Tweede Sondag van Pase

Preekbundel

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 16
’n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie
behalwe by U.
3Die afgode in die land,
so aantreklik vir baie-
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ’n ander god vereer,
baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers
uitgiet nie,
hulle name sal ek nie
op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my
tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus
van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar
nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Johannes 20:19-31
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

1 Petrus 1:3-9
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Sleutelteks

Handelinge 2:14a, 22-32
PETRUS SE TOESPRAAK
14Daarop staan Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe:

“Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig:
17” ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.
19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal verander in duisternis
en die maan in bloed,
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21Dan sal elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, verlos word.’

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was ‘n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. 23Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. 24God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. 25Dawid sê immers oor Hom:
” ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien,
want Hy is aan my regterkant,
sodat ek nie wankel nie.
26Daarom juig my hart
en jubel my tong;
ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef,
27want U sal my siel nie aan Hades oorlaat,
en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.
28U het vir my die paaie
na die lewe bekend gemaak –
deur u teenwoordigheid
sal U my met blydskap vervul.’

29“Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. 30Omdat hy ‘n profeet was, en geweet het dat ‘God met ‘n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ 31het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê:
” ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat,
nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’

32“God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies.
33Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. 34Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self:
” ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand,
35totdat Ek jou vyande
‘n voetbank vir jou voete
gemaak het.’

36“Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”

37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.” 40Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.

EERSTE GEMEENTE
42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. 43Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. 45Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. 47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

Leesrooster vir Lidmate

Ons is almal getuies van Jesus se opstanding.

Moment 1
Petrus maak sin van sy gehoor se ervaring
Petrus se toespraak ná die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag interpreteer die gebeure van Jesus se dood en opwekking uit die dood. Hy doen dit met die hulp van Ou-Testamentiese bronne, byvoorbeeld die psalms. Die rede is dat sy gehoor vroom Jode was wat vir die Fees van die Weke in Jerusalem bymekaar was. So probeer hy sy gehoor skuif van die ervaring van die man wat hulle gesien en beleef het, tot die Christus wat opgewek is.

Moment 2
God die Skepper wek Christus op
As ons praat oor die leë graf, ook nou in Paastyd in die kerk, word daar twee frases gebruik: dat Christus opgestaan het uit die dood en datChristus uit die dood opgewek is. Ook in die verse kry ons albei (v 31 en 32). Dit is egter belangrik in die oorvertel van ons verlossingsverhaal om die Skeppergod se lewegewende mag altyd raak te sien. Jesus is opgewek deur die Een wat die hemel en aarde geskep het, wat ook lewe gegee het waar daar nie lewe was nie (soos die geboorte van Jesus). Dit is dieselfde God wat ook ons tot nuwe lewe herskep na ons dood.

Moment 3
Ons leef teen ons persepsies in
In Paastyd word ons uitgenooi om teen ons ervarings in te leef. Die Paasboodskap is dat die opgewekte Here die dood, sonde en Bose oorwin het. Tog ervaar ons nog die magte aan ons lyf. Ons leef paradoksaal: dit wat ons ervaar, het nie die laaste sê nie. Die man Jesus wat gesterf het, is die Christus wat deur God opgewek is. Ons word genooi om so te leef waar ons persepsie van gebeure en waaroor ons getuig ons soms as kerk amper verleë laat. Mag die opgestane Christus ons vashou.

Moment 4
Die psalms loof saam
Lees Psalm 16 saam met die fokusteks. Hierdie psalm gebruik Petrus in Handelinge om te praat oor sy ervaring en interpretasie van die opgewekte Jesus. Kies ‘n vers of paragraaf wat vir jou die lewe in Christus simboliseer. Memoriseer dit en maak dit deel van jou menswees.

Ekstra stof

Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies

Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13
Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart. Pinksterfees was ‘n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ‘n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor. Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36
Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word. En dit is interessant dat hierdie eerste preek ‘n drie-deling het, (wat in die volksmond as ‘n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede. Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.

Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42
Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ‘n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ‘n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ‘n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47
Wat vir my veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens. Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ‘n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ‘n mens van ‘n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes. En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ‘n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ‘n gemeente.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 191 (Psalm 16) of Lied 167

Votum en Seëngroet: (N.a.v. 1 Petrus 1:1-2)

Lofsang: Flam 336 of Lied 417

Wet / Verootmoediging: (“Die deugde van ‘n Christelike karakter” Outeur: John Baillie (1886-1960), uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle)

Genadeverkondiging: 1 Petrus 1:3-5

Geloofsbelydenis / familie-oomblik

Toewyding: Flam 230 (Psalm 16) of VONKK 238 (Psalm 16) of Psalm 16

HOOR

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:14a, 22-32

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 149 of Lied 264

Seën: (Nav Johannes 20:21)

Respons: VONKK 144 (Johannes 20) of Flam 149 Refrein 2:

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 191 Neem my in beskerming (Psalm 16) of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Votum en Seëngroet: (N.a.v. 1 Petrus 1:1-2)
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, . . . 2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Lofsang
Flam 336 Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef) of
Lied 417 “Jesus, ons eer U”

Wet / Verootmoediging
(“Die deugde van ‘n Christelike karakter” Outeur: John Baillie (1886-1960), uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle)

In U oneindige wese lê al die skatte van wysheid en waarheid en heiligheid opgesluit.

Laat die deugde van ‘n Christelike karakter deur my voortdurende gemeenskap met U in my siel vorm aanneem:

  • Die gawe van ‘n dankbare en tevrede hart
  • Die gawe om geduldig op u vrede te wag en u onmiddellik te gehoorsaam as U my roep
  • Die gawe om moedig deur lyding of gevaar te gaan
  • Die gawe om swaarkry te verduur omdat ons vir Christus lewe

Die gawe om onbevrees op te staan vir wat reg is

  • Die gawe van waaksaamheid, sodat ek nie in versoeking kom nie
  • Die gawe van selfdissipline
  • Die gawe van eerlikheid ten alle koste
  • Die gawe om ander te behandel soos ek behandel wil word
  • Die gawe van sagmoedigheid, sodat ek ander nie te vinnig sal oordeel nie
  • Die gawe van beheersdheid, sodat ek nie te vinnig sal praat nie
  • Die gawe van vergifnis teenoor almal wat my veronreg het
  • Die gawe van begrip vir hulle wat swakker is
  • Die gawe om met volharding te verlang dat U hierdie gebed van my sál verhoor.

Amen.

Genadeverkondiging: 1 Petrus 1:3-5
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

Geloofsbelydenis / Familie-oomblik

Toewyding
Flam 230 Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe) (Psalm 16) of
VONKK 238 Bewaar my, o God (Psalm 16) of
Psalm 16

Liedere

F149. “U Is Die Lig Wat Skyn (Kom Heers In My)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Retief Burger
© 2009 Urial Publishing
(Opgeneem op Oorgegee)

1. U is die lig wat skyn, in hierdie donker tyd.
U is die Woord wat bly al sou ook als verdwyn.
U alleen wat tot in alle ewigheid regeer, kom heers in my.

2. Ek sal op U vertrou, my oë op U bly hou.
U wat die Anker is, al is daar duisternis.
U alleen wat tot in alle ewigheid regeer, kom heers in my.

Refrein 1:
Jesus, (Jesus), U is, (U is)
lewe in oorvloed, oorwinning wat binne my leef
en binne my heers.
Kom heers in my!

Refrein 2:
Jesus, Jesus, U is, U is
meer as my Redder, U’s Koning en Meester wat heers
en binne my leef.
Kom heers in my!

Brug: (x2)
Daar is geen ander voor wie ek sal buig,
om te doen wat U sê is om my liefde te wys.
In hierdie hart sal net een Naam regeer
dit is Jesus.

F230. Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe)
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering / Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing
(Ps 16)

1. Ek het vir die Heer gesê:
U is my Here,
U is my Rots,
daar is geen ander god
wat my lof verdien nie
vir wie ek wil besing.

Refrein:
Here, U is my lewe,
U sorg vir my.
En wat ek ontvang kom alles van U af,
’n pragtige deel is vir my afgemeet,
wat ek by U erf, is mooi vir my.

