Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Klaagliedere gaan oor die verval van Jerusalem en die tempel, toe God se oordeel oor die moedswillige ontrouheid van die volk volledig in vervulling gegaan het. Wat oorbly, is die onbedaarlike weeklaag, ontroosbare pyn en lyding van die volk toe alles tot niet gegaan het. Die hartseer klag van die volk in ballingskap word veral ook duidelik verwoord in Psalm 137. In die klag gaan die horison van hoop op God weer oop (Klaagl 3:19-26). In 2 Timoteus 1 word ons aangemoedig om getrou te bly

Ander tekste

Klaagliedere 3:19-26
19Die gedagte aan my ellende
en my vreemdelingskap
is gal en gif vir my;
20as ek daaroor nadink,
draai my gedagtes vas.
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;

Habakuk 1:1-4, 2:1-4
1 ’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.
2 Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem
wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord
wanneer mense my verwyt.
2Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette
sodat mense dit sommer
in die verbygaan kan lees.
3Die openbaring geld
vir ’n bepaalde tyd;
dit sal gou kom
want dit kom beslis.
Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis,
dit sal nie uitbly nie.
4Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie,
sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe
omdat hy getrou bly.

Psalm 137
As ek jou sou vergeet, Jerusalem
137 By die riviere van Babel,
daar het ons gesit,
en ons trane het gevloei
as ons aan Sion dink.
2Aan die wilgerbome in daardie land
het ons ons liere opgehang
3toe dié wat vir ons gevange
weggevoer het,
ons gevra het om ’n lied te sing,
toe dié wat vir ons leed aangedoen het,
van ons vrolikheid wou hê:
“Sing vir ons ’n lied oor Sion!”
4Hoe kan ons die lied van die Here sing
in ’n vreemde land?
5As ek jou sou vergeet,
Jerusalem,
mag my regterhand dan verlam raak.
6Mag my tong
aan my verhemelte vaskleef
as ek aan jou nie dink nie,
as Jerusalem nie my grootste vreugde
bly nie.
7Onthou die Edomiete, Here,
die dag toe Jerusalem ingeneem is,
hoe hulle aangehou het met sê:
“Breek af, breek af die stad
tot op sy fondamente!”
8Dat jy verwoes sal word, Babel,
is seker.
Gelukkig is die man
wat jou terugbetaal
vir wat jy ons aangedoen het!
9Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp
en teen ’n klip verbrysel.

Psalm 37:1-9
Laat jou lewe aan die Here oor
37 Van Dawid.
Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
2want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid
verdwyn hulle sommer.
3Vertrou liewer op die Here
en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek
soos die son,
jou reg soos die helder lig
van die middag.
7Daarom moet jy in stilte
op die Here vertrou
en jou nie ontstel
oor die voorspoedige lewe
van ’n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie,
laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie:
dit bring net ellende.
9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue
in die Here stel,
sal in besit bly van die land.

2 Timoteus 1:1-14
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.
2Aan Timoteus, my geliefde seun.
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Getrouheid aan die evangelie
3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ’n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

15Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes.

16Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom. En wat Onesiforus alles in Efese vir my gedoen het, weet jy self baie goed.

Lukas 17:5-10
Uitsprake van Jesus
(Matt 18:6–7, 21–22; Mark 9:42)
17 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2So ’n mens kan eerder met ’n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ’n struikelblok word. 3Wees dus self op julle hoede.

