Twintigste Sondag in Koninkrykstyd (Hervormingsondag)

Sections

Oorsig

Die teerheid van die verhouding tussen Moses en God wat so helder uitstaan in die Deuteronomiumteks, vind ‘n weerklank in Jesus wat die wet saamvat in die bekende liefdesgebod in die sleutelteks uit Matteus. Die liturgie is dus daarop gerig om iets van hierdie liefdesverhouding te versinnebeeld

Ander tekste

Deuteronomium 34:1-12; Psalm 90:1-6, 13-17 ; 1 Tessalonisense 2:1-8

Fokusteks

Matteus 22:34-46
Die vraag oor die grootste gebod

(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Die vraag oor die Seun van Dawid
(Mark 12:35–37; Luk 20:41–44)
41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”
“Dawid s’n,” antwoord hulle Hom.

43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:

44‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande aan jou
onderwerp het.’

45As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”

46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.

Ekstra stof

In Matteus 22 vervolg Jesus sy gesprek met die Fariseërs met ‘n derde gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ‘n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het (22:1-14). Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid. Die gelykenis word opgevolg met drie vrae wat die Fariseërs in reaksie daarop aan Jesus vra: oor belasting aan die keiser (22:15-22), oor die opstanding van die dooies (22:23-33) en die groot gebod in die wet (22:34-40). Dit is almal vrae wat Hom polities, godsdienstig en eties probeer vastrek, hoewel Jesus net te uitgeslape is vir hulle met sy deeglike praktiese antwoorde. Jesus sluit sy wedersydse gesprek met hulle af met ‘n eie vraag wat Hy aan hulle rig oor Sy identiteit waarop hulle geen antwoord gehad het nie (22:41-46). In hoofstuk 23 sal Hy ‘n omvattende oordeel oor hulle uitspreek.

Die Fariseërs se vraag oor die groot gebod – 22:34-40
Die Fariseërs was miskien heimlik bly daaroor dat die Sadduseërs, hulle opponente op vele gebiede, die swye opgelê is, maar dié situasie bring hulle by die derde vraag. Hulle probeer Jesus vastrek op sy interpretasie van die wet. Op hulle vraag oor die groot gebod van die wet, antwoord Jesus op uitnemende wyse met die bekende samevatting van die wet.

Die vertikale verhouding met God is uiteraard die primêre een, maar word gesien in die horisontale verhouding met die naaste, juis omdat dit eintlik gelyk is aan mekaar. Dit is die somtotaal van die OT boodskap

Jesus se vraag oor sy identiteit as die Christus – 22:41-46
Jesus neem die inisiatief en vra op sy beurt vir die Fariseërs ‘n vraag, ‘n vraag waarop hulle nie kan antwoord nie. Dit handel oor die identiteit van die Christus waarin die verskil tussen die Fariseërs se lering en Jesus s’n duidelik na vore kom. Hulle hou nie rekening met ‘n goddelike dimensie in die beskrywing van die Christus (Messias), die Seun van Dawid nie, wat ook Here is – en Jesus hou wel volledig daarmee rekening.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 526 of VONKK 254 of Flam 387

Votum: (Ps. 90:1-6, 13-17 uit BDV) (kry kinders – Gr 6 en 7 – om die teks te lees)

Seëngroet

Lofsang: Lied 476 of Flam 66

Wet: Matteus 22:34-37

Skuldeblydenis: Lied 235 of VONKK 57

Genadeverkondiging Romeine 1:17

Geloofsbelydenis VONKK 125 of Flam 263

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 22:34-46

Familie-oomblik
Lied 553
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 250 of VONKK 235 of Flam 62

Seën

Respons: Flam 66 Refrein of Vonkk 235 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
VONKK 254 “God is hier” of
Flam 387 “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)

Votum: (Ps. 90:1-6, 13-17 uit BDV)
(kry kinders – Gr 6 en 7 – om die teks te lees)
Leser 1: My Heer, U was vir ons ’n skuilplek van geslag tot geslag.
Leser 2: Voordat die berge gebore is en U die aarde en bewoonbare grond voortgebring het, ja, van altyd af en vir ewig is U God.
Leser 3: U laat sterflinge terugkeer tot stof; U sê net: “Keer terug, mensekinders!”
Leser 4: Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister wat verby is, soos ’n wagbeurt in die nag.
Leser 5: U vee hulle weg in die slaap. Hulle is in die oggend soos gras wat opskiet. In die oggend bloei dit nadat dit opgekom het; teen die aand verlep dit en verdroog.

