Tweede Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Paasfees is die hoogtepunt van die kerkjaar en Paastyd die hart van die Christelike lewe. Gedurende die vyftig dae vanaf Paasfees tot Pinksterfees vier ons die opstanding van Jesus Christus. Hy het die dood oorwin en skenk die ewige lewe vir elkeen wat in Hom glo en dit bely.

“Uit die tyd van die Kommunistiese Sowjetunie vertel Michael Green in The day death died ‘n verhaal wat mooi illustreer watter belangrike rol die opstandingshoop in die Oosters-Ortodokse Christene se geloofslewe speel.

“‘n Russiese professor, lid van die Kommunistiese Party, het een April-oggend voor ‘n vol saal ‘n lesing gegee. Sy doel was om die idee dat Jesus Christus eeue gelede uit die dood opgestaan het, as belaglik en uiters naïef af te maak. Dit was ‘n lang lesing en toe hy gaan sit, het hy nie, soos gewoonlik, geleentheid vir repliek toegelaat nie. Hy was seker dat hy die gehoor van sy standpunt oortuig het.

“Toe staan ‘n priester van die Russies-Ortodokse Kerk uit die gehoor op en vra of hy kortliks op die betoog mag reageer. Ongeduldig en enigsins neerbuigend stem die professor in. ‘Maar niks langer as vyf minute nie!’ waarsku hy. ‘Vyf sekondes sal genoeg wees,’  antwoord die priester. Toe draai hy na die gehoor en gee die pragtige Paasgroet van die Oosterse Kerk:  ‘Christos anesté!’ ‘Christus het opgestaan!’ Soos uit een mond kom die tradisionele antwoord uit die volgepakte saal: ‘Aléthos anesté!’ ‘Hy het waarlik opgestaan!'”
(Uit “Nie oortuig nie” Piet Naudé  Stories van die Lewe).

In die Basisliturgie kan een van He Qi se werke oor die opstanding gesien word. In sy werk getiteld “The Risen Christ Appears” groet Jesus sy dissipels met sy deurboorde hand omhoog in die woorde: “Vrede vir julle!” (Luk 24:36b). In He Qi se werk “Jesus Appears to His Disciples” word die toneel (ook in Luk 24) uitgebeeld waar Jesus na sy opstanding saam met die dissipels vis eet.

Ander tekste

Handelinge 4:32-35

Onderlinge mededeelsaamheid
32Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

36Josef ’n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is—dit beteken iemand wat mense moed inpraat – 37het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.

1 Johannes 1:1-2:2
Die Woord wat die Lewe is
1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

God is lig
5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Ons het Jesus as ons voorspraak by die Vader
2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Psalm 133
As broers eensgesind saam woon
133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

Fokusteks

Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Ekstra stof

Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here
Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding.  Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).

Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle.  Nie een van die ander evangelies sê vir ons meer oor die opstandingsgebeure as sodanig nie.  Daar is ‘n bietjie meer getuienis oor die aardbewing wat die klip weg laat rol het, van die engele wat betrokke was, maar niks oor die opwekking as sodanig nie.  Dit is ‘n daad van God wat wel duidelik is uit die feit dat hulle Jesus se verskynings hierna kan waarneem, maar deel van die misterie van die opstanding sal bly tot aan die einde van die tyd.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui.  Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon.  Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ‘n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ‘n fisiese/werklike (by gebrek aan ‘n beter woord) liggaam het, want  ‘n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Hy troos bv. vir Maria Magdalena en verseker haar dat God daar is vir haar.  Haar eerste gedagte toe sy die leë graf sien, was dat iemand Jesus se liggaam weggevat het.  Dit is ook wat sy vir Petrus en Johannes gaan sê het en waarna hulle kom kyk het.  Die leë graf kon ook net soveel sê, daarom sê Johannes dat hulle haar geglo het, maar nog nie verstaan het dat Hy opgestaan het nie.

Dit is egter eers wanneer Jesus aan Maria verskyn in die tuin en met haar praat en sy die werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar, dat sy  Hom kan herken en as Here kan vereer.  Let op hoe dít is hoe sy Jesus aan die dissipels hierna gaan bekendstel: “Ek het die Here gesien!”

En dit is dieselfde vir die dissipels.  Dit is eers wanneer Hy self aan hulle verskyn, dat die dissipels rus en vrede ervaar, en hulle vrees in blydskap kan verander.  Netso Tomas.  Jesus openbaar Homself aan Tomas sodat sy twyfel in geloof kan verander en Hy met oortuiging deel kan wees van die groeiende getuienis van sy opstanding.