“As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”

6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

7“Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’?8Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’9’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Fokusteks

Klaagliedere 1:1-6
Daar is niemand wat vir Jerusalem bystaan nie
1 Ag, hoe verlate lê die stad
wat vol mense was!
Sy het soos ’n weduwee geword,
sy wat magtig was onder die nasies.
Sy wat heerskappy gevoer het oor ander
moet nou dwangarbeid doen.
2Onbedaarlik huil sy die hele nag,
die trane loop oor haar wange.
Niemand van haar vroeëre minnaars
is daar om haar te troos nie.
Al haar bondgenote het teen haar
verraad gepleeg,
hulle het haar vyande geword.
3Juda se mense is weggevoer,
hulle kry swaar, hulle is slawe,
hulle sit tussen vreemde nasies
waar hulle geen rusplek kry nie;
hulle agtervolgers het hulle ingehaal,
hulle in die noutes vasgekeer.
4Die paaie na Sion toe treur
omdat daar geen feesgangers is nie;
al haar poorte is verlate,
haar priesters sug,
haar jong vroue is bedroef,
sy het dit bitter.
5Haar teëstanders het haar heersers
geword,
haar vyande lewe nou rustig.
Die Here het haar laat ly
oor haar baie sonde;
haar kinders het ballinge geword,
deur die vyand weggevoer.
6Die prag van Sion het alles verdwyn.
Haar leiers het soos takbokke geword
wat geen weiveld vind nie,
hulle moes magteloos wegtrek
voor hulle agtervolgers uit.
7In hierdie dae van haar ellende
en verdrukking
dink Jerusalem aan al haar kosbare dinge
van die verlede.
Toe haar volk in die hande van die vyand
geval het,
was daar niemand wat haar gehelp het nie;
haar vyande het dit gesien,
hulle het gelag
oor wat van haar geword het.
8Jerusalem het groot sonde gedoen,
dit het haar soos ’n onrein vrou laat word;
die mense het haar naaktheid gesien,
almal wat haar geëer het,
verag haar nou.
Sy sug en draai weg.
9Haar onreinheid wys aan haar klere,
sy het nie gedink
aan wat van haar sou word nie.
Sy het diep geval
en daar is niemand
wat haar bystaan nie.
Sien tog my ellende raak, Here,
kyk wat matig die vyand hom aan!
10Die vyand het beslag gelê
op al haar waardevolle dinge;
sy moes aanskou hoe heidennasies
in haar heiligdom ingaan,
hulle vir wie U belet het
om in u gemeente te kom.
11Haar hele bevolking sug,
hulle soek brood,
hulle het hulle waardevolle besittings
verruil
vir kos om aan die lewe te bly.
Kyk tog, Here, en sien tog raak
hoe verag ek is.
12Raak dit julle nie,
julle almal
wat met die pad verbygaan?
Kyk tog self of daar ’n smart is
soos die smart
wat oor my gekom het,
wat die Here my aangedoen het
die dag toe sy toorn losgebreek het.
13Hy het ’n vuur van bo af gestuur,
en dit het my liggaam verteer;
Hy het vir my voete ’n strik gestel,
my agteroor laat steier;
Hy het my verlate gemaak,
ongeneeslik siek.
14My sondes is saamgebind tot ’n juk,
hulle is saamgevleg
deur die hand van die Here,
hulle is op my nek gesit,
en dit het my krag laat ingee.
Die Here het my oorgegee
in die mag van mense
teen wie ek geen weerstand
kon bied nie.
15Die Here het al my dapper manne
as waardeloos beskou,
ten koste van my het Hy ’n feestyd
uitgeroep
om ’n slagting onder my jongmanne
aan te rig.
In ’n parskuip het die Here
vir Juda fyn getrap.
16Dit is daarom dat ek so huil,
dat die trane uit my oë stroom.
Daar is geen trooster naby nie;
my bevolking is verslaan,
die vyand het die oorhand gekry.
17Sion steek haar hande uit om hulp,
maar daar is niemand
wat haar bystaan nie.
Die Here het vir Jakob aan alle kante
vyande ontbied.
Jerusalem het onder hulle
soos ’n onrein vrou geword.
18Die Here het reg gedoen:
ek was ongehoorsaam aan sy woord.
Luister tog, alle volke,
aanskou my smart:
my jong vroue en jongmanne
het ballinge geword.
19Ek het na my bondgenote geroep,
maar hulle het my
in die steek gelaat.
My priesters en leiers
het in die stad beswyk
toe hulle vir hulle kos gesoek het
om aan die lewe te bly.
20Kyk na my nood, Here!
Dit brand in my,
ek is verpletter
omdat ek so ongehoorsaam was;
buite maai die swaard af
en in die huise heers die pes.
21Hulle hoor my sug,
maar daar kom niemand
om my by te staan nie;
al my vyande hoor hoe sleg dit
met my gaan
en hulle is bly dat U dit gedoen het.
Laat tog die dag kom
wat U aangekondig het,
dat hulle kan word soos ek is.
22Laat al hulle boosheid voor U kom,
en doen met hulle
soos U met my gedoen hetoor al my sondes.
Ek sug gedurig,
my hart is gebreek.

