Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Joël 2:23-32
23Inwoners van Sion, julle moet bly wees
en juig tot eer van die Here julle God,
want Hy het die reëns betyds laat kom,
Hy het die vroeë en die laat reën
soos voorheen gegee.
24Die dorsvloer lê vol koring,
die parskuipe loop oor
van wyn en olie.
25Ek sal julle vergoed vir die tyd
van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm
toe my groot leër
wat Ek teen julle gestuur het,
julle verteer het.
26Julle sal oorgenoeg hê om te eet,
julle sal die Naam van die Here julle God
prys,
Hy wat wonders vir julle gedoen het.
My volk sal nooit weer
in die skande kom nie.
27Dan sal julle besef
dat Ek by Israel is,
dat Ek die Here julle God is,
dat daar buiten My
nie ’n ander is nie.
My volk sal nooit weer
in die skande kom nie.
28Wanneer dit alles gebeur het,
sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters
sal as profete optree,
julle oumense sal drome droom,
julle jong mans sal visioene sien.
29In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.
30Ek sal tekens gee,
in die hemel en op die aarde:
bloed, vuur en rookwolke.
31Die son sal donker word,
die maan bloedrooi
en dan sal die groot,
die vreeslike dag van die Here kom.
32Elkeen wat die Naam van die Here
aanroep, sal gered word.
Op Sionsberg en in Jerusalem
sal daar uitkoms wees.
So het die Here beloof.
Dié wat deur die Here geroep is,
is by dié wat gered is.

Psalm 65
Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
’n Lied.
2Aan U, o God, kom ’n lofsang toe
in Sion:
geloftes moet betaal word
3aan U wat die gebed verhoor.
Na U toe sal alle mense kom
4om hulle skuld te bely.
Ons sondes het ons ingehaal,
maar U maak ons daarvan vry.
5Dit gaan goed met die mens
vir wie U uitkies
en laat naderkom
om in u tempel te bly.
Laat ons die goeie dinge in u huis
in oorvloed geniet,
die goeie dinge in u heilige woning.
6In u trou antwoord U ons
met kragtige dade,
o God, ons Verlosser,
op wie ook die mense in afgeleë lande
en op verre seë vertrou.
7U is met mag omgewe,
U laat deur u krag die berge vas bly staan;
8U laat die gedruis van die see,
die geraas van die golwe,
die rumoer van die nasies bedaar,
9sodat ook die mense in afgeleë lande
ontsag kry vir die tekens van u mag;
in die ooste en in die weste
laat U die mense juig.
10U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water,
U laat die koring welig staan.
Alles is u werk!
11U maak die ploegvore vol water
en die kluite nat,
U laat hulle sag word van die reëns,
U laat alles welig groei.
12U kroon die jaar met u goeie gawes.
Waar U ook gaan,
is daar oorvloed!
13Daar is volop weiding in die woestyn;
die bulte juig,
14die velde wemel van die kleinvee,
die vlaktes staan vol koring;
hulle juig en hulle sing.

2 Timoteus 4:6-8, 16-18
6Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. 7Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

16Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! 17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered.

18Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.

Fokusteks

Lukas 18:9-14
Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.’

13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 387 of Lied 167

Votum: Nav Lied 477:1 of Psalm 65:5

Seëngroet: Lied 447:2 of Trinitaries

Lofsang: Psalm 65 of Lied 205

Wet

Verootmoediging: VONKK 10 of Lied 246 of Lied 247 of Flam 5

Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis: Vonkk 341

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 18:9-14

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 182 of Lied 510 of Lied 514

Seën

Respons: Lied 286

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 387 Hier is U kerk of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Votum
Ons sing in Lied 477:1:
Hou Christus self sy kerk in stand-
vergeefs die hel se woede.
As Here aan Gods regterhand
regeer Hy ons ten goede.
Hy is in alle leed
steeds tot ons hulp gereed,
bewaak die Christendom,
en waar die vyand kom,
stuit hy die bose woede.
OF
Psalm 65:5
5Dit gaan goed met die mens
vir wie U uitkies
en laat naderkom
om in u tempel te bly.
Laat ons die goeie dinge in u huis
in oorvloed geniet,
die goeie dinge in u heilige woning.

