed in, meer nog raak sy mond aan, dié mond waaroor hy bekommerd is. Dit legitimeer sy woorde as God s’n. God se gesag sal dus sy woorde stempel. Dit herinner aan die gloeiende kool vuur waarmee Jesaja se mond aangeraak is toe hy oor sy onrein lippe gekla het (Jes. 6:6).

God spel Jeremia se roeping uit met ses woorde en twee visioene.

  • Die ses woorde behels oordeel: breek, uitroei, vernietig, platslaan, en heil (verlossing, redding): bou en vestig. Dit is ook ongeveer die ratio waarin sy profesieë gelewer is, dubbeld soveel profesieë van oordeel as profesieë van hoop.
  • Die twee visioene bevestig dat God gaan optree (amandeltak) — God sê letterlik Hy “staan wag” oor sy woorde, om te doen wat Ek gesê het — en dat die oordeel uit die noorde sal kom (kokende pot – die leërs van Assirië en Babilon kom natuurlik van die ooste, maar het telkens uit die noorde ingeval om die tog deur die Transjordanië woestyn oos van Juda te vermy).

Die betroubaarheid en sekerheid van God se woorde tref ‘n mens opnuut. Die woorde, soos telkens in die res van die profesieë van Jeremia, verwys duidelik na die vloeke en seën van die verbond, soos in Lev. 26 en Deut. 28 aan die volk voorgehou is. Die seën en die straf word uitgespel in terme van die ekologie, ekonomie, gesondheid, en die politiek. Dit is die agtergrond en basis vir wat Jeremia regdeur die boek gaan sê. Die negatiewe kant van die beloftes van Levitikus en Deuteronomium gaan dus hier in vervulling.

Aan hierdie roeping word darem ook ‘n belofte gekoppel dat die Here Jeremia sal staande hou, uitgedruk met drie metafore: ‘n vestingstad, ‘n ysterpilaar, en ‘n bronsmuur. Die Here sal by hom wees om hom te red en te sorg dat hy nie oorweldig word nie.

Boodskap
Dit is ‘n ongelooflike ryk gedeelte. Aan die eenkant gee dit ‘n mens ‘n sleutel om die boek te verstaan, beide die tyd waarbinne Jeremia optree 627-586 v.C. sowel as die boodskap wat hy vir sy tyd ontvang het. Daarin speel die ses woorde van sy roeping veral ‘n belangrike rol: breek, uitroei, vernietig, platslaan, bou en vestig.

Aan die ander kant is hier só baie waarop ‘n mens kan konsentreer in terme van jou eie lewe: God se betrokkenheid by ons van vóór ons geboorte af, sy bereidheid om met ons in gesprek te gaan, sy beloftes wat ons motiveer om die roeping wat Hy vir ons het, aan te gryp.

Oordink vandag die woorde aan Jeremia as woorde ook aan jou: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.” Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, het dit ook met jou gedoen vir die roeping wat Hy vir jou het.

Liturgie

RUS

Aanvangswoord en stil nadenke

Lied Flam 3 of VONKK 127 of Lied 178 of die refrein van Jeugsangbundel 29:

Seëngroet: (Matt 11:28-30)

Lofsang: Lied 164 en/of Lied 209

Geloofsbelydenis: Lied 264

HOOR

Voorbereiding om die Woord te hoor :Lied 541 en Gebed

Skriflesing: (tiener) Jeremia 1:4-10

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Wet/Skuldbelydenis

Verbintenis: Lied 270:3 of F406 laaste refrein

Genadeverkondiging/Bemoediging
Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 437 of F406 of F292

Respons
VONKK 58 of  F406 laaste refrein of Lied 437 laaste reël of laaste vier reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
Vandag se evangelie-teks gaan oor Sabbat. John van de Laar skryf in sy boek “The Hour The Hour That Changes Everything – How worship forms us into the people God wants us to be”:

‘n Beduidende deel van die beoefening van Sabbats-rus is om onsself te belyn met God se ritme. Soos wat ritme ‘n musiekstuk organiseer volgens spoed en patroon, organiseer Sabbat ons lewens volgens God se tyd – God se tempo en patroon. Dis meer as om net ‘n blaaskans te neem of bietjie te rus voordat ons met nuwe energie terugspring in ons besige lewens. Sabbat is om die betekenis van oomblike in tyd te erken. Dit is om God se tempo en patroon vir ons, ons gemeenskap en ons wêreld te te leer ken en om in pas te kom met hierdie ewige ritme.

