Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 17:5-10
Ander tekste: Klaagliedere 1:1-6; Klaagliedere 3:19-26 of Psalm 137; 2 Timoteus 1:1-14

Inleiding

In die sentrum van die vier tekste is die kwessie van geloof. Die dissipels vra Jesus vir meer geloof (Luk 17:5), waarop Jesus antwoord dat geloof “so groot soos ’n mosterdsaadjie” genoegsaam is (Luk 17:6).

Dit is gekneusde geloof, wat in die oënskynlike hopelose situasie van Klaagliedere tog uitroep: “U trou is groot!” (Klaagl 3:23).

Die jong Timoteus se “oorgeërfde” geloof (2 Tim 3:5) vorm die basis vir Paulus se appèl dat hy sy roeping tot diens aan die evangelie opnuut ernstig moet opneem.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Die digter bely: “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here.
Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
U trou is groot.”
Here, wanneer ons gelowig oor u standhoudende liefde nadink – selfs in tye wanneer ons baie alleen voel en alles rondom ons hopeloos mag lyk – word ons diep bewus van U trou en wil ons saam met die digter getuig:
U Here is my lewe, op U alleen plaas ek my hoop.

Diens van die Woord

Gebed om opening van die Woord
Getroue God, ons kom vanuit verskillende plekke, verskillende agtergronde en leefwêrelde om vanoggend hande te vat in gebed.

Ons eer U en erken dat U in Jesus Christus na ons uitgereik het. Help ons om vanoggend ons gedagtes só te fokus dat ons opnuut u genade, ontferming en liefde as geskenke uit u hand ontvang.

Ons begeerte is dat ons trou ook groot sal wees en dat ons liefde vir alles wat U geskep het, nooit sal ophou nie.

In Jesus se Naam vra ons dit. Amen.

Diens van die tafel

Geloofsbelydenis
Voorganger: God is getrou.
Sy liefde vergaan nooit.
Gemeente: Dit glo ek!

Voorganger: God is getrou.
Aan sy ontferming is daar geen einde nie.
Gemeente: Dit glo ek!

Voorganger: God is getrou.
Hy is die ewige Bron van hoop.
Gemeente: Dit glo ek!

Voorganger: Die Here is goed
vir wie op Hom bly hoop.
Gemeente: Dit glo ek!

Voorganger: Die Here is goed
vir die mens wat na sy wil vra.
Gemeente: Dit glo ek!

Voorganger en gemeente: Amen.

Uitsending

Laat ons hiervandaan in vrede gaan,
met geloof in die krag van Hom wat in ons woon en werk,
met hoop dat die toekoms van die wêreld in sy hande is,
en met liefde vir almal met wie Hy ons pad laat kruis.

Musiek en sang

Sing na die aanvangswoord ’n lied oor God se trou: Vonkk 71 “Groot is u trou, o Heer”; NSG 55 “Groot is u trou, o Heer”; of Lied 500 “Gods dade is volmaak en goed”.
Na die Woordverkondiging: Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof”; NSG 294 “Voortdurend hoop ek stil op U, Heer” of Vonkk 70 “Abba Vader”; NSG 16 “Buig nou voor die Heer”.
Volg die geloofsbelydenis op met ’n aanbiddingslied tot God Drie-enig: Lied 450:1, 2 “Vader, Seun, Heil’ge Gees”
’n Mooi lied wat voor die uitsendingswoorde en seën gespeel kan word, is Annelise Wiid se “Here, my God” op die CD “Nkosi is hier”.

Preekstudie: Lukas 17:5-10

Teks

1. Ons preekteks is Lukas 17:5-10. In die groter perikoop (17:1-10) verhaal Lukas vier uitsprake van Jesus wat as ’n samehang van gedagtes gelees kan word (Morris, Greijdanus). Die verband met die voorafgaande hoofstukke is nie so vanselfsprekend nie, hoewel dit diegene (moontlik die godsdiensleiers – Morris) aanspreek wat hulle rykdom in eie belang gebruik en ander laat struikel deur hulle wanvoorstellinge van God se wil (dit was die gevaar vir sowel die Fariseërs as Jesus se dissipels).