Seëngroet
Wees daarom ook vanoggend gegroet met die woorde van dieselfde lied (v2):
O Christen wat op hom vertrou,
u moet geen onheil vrees nie.
Sal hy wat sy gemeente bou,
ons nie ’n toevlug wees nie?
Hy, oor die toekoms Heer,
waak oor sy Woord en eer – 
hy gee geduld in nood
En krag en moed in dood.
Moet geen bedreiging vrees nie.
OF
Genade en vrede vir julle van God die Vader en van God die Seun en van die Heilige Gees.

Lofsang
Psalm 65 of
Lied 205 “Bring lof aan die Vader”

Wet
Voorganger: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente: Dat ek met liggaam en siel
in lewe en in sterwe
nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort.

Voorganger: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Gemeente: Drie dinge:
eerstens, hoe groot my sonde en ellende is;
tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word
en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Voorganger: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente: Uit die wet van God.

Voorganger: Wat vra die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Voorganger: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente: Nee, want ek is van nature geneig
om God en my naaste kwaad aan te doen.

Verootmoediging
VONKK 10 Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed) of
Lied 246 “Wees my genadig” of
Lied 247 “Heer, wees ons genadig” of
Flam 5 Daar Is Geen Grens [bekend – Steadfast Love]

Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis
Om gereformeerd te wees, staan vir ons op vier bene.  Ons sê ons word NET deur Jesus gered – solus Christus.  Die enigste manier waarop ons deel kry aan die redding in Christus, is deur geloof – sola fide.  Die enigste manier waarop ons geloof ontvang, is deur genade – sola gratia.  Hoe ons dit weet, is deur die Bybel – Sola Scriptura.

SOLA SCRIPTURA
Liturg (NGB Art 2):  Ons ken God deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Gemeente (NGB Art 5a): Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig.

SOLA GRATIA
Liturg (Ef. 2:8):  Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.
Gemeente (HK Antw 60):  God skenk aan my sonder enige verdienste van my kant uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus.

SOLA FIDE
Liturg (Ef. 2:8):  Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.
Gemeente (NGB Art 22):  Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is.

SOLUS CHRISTUS
Liturg (HK Ant 29):  Christus, die Seun van God, word genoem: Jesus, wat Verlosser beteken, omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie.
Gemeente (NGB Art 21):Ons bely daarom dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie.

Liturg:  Soli Deo Gloria!
Gemeente:  Aan God al die eer!

Lied
Vonkk 341 “Sola Scriptura” (bekende Melodie – ‘n Vaste Burg)

Liedere

F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen Musiek:  Neil Büchner © 2011  Flam Musiek-Uitgewers

1. Hier is u kerk, U stel ons aan
Ons is gekies, U gee ons u guns
Laat u Gees oor ons elkeen kom
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
Net soos dit is, dat mense dit ken
Laat u Gees oor ons elkeen kom

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
Waar ons is u liefde bring
Elke mens sien as u tempel
Deur genade, u goedheid bewys
Waar U kerk van u liefde getuig

Hier is u kerk
(Ons is gekies)
Hier is u kerk

(Ons is gekies)
Hier is u kerk

VONKK 10 “Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed)”
Lukas 18:13 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: TOLLENAAR – Jannie Hougaard  © en Francé Ludik  © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!
Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!