2. U Heer, lei my deur u Gees
en ek slaap rustig.
U is by my
elke oomblik van die dag
is U in my gedagtes
En my hart is juigend, bly.

Refrein:

Brug 1:
Heer, U red my siel uit die dood
en in blydskap, leer U my leef.

Brug 2:
Lieflikheid kom uit U hand,
juig vir alle ewigheid!

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees)
Teks en musiek: Wian Vos
Kopiereg: © 2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei
Dis genade op genade, losgekoop en vry!
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom
Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?
Dis genade op genade, losgekoop en vry!
Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

VONKK 191 “Neem my in beskerming”
Nav Psalm 16
Teks: Hannes van der Merwe 2013 ©
Melodie: CARLA – Cecilia van Tonder 2013 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2013 (Pro Deo)
© 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – God se sorg / Gebede / Geloof en Vertroue

1. Neem my in beskerming, Here my God.
By U soek ek skuiling, Herder en Heer.
Ek behoort aan U – net U kan my seën.

2. Heer, U is my lewe, U sorg vir my.
Dit wat ek ontvang het, dit kom van U.
Dit wat U my gee, is so mooi vir my.

3. U wat insig gee, Heer, U sal ek loof.
Ek oordink u woorde deur elke nag.
Leer my om te leef en wees hier by my.

4. By U voel ek veilig; U maak my bly.
U verlos u kinders – selfs van die dood.
Uit u hand kom als wat goed is vir my.

VONKK 144 “Vrede Van God”
Johannes 14 : 25-27; 20: 20-23
Teks: Johan Bronsveld (1951-); Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2010 ©
Musiek: BRONSVELD – Johan Bronsveld (1951-)
© Afrikaanse teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Unisong Music Publishers (admin BMG Music Publishing Africa). Met toestemming gebruik.

1. Vrede van God, die vrede van God,
die vrede van God is met jou.
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

2. In Jesus Naam, in Jesus Naam,
in Jesus se Naam gee ek jou:
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

3. Heilige Gees, die Heilige Gees,
die Heilige Gees is met jou.
Vrede van God, vrede van Hom,
die vrede van God is met jou.

VONKK 238 “Bewaar my, o God”
Nav Psalm 16:1 en 11
Teks: Behüte mich, Gott – Taizé; Afrikaanse weergawe: Gerrit Jordaan 2012 ©
Musiek: BEHÜTE MICH, GOTT – Jacques Berthier 1923-1994.
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik.
© 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue / God se sorg

Afrikaans:
Bewaar my, o God, ek vertrou op U;
U wys my die pad na lewe.
In U is vreugde, vreugde in oorvloed.

Engels:
Keep me, o God, for I trust in you.
You show me the path of life.
With you there is fullness of joy.

Duits:
Behüte mich, Gott, ich vertraue dir,
du zeigst mir den Weg zum Leben.
Bei dir ist Freude, Freude in Fülle.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:14a, 22-32

Preek

Familie-oomblik

Die Skriflesing is baie moeilik om vir kinders toeganklik te maak. Jy kan die Skriflesing uit ‘n kinder-vriendelike vertaling doen, soos Die Nuwe Testament vir Kinders (Joubert, S., 1999. Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan, Vanderbijlpark: Carpe Diem.):

22–24 Petrus het verder gepraat en vir die mense gesê: “Ek wil regtig hê julle moet mooi luister wat ek julle vertel. God het vir Jesus gestuur om wonderwerke by julle te doen. Julle onthou mos wat Jesus alles gedoen het. Jesus het sommer dowe mense laat hoor. Blinde mense kon ook weer sien. Maar julle het hierdie Jesus laat vang. Die slegte mense het toe vir Jesus met spykers aan ’n kruis vasgespyker. Jesus het toe dood-gegaan. Maar God het ’n goeie plan gehad. Hy het al lankal geweet wat Hy gaan doen. God het toe vir Jesus weer lewendig uit die dood laat opstaan. Jesus het regtig weer geleef.

