Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Gedurende November begin almal al dink aan die einde van die jaar.  Daar is funksies om die jaareinde te vier en oral word die voet van die versneller gehaal en almal sien uit na die Kersvakansie na ’n lang, vermoeiende jaar.  

Met die kerkjaar is dit ook so dat ons uitsien na Advent en Kersfees – in baie gevalle die mees populêre fees van die kerkjaar.  

In Pinkster is ons opnuut daaraan herinner dat ons leef uit sy genade en dat sy kerk deur sy Gees gelei word (Lied 509:2). Ons, sy kerk, leef deur die krag van die Heilige Gees. In Koninkrykstyd herinner ons mekaar aan die koninkryk wat “alreeds” gekom het in Jesus Christus en dat sy kerk hierdie koninkryk leef. 

Maar die koninkryk is “nog nie” volledig sigbaar nie, dit het gekom, maar is ook nog aan die kom en kom op ’n nuwe en finale wyse met die wederkoms. Ons leef nou tussen die “alreeds” en die “nog nie”.  Vanaf 17 Oktober 2010, die 20ste Sondag in Koninkrykstyd, sluit die liturgie aan by die verwagting van Christus se wederkoms. Veral die laaste paar Sondae fokus die Leesrooster in al drie jare op die wederkoms van Jesus Christus en loop uit op die laaste Sondag wat as Sondag van Christus die Koning gevier word. 

Hierdie toekomskarakter van die koninkryk, die “nog nie” teenoor die “alreeds”, word deur die beloftes oor die wederkoms en die finale aanbreek van die koninkryk van God beklemtoon.  Die “nog nie” en die “alreeds” staan in jukstaposisie. Aan die een kant fokus die liturgie op die beloftes en versterk die verwagting by gelowiges om te deel in die totaal nuwe. Die liturgie word as ’t ware deur die beloftes gedra en rig die gelowiges se “hier-en-nou”-lewe op die wederkoms en voleinding. 

Dit laat die gemeente verlang na die heeltemal ander en nuwe lewe wat op ons wag met die wederkoms en laat ons ons nou al daarvoor beywer.

Die beloftes, die “nog nie”, word in die liturgie na ons lewe “hier-en-nou” geprojekteer. Die liturgie het die taak om die gemeente “hier-en-nou” al te laat uitsien na die misterie wat in die toekoms finaal sal gebeur. Die beloftes behoort helder en duidelik aan die gemeente voorgehou te word. Deur “hier-en-nou” te konsentreer op God se beloftes, laat ons in groter oorgawe voor God volhardend lewe tot met die wederkoms. ’n Weldeur-dagte liturgie rig ons hele bestaan op die toekoms sonder om ons verantwoordelikheid teenoor die werklikheid van “hier-en-nou” te onderskat of te relativeer. 

Tekste
Al die tekste hou sonder uitsondering verband met die finale oordeel, die wederkoms en die rol van Jesus die Koning in hierdie gebeure. Die fokustekste is vanjaar uit Jeremia, die Psalms en Lukas en is uiters geskik vir ons gesprek oor die “alreeds” en die “nog nie” van die eskatologie. Dit bied aan liturg en prediker die geleentheid om op hierdie Sondae aan die aspekte oor die wederkoms en finale oordeel, wat hier ter sprake kom, aandag te gee.

Simbole

  • Die alfa en omega (Kan op verskillende maniere in een simbool verenig en op een of meer baniere aangebring word.) 
  • Brandende lampe (Dit simboliseer waaksaamheid met die oog op die koms van die bruidegom.)
  • Gebruik van trompetspel in begeleiding van gemeente-sang of saam met orrelvoorspel (In 1 Tess 4:16 en baie ander tekste lees ons daarvan dat die wederkoms geassosieer word met God se trompet wat weerklink wanneer die Here self uit die hemel neerdaal).
  • Weegskaal (simbool van die finale oordeel).

Fokusteks

Jeremia 31:27-34

Ander RCL tekste

Psalm  119:97-104 (Gehoorsaamheid aan God se wil sal voorop staan.  Genot sal rym met gebod.);
2 Timoteus 3:14-4:5 (Die verkondiging van God se Woord en gehoorsaamheid daaraan is die sleutel tot nuwe lewe.);
Lukas 18:1-8 (’n Gebedshouding, in verwagting en toewyding, is die regte houding om die wederkoms af te wag.)

