Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Eddie Orsmond
Die Leesrooster (RCL) se afgebakende agt verse vir hierdie Sondag is ietwat vreemd, en in terme van die literêre struktuur van Amos, gefragmenteerd. In die 1933-Afrikaanse Bybel (OAV) is dit twee afsonderlike versdele binne die hoofstuk van sewe en twintig verse. In die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel (NAV) staan die verse in twee verskillende gedeeltes van die hoofstuk onder die opskrifte, “Vra na my wil, dan sal julle lewe” (4-9), en “Julle moet haat wat verkeerd is” (10-17).

Lees mens die afgebakende verse van nader, hoor jy onder andere ’n teenstelling tussen vers 6 en vers 10. Eersgenoemde vers bevat ’n oproep om na die Here se wil te vra en ’n belofte van lewe as die volk gehoorsaam. Vers 10 bevat ’n beskuldiging (aanklag) wat die volk se optrede as teendeel van die Here se wil beskryf. Hulle steur hulle nie aan die reg en die waarheid nie. Vanuit dié hoek is daar dus logiese samehang tussen die twee versdele. Dit gaan oor die feit dat God se wil en Israel se praktiese lewe op daardie stadium onversoenbaar is. Dus ’n relasie van teenstelling.

Ten opsigte van die literêre verband van ons afgebakende verse het dit waarde om die opskrifte vir hoofstuk 5 in verskillende vertalings na te gaan, asook die hooftrekke van die boek. Soos reeds genoem, verdeel die NAV hoofstuk 5 in verskillende dele. Ek het gewys op twee dele. Daar is ook ’n eerste en vierde deel. Vers 1-3 staan onder die opskrif, “Israel het geval” en vers 18-27 onder die opskrif, “Die dag van die Here bring donker”. Die OAV het slegs een opskrif, “Die derde strafrede: klaaglied oor Israel” en die New King James Version (NKJV) se enkele opskrif is, “A Call to Repentance” (ook Good News Bible. Today’s English Version – GNB). Die NAV verdeel die boek in drie hooftrekke:

  • Uitsprake teen buurvolke en die verbondsvolk 1:1-6:14;
  • Vyf visioene met tussengedeeltes 7:1-9:10;
  • Israel se herstel 9:11-15.

Ander tekste

Psalms 90:12-17 ()
12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here,
voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde
in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees.
15Soveel dae as dié
waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely het,
gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.

Hebreërs 4:12-16 ()
Die woord as swaard
12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Markus 10:17-31 ()
Die ryk jongman

(Matt 19:16–30; Luk 18:18–30)
17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.”

20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

22Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”

24Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”

27Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

28Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”

29Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, 30of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Fokusteks

Amos 5:6-7, 10-15
Israel het geval
5 Hoor hierdie woord wat ek teen julle moet sê,
hierdie treurlied, Israel:
2Israel het geval
en hy sal nie weer opstaan nie;
hy lê neergegooi op sy grond
en niemand help hom op nie.
3So het die Here my God gesê:
Die stad wat met duisend gaan aanval,
hou net honderd oor,
en dié een wat met honderd aanval,
hou net tien oor vir Israel.

Vra na my wil, dan sal julle lewe
4So sê die Here vir Israel:
Vra na my wil, dan sal julle lewe!
5Moenie in Bet-El gaan raad soek nie,
moenie na Gilgal toe gaan
of verbygaan Berseba toe nie.
Gilgal sal in ballingskap
weggevoer word,
en Bet-El sal tot niet gaan.
6Vra na die wil van die Here,
dan sal julle lewe!
As julle dit nie doen nie,
sal die Here vir Josef soos ’n vuur tref,
’n vuur wat vir Bet-El sal verteer
sonder dat iemand dit kan blus.
7Julle maak van die regspraak
’n bitter saak,
julle trap die reg in die grond in.
8Hy deur wie die Sewester en Orion
gemaak is,
Hy wat die donker in oggendlig verander
en die dag donker nag laat word,
Hy wat die water van die see roep
en dit oor die aarde uitstort,
sy Naam is die Here.
9Dit is Hy wat die magtige
met vernietiging tref,
wat vernietiging
oor die vestingstad bring.