Leser 1: Keer terug, Here! Hoe lank nog? Ontferm U oor u diensknegte.
Leser 2: Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons kan juig en bly wees al die dae van ons lewe.
Leser 3: Maak ons net so lank bly as wat U ons verdruk het, as die jare waarin ons teenspoed beleef het.
Leser 4: Mag u werk vir u diensknegte duidelik word en u glansryke dade vir hulle kinders.
Leser 5: Mag die goedheid van my Heer, ons God, oor ons wees. En ons handewerk, hou dit vir ons in stand, ja, ons handewerk, hou dit in stand.

Seëngroet

Lofsang
Lied 476 “’n Vaste burg is onse God” of
Flam 66 “Op Vaste Fondamente”

Wet: Matteus 22:34-37

Skuldeblydenis
Lied 235 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig” of
VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod’

Genadeverkondiging 
In die woorde wat so lank gelede vir Luther aangegryp en tot die reformasie gelei het:
In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur god vrygespreek is omdat hy glo sal lewe.
Romeine 1:17

Geloofsbelydenis
VONKK 125 “Ek Glo In God Die Vader” of
Flam 263 “Ek Glo”

Liedere

F62. “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Diens en Getuienis / Kerk) Teks en musiek: Chardi Visser
© 2009 MAR Gospel Music (Opgeneem op Uitverkoop)

Ons is hier vir ’n doel en om ’n rede,
om Christus deur ons elkeen te laat lewe,
om te hoor wat Hy sê en die wêreld te verander.

Refrein:
Saam is ons beter, saam is ons meer,
saam bou ons ’n toekoms met dit wat Christus leer.
Saam is ons vir altyd, saam is ons sterk,
saam is ons Sy liefde, saam is ons sy kerk.

Brug:
Saam is ons beter. (x4)
Saam is ons beter. (x2)

Refrein:

F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
(RUBRIEK: Flam – Kerk en Koninkryk; Getuienis ) Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen
Musiek: Neil Büchner © Flam Musiek-Uitgewers

Hier is u kerk, U stel ons aan.
Ons is gekies, U gee ons u guns.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
net soos dit is, dat mense dit ken.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
waar ons is u liefde bring.
Elke mens sien as u tempel
deur genade, u goedheid bewys
waar U kerk van u liefde getuig.
Hier is u kerk,
(ons is gekies)
hier is u kerk.
(ons is gekies)
hier is u kerk.

F263. “Ek Glo”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

1. Ek glo God het alles gemaak.
Ek glo Hy hou die wêreld in stand
en Hy is groot, groot (yeah).
Ek glo dat Jesus leef,
ek glo in die Heilige Gees,
en Hy is hier, hier (yeah).
Wat ek glo wil ek bely
van die Koning vertel
voor die wêreld getuig.

Refrein:
Ek glo, ek glo in God wat regeer.
Ek leef, ek leef deur Jesus die Heer
in my, in my die Heilige Gees.
Hy is God oor my
ek bely dat ek glo.

2. Ek glo in Christus se kerk.
Ek glo ons moet vir Hom werk
en ons moet bou, bou (yeah).
Ek glo ons moet mekaar dien
ek glo hul moet God in ons sien
en ons moet skyn, skyn (yeah).

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof) Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004 (Liedboek 478)
© MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

VONKK 254 “God is hier”
Teks: Hannes van der Merwe 2012 © Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905
© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Doop / Nagmaal / Die Kerk

1. God is hier en ons, sy kinders,
bring voor Hom ons lof, gebed.
Mag ons hier ontdek die rykdom
wat ons reeds in Christus het.
Hier kom ons met ons verskille,
al ons gawes en vermoë,
en U bind ons tot ‘n eenheid
omdat ons in Jesus glo!

