Tweede Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Op hierdie Sondag vestig die sleutelteks ons aandag op Jesus as die vervulling van die Messiasverwagting. Hy is die Een wat deur God uitgekies is en deur God uit die dood opgewek is.

Ander tekste

Psalm 16
Niks goeds nie behalwe by God
16 ’n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie
behalwe by U.
3Die afgode in die land,
so aantreklik vir baie-
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ’n ander god vereer,
baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers
uitgiet nie,
hulle name sal ek nie
op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my
tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus
van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar
nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

1 Petrus 1:3-9
Die lewende hoop en die egte geloof
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Fokusteks

Handelinge 2:14a, 22-32
Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here
aanroep,
sal gered word.

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:

Ek het die Here altyd voor oë.
Hy is aan my regterhand;
ek sal nie wankel nie.
26Daarom is my hart bly
en my tong jubel,
ja meer, ek het die verwagting
dat my liggaam sal lewe,
27want U sal my nie
aan die doderyk oorlaat nie;
U sal nie toelaat dat u troue dienaar
vergaan nie.
28U het my die paaie van die lewe
geleer;
u teenwoordigheid sal my
met vreugde vul.

29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:
Hy is nie aan die doderyk
oorgelaat nie,
en sy liggaam het nie
vergaan nie.
32God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.

33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy:
Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
35totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het.
36Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Ekstra stof

‘n Mens moet doelbewus onthou dat Handelinge deel twee is van die evangelis en dokter Lukas, wat die storie van redding deur Jesus wat in die evangelie vertel is, voortsit soos dit veral deur die werk van die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome. Jesus is egter steeds die Een wie se evangelie dit is, en Hy tree self op ‘n hele paar plekke in die boek Handelinge na vore.

Lukas laat die twee dele van sy verhaal – Lukas en Handelinge – daarom baie vernuftig met mekaar korrespondeer:

  1. Handelinge 1-12 vertel van die verspreiding van die evangelie en korrespondeer met Lukas 1-9 – die geografie is net omgekeer: dit begin in die stad Jerusalem en versprei na die platteland in Judea.
  2. Handelinge 13-20 is ook ‘n reisverhaal en korrespondeer met Lukas 10-19 – Paulus neem die evangelie na Asië en Europa (op pad na Rome – soos Jesus op pad na Jerusalem).
  3. Handelinge 21-28 vertel ook van ‘n verhoor en korrespondeer met Lukas 20-24 – Paulus verskyn voor dieselfde drie tribunale as Jesus (die Joodse Sanhedrin [Luk 22/Hand 22], die Romeinse goewerneur [Luk 23/Hand 25], en een van die Herodes konings [Luk 23/Hand 25 {Julius Markus Agrippa}]) – die resultaat is dat die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei.

Die kerk is vir Lukas – kom ‘n mens deur die loop van hierdie verhaal agter – die plek waar mense uit alle kulture welkom is (die evangelie word konsekwent deel van die kultuur), maar ook deur die evangelie verander word (die evangelie word ook konsekwent geïnkarneer). Vergelyk bv. Paulus in gesprek met die Epikureërs en Stoïsyne in Atene (Hand 17).

Lukas beklemtoon in Handelinge:

  • Die goeie nuus van God se redding deur Jesus is vir beide Jode en heidene.
  • Die Ou Testamentiese beloftes word daardeur vervul.
  • Die Heilige Gees begelei die kerk in die verspreiding van die evangelie.
  • Die kerk val in by God se reddingsplan wat die heidene insluit.
  • Hierdie redding is God se saak en niks kan dit keer nie.
  • Die goeie nuus word deur sommige met vreugde aanvaar en deur ander met woede verwerp.

Die verhaal fokus op die beweging van die evangelie van Jerusalem na Rome. Die goeie nuus van God se redding word aan alle mense aangebied in vervulling van die belofte aan Abraham (Hand 3:25 – “jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ‘n seën wees” – Gen 12:2-3) en die visie van die profete (Hand 15:17 – “al die heiden nasies” – Amos 9:11-12).