Julle moet haat wat verkeerd is
10Julle haat dié wat vir die reg opkom
in die howe,
julle verafsku dié wat die
waarheid praat.
11Omdat julle die arm mens vertrap
en van hom koring afpers,
sal julle nie woon in die huise
van gekapte klip wat julle bou nie
en sal julle nie die wyn drink
van die pragtige wingerde
wat julle plant nie.
12Ek weet hoe baie julle oortredings is,
hoe groot julle sondes is,
julle wat die vyande is
van dié wat reg doen,
julle wat julle laat omkoop
en nie aan die armes
reg laat geskied nie.
13Dit is daarom dat ’n verstandige mens
maar stilbly in hierdie tyd,
want dit is ’n bose tyd.
14Probeer goed doen, nie verkeerd nie,
dat julle kan lewe!
Dan sal die Here die almagtige God
so by julle wees
soos julle sê dat Hy is.
15Julle moet haat wat verkeerd is,
julle moet liefhê wat goed is,
julle moet opkom vir die reg
in die howe.
Dan sal die Here die almagtige God
Hom dalk ontferm
oor wat daar van Josef oor is.
16So sê die Here, die almagtige God,
die Here:
Die mense sal treur op al die oop ruimtes,
hulle sal op al die strate sê:
“Ag tog, ag tog!”
Hulle sal die boere en die treursangers
roep
om saam te kom treur.
17Daar sal ook in al die wingerde
getreur word,
want Ek gaan tussen julle deur
om julle te straf,
sê die Here.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1, 3”

Aanvangswoord
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe… (Uit Psalm 90)

Seëngroet
Aan almal in ……………………………. wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader! Amen (Uit Kolossense 1:2-3)

Verootmoediging
Ons hoor die swaardkant van God se Woord (Heb 4) in die kritiek van Amos in ons fokusteks.
7Julle maak van die regspraak
’n bitter saak,
julle trap die reg in die grond in.
10Julle haat dié wat vir die reg opkom
in die howe,
julle verafsku dié wat die
waarheid praat.
11Omdat julle die arm mens vertrap
en van hom koring afpers,
sal julle nie woon in die huise
van gekapte klip wat julle bou nie
en sal julle nie die wyn drink
van die pragtige wingerde
wat julle plant nie. (Uit Amos 5)

Inderdaad… die Woord van God is ‘n tweesnydende swaard!
12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee. (Uit Heb 4)

Maar daar is genade moontlik…
4So sê die Here vir Israel:
Vra na my wil, dan sal julle lewe!
5Moenie in Bet-El gaan raad soek nie,
moenie na Gilgal toe gaan
of verbygaan Berseba toe nie.
6Vra na die wil van die Here,
dan sal julle lewe!
14Probeer goed doen, nie verkeerd nie,
dat julle kan lewe!
Dan sal die Here die almagtige God
so by julle wees
soos julle sê dat Hy is.
15Julle moet haat wat verkeerd is,
julle moet liefhê wat goed is,
julle moet opkom vir die reg
in die howe.
Dan sal die Here die almagtige God
Hom dalk ontferm
oor wat daar van Josef oor is. (Uit Amos 5)
Gebed (Hierdie gebed word onderbreek met ‘n gepaste lied maar vorm deel daarvan- rig dit in na goeddunke)

Here
Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, kom ons met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang en so op die regte tyd gered kan word…. (Uit Heb 4)

247 Heer wees ons genadig A+L
Almagtige, heilige en genadige God,
as ek U om vergifnis vra,
is dit nie omdat ek op vergifnis kan aanspraak maak nie.
Ek kan my maar net verlaat op u ondeurgrondelike liefde.
Ek kan op geen verdienste staatmaak nie.
Ek het geen verskonings en daar is geen versagtende omstandighede nie.
Ek kan nie sê: “Ek is ook maar net ’n mens” nie.
Ek kan nie die krag van versoekings die skuld gee nie.
Ek kan nie agter groepsdruk wegkruip nie.
Ek kan alleen maar sê: “Ek vertrou op Jesus Christus, Seun van God, my Here.”
(John Baillie. Aangehaal uit Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi 2001, soos aangehaal in Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Dankbaarheid
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here 1,2,3” en/of
Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Liedere

F53. “Mag Elke Woord Wat Uit My Mond Kom” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Gebed / Votum)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© 2000 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Mag elke woord wat uit my mond kom wees soos heuning
En mag gedagtes uit my hart wees soos die môredou
Elk’ onuitgesproke woord en elke saak wat ek bedink,
Mag dit aangenaam en sinvol wees voor u aangesig o Heer
Want U’s my God, U’s my Redder
U’s my vrede.
U’s die rots waarop ek bou en waar ek skuiling vind
U is my kompas, u Woord gee rigting wanneer ek verlore raak.
Daarom is dit my gebed dat wat ek dink of wat ek praat
Welbehaaglik voor U aangesig sal wees.