Dié Lukasperikoop beklemtoon:
1.1 Vers 1-2. Versoekings, verleidinge om te sondig, of oorsake vir struikeling is onvermydelik. Ons het egter duidelik die verantwoordelikheid om om nie daarvan die oorsaak te wees nie, veral nie as dit die kleintjies (jonges in die geloof) sou laat struikel nie. Die oordeel hiervoor is verskriklik. ’n Erge dood is te verkies eerder as om ander se geestelike skade of misleiding te veroorsaak.

1.2 Vers 3-4. Gee daarom ag op jouself. Wees gewillig om oortreders te berispe en berouvolles aanhoudend te vergewe (dit beteken nie swakheid – Geldenhuys). Selfs as jou broer of suster tot sewe maal (sonder ophou) op ’n dag teenoor jou verkeerd optree, vergewe hom of haar skuld (sonder ophou). Dit is die lewenshouding wat die Here by ons soek. Ons moenie oor die skuldbelyer se opregtheid wonder of twyfel nie. Ons besigheid is om skuld te vergewe (Morris).

1.3 Vers 5-6. Om so skuldvergewend te lewe, noodsaak die regte geloof.

1.4 Vers 7-10. Indien ons dit sou regkry om só skuldvergewend te lewe, moet ons onthou dis ons plig. Daarmee verdien ons niks spesiaals of uitsonderliks nie. Moet dit ook nie verwag nie.

2. Dit val op dat Jesus sy lering met spesifieke voorbeelde uit die alledaagse lewe toelig (bv “meulsteen om die nek in die see”; verhouding slaaf en eienaar). Dit beteken nie dat Jesus die spesifieke praktyke van erge straf en arbeidsverhoudinge in sy dag gesanksioneer het nie. Deur dié voorbeelde te gebruik, beklemtoon Hy wel die radikaliteit van sy eie lering oor hoe ons die uitsonderlike aard van en die lewe in sy koninkryk moet verstaan.

3. Binne die breër perikoop (17:1-10) is die fokus op vers 5-10.

3.1 Vers 5. “die apostels versoek . . .” Lukas gebruik die begrip apostels (apostoloi). Dit slaan waarskynlik op Jesus se binnekring  dissipels, die twaalf wat Hy volgens Lukas self uitgekies en so benoem het (vgl. 6:13). Die woord “apostel” beteken gestuurde, verteenwoordiger. In die destydse konteks is die woord ook gebruik vir ambassadeurs, gevolmagtigdes van ’n regering. Dit word in Hebreërs 3:1 ook van Jesus self en sy hemelse roeping gebruik, met ons almal as sy navolgers.

In die besef van hulle besondere verantwoordelikheid om ander reg te lei en nie te laat struikel nie én om male sonder tal te vergewe, rig hulle hierdie versoek aan die Here. Die apostels begryp die twee uitdagings wat Jesus in sy uitsprake stel, is enorm. Om hiermee te slaag in leer en lewe vra ’n buitengewone krag, bonatuurlike vermoë om ons natuurlike geneigdheid om te keer.

“van die Here . . .” In sy besinning oor die titels wat vir Jesus in Lukas/Handelinge gebruik word, verduidelik Howard Marshall dat Lukas juis in Handelinge Jesus se verhoging deur God sentraal beklemtoon. Hy is Here, Christus,Verlosser.

