Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Matteus 22:15-22: Die Fariseërs probeer Jesus in ‘n  strik vang met die vraag oor belasting aan die keiser. Jesus se eenvoudige en praktiese antwoord laat hulle die aftog blaas. Hulle verdwyn sonder om ‘n woord te sê.

In Eksodus 33:12-13 verklaar Jahwe, op Moses se pleitrede, om tog saam met die volk te trek. Moses gaan egter ‘n stap verder en wil God van aangesig tot aangesig sien. God gee weer toe, maar Moses sal die heilige God net van agter kan sien.

Psalm 99 besing hierdie heiligheid van Jahwe.

1 Tessalonisense 1:1-10 is ‘n dankgebed dat die Tessalonisense ten spyte van hulle verdrukking die woord met blydskap aanvaar het.

Ander tekste

Eksodus 33:12-23
12Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ’n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Psalm 99
Die Here ons God is heilig
99 Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
3Hulle moet u groot en gevreesde Naam
prys:
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
wat reg is,
het U tot stand gebring.
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
6Moses en Aäron was onder sy priesters,
Samuel onder dié
wat sy Naam aangeroep het.
Hulle het die Here aangeroep
en Hy het hulle gebed verhoor.
7In ’n wolkkolom het God
met hulle gepraat,
en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,
die opdragte wat Hy hulle gegee het.
8Here ons God,
U het hulle gebede verhoor.
U was vir hulle ’n vergewende God,
maar Een wat ook hulle sondes
gestraf het.
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.

1 Tessalonisense 1:1-10
1 Van Paulus, Silvanus en Timoteus.
Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle!

Die voorbeeld van die Tessalonisense
2Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.

Fokusteks

Matteus 22:15-22
Die gelykenis van die bruilof
(Luk 14:15–24)
22 Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n koning wat vir sy seun ‘n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ‘n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

11“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ‘n man wat nie bruilofsklere aan het nie, 12en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. 13Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’

14“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

Die vraag oor die betaal van belasting
(Mark 12:13–17; Luk 20:20–26)
15Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ‘n vraag in ‘n val te lok. 16Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ‘n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

18Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My ‘n strik? 19Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”
Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”
21“Die keiser s’n,” antwoord hulle.
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.

Die vraag oor die opstanding uit die dood
(Mark 12:18–27; Luk 20:27–40)
23Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ‘n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: 24“Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en ‘n nageslag vir sy broer verwek.’ s25Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. 26Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. 27En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. 28Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

29Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. 30Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. 31En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: 32‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’?tHy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”

33Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.

Ekstra stof

Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
Jesus vervolg sy gesprek met die Fariseërs met ‘n derde gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ‘n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het (22:1-14).  Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid.  Die gelykenis word opgevolg met drie vrae wat die Fariseërs in reaksie daarop aan Jesus vra: oor belasting aan die keiser (22:15-22), oor die opstanding van die dooies (22:23-33) en die groot gebod in die wet (22:34-40).  Dit is almal vrae wat Hom polities, godsdienstig en eties probeer vastrek, hoewel Jesus net te uitgeslape is vir hulle met sy deeglike praktiese antwoorde.  Jesus sluit sy wedersydse gesprek met hulle af met ‘n eie vraag wat Hy aan hulle rig oor Sy identiteit  waarop hulle geen antwoord gehad het nie (22:41-46).  In hoofstuk 23 sal Hy ‘n omvattende oordeel oor hulle uitspreek.

Die gelykenis van die bruilofsfees – 22:1-14
Die gelykenis van die bruilofsfees wentel om die feit dat die eerste genooides – implisiet geïdentifiseer met die Fariseërs en die Jode – die uitnodiging weier en dat die ander genooides, slegtes en goeies, die uitnodiging aangeneem het as gaste by die bruilof.