F112.(a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Amos 5:6-7 en 10-15

Prediking

Familie-oomblik

Kinders het ’n sin vir regverdigheid, veral waar hulle voel dat hulle onregverdig behandel word deur ander, veral grootmense. Hulle is dus baie keer die lydende partye, en word nie soseer deur die teks aangespreek nie. Hulle kan eerder identifiseer met die armes en verontregtes. Daarom kan die verhaal van die Joodse dogtertjie vertel word, wat ten spyte van haar persoonlike leed bereid was om vir Naäman aan die profeet Elisa bekend te stel sodat hy genees kan word. Dit gee ’n goeie voorbeeld van wat kinders kan doen, om onreg die hoof te kan bied (2 Konings 5).

Alternatief:
Die fokusteks handel oor onreg in die samelewing. Mens kan onreg illustreer deur aanvanklik enige 2 of 3 kinders vorentoe te roep en aan elkeen van hulle iets lekkers gee om te eet. Laat toe dat dit hulle dit reg daar eet en dan weer gaan sit.

Vra nou die gemeente wat was verkeerd aan die optrede? Gebruik die antwoorde om die woord onreg te definieer… Ondergaande definisie kan dalk help…

Injustice is the lack of or opposition to justice, either in reference to a particular event or act, or as a larger status quo. The term generally refers to the misuse, abuse, neglect, or malfeasance of a justice system, with regard to a particular case or context, such that the legal status quo represents a systemic failure to serve the cause of justice.

En natuurlik, nooi nou al die kinders (wat nie gekry het nie) vorentoe en bied dieselfde vir hulle aan!

Preekriglyn

The question to ask at the end of life’s race is not so much
“What have I accomplished?” but
“Whom have I loved, and how courageously?”
— Geoff Gorsuch,

Die toekomsverwagting van gelowiges in die Ou Testament is ‘n unieke verskynsel in die groter antieke wêreld waarin die lewe van Israel afspeel. Geen ander nasie in die Ou Nabye Ooste het so ‘n toekomsverwagting gehad nie.

Die verwagting in die Ou Testament is dat daar ‘n dag sal kom waarop God beslissend in belang van sy volk en sy eer sal ingryp in die wêreld se geskiedenis. God sal ‘n radikale draaipunt bring. Die Ou Testamentiese gelowiges het nie soseer die einde van alles verwag nie, maar ‘n dag waarop die Here as Heerser sal ingryp om af te reken met sy vyande, en om verlossing en seën vir sy volk te bring.

Hierdie verwagting is geassosieer met die “dag van die Here.” Die volk het gesmag dat die dag van die Here moet kom (Amos 5:18-20).

Skaapboer uit Tekoa

Die profeet Amos was welvarende ‘n skaapboer uit Tekoa. Dit was ‘n dorpie aan die wesgrens van die woestyn, by die Dooie See, suidoos van Bethlehem.

In sy tyd het die koninkryk van Dawid en Salomo reeds in twee geskeur. Die noordelike 10 stamme het ‘n eie ryk gevorm, met Bet-El as sentrum van aanbidding. Die koninkryk van Juda, met Jerusalem as sentrum, het uit die suidelike twee stamme bestaan. Amos kom uit die suidelike koninkryk (Juda), maar tree as profeet in die noordelike koninkryk van Israel op.

Sukses en voorspoed

Amos profeteer in die tyd van koning Jerobeam II (787-747 v.C.). Daar was verskillende aanslae op die landsgrense, maar Jerobeam II het verskeie suksesvolle veldslae gevoer. Dit het bygedra tot ‘n roekelose optimisme en die idee van die Here aan hulle kant is (5:14).

