Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks beklemtoon dat God deur Jesus alle openbarings aan vorige geslagte (soos bekendgemaak in die Ou Testament) oortref. Jesus is die perfekte, sigbare uitstraling of weerspieëling (ewebeeld) van God se wese, karakter en heerlikheid. Hy het ons vergifnis bewerkstellig en toe sy plek aan God se regterhand ingeneem. Jesus is nou bo die engele verhewe. Van Job lees ons dat hy vroom en opreg bly, ondanks al die rampe wat hom tref en die psalmdigter bepleit sy onskuld. Markus verseker ons dat as ons die koninkryk nie soos ‘n kindjie ontvang nie, ons nie daar kan ingaan nie.

Ander tekste: Job 1:1; 2:1-10; Psalm 26; Markus 10:2-16

Ander tekste

Job 1:1; 2:1-10
Job word deur rampe getref
1 In die land Us was daar ’n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.

Die Satan tref vir Job met pynlike swere
2 Toe die hemelwesens weer op ’n dag voor die Here kom staan, het die Satan ook tussen hulle voor die Here kom staan. 2Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?”

En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.”

3Die Here vra toe vir Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”

4Die Satan sê toe vir die Here: “Dit bewys nog niks. ’n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe. 5Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.”

6Toe sê die Here vir die Satan: “Goed, hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.”

7Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone. 8Job het op ’n ashoop gaan sit en hy het ’n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. 9En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”

10Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

Psalm 26
Ek is onskuldig
26 Van Dawid.
Laat reg aan my geskied, Here,
want ek is onskuldig.
Ek het op die Here vertrou
en nie getwyfel nie.
2Toets my, Here, keur my,
ondersoek my deur en deur.
3Ek laat my deur u liefde lei
en ek lewe deur u trou.
4Ek hou my nie op met bedrieërs nie
en met agterbakse mense
gaan ek nie om nie.
5Ek vermy die geselskap
van misdadigers
en hou my nie op met goddeloses nie.
6As ’n onskuldige, Here,
was ek my hande
en draai ek na u altaar toe
7om my loflied te sing
en van al u wonders te vertel.
8Here, u woonplek,
die tuiste van u heerlikheid,
het ek lief.

9Moet my tog nie
saam met die sondaars,
met die moordenaars laat omkom nie.
10Daar is bedrog in hulle hande,
hulle regterhande is vol omkoopgeld.
11Maar ek is onskuldig.
Red my en wees my genadig;
12dan is my pad vorentoe gelyk
en sal ek die Here prys
in die samekoms van die gemeente.

Markus 10:2-16
Gesprek oor egskeiding
(Matt 5:31–32; 19:1–9; Luk 16:18)
10 Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer.

2Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag ’n man van sy vrou skei?”

3Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”

4“Moses het toegelaat dat iemand ’n skeibrief opstel en skei,” jhet hulle geantwoord.

5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. 6Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ k 7‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’ lsodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”

10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën die kindertjies
(Matt 19:13–15; Luk 18:15–17)
13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

Fokusteks

Hebreërs 1:1-4; 2:5-12
Die uitnemende grootheid van die Seun van God
1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader,”
en ook:
“Ek sal sy Vader wees,
en Hy sal my Seun wees” ?
6En wanneer God die Eersgeborene
in die wêreld inbring, sê Hy:
“Al die engele van God
moet Hom aanbid.”
7Van die engele sê Hy:
“Hy maak sy engele stormwinde
en sy dienaars vuurvlamme.”
8Maar van die Seun sê Hy:
“U troon, o God,
staan vir ewig vas,
met u koninklike septer
laat U reg geskied.
9U het die reg lief
en U haat die onreg.
Daarom het God, u God,
U onder groot vreugde
tot Koning gesalf
bo u tydgenote.”
10En verder:
“U, Here, het in die begin
die aarde gevestig,
en ook die hemel is die werk
van u hande.
11Dié dinge sal vergaan,
maar U bly bestaan;
soos ‘n kledingstuk
sal alles verslyt;
12soos klere sal U dit oprol;
ja, soos ‘n kledingstuk
sal dit vervang word.
Maar U, U bly dieselfde,
en u jare het geen einde nie.”
13Van watter engel
het Hy ooit gesê:
“Sit aan my regterhand,
totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het” ?

14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Die groot saligheid vereis groot verantwoordelikheid
2 Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. 2As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is, 3hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. 4Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.

Die Leidsman tot die saligheid
5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat is ‘n mens
dat U aan hom dink,
‘n mensekind
dat U na hom omsien?
7U het hom ‘n kort tydjie
minder as die engele gemaak;
U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;

8U het alles aan hom onderwerp.”
By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ‘n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:

“Ek sal u Naam aan my broers
bekend maak,
in die samekoms van die gemeente
sal Ek u lof besing.”

13Ook sê Hy:
“Ek sal altyd op Hom vertrou.”

En verder:
“Hier is Ek met die kinders
wat God My gegee het.”

14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Ekstra stof

Hebreërs 1 – God praat met ons deur sy Seun
Die skrywer begin direk met die hart van sy bemoedigende boodskap aan die gemeente, die feit dat God met hulle deur sy Seun praat.  Daar is niemand belangriker as Hy nie.  Daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.

Hy verdeel die begronding van dié deel van sy boodskap in vier afdelings:

  • 1:1-4 – God praat deur sy Seun
  • 1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele
  • 2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing
  • 3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis

1:1-4 – God praat deur sy Seun
Die boodskap van God se Seun word gekontrasteer met die talle en verskillende wyses – ‘n mens kan dit ook as “broksgewyse” vertaal – waarop God in die verlede met sy mense, die voorvaders van die gelowiges, gepraat het.  Profete staan hier eintlik vir enigiemand wat ‘n openbaring aan gelowiges gebring het.  In hierdie laaste dae, sê die skrywer – die dae wat met Jesus se eerste koms aangebreek het – het God finaal met ons gepraat deur die Seun.