(A significant part of the practice of Sabbath is aligning ourselves with God’s rhythm. As rhythm organises a piece of music in time according to speed and pattern, so Sabbath organises our lives according to God’s sense of time – God’s tempo and pattern. This is more than simply giving ourselves a breather, or allowing ourselves time to rest so that we can launch back into our busyness with renewed vigour. Sabbath is about learning to recognise the significance of moments in time. It is about learning to recognise God’s tempo and pattern for us, our community and our world, and it is about matching our pace with these eternal rhythms.)

Dink na oor die afgelope week: waar het jy God se hand gesien? Waar het jy God se hand mis gekyk?

Lied (sonder aankondiging):
Flam 3 Aan U Voete, Heer of
VONKK 127 By God Is Ek Tevrede
Lied 178 “Dona nobis pacem” of
die refrein van Jeugsangbundel 29: “Kom na my toe | Almal wat moeg en oorlaai is | Kom na my toe | Ek gee rus” | Toe ek opstaan en, nog verward | my hand in Syne lê | Kry die lewe sin | En vind ek rus in Hom

Seëngroet
Jesus sê (Matt 11:28-30):
8“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Lofsang
Lied 164 “Ons is almal hier tesaam” en/of
Lied 209 “Heer, meet my hele hart”

Geloofsbelydenis
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!”

Liedere

VONKK 127 “By God Is Ek Tevrede “
(Psalm 62:6 en 7)
Teks: Mon âme se repose – Taizé; Afrikaanse weergawe: Gerrit Jordaan 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue
By God is ek tevrede, stil soos ‘n kind.
U laat my veilig voel.
Ja, net by God kan ek my vrede vind,
by Hom is daar rus.

In God alone my soul can find rest and peace,
in God my peace and joy.
Only in God my soul can find its rest,
find its rest and peace.

F3. “Aan U Voete, Heer”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Oorspronklike titel: Aan Uw Voeten, Heer
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Refrein:
Aan U voete, Heer, is die beste plek,
daarom kniel ons voor U neer.
Om by U te wees is die grootste eer,
daarom buig ons voor U neer.

1. Ja, ons verkies nou om by U te wees
en om na U te luister.
In plaas van altyd maar weer besig te wees,
kom ons nou tot rus by U.

Refrein:

2. En ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,
om saam te kniel in aanbidding;
in Gees en waarheid waarlik een te wees,
daarom buig ons voor U neer.

Refrein:

3. Net soos ’n vader wat sy kinders vertroos
so omhels U ons elkeen.
U is ’n Vader wat versorg en beskerm
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U.

F406. “Ek Wil Kom Stil Word” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: I will sing of my Redeemer
Teks en musiek: James McGranahan (1840-1907)
Afrikaanse Teks en musiekverwerking: Piet Smit en Ben du Toit
© MAR Gospel Music Publishers

1. Ek wil kom stil word, hier aan u voete;
ek wil kom hoor wat U vir my sê.
Ek wil kom oopmaak vir u Gees, Heer,
as ek my vrae voor U kom lê.

Refrein 1:
Want soveel mense sterf sonder Jesus
en word mislei na die ewige dood.
Daar’s soveel oorvloed, selfsug en rykdom,
en ander ly in hongersnood.

2. Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders
wat honger en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?

Refrein 2:
As ek dan vra, Heer, “waar is u liefde?”
moet ek erken, dit lê nog by my.
Hier in my selfsug stap ek gevoelloos
by al die nood en seer verby.

3. Maak my ’n beeld van Jesus se liefde
om in my wêreld U hande te wees.
Ek gee myself aan U as ’n offer
onder beheer van die Heilige Gees.

Refrein 3:
Hier staan ek voor U, net soos Jesaja.
Raak my nou aan met u heilige vuur,
sodat ek oral u liefde kan uitdra.
Hier is ek, Heer, U kan my stuur!