Jeremia 31:27-34
Uitsig op ’n nuwe tyd wat gekenmerk sal word deur reg en geregtigheid, en nuwe heelhartige toewyding aan God wat oral gesien en ervaar sal word.
27Daar kom ’n tyd, sê die Here,
dat Ek Israel en Juda weer sal vol maak
met mense en diere.
28Ek was gretig om hulle uit te ruk
en af te breek,
om hulle plat te slaan en te vernietig,

om rampe oor hulle te bring. Ek sal net so gretig wees om hulle op te bou en hulle te plant, sê die Here. 29In daardie tyd sal hulle nie meer sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword” nie. 30Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Eksegeties

Hierdie baie gewilde teks vorm deel van die sogenaamde “Troosboek” van Jeremia (hfst 30-33). Alhoewel die boek Jeremia heelwat verwysings gee, is profesieë nie kronologies of oral duidelik tematies georden nie. Die Troosboek vorm wel ’n tematiese eenheid en bring ’n verskeidenheid heilboodskappe uit verskillende tye in ’n mengsel van prosa (30:1-3; 31:23-34; 31:38-33:26) en poëtiese (30:4-31:22; 31:35-37) gedeeltes saam. Die individuele perikope is duidelik gestruktureer met die woorde “so sê die Here”. 

Die tema van die troosboek word uitdruklik in 30:3 gestel: Dis deurlopend ’n belofte: “daar kom ’n tyd/dae” (30:3,8, 24, [31:1]; 31:27, 29, 31, 38). Die belofte is dat die Here self die lot van die hele volk sal verander. Die klankspel in die eenderse konsonante in Hebreeus in שבתי “Ek sal verander”, שבות “die lot” (vgl 31:22; 33:26) en  השבתים “Ek sal hulle laat terugkom” “(30:10; 31:16), versterk die tema op uitsonderlike wyse. Byna in elke perikoop word die omkeer van die huidige ellendige situasie geskets: angskrete tot lofsange (30:5-19; 31:13), ongeneeslike wonde word gesond gemaak (30:12-17). Die deurlopende trefwoord עוד “weer” (30:20; 31:3, 4; 32:15, 43; 33:11-13) versterk die motief van verandering en herstel.

Dis ’n belofte van volksherstel na die ballingskap, wat aansluit by die voorafgaande profesie (29:10-14) en geïllustreer word met die grondtransaksie as simboliese bevestiging (hfst 32-33). Die inhoud van die belofte is dat die volk weer die beloofde land sal besit (30:3; 31:4-6,10-14; 32:15). In die temavers word Israel en Juda genoem. Die poëtiese gedeeltes het uitdruklik betrekking op Israel. Juda word nie daar genoem nie. In die finale fase van die teks word Israel en Juda (31:27; 33:4; 33:24) egter deurlopend die objek van die belofte. Die tyd van vervulling word in 29:10 presies gespesifiseer met die val van Babilon. Daarna sal Dawid self, of ’n nasaat van hom, weer oor die hele volk regeer (30:9, 21; 33:14-26).

Jeremia 31:27, die begin van ons teksgedeelte (in prosa), vat bogenoemde motiewe van herstel saam (vgl 31:23-24). Die oorgangsvers (v 26) bevestig die sekerheid van die belofte (vgl 31:35-37). Vers 28 neem die kernmotief van die hele Jeremiaboek op: Wat aan Jeremia as opdrag gegee is (1:10) neem die Here nou self oor. In ons teksgedeelte, soos in die hele troosboek, is die Here self die handelende hoofkarakter. Terwyl die res van Jeremia se profesieë hoofsaaklik oordeel (“uitruk en afbreek, platslaan en vernietig”) is, bevat die Troosboek die belofte van herstel (“bou en plant” – 32:42). Met dieselfde nougesetheid (שקד  “wakker wees”) waarmee Hy oordeel, red Jahwe ook. 