Liturgie

RUS

Toetrede: Psalm 137 of VONKK 18

Votum: Psalm 137:1-6

Seëngroet

Lofsang; Lied 456 of F244 of F64

Toewyding: (Uit die liturgie vir die Seisoen van die Skepping, beskibaar by http://ngkerk.org.za)

Genadeverkondiging: Klaagliedere 3:21-30

Respons: F5

Geloofsbelydenis: (Uit die liturgie vir die Seisoen van die Skepping, beskibaar by http://ngkerk.org.za)

HOOR

Gebed 

Skriflesing: Klaagliedere 1:1-6

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: (Uit Wepener, Cas. 2011. Soos ‘n blom na die son draai. Bybelmedia.)

Dankofer

Slotsang: Lied 516 of F7

Seën

Respons: F7 refrein of Een van die “Amen”-liedere

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Psalm 137 Spies beryming of
VONKK 18 Ek Soek Na Die Lewende Water (Psalm 42 en 43)

Votum
Psalm 137:1-6
By die riviere van Babel,
daar het ons gesit,
en ons trane het gevloei
as ons aan Sion dink.
2Aan die wilgerbome in daardie land
het ons ons liere opgehang
3toe dié wat vir ons gevange
weggevoer het,
ons gevra het om ’n lied te sing,
toe dié wat vir ons leed aangedoen het,
van ons vrolikheid wou hê:
“Sing vir ons ’n lied oor Sion!”
4Hoe kan ons die lied van die Here sing
in ’n vreemde land?
5As ek jou sou vergeet,
Jerusalem,
mag my regterhand dan verlam raak.
6Mag my tong
aan my verhemelte vaskleef
as ek aan jou nie dink nie,
as Jerusalem nie my grootste vreugde
bly nie.

Seëngroet

Lofsang
Lied 456 “Loof, heel die skepping, loof die Heer”
F244. Loof, heel die skepping, loof die Heer (Lied 456)
F64. U Is God 

Toewyding
Skepper en Verlosser,
ons het die aarde uitgebuit vir selfsugtige redes,
ons rug gedraai op die natuurlike siklusse van die lewe
en vergeet dat ons u verteenwoordigers is.
Daarom word die grond onvrugbaar,
word die lug en water vuil,
verdwyn spesies
en verloor mense hulle menslikheid.
Met berou kom ons na U toe.
(Uit die liturgie vir die Seisoen van die Skepping, beskibaar by http://ngkerk.org.za)

Genadeverkondiging
Klaagliedere 3
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
27dit is goed vir ’n mens
om sy las in sy jeug te dra.
28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
29laat hy hom diep verootmoedig
—miskien is daar hoop—
30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig
smaad ondervind.