En let op dat Jesus nie net vir hulle troos en versterk in hulle geloof nie.  Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan.  En later doen Hy dieselfde met Petrus en gee Hom ‘n soortgelyke opdrag as wat Jesus self gehad het, om vir die skape weiding te gee. (Joh 10).

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Ons praat te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus.  Die leë graf fassineer ons miskien te veel.  Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.  Jy kan natuurlik nie die teenwoordige Jesus hê sonder ‘n leë graf nie – die graf was immers leeg.  Maar jy kan die teenwoordige Jesus mis as jy te veel klem lê op die dogma van die leë graf.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 518 “Voel jy soms of die Here te ver is”

Aanvangswoord  

Seëngroet: (Psalm 118)

Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Verootmoediging: 1 Johannes 1

Skuldbelydenis
ALGEMENE BELYDENIS (Uit die Book of Common Prayer)

Vryspraak: 1 Johannes 1

Geloofsbelydenis

Loflied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 20:19-31

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: in aansluiting by Tomas se twyfel:

Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën: 2 Korintiërs 13:13

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Llied 518 “Voel jy soms of die Here te ver is”

Aanvangswoord  
Voorganger: Christus het opgestaan!
Christos anesté!

Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!
Aléthos anesté!

Seëngroet: (Psalm 118)
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Verootmoediging: 1 Johannes 1
Die Woord wat die Lewe is
1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

Skuldbelydenis

ALGEMENE BELYDENIS: (Uit die Book of Common Prayer)
Almagtige en genadige Vader,
ons het van u weë afgedwaal soos verlore skape.
Ons het te veel ons eie kop gevolg;
ons het nagelaat om dinge te doen wat ons moes doen,
en ons het die dinge gedoen wat ons nie moes doen nie;
daar is niks goeds in ons nie.
O Heer, betoon tog aan ons ellendige sondaars genade;
o God, verlos díe wat hulle sonde bely,
vernuwe díe wat berou toon
volgens U beloftes aan die mensdom deur Jesus Christus ons Here;
en gee, o genadige Vader, dat ons om Sy onthalwe
van nou af ‘n goddelike, regverdige en rein lewe sal lei,
tot eer van U Heilige Naam.
Amen

Vryspraak: 1 Johannes 1
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan vs 1,2,3”

Liedere

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Opstanding)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef,  Hy leef
Die graf het oopgegaan
Hy leef,  Hy leef
Hy leef,  Hy’t opgestaan
Hy leef,  Hy leef
Dit maak my hart so bly
Jesus leef in my
Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ‘n kruis op Sy rug en ‘n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in Sy oë staan,
toe Hy roep:  “Dit is volbring!”
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ons loof U en dank U, want, te midde van ons pyn en mislukkings, weet ons dat U God is en  dat ons U maar net kan bewonder, loof en liefhê in Jesus Christus.
Vir die wêreld, wat so mooi is, maar so broos;
Vir lewe, so kosbaar, maar so bedreig;
Vir hierdie onmeetlik groot heelal waarin u koninkryk kom, loof ons U.
Vir hierdie Sondag, waarop ons weer u opstanding mag vier, en vir u kerk wat ons as gemeenskap van gelowiges byeenbring, loof ons U.
Vir u Evangelie, vir ons doop, vir ons begeerte om U te dien, vir die belofte van ’n ewigheid met U, loof ons U.
En omdat ons U en mekaar hier op aarde mag liefhê, omdat Christus ons liefhet, loof ons U, Here, met vrede en vreugde. Amen.
(Gebed deur Henri Capieu)

Skriflesing: Johannes 20:19-31

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Leser 1: Nooi die kinders vorentoe om te kom help met die skriflesing.

Ons verbeel ons dat ons saam met die dissipels wegkruip in die bo-kamer die aand van Jesus se opstanding. En ons wonder of die storie wat die vroue vertel het naamlik dat die graf leeg is die waarheid is. En ons is bang… dat die soldate dalk ook vir ons sal kom soek.

Leser 1:
Jesus se vriende was laat daardie Sondagaand nog bymekaar. Hulle het al die deure gesluit, want hulle was bang vir die Joodse leiers. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar by hulle gestaan en gesê: “Vrede vir julle.” Hy wys toe vir hulle die merke aan sy hande en sy sy. Sy vriende was baie bly om die Here te sien.