Die betekenis hiervan lê op verskillende vlakke:

  • Die opsommende sin aan die einde verklaar die gelykenis as ‘n prentjie van hoe die uitverkiesing werk.  Die verkiesing gaan dus hiervolgens oor ‘n uitnodiging na ‘n bruilofsfees.  Almal is genooi, ook die Jode.  Dit sluit uiteindelik ook die slegtes en die goeies van oral af in.  Sommige neem die uitnodiging aan.  Ander weier dit.  In die aanvaarding en weiering word die verkiesing verwerklik.  Dit is hoe die misterie van die uitverkiesing prakties werk.  Die uitverkiesing werk met die ontvanklikheid van die genooides – presies soos die gelykenis van die grond dit uitgespel het – nie daarteen of ten spyte daarvan nie.
  • Die gelykenis het effektief die geskiedenis beskryf wat hierna in Jerusalem voltrek sou word.  Jesus is doodgemaak (Evangelies), soos ook van sy dissipels (Handelinge) en die stad Jerusalem is uiteindelik in 70 n.C. verower en afgebrand.

Die vreemde uitsluiting van die man sonder ‘n bruilofskleed kan miskien verklaar word deurdat hy nie respek getoon het vir die bruilof deur die regte klere aan te trek nie (vgl. Openb. 19:8 waar klere as die “regverdige dade van die gelowiges” aangedui word).  Die gewoonte van konings om klere aan die gaste te verskaf, word miskien veronderstel, omdat al hierdie gaste van die straat af geneem is en kwalik self die klere kon verskaf het.

Die Fariseërs se vraag oor belasting aan die keiser – 22:15-22
Die Fariseërs het desperaat geraak met Jesus en wou Hom ten alle koste vastrek en beraam ‘n plan wat in die vorm van drie vrae aan Jesus gerig word.

Die eerste vraag handel oor belasting aan die keiser.  Hulle vra die vraag in die teenwoordigheid van Herodiane wat aan die koning sou kon terugrapporteer.  Let op die vleitaal: “Ons weet dat U opreg is …” en dat hulle net sy “opinie” vra.

Maar, omdat Jesus hulle bose bedoelings geken het en geweet het van die voetangels wat in die vroom vraag opgesluit lê, spreek Hy hulle as skynheiliges aan en gebruik ‘n munt waarop die keiser se afbeelding en inskripsie aangebring is, om die etiese beginsel te onderstreep dat ‘n mens gehoor moet gee aan die ekonomiese stelsel waarbinne jy leef.  Dit is die wyse ding om te doen.

Net so behoort jy natuurlik ook aan God, aan wie die hele aarde behoort en moet jy Hom gee wat Hom toekom.  Dit is ook die wyse ding om te doen.  Jesus weier dus om vasgevang te word in ‘n opgestelde konflik tussen die politiek en die godsdiens en leer eenvoudig dat albei hulle plek het.  Hiermee formuleer Jesus ‘n beginsel wat uiteindelik in die Lutherse twee-ryke leer sou uitmond.

Die Fariseërs se vraag oor die opstanding van die dooies – 22:23-33
Die tweede vraag word deur die Sadduseërs gevra in skreiende konflik met hulle eie standpunt dat daar nie ‘n opstanding van die dooies is nie: “Wie se vrou sal iemand in die hemel wees wat op aarde met sewe broers ná mekaar getroud was?”  Hulle ontkenning van die opstanding was gegrond op die feit dat hulle net die eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug, erken het as kanon en volgens hulle lees van die Bybel nie die opstanding daarin kon naspeur nie.

Jesus ontbloot egter hulle dwaling omdat hulle nie die Bybel of vir God ken nie.  Die opstanding – waarin hulle nie glo nie – is anders as wat hulle hul ingedink het.  Daar trou mense nie.  En die dooies lewe in ‘n ander staat, soos die Bybel reeds leer dat God die God van Abraham, Isak en Jakob is, alles gestel in die teenswoordige tyd.  En Jesus haal aan uit dieselfde boeke van die Pentateug wat hulle erken het!  Hy troef dus hulle opvattings in terme van ‘n noukeurige lees van dieselfde deel van die Bybel as wat hulle lees.