F292. “Heer Laat My Skyn”
(RUBRIEK: Kruisfuur / Flam – Getuienis)
Teks: Marina du Toit
Musiek: Marina du Toit
© 2008 Urial Publishing

Heer vul my hart, met liefde
U Woorde binne my.
Heer laat my lippe spreek van vrede
en die doodsheid lewe gee.
Want U is God, hier in my en U Gees leef deur my.
Laat ek water bring in ’n dorre woestyn.

Refrein:
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my skyn!
Heer laat die donker nou swig en die twyfel verdwyn,
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn!
Heer laat ek (ons) hoop bring vir nood en ’n wêreld in pyn!
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn!
Heer rig ons op, as ligdraers, ’n nasie na u hart.
Heer gee ons hande, net soos U s’n, wat uitreik en genees.

VONKK 58 “Ons Vind Ons Krag In Die Here”
Nav Jeremia 17:7
Teks: Neelsie van Zyl 2007 ©
Melodie: NEELSIE – Neelsie van Zyl 2007 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Geloof en Vertroue, Uitsending

Ons vind ons krag in die Here –
op Hom sal ons vertrou,
op Hom sal ons vertrou.
Ons vind ons krag in die Here –
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra,
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra.

God praat met ons en ons luister

Voorbereiding om die Woord te hoor
Lied 541 “Ons bring aan U, Heer Jesus”

Gebed

Skriflesing
Reël vooraf met ‘n tiener om die skriflesing te doen.
Jeremia 1:4-10

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

As jy hou van “object lessons”, kan jy ‘n ballon gebruik om Jeremia te verteenwoordig. Hy was eers soos ‘n afgeblaasde ballon, onseker van homself. geen selfvertroue, onseker wat om te sê. Beklemtoon dat dit nie vir God saak gemaak het dat Jeremia jonk en onervare was nie. Dit is God self wat vir Jeremia alles gee wat hy nodig het om die werk te doen. Jeremia word soos ‘n opgeblaasste ballon, gevul met God se Gees.

Of gebruik die storie van Miss Hazeltine’s Home for Shy and Fearful Cats deur Alicia Potter (beskikbaar by iTunes). Jeremia voel onseker en bang, maar God sê vir hom om nie bang te wees nie: God is altyd by hom, so hy kan maar dapper wees en praat. Die katte in Miss Hazeltine’s Tehuis vir Skaam en Bang Katte voel ook nie dapper nie – hulle is skaam en bang. Maar Miss Hazeltine sorg vir hulle en leer hulle om nie bang te wees nie, maar dapper. Krummel is die bangste van al die katte, maar wanneer Miss Hazeltine val, lei Krummel die ander katte om vir Miss Hazeltine te red. Jeremia was dapper omdat God by hom is en hom bemoedig. Ons is ook soms bang, maar kan dapper wees wanneer God ons roep, want God ken ons al lankal en sal ons die moed gee om te doen wat God vra. (Die boek is ook beskikbaar by Loot.co.za. As jy dit bestel het, maar dit nie betyds gaan wees nie, kontak vir Rethie by [email protected], dan maak ons ‘n ander plan).

Preekriglyn

[Nota: Lees vir die doeleindes van hierdie preek ook verse 1:17-19 as deel van die Skriflesing.]

Moeder Theresa het meer kere gevoel God het haar verlaat. Dit het reeds vroeg in haar lewe gebeur. Só het sy die strate van Calcutta plat geloop om ‘n huis of gebou te soek waar sy haar bediening kon begin. Sy kon aanvanklik geen plek kry nie. Op ‘n dag skryf sy in haar dagboek: “Ek het die hele dag straat op en straat af geloop. My voete is seer, en ek kon niks vind nie. Die hele dag deur het die groot Versoeker my vertel: ‘Los dit alles, gaan terug na die klooster waarvandaan jy kom’.” Sy het gewonder waar God is, en of haar roeping eg is.

Sy het egter vasgebyt, bly soek en uiteindelik die regte plek gevind. Daarna het sy volhard in haar roeping en weerstand en twyfel oorkom. Vandag voed haar bediening jaarliks meer as 500,000 mense, behandel meer as 90,000 melaatses en onderrig minstens 20,000 kinders.

Moeder Theresa het lewenslank geworstel met twyfel en aanvegting. Tog het sy die pad met God bly stap, beleef hoe die Here haar versterk, en veel vrug op haar arbeid gesien. God se roeping het haar gedra.