2. God is hier ook in simbole
van sy liefde en sy trou.
Hier’s die tafel, hier’s die doopvont,
hier’s die Woord waarop ons bou.
Mag die boodskap klink in waarheid;
mag ons hart ontvanklik wees.
Mag ons hier weer nuutgemaak word,
aangeraak deur God se Gees.

3. God is hier en in sy kudde
leer ons dat die Heer voorsien.
Hier kan ons ook daarop antwoord
soos ons leer om God te dien.
Hier is dienaars van die Dienskneg
in aanbidding bymekaar.
Hier leer ons wat dit beteken
om die boodskap uit te dra.

4. Here God, u kerk aanbid U
ook te midde van ons stryd,
in ‘n tyd van haat en twyfel,
as getuies wêreldwyd.
Hier, vandag, ontvang ons loflied,
ons berou en ons gebed,
ons geloof in Jesus Christus,
U, die Here wat ons red.

VONKK 125 “Ek Glo In God Die Vader”
Teks: Nav Apostoliese Geloofsbelydenis E3 – Chris Lamprecht 1982
Musiek: UNIVERSITEITSOORD – Chris Lamprecht 1982 Kantoryverwerking: Chris Lamprecht 2011
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
Skepper van hemel en aarde,
en in Jesus Christus, sy eengebore Seun, onse Here,
wat ontvang is van die Heil’ge Gees,
gebore uit die maagd Maria,
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig, gesterwe en begrawe is,
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode,
opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
vanwaar Hy sal kom om te oordeel,
die lewende en die dode.
Ek glo in die Heil’ge Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
Die vergewing van sondes,
die wederopstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe. Amen. Amen. Amen.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35
Teks: A new commandment I give unto you – Roy Crabtree; Afrikaanse teks: Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

VONKK 235 “Vreugde onbeperk”
Teks: What a fellowship, what a joy divine – Elisha A Hoffman 1839-1929; Afrikaanse teks : Breda Ludik 2014
Musiek: SHOWALTER – Anthony J Showalter, 1858-1924 © Teks: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Geloof en Vertroue

1. Vreugde onbeperk, deur die kruis bewerk –
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Deel van God se kerk, met sy Gees gemerk –
ewig bly ek in die Vaderhuis.

Refrein:
Ewig, ewig, in God se liefde is ek tuis.
Ewig, ewig, ewig bly ek in die Vaderhuis.

2. O, my hart begeer u nabyheid, eer;
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Vul my weer en weer met u vrede, Heer –
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Ewig, ewig, in God se liefde is ek tuis.
Ewig, ewig, ewig bly ek in die Vaderhuis.

3. Deur die donker nag, in die helder dag
– ewig bly ek in die Vaderhuis –
skuil ek in u mag, reken op u krag –
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Ewig, ewig, in God se liefde is ek tuis.
Ewig, ewig, ewig bly ek in die Vaderhuis.

God praat met ons en ons luister

 

  1. God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 22:34-46

Familie-oomblik

Voer Luther se verhaal op as ‘n kort toneelstukkie.

Jy benodig:
Karakters (betrek ’n paar tieners):

  • Martin Luther
  • Keiser
  • Twee ontvoerders

Props:

  • Tafeltjie
  • Groot Bybel
  • Hamer
  • Papier met “stellings” (wondergom, sodat dit lyk asof stellings vas gehamer word)
  • Pen/ink en papier (2 stelle)
  • Paar groot, swaar boeke
  • Vuurhoutjies
  • Lap

Voorleser: Daar was ‘n tyd wat mense nie Bybels gehad het nie. Die Bybel was net beskikbaar in Grieks/Hebreeus & Latyn, weggesteek in universiteite ens. Ek wil julle vandag voorstel aan iemand wat baie gedoen om dit te verander, sodat ons vandag Bybels kan hê en Bybels in ons eie taal kan lees.

  • Martin Luther verskyn vanaf regterkantste deur voor, gaan staan by regs voor in liturgiese ruimte.

Sy naam is Maartin Luther, gebore 1483 (lank gelede!) in Duitsland. Hy het eers regte studeer, maar tydens ‘n storm besluit hy om ‘n priester te word. So word hy dan in 1507 (24 jaar oud) ‘n priester… en sien vir die eerste keer in sy lewe ‘n Bybel!

  • Luther gaan sit by tafeltjie regs voor. Maak Bybel oop en blaai verwonderd daardeur.