Jesus sê toe: “Vrede vir julle. Soos my Vader My na die wêreld gestuur het, stuur Ek julle nou.” Hy blaas toe oor sy vriende en sê: “Ontvang die Heilige Gees. As julle mense help om God se kinders te word, sal hulle sy kinders word. God sal nie kwaad bly oor hulle sonde nie. Maar as hulle nie na julle wil luister nie, sal God ook nie hulle sonde vergewe nie.”

Tomas sluit by die groep aan en lees die volgende:
Tomas (sy bynaam was Tweeling) was nie by toe Jesus aan sy vriende verskyn het nie. Hy was een van Jesus se beste vriende. Die ander vertel hom toe dat hulle die Here lewendig gesien het.

“Ek glo dit nie,” het Tomas gesê. “As ek nie die spykermerke aan sy hande kan voel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, sal ek dit nie glo nie.”

Leser 1:
Omtrent ’n week later was Jesus se vriende weer saam. Tomas was ook daar. Al die deure was weer gesluit. Jesus was skielik weer by hulle en toe groet Hy hulle: “Vrede vir julle.”

Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger hier. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Glo dit.”

Tomas: “My Here en my God!”

Leser 1:
“Jy glo omdat jy My gesien het. Gelukkig is die mense wat glo, al het hulle My nie gesien soos jy nie.”

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Preekriglyn

Ons het grootgeword met die Afrikaanse spreekwoord wat sê iemand is “‘n ongelowige Tomas”. Tomas was egter geen ongelowige nie. Hy was wel ‘n twyfelaar. Twyfel speel ‘n sentrale rol in Johannes 20:10-31, soos in elke gelowige se lewe. Twyfel skep onsekerheid by gelowiges oor hulle saligheid en oor die sekerheid van ‘n lewe met God in ons wêreld.

Geloofstwyfel is opsigself nie sonde nie. Die vraag is wat ons daarmee doen. Dit is ook nie ‘n teken van ‘n “minderwaardige” geloofsverhouding of van ongeloof nie. Trouens, geloof en twyfel loop hand aan hand. Gelowiges lewe in ‘n wêreld waar God se liefde maklik versluier word deur ons daaglikse lewensomstandighede. Geloofstwyfel beïnvloed elke gelowige se verhouding met die Here op die een of ander stadium van die lewe.

Vandag gesels ons oor die twyfel van menige gelowige vanweë die dag en tyd waarin ons leef. Twyfel veroorsaak dat gelowiges moedeloos word en dat hulle geloof in die spervuur beland. Dit lei onwillekeurig na onsekerheid oor wie God is en wat Hy sal doen as gelowiges twyfel. Uiteindelik kom hulle sekerheid rakende die ewige lewe ook in die gedrang.

Ons kan egter nie net op twyfel konsentreer nie. Die teks gee ook hoop aan verwarde mense in ‘n deurmekaar wêreld.

Harde werklikheid

Al my twyfel bring ek Jesus, Hy sal sy belofte hou (Halleluja 209)!

So het ons (as sinoniem vir gelowiges) grootgeword. So sing, bely, lees en aanbid ons. Totdat ons by die kerkdeur uitstap en met die werklikheid gekonfronteer word. ‘n Werklikheid wat op verskillende maniere op ons afkom. Ons lees daarvan in koerante en sien dit op TV. Ons praat daaroor rondom braaivleisvure en teepartytjies. Ons preek daaroor in eredienste.

‘n Koffie-storie

Ek het iewers ‘n verhaal gelees van ‘n groep oudstudente wat die hoogste sport in hulle beroep bereik het. Op ‘n dag besoek hulle hulle gunsteling oudprofessor. Die geselskap ontaard egter vinnig in ‘n kla-sessie oor die spanning in hulle werk, lewe en land. Uiteindelik twyfel hulle oor alles, ook oor die toekoms.

Terwyl hulle hiermee besig is, gaan die professor kombuis toe en keer terug met koffie en ‘n verskeidenheid koppies. Die koppies het gewissel van porselein tot glas tot kristal. Sommige was  goedkoop en ander duur, terwyl nog ander besonder mooi was. Die professor nooi toe sy gaste om hulleself te help met die koffie.