Sy benoeming as Here staan die meeste uit by die beskrywing van sy verlosserskap. Lukas, die historikus – teoloog, beklemtoon dikwels Jesus se Heerskap in sy Lukas/Handelinge verhaal met verwysing na die Ou Testament. En die aanduiding van Jesus se Heerskap kom meermale by Lukas voor (bv Elizabeth se aanduiding daarvan in Luk 1:43; Lukas se toepassing van die titel op Jesus by 7:13 vir die eerste maal en daarna nog ongeveer 16 ander kere – vgl Marshall bl l66, voetnoot 3; ook in ons teksgedeelte). Lukas beklemtoon nie eers ná die opstanding dat Jesus Here is nie. Dít begrond vir Lukas Jesus se hele aardse bediening. Dit word reeds bevestig met die engele se aanduiding aan die herders by Lukas 2:11: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” Vanaf sy geboorte dus, is Jesus vir Lukas die Here, en nie eers later nie. Die apostels self begryp dié werklikheid weliswaar eers volledig met sy opstanding. Sy Heerskap was egter nie op daardie stadium iets nuuts nie. Hulle het bloot toe eers die bestaande waarheid goed ingesien.

Hier in Lukas 17 is “dié Here” die alternatiewe leraar teenoor die verleiers, teenoor die godsdiensleiers, die Fariseërs.

“meer geloof . . .”Die dissipels se beoordeling van die saak en of hulle die uitdaging wat Jesus stel kan hanteer, blyk duidelik uit hulle versoek. Om te doen wat Jesus vra, hang vir hulle saam met die grootte en omvang van hulle eie geloof. Daaragter is ook nog die vraag of hulle ’n genoegsame, groot genoeg geloof van God ontvang het (Greijdanus). Die huidige openbare strydgesprekke oor geloof en ongeloof, is nie die fokus van hierdie preekstudie nie. Dit gaan in hierdie perikoop om die waaragtigheid (“genuineness” – Morris), die gerigtheid van die apostels se geloof.

3.2 Vers 6. Jesus se antwoord rig sy apostels se perspektief.

Oor die grootte van die apostels se geloof . . . “so groot soos ’n mosterdsaad . . .” (dit is besonder klein). Selfs met so ’n mosterdsaadgeloof sou hulle deur ’n blote opdrag aan ’n moerbeiboom (wat tot 600 jaar oud kon word met ’n besondere sterk wortelstelsel), tot in die see kon verplant. Dus, geloof is buitengewoon kragtig!

Maar, die grootte, omvang van die dissipels se geloof was nie die eintlike punt nie (Rienecker). Ook nie dat hulle die boom daar en dan letterlik moes of sou verskuif nie. Ernstige geloofstoewyding is wel ter sprake. Jesus se eintlike punt is egter die blikrigting van hulle geloof, en dat deur dié geloof die onmoontlike juis moontlik is – met hulle geloofsoë gerig op Hom, sy koninkryk en sy heerskappy. Dit gaan nie om of die apostels of ons geloof groot genoeg is of nie, maar of die dissipels van ouds en ons weer vandag glo in ons groot God en uit só ’n geloof leef. En om só te glo in die belang van sy koninkryk en nie in ons eie belang nie. Die godsdiensleiers van destyds het dit juis op hierdie punt gemis. Jesus oriënteer sy apostels hierteenoor om geloofwaardig in diens van die Here en van sy koninkryk te staan.

3.3 Vers 7-10. Oor die “verdienstelikheid van geloofsdade . . .” Jesus leer sy apostels hiermee dat hulle geloofsdade, groot of klein, geen verdienste vir hulleself inhou nie. Hulle kan en moes hulleself nie verhef as mense van besondere betekenis nie, met aansprake op erkenning en dank nie, en ook nie vra vir spesiale bevoorregting nie. Die teendeel geld eintlik. Hulle, destyds, en ons, vandag, is soos slawe, wat niks verdien nie, maar wat doodgewoon geroep word om ons plig uit te voer, niks anders nie.

Die illustrasie uit die arbeidskonteks, die verhouding tussen werknemer (slaaf) en werkgewer (eienaar) wat Jesus gebruik, maak dié punt baie helder. Die apostels sou dit dadelik kon snap. Die werkgewer sou sekerlik vriendelik, dankbaar kon wees teenoor die werknemer. Maar hy of sy hoef nie, en die werknemer het ook geensins op erkenning aanspraak nie. Sy of hy het immers bloot gedoen wat plig in elk geval van hulle vereis.