Later word hy ‘n professor in teologie by Wittenberg Universiteit. Hy was ook ’n Priester (soos ’n dominee) by Wittenberg se kerk.

Terwyl hy die Bybel bestudeer, kom hy onder die indruk van Rom 1:17: dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Luther begin besef dinge is nie reg in die kerk nie.

Op 31 Okt 1517 preek hy oor die goed wat verkeerd is, skryf ‘n brief met 95 stellinge, pos dit vir ’n paar vriende en hammer dit aan die kerk se deur vas.

  • Luther staan op, hammer papier met stellings teen linkerkantste pilaar vas.
  • Bly staan en kyk na stellings.

Luther het nie groot reaksie verwag nie, maar sy stellings het soos ‘n veldbrand versprei. Mense het kopieë gemaak en met ander gedeel. Party mense was vir die stellings, ander was daarteen.

Die Kerk se leiers het gedink hierdie priester maak moeilikheid en het besluit om hom aan te spreek.

Maar die kopieë het aanhou versprei, dermate dat Luther besluit om dit te verduidelik.

  • Luther gaan sit weer by tafeltjie,skryf.

Luther verduidelik dat hy net die verkeerde dinge wou regstel, hy wou nie moeilikheid veroorsaak nie. Maar die Kerk begin ’n ondersoek teen Luther.

Intussen raak Luther al meer oortuig van sy saak.

In 1520 verbrand Luther in die openbaar ‘n klomp belangrike Roomse boeke.

  • Luther staan op, vat boeke van lessenaar af, gooi op hoop tussen tafel en pilaar, trek vuurhoutjie en gooi op boeke – skud vuurhoutjie met gooi-slag, sodat dit doodgaan.
  • Bly staan, kyk na hoop boeke.

Hierop ekskommunikeer die kerk vir Luther. Dit beteken dat hy nie meer ’n lidmaat van die kerk mag wees nie. Dit was baie erg: daardie tyd was daar net een kerk!

Luther word ook gestuur om die keiser te gaan sien. In 1521 het hy die keiser twee maal gesien. Die Keiser sê Luther moet sy woorde terugtrek.

  • Luther gaan staan voor kansel,
  • Keiser verskyn op kansel, Wys vinger vir Luther,
  • Luther skud kop.

Luther sê nee.

Toe die keiser klaar met Luther gepraat het, verklaar hy Luther voëlvry. Dit beteken enigiemand kan hom maar vermoor, hulle sal nie gestraf word nie! Terwyl Luther op pad terug was huis toe, het van sy vriende gereël dat Luther ontvoer word.

  • Twee mense kom,
  • Gooi lap oor Luther se kop,
  • Vat hom na regterkant,
  • Haal lap af.

Dit was sodat Luther kon ontsnap, sodat die mense nie weet waar Luther is nie. Party mense het selfs gedink Luther is dood. Maar sy vriende het hom gevat na Wartbrug, waar hy ’n baard laat groei het, sy hare laat groei het en homself Junker Jörg genoem het.

  • Luther gaan sit by verste –linkerkantste – stoel aan Nagmaalstafel, skryf op pakke papier.

In hierdie tyd vertaal hy die Nuwe Testament in Duits. Intussen mense met Luther saamgestem, voortgegaan in Wittenberg.

Ons noem dit die reformasie. Dit is waar ons kerk vandaan kom. Dit is ook waar die Bybel die eerste keer in mense eie taal vertaal is. As gevolg hiervan kan ons vandag Bybels hê en dit self lees.

Lied 553 “Ek is bly ek ken vir Jesus”

Preekriglyn

Jeff Leeland, ‘n onderwyser het in 1992 ‘n pos by die Kamiakin Junior-Hoërskool in Seattle, Washington aanvaar. Vir maande het hy tussen sy nuwe werkplek en sy vorige tuiste gependel, voordat die hele familie na die nuwe woonplek kon verhuis.

Skaars was hulle verblyf uitgesorteer, of die familie verneem die nuus dat hulle babaseuntjie, Michael, beenmurgkanker het. Die hoopvolle nuus was dat klein Michael se sesjarige sussie, Amy, die perfekte skenker vir die oorplanting sou wees.