Wat roeping is

Wat beteken dit wanneer ons sê dat iemand deur God geroep is? Vir die meeste mense sê die woordjie waarskynlik dat sekere mense spesiaal deur God gekies word. Hulle moet op die een of ander manier sy boodskap verkondig of sy werk op aarde doen. Daarom sal ons maklik sê dominees en sendelinge is geroepenes van God. Dink ook aan Moeder Teresa. As daar nou ‘n beroep is waar mense daarvan moet kan getuig dat God hulle persoonlik die taak opgelê het, dan is dit juis dié van dominee of sendeling.

Vergelyk dit met ander beroepe. Natuurlik is ander beroepe ook nodig of selfs noodsaaklik (dink aan dokters en kinderoppassers, ekonome en bouers, banktellers en mense agter kasregisters, om enkeles te noem), maar by hierdie beroepe hoef God, dink ons dikwels, darem nie so eerstehands betrokke te wees nie. Keuring hiervoor is nie so streng en spesifiek nie. Ons wil amper sê enigiemand wat belangstel of potensiaal toon mag aansoek doen of hulself aanmeld.

Ons moet in Bybelse lig egter wyer dink oor roeping.

Roeping wyer verstaan

Daar skort egter iets groot met so ‘n verstaan van roeping, asof ‘n dominee se werk meer ‘n roeping is as dié van ‘n ma, of ‘n sendeling God beter dien as ‘n kleremaker. Veral Gereformeerde mense sien eintlik alles wat ons doen in die lig van God se roeping. Waarom? Volgens Genesis is die eerste persone wat in die Bybel deur God geroep is (Adam en Eva), die belangrike taak van tuiniers en wildbewaarders opgelê. Dit was volgens Genesis aanvanklik die mens se heel belangrikste roeping. Volgende het God ‘n bouer nodig gehad. Noag se praktiese vernuf het ‘n nuwe begin na die vloed moontlik gemaak.

Dink aan die voorbeeld in die Nuwe Testament waar Jesus vissermanne roep om Hom te volg. Hulle is in die eerste plek jong volwassenes wat nie onder die vername rabbi’s studeer het nie. En wanneer hulle Hom vra wat hulle moet gaan doen, is sy antwoord eintlik heel voor die hand liggend: “Julle is vissermanne. Gaan voort met julle ambag. Doen dit net ‘n bietjie anders. Ek roep julle om vissers van mense te wees.”

Terwyl Marta dit gesien het as haar roeping om kos aan te dra en vloere te vee, het Maria geroepe gevoel om te luister en te leer. Een persoon se beroep of gebied van toewyding is nie meer van ‘n roeping as ‘n ander persoon s’n nie.

God kan mense in ‘n gewone betrekking roep en gebruik.

Van taak na roeping

Mens moet egter versigtig wees om te sê enige werk is outomaties jou roeping. Geen mens se beroep is noodwendig hulle roeping nie.

Ons kan eers van roeping praat wanneer God met ons gepraat het oor wie ons is en waar Hy ons wil gebruik. Eers dan word jou beroep of jou daaglikse taak jou roeping. En mag hierdie roeping van tyd tot tyd verskuif. Dink byvoorbeeld aan Dawid wat eers geroep is om soldaat te wees sodat hy Goliat kon verslaan. Later is Hy geroep om die koning van die volk te wees.

Roeping het dus met ‘n mandaat van God te doen. Dit is God wat die inisiatief neem en ‘n bepaalde taak aan ons opdra. Dan word ons dagtaak, of ander take, ons roeping. Dan ontdek ons dat ons almal sendelinge, dit wil sê God se gestuurdes, is of kan wees.

Soms lei geestelike leiers, mense wat voorheen kon sê hulle is geroep, aan uitbranding – of gaan soos moeder Theresa deur ‘n geestelike krisis. Dan kan ‘n dominee of sendeling daarmee worstel dat sy/haar roeping net ‘n gewone werk geword het. Geestelike groei is dan om hierdie krisis te oorkom en weer God se roeping te herken en te omhels.

Jeremia as voorbeeld

Kom ons kyk na Jeremia se roeping. Dit is een voorbeeld uit baie roepingsverhale in die Skrifte.