Die omkering van die situasie word in die volgende verse met die aanhaal van ’n spreekwoord verder versterk. Die spreekwoord verteenwoordig die motief dat oordeel ook volgende geslagte tref (vgl Eks 20:5). Die idioom verwoord die onvergenoegdheid van volgende lydende geslagte, naamlik hul ervaring dat hulle eintlik onregverdig ly (Klaagl 5:7). Die profeet antwoord dat dit “in daardie tyd” sal verander; hy verander selfs die spreekwoord. Hiermee word ’n nuwe motief  in die tipies Ou-Testamentiese denke oor die kommunaliteit van oordeel en heil ingebring, naamlik van individuele verantwoordelikheid /aanspreeklikheid, ’n motief wat by Esegiël 1 (8:2-4 ea) en in die Nuwe Testament ontwikkel word (Joh 9:1-3).  

Maar wat in die volgende verse volg is meer radikaal as net ’n herstel en ’n aanpassing van die vorige orde. God gaan iets nuuts doen. In Jesaja het die “nuwe ding” wat die Here belowe om te doen, betrekking op die terugkeer uit ballingskap (42:9; 43:10; 48:6). Hier belowe Hy om ’n “nuwe verbond” te sluit. Volgens Jeremia bestaan die Sinaiverbond, wat die verhouding tussen God en sy volk omvat, nie meer nie. Dit is deur die ontrou van die volk ongedaan gemaak (“verbreek” 11:10). Wat nodig is om ware herstel te bring is ’n nuwe begin, ’n nuwe skepping. Die verbond sal steeds met “Israel en Juda” wees, maar dit sal in aard radikaal verskil van die vorige, soos die volgende verse uitspel.  

In vers 32 en 33 word die vorige/ou verbond en die “nuwe verbond” teenoor mekaar gestel. Die verbond wat Israel “verbreek” (vgl 11:10) het, is duidelik die Sinaiverbond. Daardie verbond is God se goeie gawe: “My verbond”. Die aksent word  op God se genadewerk as die basis van daardie verbond geplaas: “Ek het hulle voorvaders aan die hand geneem en hulle uitgelei uit Egipte”. Hierdie beeld van ouerlike sorg (31:9d, 20a; Deut 1:31) word aangevul met die uitdrukking “Ek was ’n eggenoot vir hulle”. Laasgenoemde is ’n beeld van God se trou (tereg so in NAV) en staan skreiend teenoor die volk se ontrou, se verbondsverbreking, wat dikwels deur die profete “hoerery” genoem word (bv Hosea). 

Vers 33 klink soos ’n formele aankondiging: Nou word die nuwe verbond geproklameer wat “na daardie tyd” gesluit word (32:40 noem dit ’n “ewige” verbond [50:5; Eseg 16:60; 37:26]). Die “skeppingsverbond”/ Noagverbond (en 9:16; Jes 24:5) Abrahamverbond (en 17:13; Ps 105:10) en Dawidverbond (Sam 23:5;
Ps 89:34-36) word “ewig” genoem; die Sinaiverbond word nêrens ’n “ewige verbond” genoem nie, hoewel die instellings daarvan dikwels “ewig” genoem word). Die aard van die nuwe verbond word beskryf: Alhoewel die elemente nie uitdruklik teenoor dié van die Sinai-verbond gestel word nie, is die teenstelling duidelik. Teenoor die wet op kliptafels (Eks 31:18), dus uiterlik gebiedend van bo, sal God self die wet in sy volk se harte “gee/plaas” en dit daarop “skryf”, dit vaslê (Eseg 11:19-20; 36:26-27). “Binneste” naas hart, plaas die klem daarop dat gehoorsaamheid van binne, van harte sal wees (Deut 6:5-6). Die “wet” is hier omvattend, die wil van die Here, en verwys waarskynlik nie na ’n spesifieke wet of korpus soos die Tien Gebooie nie. Dan sal hulle egte verbondsvolk kan wees. Die verbondsformule (v 33d) is ’n kernmotief in die beloftes van die Troosboek (30:22; 31:1, vgl 31:9d). God verander nie, maar Israel sal verander: Daarin lê die “iets nuuts” waarvan 31:22b praat (die idioom wat gebruik word (lett: ’n vrou omsirkel ’n man), dui waarskynlik op die liefdesreaksie van ’n vrou vir haar man (NAV).