Let op dat die Seun eers in hoofstuk 2 met sy naam Jesus bekend gestel sal word.  Hier word sy Godheid onomwonde as Seun van God beskryf.  Vier kenmerke van Hom word uitgelig:

  • SKEPPER SEUN: God het sy Seun aangestel as “erfgenaam van alle dinge“, want Hy het in die eerste plek deur Hom die wêreld geskep, ‘n verwysing na Ps. 2:8 (vgl. my hantering van Psalm 2: Geseënd is dié wat op God vertrou).  Die Seun van God se pre-eksistensie word dus onomwonde bely.
  • GOD SE EWEBEELD: “Hy is die uitstraling van God se heerlikheid  en die ewebeeld van sy wese.”  Die Seun is die sigbare gestalte van God, die een wat ons mag sien.  Maar dit is nie net ‘n afbeelding van God, soos ‘n skildery of ‘n beeldhouwerk nie.  ‘n Mens sien God self in die Seun.  Hy is die ewebeeld van wie God in sy wese is.
  • ONDERHOUER VAN ALLES: “Hy hou alles in stand deur sy magtige woord.”  Die Seun het nie net ‘n krip-na-kruis bediening gehad nie.  Hy was intiem betrokke by die Skepping en is steeds by die onderhouding van alles betrokke.  Iets om in gedagte te hou as ‘n mens bid!
  • HOOGSTE STATUS VAN ALMAL: Natuurlik is die kruis-evangelie van baie groot belang, die reiniging van sondes, maar dit het uitgemond in die verhoging na die hoogste status moontlik, die sittingsreg aan die regterhand van God, die Majesteit in die hoogtes, waarmee ‘n verwysing na Ps.110:1 gemaak word, soos in die res van die hoofstuk weer uitgespel sal word.

Daarom is die Seun hoog bo die engele verhef,  en is Hy nie net die erfgenaam van alles nie, maar het Hy ‘n Naam geërf wat uitnemender as enigiemand s’n is, die engele ingesluit.

1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele
Die skrywer vergelyk die Seun vervolgens met die engele, waarskynlik om ‘n groeiende beheptheid met die aanbidding van engele hok te slaan, en wys hoe onvergelyklik die Seun in wese met die engele is. Hy gebruik sewe aanhalings uit die OT om sy punt te staaf:

  • GOD HET DIE SEUN VERWEK: Dit is iets wat nooit van die engele gesê kan word nie:  “Jy is my Seun;  vandag het Ek jou verwek.”  Hulle is geskep.  Die Seun is verwek.  Die skrywer haal hier uit Ps. 2:7 aan (en sal dit weer doen in hfst. 5:5), soos Paulus dit ook in Hand 13:33 in sy toespraak in Antiogië in Pisidië op sy eerste sendingreis doen.  Dit was ‘n belangrike argument om die voorrang van die Seun te bevestig.  Hy is kwalitatief anders as skepsels van die Skepping.
  • GOD IS DIE SEUN SE VADER: Die argument word sterker gemaak met ‘n aanhaling uit die belofte aan Dawid in 2 Sam. 7:14 wat hier op die Seun van God van toepassing gemaak word: “Ek sal vir Hom ‘n Vader wees  en Hy sal vir My ‘n Seun wees.”  Vgl. my hantering van 2 Samuel 7: God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag.
  • DIE ENGELE MOET DIE EERSGEBORENE AANBID: Wat God doen, is altyd iets wat reaksie uitlok, in dié geval aanbidding.  Let op die feit dat die skrywer sê dat God die Eersgeborene weer in die wêreld inlei.  Dit het te make met sy toekomsperspektief op die Seun se wederkoms wanneer al die engele van God Hom moet aanbid. Dit is ‘n aanhaling uit die Griekse vertaling van Deut. 32:43 waarvan die reël in ons Hebreeuse grondteks ontbreek.  Vgl. ook Ps. 97:7 waar van die afgode gepraat word wat die Here moet aanbid.  Lees meer daaroor in my hantering van Psalm 97: Verbly julle, liefhebbers van die Here.
  • GOD SPAN ENGELE IN: Die engele se rol is in die natuur:  “Hy maak sy engele stormwinde  en sy dienaars vuurvlamme,” en soos hy netnou sal verduidelik, ten bate van die gelowiges.  Met hierdie aanhaling uit Ps. 104:5 wys hy net nog dieper die kwalitatiewe onderskeid tussen die Seun en die engele.  Vgl. my hantering van Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U!.
  • DIE SEUN HEERS AS GOD: Die skrywer gaan nog dieper in op die voorrang van die Seun met ‘n langer aanhaling uit Ps. 45:7-8 wat op die Seun van toepassing gemaak word in die konteks van ‘n huweliksviering van die koning wat deur geregtigheid en vreugde vergesel word.  Vgl. my hantering van Psalm 45: Huwelikslied vir die koning en koningin.
  • DIE SEUN IS MEDESKEPPER: In die langste aanhaling van almal word Ps. 102:26-28 ingespan om die Seun as medeskepper van God te vereer: “U bly dieselfde en u jare sal nie tot ‘n einde kom nie.”  Vgl. my hantering van Psalm 102: Hy sal ons gebed nie minag nie.
  • DIE SEUN SIT AAN GOD SE REGTERHAND: Hy sluit sy beskrywing van die voorrang van die Seun en sy boodskap af met ‘n aanhaling uit Ps. 110:1 (soos in vers 3) as heenwysing na die Seun vir wie God die ere posisie aan sy regterhand gegee het: “totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete gemaak het.