Vir gelowiges geld dieselfde stelreël. As ek of jy alles gedoen het wat van ons verwag is, moet ons oor onsself dink dat ons onverdienstelike werknemers (slawe) is, wat deur Christus se verlossingswerk geheel en al aan Hom behoort. Ons is sy eiendom en is slegs dank aan Hom verskuldig. Geen eie roem of eer kom ons in enige stadium toe nie, ook nie by die onmoontlik moeilike werk van aanhoudende skuldvergewing nie. Nie destyds nie en óók nie vandag nie!

Want alles wat ons is en het, vermoëns en gawes, goed, tyd en geleenthede, bediening, roeping, ontvang ons van God, deur sy skepping en voorsiening, onverdienstelik. Sonder aanspraak op loon of dank. Fokus standvastig, as toegewyde diensknegte, slegs op Jesus, op God (vgl hier Paulus se klem in die verband by 1 Kor 3:5-9 en veral
1 Kor 9:16).

Konteks

1. Ander Leesrooster tekste vir hierdie week:

1.1 Klaagliedere 1:1-6. Die klaagliedere, in digvorm, verklank die volk wat in ballingskap weggevoer is se troostelose hartseer oor Jerusalem wat verlate en verwoes lê voor die nasies. Dit is ’n droewe prentjie met hulle onbedaarlike geween die hele nag lank. Hulle het geen troosters, net vyande. Selfs die paaie na Sion treur sonder feesgangers. Die stad se poorte is verlate, jong vroue bedroef. Die teenstanders van die volk is in beheer. Die digter bely die Here laat die stad ly oor haar baie sondes. Haar kinders is daarom ballinge. Dis verskriklik, ondenkbaar, ellendig, die prag van Sion het verdwyn, haar leiers het soos takbokke geword, sonder weiveld en magteloos voor hulle agtervolgers.

1.2 Klaagliedere 3:19-26. Die blote gedagte aan hulle ellende en vreemdelingskap is vir die volk van die Here soos gal en gif. As hulle daaroor dink, draai hulle gedagtes vas. En tog, die onmoontlike gebeur, hulle word herfokus, sien lig, bely hoop op grond van die (onbegryplike) liefde en ontferming van die Here. Die Here se liefde en genade is elke môre nuut, sy trou is groot. Die digter bely daarom openlik dat die Here sy/haar lewe is. Die digter hoop op die Here, want sy belydenis is dat Hy goed is vir wie op Hom bly hoop. Dit is dus goed vir die ballinge om geduldig te wag op die hulp van die Here.

1.3 Psalm 137. Die volk in ballingskap ween by die riviere van Babel, hulle liere is aan die bome opgehang terwyl hulle gevangenemers vrolikheid by hulle soek en ’n lied oor Sion wil hoor. Hulle kan egter nie die Here se lied sing in ’n vreemde land nie en verlang ernstig na Jerusalem. Hierby hunker hulle na ’n vreeslike en wreedaardige straf op Edom en Babel, wat die verwoesting en ellende van ballingskap oor hulle gebring het. Hulle wens diegene by voorbaat geluk wat hulle oorwinnaars sal straf (Hierdie oog vir ’n oog [lex taliones] etiek is onthutsend en die taal en denkbeelde skok).

1.4 2 Timoteus 1:1-14. Paulus bemoedig vir Timoteus om vas te staan in die evangelie en in die geloof – wat hy van sy moeder en ouma ontvang het – gevul met krag en liefde en selfbeheersing deur die Gees van God, sonder skaamte, toegewyd aan die Here. Paulus gee eer aan Christus wat die evangelie aan hom toevertrou het as prediker, apostel en leraar, en wat ook magtig is om dit in stand te hou. Hy dring by Timoteus aan om sy woorde aan te neem as ’n voorbeeld van gesonde verkondiging, en om dit na te volg en te bewaar deur die Heilige Gees wat in ons woon.