Vers 34 spel die implikasies van die “verinnerliking” van die wet uit. Onderlinge lering sal nie meer nodig wees nie. Dit was die taak van die leviete om die wet vir die volk uit te lê en in die wet te onderrig, in besonder in die tyd van Josia (sien onder 2 Kron 35:3). Maar in die nuwe bedeling sal almal, klein en groot, belangrik en onbelangrik, amp en “leek”’ van binne uit weet wat om te doen, hoe om die Here te dien en sy wet te gehoorsaam omdat dit binne-in elkeen gegee sal wees. Die inhoud van dit wat elkeen gegee word is die “kennis van die Here”. Die begrip ידע word beklemtoon deur dit twee maal te noem. Volgens die Ou Testament kry jy kennis deur dit wat jy waarneem en wat aan jou meegedeel, onderrig word, maar ook uit navorsing en nadenke, met die hart as orgaan (lees Schottroff 686 vv). Onderrig deur leermeesters is tot vandag nodig, maar hier gaan dit oor deurleefde kennis, dat elkeen onderskeidingsvermoë sal besit. Hierdie nuwe werklikheid sal aanbreek wanneer en deurdat (“want” כי) die Here sonde en ongeregtigheid, alles wat die verbondsverhouding belemmer en vernietig, vergewe en vergeet  (33:8; 50:20; Miga 7:18-19; Ps 103:10-12).

Hermeneuties

Oor wat die historiese situasie was waarin hierdie profesie sy ontstaan gehad het, is daar meningsverskil. As ’n mens na die inhoud van Jeremia 31:27-34, wat ’n literêre eenheid is, kyk, lyk dit die mees gepaste om dit in die tyd van Josia se hervorming (2 Kon 22), rondom 622 vC kort na die begin van Jeremia se bediening, te plaas (Jer 1:2, Foitzik). Klaarblyklik het Jeremia Josia ondersteun (vgl 2 Kron 35:25), maar was hy deurlopend krities oor die diepgang van die hervorming (bv Jer 3:6 ev). Om ons teks binne hierdie konteks te lees beteken dat Jeremia bekommerd is oor die kwaliteit van die verbondsvernuwing en hernude onderrig in die wet. Sy boodskap is: Al die godsdienstige opgewondenheid en toewyding wat met die verbondsvernuwing gepaard gaan, gaan nie diep genoeg nie. ’n Radikaal nuwe verbond, innerlike verandering, is nodig (indien Deuteronomium inderdaad binne die tyd van Josia gefunksioneer het, maak Deut 6:5-6 daar sin). Dat die effek van die hervorming inderdaad van korte duur was, blyk uit die res van Juda se kort geskiedenis na Josia en uit Jeremia se bediening.

Hierdie profesie is dus opgeneem in die Troosboek, binne die groter versameling profesieë wat iewers in die toekoms (vgl “daar kom ’n tyd”) vervul sal word. Ook (ouer of later?) profesieë oor Israel is in die verband opgeneem om ’n korpus te vorm van die verwagting van ’n nuwe era, ná die ballingskap wat onder die nuwe koning uit die geslag van Dawid (vgl bo) sal aanbreek. Met elke volgende geslag het die vervulling egter uitgebly en die verwagting gegroei. Tot vandag toe glo die Jode dat die Messias sal kom en dat die heilstyd van ’n vrye herstelde Joodse staat sal aanbreek as almal maar net vir een dag die wet volkome kan hou.

Volgens die Nuwe Testament gebeur dit egter juis anders om: Die Messias moes eers kom, toe kon die heilstyd aanbreek, want (כי) deur sonde te versoen kan daar innerlike vernuwing en egte gehoorsaamheid kom; ja, kan mense “die Here ken”.

Jesus kondig die aanbreek van die “nuwe verbond” aan met die instelling van die nagmaal as herinnering aan sy versoeningsoffer aan die kruis (Luk 22:20; Matt 26:28). Dat hierdie profesie van Jeremia in Jesus vervul is, stel Hebreërs 8:6-13 uitdruklik. Dat die kern hiervan die vergifnis van sonde is, blyk uit die pas genoemde tekste. Die probleem met die “ou verbond” (vgl Heb 8) was nie die verbond self nie, maar die mens se onvermoë om die wet te onderhou. Dit is juis wat Christus kom doen het, Hy het die probleem by die wortel kom oplos, in die hart van die mens: dit spel Romeine 8:3-4 voortreflik uit (vgl Eseg 36:25-28 ea). In Christus is alle sonde versoen en is jy ’n nuwe mens (2 Kor 5:17-19). Die nuwe verbond van ’n lewende verhouding met die Here is ’n werklikheid. Hierdie werklikheid is alleen moontlik omdat die lewendmakende Gees van God in ons uitgestort is.