Die skrywer som sy standpunt op deur in vers 14 al die engele te beskryf as “dienende geeste wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan.” Die engele is nie net minder belangrik as die Seun nie.  Hulle is dienende geeste wie se hooftaak die bystand aan die verlostes is (sowel as in die natuur).

Boodskap
God praat op baie maniere – in die skepping, deur sy Gees, deur gebed, deur insigte, deur geloofsonderskeiding in die geloofsgemeenskap, deur gawes, deur roeping, deur omstandighede.  Maar die belangrikste manier waarop Hy praat, is deur Sy Seun, die Een wat ook die Woord van God genoem word.  Dit is Hy wat ons verlos.  Dit is Hy wat ons lei.  Na Hom moet ons dus bo alles luister.

Dit beteken ook dat die Seun die maatstaf is waarteen ons alle spreke van God moet beoordeel.  Dit is immers die Seun se stem waarna die Heilige Gees ons wil laat luister (3:7-8, 15; 4:7).  Die Seun is dus nie net die een vir wie ons direk leiding en onderskeiding moet vra, soos die res van dié belangrike brief-boodskap wel gaan uitspel nie.  Alles wat ons in die evangelies en in die res van die Bybel van Hom lees, help ons onderskei om die stem van die Seun te herken.  Dit is wat dit beteken om volwasse te word in ons aanvoeling: “deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.” (hfst. 5:14).

Hebreërs 2-3:11 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis
Die skrywer vervolg met sy openbaring van Jesus en fokus hulle aandag op sy alles oortreffende rol in hulle verlossing en belydenis met die volgende twee boodskappe:

  • 2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing – opgebou rondom ‘n uitleg van Psalm 8.
  • 3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis en daarom belangriker as Moses – opgebou rondom ‘n uitleg van Psalm 95.

2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing
Die toekoms van die mensdom is in die hande van Jesus Christus.  Dít is waarom die skrywer soveel klem daarop lê om die gemeente aan te moedig om in ‘n verhouding met Hom te kom en te bly.  En die verhouding is veral moontlik deur gefokusde aandag te gee “aan dit wat ons gehoor het,” die oorgelewerde boodskap van die Here Jesus Christus.  Dán voorkom die gemeente dat sommige nie dalk wegdryf van Hom nie.

Die les is in die verlede reeds deur die volk van die eerste verbond geleer dat die boodskap “wat deur engele verkondig is,” inderdaad bindend was.  Hiermee verwys die skrywer na die tradisie dat Moses die wet deur die middelaarskap van engele ontvang het, soos Lukas en Paulus onder andere daaroor geskryf het (Hand. 7:38,53; Gal. 3:19).   Met die verbreking van die verbond het die oordele daarvan in werking getree.  Só is die boodskap van Christus ook in die nuwe verbond bindend.  Die gemeente sal net tot hulle eie skade dié “groot verlossing verontagsaam.”

Die rede daarvoor is dat die Here Jesus self hierdie verlossing verkondig het tydens sy aardse bediening, en dat dit “daarna aan ons bevestig (is) deur hulle wat dit gehoor het.”  Daarvan kan die skrywer en die gemeente getuig.  Daarbenewens was daar “tekens en wonders en allerhande kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees” wat bevestig het dat die verlossing van God afkomstig was.

Hier verwys die skrywer na die Pinkster gebeure en die werkende gawes van die Gees in die gemeente.  Maar let op dat dié tekens net ‘n begeleidende en bevestigende rol het om mense aan die verlossing en belydenis van Jesus Christus as Leidsman bekend te stel.  Die tekens en gawes word nooit ‘n fokus op sigself nie.  Dit wys altyd heen na die werklikheid van ‘n verhouding met Jesus.

Jesus is daarom die Leidsman van hulle verlossing, want die toekoms van die mensdom is aan Hom verbind.  En die skrywer bewys dit met ‘n uitleg van Psalm 8 wat hy op Jesus van toepassing maak (vgl. my hantering van Psalm 7-8 – God gee om vir sy mense en verhoor hulle gebede).  God het immers nie die wêreld wat kom aan engele onderwerp nie. Sy plan was volgens Psalm 8 eintlik nog altyd dat die mens die kroon van sy skepping sal wees, en dat alles aan hulle onderworpe sou wees.

Dit is egter iets wat nog nie ‘n werklikheid geword het nie, behalwe dat ons iets daarvan kan raaksien in Jesus, die een wat met heerlikheid en eer gekroon is.  Hy is vir ‘n kort rukkie “minder as die engele gemaak,” sodat Hy sy verlossingswerk kon afhandel en ter wille van almal die dood kon ervaar.

Dit is die weg van verlossing wat God in sy wysheid gekies het, om die Leidsman van hulle verlossing “deur lyding tot volmaaktheid” te bring. Dit het ‘n eenheid tussen die Leidsman en sy volgelinge gebring wat hulle nie net heilig maak nie, maar familie maak!

Drie verdere aanhalings uit die OT word dan in die mond van Jesus geplaas wat:

  1. Sy blydskap uitdruk oor sy teenwoordigheid in hulle geloofsgemeenskap: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig; in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” – Ps. 22:23 (vgl. my hantering van Psalm 17 en 22 – God verontagsaam nie die gebed van die hulpelose nie);
  2. Sy vertroue in God uitspel: “Ek sal my vertroue steeds in Hom stel.” – Jes. 8:17; 12:2 (vgl. my hantering van Jesaja 11-12 – God gee nooit moed op nie);
  3. Sy vreugde uitdruk dat hulle saam aan God kan behoort: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” – Jes. 8:18 (vgl. my hantering van Jesaja 8 – Leef met ontsag en oortuiging).

Met Jesus se vereenselwiging en solidariteit met dié wat Hy verlos, het Hy deur sy dood die duiwel se mag oor gelowiges – deur die dood – gebreek.  Dit bewys dat God nie oor die engele besorg was nie, maar oor die mense wat Abraham se nageslag is, die gelowiges.