Paulus sou later dié opvattings van die Sadduseërs tot sy eie voordeel gebruik (Hand. 23:8).

Die Fariseërs se vraag oor die groot gebod – 22:34-40
Die Fariseërs was miskien heimlik bly daaroor dat die Sadduseërs, hulle opponente op vele gebiede, die swye opgelê is, maar dié situasie bring hulle by die derde vraag.  Hulle probeer Jesus vastrek op sy interpretasie van die wet.  Op hulle vraag oor die groot gebod van die wet, antwoord Jesus op uitnemende wyse met die bekende samevatting van die wet.

Die vertikale verhouding met God is uiteraard die primêre een, maar word gesien in die horisontale verhouding met die naaste, juis omdat dit eintlik gelyk is aan mekaar.  Dit is die somtotaal van die OT boodskap

Jesus se vraag oor sy identiteit as die Christus – 22:41-46
Jesus neem die inisiatief en vra op sy beurt vir die Fariseërs ‘n vraag, ‘n vraag waarop hulle nie kan antwoord nie.  Dit handel oor die identiteit van die Christus waarin die verskil tussen die Fariseërs se lering en Jesus s’n duidelik na vore kom.  Hulle hou nie rekening met ‘n goddelike dimensie in die beskrywing van die Christus (Messias), die Seun van Dawid nie, wat ook Here is – en Jesus hou wel volledig daarmee rekening.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 178 “Donna Nobis Pacem vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 99

Seëngroet
Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Riglyn om te lewe 1 Tessalonisense 1

Skuldbelydenis: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Vryspraak: Eksodus 33

Geloofsbelydenis: (ahv Jesaja 45 en Psalm 96)

Loflied 475 “Allerhoogste Hemelvader vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 22:15-22

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën Eksodus 33

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied  178 “Donna Nobis Pacem vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 99
Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!

Seëngroet  
2Ek self sal voor jou uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
Ek sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.
3Ek sal vir jou die skatte gee
wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat jy kan weet dat Ek die Here is,
dat Ek jou op jou naam geroep het,
Ek, die God van Israel. (Jes 45)

Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Riglyn om te lewe 1 Tessalonisense 1
2Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3bring ons dan voor God ons Vader in herinnering

  • die werk van julle geloof,
  • die inspanning van julle liefde en
  • die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

4Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging.

Skuldbelydenis: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Vryspraak: Eksodus 33
19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.

Geloofsbelydenis: (ahv Jesaja 45 en Psalm 96)
Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
U is die Here-
U sal voor ons uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
U sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.
U sal vir ons die skatte gee
wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat ons kan weet dat U die Here is,
dat U ons op die naam geroep het,
U, die God van Israel.
U is die Here,
daar is geen ander nie,
buiten U is daar geen God nie.
U is die Here, daar is geen ander nie.
U maak die lig en skep die donker;
U gee voorspoed en skep rampspoed.
U is die Here,
U doen al hierdie dinge.

Loflied 475 “Allerhoogste Hemelvader vs 1,2”

Liedere

F177. “Here, U Het Ek Lief”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: E Steyn
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Here, U het ek lief
En ek buig my hele wese voor U neer
Voor U, my Heer
Hoor die lied van my hart
Sien my hande na die hemel opgehef
terwyl ek U nou vereer
Heilig
U is die Seun van God
Vredevors, wat in ewigheid regeer
U alleen verdien die hoogste lof
Jesus, dit is U wat ek bemin

F326. “Ek Vertrou Nie Op Geld Nie (Alleen Op Die Here)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof & Vertroue)
Teks en musiek:  Carli Lessing
© 2009 WINS Music
[N.a.v. Ps 33:20-21]

1. Ek vertrou nie op geld nie, of gewildheid nie
Of die wêreld se moondhede nie
Ek vertrou nie op mag nie of op konings nie
Of op die wêreld se leërmagte nie