Maar die vervulling van Bybelse beloftes is soos om na ’n bergreeks te kyk: met die bereiking van elke spits lê daar nog een voor, het prof P A Verhoef altyd gesê. In Christus het die sentrale vervulling gekom, maar eers aan die einde die finale. Daarom moet jy steeds groei in dit wat jy in Christus is. Jou “denke”, daar waar jy beslis wat die goeie is, moet voortgaande vernuwe word (Rom 12:2). In liefde “moet (ons) al meer toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat (ons) die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal (ons) op die dag wat Christus weer kom onberispelik en sonder blaam wees”, sê Paulus (Fil 1:9-10; Kol 1:9). Daarom het ons ook nog nodig dat ons mekaar onderrig. Ons het veral nodig om onder die leiding van die Gees, wat in alle waarheid lei, sáám te “probeer te wete te kom wat die Here wil hê dat julle moet doen” (Ef 5:17). Sonder die bergspitse van die Paas- en Pinkstergebeure bly die profesie van ons teks ydele hoop.

Die kernelement van ons Jeremiateks moet egter vasgehou word: dis ’n belofte. ’n Belofte, Bybels gesien, is ’n werklikheid in Christus wat, deur daarúít te lewe, in vervulling gaan. Ons kan nie ons teks verkondig asof dit, soos vir die Jode, alles net toekoms is nie. Eweneens is dit ook nie maar net vervulling nie. As Nuwe-Testamentiese gelowiges lewe ons in die spanningsveld van die reeds en die nog-nie. Jeremia 31:27-34 help ons om beide die reeds en die nog-nie beter te verstaan.

In studies en preke oor ons teks word verskillende perspektiewe en invalshoeke gevolg:
Die vraag wat die “nuwe” verbond beteken: Volgens ons teks is die verbond met Juda en Israel gesluit (Bergant). Dit gaan hier nie daaroor dat dit ’n ander verbond is as die een wat God met Abraham/Israel gesluit het nie (Eagelsberger, Foitzik). Die aard daarvan bly dieselfde: dit berus op God se inisiatief en genade. Dieselfde wet spel die praktisering van die geloofs-verhouding uit. Die verskil kom in dit wat in die mens gebeur en daarom kan dit nie buite om die verlossings(vergifnis-)werk van Christus en die vernuwende werk van die Heilige Gees verstaan word nie. Omdat Calvyn dit as een verbond verstaan, bepaal dit sy Skrifbeskouing en bevestig dus die gelyke belang van die Ou  naas die Nuwe Testament; sy teologie, hoe hy oor God en oor die Christelike lewe dink, veral die funksie van die wet in die nuwe bedeling waar dit as reël van dankbaarheid gesien word. Dit is om uit “eine neue Existenz” te lewe (Möller).

Die vraag of die kerk Israel vervang: Die Nuwe Testament stel dit nêrens nie (Brueggemann; Eagelsberger, verwys na R Rendtorff). Dit hang af van hoe oor verbond gedink word (Möller); wanneer dit as twee teenoorstaande verbonde gesien word, gee dit dikwels aanleiding tot ’n negatiewe houding teenoor Jode, soos soms onder Lutherse invloed gebeur het. Sake rondom die uitleg van Romeine 11 kom hier ter sprake.

Die vraag oor dit wat reeds is en wat nog kom: die eskatologiese motief (“daar kom ’n tyd”) van die teks moet vasgehou word. As die aksent ten volle op die alreeds val, vind skeeftrekking soos by sekere “evangeliese/heiligheids” groepe gevind word, plaas. Andersyds is die gevaar dat dit te eensydig as “komende” gesien word. Vir ons tradisie is die gevaar dat ons maklik te min uit die werklikheid in Christus en die Gees lewe.