Daardeur het Jesus, die Seun van God, nie net die Leidsman van die gelowiges geword om hulle te verlos nie, maar ook die barmhartige en getroue Hoëpriester wat volkome vir hulle sondes versoening kon doen, en hulle kan help wanneer hulle in versoeking kom om van Hom af weg te dwaal.

3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis en daarom belangriker as Moses
Hierdie Jesus moet dus die fokus wees van die gemeente in alles wat hulle doen.  Hy is nie net belangriker as die engele nie, maar ook belangriker as die een waardeur hulle die wet gekry het, Moses.

Jesus word as die inhoud van hulle belydenis – onthou hfst. 2:1: “aan dit wat ons gehoor het” – uitgespel.  Hy is die Apostel en Hoëpriester daarvan, die een wat hulle wys hoe om hulle eie roeping na te kom, en die een wat verantwoordelikheid neem om getrou te bly, net soos Moses dit aanvanklik in die eerste verbond gedoen het.  Jesus sal getrou bly aan God en aan “sy huis” – d.i. die gelowiges – dié wat “bly vashou aan die hoop waarop ons roem.”

Dit is iets wat hulle nie net van die menslike getuies wat die boodskap aanvanklik gebring het, gehoor het nie, maar iets waarvan die Heilige Gees elke dag getuig.  Die skrywer bou hierdie deel van sy boodskap rondom ‘n uitleg van die gebeure in die woestyn soos Psalm 95 terugverwys na die Here se uitspraak in Numeri 14:21-23 (vgl. my hantering van Psalm 95 – Die Here is ons God, en ons is sy volk).

Numeri 13-14 vertel die verhaal van die twaalf verkenners wat ‘n meerderheids- en ‘n minderheidsverslag uitgebring het oor die beplande Intog in Kanaän in.  Tien verkenners het die volk aangeraai om nié die land van Kanaän binne te trek nie.  Twee, Josua en Kaleb, het gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” (Num. 13:30). Omdat die volk na die tien geluister het, het die Here gesweer dat hulle nooit die land weer sal sien nie, net dié wat bereid was om Hom daarheen te volg.

Die skrywer aan die Hebreërs waarsku dus die gemeente dat hulle moet volhou op die pad wat hulle ingeslaan het: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard soos met die opstand in die tyd van versoeking in die woestyn.” Anders sal hulle, soos hulle voorvaders met die land Kanaän ervaar het, nie die rus van die tuiskoms in die nuwe bedeling wat God besig is om deur Jesus voor te berei vir die mensdom beleef nie.

Boodskap
Ons het dié boodskap regtig nodig.  Die toekoms van die mensdom is in die hande van Jesus Christus.   Dit is ons belydenis en dit is ons hoop.  Ons kan iets daarvan ervaar in die gemeenskap van gelowiges.  Jesus is immers daar waar ons Hom aanbid: “Ek sal u Naam aan my broers verkondig; in die byeenkoms sal Ek u lof besing!” Dit is waarom ons nie die byeenkoms van gelowiges sommer lukraak kan verontagsaam nie.

Ons het ook nodig om die begeleidende en bevestigende rol van die tekens en gawes wat God gee raak te sien.  Die tekens en gawes kan nooit ‘n fokus op sigself word nie.  Dit moet altyd heenwys na die werklikheid van ‘n verhouding met Jesus.

En dié Jesus se belofte aan ons is dat Hy ons in die rus van God sal uitbring.  Daarop kan ons staatmaak.  Daarop kan ons vertrou.  Hy roep ons daarheen.  Daarom: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard …”

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 168

Votum
Seëngroet

Lofsang: Flam 24 of Flam 316 of VONKK 85 of VONKK 296 of Psalm 8

Verootmoediging: Uit: Vos, Barend. Die ewigheid in my hart.

Toewyding: Flam 130 of Flam 459 of Lied 241

Geloofsbelydenis: (Uit die Evangelie van Johannes)

HOOR

Gebed: Lied 294 of Flam 449 [bekend]

Skriflesing: Hebreërs 1:1-4, 2:5-12

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 104 of Lied 215

Seën

Respons: Lied 215 vers 4 laast twee reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 168 “Heilige Jesus”

Votum
Uit ons Here Jesus straal die heerlikheid van God.  Hy is die ewebeeld van die wese van God.  Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.  Nadat hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

Seëngroet

Lofsang
Flam 24 As Ek U Hemel Aanskou (Psalm 8)
Flam 316 Heer, Onse Heer (Psalm 8)
VONKK 85 Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8)
VONKK 296 “Klap jul hande, o nasies

Psalm 8

Verootmoediging
My nuwe kring,
Here, ek sweer: Dié keer het ek dinge reg gedoen!
My beste. Ek het net op U vertrou.
Ek hou my nie meer met kleinlikheid op nie,
ek meng my nie met die semels nie –
lankal nie meer nie.
En ek wou nou sê:
U kan maar kom kyk as U my nie glo nie –
Maar toe onthou ek met wie ek praat –
vergewe my.
Vergewe my, want ek weet U sien deur my.
U weet ook dat ek afskeid geneem het
van daardie soort geselskap.
Dat ek regtig nie meer daar wil wees nie.
Dit is net . . . dat ek soms die kameraadskap mis.
Die “kring van die spotters” –
soos hulle laggend self sê –
wil my steeds by hulle tel.
En, Here, vergewe my,
ek is maar net ‘n mens –
ek wil ook, iewers, getel word.
Tel U my op, asseblief!
Hou my by die water
waar ek my hande kan was,
sodat ek hulle na U kan ophef.
Gee my ’n nuwe wysie, leer my die woorde,
sodat ek ’n lied kan sing wat verklaar:
“God is groot! God is goed!”
Dalk hoor my gewese vriende dit.
Dalk help dit hulle . . .
Dit sal in elk geval my nuwe lied bly,
nommerpas vir my nuwe tuiste
hier by U en u ander kinders: my nuwe kring.
Hier word ek gesien en gehoor, hier tel my stem.
Hier bevind ek my op vaste grond.
Uit: Vos, Barend. Die ewigheid in my hart. Lux Verbi 2015, bl 50 (uit Ps 26) Aangehaal in Bybelmedia se Woord en Fees 2017-2018

Toewyding
Flam 130 Here, Ons Here (Psalm 8)
Flam 459 Wat Is Die Mens (Psalm 8)
Lied 241 “Troue Here van my lewe”

Geloofsbelydenis
(Uit die Evangelie van Johannes)
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus,  die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.

