Tweede Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die naam van die Sondag is Quasi Modo Geniti “Soos pasgebore kindertjies” uit 1 Petrus 2:2. Soos pasgebore kinders smag na melk moet ons hunker na ʼn lewe in gemeenskap met die lewende Here. Hy is lig en daar is geen duisternis in Hom nie. Ons moet strewe na ʼn
lig-lewe saam met die Here. Hierdie lig-lewe vra dat ons eensgesind saam leef (Ps 133) en dat ons vrygewig sal wees (Handelinge 4). Ons kan net so leef deur die krag van die Heilige Gees wat Jesus ons gee. Ons is gelukkig as ons glo (Joh 20). Die liturgie moet die verlossing en vryspraak in die Here vier.

Ander tekste

Handelinge 4:32-35
Onderlinge mededeelsaamheid
32Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Psalm 133
As broers eensgesind saam woon
133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Fokusteks

1 Johannes 1:1-2:2
Die Woord wat die Lewe is
1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

God is lig
5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Ons het Jesus as ons voorspraak by die Vader
2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord 

Seëngroet
Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Verootmoediging: Johannes 20:19-31

Lied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: 1 Johannes 1:1-2:2

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord 
Voorganger: Halleluja, die Here lewe.
Gemeente: Ja, die Here leef.

Voorganger: Die Lewende Here maak ons skoon van elke verkeerde optrede.
Gemeente: Ons bely ons sonde.

Voorganger: Laat ons mekaar liefhê soos die Here ons lief het.
Gemeente: Lewende Jesus, vul ons met u liefde.

Voorganger: Die Here leef.
Gemeente: Ja, die Here leef in my.

Seëngroet 
Die Lewende Here, wat hier teenwoordig is, groet julle: Ek gee vir julle my vrede.
Die Vader het my gestuur.
Nou stuur ek julle ook.
Ek gee julle die Heilige Gees.
(Uit Basisliturgie vir Paastyd in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Verootmoediging
Om ons steeds in die opstanding van Jesus te verheug lees ons oor die verskyning van Jesus aan die dissipels daardie Sondagaand…

Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Lied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Gebed
O Here, ons God, Skepper en Heerser van die groot heelal;
ons harte is bly, ons tonge juig en ons lewe is vol hoop – want U het die nuwe lewe aan ons bekend gemaak in die opstanding van Jesus Christus uit die dood (Hand 2:14a, 22-32).

Daarom prys ons u Naam,
saam met die engelekore,
saam met profete, apostels en martelare
en saam met die gelowiges van elke tyd en plek
wat vir ewig die grootheid van u Naam besing:
Heilig, heilig, heilig, Here die Almagtige,
die hele aarde is vol van u magtige teenwoordigheid.
Hosanna in die hoogste.

Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom.
Hosanna in die hoogste.
Saam met Tomas bely ons dat Christus Jesus ons Here en ons God is. Hy blaas die gawe van die Heilige Gees oor ons uit. Deur die gawe van geloof ontvang ons die ewige lewe in sy Naam (Joh 20:19-31).

Terwyl ons dink aan u genadewerk in Jesus Christus,
vier ons met vreugde sy dood en opstanding,
in afwagting op die dag van sy wederkoms.

Met danksegging gee ons onsself aan U as lewende en heilige offers
wat aan u diens toegewy is.
Groot is die geheimenis van ons geloof:

Christus het gesterwe,
Christus het opgestaan uit die dood,
Christus sal weer kom.

Genadige God, stort u Gees oor ons uit
Maak ons deur u Gees een met Christus
en een met u kerk in die hele wêreld.
Laat ons deel in die onverganklike en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word: nuwe lewe en ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Vervul ons deur in Hom te glo met ʼn onuitspreeklike en heerlike blydskap (1 Pet 1:3-9).
Deur Christus, saam met Christus, in Christus, een met die Heilige Gees, behoort alle eer en heerlikheid aan U, almagtige God, van nou af en tot in ewigheid. Amen.
(Uit Basisliturgie vir Paastyd in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en Musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer
En elke rots skree uit: U is God
Die bome wieg deur u asem, Heer
En saggies fluister hul: U’t opgestaan

U regeer tot in ewigheid
U is God vir altyd nog
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
Die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
En tog met heerlikheid en eer gekroon