Brug:
Alleen op die Here
Alleen  op die Here

Refrein:
Hy is my hulp en my beskermer
Die Een op wie ek vertrou
Alleen in Hom is my hart bly
Op sy heilige Naam vertrou ek
Op sy heilige Naam vertrou ek

2. Nie op myself nie of op vriende nie
Of op ander se goedkeuring nie
Ek vertrou nie op drome of op gawes nie
Of my eie oorwinnings nie

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here U is die Gewer van alle goeie dinge.
Laat ons vandag luister na u Woord met die liefde van Jesus Christus.
En laat sy liefde aanhou liefhê vir duisende geslagte na ons.
Gee vir ons eerbied en ontsag om nie net te hoor nie, maar  te glo en te wees en te doen.
Amen.

Skriflesing: Matteus 22:15-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die kern van die fokusteks is opgesluit in die verse:
20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

21“Die keiser s’n,” antwoord hulle.

Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

Om dit te onderstreep en ook interessant vir kinders voor te hou kan mens so iets van die ontwikkeling van betaalmiddels vertel.

GELD: Die oudste aangetekende gebruik van geld was omstreeks 4 500 jaar gelede in vandag  se Irak. Tablette met inskripsies beskryf betalings wat met afgeweegde hoeveelhede silwer gemaak is. Ander vroeë soorte geld sluit in muntskulpe en veergeld.

Die eerste munte is 2700 jaar gelede in Turkye gemaak uit ‘n mengsel van goud en silwer. Die munte is gestempel om hulle waarde en gewig te bevestig. Vandag word goedkoper metale gebruik.

Die mense van Yap (‘n eiland in die Stille Oseaan) het  groot klipskywe as geld gebruik- die grootste sowat 4m in deursnee (2 volwassenes wat op mekaar se skouers staan).

Spaarvarkies word al sedert die 14 eeu gebruik om geld te spaar. Die eerste varkies was van erdewerk en moes gebreek word om die geld uit te kry. (Uit die Groot Geïllustreerde Ensiklopedie)

Ons lees reeds in Gen 23 dat Abraham 400 sikkels silwer afgeweeg het as betaling vir ‘n familie begraafplek. ‘n Ware muntstelsel het egter nie voor die 7e eeu voor Christus ontstaan nie. Die merk van die koning is op ‘n stuk metaal geplaas om die gewig en suiwerheid daarvan te waarborg.

Muntstukke was redelik algemeen in die tyd van die Nuwe Testament, maar verwarrend baie.  Drie geldstelsels was in gebruik: Die Romeinse stelsel was internasionaal en na alle waarskynlikheid was die munt wat aan Jesus gegee is (Mark 12:15) ‘n denarius. Daar was ook nog ‘n Joodse- en Griekse muntstelsel. (Gebruike en Gewoontes in die Bybel, Stander & Louw)

Preekriglyn

Ons teksgedeelte speel af in Jesus se laaste week voor sy teregstelling en dood aan die kruis. Vir Christene is hierdie week die heilige week waarin ons die diepte van Jesus se lyding herdenk.

Matteus vertel hoe Jesus op die Maandag Jerusalem triomfantelik betree en dan die tempel gaan reinig.

Die Dinsdag is ‘n besondere besige dag, en dan ook die dag waarop die gebeure van ons teks afspeel. Op die Dinsdag tree Jesus in Jerusalem op om ‘n reeks uitsprake te maak, en gekonfronteer te word deur die Joodse godsdienstige leiers:

  • Jesus vervloek die vyeboom;
  • Word uitgevra oor sy gesag;
  • Vertel drie gelykenisse wat mense wat tevrede is dat hulle God se guns geniet, waarsku;
  • Word uitgedaag om te sê of dit reg is om belasting aan die keiser te betaal;
  • Word uitgevra oor die opstanding van die dode;
  • Word uitgedaag oor die grootste gebod;
  • Word betrek in ‘n gesprek oor die Messias;
  • En raak betrokke by ‘n lang gesprek waarin hy die godsdienstige leiers kritiseer, treur oor Jerusalem, die verwoesting van die tempel voorspel, sy dissipels inlig oor die tekens van die tye, nog gelykenisse vertel en Hom oor die laaste oordeel uitspreek.