Jeff se mediese fonds wou egter nie betaal nie. Iewers in die fyndruk staan dat Jeff eers vir ‘n volle twaalf maande in diens moes wees voordat die fonds vir ‘n oorplanting sou betaal. Hy was nog net ses maande in sy nuwe pos. Die Leelands het geen ander keuse gehad as om self binne twee maande $200,000 bymekaar te maak nie. Dit het na ‘n onbegonne taak gelyk.

Een van Jeff se kollegas, Joe Kennedy, vertel sy klas van die benarde posisie waarin die Leeland-familie hulle bevind. Dameon, ‘n Graad 7 seuntjie wat mank geloop en gesukkel het om deur die spesiale klasse te vorder, is so geraak hierdeur dat hy Jeff Leeland tuis gaan besoek. “Mnr. Leeland, as jou seuntjie in die moeilikheid is, help ek graag.” Hy plaas twaalf vyfdollarnote in die onderwyser se hand. Dié seuntjie, wat dikwels ander se spot moes verduur, gee al sy geldjies, sestig dollar, vir sy onderwyser se siek seuntjie.

Toe Dameon se geskenk rugbaar raak, begin die ander kinders betrokke raak. Sommige organiseer ‘n pretloop om fondse in te samel. Ander begin motors te was. Iemand bel die plaaslike koerant met die storie.

Die leerlinge van Kamiakin Junior-Hoër se meelewing veroorsaak ‘n golf van simpatie wat oor Seattle spoel. ‘n Week na Dameon se geskenk groei Michael se fonds tot $16,000. ‘n Onbekende man deponeer $10,000 in hul rekening. TV-stasies begin die storie te dra. Vier weke na Dameon se donasie staan die Michael Leeland Fonds op $220,000.

Klein Michael het sy beenmurgoorplanting ontvang en bly leef.

Dameon se daad het ook sy eie lewe verander. Danksy sy kontak met die Leeland-familie het hy Jesus leer ken, en besluit om Hom te volg. Tragies genoeg is Dameon kort daarna oorlede weens komplikasies met ‘n infeksie in een van sy bene.

Geroep tot liefde

God roep ons om Hom en ons naaste lief te hê. Dit is wat sy wet van ons vra, sê Jesus in ons teksgedeelte. Alles wat God ons leer, kan saamgevat word met die gebod van liefde: teenoor God, en teenoor jou naaste.

Konfrontasie!

Jesus maak hierdie opmerkings in die lig van ‘n wetgeleerde se strikvraag na die grootste gebod in die wet.

Nadat Jesus daarop reageer het, vra Hy op sy beurt ‘n vraag wat te doen het met die identiteit van die Christus, die Messias, die Gesalfde. Sy gesag om die wet saam te vat en te interpreteer blyk duidelik uit die identiteit van die Messias.

Ons teks kombineer twee konfrontasieverhale waarin eers Jesus deur die Fariseërs gekonfronteer word met sy kennis oor die Joodse wette (34-40), waarna Jesus die Fariseërs konfronteer oor die identiteit van die Messias (41-46).

Ondersoek

‘n Wetgeleerde probeer Jesus in ons teks vastrek deur te vra na die grootste gebod. Mens kan jouself amper ‘n hoftoneel voorstel. Jesus word ondersoek en uitgevra oor sy leer om vas te stel of Hy by die waarheid hou.

Die rabbi’s het 613 gebooie getel (248 positiewe bevele korrespondeer met die aantal liggaamsdele; 365 negatiewe bevele korrespondeer met die aantal dae in ‘n jaar). Hoewel wetsgeleerdes gereeld opsommings van die wet gegee het, was daar egter die gedeelde oortuiging dat alle gebooie gelyk is. Die gebooie is selfs verder verdeel is tussen swaar en lig: die ligtes het minimale eise aan die mens gestel; die swares het gewoonlik geld gekos en kon selfs jou lewe eis.

Daarom is dit van belang wanneer die skrifgeleerde in Matteus 22:36 vra na die grootste – swaarste, duurste – gebod, omdat dit duidelik ‘n valstrik behels oor hoe Jesus die wet hanteer het.