Dit is verdeel in 6 hoofstukke deur Lukas se opsommende opmerkings in 6:7, 9:31, 12:24, 16:5 en 19:20. Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, eties, en/of polities:

  • 1:1-6:7 – die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in Jerusalem
  • 6:8-9:31 – die goeie nuus oor Jesus versprei geografies na Jode in Judea, Galilea en Samaria sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar) met die Griekssprekende evangelis Filippus wat ‘n groot rol speel.
  • 9:32-12:24 – die eerste etniese uitbreiding na heidene (Kornelius) vind plaas in Sesarea (Noord-Palestina) en Paulus kom tot bekering op die pad na Damaskus.
  • 12:25-16:5 – die goeie nuus versprei na Asië met Paulus en Barnabas se eerste sendingreis en bring etiese vraagstukke na vore wat deur die Jerusalem “sinode” (hfst. 15) besleg word.
  • 16:6-19:20 – die goeie nuus versprei na Europa deur twee verdere sendingreise van Paulus wat tot gevolg het dat die kerk al hoe meer uit Christene uit heidense volkere bestaan.
  • 19:21-28:31 – op die derde sendingreis besluit Paulus om na Jerusalem te gaan en het die vervolging daar tot gevolg dat die evangelie ook polities begin versprei om uiteindelik Rome, die hoofstad van die Romeinse ryk bereik.

Die breër konteks van Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies

Die hoofstuk bestaan uit vier dele:

  • Die uitstorting van die Heilige Gees
  • Petrus se toespraak
  • Die eerste oes
  • Die eerste gemeente

Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13
Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart. Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor. Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36
Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word. En dit is interessant dat hierdie eerste preek ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede. Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.

Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42
Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47
Wat vir my veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens. Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ’n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ’n mens van ’n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes. En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ’n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ’n gemeente.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord

Seëngroet

Lied Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet: (Uit Romeine 5:12-21)

Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Vryspraak en Lofverheffing: 1 Petrus 1:3-9

Geloofsbelydenis ahv vryspraak (Psalm 16)

Loflied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Handelinge 2:14a, 22-32

Prediking
Gebed
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën

Musikale Amen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord
Voorganger: Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke Naam is.
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan.

Voorganger: In die Naam van Jesus
sal elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie buig,
en elke tong sal erken:
“Jesus Christus is die Here!”
Die Heer het opgestaan.
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan. Amen.

Seëngroet
Genade en vrede van God,
die Vader wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
en van Jesus Christus, die Lewende Here,
en van die Heilige Gees wat ons herskep.
(Votum en seëngroet Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Verootmoediging

Wet: (Uit Romeine 5:12-21)
12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens.

Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Vryspraak en Lofverheffing: 1 Petrus 1:3-9

Die lewende hoop en die egte geloof
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Geloofsbelydenis ahv vryspraak
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my
tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus
van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
(Psalm 16)

Loflied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Liedere

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en Musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)
Die hele skepping sing dat U regeer
En elke rots skree uit: U is God
Die bome wieg deur u asem, Heer
En saggies fluister hul: U’t opgestaan
U regeer tot in ewigheid
U is God vir altyd nog
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!
Wat is die mens dat U aan hom dink
Die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
En tog met heerlikheid en eer gekroon
Heilig, heilig, heilig is die Heer
Wat was, wat is en wat kom
Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: P de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê
En die dinge wat ek glo beteken niks
Maar ek wil hulde bring
Vir ewig gaan ek sing
Want my Koning is nie dood nie
Hy het opgestaan

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe
Hy is die Koning van die groot heelal
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal

2. Die wêreld is te grys
Die reëls word te veel gebuig
Want hul glo nie in die glorie van my Heer
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
Voor die Koning van die heelal en my hart

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ons God en Vader, U het Jesus weer lewendig gemaak. Maak ons vandag deur u Woord en Gees lewendig. En neem ons in beskerming. Ons behoort aan U. Leer ons hoe om te lewe. Amen.

Skriflesing: Handelinge 2:14a, 22-32

Prediking

Familie-oomblik

22–24 Petrus het verder gepraat en vir die mense gesê: “Ek wil regtig hê julle moet mooi luister wat ek julle vertel. God het vir Jesus gestuur om wonderwerke* by julle te doen. Julle onthou mos wat Jesus alles gedoen het. Jesus het sommer dowe mense laat hoor. Blinde mense kon ook weer sien. Maar julle het hierdie Jesus laat vang. Die slegte mense het toe vir Jesus met spykers aan ’n kruis vasgespyker. Jesus het toe dood-gegaan. Maar God het ’n goeie plan gehad. Hy het al lankal geweet wat Hy gaan doen. God het toe vir Jesus weer lewendig uit die dood laat opstaan. Jesus het regtig weer geleef.