Hierdie Dinsdag was ‘n groot en ‘n lang dag.

Op die Woensdag van die Heilige Week begin die leiers saamspan om Jesus gevange te neem en dood te maak.

Jesus se gesag

Matteus 22:15-46 bestaan uit ‘n versameling van vier twisgesprekke wat rondom vier vrae (waarvan Jesus die laaste een self aan sy opponente vra) ontwikkel. In die vier gedeeltes het Jesus interaksie met die Fariseërs, Herodiane en die Sadduseërs. Die reeks twisgesprekke eindig met ‘n opmerking wat herinner aan die einde van ons afgebakende Skrifgedeelte. Na al die vrae en Jesus se antwoorde daarop, is al die opponente se monde gesnoer: “En niemand kon Hom ‘n woord antwoord nie en het van daardie dag af nie gewaag om Hom meer iets te vra nie” (Interliniêr) (46).

Die vier twisgesprekke onderstreep die negatiewe rol wat die gesaghebbers in Jerusalem gespeel het. Dit blyk ook duidelik dat al die insig, gesag en waarheid aan Jesus se kant was. Hy is die meesterlike gesprekvoerder van begin tot einde. Uit al die gesprekke blyk Jesus se deurdringende en merkwaardige wysheid, woorde wat die moeite werd is om te onthou. Daarteenoor vertoon sy teenstanders vaal, besig om te babbel oor die vanselfsprekende (21 en 42). Daar is nie werklike debat nie, maar gesag wat maar min vir die opponente laat om te sê.

In ons teks word Jesus se identiteit as leermeester wat eerlik die waarheid praat op ironiese wyse deur die Fariseërs bevestig (16). In Matteus word Jesus telkens as leermeester uitgebeeld. Hy word enersyds so aangespreek deur buitestanders (8:19; 12:38; 19:16; 22:24, 36) en andersyds deur die vyf redevoerings (Matt 5-7; 10, 13, 18, 23-25) waarin Jesus uitvoerig sy dissipels onderrig. As ware leermeester leer Jesus die waarheid van God en verander Hy nie sy lering om die guns van mense te wen nie.

Jesus is inderdaad die laaste woord van waarheid.

Die Herodiane

In 22:15-22 besluit die Fariseërs om Jesus oor sy interpretasie van die wet (God se geopenbaarde wil) te toets.

Die verwysing na die Herodiane in vers 16 is belangrik. Hulle het as meelopers van die Romeine ‘n gevestigde belang daarby gehad dat belastings wat aan die keiser verskuldig was, aan hom oorbetaal word. Hulle was ‘n groepering in Galilea waar koning Herodes met Romeinse hulp aan bewind was. Dit is egter vreemd om Herodiane in Jerusalem aan te tref, aangesien net Galilea in die tyd onder die beheer van die Herodiane was.

Vreemd genoeg werk die Herodiane en Fariseërs in ons teks saam. Die Fariseërs haat die Romeinse oorheersers, terwyl die Herodiane in Galilea afhanklik is van die Romeine om Herodes aan die bewind te hou. Polities is die enigste ooreenkoms tussen die Herodiane en die Fariseërs dat hulle nie van Jesus hou nie. Aangesien hulle ‘n gemeenskaplike vyand het, Jesus, wie se ondergang hulle soek, skuif hulle hul verskille op die agtergrond. Hulle kom om Jesus ‘n vraag te vra wat Hom in ‘n onmoontlike dilemma moet plaas.