25–28 “Alles het gebeur presies soos God lankal terug in die Bybel gesê het. Luister net wat sê Dawid oor Jesus in die Psalms:

‘God is altyd by my. Daar kan niks slegs met my gebeur nie. Daarom is ek so bly en gelukkig. Ek wil net vir almal vertel hoe goed God is. Ek is nie eens bang om dood te gaan nie. Ek weet mos dat U my weer sal lewendig maak. U is altyd by my. Ek is so bly daaroor.’”

29–31 Toe praat Petrus verder en sê: “Vriende, Dawid was een van ons oupas se oupa. Hy het al lankal doodgegaan en is begrawe. Ons weet mos waar Dawid begrawe is hier in die stad Jerusalem. Selfs Dawid het al geweet dat Jesus weer lewendig sal word. God het al lankal terug aan Dawid beloof dat Hy dit gaan doen. Daarom het Dawid geweet dat Jesus nie dood sou bly nie. Jesus is net te sterk.

32–35 “Dit het alles presies gebeur soos God gesê het: God het hierdie Jesus lewendig uit die dood laat opstaan.
…..

In die teksgedeelte vat Petrus die geloof saam en bely sekere dinge oor Jesus. Eerder as om saam met families spesifiek op die teksgedeelte te fokus, gebruik eerder vandag die kans om te gesels oor die Apostoliese Geloofsbelydenis. Die familie-oomblik is dan deel van die “Rus” deel van die liturgie, hoewel dit ook voor die preek kan gebeur.

DinkJeug het ‘n paar baie oulike idees en video’s hiervoor. Daar is ook ‘n bladsy met deelnemende aktiwiteite. Jy sou die bladsy se idees kon gebruik en prente van die verskillende goed bring, om kinders te help om die geloofsbelydenis te leer. ‘n Ander lekker opsie kom van Durbanville-Bergsig: op hul video is daar bewegings wat pas by die geloofsbelydenis.

Preekriglyn

Die mees wesenlike vraag vir die Christelike geloof is wie Jesus van Nasaret is. Die belydenis oor Jesus is die fokuspunt van ons geloof. Dit raak alle ander fasette daarvan. Regdeur die geskiedenis van die kerk is die vraag oor wie Jesus is, die vraag waarop die kerk met dringendheid moes reageer. Dit is ook die vraag wat die vier evangelies wil beantwoord.

Al vier die evangelies, wat verkondiging is van wie Jesus van Nasaret is, eindig met die opstanding uit die dood. Mens kan sê die evangelie is lang inleidings van die opstandingsverhale. Vanuit Jesus se opstanding moet alles wat dit voorafgaan, verstaan word.

In Handelinge toon Lukas aan dit wat op die opstanding volg, ook belangrik is. Jesus is ook verhoog aan die regterhand van God, en stort die Heilige Gees uit. Daaroor later meer. Vir Petrus tydens sy toespraak op Pinksterdag word die vraag oor Jesus se identiteit vanuit die opstanding en die hemelvaart beantwoord.

Verrassende gebeure

Die toneel waarin ons teks afspeel, is die uitstorting van die Heilige Gees. Die datum is die eerste Pinksterfees na Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart. Daar is skielik ‘n geluid soos ‘n geweldige stormwind, en tekens soos vuur wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle kom.

Almal word met die Heilige Gees vervul en begin wonderbaarlik in bekende tale van daardie tyd praat, soos die Heilige Gees dit aan elkeen gee. Die effek is dat die Jode uit verskillende wêrelddele wat vir die fees in Jerusalem was, elkeen die groot dade van God in hulle eie moedertaal hoor.

Onmiddellik is daar vrae. Wat gebeur hier? “Is die mense dalk dronk?”, wonder die spotters. (Almal weet iemand onder die invloed het ‘n los mond.) Daar is ook die meer ernstiges wat vra wat dit alles beteken? Wat gaan hier aan?

God aan die werk

In ons teks is die apostel Petrus aan die woord. Petrus, en die elf ander apostels, spreek die skare onder leiding van die Heilige Gees toe. Slegs Petrus se woorde word egter vir ons aangeteken. Die doel van Petrus se woorde is om te verduidelik wat nou hier gebeur het.