2. Verskeie van Jesus se uitsprake, soortgelyk aan dié in Lukas 17 (bv Mark 9:23: “Vir die een wat glo, kan alles” – by die genesing van ’n seun; 11:22 die uitspraak oor die berg – in verband met die krag van gebed; Matt 17:20 die uitspraak oor kleingeloof, die mosterdsaad en die berg – in die konteks van die dissipels se getuieniskrag), skyn duidelik verdere toepassing te hê as die onmiddellike konteks waarin Hy dit gesê het
(O Michel). Hierdie uitsprake dra ’n ongeëwenaarde en nadruklike belydeniskarakter. Hulle het almal te doen met die vestiging van Christus se koninkryk en die rig van die dissipels se vertroue en geloof in God, juis met die oog daarop.

3. Lukas 16:1–18:14 verwoord besondere uitdagings wat Jesus stel (bv Wilcock). Tussen 16:1 en 16:31 is die saak en die wyse bestuur van geld meermale in die fokus. In die gelykenis van die onregverdige bestuurder (16:1-13) is die fokus op die wyse, genadige afskryf van geldelike skuld tot voordeel van ander, wat die bestuurder uiteindelik self ook bevoordeel. Lukas vertel egter dat die godsdiensleiers, Fariseërs baie lief was vir geld en Jesus beledigend uitgelag het oor sy leer (16:14). Daarop beklemtoon Jesus die gevaar van rykdom wat die behoeftes van die naaste minag, aan die hand van die gelykenis van die ryk man en Lasarus. Die ellendige implikasie was dat die ryk man, soos die godsdiensleiers wel die leringe van Moses en die profete gehad het, maar die fokus daarvan misverstaan het en juis daarom ook hulle volgelinge verlei het.

David Bosch dui aan dat die term “ryk” (plousios) mense, nes arm (ptochos) mense by Lukas omvattend verstaan moet word. Dit gaan oor hulle besit én lewenshouding. Rykes het nie alleen baie besit nie, maar word deur Lukas geteken as gierig, wat armes uitbuit, behep is met geld, sien Lasarus by die poort nie raak nie (16:20), leef genotsugtig, word deur sorge en kommer oor rykdom verstik (18:4). Hulle is tegelyk slawe en aanbidders van Mammon, besit nie hulle skatte nie, maar word deur hulle skatte besit, is arrogant en misbruik mag, dog is “nie ryk by God nie” (12:21). Hulle hebsug, aanmatiging, uitbuiting van die armes, godloosheid, plaas hulle willens en wetens buite die dampkring van God se genade.

Die Fariseërs was oor die algemeen nie vermoënde mense nie, maar “hulle liefde vir geld”, sê Bosch, was ’n refleksie op die “hele morele identiteit van die persoon”, “die totale oriëntasie van hulle lewe” (vlg Schottrof and Stegemann). Vol selfvertroue met betrekking tot hulle eie geregtigheid sien hulle op ander neer (18:9).

By Jesus, die Here self, en in sy koninkryk is daar egter ’n ander oriëntasie, ingesteldheid. Daar werk ’n ander etiese grondslag en praktyk. Die radikale andersheid daarvan leer Hy, in Lukas 17:1-1, sy apostels, sy gestuurdes. Juis daarom oriënteer Hy sy apostels se geloofsoë dienooreenkomstig.

4. Geloof, herinner D J Smit in ’n Pinksterreeks aan die hand van Nicéa, is om – soos Stefanus en die kerk van die eeue – vir Jesus as Here en Christus, Koning, Regter en Herder . . . aan die regterhand van die Vader te sien; om ondanks wat ons sintuie vir ons sê en wat ons verstand ons mag vertel of wat ons mag oorkom of oorval – die oë gevestig te hou op Jesus, ons Here en Christus, aan die regterhand van die Vader. Geloof leef van ons onthou van, reken met die toekomstige lewe, met die Here Christus aan die regterhand van die Vader, wie se ryk geen einde het nie.