Let eerstens op dat God die inisiatief neem om Jeremia te roep. Lank voordat Jeremia sou kon antwoord, selfs voordat hy in die baarmoeder gevorm is, vertel God dat Hy hom toe reeds intiem geken het en dat Hy hom toe al aan Hom gewy het, hom toe al gekies het om eendag ‘n profeet te wees. God het Jeremia gekies en reeds ‘n roeping vir hom gehad toe hy nog nie eens gevorm was nie.

Alhoewel Jeremia deel was van die volk van God en hy binne die priesterlike lyn gebore is, met die gedagte dat hy ‘n priester sou word, het hy op die stadium toe God met hom kom praat het waarskynlik nog nie kon getuig van ‘n persoonlike verhouding met hierdie God nie. “Ag, Here God,” antwoord Jeremia. Mens hoor sommer die sug in sy stem nog voordat hy verskonings begin inryg. En dis opmerklik dat hy nie hier op ‘n persoonlike vlak met God praat as “sy/my God” nie (soos die NAV verkeerdelik vertaal), maar hy spreek God eerder vanuit ‘n afstand aan: “Ag, Here God.” Dit blyk dus dat Jeremia geweet het van God as gevolg van sy agtergrond en sy familiegeskiedenis, maar dat hy God nog nie persoonlik geken het nie (al het God hom al voor sy bestaan geken).

Verskonings

Daarna begin die verskonings soos in die meeste roepingsverhale in die Bybel. Die redes wat Jeremia aanvoer is heel legitiem: “Ek kan regtig nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” Dit is onseker hoe oud Jeremia was toe die Here met hom gepraat het. Hy word beskryf as ‘n seun. Vermoedelik was hy ‘n tiener, beslis jonger as 20 jaar oud. Binne sy kultuur was hy inderdaad te jonk om as profeet te begin werk. Maar die Here wil niks daarvan hoor nie. Hy steur Hom nie aan die toelatingsvereistes van die kultuur wanneer Hy Jeremia roep nie. Hy roep Hom ten spyte van die feit dat Jeremia nie werklik kwalifiseer nie. Dalk juis daarom?

Wanneer ons oor ons eie lewe en ons eie roeping dink, kan dit dikwels gebeur dat dinge vir ons te groot lyk. Of ons is te bang om ons goddelike mandaat uit te voer. Dalk voel ons te jonk, te onkundig, te onbekwaam, met vrees vir verwerping gevul.

Dan daag die groot Versoeker, soos Moeder Teresa die Satan noem, ook nog op en bevestig ons gevoelens van onbekwaamheid.

God dra Jeremia

Ons moet leer om van onsself weg te kyk en God raak te sien. Ons moet optree met die vertroue dat God wat ons roep, ons ook bemagtig om ons roeping uit te voer.

Die Here verseker Jeremia in vers 8 dat hy – ongeag sy tekortkominge – nie bang moet wees vir die mense onder wie hy moet gaan profeteer nie. Die Here gee Jeremia sy versekering: “Ek is by jou om jou uit te haal, om jou te red.”

Jeremia vertel aangrypend verder: “[Die Here] het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Kyk! Ek het nou my woorde in jou mond gelê.” Die Here se woorde in Jeremia se mond . . . Dalk is dit die rede hoekom Jeremia se roeping hom nie soos ‘n handskoen gepas het nie? Soms is die gevaar daar dat as ons te gekwalifiseerd is, te selfversekerd ons beroepe beoefen, dat ons dan die roeping uit die beroep verloor. Dat ons eie kennis en ons eie stem en ons eie ervaring so hard praat dat ons nie meer hoor hoedat God roep nie, dat ons nie meer sy stem kan hoor sodat dit sy woorde is wat in ons mond gelê word nie, want ons is te gemaklik met ons eie woorde.

Moeilike woorde

Die Here herinner Jeremia hier dat hy bloot die mond, die spreekbuis moet wees, maar dat dit die Here se woorde moet wees wat gespreek word. Hierdie woorde wat Jeremia aan die volk moet oordra was nie strelende liefdeswoorde nie. Jeremia is ‘n moeilike taak opgelê, selfs vir ‘n ervare orator. Hy moes twee keer meer slegte nuus as goeie nuus aankondig (10). Hy moes ‘n doemprofeet wees!