Liedere

F24.”As Ek U Hemel Aanskou
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Teks en musiek: Rhe Janse © 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1) (Ps 8)

1. As ek u hemel aanskou –
die werke van u vingers,
maan en sterre aanskou –
dan voel ek so gering, Heer.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na hom omsien?

2. U laat ons heers oor u werk –
die werke van u hande,
dis aan ons onderwerp –
die see, die lug, die lande.
Wat is die mens dan dat u aan hom dink?
Wat is die mens dan dat u na hom omsien?

Refrein:
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar u Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem sy Naam!
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar u Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem sy Naam!
Ons roem u Naam,
Ons roem u Naam!

F130. “Here, Ons Here (Psalm 8)”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Teks en musiek: Piet Smit © MAR Gospel Music Publishers

Here, ons Here
hoe wonderbaar is U Naam,
hoe glansryk die hemelruim,
selfs kinders besing dit saam.

En dié vol wraak wat teen U staan,
word stil en swyg oor wat U doen,
Here ons Here
hoe wonderbaar is U Naam.

Here ons Here,
as ek U handewerk aanskou,
wat is die mens dan
dat U ons veilig onderhou?

Met aansien en met eer gekroon
laat U ons heers oor al U werk,
Here ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam.

F316. “Heer, Onse Heer (Psalm 8)”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Psalm 8 Teks en musiek: Lydia Zimmer;
Afrikaanse Vertaling: Willie Pretorius  © 2007 Celmar Music

Refrein:
Heer, onse Heer,
hoe magtig is u Naam
oor hierdie aarde!
Heer, onse Heer,
hoe magtig is u Naam
oor hierdie aarde!

Sien ek die hemel
die werk van U hand
son, maan en sterre
het U daar geplant,
die hele aarde
en alles wat leef.
Dit is so ongelooflik, Heer,
dat U dit aan ons gee.

Refrein:

Wie is ek, Heer,
dat U selfs aan my dink?
U gee my aandag;
U noem my u kind
U gee my alles;
ek kom niks te kort
en daarom dank ek U,
want U’s die allerhoogste God.

Refrein:

F459. “Wat Is Die Mens (Psalm 8)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof) Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

1. Wat is die mens dat U aan hom dink
die mense kind dat U hom besoek –
wat is die mens?
U laat ons heers oor u handewerk,
skape, beeste, diere van die veld –
wat is die mens?

As ek die hemel aanskou,
u arms wat my toevou
O Here, ons Here
hoe lieflik is u Naam.

Refrein:
U is ons lewe, U is ons vrede.
Laat die hemele bly wees en die aarde juig.
U is ons sterke God
U regeer vir ewig.
Laat die see in sy volheid bruis
U heerlikheid basuin.
O Here, ons Here, hoe lieflik is U naam.

2. Weinig minder as die engele
met heerlikheid en eer gekroon –
wat is die mens?
U gee ons mag oor ons vyande
en niks kan ons verwyder
van u liefde, Heer.

As ek die hemel aanskou,
U arms wat my toevou,
O Here, ons Here,
hoe lieflik is U naam.

Refrein:

Brug:
Here, ons Here, hoe heerlik is u Naam
regoor die aarde, oor alles wat bestaan.
Hoe groot U glorie, die hemelruim besing
die maan en sterre sal met lig u lof besing.
U lof besing,
U helder lof besing.

Refrein:

VONKK 85 “Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8)”
Psalm 8 Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo) Melodie: HENTIESBAAI – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr  – Verwondering

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 1:
Kyk, die hemel en die aarde wys die wonders van u Naam.
Kyk, die maanlig in die aande en die sterre sê dit saam:

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 2:
Al die kinders, selfs die kleinstes, wil oor U kom sing en juig.
Al die mense wat teen U is, sal ook voor U moet kom buig.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 3:
Ons as mense is maar nietig, tog gee U ons roem en eer.
U versorg ons en U kroon ons om u skepping te regeer.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 4:
Al die diere van die aarde het U aan ons toevertrou.
U laat heers ons oor u skepping wat U in u hande hou.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

VONKK 296 “Klap jul hande, o nasies”
Nav Psalm 47 Teks: Clap your hands all you nations – The Iona Cummunity; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2014 ©
Musiek: John L. Bell (1949-) Musiek: MARIUS – John L. Bell (1949-) © English text & music (‘Marius’) by John L. Bell, copyright © 1993 WGRG;  c/o Iona Community, Glasgow G2 3DH, Scotland. www.wgrg.co.uk.
Afrikaans translation by Jacques Louw © 2014 Jacques Louw & WGRG,  c/o Iona Community, Glasgow G2 3DH, Scotland. www.wgrg.co.uk.
RUBRIEK:  Multikutureel – Lofprysing

1. Klap jul hande, o nasies. Amen. Halleluja!
Juig tot eer van sy Naam, sing: Amen. Halleluja!
Hy verdien al ons eer. Amen. Halleluja!
Hy is Koning en Heer. Amen. Halleluja!