‘n Dubbele gebod

Jesus antwoord deur nie een nie, maar twee gebooie as die belangrikste uit te lig. Hierdie twee gebooie is egter deur die liefde saamgebind, en het daarom met een saak te doen:

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat. (37-40)

Jesus begin deur Deuteronomium 6:5 aan te haal. Die grootste gebod is dat die hele mens – wil, gevoel en denke – op God gerig sal lewe. Die verrassende kom egter wanneer Jesus ‘n bekende opdrag uit Levitikus 19:18 tussen die ander uitlig en met die grootste gebod gelykstel. Sy fokus is dat beide liefde tot God en die naaste die hele wil van God is. Dit is die samevatting van die hele wet en die profete. (vgl. Bybellennium)

Net soos mens nie die twee kante van ‘n muntstuk kan skei nie, kan jy dié twee gebooie skei. Dit hang saam met Matteus se klem teenoor geregtigheid en barmhartigheid teenoor ander as die eintlike wil van God.

Twee misverstande

Die dubbele liefdesgebod ruim twee misverstande uit die weg:

  • Eerstens dat liefde teenoor die naaste opsigself voldoende is. Naasteliefde word eers egte liefde in die lig van die liefde van en vir God. Ons moet mekaar liefhê soos Christus ons liefgehad het (Ef. 5:2). Die liefde wat ons tot die naaste moet hê, word deur die Heilige Gees van God in ons harte uitgestort (Rom. 5:5).
  • Tweedens dat hierdie kerngebod die ander gebooie wat die Christelike lewenstyl kenmerk, vervang. Ons moet ook eerlik, hardwerkend, vreugdevol, gedissiplineerd, dapper in diens van God, en welvoeglik lewe. Al die ander voorskrifte word in die lig van die liefdesgebod getoets. Dit was juis Jesus se probleem met die Fariseërs – nie dat hulle allerlei wetsvoorskrifte gehad het nie, maar dat hulle dit wat die swaarste by God weeg, die liefde, nagelaat het. Die doel van die wet, en wetsgehoorsaamheid, is liefdesbetoon teenoor God en die naaste (vgl. Bybellennium).
Hoe die liefde werk

Die dubbele gebod, naamlik om God (37) en ons naaste (39) lief te hê, begin beide met die imperatiewe vorm van die Griekse werkwoord vir liefde, naamlik agapéseis. Die twee liefdesgebooie hoort bymekaar. Die gebooie raak beide die vertikale (verhouding met God) en horisontale (verhouding met ander) dimensies van ons lewens. Albei gebooie is afhanklik van mekaar.

Die gebruik van die werkwoord, “jy sal liefhê”, beteken nie in albei gebooie dieselfde nie. Hagner, ‘n Skrifkenner, onderskei soos volg tussen die verskillende gebruike van liefde in die gebooie:

Liefde tot die naaste beteken om teenoor ander op te tree met die oog op wat vir hulle goed is, hulle welsyn, hulle lewensvervulling. Die beste vir die naaste is die primêre motivering en doel van ons optrede. Hierdie liefde moet standhoudend wees. Dit word ook nié bepaal deur wat ek van die ander dink of hoe ek oor die ander sou kon oordeel nie. Ongeag wie my naaste is, moet ek uit liefde teenoor hom of haar optree

Liefde vir God is iets anders. Dit moet verstaan word as eerbied, toewyding en gehoorsaamheid. Dit is ‘n erkenning dat God die Skepper en Verlosser is. En liefde vir God beteken ook dat ek my lewe inrig ooreenkomstig God se wil en wet.

Liefde in die praktyk

Die Nuwe Testament dring daarop aan dat liefde lewenspraktyk moet wees en word. Die ondersteuning van die Leeland-familie in Seattle ontvang het, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Merkwaardig genoeg het Dameon se liefdesdaad, wat hom sy volle besit van $60 gekos het, uiteindelik gelei tot sy ontmoeting van die Bron van alle liefde. Sy selfopoffering, wat ander aangesteek het, is ‘n goeie voorbeeld van praktiese liefdesdiens.

Die identiteit van die Christus

Sodra Jesus die wetgeleerde se vraag beantwoord het, vra Hy ‘n teenvraag: Wie se Seun is die Christus?