Respons
F5. Daar Is Geen Grens (bekend – nav Klaagliedere 3 – Afr van “Steadfast Love”, waarna in preek verwys word)

Geloofsbelydenis
Ek glo, God Drie-enig,
dat U die ewige Skepper is van alle lewe.
Ek glo, God Drie-enig,
dat U die ewige Vader van liefde is.
Ek glo, o Here en God van alle mense,
dat U die Skepper is van die hemele daarbo.
Ek glo, o Here en God van alle mense,
dat U my siel gemaak het en die patroon daarvan vasgelê het. Amen.
(Uit die liturgie vir die Seisoen van die Skepping, beskibaar by http://ngkerk.org.za)

Liedere

VONKK 18 “Ek Soek Na Die Lewende Water (Psalm 42 en 43)”
Psalm 42 en 43 Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: AUAS – Jacus Krige 2008
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping

1. Ek soek na die lewende water,
ek roep en dors na U, Heer –
want ek huil dag en nag, o Here, ek smag
om by U te wees nog ‘n keer.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

2. Hul spot en hul vra my aanhoudend:
Waar is dié God van jou nou?
Al het golwe van swaarkry oor my gespoel,
tog wéét ek ek kan U vertrou.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

3. O Here, kom red en verhoor my,
help my en spreek my tog vry –
met valsheid wil bose mense my vang,
maar U is ‘n skuilplek vir my.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

4. Kom stuur nou u lig en u waarheid,
laat dit my lei na u huis
want, God, U’s my God, –
die bron van my lof,
my lied sal U jubelend prys.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

F244. “Loof, heel die skepping, loof die Heer (Lied 456)”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Oorspronklik: All Creatures of Our God And King Musiek: William Draper ca 1910
Teks: Izak de Villiers © 1978 Addisionele Teks en musiek: Jan Hoogendyk © Broken Record

1. Loof, heel die skepping, loof die Heer,
verhef jul stem om Hom te eer!
Kom en prys Hom! Halleluja!
Die aarde op sy vaste baan,
die wolke en die silwer maan,
Kom en loof Hom, kom en prys Hom!

Refrein:
Halleluja! Halleluja!
Daar is lewe in U hande.

2. Hy is ons God wat alles dra
en niemand ooit om bystand vra.
Kom en prys Hom! Halleluja!
Sy krag in droefheid, krag in leed,
sal niemand ooit na waarde meet.
Kom en loof Hom, kom en prys Hom!

Refrein: (x2)

3. Laat alles voor die Skepper buig
en Hom ootmoedig dank betuig.
Kom en prys Hom! Halleluja!

Refrein: (x3)

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God) Teks en musiek: Nellis van Zyl Smit © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer,
en elke rots skree uit: U is God.
Die bome wieg deur u asem, Heer
en saggies fluister hul: U’t opgestaan.

U regeer tot in ewigheid.
U is God vir altyd nog.
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
en tog met heerlikheid en eer gekroon.
Heilig, heilig, heilig is die Heer
wat was, wat is en wat kom.
Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid.

F5. “Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration (Opgeneem op FLAM, vol 1) (Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik © 2000 Integrity’s Hosanna Music (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ’n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ’n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Klaagliedere 1:1-6
Bybelmedia se Woord & Fees 2015-2016 stel voor dat die teks deur verskillende stemme gelees word: Vers 1-2 – voorgelees deur ’n vrou; Vers 3-4 – voorgelees deur ’n man; Vers 5-6 – voorgelees deur ’n kind. Die persone wat voorlees, bly sit op hulle plekke in die kerkbanke. Verkieslik het elkeen ’n mikrofoon.

Familie-oomblik

Storypath.upsem.edu sê: “This text serves to remind us that part of the process of lament involves remembering the experiences that have brought about one’s suffering and tears. We see in the verses of this passage why Jerusalem weeps and and remember with her the cause of her great suffering.” Hulle stel voor dat jy met kinders gesels oor die dinge wat mense hartseer maak. Die storie van die klein hasie in “Why Do You Cry?” deur Kate Klise is perfek om die gesprek in te lei. Ongelukkig is dit nie elektronies beskikbaar nie. Dit lyk asof jy dit by loot kan kry, maar ander plaaslike verspreiders sê die verskaffer se voorraad is op. Kyk dus die video waar iemand die storie lees (ongelukkig nie geskik vir vertoning tydens die diens nie) en vertel die storie in jou eie woorde! Dis die verhaal van Klein Hasie wat maatjies nooi na sy vyfde verjaarsdag. Hy glo dat net babatjies huil, daarom besluit hy om net ander groot diere te nooi. In sy boekies is dit diere wat nie huil nie. Een na die ander probeer hy sy maatjies nooi, maar een na die nader sê hulle kan ongelukkig nie kom nie, want hulle huil nog. Elkeen vertel vir hom wat hulle laat huil. Uiteindelik vind hy uit selfs sy ma huis soms! Jy kan hierdie storie gebruik om te gesels oor dié dinge waaroor julle as gemeenskap huil – en saam intree vir die dinge wat julle hartseer maak.