25–28 “Alles het gebeur presies soos God lankal terug in die Bybel gesê het. Luister net wat sê Dawid oor Jesus in die Psalms:
‘God is altyd by my. Daar kan niks slegs met my gebeur nie. Daarom is ek so bly en gelukkig. Ek wil net vir almal vertel hoe goed God is. Ek is nie eens bang om dood te gaan nie. Ek weet mos dat U my weer sal lewendig maak. U is altyd by my. Ek is so bly daaroor.’”

29–31 Toe praat Petrus verder en sê: “Vriende, Dawid was een van ons oupas se oupa. Hy het al lankal doodgegaan en is begrawe. Ons weet mos waar Dawid begrawe is hier in die stad Jerusalem. Selfs Dawid het al geweet dat Jesus weer lewendig sal word. God het al lankal terug aan Dawid beloof dat Hy dit gaan doen. Daarom het Dawid geweet dat Jesus nie dood sou bly nie. Jesus is net te sterk.

32–35 “Dit het alles presies gebeur soos God gesê het: God het hierdie Jesus lewendig uit die dood laat opstaan. Ons het Jesus mos met ons eie oë gesien nadat Hy lewendig geword het. Daarna het Jesus hemel toe gegaan. Daar het God vir Jesus die belangrikste plek gegee. God het ook die Heilige Gees* vir Jesus gegee soos Hy belowe het. Toe het Jesus weer vir ons die Heilige Gees* gegee. En dit is wat julle nou vandag hier gesien en gehoor het. Dawid skryf in die Psalms dat God vir Jesus gesê het:

‘Kom sit hier langs my. Dit is die belangrikste plek in die hemel. Sit hier totdat Ek al jou vyande gewen het.’

36 “Nou kan ons almal weet: God het hierdie Jesus vir wie julle doodgemaak het, ons Here gemaak. Hy is ons almal se Koning. Net Jesus kan maak dat ons weer vriende van God word.”
(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Voltooi die blokraaisel ahv die sleutel woorde om die grootste wonder van Jesus se opstanding uit die dood te ontdek.

(Vir die aanbieder: Die sleutelwoorde is met geel gemerk- afhangende van die groep kan u dit in die teks behou of verwyder met die text highlight color funksie)

  1. Petrus het die mense versoek om dit te doen.
  2. Wat Jesus aan blindes gedoen het.
  3. God het Jesus onder andere hiervoor gestuur.
  4. Jesus is aan ‘n kruis …………………………..
  5. Jesus is ons almal se ……………………… en sit op ‘n troon.
  6. Hierdie mense kon hoor!
  7. Die sleutelwoord aan die begin van vers 32.
  8. Selfs Dawid was bewus van ons sleutelwoord.

Oplossing

Preekriglyn

Sê nou maar daar woon en werk iemand in ons omgewing. Hierdie persoon gaan van streek tot streek en leer ons. Hy of sy doen wonderwerke en verwerf ‘n aanhang onder mense.

Sommige van die persoon se aansprake is nogal dramaties, soos: “God is my Vader, ek is die kind van God.” Die persoon haal tekste op die Bybel aan om te sê hy of sy is die een wat oor alle mense sal oordeel.

Ons, wat met verbasing luister, wonder hoever ons ons aan al die praatjies moet steur. Baie mense gaan agter hierdie messias aan. Boonop geskied daar wonderwerke oral waar die persoon gaan. Eers trek groot skares ons held saam. Dan bly die aansprake darem te vergesog te wees, en baie aanhangers verdwyn stil-stil langs die pad.

Baie mense neem veral aanstoot aan die lering van hierdie persoon. Wette en tradisies wat vir ons kosbaar is, en waarop ons samelewing gebou word, word in die winde geslaan. Dit is veral godsdienstige wette wat in die slag bly. Ons neem ernstig aanstoot. Om boonop te sê jy is die kind van God, en jy stel God gesagvol bekend, is verregaande. Om te doen wat net God mag doen, soos om sonde te vergewe, en dit buite die gebruik van offerandes om, is absoluut godslasterlik.