In hierdie tyd het Israel (die noordelike 10 stamme) besondere militêre suksesse en ekonomiese voorspoed geniet:

  • Daar is ‘n opbloei in die handel (8:5) en internasionale verkeer (3:9);
  • Die bounywerheid floreer (3:15)
  • Huise vermeerder en word weelderiger (3:15; 5:11; 6:8);
  • Binnenshuise versiering is spoggerig (3:10, 12, 15; 6:4)
  • Wynbou en veeteelt is winsgewend ((5:11; 6:4);
  • Nuwe musiek word gekomponeer (6:5)
  • Ontug wen veld (2:7);
  • Die offergawes groei (4:4; 5:21) en die godsdienstige feesdae word swierig gevier (5:23)
Kloof tussen ryk en arm

Hierdie ekonomiese opbloei bring egter net voordeel vir die rykes. Die armes word in dieselfde tyd armes. Dit is nie die gevolg van luiheid nie, maar as gevolg van uitbuiting en die verdraaiing van die reg deur die rykes:

  • Die rykes palm die grond in wanneer die arme nie dadelik sy skuld kan betaal nie. Hierdie armes word dan as slawe verkoop of moet as slawe op hul eie grond werk (2:6; 8:6);
  • Die slawe-arbeiders moet die voedsel (wat hulle self geproduseer het) op die mark koop en daar word hulle verder deur onbehoorlike pryse bedrieg (8:5)
  • Die howe bied nie meer ‘n toevlug nie, want die oudstes (regters) word omgekoop sodat die reg verdraai word;
  • Enigeen wat opkom vir die reg in die howe, is gehaat (5:10);
  • Mense het moedeloos geword, regsake nie meer hof toe geneem nie, maar eerder bloot stilgebly (5:13).

Die land is ingepalm deur ‘n bevoorregte elite wat in weelde leef deur middel van leuens en onreg, ten koste van minderbevoorregtes.

Erediens en geregtigheid

Uit Amos se profesieë lei ons duidelik af dat die erediens in Israel steeds hoog geag was. Die probleem was dat die volk ‘n valse verwagting rondom die erediens ontwikkel het. Hulle het gemeen die instandhouding van die erediens waarborg vir hulle sekuriteit en heil. Die rykes het die diens aan God in die erediens as ‘n goeie belegging, ‘n waarborg en versekeringspolis teen onheil gesien.

Amos lê daarom ‘n direkte verband tussen diens aan God en die beoefening van geregtigheid teenoor die medemens (veral die noodlydende medemens). Godsdienstige handelinge deur mense wat onregverdig leef teenoor hulle medemens is verwerplik. Offerandes wat gebring word met middele wat van ander afgepers, by ander gesteel, deur valsheid en uitbuiting bekom, is verwerplik voor God. Die liedere wat gesing word deur iemand wat die reg in die howe verdraai en die geringe vertrap, is in God se ore ‘n geraas.

Hierdie beweging is baie duidelik in ons teksgedeelte: daar is nie sekuriteit in ‘n godsdiens wat die Here se aangesig soek, maar reg en geregtigheid vertrap nie. Die wil van die Here het alles met die manier te doen waarop ons medemense hanteer.

Die lyn word duidelik getrek van godsdiens en aanbidding na die reg. Amos sê: Moenie bidplekke opsoek asof heil en geluk in godsdienstige praktyke opsigself lê nie. Soek die Here, want heil en geluk lê in Hom. Om die Here te soek beteken om die goeie en die regte te soek, om jou te beywer vir geregtigheid en om op te kom vir die reg in die howe.

Die verbond as bron van hoop

Israel is God se verbondsvolk. Dit beteken dat God die volk uit genade gered en hulle sy volk gemaak het. Israel is geroep om vanuit hierdie genade te leef en God se wil te doen. Die verbond het te doen met seën en vloek. Die volk wat gehoorsaam, beleef seën. Die volk wat ongehoorsaam optree, sal met oordeel te doen kry.

Daarom beroep Amos hom so sterk op die verbond. Dit is waar die hoop lê – ook vir ‘n ongehoorsame volk: “Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, sal die Here vir Josef soos ‘n vuur tref, ‘n vuur wat vir Bet-El sal verteer sonder dat iemand dit kan blus.” (5:6)

Onreg beroof die volk – ook die rykes – van ‘n toekoms. Hulle sal nie in die luuksehuise woon wat hulle bou nie, of die wyn drink van die wingerde wat hulle aanplant nie (5:11). Dit gebeur om hulle die arme mense vertrap.