Dit is ‘n baie belangrike patroon in Handelinge. Daar gebeur dikwels iets wonderbaarlik, en dan volg getuienis daaroor, wat die gebeure in die regte perspektief stel. God doen iets, en die getuies se taak is om die regte verduideliking te gee vir wat gebeur het. In Petrus se toeligting staan Jesus sentraal.

Jesus bekendgestel

Wat is die regte perspektief op hierdie gebeure? Petrus verduidelik die gebeure as die aksie van die opgestane Here Jesus Christus:

God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. (32-33)

Daarom moet die toehoorders weet: die mense is nie dronk nie. God is deur Jesus aan die werk, wat nou die Heilige Gees gee. Om die waarheid te sê: die uitstort van die Heilige Gees is reeds in die Ou Testament belowe. Petrus haal uit die profeet Joël aan. God het lank gelede reeds gesê Hy sal sy Gees op alle mense uitstort – God se dienaars en dienaresse sal op grond daarvan as profete optree, en elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word (14-21).

Petrus gaan voort. God, van wie die Heilige Gees nou deur Jesus kom, het Jesus vroeër reeds bekendgestel. Dit het deur kragtige dade, wonder en tekens wat Jesus gedoen het, gebeur. Die bekendstelling van Jesus het aan die kruis geëindig, omdat die volk Hom verwerp het:

Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou (24).

Ook die opstanding is gegrond op ‘n belofte uit die Ou Testament. Petrus haal uit Psalm 16 aan waar Dawid sy opstandingsgeloof verwoord. Dawid het die opstanding vooruit gesien en gesê Jesus se liggaam het nie vergaan nie, Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie.

Verder is ook Jesus se verhoging en koningskap ‘n belofte wat in vervulling gaan. Dawid het geweet een van sy nakomelinge sal op die troon sit. Die volle heerlikheid van hierdie troonsbestyging behels dat die Gekruisigde uit die dood opgewek, verhoog is tot by God se troon, en vandaar oor alles heers:

Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (36)

Wie is Jesus?

Ons vind in hierdie gedeelte wonderlike perspektiewe op wie Jesus is. Wanneer ons dit snap, versterk dit ons geloof en help ons om die omvang van Jesus se Persoon en werk helderder te sien en in ons eie tyd te verwag.

Jesus en die verbond van God met Israel

Dit is uit ons teks duidelik dat Jesus nie reg geken en gedien kan word, sonder om God se verbond met Israel in berekening te bring nie. Jesus het gekom om die werk wat God met Abraham, Isak en Jakob en Israel begin het, tot volle ontplooiing te laat kom.

God het Abraham geroep en gekies om Abraham tot ‘n seën vir al die nasies te maak. God het die kleine Israel as volkie gekies om by God se hele skepping uit te kom. Terwyl Israel gefaal het om vennote in God se aksie te wees, kom Jesus as die volmaakte Jood, die ware Israel, om aan God getrou te wees. Sodoende kan God se aksie voortgaan.

Dis dus nie moontlik om te sê God is net besig met sekere individue, of ‘n geselekteerde groepie nie. God is nie net ons God nie. Jesus kom om uitvoering te gee aan God se aksie om sy hele skepping te bereik met die boodskap van verlossing. En verlossing beteken, teen die Ou Testamentiese agtergrond, nie bloot my individuele verlossing en my bestemming in die hemel nie. Verlossing is op die hele wêreld gerig.

Om Jesus te ken en te bely, is om deel te wees van die werk wat God deur al die eeue reg rondom die wêreld, ten bate van die hele wêreld, doen.

Jesus en die koningskap van God

Die helder verband wat Petrus met die Ou Testamentiese beweging van God lê, help met ‘n verdere perspektief.

Die Ou Testamentiese geskiedenis van Israel is die geskiedenis van hoe God koning word. God is die Skepper van hemel en aarde. Daar kom ‘n krisis en opstand in God se skepping, wat sy rug op sy Skepper draai. God begin ‘n lang en moeisame pad om die verhouding te herstel en sy genesende koningskap onder mense te vestig.