Toe al die oudstudente met ‘n koppie koffie in die hand sit, sê die oudprofessor: “Julle sal oplet dat julle al die mooi, duur koppies gebruik het, terwyl net die gewone, goedkoop koppies op die skinkbord oor is. Ek verstaan dit is vir mense van julle status normaal om slegs die beste te wil hê, maar juis dit is die bron van julle twyfel. Julle moet besef die koppie self voeg geen waarde tot die koffie toe nie. Die belangrike is die koffie. Julle het almal bewustelik die mooiste koppies gekies en nie ag geslaan op die inhoud nie.”

Verkeerde fokus wek twyfel

Dink bietjie daaroor na. Dit wat jy in die lewe soek, is die koffie. Maar as gevolg van julle werk, geld en aansien het die koppies die belangrikste geword. Dit terwyl die koppie geen waarde toevoeg tot die koffie nie. Ons konsentreer op ons eie behoeftes en mis die volle lewe wat God gegee het en om dit te geniet. Daarom het twyfel in ons gedagtes kom nesskop. God berei vir ons die koffie en nie die koppies nie. Geniet julle koffie!

Die oomblik wat ons op die uiterlike, op al die veranderinge fokus, begin ons twyfel, want:

  • Op persoonlike vlak staan die eie-ek sentraal. As alles nie gaan om “me, myself and I” nie, word ons kwaad en moedeloos;
  • Op ekonomiese vlak ontwikkel ons ‘n beheptheid met rykdom en besittings om ons te beskerm teen die lewe se storms. Gebeur dit nie, kla ons steen en been hoe sleg alles en almal is;
  • Op maatskaplike vlak sien ons die samelewingsorde in duie stort. Ons ervaar hoe dinge anders as vroeër gedoen word en tref negatiewe vergelykings;
  • Op politieke vlak word ons gekonfronteer met rassisme, regstellende aksie, korrupsie, nepotisme. Omdat ons nie die gereedskap (vermoë) het om dit positief te gebruik nie, ontstaan daar wantroue, vergelding tussen mense – selfs haat;
  • Op godsdienstige vlak het die kerk nie meer al die antwoorde soos vroeër nie. Sodoende verloor die kerk sy gesag, word as onhoorbaar ervaar en uiteindelik is die kerk maar een van die vele rolspelers in die wêreld met al sy uitdagings.
Spiraal van twyfel

Hierdie verandering bring twyfel. Twyfel aan onsself, die kerk, mekaar, maar ook in die Here. Wat meer is, ons voel skuldig, kleingelowig en verlate van God en mense. Ons moet nou self sien en kom klaar. Uiteindelik lei dit tot inkeer na binne, die vorming van groepe, positief (kleingroepe wat mekaar se waardes/belangstellings deel), maar ook negatief (groepe wat aandring op bepaalde regte, soms met geweld en rassistiese taalgebruik).

Op geloofsfront ontstaan skeptisisme as ons ons ore uitleen aan moderne ontdekkings, uitsprake van geleerdes en getuienisse van mense. In die proses kyk ons verby die Bybelse getuienisse (Joh 20) en bly soekend na die Here se vergifnis. Ons kan ook in sinisme verval, ons hande in die lug gooi en sê: Wat help dit om te glo? Alles gaan tog net erger word.

Uiteindelik word ons vasgevang in ‘n spiraal van twyfel waarin ons God as koue, afwesige God ervaar. Die Bybel word verwerp as menseboek vol foute. Die kerk word as menslike instelling vol foute afgewys. Gebed is nutteloos en medegelowiges is witgepleisterde grafstene. Dan eindig ons geloof in ongeloof!

Goeie nuus

Maar, en dit is die goeie nuus van Opstandingsondag, die Here het opgestaan!

Kom ons herinner onsself aan die storie. Dit is Paassondagaand en die dissipels is doodbang. Jesus is dood. Hulle is alleen en uitgelewer aan ‘n vyandige owerheid. Hulle sluit hulleself toe agter slot en grendel sodat niemand hulle kan seermaak nie. Skielik staan Jesus tussen hulle. Hy het nie eers aangeklop nie, want Hy het deur die mure gekom. En Hy groet hulle: Sjalom, vrede vir julle. Toe wys Hy sy hande en sy sy aan hulle!