5. In sy Lukas kommentaar dink Norval Geldenhuys na oor die uitdaging wat hierdie gedeelte vir ons bring. Leef ons as individue en as kerk só dat ons ander van Jesus terughou en dit vir hulle moeilik maak om op die regte pad te bly en dat hulle in sonde val? Tree ons met soveel wysheid, liefde en geduld op teenoor die swakkes en die wat fouteer dat hulle op die lewensweg gehelp word, óf sit ons deur ons onverskilligheid, selfliefde, pligsversuim en onopregtheid struikelblokke in hulle pad, sodat hulle val op ons rekening sal verskyn? Watter ernstige vraag is dit nie veral aan ouers en onderwysers, in verband met hulle kinders, en aan predikante en ampsdraers in die kerk met betrekking tot die gemeentes wat hulle dien, skryf hy.

Preekvoorstel

1. Die preekteks belig Jesus as die Here en die ingrypende waardes van sy koninkryk. Die preek fokus daarom op die gerigtheid van die apostels en ons geloof, in die lig van hulle versoek aan die Here om meer geloof en die implikasie van sy aksie en lering daarop. Van die ander leestekste (Konteks) kan die fokusteks se uiteensetting en toepassing toelig.

2. ’n Moontlike tema met fokuspunte is:

Ons glo in Jesus:
2.1  . . . wat Here is van die koninkryk . . . en wat ons geloof reg oriënteer/rig.

Die Lukasevangelie bely deurgaans Jesus is die Here. Dit is ’n belangrike sleutel by hierdie gedeelte. In die vertelling vind die gesprek plaas tussen die Here en sy geroepe apostels, sy gesante, sy navolgelinge. Die prediking moet die gemeente aan die hand van Lukas se klem daarop help om dieHeerskap van Jesus opnuut raak te sien en te bely.

In die breër konteks wys Jesus op die dwaasheid en verleiding wat selfgerigtheid, rykdom en liefde vir geld by mense en by godsdiensleiers, tot gevolg kan hê. Hy waarsku sy apostels spesifiek (17:1-4) om mense nie met hulle leer en voorbeeld te verlei (soos die Fariseërs) nie, maar om ander reg te lei, en self koninkrykgerig te leef. Laasgenoemde vra ten diepste die aflegging van selfgesentreerdheid en selfbelang.

Navolging en gehoorsaamheid aan Jesus die Here het buitengewone krag van die apostels gevra. Hulle het dit ingesien. Gevolglik hulle versoek om meer geloof. Hulle versoek rig egter verkeerdelik op hulleself. Daarom herfokus/oriënteer Jesus die apostels se geloof in 17:5-10 nie op hulle eie beter of groter geloofsvermoë of groter geloofskrag nie, maar op hulle groot God (Morris).

Die prediking moet die gemeente help om in te sien en toe te gee dat die geloofsfokus van sy apostels, gestuurdes, met die groot uitdaging om self betroubare en navolgenswaardige voorgangers te wees, op die Here en sy krag gerig moet wees.

2.2 “. . . wat barmhartig bly en ons bystaan, waar ons kortkom.”

As sy apostels hulle diep onvermoë besef om aan die verwagtinge van die koninkryk (lei in die waarheid en onophoudelike skuldvergifnis) te voldoen en Hom om meer geloof vra, reik die Here na hulle toe uit en staan Hy hulle by met toepaslike lering. Hy help hulle insien dat dit nie om die grootte of die omvang van hulle geloof gaan nie, maar juis om die gerigtheid daarvan. Hy help hulle dus om reg te kyk. Hy kom hulle ongeloof te hulp en staan hulle by om met hulle uitdagings (regte leiding en skuldvergifnis) te fokus op die (krag van die) Een wat Here is.

Klaagliedere 1:1-6 (Konteks) teken die verskriklike ellende (uiteindelik ballingskap, vreemdelingskap en rou) wat oor die volk van God gekom het nadat hulle leiers hulle verkeerd gelei het, hulle hulle eie koppe gevolg het, selfgerig en goddeloos geraak het. Dít het meermale in die geskiedenis van Israelgebeur. Die uiteinde van die verleiers se eiesinnigheid was treurigheid, klag, geween, verwoesting, verwildering, ’n skynbaar eindelose en uitsiglose hooploosheid vir die weggevoerde volgelinge (By Ps 137:7-9 selfs ’n sterk behoefte om wraak, om wrede strawwe vir hulle vyande –’n oog vir ’n oog).