Terwyl Israel telkens faal om God as Koning te erken, kom Jesus as God se gestuurde. Jesus is die volkome gehoorsame mens. Jesus vestig hierdie koningskap. God word weer deur Jesus koning. Dit is die hoogtepunt van Petrus se boodskap:

Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (36)

Vanaf die regterhand van God regeer Jesus oor God se skepping op so ‘n manier dat God se koningskap nie gekeer kan word nie, en die wêreld nuut gemaak word.

Om Jesus te ken en te bely, is om voor God as koning te buig en God te gehoorsaam.

Die opstanding staan sentraal

Ons het reeds daarop gewys hoe sentraal die opstanding staan in die verstaan wie Jesus is, en in die verstaan van God se handelinge in die wêreld.

In Handelinge word die insig ontwikkel dat Jesus ons nie net deur sy kruis red nie, maar ook deur sy opstanding. Die opstanding is die bevestiging dat die kruis nie ‘n neerlaag was nie, maar die plek waar God beslissend gehandel het.

Die opstanding sê nie net wie Jesus is nie, maar ook spesifiek wie Jesus vir ons is en wil wees.

Die opgestane Here Jesus is die belofte van die toekoms wat God vir God se hele skepping weggelê het. Reeds Dawid, eeue vantevore, juig jubelend in Psalm 16 oor die lewende hoop dat God Hom nie aan die doderyk sal oorlaat nie, maar dat sy liggaam sal lewe. Hierdie belofte word deur die uitstorting van die Heilige Gees beseël en bevestig.

God se goeie skepping is nie aan dood en vernietiging uitgelewer nie. Hoewel alles nou kreun en sug (Romeine 8), sien ons in die opgestane Jesus die heerlikheid wat God vir ons weggelê het.

Om Jesus werklik te ken verg geloof

God het Jesus bekendgestel deur kragtige dade, wonders en tekens wat Hy gedoen het. Tog het mense Jesus verwerp. Nou het Jesus opgestaan uit die dood, en is verhoog tot aan die regterhand van God (22-24).

Soos baie van die Jode van Jesus se tyd, kan mens hierdie gebeure voor jou sien afspeel, of daarvan hoor. Tog is dit nie vanselfsprekend dat hierdie feitelike of historiese kennis van Jesus tot geloof sal lei nie. Anders gesê: egte kennis van Jesus is geloofskennis. Geloof in Christus is nie net om van Hom te weet nie. Dit is spesifiek op Hom te vertrou, en Hom te volg as die weg, die waarheid en die lewe.

Petrus se getuienis, soos hier in Handelinge 2, die boodskap van die apostels en die verkondiging van die Nuwe Testament is nie bloot bedoel om ons in te lig dat daar eens ‘n man met die Naam Jesus ‘n edele lewe gelei het, kosbare waarhede verkondig het, en ‘n tragiese dood gesterf het nie. Die Bybel en die kerk se verkondiging oor Jesus verklaar dat sy lewe, sterwe en opstanding vir ons is, vir baie is, vir almal bedoel is. God bring inderdaad in Hom vergifnis, bevryding, versoening en nuwe lewe vir die wêreld. In hierdie Jesus is God beslissend teenwoordig en genadiglik aktief tot redding van die wêreld.

Geloof en gehoorsaamheid

Die regte reaksie op Petrus se toespraak is daarom geloof en gehoorsame toewyding.
Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (36)
Daarop fokus ons in volgende week se Woordverkondiging.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang
Flam 149 U Is Die Lig Wat Skyn (Kom Heers In My) of
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!”

Seën
(Nav Johannes 20:21)
“Vrede vir julle!”
Soos die Vader die Christus gestuur het, stuur Hy julle ook.
Gaan met Sy vrede.

Respons
VONKK 144 Vrede Van God (Johannes 20) of
Flam 149 U Is Die Lig Wat Skyn (Kom Heers In My) Refrein 2:
Jesus, Jesus, U is, U is
meer as my Redder, U’s Koning en Meester wat heers
en binne my leef.
Kom heers in my!

© Missio 2024 | All rights reserved.