Heilig, heilig, heilig is die Heer
Wat was, wat is en wat kom
Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: P de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê
En die dinge wat ek glo beteken niks
Maar ek wil hulde bring
Vir ewig gaan ek sing
Want my Koning is nie dood nie
Hy het opgestaan

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe
Hy is die Koning van die groot heelal
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal

2. Die wêreld is te grys
Die reëls word te veel gebuig
Want hul glo nie in die glorie van my Heer
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
Voor die Koning van die heelal en my hart

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: 1 Johannes 1:1-2:2

Prediking

Familie-oomblik

Lees onderstaande verse uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Ons kan Sonder Sonde Voor God Staan
5–9 Al die belangrike dinge wat Jesus vir ons kom vertel het, gaan ons nou vir julle vertel. God is soos ’n helder lig wat skyn. Waar God is, is daar nie slegte dinge nie, net soos daar nie donker is waar die lig skyn nie. As jy vir almal sê dat jy God se kind is, maar alles wat jy doen, wys dat jy nie eintlik vir God omgee nie, praat jy mos nie die waarheid nie. As ons egter die regte dinge doen wat God se hart gelukkig maak, wys dit ons is sy kinders. Selfs as ons dan miskien ’n fout maak en iets verkeerds doen, sal God ons vergewe*. Jesus het ons mos gered. Soos water vuilgoed afwas, was Jesus se bloed ons sonde* af. So kan ons mooi skoon, sonder sonde*, voor God staan.

Ons almal is partymaal stout en doen sonde*. Nie een van ons is perfek nie. As ons iets doen waarvan God nie hou nie, moet ons met God daaroor praat. Ons moet bid. Ons moet vir Hom sê ons is jammer oor wat ons gedoen het. Ons moet ook sê dat ons nooit weer daardie lelike ding wil doen en sy hart so seermaak nie … en dit regtig bedoel. God sal ons vergewe*en nie meer vir ons kwaad wees oor die sonde*nie. Ons kan God maar vertrou*. Hy doen altyd wat Hy sê en Hy weet wat reg is.

Die volgende woorde is weggesteek in die onderstaande tabel- woorde kan van onder na bo, skuins op of af ens gelees word. Die antwoord word ook verskaf…
helder
lig
skyn
waarheid
omgee
gelukkig
fout
vergewe
afwas
skoon
bid
jammer
vertrou

Preekriglyn

Thomas Linacre was die geneesheer van koning Henry VII en Henry VIII van Engeland, stigter van die Koninklike Kollege van Geneeshere, en vriend van die groot denkers van die Renaissance, Erasmus en Sir Thomas More.

Laat in sy lewe, het Linacre begin studeer om ‘n priester te word. Vir die eerste keer in sy lewe ontvang hy die Nuwe Testament om vir homself te bestudeer. Linacre het in die donkerste tye van die kerk se geskiedenis geleef, terwyl Alexander VI pous was. Alexander, die berugte Borgia-pous, se omkopery, korrupsie, bloedskande en moord het die Katolieke kerk se naam beklad.

Nadat hy die Nuwe Testament gelees het, het Linacre gesê: “Hierdie is óf nié die evangelie nie, of ons is nie Christene nie.”

Bemoediging om getrou te bly

Die evangelie is bedoel om ons gedrag te verander. Ons moet lewe op ‘n manier wat pas by die evangelie. Anders is Linacre se woorde heeltemal waar.

Die eerste brief van Johannes bemoedig die gemeente – waarskynlik in Efese, soos die tradisie dit aan ons voorhou – om getrou te bly aan die inhoud van hulle geloof, Jesus Christus, sowel as aan die tipe praktiese lewenstyl wat daaraan uitdrukking gee.

Die impak daarvan word verhoog deurdat dié boodskap deur ‘n bejaarde en geliefde leermeester, Johannes, aan hulle oorgedra word. Johannes het nie net persoonlik die pad van die begin af met die Leermeester, Jesus, gestap het nie, maar het regdeur sy lewe daaraan getrou gebly. Hy het uiteindelik self verbanning na die eiland Patmos ter wille van sy geloof verduur.