Preekriglyn

[Nota: In die preek word doelbewus na die wyer inhoud van klaagliedere verwys om die boek beter aan die hoorders bekend te stel.]
Die Klaagliedere van Jeremia is ‘n versameling van vyf klaagliedere oor die val van Jerusalem en die tempel in 586 v.C. Die eerste woord van die eerste vers (die Hebreeuse woord ekâ) druk alreeds sy verslaentheid uit: “Ag, hoeverlate lê die stad.” Geen wonder dat dié woord ook as Hebreeuse titel gebruik is vir die versameling klaagliedere oor wat Jeremia moes waarneem met die val van Jerusalem in 586 v.C.

Hoewel Jeremia nie in die boek genoem word nie, en baie geleerdes daarom dink dat die klaagliedere aan anonieme digters uit sy tyd toegeskryf moet word – daar is immers heelwat soortgelyke klaagliedere oor die verwoesting van stede, bv. die bekende en antieke Klaaglied oor die Verwoesting van Ur – kom baie van die frases in die boek ooreen met dié van die boek van die profeet Jeremia (vgl. bv. Klaagl. 1:15 met Jer. 8:21; Klaagl. 3:64–66 met Jer. 11:20; Klaagl. 4:21 met Jer. 49:12), en werk die twee boeke met dieselfde teologiese perspektiewe op oordeel en verlossing. Dit is ook duidelik ’n ooggetuie digter.

2 Kron. 35:25 noem verder dat Jeremia klaagliedere geskryf het en dat dit in ’n boek opgeteken is: “Jeremia het ’n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het ’n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.” Hoewel dit nog steeds uiteraard nie sy outeurskap van hierdie vyf klaagliedere bewys nie, maak dit ’n stewig genoeg argument uit om Jeremia as skrywer van dié boek te aanvaar, soos dit inderdaad in die tradisie aan ons oorgelewer is.

Boodskap

Jeremia huil in hierdie boek hartroerend oor die toorn van God wat hy oor die land sien losbars het. Hy skryf as ’n ooggetuie van die traumatiese verwoesting van die stad, die verkragting en vernietiging van die mense en die verstrooiing van die volk in ballingskap. In hartverskeurende detail brei hy uit oor die dodelike impak daarvan op die geloofsgemeenskap:

My oë is gedaan van huil, dit brand in my, my moed is gebreek … kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad. Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink. In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit. Wat kan ek vir jou sê … Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion?“ (2:11–13)

Die probleem was ook nie net dat die volk Juda sosiaal, ekonomies en polities verwoes is nie. Dit was immers al erg genoeg. Maar, hulle worstel nou in ballingskap veral met die feit dat hulle teologiese sekerhede vernietig is.

Hulle het geglo dat God Sy volk, Sy huis (die tempel) en Sy stad sou beskerm. Dit het sy verbond met Abraham, Moses en Dawid immers behels, soos die Skrifte hulle beloof het. Maar Hy het nie sy verbond in stand gehou nie. Hy het die stad van belofte en die plek van Sy teenwoordigheid vernietig en die volk in ballingskap laat wegvoer.

Die vraag was dus brandende: Hoe kon God soveel ellende oor Sy volk laat kom? Hoe kon Hy Sy eie beloftes só versaak? En waar laat dit hulle nou? Sou daar nog iets oor wees vir die toekoms? Wat kon hulle nou van God verwag? Sou daar ’n omkeer moontlik wees?