Gebruik van die teks by nagmaal, veral op die vooraand van Pase (Gründonnerstag; Möller) berus hoofsaaklik op die verwysing na ons teks in Lukas 22:20. Die gevaar van ’n oppervlakkige verbintenis ten spyt, bied die teks potensiaal om aspekte van die  nagmaal te belig, soos dat dit alles Godsdaad is, die sentrale belang van die vergifnis in Christus, die aard van die verhouding (verbond), die reeds en die nog-nie, ensovoorts. 

Die teks help om Bybelse/evangeliese perspektief op die koms van die nuwe werklikheid as Godsdaad te behou, teenoor dikwels eensydige aksente op die rol van die mens, soos die arianistiese trekke by baie charismatiese groepe en in verskillende “bevrydingsteologieë” – sosiaal-polities, geslags, ekologies, ekonomies (Foitzik). Die teks sê ware vernuwing begin waar God vergewe en die hart nuut maak. Maar hier moet ook weer gewaak word teen ’n onskriftuurlike verindividualisering van die werklikheid waarvan ons teks praat. Die kerk/ geloofs-gemeenskap is die draer van die nuwe verbond.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

In die fokusteks beloof die Here dat Hy in die toekoms ’n nuwe verbond met sy volk sal sluit. Hy sal sy Woord op hulle hart skryf en in hulle gedagtes vaslê. Hy sal hulle sonde en oortredings vergeef. Dit sal hulle lewe op ’n nuwe koers plaas. In Christus word hierdie belofte ’n werklikheid, maar die Nuwe-Testamentiese gelowige beleef steeds ’n spanningsveld tussen die reeds en die nog nie.

Rus

Stilte

Luister: Speel ‘n grootse, sterk, majestueuse klassieke musiekstuk (een sonder woorde)

Iemand lees: Amos 5:21-24 (lees stadig, duidelik, nadenkend)

Gebed:
Vader, ons bring nie vir U graanoffers en brandoffers en maaltydoffers nie,
ons bring vir U ons gebede en liedere.

Ons weet dat ons gebede en liedere net soos die offers van ouds vals kan wees
omdat dit nie gebore is uit ‘n lewe wat getuig van reg en geregtigheid nie.

Wys aan ons die onreg en onopregtheid in ons lewe
en genees ons daarvan

sodat ons gebede en liedere vir U mooi en goed kan wees.

Liedere

Lied: LB 205:1,3
LB 207:1,2

Vergifnis: Volgens Ps 51:18-19 vergeef God ‘n hart vol ootmoed en berou … ware ootmoed en berou is vir God geen geringe saak nie …

Lied: LB 245:1,2

Lof/aanbidding: LB 176`
LB 179:1,2,3

Familie-oomblik

Gebruik hierdie voorbeelde om met die kinders (en hulle ouers) te gesels oor hoe God met ons werk, na aanleiding van die teks.  Dit sal jou ’n ekstra invalshoek gee vir die preekriglyn wanneer gesels word oor watter beginsels Jeremia gee waarbinne verandering in ons lewe moet gebeur (eie verantwoordelikheid en innerlike vernuwing).

In die ou dae het die mense op die volgende verskillende mediums geskryf:

  • Yster
  • Stene
  • Papirus
  • Perkament (leer velle)

Vandag skryf ons op enigiets:

  • Papier
  • Glas
  • Staal
  • Plastiek
  • Elektronies (harde skyf)
  • Ons het selfs ’n DVD writer!

Vra vir die kinders watter van die goed onvernietigbaar is?

  • Papier – brand
  • Glas – breek
  • Staal – smelt
  • Plastiek – smelt + brand
  • Elektronies – ‘crash’!
  • DVD – krap

God het egter die beste medium wat ’n lewenslange waarborg dra: jou hart!  God skryf daarop, sodat niemand kan sê hulle het nie geweet nie.  Iets wat op jou hart geskryf staan, is iets wat belangrik vir jou is.  God se Woord is op ons harte geskryf.  Kom ons lees dit weer, sodat ons harte warm kan word.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Hierdie preekriglyn is geskryf met ’n landelike gemeente in gedagte.  Stedelike gemeentes kan dit ook gebruik deur net die voorbeelde aan te pas.

Waar God is, is daar verandering.