‘n Taai vraag

In Matteus 17:24 was die vraag aan Jesus of Hy en sy volgelinge die Joodse tempelbelasting sou betaal, wat Hy via die vis met die vier munte in sy bek, wel laat betaal het. Hier in Matteus 22 is die vraag of Jesus die Romeinse kopbelasting sou betaal? Die sensus was ‘n belasting wat elke Joodse volwassene (slawe sowel as vroue) moes betaal. Dit was direk aan die Romeinse oorheersing van die Jode gekoppel (Romeinse burgers was oënskynlik daarvan vrygestel). Met die oog op dié belasting het die Romeine gereeld sensus opgeneem.

Aangesien die kopbelasting vanaf 6 nC in Judea ingestel is (waar die Romeine regeer het deur ‘n goewerneur), maar nie in Galilea nie (waar Herodes Antipas regeer het), was Jesus as Galileër tegnies van dié spesifieke kopbelasting vrygestel. Jesus se antwoord in ons Skrifgedeelte is nie soseer gerig op sy belastingplig nie, maar op dié van die Jode wat in Judea gewoon het.

Die vraag wat die Fariseërs in vers 17 vra is of dit wettig is om die belasting aan die keiser te betaal. Was dit God se wil dat daar belasting aan Israel se heidense veroweraars betaal moes word?

Die vraag was ‘n fyn strikvraag, want Jesus kon deur sy antwoord op die vraag ‘n bepaalde indruk wek; óf as iemand wat openlike verset teen die Romeine aanhits óf as ‘n Romeinse meeloper (wat Hom in die oë van die Jode sou diskrediteer). Dit was ‘n soort “catch 22”-situasie. Wat Jesus ook al sou antwoord, Hy was in die noute gedruk.

Jesus se dilemma

Jesus se dilemma is: Indien Hy antwoord dat die belasting wettig is, gee Hy aanstoot aan die Fariseërs en die baie mense in die skare wat keelvol is vir die Romeine se gedurige inmenging in die ekonomie. Hy gee ook aanstoot aan die armes wat besonder swaar gekry het onder die spesifieke tipe belasting waarvan hier gepraat word. Almal moes dieselfde betaal, ongeag inkomste.

Indien Jesus egter teen die belasting praat, gee Hy die Herodiane skietgoed om Hom by die Romeine te gaan verkla. Dit sal as dislojaal en ondermynend teenoor die owerheidsgesag gesien word. Rome het nie met ondermyners gespeel nie.

Die vraag is ‘n ordentlike slaggat. Dis ‘n versierde lokval, want ewe vroom is Jesus aan die begin gevlei om te sê Hy praat vreesloos die waarheid, ongeag wie daardeur geaffekteer word.

Die denarius

Die verwysing na ‘n denarius is belangrik. In die tyd van Tiberius sou sy afbeelding op die een kant van die denarius muntstuk wees, met ‘n inskripsie wat hom as Divi Filius (‘n seun van God) geïdentifiseer het. Dit het dus beide die eerste gebod (geen ander gode mag aanbid word nie) en die tweede gebod (daar mag geen afbeeldings van hulle gemaak word nie) oortree (vgl Eks 20:3-4). Op die keersy sou Tiberius as die hoë priester (Latyn: Pontifex Maximus) geïdentifiseer word (iets wat ook vir die Jode aanstootlik was).

Vanweë dié aanstootlikheid van die denarius het die Jode eerder hulle eie kopermunte gemunt, sonder enige afbeelding of aanstootlike inskripsies daarop, vir hulle alledaagse gebruik. Dat Jesus se aanklaers wel ‘n aanstootlike denarius op die tempelgrond gehad het, ontmasker hulle huigelary, naamlik dat hulle nie werklik omgegee het vir die wet van God of sy heiligheid nie. Daarom sê Jesus dat hulle dié denarius maar aan die keiser kan teruggee.