Dit is in dié situasie dat Jeremia met sy Klaagliedere die hartseer en verydeling van die volk verwoord. Sy digwerk gee woorde aan die worsteling, gee redes vir die oordeelsvoltrekking, veral redes wat verband hou met die feit dat die volk hulle kant van die verbond nie nagekom het nie, maar formuleer tog ook die hoop dat God Hom weer sal ontferm, want “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:25).

Hoop en troos

Daarom bring Jeremia met sy Klaagliedere uiteindelik ’n boodskap van hoop en troos vir die toekoms, terwyl hy ook nie wegskram daarvan om die valse teologie wat hulle tot ’n val gebring het, te ontbloot nie. Die beloftes van die verbond was bedoel vir dié wat die Here dien en in ’n verhouding met Hom lewe. Vandaar die voltrekking van die oordeel weens die volk se verbreking van die verbond. Dit was hulle eie skuld.

Die Here is egter steeds in beheer. Soos Hy in beheer van die oordeelsvoltrekking was, sal Hy dit ook wees in die herstel vir dié wat op Hom bly hoop:
Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut… Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:21–25).

Dié verse het Robert Davidson geïnspireer in die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” ’n Mens kry sommer nuwe waardering vir dié lied binne die konteks van Jeremia se worstelinge. Dít is ons hoop, God se troue liefde, selfs wanneer ons in die diepste ellende is.

Jeremia verkondig dus dat die Here nie mense vir altyd verstoot nie, want dit is in die eerste plek teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring (3:31-33). Die Here sien ook die onreg raak wat die instrumente van sy oordeel pleeg, al gebruik Hy hulle in sy oordeelsvoltrekking. Hy sal uiteindelik ook optree namens dié wat in die oordeel, steeds met hulle hele hart hulle sonde bely en op God bly vertrou (3:40-42).

Meer nog, Jeremia vra van God dat Hy die inisiatief sal neem: “Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër.” (5:21), iets wat resoneer met beide Dawid se belydenis in Psalm 51 sowel as Jeremia se eie beloftes van herstel in Jer. 30-33, die Boek van Vertroosting. Die hoop vir bekering lê in God se ingrype, nie in die mens se eie pogings daartoe nie.

Klaagliedere sluit af met ’n vraag: “Of het U ons heeltemal verwerp? Is U toorn oor ons so groot?” (5:22) wat ook sy klaaglied afsluit as ’n retoriese appèl op die Here en sy goedheid.

Daarmee gee hy ons ’n manier waarop ons ook na leed in ons eie lewe en in dié van ons gemeenskap kan kyk en die Here se wil en uitkoms kan soek. Net soos die klaagliedere in die Psalms ons help om ons leed te verwoord en met die regte perspektief op onsself en op God die Here om uitkoms te nader, só help Klaagliedere van Jeremia ons ook.

Indeling

Die vyf klaagliedere is kunstig opgebou in akrostiese vorm. Dit beteken dat in hfst. 1,2,en 4 elke vers met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin, 22 in getal. In hfst. 3, die middelste hoofstuk, begin telkens drie verse op ‘n keer elkeen met dieselfde opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Die hoofstuk is dan ook die kern van die boodskap van Jeremia wat God se hart vir die volk in ballingskap die diepste verwoord. Sy slotsom dat ’n mens alleen op God se barmhartigheid jou hoop kan bou. Hfst. 5 het ’n vryer opbou, maar steeds 22 verse, hoewel elke vers nie met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin nie.

Hierdie aanpak van die skrywer is nie net ’n goeie kommunikasie metode wat ’n mens help om die verse agter mekaar te kan opsê nie, maar dit kommunikeer in ’n sekere sin ook ’n konsekwentheid in God se optrede. Daar is ’n orde in wat Hy doen. Jy kan op sy integriteit om te doen wat Hy beloof, staatmaak. Daarom kan ’n mens selfs in oordeel op God se karakter vertrou, waarvan sy troue liefde en sy goedheid twee konsepte is wat Jeremia aangryp as die basis vir sy hoop op die toekoms.