Uiteindelik word die mense se vroeëre bewondering afkeur en verwerping. Die godsdienstige owerhede het veral hulle mes in vir die leringe, aansprake en selfbewussyn van hierdie selfaangestelde messias.

Hulle kla die messiasfiguur kerklik-godsdienstig aan, kry ‘n skuldigbevinding, oefen druk op die regering uit, en kry dit uiteindelik reg om die skuldige uit die weg te ruim. Die owerheid is bang vir onluste, en word deur ‘n goedbeplande straatoptog geforseer om aksie te neem. Die praatjiesmaker word in die publiek tereggestel. Almal slaak ‘n sug van verligting. Die meerderheid se wil het geskied. Nou is daar weer vrede.

Die vrede hou vir drie dae. Op die derde dag verskyn die vermeende praatjiesmaker weer. Die graf is oopgebreek en leeg. Die moeilikheidmaker lewe weer!

Skielik is dit nie meer moontlik om te sê alles was net praatjies nie. Daar val nou nuwe lig op alles wat die aanspraakmaker vroeër gesê het. Al die aansprake oor God, oor kindskap van God, oor gestuur-wees deur God, lering oor die regte godsdienstige ingesteldheid en gebruike, en die doen van dinge wat net God mag doen, blyk skielik waar te wees.

Die skare wat op die teregstelling aangedring het, die godsdienstige owerhede wat die vervolging aangevuur het, die regter wat die beslissing gevel het, al die ondersteuners wat die beskuldigde in die steek gelaat het, weet skielik: die aansprake was waar. Wat hier gebeur het, is die werk van God. Hierdie persoon moet ernstig geneem word.

In die lig van die opstanding uit die dood, moet alles oor hierdie persoon opnuut bedink en beoordeel word.

Wie is Jesus?

Die mees wesenlike vraag vir die Christelike geloof is wie Jesus van Nasaret is. Die belydenis oor Jesus is die fokuspunt van ons geloof. Dit raak alle ander fasette daarvan. Mens sien dit in die Bybel waar God die Vader aan ons geopenbaar word spesifiek as die Vader van Jesus Christus. Die Heilige Gees is vir die Bybel die Gees wat die weg vir Jesus voorberei, Jesus se bediening bekragtig en tot volheid bring. Alles hou met ons Christusbelydenis verband.

Regdeur die geskiedenis van die kerk is die vraag oor wie Jesus is, die vraag waarop die kerk met dringendheid moes reageer. Lesslie Newbigin wys daarop dat die Markusevangelie, die oudste van die evangelies, ‘n korter antwoord gee oor wie Jesus is. Sy evangelie begin bloot met die vermelding van Johannes die Doper se optrede. Soos die tyd aanstap, het die vraag oor wie Jesus is vir die kerk dringender geword. Daarom gee Matteus en Lukas langer inleidings, wat vertel van die aankondiging van Jesus se geboorte en gebeure wat daarmee verband hou. Johannes, die jongste evangelie, voer Jesus se oorsprong as Seun van God reg na die begin toe terug.

Al vier die evangelies, wat verkondiging is van wie Jesus van Nasaret is, eindig met die opstanding uit die dood. Mens kan sê die evangelie is lang inleidings van die opstandingsverhale. Vanuit Jesus se opstanding moet alles wat dit voorafgaan, verstaan word.

In Handelinge toon Lukas aan dit wat op die opstanding volg, is belangrik. Jesus is ook verhoog aan die regterhand van God, en stort die Heilige Gees uit. Daaroor later meer.

Vreemde gebeure

Die toneel waarin ons teks afspeel, is die uitstorting van die Heilige Gees. Dit gebeur met die eerste Pinksterfees na Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart. Daar is skielik ‘n geluid soos ‘n geweldige stormwind, en tekens soos vuur wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle kom.

Almal word met die Heilige Gees vervul en begin wonderbaarlik in bekende tale van daardie tyd praat, soos die Heilige Gees dit aan elkeen gee. Die effek is dat die Jode uit verskillende wêrelddele wat vir die fees in Jerusalem was, elkeen die groot dade van God in hulle eie moedertaal hoor. (Hierdie wonder is iets anders as die spreke in tale waarvan 1 Kor. 12 en 14 praat, waar uitleg nodig is.)