F5. “Daar Is Geen Grens”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love  Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration  (Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

VONKK 341 “Sola Scriptura”
(geskryf met die oog op die 500-jarige herdenking van die Hervorming op 31 Oktober 2017)
Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2016 ©;  Engelse teks: Gertrud Tönsing 2016 ©
Melodie: Ein feste Burg – Martin Luther 1529, melodies aangepas 2001 Orrelbegeleiding 1: HPA Coetzee 1976.
Orrelbegeleiding 2: Daleen Kruger (Pro Deo)  Orrelbegeleiding 3 (slotvers): Neil van der Watt
Kantoryverwerking 1: GG Cillié 1980 – uit Kom loof die Heer – Deel 2 (gewysig). Met toestemming NG Kerk-Uitgewers
Kantoryverwerking 2: Harmonisasie deur Johann Sebastian Bach (1685-1750)
Kantoryverwerking 3: Martin Luther 1529 (met oorspronklike ritme)
© Teks en orrelbegeleidings: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Kantoryverwerking 1: NG Kerk-Uitgewers 1982
© Melodie en kantoryverwerkings 2 en 3: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Geloofsbelydenis /   Die Kerk / Geloof en Vertroue

1. Sola Scriptura! God se Woord
is deur die Gees geïnspireer.
Geen mensewoord, geen kerkgesag
kan God se wil so aan ons leer.
Ons glo uit God se Woord
vloei God se redding voort.
Hy openbaar sy wil
en hoe ons dit vervul,
Sola Scriptura, net sy Woord.

2. Dis Sola Gratia, net alleen
genade wat ‘n sondaar red.
Geen mens sal dit ooit kan verdien
deur onderhouding van die wet.
Hoe hard ons self probeer,
ons faal maar telkens weer.
Geen mens uit eie krag
kan redding ooit vermag –
net sy genade kan my red!

3. Sola Fide! Dis net geloof
waardeur ons redding kan verkry.
Niks wat ons doen, niks wat ons gee,
kan ons voor God regverdig maak.
Die Gees werk deur die Woord
en bring geloof so voort;
genade word ons deel,
gebrokenheid word heel;
dit deur geloof – Sola Fide!

4. Net Jesus Christus, Hy alleen
kan intree as ons Middelaar.
Net Hy alleen betaal die prys –
ons buig voor Hom, ons Voorspraak, neer.
Geen sonde wat ek doen,
sal Hy nie kan versoen.
Geen offer wat ek gee,
maak ooit sy liefde meer.
Net Solus Christus! Hy alleen!

5. Ons eer U, Vader, as ons God
wat deur die Woord in ons wil werk.
Ons prys u Naam, besing u Seun.
U Gees maak van ons God se kerk.
Soos wat u Woord ons leer,
besing ons keer op keer,
met eerbied en ontsag,
die grootheid van u mag.
Sing: Soli Deo Gloria!

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklik: Rock of Ages Teks: Augustus M Toplady
Musiek: Thomas Hastings Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe © Jack Publishing

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:

3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 18:9-14

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Oorweeg gerus om die heerlike storie van die kluisenaar en die muis te vertel:  ‘n kluisenaar red ‘n muis wat amper deur ‘n voël geëet is.  Soos wat meer en meer diere die muis wil vang, verander die kluisenaar die muis in al groter diere.  Uiteindelik is die muis ‘n tier, wat vergeet dat hy eintlik ‘n muis is wat van die kluisenaar se gesekenke afhanklik is om hom veilig en beskerm te hou.  Sy trots veroorsaak dat hy vergeet wie hom help.  Hier is ‘n video van die oulike storie.

Carolyn Brown stel voor dat jy die gebed en boodskap vaslê met handgebare.  Gebruik of net jou eie hande, of nooi almal om saam met jou te wys.  “Hold one hand palm cupped up to hold the truth that God loves us.  Briefly describe God’s creation of each one of us with our special gifts and talents.  Keep that cupped hand in place while raising the other hand up in the same position to hold the truth that we are each one of us sinners.  Move your hands up and down in relationship to each other to note that on some days we feel more loved and lovable and on other days we feel more sinful.  Then fold the hands together as if in prayer.  Jesus tells his listeners to be honest with God.  When we come to God honestly admitting our sins and trusting that God loves and forgives us, we are OK with God – and also OK with ourselves and the people around us.”

Sermons 4 Kids stel voor dat jy die oulike Yertle the Turtle gebruik.  Hier is ‘n video van dié snaakse Dr Seuss storie. Hier is ‘n inkleurprent.