God en die keiser

Jesus se antwoord kom daarop neer dat die keiser geregtig is om die geld waarop sy afbeelding is, op te eis as belasting. Net so is God daarop geregtig om gelowiges se hele lewe op te eis. Gelowiges is naamlik die afbeelding van God en die maaksels van sy hand. Al is Christene dus wel eer aan die keiser verskuldig (vgl Rom. 13:7 en 1 Pet 2:17), is hulle finale lojaliteit net aan God (Hand 5:29).

Die konsensus in die gehoor is dat Jesus uit die strik losgekom het (22). Dit was egter nie duidelik wat Jesus wou bereik nie. Vir sommige verklaarders bewys die Skrifgedeelte dat God en politiek geskei moet bly. Dinge soos belasting het hoegenaamd nie iets te make met iemand se teologiese verbintenisse nie. Ander verklaarders sien weer die verhaal as bewys dat godsdiens ‘n hartsaak is en dat Jesus nie werklik omgee vir aardse dinge soos wat jy met jou geld doen nie. Nog ander beskou die teks as bewys dat Jesus die wet as wet beskou het en dat ons plig as Christene is om die regering van die dag blindelings te ondersteun. Al drie hierdie interpretasies is twyfelagtig.

Baie van Jesus se uitsprake het meerdere betekenismoontlikhede ingehou. Die ryke en subtiele karakter van Jesus se antwoord word versterk deur die feit dat Jesus reeds vroeër in die evangelie oor die onderwerp van geld en verdeelde lojaliteit gepraat het (6:24).

Deur op die fisiese kenmerke – mens kan amper sê die boodskap – van die denariusmunt te fokus, beklemtoon Jesus hoe belangrik menslike lojaliteit is. Gee aan die keiser wat aan die keiser toekom – sy arrogante en aanstootlike muntstuk, maar onthou jy skuld God wat God toekom.

Wat kom God toe? Skrifkenners meen hier is ‘n sinspeling op Genesis 1 waar gesê word die mens is na God se beeld en gelykenis gemaak (Gen. 1:26). Ons dra God se beeld, soos die Denarius die keiser se beeld dra. Daarom moet ons onsself volledig aan God gee.

Wat die keiser toekom, verklein en raak onbenullig in die lig van wat God toekom.

Getrouheid aan God

Die kerngedagte van hierdie Skrifgedeel onderstreep die boodskap van getrouheid aan jou Leermeester. ‘n Teoloog skryf:

At the core, the issues raised by this biblical passage are ones of allegiance. If God owns all, then we belong to God alone. Yet we live a life in which competing powers and influences vie to own us, to sway us, to capture our hearts.

Ons moet in die lig hiervan nadink die verbruikerskultuur en materialisme ter sprake. Waaraan bind ons ons diepste lojaliteit vas? Aan geld? Aan God?

Mens kan jouself flous oor wat vir jou die belangrikste is. Ons kan glo die verbruik van goedere en die koop van dinge gaan ons gelukkig maak. Di is die boodskap wat elke advertensie en elke winkelsentrum by ons tuisbring. Daar is baie kragte wat op Jesus se volgelinge inspeel om heelhartige toewyding aan God te verswak. Dit is nie maklik om teen die kragte in steeds te kies om net vir Jesus te volg nie. Nietemin is Jesus die bron van God se wysheid. Sy wysheid kom aan die lig deur die antwoord wat Hy op die toets van die Fariseërs en Herodiane gee.

Nog ‘n teoloog skryf:
Whatever we render unto Caesar, or to the retirement fund, or to the offering basket at church, we can never afford to forget this: we belong entirely to God. We may divide our budget, but we must never divide our allegiance. The coin of our realm bears the image of dead presidents, but each of us bears another. Our Emperor said: ‘Let us make humankind in our image, according to our likeness.’ We must never forget to render unto God the things that are God’s.

Waarop mens net kan sê: Amen!

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën: Eksodus 33
Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”
“Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom
en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep,
want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon
en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.