Onmiddellik is daar vrae. Wat gebeur hier? “Is die mense dalk dronk?”, wonder die spotters. (Almal weet iemand onder die invloed het ‘n los mond.) Daar is ook die meer ernstiges wat vra wat dit alles beteken? Wat gaan hier aan?

God aan die werk

In ons teks is die apostel Petrus aan die woord. Petrus, en die elf ander apostels, spreek die skare onder leiding van die Heilige Gees toe. Slegs Petrus se woorde word egter vir ons aangeteken. Die doel van Petrus se woorde is om te verduidelik wat nou hier gebeur het.

Dit is ‘n baie belangrike patroon in Handelinge. Daar gebeur dikwels iets wonderbaarlik, en dan volg getuienis daaroor, wat die gebeure in die regte perspektief stel. God doen iets, en die getuies se taak is om die regte verduideliking te gee vir wat gebeur het. In Petrus se toeligting staan Jesus sentraal.

Jesus bekendgestel

Wat is die regte perspektief op hierdie gebeure? Petrus verduidelik die gebeure as die aksie van die opgestane Here Jesus Christus:

God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. (32-33)

Daarom moet die toehoorders weet: die mense is nie dronk nie. God is deur Jesus aan die werk, wat nou die Heilige Gees gee. Om die waarheid te sê: die uitstort van die Heilige Gees is reeds in die Ou Testament belowe. Petrus haal uit die profeet Joël aan. God het lank gelede reeds gesê Hy sal sy Gees op alle mense uitstort – God se dienaars en dienaresse sal op grond daarvan as profete optree, en elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word (14-21).

Petrus gaan voort. God, van wie die Heilige Gees nou deur Jesus kom, het Jesus vroeër reeds bekendgestel. Dit het deur kragtige dade, wonder en tekens wat Jesus gedoen het, gebeur. Die bekendstelling van Jesus het aan die kruis geëindig, omdat die volk Hom verwerp het:

Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou (24).

Ook die opstanding is gegrond op ‘n belofte uit die Ou Testament. Petrus haal uit Psalm 16 aan waar Dawid sy opstandingsgeloof verwoord. Dawid het die opstanding vooruit gesien en gesê Jesus se liggaam het nie vergaan nie, Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie.

Verder is ook Jesus se verhoging en koningskap ‘n belofte wat in vervulling gaan. Dawid het geweet een van sy nakomelinge sal op die troon sit. Die volle heerlikheid van hierdie troonsbestyging behels dat die Gekruisigde uit die dood opgewek, verhoog is tot by God se troon, en vandaar oor alles heers:

Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (36)

Wie is Jesus?

Ons vind in hierdie gedeelte wonderlike perspektiewe op wie Jesus is. Wanneer ons dit snap, versterk dit ons geloof en help ons om die omvang van Jesus se Persoon en werk helderder te sien en in ons eie tyd te verwag.

Jesus en die verbond van God met Israel

Dit is uit ons teks duidelik dat Jesus nie reg geken en gedien kan word, sonder om God se verbond met Israel in berekening te bring nie. Jesus het gekom om die werk wat God met Abraham, Isak en Jakob en Israel begin het, tot volle ontplooiing te laat kom.

God het Abraham geroep en gekies om Abraham tot ‘n seën vir al die nasies te maak. God het die kleine Israel as volkie gekies om by God se hele skepping uit te kom. Terwyl Israel gefaal het om vennote in God se aksie te wees, kom Jesus as die volmaakte Jood, die ware Israel, om aan God getrou te wees. Sodoende kan God se aksie voortgaan.

Dis dus nie moontlik om te sê God is net besig met sekere individue, of ‘n geselekteerde groepie nie. God is nie net ons God nie. Jesus kom om uitvoering te gee aan God se aksie om sy hele skepping te bereik met die boodskap van verlossing. En verlossing beteken, teen die Ou Testamentiese agtergrond, nie bloot my individuele verlossing en my bestemming in die hemel nie. Verlossing is op die hele wêreld gerig.

Om Jesus te ken en te bely, is om deel te wees van die werk wat God deur al die eeue reg rondom die wêreld, ten bate van die hele wêreld, doen.

Jesus en die koningskap van God

Die helder verband wat Petrus met die Ou Testamentiese beweging van God lê, help met ‘n verdere perspektief.