Wie wil nou so ‘n roeping hê! Veral in ‘n tyd waar daar soveel valse profete was wat goeie nuus verkondig het en aan wie se lippe die volk veel eerder sou hang as aan dié van ‘n doemprofeet wat nog nat agter die ore is en nie eens weet hoe om in die openbaar te praat nie. Die Here se roeping is nie altyd “lekker” nie. Dit is nie noodwendig aangename werk nie.

Roeping is dringend

Die Here vryf die erns van Jeremia se taak nog dieper in deur hom dadelik op te roep om klaar te maak en op te staan en alles vir die volk te gaan sê wat Hy hom beveel. En wat meer is, Jeremia word aangesê om nie toe te laat dat die mense teenoor wie hy moet profeteer hom angstig maak nie. Indien hy gaan bang raak vir hulle en nie sy roeping gaan nakom nie, sal God hom goeie rede gee om wel angstig te wees. God sal dalk net besluit om van Jeremia se angs en onwilligheid ‘n voorbeeld te maak voor die oë van al die mense . . . Om geroepe te wees, is nie maklik nie.

God is ernstig oor roeping

Ons teks sê ook duidelik as die Here ‘n mens eers geroep het, aanvaar Hy nie sommer nee vir ‘n antwoord nie. Ons sien dit hier in Jeremia se roepingsverhaal. God onderstreep die erns van sy roeping.

Ook Jona se verhaal herinner ons aan God se erns wanneer Hy mense roep. Toe die Here vir Jona roep het hy sy sak gepak en gevlug, weg van die Here af. Of so het hy gedink. Maar toe hy met ‘n skip verder vlug, het die Here ‘n storm oor die see laat losbars. Jona is oorboord gegooi, ‘n vis het hom ingesluk en na drie dae eers uitgespoeg. Jona het weer dieselfde roeping van die Here af gekry. Maar hierdie keer het hy besluit dit is veiliger om gehoorsaam te wees. Vir Jona was die ergste van alles dat die Here toe sy oordeel (wat Jona oor Nineve moes aankondig) teruggetrek het omdat die volk hulle bekeer het. So, Jona se profesie – wat hy in die eerste plek nie eens wou gaan verkondig nie – het ook nooit in vervulling gegaan nie. Jona was baie kwaad vir die Here.

Om te leef binne die roeping wat die Here op ‘n mens lê, waarborg nie ‘n maklike lewe nie. Dit is dikwels nie ‘n reguit pad net omdat dit die regte pad vir jou is nie. Dis soms ‘n swaar pad, met baie opdraandes en slaggate. Soos in Jeremia se geval (Dink ook hier aan Maria met die swaard deur haar siel).

Juis omdat dit dan nie meer jou eie pad is nie maar die Here s’n, waarborg Hy jou dat jy nie alleen is nie. Die Here het Jeremia in hierdie woorde van sy teenwoordigheid verseker (17-19): “Ek maak jou vandag ‘n vestingstad, ‘n ysterpilaar, ‘n bronsmuur sodat jy staande kan bly midde die baie moeilike roeping wat ek op jou lê . . . [Die mense] sal teen jou veg maar hulle sal jou nie wen nie, want Ek is by jou om jou te red (uit te haal).”

Toepassing

Ons teks nooi ons uit om onsself voor die Here oop te stel oor ons lewe en ons roeping. Hoewel die Here onaangekondig by soveel mense opdaag en hulle roep, is daar ook ruimte om self doelgerig met die Here in gesprek te tree oor sy roeping vir ons. Dit is ‘n gebedsaak. Wat wil die Here hê moet ons doen? Wat is God se roeping vir ons lewe en vir die verskillende rolle waarin ons ons bevind? Ons moet daaroor met God praat.

Dikwels beleef ons ons dag as sleuragtig, dalk veral die werk wat ons doen. Hoe sal dinge verander as ons God se roeping binne ons werkkring begin soek? Wat sal gebeur as ons die verhoudings waarbinne ons staan in die lig van God se roeping begin herbedink? Wat kan God met ons vermag deur die groepe, gesinne, werkkringe, sosiale omgewings waarbinne ons geplaas is? Wat sê die Here vir ons wanneer ons daaroor bid?

Baie van ons beleef dat die Here ons roep om sekere dinge te doen, maar ons weerstaan dit. Ons tree doelbewus weg van God se wil vir ons lewe. Dikwels is ons verskonings so eg: ons is te jonk, te oud, te besig, te arm, te oorlaai met verantwoordelikhede, te onmagtig.