As jy eerder op Hervormingsondag wil fokus, herhaal ons die voorstelle van 2017:
As julle dit nog nie het nie, skaf Bybel-Media se Saamkleurpret oor die Sola’s aan. (Dis ‘n elektroniese produk, so jy kan dit vinnig hê.)  In kleiner gemeentes kan jy die prente groot druk en op ‘n tafel (of  die vloer!) voor in die kerk sit, sodat kinders tydens die diens kan sit en inkleur.  Daar is ook lekker stories oor reformatore, wat jy hier kan vertel.

Ons het in 2012 en in 2015 voorgestel dat jy die verhaal van Luther vertel mbv akteurs.  As jy dit nog nie gedoen het nie, is vanjaar natuurlik die perfekte geleentheid!  Hier is dit weer:

Vertel die verhaal van die reformasie met behulp van ‘n kort “toneelstuk”.
Jy benodig:
• Akteurs: Maartin Luther; keiser, twee ontvoerders
• Tafel en stoel
• Groot Bybel
• papier
• hammer
• deur (enige plat oppervlak voor in die kerkgebou)
• skryfding
• klomp boeke
• vuurhoutjies
• kombers
• tweede stoel aan ander kant van ruimte
• pakkie papier

Lees die verhaal terwyl die “akteurs” die gebeure opvoer:
Daar was ‘n tyd dat mense nie hulle eie Bybels gehad het nie.  Die Bybel was net beskikbaar in Grieks/Hebreeus en Latyn.  Mense het nie Bybels in hul huise gehad nie.  Die Bybel was weggesteek in universiteite en kerke.  Ek wil julle vanoggend voorstel aan iemand wat baie gedoen het om dit te verander.  Sy optrede het gemaak dat ons vandag Bybels kan hê en Bybels in ons eie taal kan lees.
• Maartin Luther kom staan regs voor in liturgiese ruimte.

Sy naam Maartin Luther.  Hy is gebore in 1483 (baaie lank gelede!)  in Duitsland.  Hy het eers regte studeer, maar tydens ‘n vreesaanjaende storm besluit hy om ‘n priester te word.

In 1507, toe hy 24 jaar oud was, word hy ‘n priester – en sien vir die eerste keer in sy lewe ‘n Bybel!
• Luther gaan sit by tafeltjie.  Maak Bybel oop en blaai verwonderd daardeur.

Later word hy ‘n professor in teologie by Wittenberg Universiteit, asook ‘n priester by Wittenberg se kerk.

Terwyl hy die Bybel bestudeer, maak Rom 1:17 ‘n groot indruk op hom:  dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”  Hy begin besef dat dinge nie reg is in die kerk nie.

Op 31 Okt 1517 preek hy oor die goed wat verkeerd is, skryf ‘n brief waarin hy 95 goed lys, pos dit vir ‘n paar vriende, en hammer dit aan die kerk se deur vas.
• Luther staan op, hammer papier met stellings iewers vas.
• Bly staan en kyk na stellings.

Hy het nie vreeslike groot reaksie verwag nie.  Maar dit het soos ‘n veldbrand versprei – mense het kopieë gemaak.  Almal het daaroor gepraat.  Party mense het met hom saamgestem, ander het van hom verskil.

Die Kerk van daardie tyd het gedink hierdie priester maak moeilikheid, en besluit om hom aan te spreek.

Maar die kopieë het aanhou versprei.  Daarom besluit Luther om te verduidelik wat hy bedoel het.
• Luther gaan sit weer by tafeltjie,
• Skryf.

Luther sê hy wou net verkeerde dinge regstel, hy wou nie moeilikheid veroorsaak nie.  Maar die Kerk begin ‘n ondersoek teen Luther.  Intussen raak Luther al meer oortuig van sy saak.