2. Voor Hom wil ons kom jubel. Amen. Halleluja!
Dié wat voor Hom kom buig, sing: Amen. Halleluja!
Loof Hom, want Hy is Heer. Amen. Halleluja!
Bring Hom al die eer. Amen. Halleluja!

3. God is Koning vir ewig. Amen. Halleluja!
Hoog verhewe is Hy, sing: Amen. Halleluja!
Buig jul voor Hom nou neer. Amen. Halleluja!
Eer jul Koning en Heer. Amen. Halleluja!

4. Klap jul hande, o nasies. Amen. Halleluja!
Juig tot eer van sy Naam, sing: Amen. Halleluja!
Hy verdien al ons eer. Amen. Halleluja!
Hy is Koning en Heer. Amen. Halleluja!

Engelse teks:
Clap your hands all nations; Amen. Hallelujah!
shout for joy all you people. Amen. Hallelujah!
Holy is the most high, Amen. Hallelujah!
mighty over the earth. Amen. Hallelujah!

2. God subdues every nation; Amen. Hallelujah!
God is king of all creatures. Amen. Hallelujah!
God has given this land, Amen. Hallelujah!
to the people he loves. Amen. Hallelujah!

3. To the shouting in triumph, Amen. Hallelujah!
to the blasting of trumpets, Amen. Hallelujah!
God  has  gone up; Amen. Hallelujah!
God ascends over all. Amen. Hallelujah!

4. Praise the Lord with your singing; Amen. Hallelujah!
God is monarch of all, Amen. Hallelujah!
sov’reign over the earth. Amen. Hallelujah!

5. Those on earth who are mighty, Amen. Hallelujah!<
still belong to our Maker, Amen. Hallelujah!
God exalted on high, Amen. Hallelujah!
God, forever our Lord. Amen. Hallelujah!

F449. “Toe Moeders na Jesus”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en vertroue)  Musiek: Tradisioneel
Teks: P.K. de Villiers © NG Kerk Uitgewers (Halleluja 486); gewysig Nico Bezuidenhoudt (2012) Kopiereg: © Publieke Domein

Toe moeders na Jesus hul kindertjies gebring het
wou Sy dissipels hul belet: ”Gaan weg van die Heer!”
Maar Jesus het hul weg sien gaan
en spreek hul o, so vriendlik aan:
“Laat, o laat, die kindertjies na My toe kom”.

Want Ek sal hul aanneem
en vashou in my arms.
Ek sal die kindertjies bewaar vir my, ja vir my.
’n Kind wat my sy hartjie gee sal ek die ew’ge lewe gee.
Laat, o laat, die kindertjies na My toe kom.

VONKK 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”
Teks: What a Friend we have in Jesus – Joseph  Scriven 1819-1886; Welk een vriend het ons in Jesus – Halleluja 1903;
Halleluja 1931; gewysig Jacques Louw 2010 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musiek: CONVERSE – Charles Crozat  Converse 1832-1918 Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

Wat ‘n vriend het ons in Jesus –
Hy wat in ons plek wil staan.
Wat ‘n voorreg om gedurig
in gebed na Hom te gaan.
Hoe verbeur ons soms die vrede,
kom ons in vertwyfeling –
net omdat ons nie ons swaarkry
in gebed na Hom toe bring.

As versoeking en beproewing,
of as hartseer oor ons kom,
laat ons nooit mismoedig word nie,
maar ons kommer bring na Hom.
Nêrens is ‘n vriend getrouer –Hy wat van ons swaarkry weet.

Jesus staan met ware deernis
altyd tot ons hulp gereed.

As die sorge van die lewe
of bekommernis ons kwel,
bly die Heer ons beste toevlug –
alles kan ons Hom vertel.
Wanneer ander ons teleurstel,
soek ons in gebed die Heer.
Jesus troos ons met sy liefde,
Hy verstaan ons hart se seer.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 294 Jesus roep die kindertjies of
Flam 449 “Toe Moeders na Jesus “[bekend]

Skriflesing: Hebreërs 1:1-4, 2:5-12

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die Seisoen van Luister preekstudie vir 2008 stel die volgende voor nav Hebreërs 1:1-4:
Kry ’n klomp goed waardeur ons met iemand praat: ’n telefoon, selfoon, tweerigting radio, “pager”, megafoon, jy kan selfs die blikkies met toutjies in verduidelik en demonstreer.

Wat is die nadeel van al hierdie instrumente?  Net een op ’n slag kan praat.
God het die beste manier waardeur hy met ons praat.  Sy naam is Jesus en Sy praat was ook wys.
Doen ’n demonstrasie met die volgende boodskap:  “Ek is lief vir jou”.
As jy tweerigting radio’s kan kry, gaan dit die beste effek hê.

Laat iemand van buite die vertrek vir iemand binne roep en sê:  “Ek is lief vir jou… oor.”  Die ander een moet dit dan ontvang met: “Hoor ek reg dat jy vir my lief is…?  Oor.”  “Ja ek bedoel dit, ek is regtig lief vir jou… oor”.  “Baie dankie, ek het jou boodskap baie mooi ontvang… oor en uit.”

Laat die eerste persoon dan van buite af by die vertrek instap en sy/haar arm om die ander een sit en weer sê: “Ek is lief vir jou” en dan ook ’n drukkie gee.  Die effek is net heeltemal anders.

Preekriglyn

Die boek Hebreërs is eerder ‘n preek, “‘n woord van aansporing” (13:22), as ‘n brief. Dit is ryk in simboliek, met ‘n duidelike fokus: volharding in die geloof. Die oproep in Hebreërs is direk en persoonlik. Dit moedig gelowiges aan om aan Christus te bly vashou en te volhard in geloof.

Wie Jesus is

Hebreërs begin met ‘n sterk bevestiging van wie Jesus Christus is.