Die Fariseërs het aangeneem dat hulle voldoende kennis oor die beloofde Messias gehad het, en het aanvanklik geen probleem of uitdaging in Jesus se vraag gesien nie. Dit was duidelik dat die Messias ‘n nakomeling van Dawid sou wees. Jesus antwoord uit Psalm 110 dat Dawid die Messias Here noem. Daarom is die Messias méér as ‘n nakomeling van Dawid. Die Messias is ook die Seun van God.

Die Fariseërs kon nie antwoord op die misterie van ‘n mens wat namens God optree, as die Seun van God nie.

Hierdie gebeurtenis hoort saam met die vorige vraag oor die grootste gebod:

  • Beide gebeure verwys daarna dat die Fariseërs saamgekom of saamgedrom het om van Jesus te verskil en dat daar ondervraging plaasvind.
  • Beide maak die punt dat Jesus se kennis oor die Skrif en sy gesag rakende Skrifinterpretasie en -uitleg bo verdenking is.

Die twee verhale saam skets ‘n beeld van Jesus se lewe en werk, van Jesus se identiteit en boodskap, van Jesus se kennis en integriteit binne die evangelie volgens Matteus. Die twee verhale saam beskryf ook gelowiges se identiteit: ons lei lewens gekenmerk deur liefde tot God en die naaste, en ons buig saam met Dawid voor die lewende Here.

Stilte

‘n Fassinerende kenmerk van hierdie konflikverhaal is dat dit begin en eindig in stilte:

  • Vers 34 vermeld dat Jesus die Sadduseërs stilgemaak het (of “die mond gestop het” – 1933 Afrikaanse Bybelvertaling), wat volgens Matteus die vonk sou wees waarmee die nuutste dispuut tussen Jesus en die Fariseërs vlamvat.
  • Nadat die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs stilgemaak het, vergader die Fariseërs en op hulle vergadering volg die wetsgeleerde se vraag aan Jesus.
  • Daar is ook tussen die twee verhale van ons teks ‘n stuk geïmpliseerde stilte (tussen vers 40 en 41), deurdat daar geen reaksie of respons van die Fariseërs op Jesus se antwoord vermeld word nie.
  • Die uiteinde van beide verhale is weer stilte, met vers 46 wat daarop wys dat niemand in staat was om na hierdie nuutste dispuut meer op Jesus te antwoord of selfs sou waag om aan Jesus vrae te stel nie.

Al die stil oomblikke aan die begin en einde van hierdie konflikverhaal, is egter oomblikke van aktiewe stilte, nadenkende stilte, berekende stilte. Veral laasgenoemde is te bespeur in die Fariseërs wat reageer op die stilte van die Sadduseërs (34) en niemand wat meer sou waag of in staat is om te vra of te antwoord op Jesus nie (46).

Nadenke

Die vrae wat in hierdie gedeelte gevra word, en die antwoorde wat gegee word, kom uit stilte na vore. Berekende stiltes is belangrike ruimtes waarin diepliggende vrae gebore en gevorm word.

Stilte is vir ons geloofslewe belangrik. Ons het stilte nodig om na te dink oor ons gehoorsaamheid aan God, ons liefde vir God, en ons liefde vir die naaste. Dit is in stilte dat ons weerstand teen die dubbele liefdesgebod, en ons ongeloof in die Messias, telkens bevraagteken, en nuwe gehoorsaamheid gebore kan word.

Dit is in stilte dat gehoorsaamheid, geregtigheid en liefde gebore word. Dat die vrees vir die prys van gehoorsaamheid oorwin word. In stilte voor God, word die stem van God gehoor. Ontvang ons liefde, durf en wilskrag tot diens. Verloor die ou self sy greep op ons lewe.

Skryf neer

Kom ons onderneem om elkeen vandeesweek genoeg tyd vir stilte te maak, met ‘n notaboek en pen. Biddend, voor die Here, skryf ons die name neer van diegene wat die Here vir ons op die hart druk. En ons maak notas oor hoe ons gepaste liefde teenoor hulle kan betoon.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde” of
VONKK 235 “Vreugde onbeperk” of
Flam 62 “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”

Seën

Respons
Flam 66 Refrein of
Vonkk 235 Refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.