In 1520 verbrand Luther in die openbaar ‘n klomp van die kerk van die tyd se belangrike boeke.
• Luther staan op, vat boeke van lessenaar af, gooi op hoop, trek vuurhoutjie en gooi op boeke – skud vuurhoutjie met gooi-slag, sodat dit doodgaan.
• Bly staan, kyk na hoop boeke.

Die Kerk ekskommunikeer vir Luther.  Dit beteken dat hy nie meer ‘n lidmaat van die kerk mag wees nie.  In Luther se tyd was dit baie erg, want daar was net een kerk!  Hy kon nie na ‘n ander kerk toe gaan nie.

Luther is ook gestuur om die keiser te gaan sien.  In 1521 het hy die keiser twee maal gesien.  Die keiser sê Luther moet sy woorde terugtrek.  Maar Luther sê elke keer nee.
• Luther gaan staan voor kansel,
• Keiser verskyn op kansel, Wys vinger vir Luther,
• Luther skud kop.

Toe die keiser klaar met Luther gepraat het, het hy hom voëlvry verklaar.  Dit beteken enigiemand kan Luther maar vermoor, hulle sal nie gestraf word nie!  Terwyl Luther op pad terug huis toe was, het van sy vriende gereël dat Luther ontvoer word.
• Twee mense kom,
• Gooi lap oor Luther se kop,
• Vat hom na kant van liturgiese ruimte
• Haal lap af.

Dit was sodat hy kon ontsnap.  Niemand het geweet waar Luther is nie.  Party mense het selfs gedink Luther is dood.  Maar Luther is gevat na Wartbrug, waar hy sy baard laat groei het, sy hare laat groei het en homself Junker Jörg genoem het
• Luther gaan sit by vêrste stoel, skryf op pakke papier.

In hierdie tyd vertaal hy die Nuwe Testament in Duits.
Intussen het die mense met Luther saamgestem het, voortgegaan in Wittenberg.  Ons noem dit die Reformasie.  Dit is waar ons kerk vandaan kom.  Dit is ook waar die Bybel vir die eerste keer in mense se eie taal beskikbaar was.  Dit is as gevolg hiervan dat ons vandag Bybels kan hê en kan lees.

Preekriglyn

Jesus het pas tevore die dissipels geleer om volhardend te bid vir die koms van die koninkryk (ons het verlede week hierby stilgestaan). In hierdie gelykenis stel Hy die vereistes vir toegang tot die koninkryk van God aan die orde. In die gelykenis is daar twee karakters, twee gebede en twee uitkomste. Mense het gewoonlik na die tempel gegaan om te offer, om onderrig te ontvang vir gebed.

In ons teks kom twee verskillende mense by die tempel aan om te bid. Hulle kom uit verskillende agtergronde.

Fariseërs

Die Fariseër verteenwoordig een van die drie belangrikste Joodse godsdienstige sektes in die tyd van Jesus. Die ander twee groepe was die Sadduseërs en die Esseners. Die Fariseërs was teenwoordig in feitlik elke Joodse dorp, maar hulle het ‘n voorkeur gehad vir Jerusalem, aangesien die tempel daar was. Kenmerkend van die Fariseërgroep was hulle streng wettiese ingesteldheid en dat hulle waarskynlik die mees invloedryke groep in die Joodse samelewing was.

Hulle was gesteld op die nakoming van die wet van Moses. Dit het hulle selfregverdig, skynheilig en formalisties gemaak. Dit is dieselfde groep wat Jesus ter dood veroordeel het.

Daar is ook na hulle verwys as regsgeleerdes, omdat hulle die wet so goed geken het. Die mense het na hulle geluister en het respek vir hulle gehad, totdat Jesus sy verskyning op die toneel gemaak het. Tussen die waarheid wat Jesus verkondig en dit wat die Fariseërs verkondig het, het spanning en stryd ontstaan. Mense het na Jesus begin luister en Hom begin volg. Dit het die Fariseërs se ego geknou.

Tollenaars

Die tollenaar was deel van ‘n ander sosiale groep. Tollenaars was Joodse burgers wat Romeinse huurlinge geword het om belasting vir die Romeinse owerhede in te vorder. Hulle was korrup en gehaat onder die Jode omdat hulle hulle eie volksgenote uitgebuit het.