Reg aan die begin word die werk van Christus aangedui as goddelike spreke. Dat God praat, is die fondament van God se openbaring. So word God bekend aan ons: God praat met ons.

In ons teks word gesê God se woorde in en deur Jesus Christus sit God se woorde deur die profete voort. Dit is ook veel meer as God se woorde deur die profete. Voorheen (in die Ou Testament) het God op baie verskillende maniere en tye gepraat. Maar nou is daar ‘n radikale nuwe manier God praat: God praat deur die Seun.

God se Seun het ‘n verhewe status. Hy het ook ‘n rol wat ver verhewe is bo sy aarde status:

  • Hy is die erfgenaam van alle dinge;
  • Hy is die Een, die werktuig, deur wie God alles gemaak het.

Dit is God wat Jesus, deur wie Hy alles gemaak het, aangestel het in sy rol (2). Dit gebeur in die “hierdie laaste dae” (2), wat aandui dat die nuwe wêreld wat God bring nou reeds aanbreek.

Wees en doen

Jesus se identiteit word verder uitgespel in terme van wie Hy is en wat Hy doen (3):

  • Hy weerspieël die heerlikheid van God (“Uit Hom straal die heerlikheid van God”);
  • Hy is die presiese afdruk van die wese van God (“Hy is die ewebeeld van die wese van God”)

Hier opmerkings spel uit dat Jesus God is, maar ook onderskei moet word van die Vader. God en die Seun is onderskeie persone, maar tog maak die Seun die heerlikheid en wese van God bekend.

Die skrywer gaan selfs verder: Die Seun deel in die skeppingsmag en kreatiwiteit van God. Deur sy magtige woorde hou Hy alles wat bestaan in stand. God hou die wêreld in stand deur die magswoord van sy Seun. Net soos die wêreld deur die woorde van God geskep is, net so word dit bewaar en bestaan die wêreld deur die woorde van die Seun.

Reiniging van sondes

Die Seun, wat die beeld en woord van God is, het ook die reiniging van sonde bewerkstellig. Die wonderlike rykdom van wie die Seun is en doen, word verder opgestapel. Die Seun gee ook sy lewe as versoening vir ons sonde.

As gevolg hiervan word Hy verhef tot aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hy neem ‘n ereplek langs God in. Hy deel in die majesteit van God (3). Hy is ook hoog verhewe bo die engele, as Seun ontvang Hy ‘n Naam by God wat veel heerliker is al hulle naam (4).

Omvattende beskrywing

Hierdie vier verse gee ‘n omvattende en wonderbaarlike beskrywing van die wese en werke van die Seun van God. Hierdie beskrywing strek terugwaarts in die geskiedenis, tot by die skepping, en strek aan die ander kant vorentoe tot by die voleinding van alles:

  • Terugwaarts:
    God skep deur sy woord
    God praat deur die profete
    God praat deur sy Seun
    God hou die wêreld dag vir dag in stand deur sy Seun,
  • Vorentoe:
    In die Seun breek die laaste dae (‘n nuwe era aan)
    Die Seun hou alles in stand >
    Die Seun weerspieël die heerlikheid van God
    Die Seun is erfgenaam van alles.
Engele en mense

‘n Belangrike tema verder is hoe die heerlikheid van die Seun die heerlikheid van die engele oortref.

In hoofstuk 2 verse 5 tot 12 word hierdie tema verder uitgewerk. Die engele het ‘n rol te speel in die wyse waarop God die wêreld bestuur. Tog oortref Jesus en sy werk die engele ver. God het nie die wêreld aan engele onderwerp nie, maar aan Christus. Christus het die heerlikheid verwerf deur sy lewe vir mense te gee.

Op hierdie manier vervul Jesus God se bedoeling met die mensheid. Jesus doen dit nie deur mense opsy te skuif nie, maar deur tussen mense te kom woon, en hulle Leidsman tot heerlikheid te word.

Die tipiese manier waarop mense van die Hebreërbriefskrywer se tyd die Ou Testament hanteer het, word ook in ons teks gebruik. Psalm 8 word aangewend om oor die lewe van Jesus te getuig.

Psalm 8 praat oor die verhewe status van mense. Die mens is minder as engele geskape, maar is deur God met heerlikheid en eer gekroon. Tog het mense nie hul goddelike doel bereik nie. Aangesien mense nie kon nie, het Christus ingetree en God se doel vir mense as die volmaakte mens vervul.

Christus kon dit doen omdat Hy volmaak gehoorsaam aan God was. Hy het die mens se hoogste doel bereik deur sy lewe vir mense af te lê. Hy het vir mense mens geword, doelgerig vir hulle gesterwe, en hulle uit die slawerny van die dood bevry.

Deur sy sterwe het Christus heerlikheid en eer verkry. Op hierdie manier open Jesus die weg vir mense om ook – deur sy dood hen – eer en heerlikheid te verkry. Hy, die Leidsman tot die verlossing, bring mense deur lyding heen tot uiteindelike volmaaktheid.

Jesus is inderdaad veel heerliker as die engele. Ons het die voorreg dat ons in Hom in hierdie heerlikheid kan deel.

Openbaring van God

Wanneer mens hierdie gedeelte uit die Hebreërbrief lees, word jy oorweldig met die grootsheid van God se openbaring in Jesus Christus. Ons teks stel ons bekend aan die Seun van God, wat die gedagtes van God vir ons bekendstel. Hierdie Seun het ons van ons sonde gered, en regeer nou as verhoogde en verheerlikte Here aan die regterhand van God oor ons lewens.