Die medisyne? “Probeer goed doen, nie vereerd nie, dat julle kan lewe!” (5:14) “Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.” (5:15)

Gehoorsaamheid aan God is verbind aan ‘n verbondsbelofte: die Here is ‘n bron van hoop, ‘n toevlug, vir mense wat Hom gehoorsaam.
Geloof kan nooit losgemaak word van gehoorsaamheid nie.

Hoe weet ons hoe dit gaan?

Amos se boodskap moes soos ‘n emmer koue water op die mense van Israel gewees het.

Hulle sou hulle daarop kon beroep dat dit eintlik baie goed gaan, en dat die Here hulle seën. Hulle sou “bewyse” kon aanvoer:

  • Historiese argument: daar is dae in die geskiedenis, veral in militêre veldslae, waar die Here hulle gehelp het om te wen;
  • Ekonomiese argument: die groeiende ekonomie is ‘n teken van God se seën
  • Godsdienstige argument: dit gaan goed met die aanbidding, godsdienstige feesdae word luisterryk gevier en die gelowiges dra ruimskoots by tot die “kerk.”

Uit Amos se mond hoor hulle hierdie argumente dra nie gewig nie.

Gelowiges moet tot vandag toe versigtig wees met hierdie soort argumente. God se wonderbaarlike bystand in die verlede is nie ‘n waarborg dat God in die hede en toekoms outomaties “aan ons kant” is nie. Ons verlede, en God se bystand, sanksioneer nie ons aksies in die hede nie.

Die norm is nie ons interpretasie van die verlede nie, maar God se Woord waarin ons geleer word hoe die Here gehoorsaam wil wees. Wat openbaar is in Jesus Christus, is dat ons die wet van die Here moet doen, moet liefhê soos God-in-Christus, en om reg en goed te doen aan die geringste, die arme en weduwee, omdat ons dit aan Christus self doen (Matt. 25).

God kies vir die arme

Seker die maklikste manier om in Suid-Afrika ‘n rooi doek voor welvarende mense te swaai, is om te sê God kies vir die arme. Wat beteken dit?

Karl Barth praat hieroor in sy Church Dogmatics (II/1 306-7). Hy wys daarop dat slegs mense gered word wat as hulpeloses voor God kom staan, wetende dat hulle hulself nie kan red nie. God se redding en genade wen waar mense weet hulle kan hulself nie red nie. God regverdig mense uit genade. Uit hierdie regverdiging van God vloei ‘n geloofshouding voort waar gelowiges weet hulle is verantwoordelik vir reg en geregtigheid teenoor die medemens. Dit is volgens Barth ‘n “political responsibility”:

The man who lives by the faith that this is true stands under a political responsibility. He knows that the right, that every real claim which one man has against another or others, enjoys the special protection of the God of grace. As surely as he himself lives by the grace of God he cannot evade this claim. He cannot avoid the question of human rights. He can only will and affirm a state which is based on justice. By any other political attitude he rejects the divine justification.

In gewone Afrikaans: ons hoop vir verlossing berus op God se genade. Die toets of ons deel het aan God se genadige verlossing, lê daarin dat ons dankbaar deelneem aan reg en geregtigheid, dat ons haat wat sleg en verkeerd is, liefhet wat goed is, en ons naaste dien.

God nooi rykes

Dat God vir die arme kies, beteken nie dat welvarende mense – soos baie van ons wel is – uitgesluit en verwerp word nie. Dit beteken bloot dat God ons nooi om om seëninge, talente, gawes en vermoëns tot voordeel van ander te gebruik. Soos God God se mag in Jesus Christus tot ons verlossing aangewend het, word ons genooi om ook te doen. Ons is geseën om tot ‘n seën te wees. Ons moet ons vermoëns gebruik om ander te help.

Vermoënde gelowiges moet dus nie rooi doeke sien nie, maar geleenthede om ‘n Christus vir hulle medemens te wees.

Ons het ‘n goeie voorbeeld in Saggeus, die kort, skatryk skurk van Jerigo. Saggeus leer in ontmoeting met Jesus dat elke mens net uit genade kan leef. Ons almal leef bloot uit die vergewing van ons sondes. Maar daarom kan ons opstaan en ons gawes met ander begin deel en ander help.