Twee gebede

In ons gelykenis betrek Jesus een van hierdie tollenaars en laat die tollenaar die onverwagse in die tempel doen, naamlik om te bid. Dit was ‘n ongewone daad. ‘n Tollenaar wat die tempel binnekom om te bid, was nie die gebruik in die tyd nie.

Jesus beklemtoon die verskil tussen die twee gebede. Hy wys ook op die gebedshouding van die twee karakters in die gelykenis.

Die Fariseër staan regop, heel waarskynlik voor in die tempel – sigbaar en selfs vertonerig, terwyl die tollenaar ver staan en homself uit die openbare oog probeer hou.

Inhoud verskil

As hulle begin bid, is die inhoud van hulle gebede opvallend en dramaties verskillend. As die Fariseër begin bid, praat hy met homself. In die Griekse teks staan daar letterlik dat hy met homself gepraat het. In sy gebed bely hy nie sy sondes nie, want hy reken hy het geen sonde nie. Hy bid ook nie om vergiffenis nie. Hy vergelyk homself eerder net met die tollenaar wat in sy oë korrup en gehaat is. Dit laat hom volgens sy verstaan beter lyk voor God. Die Fariseër hou sy goeie werke voor aan God. Hy verklaar homself regverdig voor God en sê eintlik vir die Here: “Ek vaar selfs beter as die wet, want ek vas twee keer ‘n week, terwyl die wet maar net een keer ‘n week vereis.”

Die tollenaar daarenteen het net behoefte om met God kontak te maak. Hy weet God is in die tempel. Daarom maak dit nie saak waar in die tempel hy staan nie. Hy is desperaat. Hy beroep hom in alle nederigheid op God se genade. Vandaar sy gebedshouding. Hy vergelyk hom met niemand anders nie. Daar is slegs ‘n eenvoudige pleidooi tot God. In die Griekse teks staan daar net: “Here wees genadig teenoor my, sondaar.”

Uitkoms

Wat is die uitkoms van die twee gebede? Die Fariseër het met niks van die tempel af teruggekeer nie, sy selfgemaakte goeie hoedanighede ten spyt. Die tollenaar word deur God onskuldig verklaar en sy sondes vergewe. Hy het verantwoordelikheid geneem vir sy sondetoestand. Hy ontvang God se genade deur Jesus Christus. Sy straf word oorgedra na Jesus Christus, wat sy sonde dra, en wat deur die Fariseërs verwerp is.

Hervormingsfees

Ons vier vandag die Hervorming wat op 31 Oktober 1517 begin het toe Martin Luther sy 95 stellings teen die deur van Wittenberg se vestingkerk vasgekap het. God se vrye genade vir die sondaarmens is die sentrale tema van die Reformasie.

Ons Skrifdeel beklemtoon een van die Reformasie se solas, naamlik die belydenis dat die mens deur God se genade alleen gered word (Sola Gratia).

Sola  is die Latynse woord wat “alleenlik” beteken. Die Reformasie word gekenmerk deur ‘n aantal Solas:

  • Sola gratia – deur genade alleen
  • Sola Scriptura – die Skrif alleen is die bron van kennis oor ons verlossing en die rigsnoer vir ons dankbare lewe
  • Sola Fide – geloof alleen
  • Solus Christus – Christus alleen, en
  • Soli Deo Gloria – eer aan God alleen.

Soos gesê, plaas ons teks die klem op die vrye, tog duurgekoopte genade van God aan onverdienstelike sondaars.

Selfgenoegsaam

Die Fariseër het klaarblyklik nie opreg behoefte gehad om God se genade te soek nie. Hy was in sy eie oë reeds deur sy eie “onkreukbare” optrede geregverdig. In terme van sy uitleg en toepassing van die wet doen hy alles reg. Hy praat wel met God, maar nie omdat hy God nodig het nie. Hy is eerder selfgenoegsaam dankbaar dat hy so ‘n goeie mens is, sonder sonde.