Die Ou Testamentiese geskiedenis van Israel is die geskiedenis van hoe God koning word. God is die Skepper van hemel en aarde. Daar kom ‘n krisis en opstand in God se skepping, wat sy rug op sy Skepper draai. God begin ‘n lang en moeisame pad om die verhouding te herstel en sy genesende koningskap onder mense te vestig.

Terwyl Israel telkens faal om God as Koning te erken, kom Jesus as God se gestuurde. Jesus is die volkome gehoorsame mens. Jesus vestig hierdie koningskap. God word weer deur Jesus koning. Dit is die hoogtepunt van Petrus se boodskap:

Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (36)

Vanaf die regterhand van God regeer Jesus oor God se skepping op so ‘n manier dat God se koningskap nie gekeer kan word nie, en die wêreld nuut gemaak word.

Om Jesus te ken en te bely, is om voor God as koning te buig en God te gehoorsaam.

Die opstanding staan sentraal

Ons het reeds daarop gewys hoe sentraal die opstanding staan in die verstaan wie Jesus is, en in die verstaan van God se handelinge in die wêreld.

In Handelinge word die insig ontwikkel dat Jesus ons nie net deur sy kruis red nie, maar ook deur sy opstanding. Die opstanding is die bevestiging dat die kruis nie ‘n neerlaag was nie, maar die plek waar God beslissend gehandel het.

Die opstanding sê nie net wie Jesus is nie, maar ook spesifiek wie Jesus vir ons is en wil wees.

Die opgestane Here Jesus is die belofte van die toekoms wat God vir God se hele skepping weggelê het. Reeds Dawid, eeue vantevore, juig jubelend in Psalm 16 oor die lewende hoop dat God Hom nie aan die doderyk sal oorlaat nie, maar dat sy liggaam sal lewe. Hierdie belofte word deur die uitstorting van die Heilige Gees beseël en bevestig.

God se goeie skepping is nie aan dood en vernietiging uitgelewer nie. Hoewel alles nou kreun en sug (Romeine 8), sien ons in die opgestane Jesus die heerlikheid wat God vir ons weggelê het.

Om Jesus werklik te ken verg geloof

God het Jesus bekendgestel deur kragtige dade, wonders en tekens wat Hy gedoen het. Tog het mense Jesus verwerp. Nou het Jesus opgestaan uit die dood, en is verhoog tot aan die regterhand van God (22-24).

Soos baie van die Jode van Jesus se tyd, kan mens hierdie gebeure voor jou sien afspeel, of daarvan hoor. Tog is dit nie vanselfsprekend dat hierdie feitelike of historiese kennis van Jesus tot geloof sal lei nie. Anders gesê: egte kennis van Jesus is geloofskennis. Geloof in Christus is nie net om van Hom te weet nie. Dit is spesifiek op Hom te vertrou, en Hom te volg as die weg, die waarheid en die lewe.

Petrus se getuienis, soos hier in Handelinge 2, die boodskap van die apostels en die verkondiging van die Nuwe Testament is nie bloot bedoel om ons in te lig dat daar eens ‘n man met die Naam Jesus ‘n edele lewe gelei het, kosbare waarhede verkondig het, en ‘n tragiese dood gesterf het nie. Die Bybel en die kerk se verkondiging oor Jesus verklaar dat sy lewe, sterwe en opstanding vir ons is, vir baie is, vir almal bedoel is. God bring inderdaad in Hom vergifnis, bevryding, versoening en nuwe lewe vir die wêreld. In hierdie Jesus is God beslissend teenwoordig en genadiglik aktief tot redding van die wêreld.

Geloof en gehoorsaamheid

Die regte reaksie op Petrus se toespraak is daarom geloof en gehoorsame toewyding.

Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! (36)

Daarop fokus ons in volgende week se Woordverkondiging.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Voorganger: Ons glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
die Bron van ware lewe.
Gemeente: Sing Lied 189 “Halleluja!”

Voorganger: Ons glo in Jesus Christus, die lewende Here,
wat deur mense gekruisig is,
maar deur God opgewek is uit die dood.
Gemeente: Sing Lied 189 “Halleluja!”

Voorganger: Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,
wat die ganse skepping vul met die lewe van God.
Gemeente: Sing Lied 189 “Halleluja!”
(Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Offergawes

Wegsending: Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.
(Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.