Dit is veral Jesus as openbaring van God wat ons aandag in hierdie teks aandag boei:

  • Vir Christene is God se openbaring progressief. Aan die eenkant openbaar God Hom in die natuur, en leer ons God se mag en heerlikheid ken.
  • Ons het ook in die Bybel God se besondere openbaring aan Israel. Ons lees daarvan in die Wet en Profete van die Ou Testament. Hier leer ons van God se beloftes en onderrig, God se bedoeling met God se wêreld, en God se oordeel oor onreg en ongehoorsaamheid. Dit is ‘n onmisbare deel van God se besondere openbaring aan ons.
  • Die hoogtepunt van God se besondere openbaring ontmoet ons in Jesus Christus. Jesus is in die volste sin van die woord die Woord van God.

God se openbaring kom van buite na ons. Dit verlig ons, red ons, maak ons nuut, bewaar ons, rig en lei ons, en neem ons mee na die heerlike toekoms wat God vir ons weggelê het. Dit alles gebeur in Jesus, die hoogste openbaring van God.

Leef uit die openbaring

Terwyl ons met God onderweg is, wag ons ook op die openbaring van die heerlikheid van Christus aan die einde van die tye. Dan sal ons die status en oorwinning wat die Seun van God aan kruis, in oop graf en by hemelvaart bereik het, in sy volle heerlikheid sien.

Tot dan leef ons in die lig van die finale en volmaakte openbaring wat in die Seun aan ons gegee is. Teoloog William Abraham skryf:

Ultimately we hear no other word, attend to no other voice, and accept no other message than that given here. To accept this revelation is to cease one’s searching. In coming to terms with the manifestation of God through the Son, we now believe that we have knowledge of God. We no longer are weighing our options or hedging our bets; the times for sifting the options and sorting through the data have passed. We have left the world of human opinion and entered into the manifested knowledge of God. We have crossed the Rubicon of faith and taken up residence in the city of God. We now inhabit a new world, the glorious world of God made available to us in the Son.

Die Bybel leer ons om alles in die lig van die Seun van God te sien. Die skepping self is die produk van sy skeppende handewerk en sy lewegewende woord. Die oorsprong en die toekoms van die wêreld is in die Seun se hande.

Geen terugkeer

Die Hebreërbrief is daarom so oortuig dat daar geen terugkeer na die wêreld voor en buite Jesus om in nie. Ona kan nie eers na die Ou Testament terugkeer asof Jesus nie gekom en die lig van God selfs helderder oor alles laat skyn nie.

Die versoeking vir die Nuwe Testamentiese kerk, die lesers van die Hebreërbrief, was om terug te keer na die gebruike van die Joodse geloof. Die Hebreërbrief is ‘n kragtige argument dat ons nie kan terugkeer na ‘n wêreld sonder ons getroue Hoëpriester, Jesus Christus, nie. In Hom kry die Wet en Profete hulle volle betekenis. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God (3).

Dit beteken dat die openbaring van God nie bloot kennis is nie. Dit is nie iets waaroor ons in die eerste plek beskik nie. Die openbaring van God, die waarheid van God, is ten diepste ‘n Persoon. Ons het nie in die eerste plek ‘n greep op die waarheid nie. Die Waarheid het ‘n greep op ons.

Druk om af te wyk

Op baie plekke in die Nuwe Testament, ook in die Hebreërbrief, word druk op gelowiges beskryf. Druk om af te wyk van Jesus Christus as hoogtepunt en dieptepunt van God se openbaring. Op baie plekke was die druk om terug te gaan na die Jodendom soos dit voor Christus bestaan het. Daar was ook druk om na die afgode of menslike wysheid of kennis terug te draai.

Dalk is die druk op ons om die openbaring in Christus agter te laat vandag ietwat meer subtiel. Maar die druk is nie minder werklik nie:

  • Sommige beskou vashou aan die openbaring van God in beginsel as fundamentalisme – mens is nie veronderstel om op iets van buite te vertrou nie, jy gee self sin aan jou bestaan;
  • Vir ander is die Bybel en godsdiens bloot ‘n menslike skepping. Ons het God en die gode geskep. Dit is net in ons verbeelding dat Jesus opgestaan het uit die dood, of van God af kom;
  • Nog ander hou godsdiens vir alle geweld in die wêreld verantwoordelik, en wil daarom niks met kerk en God te doen hê nie – hoe die geskiedenis ook al getuig van die wonderlike seën wat die dien van die Here vir miljoene meegebring het;
  • Sommige sien godsdiens as onwetenskaplik, ‘n krag wat ons in die donker hou – sonder om die historiese feit te erken dat die kerk geboorte gegee het aan die beste universiteite wat die wêreld nog opgelewer het nie;
  • Godsdiens is intellektuele luiheid, dit is om dinge oppervlakkig deur gode se betrokkenheid te verklaar, is ‘n siening wat mens ook hoor.
  • Vir baie is godsdiens maar ‘n versameling privaat oortuigings wat mens het, ver verwyderd van die feite wat in die openbare en publieke lewe geld – asof Christus nie die belangrikste historiese feit in die wêreld se geskiedenis is nie, ‘n feit wat vir alle mense van die grootste belang is nie.

Dit is tyd dat ons die openbaring van God opnuut waardeer en daaraan vashou. Alles wentel om die werklikheid van Jesus Christus wat God in die wêreld se geskiedenis kom openbaar, en vir ons versoening met God gebring het. Die implikasies hiervan vir die wêreld is die inhoud van die kerk se getuienis oor Jesus die Here.

Lofprysing

Die Hebreërbrief se getuienis oor Jesus laat mens met verwondering oor God en Jesus. Dit is verstommend dat God in Jesus op die aarde aangekom en vir ons verlossing bewerk het. Dit is verruklik dat Jesus ons Broer en Leidsman na die lewe is. Daarom is ons diepste en hoogste lofprysing aangewese reaksie op hierdie teks.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 104 Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus [bekend]
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”

Seën

Respons: Lied 215 vers 4 laast twee reëls: En eer hom, daagliks, oral – Christus is die Heer!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.