Die vyf klaagliedere volg op mekaar in terme van ’n perspektief op die verlede (hfst. 1-2), die hede (hfst. 3), en die hoop vir die toekoms (hfst. 4-5). My titels vir hoofstuk 1,2 en 4 kom uit die eerste verse van dié hoofstukke, terwyl hoofstuk 3 en 5 se titels uit die kernvers van die onderskeie klaagliedere kom:

    • Ag, hoe verlate lê die stad” – hfst. 1
    • Ag, hoe het die donker toegesak op Sion” – hfst. 2
    • Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop” – hfst. 3
    • Ag, hoe dof het die goud geword” – hfst. 4
    • Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër.” – hfst. 5.

Klaagliedere 1: “Ag, hoe verlate lê die stad”
Twee sprekers tree op in hierdie gedig, die profeet en die verpersoonlikte Jerusalem. Dit gee ook ’n handige verdeling van die inhoud van die gedig:

      • 1:1-11b – Profeet: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was.
      • 1:11c-16 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.
      • 1:17 – Profeet: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie.
      • 1:18-22 – Jerusalem: “Die Here het reg gedoen: ek was ongehoorsaam aan sy woord.

1:1-11b – Profeet: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was.
Jeremia huil in hierdie gedig hartroerend oor die effek van God se toorn oor Jerusalem. Dit is soos ’n begrafnis wat hy moes gadeslaan (die woord wat hier vertaal is met “Ag, hoe” is baie keer in rouprosesse gebruik). Dit is duidelik dat hy hier as ’n ooggetuie skrywe van twee van die gevolge van God se toorn:

1. Die traumatiese effek van die verwoesting van die stad op die psige van die volk:

      • Die prominente stad het soos ’n weduwee geword.
      • Sy moet nou dwangarbeid doen: “sy wat heerskappy gevoer het”.
      • Daar is niemand van haar vorige bondgenote naby om haar te help nie. Hulle het haar verraai en haar vyande geword.
      • Hulle onthou die kosbare dinge uit die verlede, maar weet dit is nou verby, die stad het onrein geword soos ’n menstruerende vrou, dit wys selfs op haar klere, sy is in haar naaktheid ontbloot (’n metafoor vir verkragting).

2. Die ongebreidelde chaos wat in die gemeenskap sowel as in die heiligdom heers weens die verstrooiing van die volk in ballingskap:

      • Juda se mense is weggevoer en kry swaar tussen vreemde mense.
      • Hulle is nou ’n slawevolk. “Haar teenstanders het haar heersers geword.
      • Die paaie na Sion toe treur omdat daar geen feesgangers is nie.” Die pelgrimstogte na Jerusalem vir die verskillende feeste het tot stilstand geknars. Die priesters sug, die plek is verlate, Jerusalem het dit bitter.
      • Die prag van Sion het alles verdwyn en haar leiers moes magteloos wegtrek. Dink aan Sedekia wat vir Nebukadnesar gevlug het (Jer. 40), Ismael wat die agtergeblewe volk na die Ammoniete probeer wegvoer het (Jer. 41) en uiteindelik Joganan wat met hulle na Egipte toe getrek het ná die val van Jerusalem (Jer. 43).
      • Die waardevolle dinge in die tempel is uit die heiligdom weggevoer en die tempel ontheilig.
      • Die volk ly broodsgebrek.

Op twee plekke word die rede daarvoor aangegee. Dit is oor “haar baie sonde” – die woord vir sonde in vers 5 is eintlik opstande of rebellies, boonop in die meervoud – en die “groot sonde” wat sy gedoen het. In vers 8 word die meer normale woord vir sonde gebruik.