Dit is ewe opvallend dat hy binne hoorafstand van alle tempelgangers sy gebed aanhef. Daar is weliswaar niks geheimsinnig omtrent sy lewe nie. Hy steek niks weg nie en het blykbaar niks om weg te steek nie. Hy lei immers so ‘n onbesproke en regverdige lewe. Die Fariseër wil hê almal moet hoor hoe goed hy is en watter goeie lewe hy lei. Maar eiegeregtigheid is sonde wat uit hoogmoed vloei. Dit is ‘n lewenshouding waarin God oorbodig is.

Die Fariseër se gebed tot God is uiteindelik gebed om homself aan te prys en teenoor ander te verhef. Hy het nie God se genade ook nog nodig nie.

Afhanklik van genade

In “die ander hoek” vind ons die tollenaar wat besef hy is ‘n sondaar. Die tollenaar besef hy is in die moeilikheid en sy diepste nood is om by die Here uit te kom. Die besef van sy nood wek die erkenning van sy skuld en ‘n diep verlange om deur God aanvaar te word. Die ellendige tollenaar werp hom as ‘t ware neer voor God. Hy bly op ‘n afstand omdat hy nie waardig voel nie. Hy het niks om op trots te wees of vir God aan te bied nie. Hy staan eenkant as sosiaal uitgeworpene en bring so sy korrupte lewe na God toe. Hy pleit om vergiffenis sodat hy ‘n nuwe lewe kan begin.

Duur genade

Deur sy optrede bevestig die tollenaar dat die vrye genade van God, nie goedkoop is nie. Goedkoop genade (cheap grace), is om wel die evangelie aan te hoor sonder dat daar in jou lewe transformasie of vernuwing gebeur. Met goedkoop genade leef die mens gewetenloos en doof vir God se aanbod van vergiffenis. Volgens Bonhoeffer konfronteer duurgekoopte genade jou egter om Jesus na te volg. Daarom sal jou lewe verander en sal jy nederig leef in afhanklikheid van God se onverdiende genade.

Die gedrag waartoe God se duur genade die sondaar oproep, is ironies genoeg optrede wat as ‘t ware seermaak. Daardeur kom bevryding van die gewete. Jy moet as ‘t ware “ver-lig” word. Die Griekse woord metanoeite beskryf die handeling waardeur ‘n oorgang gemaak word van een vorm van denke na ‘n ander. Dit is om ‘n verandering van gees te ondergaan. Toe die Duitse Hervormer, Maarten Luther, tot hierdie insig oor God se grenslose genade gekom het, kon hy nie anders as om uiteindelik die praktyk van boetedoening in die Rooms-Katolieke Kerk van sy tyd te verwerp nie. Hy kon ook nie verder aanvaar dat die kerk se gesag hoër is as dié van die Skrif nie.

Bedelaars

Die gelykenis van die Fariseër en tollenaar is by uitnemendheid ‘n voorbeeld van God se vrye genade vir sondaarmense. Die ontvangs van God se genade bestaan daarin dat die sondaar besef hy/sy staan soos ʼn bedelaar (tollenaar) bakhand voor God. Die enigste moontlike handeling van die mens se kant is om jou skuld te erken en dit voor God te bely.

Kom ons sluit af met die woorde van die bekende lied van Augustus Toplady, “Rock of Ages”:
Not thelabor of my hands
Can fulfil thy law’s demands
Could my zeal no respite know
All for sin could not atone
Thou must save and thou alone
Nothing in my hand I bring
Simply to the cross I cling
Naked come to thee for dress
Helpless, look to thee for grace
Foul, I to the fountain fly
wash me Saviour, or I die.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 182 “Herder Heer (Herder Jesus)” [Bekend – melodie van Rock of Ages]
Lied 510 “Genade, onbeskryflik groot” of
Lied 514 “Ek weet vir seker”

Seën

Respons
Lied 286 “Here God van liefde”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.