Gen 1:1 sou myns insiens kon gelui het: “In die begin het God alles verander …”

In die lewe van God se volk en kerk is dit ook só: Wanneer God inbeweeg in die geskiedenis van sy volk en kerk, gebeur en verander dinge. Hier in Jeremia word dit verwoord met, aan die een kant, die uitruk, die afbreek, die platslaan en die vernietiging van ou dinge.

Aan die ander kant word dit verwoord met die opbou en die planting (vestiging) van nuwe dinge.

God is nie ledig nie. In jou lewe is Hy soos die see, ewig onrustig en besig. En omdat sy kerk/gemeente na sy beeld moet wees en as sy bruid moet leef, mag sy kerk/gemeente ook nie maar gesus word in die rus van die eeue nie, veral nie in die ongesonde gestaltes daarvan nie.

Die gereformeerde kerk waarvan ons deel is, verstaan dit goed wanneer ons na sy mees basiese bestaanwyse as “semper reformanda”, oftewel voortdurende reformasie, verwys.

Die onrustige God se geloofsgemeenskap is ewe onrustig, altyd soekend na hoe lewe beter en mooier en waarder en betekenisvoller kan word.

Waar God is, is daar beweging, is daar aksie, is daar verandering … Moet dus nie vandag té gemaklik sit en rus nie, want jy gaan tot aksie opgeroep word in jou lewe en in die lewe rondom jou!

Ons sou ure kon bestee om uit te vind wat dit is wat volgens Jeremia afgebreek en uitgeruk moes word in die lewe van Israel in die jare rondom 600 vC. Om egter eksegese van Israel se geskiedenis van toe te doen, sal ons nie nou eintlik veel help nie en kan ons selfs verveel. Ons verstaan immers nie die kultuur van hoogtes en offerandes waarvan daar sprake is nie.

Dit sal ons baie eerder baat om ons eie geskiedenis van 2010 nC te ondersoek en te ontdek wat nóú moet verander, watter aksies nóú moet plaasvind, wat nóú uitgeruk en vernietig moet word in ons eie lewe en die lewe rondom ons.

Watter beginsels moet verandering begelei?

Die vraag is wat nóú in ons lewe in hierdie gemeente en die groter gemeenskap waarvan ons deel is, moet verander.

Ons sal ons moet laat lei deur twee beginsels tov verandering wat Jeremia duidelik stel:
Ons moet wegbeweeg van ‘n sisteem waarin ‘n mens jouself kan verontskuldig deur te sê dat dit nie jou skuld is nie. Ons moet wegbeweeg daarvan om die blaam en skuld op die vroeëre geslagte en op ander te pak.

Toegepas in ons landelike gemeentes se lewe sou dit sekerlik beteken dat ons maar kan ophou om die geskiedenis te blameer oor hoekom (binne die konteks van hierdie gemeente) ons plaaswerkers optree soos hulle optree, hoekom hulle huise lyk soos dit lyk, hoekom hulle naweke lyk soos hulle lyk en hoekom hulle motivering om te produseer is soos wat dit is.

Natuurlik sou ons die politieke geskiedenis en ons voorvaders se handelinge as verskoning kan gebruik. En natuurlik sou ons plaaswerkers self ook die geskiedenis kon blameer vir hoe dit met hulle gaan. Sáám sal ons ook baie ander mense vir die gesindheidsversteuring tussen ons en hulle en ander groepe kon blameer.

Dié soort blaam gaan niemand help nie. Die vraag is eerder hoe ons vandag, in 2010, dit vir mekaar beter kan maak hulle vir ons en ons vir hulle. Die vraag is: Hoe kan ek as boer op my plaas verantwoordelikheid aanvaar?

Jeremia waarsku die geloofsgemeenskap dat ‘n mens jouself nie by God kan verontskuldig deur die “blaming game” nie.

Mense is lief om vir psigoterapie te gaan. Dan kla ons oor ouers wat groen druiwe geëet het, en daarom is ons tande stomp. “Omdat my ouers my groot gemaak het op die manier wat hulle dit gedoen het, daarom het ek uitgedraai soos ek is.”

“Omdat my pa kort van humeur was, het ek dit ook geërf.”