1:11c-16 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.
Jerusalem verwoord haar eie leed in ’n gebed aan die Here: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.” Sy vra ook aan die omringende nasies of haar onnoembare leed hulle nie raak nie: “of daar ’n smart is soos die smart wat oor my gekom het nie”.

Sy wyt dié smart aan die toorn van die Here wat oor haar losgebreek het. Haar sondes is as’t ware saamgebind tot ’n juk en op haar nek gesit wat haar kragte getap en laat ingee het. Sy kon dus nie weerstand bied teen haar teëstanders nie.

In die parskuip het die Here vir Juda fyngetrap.” Dit is daarom dat sy so huil: “dat die trane uit my oë stroom.” Daar is geen trooster naby nie. Die bevolking is verslaan. Die vyand het die oorhand gekry.

1:17 – Profeet: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie.
Jeremia eggo in ’n enkele vers dat daar niemand is wat haar bystaan nie, al steek sy haar hande uit om hulp.

1:18-22 – Jerusalem: “Die Here het reg gedoen: ek was ongehoorsaam aan sy woord.
In ’n boodskap bedoel vir die ander nasies erken Jerusalem nie net dat haar straf weens haar verkeerde alliansies gekom het nie – “Ek het na my bondgenote geroep, maar hulle het my in die steek gelaat” – maar veral omdat die Here reg gedoen het. Dit is die punt van omkeer, van vernuwing, die besef dat die Here se reg bó alles staan, en dat die erkenning daarvan die begin van nuwe moontlikhede is.

Daarom kan sy die Here vra vir ingrype in haar nood, al word sy deur die swaard van die Here afgemaai. Sy wens ook dieselfde straf vir haar teëstanders wat hulle verlekker in haar smart: “Doen met hulle soos U met my gedoen het oor al my sondes.

Boodskap
Dit is duidelik dat die waarheid pynlik is om te sluk, maar Jerusalem kon dié chaos vermy het as hulle nie teen God gerebelleer het in hulle sonde nie. Die straf van ballingskap kon afgewend geword het as hulle maar net geluister het na die boodskap van die Here wat hulle gewaarsku het dat sy toorn oor hulle sal ontvlam weens hulle ongehoorsaamheid.

Die evangelie in hierdie gedeelte is die besef dat die erkenning van sonde gekoppel aan die erkenning dat die Here reg opgetree het, die begin van die verandering kan wees. Dit is ’n boodskap wat vir alle tye geld. Soos die tollenaar in die tempel, anders as die Fariseër, daar ver gaan staan het en selfs nie na die hemel toe wou opkyk nie, só moet ons ook bid: “O God, wees my, sondaar, genadig.” (Luk. 18:9-14).

Dit is dan wanneer ons die Here Jesus hoor sê: “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.

God stuur ons om te leef

Gebed
V: O Skepper-God! Hoor ons gebed en herskep ons. Kom en lei ons op die regte pad …
G: ’n pad van omgee vir u aarde.

V: Herskep ons ekonomieë wat die omgewing verwoes …
G: in Suid-Afrika, China, Amerika en oral in die wêreld.

V: Herskep regerings wat nie die bekamping van besoedeling as prioriteit sien nie …
G: in Suid-Afrika, China, Amerika en oral in die wêreld.

V: Herskep individue wat vertrap eerder as heers …
G: in Suid-Afrika, China, Amerika en oral in die wêreld.

V: O Skepper-God! Hoor ons gebed en herskep ons. Kom herskep ook my gesindheid teenoor die aarde …
G: haal my kliphart uit en gee vir my ’n hart van vleis.

V: Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek, bid ons …
V: Amen!
(Uit Wepener, Cas. 2011. Soos ‘n blom na die son draai. Bybelmedia.)

Dankofer

Slotsang
Lied 516 “Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie”
F7. Here, Ek Vergeet So Gou

Seën

Respons
F7. Here, Ek Vergeet So Gou refrein of
Een van die “Amen”-liedere

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.