Boodskap van Johannes se eerste brief

Johannes leer ons veral drie dinge oor ons getrouheid aan die evangelie. Hy beklemtoon die Goddelike geheim van Jesus se menswording (die inkarnasie), die belang van die praktiese liefde vir mekaar en die oproep tot ‘n volhardende nee-sê vir die sonde:

  • Hy stimuleer hulle verbeelding met die klem op die vleesgeworde Woord, die Goddelike geheim van die Inkarnasie van die Woord in Jesus Christus.
    (Veral hfst. 1 in aansluiting by sy evangelie se proloog (Joh. 1), maar ook in hfst. 2:20 vv in terme van die leiding van die Heilige Gees, en die laaste twee hoofstukke, 4-5, se Trinitariese begronding daarvan in die liefde.)
  • Hy moedig hulle aan om hulle liefde vir God te laat oorspoel in ‘n praktiese liefde vir mekaar as geloofsgemeenskap.
    (Veral hfst. 3-4 waar op reinheid, liefde vir mekaar en ‘n goeie gewete voor God gefokus word, maar ook reeds in hfst. 2 waar die liefde vir mekaar aan die liefde vir God verbind word.)
  • Hy spoor hulle aan om as kinders van God in gemeenskap met Jesus Christus te lewe sodat sy bloed hulle van elke sonde kan reinig.
    (Reeds hfst. 1, maar ook in hfst. 2-3 met die klem op die Voorspraak in Christus en die praktiese kant van die geloofslewe, en hfst. 5 oor die volhardende nee-sê vir die sonde.)
Aan God verbind

Daarmee help Johannes hulle (en ons vandag) om aan God verbind te bly. God is na alles die geheim van die geestelike lewe. Hy wil hulle ook help om op ‘n baie praktiese vlak by mekaar betrokke te raak. Dit is hoe die geestelike lewe ‘n verskil maak in hierdie wêreld. Hy wil hulle ook help om sterk te staan teen die verleiding van die sonde. Deur die volhardende nee-sê vir die sonde word hulle van die houvas van die duiwel bewaar.

Valse profete en valse lewens

Dié boodskap was nodig weens die invloed van valse profete wat steeds ‘n impak in die geloofsgemeenskap gehad het, al het hulle intussen die gemeente verlaat (“Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie … dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie.” – 2:19).

Die vals profete het wel aanspraak gemaak op inspirasie deur die Gees (4:1), maar kon getroef word deurdat elke kind van God deur die Gees van God gelei word (2:20), en die valsheid van hulle leringe dus uitgewys kon word deur elkeen wat hulle indringend ondersoek het (4:1-6).

Ons weet nie regtig wat dié leringe was nie, maar kan aflei uit die boodskap van die brief self, dat dit dinge moes insluit soos:

  • die ontkenning van die Vleeswording van Jesus (Gnostiese dwaling),
  • die ontkenning dat daar op ‘n praktiese vlak uitgereik moet word na dié in nood, en
  • die ontkenning van die krag en invloed van sonde.

Hierdie vals profete het dus nie net ‘n valse leer nie, maar dit is ‘n leer wat mense vals laat lewe. Die leer mond uit in ‘n lewe wat nie langer getrou is aan die evangelie van Jesus Christus nie.

Jesus is mens en God

In verse 1-4 beklemtoon Johannes wie Jesus was. Daarmee help Johannes die gemeente om die invloed van die valse profete die hoof te bied. In die eerste vier verse van hierdie brief terug te gaan na die basis van nie net sy persoonlike geloof nie, maar dié geloof wat hy en sy gemeente met die hele Christelike geloofsgemeenskap deel.

Let op hoe hy aan die eenkant die fisiese kant van die vleeswording van Jesus beklemtoon – hoor, sien, bekyk, met die hande aangeraak. Vier keer praat hy van sien, twee keer van hoor en een keer van aanraak (vgl. Thomas se behoefte om aan Jesus te raak). Johannes was ‘n direkte ooggetuie van die vleesgeworde Jesus, dié Een wat saam met die ander dissipels deur die stofstrate van Jerusalem, Judea en Galilea geloop en die koninkryk van God verkondig het. Die vleesgeworde Jesus het Johannes dus laat glo en daarvan getuig hy.

Maar, aan die ander kant, is dit vir hom net so belangrik om die geestelike kant van God self te beklemtoon, die kant van God wat in Jesus sigbaar geword het. Daarom noem hy Jesus die Een wat van die begin af was, die Een wat die Woord van die Lewe is, die Een wat die ewige lewe wat by die Vader was aan ons kom verkondig het en wat ons aan God self, die Vader en sy Seun Jesus Christus verbind om met Hom gemeenskap te kan hê. Die Woord van God, God self, het Johannes dus laat glo en daarvan getuig hy met net soveel gesag. Dit is immers die basis van die geloof wat die Christelike kerk verkondig en waardeur elkeen wat dit glo aan dieselfde liggaam van Christus verbind word.