Hierteenoor beklemtoon Klaagliedere 3:19-26 die ballinge se herwaardering van God se genade. Hulle bely hulle is vol hoop as gevolg van die liefde en ontferming van die Here. Dit is elke môre nuut en die Here se trou is groot. Daarom hoop hulle ook opnuut op God.

Die gemeente kan aan die hand van die preekteks en die twee gedeeltes uit Klaagliedere ter toeligting, gelei word om in te sien hoe groot die liefde en barmhartigheid van die Here self is. Sy toorn bly nie vir ewig nie, maar Hy vergewe ons weer en weer ons oortredinge en kom ons ongeloof te hulp, skep hoop in uitsigloosheid, en stel self aan ons die voorbeeld van skuldvergifnis soos hy dit van sy apostels en ons vra.

2.3 . . . wat ons vandag as onverdienstelike dienskneg(te) gebruik, om sy koninkryk en waardes te bou . . .

Die Here Jesus help sy apostels/gestuurdes in hulle konteks met helder lering (oor die onderskeiding van die waarheid teenoor valse leraars en die opdrag tot aanhoudende skuldvergifnis) om van hulleself af weg te fokus op die uitvoering van hulle take, en om daarin geen eie eer te soek of op eie verdienstelikheid te fokus nie (soos die Fariseërs, vgl 18:11).

Paulus se leiding aan Timoteus (Konteks), fokus juis helder op die Een wat Here is. Hy gee duidelik al die eer aan Christus en erken die krag van sy Gees wat ook aan Timoteus se ma en ouma die vermoë gegee het om hom as jong seun in die evangelie van Jesus te onderrig. Op grond van dié erkenning/belydenis roep hy sy jong kollega vrymoedig op om sy woorde aan te neem as ’n voorbeeld van gesonde verkondiging en om dit na te volg, te bewaar, deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon.

Die gemeente moet ten slotte deur die prediking gelei word om opnuut hulle geloof te fokus op Jesus die Here, aan die regterhand van die Vader, vanwaar Hy regeer (Konteks) en wat ons te midde van ons hedendaagse uitdagings bystaan om ander nederig in leer en lewe reg te lei (konteks); én om juis vandag ons susters en broers hulle oortredinge teenoor ons onophoudelik en onverdienstelik te vergewe, want juis só en dan ontstaan nuwe gemeenskap en nuwe lewensmoontlikhede vir ons lewe en getuienis saam. En só kom die Here se koninkryk op aarde, net soos in die hemel.

Bibliografie

Kommentare: F J Pop (PNT); L Morris (T); S J Greijdanus (KV); Fritz Rienecker (WS), K H Rengstorf (DNTD), N Geldenhuys (NLCNT), W Barclay, M Wilcock (The Message of Luke).

Teologiese en ander werke: H Berkhof, Christelijk geloof;D J Bosch, Goeie nuus vir armes en rykes – Perspektiewe uit die Lukasevangelie; Bybelkor kursus, Só glo ek – oor die twaalf artikels; I Howard Marshall, Luke – Historian & Theologian; O Michel, Faith, in C Brown, Dictionary of New Testament Theology Vol 1; D J Smit, Lig uit Lig – Wat Christene bely oor Jesus Christus.

Moontlike Liedere/ gesange

Liedboek en Nuwe Sionsgesange NSG
Lied 489:1-3; NSG 276:1-4 “Waak, Christen, staan in die geloof”
Lied  505:1-4; NSG 161:1-3 “Jesus, U gaan voor”
Lied 514:1-2 “Ek weet verseker”; 288:1-4 “Blye verseekring”
Lied 510:1-4 i; NSG 241 “Amazing grace”

Ander: Die Belharlied: “Jesus is die Heer”

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.