Tomas

Tomas beleef egter ‘n krisis. Vir drie jaar volg hy Jesus van die een plek na die ander. Hy was selfs bereid om vir Jesus te sterf (Joh 11:16). Maar toe Jesus sterf, word sy lewe op sy kop gekeer en hy vlug. In die proses loop hy die Here se ontmoeting met die dissipels mis. Gelukkig kry hy na agt dae ‘n tweede kans (26-27). Maar hy is skepties. Hy bly twyfel en stel voorwaardes voordat hy sou glo dat dit Jesus is (25b).

Jesus besef wat Tomas ervaar en met eindelose geduld help Hy hom totdat die skille letterlik van sy oë afval. Nie omdat Jesus aan al Tomas se voorwaardes voldoen het nie. Tomas hou op om aan sy twyfel vas te klou omdat hy Jesus ontmoet het (28-29). Nou roep hy met vreugde uit: “My Here en my God!” So bely Tomas dat Jesus, die Seun van God, Here is oor lewe en dood.

Hoop vir twyfelaars

Jesus waarborg dat daar vir almal wat twyfel ‘n toekoms by God is. Twyfel is nie die einde van die pad nie. Nog minder is dit sonde. Twyfel bied geleentheid om, ten spyte van die oorsaak, ‘n gewaarborgde toekoms tegemoet te gaan. Die voorwaarde is ‘n persoonlike ontmoeting met die lewende Here. Hierin is Tomas, maar ook Maria en al die ander dissipels, vir ons die voorbeeld. Op hierdie wyse kry nie net twyfelende dissipels nie, maar ook ons weer hoop!

Gestuur

Maar dit is nie die einde van ons storie nie. Jesus gaan ‘n stappie verder. Hy stuur vir Tomas en die ander met die opdrag om sy getuies te wees: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek ook vir julle. As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit julle deur God vergewe.”

Hy stuur hulle om oral oor vir mense te vertel dat Hy aan die kruis gesterf het. Dat Hy opgestaan het en dat Hy die littekens aan sy liggaam dra, sodat hulle kan weet dit is waar. Op hierdie wyse dra hulle die boodskap van vergifnis (hoop) uit deur nie self mense hulle sondes te vergewe nie, maar te bevestig dit wat Jesus gedoen het, is die waarheid. Hiervan is hulle slegs die getuies.

God se krag

Om dit te doen, laat die Here hulle ook nie oor aan hulle eie, menslike vermoëns nie. Hy rus hulle toe met alles wat hulle nodig het. Hy gee hulle God se krag, die krag van die Heilige Gees. Hy gee dit ook spesifiek vir die twyfelende Tomas.

So kan ons wat ‘n ontmoeting met die lewende Here  deur sy Woord en Gees het, ook sy getuies wees. Die gevolg hiervan is dat twyfel nie die laaste woord spreek nie. Dat twyfel ons nie diskwalifiseer vir God se genade nie. Nog minder bring twyfel ons sekerheid op die ewige lewe in gedrang. Dit word gewaarborg – nie in ons vergifnis wat geanker is in ons eie, menslike ervarings nie maar wel – in die opgestane Here. Daarom groet die Here ons ook met sy vrede!

Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op ons. Ons mag dit nie vir onsself hou nie. Ons moet dit vir alle mense gaan vertel met ons woorde, maar ook met ons lewe (Matt 28:19). As ons dit in ons eie krag wil doen, moet ons eerder bly waar ons is (Hand 1:4). Ons moet dit doen in die krag van die Gees wat in Handelinge 1:8 belowe en op Pinksterdag uitgestort is!

As ons dit glo, kan ons weer sing: Al my twyfel bring ek Jesus, Hy sal sy belofte hou. Maar dan met dié wete: Ons kan leef met die sekerheid dat niks ons uit God se hand sal ruk nie. Dit is die hoop wat ons het!

God stuur ons om te leef

Gebed: in aansluiting by Tomas se twyfel:
Hierdie dae, Here, is die herfs van my geloof
wanneer ou oortuigings verdroog
en een vir een soos blare van ’n boom af val.
Hierdie dae is die herfs van my geloof
met niks wat voorlê nie
as die verskrikking van kaalheid
die winter van die dood.
Maar onder hierdie dowwe bas
vloei die sappe nog,
vloei die verhale van nuwe lewe,
van opstaan uit ’n dood.
Hierdie dae is die herfs van my geloof,
maar eendag,
eendag sal daar weer ’n lente blom (Neels Jackson).

Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën: 2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.