Voor God staan jy self verantwoordelik vir jou lewe en vir wat daarin aangaan. Vir die verandering wat môreoggend in elke lewe in hierdie gemeente moet gebeur, neem elkeen van ons self verantwoordelikheid. Ons neem verantwoordelikheid vir ons eie lewe en gemeenskap in die kleine.
Ons sal moet wegbeweeg van ‘n sisteem van uiterlike pligpleging en aanbeweeg na ‘n sisteem van innerlike vernuwing. Dit gaan daaroor om die evangelie op die hart en gedagtes van mense te skryf, en nie op kerkmure en in sinodale verhandelinge nie.

Hierdie uitdaging het geweldige implikasies vir hoe ons as gemeente funksioneer en hoe ons onsself organiseer. So baie dinge in ons gemeente(s) gebeur dikwels nie uit die hart nie, maar as gevolg van die geweld van die struktuur wat ons bedryf.

Wat moet by ons verander?

(Gebruik hier jou eie voorbeeld, of pas hierdie voorbeeld in jou eie woorde aan)

[Die beeld  van hout wat ge-olie word, is ‘n teken van hout wat gevoed word van binne (innerlike vernuwing), teenoor hout wat slegs vernis word (oppervlakkige verandering).]

In die jongste tyd het ek baie gedink oor byvoorbeeld ons jaarlikse kermis (basaar). In die eerste plek behoort ons nie vir ons instandhouding van die gemeente van die inkomste van ‘n kermis afhanklik te wees nie. As almal van ons getrou ons dankbaarheid in materiële terme bewys, kan ons ‘n ontspanne kermis hou waarvan die inkomste slegs ‘n bonus is – om êrens buite die grense van ons gemeente waarheen die Here ons stuur, aan te wend.

Ek het ook daaroor gewonder of dit regtig reg en nodig moet wees dat groepleiers by lidmate moet omgaan om kaartjies te verkoop en betrokkenheid te vra. Moet lidmate nie eerder as bewys van opregte en hartlike deelname sélf aanmeld nie? Moet ons nie dalk volgende jaar die dapper stap neem en betrokkenheid gewoon aan die gemeente oorlaat en kyk wat gebeur nie …?

Net so moet ‘n mens vrae vra oor teenwoordigheidsregisters in ons jeugbediening, vrae oor die verkiesing van kerkraadslede wat dikwels gepaardgaan met ‘n ompratery en dwingelandy …

Die implikasies wat die teks vir ons lewe as individue daarbuite en as ‘n gemeente na binne inhou, is legio en ingrypend. Dit kan seer word … selfs die hele idee van betaalde dominees wat net preek omdat dit hulle werk is en daarom ander se preke (dié van die Leesrooster en op die internet!) misbruik ….!

Dit kan selfs wees dat ons in die groter kerkverband sal moet ophou met ‘n klomp “goeie” goed soos (byvoorbeeld) gepubliseerde preke en liturgieë en Powerpoints wat sommige “besige” dominees Saterdagaand gou-gou kan naderklap. Na regte gaan dit mos eintlik daaroor om van harte te kan sê dat iemand in hierdie week wat verby is, by die Here self geluister en gehoor het …

Jy sien, ook ek, die prediker, sal saam met julle mooi na my bediening moet gaan kyk en besluit of dit nog ‘n bediening van die hart is.

(Die idee is dat jy as prediker ‘n behoorlike eksegese doen van wat in jou gemeente aangaan en dan sáám met hulle antwoord:
1. Waarvoor moet ons nou in hierdie gemeente/gemeenskap verantwoordelikheid neem?
2. Watter dinge in ons gemeentelike sisteem is nog tekenend van uiterlike godsdiens wat harteloos en leeg is, en selfs aan strukturele geweld grens?
Jy kan uit die aard van die saak nie bogenoemde preek net so in ‘n stadsgemeente gaan preek nie – dit gaan nie werk nie! Jou gemeente vra ‘n eie toepassing.)

God stuur ons om te leef

Gebed
Bewyse van dankbaarheid

Toewyding: FLAM 2 Met ons lewens wil ons U eer …

Seënbede: Na aanleiding van Amos 9:13-15: Wanneer die geloofsvolk se geloofshart weer gesond is, sal die berge drup van druiwesap en die heuwels deurnat wees … en sal die geloofsvolk in die grond geplant wees en nooit weer uitgeruk word nie!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.