Valse verwagtinge

Israel het gemeen mens kan jou diens aan die Here (vertikale verhoudinge) losmaak van jou diens aan jou medemens (horisontale verhouding). Amos leer die volk dat mens se verhouding met God deur jou verhouding met jou naaste bepaal én uitgeleef word. Gehoorsaamheid kan nie slegs tot ‘n vertikale verhouding met God verskraal word nie.

Wat meer is: mens kan nie seën verwag omdat jy God eensydig dien, maar jou naaste vertrap nie.

Marikana en Mangaung

Terwyl ons oor hierdie teks nadink, is die slagting by Marikana toe polisie 34 mynwerkers doodgeskiet en 78 gewond is, nog vars in ons gedagtes. Volgens bekroonde fotograaf, Greg Marinovich, is die meeste slagoffers honderde meters weg van die toneel waar die skietery volgens TV-beelde plaasgevind het, gedood. Hoewel daar tans ‘n amptelike kommissie van ondersoek na die gebeure aan die gang is, kan gelowiges nie anders as om na te dink oor die verband tussen Amos se antieke profesie oor God se wil, en die hantering van mag, welvaart (mynmaatskappye) en armoede nie.

Natuurlik moet ons versigtig wees vir oppervlakkige antwoorde en stereotipes. Maar ons leef steeds in ‘n land waar mense hulle welvaart bou op die rug van ander se lewensgevaarlike arbeid. Geskied daar reg en geregtigheid?

In aanloop tot die ANC se leierskapsverkiesing in Mangaung in Desember 2012, is alle Suid-Afrikaners bewus van mense se vermoë om ten alle koste politieke mag te wil gryp. Ons huidige president het voorheen “umshini wami” (“bring my masjiengeweer”) op die hof se trappe gesing, en so die staatsmag in die hande gekry. Hy is deel van ‘n groot groep mense wat ten alle koste deur geweld wil gryp wat hulle in die hande kry. Politieke mag word ekonomiese mag. Jy kry die reg om tenders toe te ken – spesifiek aan jou eie familie.

Natuurlik maak nie net hoë politieke ampsdraers hulle aan grypsug en magsmisbruik skuldig nie. Dit lyk of onreg van die hoogste uitvoerende amptenaar tot by die laagste werker deursuur. Ons is inderdaad weer terug in Amos se tyd.

Wat is Christene se verantwoordelikheid in so ‘n staat? Watter keuses gaan ons maak? Hoe gaan ons getuienis lyk? Hoe gaan ons ons eie vermoëns aanwend? Hoe gaan ons verseker dat ons profesie in die hoogste kringe gehoor word?

Voor jou eie deur

Natuurlik moet elkeen van ons ook voor ons eie deur vee. Dit gaan nie net oor wat ander doen nie, maar ook hoe ek die mense rondom my hanteer.

Amos wys die weg: die verhouding tot God word herstel deur berou en bekering oor die sonde van die verlede. Dit word gevolg deur ‘n lewe wat hom beywer vir reg en geregtigheid:

Julle moet haat wat verkeerd is,
julle moet liefhê wat goed is,
julle moet opkom vir die reg in die howe.
Dan sal die Here die almagtige God
Hom dalk ontferm
oor wat daar van Josef oor is. (5:15)

Hierdie “dalk ontferm” dui nie op onsekerheid nie, maar op God se reg om te handel. Gelukkig weet ons God bly altyd onveranderlik in God se trou. “Daarom veroordeel God ongeregtigheid, maar seën Hy diegene wat uit dank vir sy genade haat wat sleg is en liefhet wat goed is (5:14,15; Matt. 25:31-46)” (HL Fouché).

Amos sê wie só leef, het ‘n toekomsverwagting. Dié dag waarop die Here kom om boosheid uit te roei en om oor onreg te oordeel, sal dié regverdiges se gehoorsaamheid met God se goedkeuring bevestig word.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here
12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde
in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees,
gee ons jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.
Amen (Uit Psalm 90)

Die Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
Die Here ontferm Hom oor u;
skenk u elke dag Sy liefde in oorvloed;
gee vir u jare van blydskap en
hou die werke van u hande in stand
Amen (Ahv Psalm 90)
en/of
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13:13)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
Flam 361 (Fluistering) kan baie goed werk as Musikale Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.