Mens kan dikwels baie redes kry waarom ander eintlik eerder die dinge behoort te doen waartoe die Here ons roep. Die Here maak ons bewus van take en uitdagings, maar dan projekteer ons dit op ander en meen hulle behoort dit eintlik te doen. Roeping deur God vra dat jy self verantwoordelik moet neem om die take uit te voer wat die Here aan jou opdra. Jy kan natuurlik ook bid vir vennote wat jou kan help. God se roeping kan te groot wees vir een mens. Vir Moeder Teresa was dit beslis so. Moses het ook vir Aäron nodig gehad. Jou eie rol en verantwoordelikheid kan jy egter nie ontken nie.

Hoewel God se roeping groot mag wees, word dit altyd vergesel met God se beloftes. Ons kan dit ook vandag hoor. Die Here is by ons. Die Here werk deur ons. Die Here lê sy woorde en sy dade in ons mond. Die Here vul ons en maak ons lewe sinvol. God het ons geken nog voor ons gebore is. Hy het ons aanmekaargeweef, sê die Psalmdigter. Die uitvoering van God se roeping vir ons lewe het daarom alles met ons lewensvervulling en die belewing van sin in ons lewens te doen.

Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, het dit ook met ons gedoen vir die roeping wat Hy vir ons het.

God stuur ons om te leef

Wet/Skuldbelydenis
[sluit aan by die laaste deel van die preek – die twee kan ook gekombineer word]

Ek het nou net gesê dat ons onsself kan oopstel voor die Here oor ons roeping. Neem nou ‘n paar oomblikke om met God daaroor te praat: Wat wil die Here hê moet jy doen? Wat is God se roeping vir jou lewe en vir die verskillende rolle waarin jy jou bevind? [tyd vir stil gebed]

Hoe sal dinge verander as jy God se roeping binne jou werkkring begin soek? Wat sal gebeur as jy die verhoudings waarbinne jy staan in die lig van God se roeping begin herbedink? Wat kan God met jou vermag deur die groepe, gesinne, werkkringe, sosiale omgewings waarbinne jy geplaas is? [tyd vir stil nadenke]

Baie van ons beleef dat die Here ons roep om sekere dinge te doen, maar ons weerstaan dit. Ons tree doelbewus weg van God se wil vir ons lewe. Dikwels is ons verskonings so eg: ons is te jonk, te oud, te besig, te arm, te oorlaai met verantwoordelikhede, te onmagtig. Wat jou verskonings, die redes wat jy aanbied hoekom jy nié gehoorsaam is nie? [tyd vir stil nadenke]

Verbintenis
Lied 270 vers 3: Maak ons oë oop, o Heer, vir dié wat u Woord onbeer. Raak on onrein lippe aan dat ons in u diens kan staan. Ontferm U, Heer.
Of F406 (ook slotsang) laaste refrein: Hier staan ek voor U, net soos Jesaja. Raak my nou aan met u heilige vuur, sodat ek oral u liefde kan uitdra. Hier is ek, Heer, U kan my stuur!

Genadeverkondiging/Bemoediging
Hoewel God se roeping groot mag wees, word dit altyd vergesel met God se beloftes. Ons kan dit ook vandag hoor. Die Here is by ons. Die Here werk deur ons. Die Here lê sy woorde en sy dade in ons mond. Die Here vul ons en maak ons lewe sinvol. God het ons geken nog voor ons gebore is. Hy het ons aanmekaargeweef, sê die Psalmdigter. Die uitvoering van God se roeping vir ons lewe het daarom alles met ons lewensvervulling en die belewing van sin in ons lewens te doen.

Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, het dit ook met ons gedoen vir die roeping wat Hy vir ons het.

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 437 “O Leidsman, Gees van waarheid”
F406. Ek Wil Kom Stil Word [bekend] of
F292. Heer Laat My Skyn

Respons
VONKK 58 Ons Vind Ons Krag In Die Here of
Of F406 laaste refrein: Hier staan ek voor U, net soos Jesaja. Raak my nou aan met u heilige vuur, sodat ek oral u liefde kan uitdra. Hier is ek, Heer, U kan my stuur! of
Lied 437 laaste reël of laaste vier reëls

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.