Die ooreenkomste met die proloog van Johannes se evangelie laat ‘n mens onmiddellik besef dat dieselfde persoon besig is om dié dinge te verkondig. Jesus is waarlik mens. Jesus is waarlik God. Die ontkenning van enige een van dié twee stellings maak die ander ‘n halwe waarheid. Jesus is nie net ‘n mens nie. Jesus is nie net God nie. Hy is albei. Dit is in die twee nature van Jesus wat die krag van sy boodskap aan die wêreld geleë is, want Hy bring hemel en aarde, God en mense bymekaar uit.

Daaroor kan ‘n mens net bly wees!

God is lig en suiwer ons deur die bloed van Jesus van elke sonde – vers 5-10

In verse 5-10 fokus Johannes ons op die kern van ons geloof Die hart van die boodskap van hierdie vleesgeworde Seun van God is dat God lig is en dat daar in Hom geen duisternis is nie. Dit is tegelyk die inhoud van die boodskap aan die geloofsgemeenskap asook die maatstaf wat aangelê kan word om die valse profete se boodskap te beoordeel.

Jy kan nie met God in gemeenskap leef en die duisternis lief hê nie, sê Johannes, anders bedrieg jy net jouself en ander. Maar waar in verbondenheid met God en die geloofsgemeenskap geleef word, daar reinig die Here Jesus ons van elke sonde. Daarmee verbind Johannes heiligheid direk aan God se genade wat binne die geloofsgemeenskap werk. Reinheid is nie iets wat ‘n mens net êrens op jou eie beleef nie, maar iets wat binne die geloofsgemeenskap gestalte kry.

Deel in die waarheid

Dit beteken dat ‘n mens déél van die geloofsgemeenskap moet bly. Jy moenie jouself mislei deur aan ander te verkondig dat jy sondeloos is nie.  Jy moet liewer eerlik jou sondes erken sodat die reinigende werk van die Here Jesus binne die geloofsgemeenskap ons van alle kwaad kan suiwer. Dit is die belofte van die Here: “Hy is getrou en regverdig” en sal “ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad suiwer“, soos vers 9 direk vertaal kan word.

Waar ons egter ons sonde ontken, mislei ons onsself en maak ons God self tot leuenaar en is sy Woord nie meer aktief aan die werk in ons nie.

Moenie sondig nie

Die motief vir Johannes se aanmoediging en vermaning vind ons in 2:1-2. Johannes wys op ‘n weg uit die sonde uit, én ‘n weg wat die sonde vermy.

Bevry van skuld en skuldgevoelens, verlig en heelgemaak, kan ons met nuwe vrymoedigheid in verbondenheid met God leef. Die sonde het nie die laaste sê nie.

Op grond van die aardse bediening van Jesus, met name sy kruisdood en opstanding, het gelowiges in hulle stryd teen die sonde ‘n Parakleet, ‘n Helper, by die Vader. Jesus doen by die Vader wat die Gees as Parakleet in ons doen. Hy tree in, pleit, doen voorspraak deur te wys op die soenoffer, die versoening wat Hy bewerk het. Hy, wat soos die Hoëpriester jaarliks tydens die Groot Versoendag ‘n offer gebring het om versoening tussen die volk en God te demonstreer, het Homself gegee as soenoffer, sodat ons in blywende gemeenskap en verbondenheid met God kan leef.

Dis die lewe in oorvloed en blydskap in al sy volheid!

God stuur ons om te leef

Gebed
Here ons bid dat u Gees ons gemeente so sal vul dat ons regtig vir mekaar lief sal wees. Laat ons onderlinge liefde ʼn aangename geur versprei tot ʼn getuienis van u liefde. Verfris ons samelewing daarmee soos ʼn vars môredou.  Seën ons gemeente en laat ons elke dag u goedheid beleef.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Offergawes

Wegsending: Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën
Vrede vir julle! Vrede vir julle!  Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Hy julle ook. Hy se  julle met die Heilige Gees!
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)
of 
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
(Numeri 6)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.